Bron: Kompas, 2002. 3 bladsye.

"Ek Wil Graag Verbeter..."

Sekere gelowiges kan baie indruk op ons maak. Ons wens soms dat ons soos hulle is. Kon ek maar so ’n geloof soos Abraham gehad het. Of so ’n ywer soos Paulus. Kyk maar na die geloofsblydskap wat sommige Christene wys. Hoor hoe mooi sommiges oor hul geloof kan praat. In vergelyking daarmee voel ek myself so gewoon, so gebrekkig. Is my geloof goed genoeg? Het ek genoeg vertroue? Wys ek voldoende blydskap? Ek wil graag my lewe verbeter. ’n Beter Christen wees. ’n Beter eggenoot, ’n beter pa of ma, ’n beter kollega, ’n beter student, ’n beter broer en suster. Maar hoe? Hoe meer ek dit probeer, des te meer ontdek ek my tekorte.

Wanneer ’n mens die Bybel eerlik lees, sien jy dat daar geen geloofshelde in voorkom nie. In Egipte en later in Gerar blyk dit dat Abraham, die vader van alle gelowiges, allermins ’n held is. Uit vrees vir sy lewe laat hy Sarai vir Farao en Abimeleg sê dat sy sy suster is. Dawid, die man na God se hart, maak hom skuldig aan egbreuk en moord.

Petrus die rotsman verloën sy meester. So kan ’n mens allerlei sondes en gebreke van die gelowiges wat in die Skrif genoem word, noem. Hulle was geen geloofshelde nie, maar wel geloofsgetuies. En geloofsgetuies is gewone mense wat deur God ingeskakel word om – ondanks hul eie sondes – tog getuie van God se krag en genade te wees. Dit blyk dat hulle gewone mense was, net so gewoon soos u, jy en ek. Dis geen teëvaller nie, maar wel ’n gerusstelling. Immers, as God destyds sulke mense wou gebruik, dan wil Hy vandag my ook gebruik.

God kan gebrekkige mense goed gebruik. Dit dien nie as ’n verskoning om die gebrekkigheid in stand te hou en moontlik te vergroot nie. Maar dit maak duidelik dat God nie die beste van die beste uitsoek nie. Ek hoef nie eers wys, invloedryk of aansienlik te wees nie (vgl. 1 Korintiërs 1:26). Ek hoef nie eers ’n superchristen te word voordat God my kan gebruik nie. God het gewone, gebrekkige Christene nodig, want dan skitter juis sy glorie en genade.

Paulus🔗

Paulus het buitengewone geloofservarings gehad, maar hy wil nie daaroor praat nie. Hy skryf eerder: “As daar geroem moet word, sal ek in my swakhede roem.” Hy ken homself as ’n swak mensekind wat God tog wil gebruik. Blykbaar was hy geen indrukwekkende verskyning nie. Geen sterk of boeiende spreker nie. Hy was ’n gewone mens, met swakhede. Hy het verskeie kere in die tronk gesit, hy het skipbreuk gely, hy is meermale met swepe en stokke amper dood geslaan (2 Korintiërs 11:23-29). Hy het baie angste deurstaan. Slapelose nagte gehad. Hy was ’n mens wat ook goed van sy sondes bewus was (Romeine 7). Swak, sowel liggaamlik as geestelik. Daarom is daar ook die verwondering: hoe is dit moontlik dat God my wil gebruik! Daaroor wil Paulus roem. Dis nie baie sinvol om oor ’n insidentele geestelike hoogtepunt te praat nie. Daarby vind God, die naaste en hyself nie veel baat nie. In die lewe van elke dag is hy ’n gewone Christen. Ten minste dit probeer hy wees. En dan verbaas hy hom daaroor dat God hom wil inskakel by die opbou van sy koninkryk.

Miskien kan jy nie veel oor jou geloof vertel nie. Jy beleef min besondere dinge. Jy glo in die Here Jesus. Soms het jy ’n groot vertroue, ander kere maar min vertroue. Deurgaans het jy ’n gewone geloof. Kyk, sê Paulus, dit is mooi so, want juis so word God se genade so duidelik sigbaar. Anders sou jy amper dink dat God jou wil hê vanweë jou geestelike vlak, vanweë jou indrukwekkende getuienis of werke.

Miskien is daar ook ’n sekere angs vir die toekoms. Wanneer Christus terugkom, sal ek daarby behoort? Hoe sal Hy my dan aantref? Sal my lewe in orde wees? Het ek voldoende met die sonde gebreek? Is ek gereed? Hierdie vrae word versterk deurdat die Bybel praat van onberispelik wees by sy koms.

En mag Hy, die God van alle vrede, julle volkome heilig maak, en mag julle gees en siel en liggaam geheel en al onberispelik bewaar word by die wederkoms van onse Here Jesus Christus!1 Tessalonisense 5:23

So ’n teks kan dit vir ons baie moeilik maak. Ek moet by sy koms dus onberispelik en heilig wees. Maar daar lê juis my probleem. Ek skiet daarin steeds weer tekort.

