Bron: De Reformatie. 5 bladsye.

Woord en Wandel

woord met lig🔗

Tekste Byderhand, of Christus Voor Oë?🔗

Met hierdie artikel wil ek iets probeer vertel oor wat die Bybel vir die Christelike etiek beteken – die vakgebied wat ek nou al jare lang doseer. Meermale het broeders en susters al vir my gesê dat hulle my nie beny nie. Daar is soveel etiese kwessies aan die orde vandag, en dit skyn net elke jaar toe te neem. Dit gaan oor aborsie en eutanasie, oor egskeiding en al of nie hertrou, oor homoseksualiteit en bloedskande, oor in-vitro-bevrugting, orgaanoorplanting en genetiese manipulasie.  Hulle vra my dan, of ek in al hierdie sake presies weet wat die Bybel ons wil voorhou.  Ja, het die Bybel oor al hierdie onderwerpe wel iets te sê?

Voordat ek op hierdie vraag ingaan, wil ek voorkom dat ek my hier in die rol van ʼn ondervraagde plaas, terwyl u maar net hoef terug te sit en beoordeel hoe ek as etikus in al hierdie besondere kwessies probeer omgaan met die Bybel.  Eers wil ek u ʼn vraag stel:  Wat beteken dit vir u dat die Woord van God ʼn lamp vir u voet en ʼn lig op u pad is?  (Psalm 119:105).

Met hierdie vraag het u naamlik elke dag net soveel te make as ek in my vakgebied.  Dit mag wees dat u persoonlik nooit iets te make sal hê met al die bogenoemde kwessies nie.  Weliswaar het u nooit openlik of heimlik aborsie en eutanasie vir uself of vir iemand in u familiekring oorweeg nie.  U is gelukkig getroud en kyk daarom vreemd na ʼn egskeiding.  Die onderwerp genetiese manipulasie is miskien baie ver van u belewingswêreld verwyder.  Laat ons dit aanneem.  Ek moet my met al hierdie onderwerpe besighou, terwyl dit u bespaar bly.  Maar daarmee is u nie slegs ʼn belangstellende buitestaander as dit gaan oor etiese beslissings nie.

Want voordat ook maar een spesifieke kwessie aan die orde kom – bv. aborsie ens. – het ons almal te doen met die oproep van die Bybel om godvresend te wandel.  Die Woord vra vir ʼn Christelike wandel.  Hierdie oproep vorm die kern van die Christelike etiek en die beslissende antwoord op die vraag hoe ons met die Bybel omgaan.  Die Woord van God leer ons Christus ken, en tegelyk roep dit ons op om Hom te volg.  Die geloof vra om werke;  aan die vrugte sal die boom geken word.  Is u ʼn Christen, of is u dit nie?  So ja, dan is dit te sien aan u wandel, aan u lewenstyl.  Daarmee het u net soveel te make as ek in my posisie as dosent in die etiek.

Die Skrif is nie sommer ʼn boek waaruit ons tekste kan put om die voor of teen van besondere handelinge te fundeer nie.  Dit is die boek van die verbond tussen God en mense.  Dit vertel ons die geskiedenis van God se verlossing van mense deur Christus.  Dit laat ons sien hoe ons deur die geloof in die gemeenskap met Christus opgeneem is.  Wel, in hierdie gemeenskap word die Christelike etos (= etiek) gebore.  Wanneer aan ons die verhaal vertel word van Christus en van almal wat Hom gevolg het, word ons beweeg tot handeling:  Maar  julle moet geheel anders leef... (Afr. vertaling: ‘Maar julle het Christus nie so leer ken nie’) (Ef. 4:20)

Daarby wys die Bybel ons baie keer op die voorbeeld wat ander gegee het en wat ons moet navolg.  Ons word opgeroep om te volg in die voetstappe van die heiliges uit die Ou en Nuwe Testament.  Ons word bowenal opgeroep om die groot voorbeeld, Christus self, na te volg.

