Bron: Kompas, 2007. 3 bladsye.

'n Geknakte Rank aan die Wynstok: Oor die Manier waarop ons met Gestremdheid Omgaan

Enkele weke gelede het ek die voorreg gehad om die begrafnisdiens te lei van ʼn gestremde vrou van oor die 50 jaar. Ek was voor haar afsterwe nog by haar in die hospitaal; saam met die familie het ons Psalm 116 gesing – ʼn hartroerende moment. Dit alles het my laat wonder oor die manier waarop ons met gestremdheid omgaan… Hoe kyk ons na mense met ʼn liggaamlike of geestelike gestremdheid?

Kort daarna het ek afgekom op ʼn pragtige toespraak wat J. Veenstra gelewer het tydens ʼn oueraand van die Gereformeerde basisskool De Rank in Emmen, Nederland (opgeneem in Nader Bekeken, Desember 2006). Veenstra begin deur die vraag te stel: Het God net vir Adam en Eva geskápe, terwyl alle mense ná hulle slegs verwek is of ontstaan het? Kom ons luister wat sy antwoord hierop is.

As ons kies vir die stelling dat, ná die paradys, kinders nie meer deur God geskápe word nie, dan is ʼn hele klomp probleme onmiddellik opgelos. So dink ons. ʼn Kind gebore uit ʼn verkragting? Mensewerk; die goeie God is nie hierby betrokke nie. ʼn Gestremde kind? Gene wat ontspoor het, of medisyne wat nie behoorlik getoets is nie. Weer is God nie betrokke nie.

Ek verstaan hierdie gedagtes baie goed. Ek onthou nog hoe ek as jongman – ons het pas begin uitgaan – besoek gaan aflê het by ʼn niggie in my skoonfamilie. Die meisie was swaar gestremd: gebore met ʼn oop rug en ʼn waterhoof. Sy is versorg in ʼn Rooms-Katolieke inrigting in Drachten. Hoewel ek gemeen het dat ek goed voorbereid was, was die skok groot. So ʼn misvormde liggaam. En terselfdertyd so ʼn opgewekte karakter. Alreeds die eerste keer het sy my geterg omdat ek verlief was, en omdat sy dit kon sien. In ʼn bed daar naby het ʼn kind van omtrent vier of vyf jaar gelê. Spierwit, roerloos, die uitdrukkinglose ogies op die plafon gerig. ʼn Entjie verder het ʼn hopie mens gelê en skreeu en slaan. Nonne in wit togas het soos engele tussen die beddens beweeg en gesprekke gevoer met kinders wat op niks reageer nie. Dae lank kon ek nie van hierdie beelde ontslae raak nie. Verbysterd het ek bly vassteek in my vrae oor die sin en die doel van so ʼn bestaan. Hoe kon God toelaat dat sulke kinders gebore word? Is hulle deur Hom geskape? Of: het hulle maar net ontstaan?

Elke verstandelike redenering ly hier gebreke. Daar is geen dogma wat ʼn verklaring hiervoor gee nie. Ek glo in ʼn God wat almagtig is, in ʼn God wat nie agter die feite aanloop nie, maar ʼn ewige plan het met die lewe van sy kinders. Die Prediker sê: as ek sien wat onder die son gebeur, dan lyk dit asof tyd en toeval alle mense tref. Maar intussen weet ek dat alles wat God doen, ewig is. Ook Job kom ná al sy opstandige vrae tot die erkenning: ek weet dat niks buite God se mag lê nie, en dat niks vir God onuitvoerbaar is nie. God se almag en wysheid staan aan die begin van elke menselewe, hoe gebroke daardie lewe ook mag wees. Ons kom nêrens nie as ons probeer om met mooi sinne God se ewige, ondeurgrondelike planne verstaanbaar te maak. As daar iets (of baie) by jou kind skort, dan kan mense baie vroom vir jou sê: “Nie alles kom uit God se hand nie, maar alles lê wel in sy hand.” Of: “Dit is nie God se wil nie, maar dit is wel God se weg.” Mooi woorde, maar waar is die troos? Is jou kind deur God geskape of het Hy maar net vanaf ʼn afstand toegekyk? Dit bly dan ʼn onbeantwoorde vraag…

Daarom het ek Psalm 139 saam met u gelees. Nie omdat hierdie psalm elke vraag beantwoord nie, maar wel jou vrae tot rus bring. Dit is ʼn psalm van Dawid. Van die man wat ʼn vrou gedwing het om met hom gemeenskap te hê, en wat, teen God se gebooie in, ʼn kind verwek het. En wat daarna sewe dae lank op sy knieë gelê het, omdat God die seuntjie opgeëis het en hy die seuntjie nie wou verloor nie. Hierdie man – en dit is baie opvallend – het ʼn lofsang geskryf op die God wat aan die begin van elke menselewe staan, ondanks die gebrokenheid daaromheen. In hierdie psalm kom jy volledig in God se hande: van vóór die begin van jou lewe, tot oor die grense van die dood heen.