Gelukkig vra God dit nie van ons as ’n soort voorwaarde nie. Daardie teks is ’n gebed en nie ’n onmoontlike opdrag nie. Daar staan nie: “maak jou lewe heilig en sorg dat jy op die dag van Christus se koms onberispelik is” nie. Daar staan: “En mag die God van alle vrede julle heilig maak en mag julle onberispelik bewaar word.” Dis ’n gebed. Ek moet daarvoor bid. God moet dit doen, omdat ek dit nie kan doen nie. Hy moet dit doen, omdat ek dikwels nog so baie van die sonde hou. Die Bose fluister vir my dat alles met almal sal reg kom en dat ek my oor ’n heilige lewenswandel geen sorge hoef te maak nie. Hy fluister vir my dat ek darem nog nie so sleg is nie of juis dat dit met my nooit reg sal kom nie omdat ek nie goed genoeg gelewe het nie. So kan ek gaan verslap in die heiligmaking of gaan wanhoop aan my behoud.

Gebed🔗

Daarom is dit ’n saak van gebed. Here maak my heilig, maak my ’n mens wat leef tot U eer. Help my om die sonde, wat my van my doel weg trek, te bestry. Help my om uit te sien na die dag van Christus se wederkoms. Help my om ’n Christen te wees wat van U getuig.

Kyk, hier lê die geheim van ’n heilige en onberispelike lewe. Nie in ’n lys van dinge wat ‘moet’ en dinge wat ‘nie mag nie’, want dan loop jy onherroeplik vas. Dan gaan jy meer van jouself vra as wat God van jou vra. Die geheim van ’n heilige en onberispelike lewe lê in die gebed. Dan stort ek my hart uit by Hom wat die onmoontlike moontlik maak. Dit wat werklik onmoontlik was, naamlik dat ek gered kan word, maak Hy moontlik.

Die vraag is dus nie of ek nou reeds sonder sonde is nie. Hier het ek slegs ’n begin van die nuwe gehoorsaamheid. Hier is dit nog ’n saak van hoe langer hoe meer die sonde haat en daarvan wegvlug. Die vraag is of daar by my die gebed is: Here, bewaar my tot op die dag van u koms. Here, ek wil u graag dien, maar ek sukkel so daarmee. Eendag sal die doel van my lewe bereik word. Na hierdie lewe. By Christus se wederkoms. Dan sal my heiligmaking kompleet wees, eenhonderd persent. Dan sal daar geen sonde of swakheid meer wees nie. Maar volmaakte heerlikheid. In antwoord op die gebed.

Sondag 23 van die Heidelbergse Kategismus vra wat dit my baat om te glo. Sommiges sou miskien antwoord dat die geloof hulle krag gee, hulle bly maak. Maar wat gemaak met gelowiges wat nie bly is nie? Wat gemaak indien jy as gelowige in ’n fase verkeer waarin dit met jou sleg gaan en jy heeltemal geen krag voel nie? Die antwoord van die Kategismus is so mooi:

Dat ek in Christus voor God geregverdig is en ’n erfgenaam van die ewige lewe.

By geloof gaan dit nie daaroor hoe ek my voel nie, maar oor wat my posisie voor God is. Geloof is nie ’n kwessie van krag nie, maar van ’n regte verhouding met God. Geloof is die band wat my met Christus verbind. Wat beteken my geloof as ek effens – of vir ʼn lang tyd – niks voel nie, as my krag weg is, as daar geen uitsig is nie? Dan mag ek nogtans weet dat dit goed is tussen God en my.

Beursie🔗

Geloof is soos ’n beursie. Die doel van ’n beursie is om jou geld by mekaar te hou. Dan is dit nie so belangrik hoe jou beursie lyk nie, maar dis baie belangriker wat in jou beursie is. So is dit ook met die geloof. God het dit vir ons gegee as ’n middel om Christus te ontvang en vas te hou. Dan gaan dit nie oor hoe my geloof lyk nie, maar oor Wie ‘daarin sit’.

Die Kategismus is geskryf vir gewone gelowiges. Gelowiges wat ervaar dat hul geloof soms behoorlik aangetas is, soos ’n verslete beursie. Daarom sê die Kategismus ook dat dit nie so is dat “ek op grond van die waarde van my geloof vir God aanneemlik is nie.” Dis nie my geloof wat my red nie. Christus se geregtigheid red my en die geregtigheid ontvang ek in die geloof.

In die Bybel roep God ons op om ons blik op Christus te rig. Kyk nie na jouself nie, maar rig jou oog op Jesus. Soos die Israeliete in die woestyn. Wie in lewe wou bly, moes na die slang kyk (Numeri 21:9). Jesus vergelyk sy kruisiging met die verhoging van die slang. Ons moenie na onsself kyk nie, maar ons blik op die gekruisigde Christus rig. By jouself vind jy die dood, buite jouself vind jy die lewe. So kom die gewone Christen by die kruis uit. Wanneer ek na myself kyk, kom ek nie verder nie as ’n wanhoopskreet: “wat het ek Jesus aangedoen, dat Hy vir my moes sterwe?” Wanneer ek na Hom kyk, kom ek tot die jubellied: “kyk hoe Hy alles vir my gedoen het, dat Hy vir my wou sterwe!” Wie na homself kyk, sê: “ek bereik dit nooit nie”. Wie op Jesus let, sê: “ek is reeds daar”.