Laat ek dit nou baie kras (en daarom eensydig, soos nog sal blyk) sê:  Om te weet wat ons wel en wat ons nie moet doen nie, het ons nie tekste nodig nie, maar die voorbeeld van ons Heiland.  Hoe belangrik dit is om op die voorbeeld van Jesus te wys is, soos dit ons in die verhaal van sy lewe op aarde geteken word, blyk onder andere uit die feit dat die apostels hulle vir etiese kwessies baie keer nie op tekste beroep nie, maar op die houding van ons Here Jesus.  In gevalle waarin ʼn eenvoudige beroep op bv. die Tien Gebooie duidelik sou gewees het, wys hulle op ons lewe ‘in Christus’.  Die Christen moet anders wandel as die heidene, nie omdat een van die Tien Gebooie dit van hom vra nie, maar omdat hy Christus leer ken het.  Aan sy gemeenskap met Christus kan die Christen aflees hoe sy gedrag en lewenstyl moet wees.

Ek gee ʼn paar voorbeelde.  Die Christen moet vergewensgesind wees, soos God in Christus aan hom vergewing geskenk het (Ef. 4:32).  Die Christen moet toets wat Christus welbehaaglik is (Ef. 5:10).  Man en vrou moet in hul huwelik ʼn afspieëling vorm van die verhouding tussen Christus en sy gemeente (Ef. 5:22 vv.).  Christene moet hoerery vermy, omdat hul liggame lede van Christus is (1 Kor. 6:3 vv.).  Ensovoorts.  Let op Christus en u weet hoe u lewe moet lyk.  Die wat Christus van harte aanvaar, hoef vir sy lewenswandel nie ʼn handleiding met tekste byderhand te hê nie, solank as wat hy sy Heer en Heiland maar voor oë het!

huwelik

Daar is nog iets essensieels wat onmiddellik verbonde is aan dit wat hier voorafgaan.  Wanneer ons oor die Christelike lewenswandel praat, gaan dit allereers oor ons wandel binne die gemeente van Christus.  Natuurlik, ons moet ook na buite optree.  Maar vir dié wat die Nuwe Testament lees, sal dit opvallend wees hoe baie keer daar gewys word op wat nodig is om saam gemeente van Christus te wees.  Christelike etiek is allereers gemeente-etiek.  U lees weinig of niks oor politieke en ekonomiese sake, oor die omgewing of oor mediese kwessies nie.  Daardie sake is vandag beslis belangrik. Maar wanneer ons ons afvra wat die Woord uitwerk in ons wandel, is die toets eerstens óf en hoe ons ʼn lewende lid van die gemeente van Christus is.  Opnuut sê ek dat ons, sonder dat ons ook maar een Bybelteks byderhand het, baie goed besef hoe onsself en hoe ander die beeld van Christus in die kring van die broeders en susters vertoon al dan nie.

Daar is teoloë wat beweer dat ons vir die etiek die Bybel glad nie nodig het nie.  Die Bybel, sê hulle, is daar vir die verhaal, nie vir die moraal nie.  U verstaan dat ek dit anders sal sê.  Die Bybel is daar vir die verhaal van Jesus Christus;  maar aan daardie verhaal is ʼn moraal verbonde. “Maar  julle moet geheel anders leef ... Want julle het Christus nie so leer ken nie” (Ef. 4:20).

Die verhaal in die Bybel oor ons verlossing in Jesus Christus is dus van beslissende betekenis vir dit wat ons moet doen of nalaat.  Nogmaals:  ons Christelike moraal rus nie op los Bybeltekste nie, maar op daardie verhaal oor Hom in wie ons glo.  Christus word ons voor oë gehou, en daaruit leer ons wat ons moet doen.