Dit gaan in Psalm 139 baie sterk oor waarvandaan jy kom. Ons lees oor die prille begin van die embrio:

U oë het my ongevormde klomp gesien.Psalm 139:16

Want U het my niere gevorm, my in my moeder se skoot geweef.Psalm 139:13

Die ongebore lewe lê veilig geborge, omsluit deur vrugwater en deur die moeder se liggaam. Die moeder voel haar kind beweeg en lê ontroerd haar hand op haar maag. Vers 5 plaas God skielik in die rol van die aanstaande moeder:

U sluit my in van agter en van voor, en U lê u hand op my.

God word nie onverhoeds betrap wanneer twee mense ʼn kind verwek nie. Selfs nie wanneer dit onder dramatiese omstandighede gebeur nie. Die sewe lewensdae van die kind van Dawid en Batseba het al lankal in God se boek gestaan (v. 16). Want al voor die grondlegging van die wêreld het God sy kinders in liefde uitgekies, sê Paulus. Ek het jou geken voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, sê God vir Jeremia.

Ek loof God vir die ontsaglike wonder van my bestaan. En dan gaan dit nie slegs oor die liggaam nie, maar ook oor my unieke persoonlikheid. Immers, saam maak dit my tot die mens wat ek is, en wat deur God geken en bemin word. Vroeër was daar ʼn seuntjie wat gereeld by ons gespeel het. Terwyl die kinders gespeel het, het hy skielik op ʼn dag gesê: “Ek is ʼn ongelukkie.” Terwyl ons kinders verbaas na enige letsel gesoek het, het hy verklarend toegevoeg: “Regtig. Dit was nie die plan nie. So sê pappa.” Dit is presies wat jou hemelse Vader nooit vir jou sal sê nie: ʼn ongelukkie, nie die plan nie. Siekte en sonde trek ʼn verwoestende spoor deur die lewe. Maar jy is nie oorgelewer aan noodlot en willekeur nie. God se plan met jou lewe gaan voort ondanks alles wat skort. Of juis: ín alles wat skort.

Ons kan iets leer van die nonne wat ek dié keer in die inrigting vir swaar gestremde kinders gesien het. Elke gestremde kind is deur hulle gekoester en aangespreek asof hy ʼn bekende Nederlander was. Hoe hanteer óns dit as daar iets skort aan die liggaam, die verstand of die persoonlikheid van ʼn kind? Deur die manier waarop ons die gebrek onder woorde bring, verloor ons dikwels perspektief op die waarde van elke mens, sonder onderskeid. Iemand met ʼn motoriese blokkade word sommer gou-gou ‘spasties’ genoem. Om my heen hoor ek ook dikwels van ‘outiste’ en ander benamings. Asof die persoonlikheid van die kind bepaal word deur sy gebrek; jou waarde reik nie verder as jou beperking nie. Hoe onregverdig, teenoor die kind, maar ook teenoor sy Skepper!

Laat ons ʼn slag na onsself kyk. Tog ook een groot versameling gebreke? Miskien het u ʼn IK van 130, en tegelyk géén sosiale vaardighede nie. Moontlik is jy ʼn tegnikus van hoogstaande gehalte, maar met ʼn inlewingsvermoë waaraan jou huwelik te gronde gaan. As ʼn gebrek die rede is om ter bespreking te stel of God my Skepper kan wees of nie, dan kom niemand van ons uit God se skeppende hand nie. In hierdie gebroke wêreld is ons immers almal gebreklik.

Natuurlik is dit moeilik vir ouers om te aanvaar wanneer hul kind ʼn opvallende leer- of persoonlikheidsteurnis het. Maar dit gaan altyd oor ʼn unieke persoon wat ʼn probleem het, en nie ʼn probleem is nie.

As ons saam, as ouers en onderwysers, so na ons kinders kyk, bring dit ons miskien ook nader aan mekaar… Kyk maar ʼn slag na die afbeelding van die gelykenis van die Ware Wynstok. Op een plek aan die wynstok sien u ʼn klein, geknakte rank. “Hiermee wil ek wys dat ook die gebroke lewe by Jesus behoort en daarom ʼn plek by hierdie skool verdien”, het Christen-kunstenaar Esenkbrink gesê. Ons sou ʼn bietjie hieroor moes nadink – die geknakte rank dra net so goed vrugte as die weelderige lote wat op die snoeimes van die wynbouer wag.

Laat ons ons moeites met mekaar deel, broers en susters. En ook ons visie op die kind. Want dit is mos nou duidelik! Elke unieke borduursel van ons Skepper, watter onvolmaakthede en besonderhede daar ook mag wees, mag Psalm 139 aanhef:

Ek loof U, omdat ek so vreeslik wonderbaar is;
wonderbaar is u werke!
En my siel weet dit alte goed.

Is dit nodig om iets ekstra hierby te sê? Laat ons die gestremdes in ons gemeentes en in die samelewing mooi oppas. Só ontvang hulle die liefde wat God vir hulle het, en só kry ons Skepper-God die eer wat Hom toekom.