1 bladsye.

Hoe staan dit met my gebedslewe?

Besef u en ek genoeg hoe lewensnoodsaaklik die gebed vir die ge­lowige is? Ons mag dit nie van ons sondige, wispelturige gevoel laat afhang óf en wanneer ons weer sal bid nie. Ons mag dit nie beperk tot wanneer ons 'n keer weer 'in die stemming' is om te bid nie. Die ge­bed kan immers in die lewe van die gelowige deur niks vervang word nie.

Onthou, ons bid nie om dwang of druk op God te probeer uitoefen nie! Wie is ons miskien dat ons sy wil volgens óns wil sal kan ombuig? Ons moet oppas dat ons nie voor God kniel terwyl ons eintlik daarop mik, al is dit by implikasie, dat God voor ons moet kniel nie (S. U. Zuidema) . Die gevaar is daar dat ons kan bid as God se mededinger of teenvoeter; dat ons kan bid, nie om te dien nie, maar om te probeer dikteer. Die sug tot selfhandhawing is so eie aan die sondige mens, tot selfs wanneer ons bid!

Die ware gebed is deurgloei van die geloof. Ons sal ons des te sterker tot die gebed gedronge voel namate ons met inniger vertroue en met hei­lige opmerksaamheid bewus is van die weldade wat God in onuitspreek­like rykdom aan ons bewys.

Die goeie gewoonte moet in ons lewe ingebed wees om in al ons node en sorge deur gebed en smeking ons begeertes in alles voor die Here te bring (Filippense 4:6). Dit mag ons nie doen met 'n bittere geklaag en ver­galde opstandigheid nie, maar met danksegging! So bely ons elke dag en in elke krisis ons God — die God van die Skrifte! — in die Naam van ons Here Jesus Christus, as ons lief­devolle Vader wat vir ons só sorg dat ons oor letterlik niks besorg hoef te wees nie.

Ons het die verantwoordelikheid om te sorg; Pa moet werk toe gaan en Ma moet haar huishouding ge­trou behartig. Maar ons mag by dit alles nie besorg wees asof God se hand van genade nie oor ons uitge­strek bly nie. In alles moet ons innig dankbaar wees. Ons het as God se kinders alle rede daarvoor!

In onsself is ons sondige en onwaardige mense, vol nood en ellende en sonder enige verdienste. Ons totale afhanklikheid kan ons nooit te diep besef nie. Om drome te droom van ons eie daadkrag, is iets van die duiwel. Die drome spoel maklik weg en ons eie selfsugtige en hooghartige beramings loop op mislukking uit.

Die wonder van die gebed is dat dit ons hart ontsluit voor die Here, soos wat die harte van twee mense (wat mekaar liefhet) in hulle in­tieme samesyn vir mekaar oop­gaan. Ten opsigte van al my be­hoeftes — liggaamlik en geestelik — met al my sorge en kommer, kan ek met vrymoedigheid na God gaan. Die blye versekering is vir my uit vrye welbehae beskore dat sy oor nie te swaar is om ons te verhoor en sy arm nie te kort om ons te verlos nie.

Ek huiwer om aan u die vraag te stel: Voer u miskien 'n gebedlose lewe? Dan is u besig om God al meer prakties uit u lewe weg te werk. U loop Hom verby, aan Wie u letterlik alles te danke het, sonder om Hom te groet! Handhaaf u nog die gereelde gebedslewe, al is dit só dat alles daarmee nie in orde is nie?

Maak die saak reg — dit is drin­gend ! Die glans van die gebedslewe mag nie verbleek nie. As dit gebeur, sal die gevolg wees dat die liefde vir God en vir u naaste al meer sal ver­flou en dat die liefde in 'n haatver­vulde wêreld sy heldere glans sal verloor.