Beteken dit nou dat ons genoeg sou hê aan die vier evangelies wat ons Christus laat ken, sodat ons op hierdie verhaal ons hele Christelike moraal kan baseer?  Nee, want dan sou ons vergeet dat Christus ons self op die hele Skrif wys.  Hy het immers uitdruklik gesê dat Hy nie gekom het om die wet en die profete te ontbind nie, maar om dit te vervul (Mat. 5:17).  Hy beroep hom vir ʼn etiese saak soos die egskeiding, op ʼn teks uit Gen. 2.  Hy haal ook die Ou Testament vir ander sake van ons lewenswandel gereeld aan.  Paulus eweneens.  Hy wys die kinders in die gemeente van Efese op die voorbeeld van Christus:  "Kinders, wees julle ouers gehoorsaam in die Here (Jesus)".  So sien ons weer die sentrale tema waarop ek sojuis gewys het.  Maar Paulus kan onmiddellik daaraan toevoeg:  "Eer jou vader en jou moeder" (Ef. 5:2).  En dit staan in die Tien Gebooie.  Die sentrale tema vir die Christelike etiek, nl. die navolging van Christus, kan nie losgemaak word van die teks van die hele Bybel nie.

Daarom is die beroep op Bybeltekste vir al die verskillende etiese onderwerpe ook nie misplaas nie.  Die vraag is wel hoe ons ons dan op die Bybel moet beroep.  Dit is glad nie altyd so eenvoudig nie.  Is daar tekste vir elke onderwerp? 

Om ʼn orde aan te bring in die beroep op die Skrif, het ek die volgende onderskeiding gemaak:  Ons kan ons beroep op die Skrif as 1) gids, as 2) wagter en 3) as rigtingwyser.

Die Skrif as Gids🔗

Ons kan ons op die Skrif beroep as gids.  Daarmee bedoel ek dat ons in baie sake ons direk en duidelik op bepaalde Bybeltekste kan beroep.  Soos wat ʼn gids ons in die berglandskap vergesel om die begaanbare pad aan te wys en vir die onbegaanbare pad te waarsku, so funksioneer die Skrif ook in baie situasies as gids wat ons konkreet vertel wat goed en kwaad op ons weg is.  Wanneer iemand steel, of lui is, of sy broeder haat, of die son laat ondergaan oor sy toorn pleks daarvan om homself voor die nag met sy vrou te versoen, dan weet ons almal waar om die tekste te vind om aan te dui dat dit verkeerd is.  ʼn Eenvoudige beroep op een van die Tien Gebooie, ʼn aanhaling uit Spreuke of ʼn woord van Jesus uit die Bergrede, kan vir ons in talle situasies presies sê wat die wil van God vir onsself en ander is.  In hierdie gevalle funksioneer die Skrif as gids.

rigtingwyser

So mag ons ons ook op die gebod "Jy mag nie doodslaan nie" beroep om prinsipieel standpunt in te neem insake aborsie en eutanasie.

Die Skrif as Wagter🔗

Maar dikwels is so ʼn direkte gebruik van die Skrif nie moontlik nie.  As ons ook die groot verskil in die situasie tussen die Bybelse tyd en nou in gedagte hou, sal ons dit moet toegee.  Manne en vroue, ouers en kinders, owerheid en onderdane gaan nou anders om met mekaar as in Bybelse tye.  Vaders het hul dogters uitgegee vir huwelik (1 Kor. 7:36), iets wat ons vandag vreemd sal vind.  Slawerny, wat in die Bybel wel begrens, maar nie direk veroordeel word nie, beskou ons vandag as ʼn kwaad.  Vir marteling het ook goeie konings soos Dawid nie noodwendig teruggedeins nie (2 Sam. 12:31), terwyl ons dit in stryd ag met menseregte.  Vryheid van godsdiens, of die reg om van godsdiens te verander, was binne Israel ondenkbaar.  ʼn Demokratiese staatsbestel word nêrens in die Bybel aanbeveel nie.  As iemand my vra of daar godsdiensvryheid behoort te wees, of die Universele Verklaring van die Regte van die Mens uit 1948 aanvaarbaar is, of arbeiders vyf in plaas van ses dae vir hul baas moet werk, of ons kinders self hul lewensmaat moet kies en nie hul ouers vir hulle nie, dan kan daardie antwoord nie gegee word met ʼn regstreekse beroep op die Skrif nie.

Maar daarmee is alles nog nie gesê nie.  Wanneer die Skrif nie as gids gebruik kan word (in die lyn soos hierbo beskryf), beteken dit nog nie dat dit in sake soos hierbo genoem, geen rol sou speel nie.  Want al is die Skrif nie ʼn handboek vir allerhande veranderinge en verbeteringe in ons samelewing nie, is dit daarom nog wel ʼn wagter, wat teen slegte ontwikkelings waarsku.  Profete in die Ou Testament het nie ʼn bloudruk nagelaat vir politieke en sosiale verhoudings nie, maar hulle het wel wantoestande, waarin God nie geëer en mense nie gerespekteer was nie, aan die kaak gestel.  Die Skrif kies nie vir of teen demokrasie en ander sake wat ons vandag positief waardeer nie.  Maar dit skerp ons oë wel vir mishandeling en onderdrukking van mense, onder watter politieke of ekonomiese stelsel ook al.  Wanneer volwassenes en selfs kinders ekonomies uitgebuit word, kom daar ʼn tyd wanneer daar ʼn einde aan gemaak word.  Wanneer ou, patriargale verhoudings uit hul voeë bars, kan dit nie meer gestuit word dat vroue en kinders selfstandiger word, tot in die huwelikskeuse toe.

Daarom onderskei ek in die gebruik van die Skrif as wagter van die Skrif as gids.  Terwyl die Bybel as gids vir ons sê:  so moet dit;  het die Bybel as wagter meer die funksie om ons te waarsku:  so moet dit nie.  Die Skrif waarsku ons daarteen om God te verag en mense te onderdruk, sonder om ons daarby presies te vertel wat die konkrete oplossing is om aan die veragting en verdrukking ʼn einde te maak nie.  Elke tyd vra vir sy eie aanpassings.

Die Skrif as Rigtingwyser🔗

Daar is nog ʼn derde moontlikheid om ons op Skrifgegewens te beroep.  Naas die Skrif as gids of wagter, sien ek die Skrif ook as rigtingwyser fungeer.  Die Skrif as rigtingaanwyser dui aan in watter rigting ons ons moet beweeg om die antwoord te vind op die vraag wat konkreet goed of kwaad is.  Die Skrif as gids en as rigtingwyser saam gee ons alreeds ʼn aanduiding van die riglyn(e) wat nodig is om antwoorde te vind in moeiliker etiese vrae.

Neem byvoorbeeld nuwe probleme waarmee ons te doen het, soos die omgewingsprobleem, in-vitro bevrugting, DNA-ondersoeke en genetiese manipulasie.  Het die Christelike etiek, wat homself op die Bybel wil baseer, hier enige inspraak?  Die Skrif praat nie hieroor nie.  Maar, al kan ʼn mens nie ʼn teks vind wat iets met dergelike ontwikkelinge te doen het nie, is daar wel Bybelse temas wat daarop betrek kan word.  Laat ek ʼn paar voorbeelde gee.

Neem die omgewingskwessie.  Ek kan rustig sê dat daar nêrens in die Bybel oor die omgewingsprobleem gepraat word nie.  Wanneer iemand vir my ʼn teks voorhou oor die Sabbatsjaar, waarin aan die land ʼn hele jaar rus gegun is, of oor ʼn voëlnessie waaruit jy kleintjies mag haal solank as wat jy die ma maar laat vlieg, dan help dit my weinig of niks in my besinning op die huidige omgewingsprobleem nie.  Tog sou dit vreemd wees wanneer die Bybel, wat oor die wêreld as God se skepping, oor die mens as beheerder van hierdie skepping spreek, niks te sê het oor die huidige omgewingsprobleem nie.  Die Skrif het hieroor wel deeglik iets te sê.  As wagter waarsku dit teen uitbuiting van die wêreld wat deur God geskape is en daarom nie deur die mens geruïneer mag word nie.  En is die Skrif nie ʼn rigtingwyser wanneer dit ons, die mens, as rentmeester, dus as beheerder van die skepping, op sy roeping wys nie?

