Bron: Die Kerkblad. 2 bladsye.

2 Korintiers 4:16-5:1 - Tent en Huis

Soos die Prediker weet Paulus ook van 'n aftakelingsproses. In sy tweede brief aan die Korinthiërs, sy mees persoonlike brief, skryf hy op sy eie manier hieroor. Paulus was van beroep 'n tentmaker (Hand. 18:3). As rabbyn moes hy ook 'n ambag leer. