Bron: Die Kerkblad, 1987. 2 bladsye.

Die Christen en Valse Godsdienste

verskillende godsdienste

Wat is die roeping van die Christen teenoor valse godsdienste? Wat moet óns houding en optrede wees? Dit is dus 'n vraag na die geestelike voor­waardes vir die kommuni­kasie van die Evangelie.

Dat ons volgens die By­belse boodskap die roeping tot die verkondiging van God se verlossing onder alle volke en te midde van alle religieuse gemeenskappe het, weet elkeen wat sy Bybel lees en bereid is om die Godde­like opdrag te gehoor­saam. Maar hoe? Daar­voor wil ons enkele riglyne aanbied.

'n Persoonlike Verhouding🔗

As ons slegs op 'n afstand die Evangelie 'uitsaai', sal ons persoonlike betrou­baarheid onder verden­king kom. Wie is ons? Hulle wat na ons luister, ken ons nie. Dra ons 'n masker, of speel ons 'n rol? Trouens, ons is dan so ver van hulle af dat hulle ons skaars kan sien! Maar as ons soos Filippus by die Etiopiër op die wa klim of hulle van aangesig tot aangesig ontmoet, ont­staan daar 'n persoonlike verhouding. Dan verdwyn die maskers.

Self word ons gesien en geken vir wie en wat ons is: mense, sondig, behoef­tig en diep afhanklik van God se genade, waarvan ons praat. En as die ge­sprek ontwikkel, leer ons ook die ander beter ken. Hy is ook 'n mens met sonde en pyn en frustra­sies en oortuigings. Ons leer om sy oortui­gings te respekteer, en saam te dra aan sy nood en laste. Ons wil nog die Evangelie met hom deel – want daartoe dring die liefde van Christus ons – maar ons is nou ook oor hom as mens besorg.

Ootmoed🔗

Ware verkondiging van die Evangelie is om Jesus Christus as Verlosser en Here bekend te maak, en dit impliseer dat ons nooit onsself op die voorgrond stel nie. Dikwels gedra Christene hulle egter in die kommunikasie van die Evangelie asof hulle eie­naars, ryke besitters van die Evangelie is. Dan is hulle soos geestelike kapi­taliste wat van hulle eie besittings uitdeel. Juis dan sal ons weer na Paulus moet luister: "Wie maak jou so belangrik? En wat besit jy wat jy nie ontvang het nie?" (1 Korintiërs 4:7).

Maar ootmoed is ook nodig wanneer ons na die ander persoon luister en hom leer ken as 'n mede­mens, geskape na die beeld van God. Die afstand tus­sen ons krimp – as ons insien dat hy 'n gevalle en sondige mens is, net soos onsself.

Verder besef ons dat ons nie al sy diepgewortelde oortuigings met een hou kan wegvee nie. Nederig moet ons erken dat som­mige van sy wanopvat­tings oor die Christendom ons eie skuld mag wees, of dat sy verwerping van Christus in werklikheid 'n verwerping kan wees van 'n karikatuur van Christus wat hy by ons en ons mede-Christene leer ken het.

Bereidheid tot Luister🔗

Vir die deurgee van die Evangelie onder aanhan­gers van ander godsdiens­te is ook bereidheid tot luister, begrip en empatie nodig. Waarom sou dit nodig wees? Omdat daar 'n groot verskil is tussen die leerstellings en tradi­sies van 'n bepaalde reli­gieuse gemeenskap en die persoonlike geloof van 'n aanhanger van die religie. Nooit ontmoet ons valse godsdienste nie, maar slegs mense wat aanhan­gers van hierdie gods­dienste is.

Al luisterend leer ons die ander se ware opvat­tings en probleme ken en kan ons onsself bevry van valse voorstellings wat ons gehuldig het. Hierdie beginsel is eeue gelede reeds in die Spreukeboek gestel: "Wie antwoord voor hy die vraag gehoor het, is dwaas en kom in die skande" (Spreuke 18:13). Daar is soveel vooroordele tussen die verskillende re­ligieuse gemeenskappe – wat maklik die neiging tot onregverdige propaganda en antipropaganda voed.

Gedwing deur die Liefde van Christus🔗

Hier dink ons aan 2 Korintiërs 5:14 waar Paulus praat van die dwingende liefde van Christus. Hiérdie liefde laat ons bid en smeek : "Aanvaar die versoening met God wat Hy bewerk het!" En wat ons steeds moet onthou, is dat hierdie liefde van Christus onver­skrokke is en die ander bewustelik voor die keuse vir of teen Christus stel.

kruis

Paulus se eie optrede is 'n duidelike voorbeeld van 'n ootmoedige en tog on­verskrokke. deurgee van die Evangelie. Hiervoor het hy hom nooit geskaam nie (Romeine 1:16). Daarom het die gelowige selfs ook die roeping tot ‘konfrontasie', in die sin van: die tekortkominge en vals­hede van nie-Christelike godsdiens uiteen te sit en om vir die waarheid en finaliteit van die Here Jesus op te staan.

Geen Christen wat die Bybelse verkondiging aanvaar oor die dwaas­heid van die afgodery enersyds, en die volko­menheid van Jesus Chris­tus andersyds, kan dit ontloop nie. 'n Voorbeeld: Dit is 'n feit dat Jesus in die Islam 'n gedegradeer­de persoon is, en daarom is dit ons roeping om in die huis van Islam van Hom te getuig soos Hy is: nie slegs 'n profeet nie, maar die gekruisigde en opge­stane Here en Verlosser.

Die Kern van Ons Geloof🔗

Die bekende apostoliese seënbede: "Die genade van die Here Jesus Chris­tus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sal by julle wees" (2 Korintiërs 13:13), druk ons Christelike geloof kernagtig uit. Daarin word alles saamgevat wat ontbreek in die wêreldgodsdienste – wat uit die hart van ménse opgekom het. Daarin word alles gesê wat ons in Christus geskenk is, 'n geskenk wat bestem is vir alle volkere en wat ook alléén in staat is om aan 'n mens ware rus, troos en verwagting te skenk.

Op grond hiervan ver­werp ons die siening dat alle godsdienste in die kern gelyk is of dat die verskil tussen die Christe­like geloof en die ander godsdienste slegs betrek­lik is. God se openbaring in Jesus Christus is die weg, die waarheid en die lewe – en niemand kom na die Vader toe behalwe deur Hom en sy Gees nie. Hierdie Evangelie is vir ons nooit onderhandelbaar nie.