wêreld in tou

Dit is byvoorbeeld ook vir ʼn onderwerp soos genetiese manipulasie van groot belang.  Is die mens rentmeester, of is hy skepper naas God, sodat hy die grense tussen die soorte kan uitvee en nuwe skepsele na sy eie beeld sou kon skep?  In my boek Milieu en manipulatie het ek in die slot saamgevat hoe die mens wat homself besig hou met genetiese manipulasie, behoort te wees. As beheerder van God se skepping, mag hy bewerkend besig wees, sodat hy al hoe dieper deurdring in die geheime van die skepping.  Om genetiese ondersoeke te verbied omdat dit so gevaarlik kan word, staan gelyk aan die argument om op te hou met boeke druk omdat daar so baie pornografie verskyn.

As rentmeester mag die mens ook helend besig wees.  Wanneer deur middel van genetiese manipulasie op die gebied van somatiese geen-terapie ernstige siektes genees of voorkom kan word, sal dit baie leed en angs kan wegneem.

As rentmeester moet die mens ook beskermend besig wees, sodat hy geen genetiese terapieë moet aanvaar wat sonder die vernietiging van ʼn menslike embrio nie moontlik is nie.

En ten slotte moet die mens as rentmeester bewarend besig wees, sodat hy God se skepping instandhou en dit nie na eie wense ombou nie, ook nie deur middel van ʼn genetiese rasseverbetering nie.

Hierdie vier rigtingwysers, wat ek al vier op die Skrif meen te kon terugvoer, is vir my ʼn leidraad in die besinning op die genetiese manipulasie en op ander onderwerpe uit die mediese etiek.

Daar is konstante faktore wat vir alle eeue geld en wat daarom ook van betekenis is vir ons oordeel oor die mees gevorderde wetenskaplike ontwikkelings.  Die Skrif is vir ons in die aanwys van die konstante faktore in vele kwessies ʼn rigtingwyser.

Twee Klippe🔗

Ek dink dat dit sin het om hierdie onderskeid tussen die Skrif as gids, wagter en rigtingwyser te maak.  Ek hoor graag van ʼn beter onderskeiding – want om onderskeidings te maak in hierdie saak is baie belangrik!  So kan ons twee klippe as struikelblok vermy. Ons vermy enersyds die biblisisme en andersyds die toemaak van die Bybel – asof die Bybel vir al hierdie sake geen boodskap sou hê nie.

Die biblisisme, wat te dikwels maak asof daar vir elke etiese onderwerp tekste gevind kan word wat ons kant en klaar kan sê wat wel en wat nie moet gebeur nie, is ʼn onbegaanbare weg.  Biblisisme maak alles te eenvoudig, en dit het daartoe gelei dat baie mense uit reaksie niks meer van ʼn Skrifberoep wil hoor nie. So ʼn biblistiese Skrifberoep het immers al rampspoedige uitwerkings op lewens gehad!

Maar ʼn onderskeiding soos ons hier gemaak het tussen die Skrif as gids, wagter en rigtingwyser, bewaar ons ook daarvoor om by enige onderwerp die Bybel sommer eenkant te sit.  Ek sal nie sê dat ek nooit moeite gehad het om, by watter onderwerp dan ook, na die Skrif te luister om te verneem wat dit daaroor te sê het, nie.  Ek het beslis my moeilike oomblikke gehad.  Maar na soveel jare kan ek met vreugde en dankbaarheid sê dat die belydenis van die Psalmdigter:  “U woord is ʼn lamp vir my voet en ʼn lig op my pad” (Psalm 119:105) ook dié van myself mog wees.

Die lamp en die lig is nie van dien aard dat ons self nie meer hoef op te let nie.  Ons is ook in ons omgang met die Skrif geen slawe nie, maar vry mense, wat in fyngevoeligheid moet leer onderskei waarop dit aankom (Fil. 1:9).  Maar met Christus voor oë en die hele Bybel as gids, wagter en rigtingwyser byderhand, vind ons ons weg.  Waar die Woord is, is ook die enigste perspektief vir die goeie wandel.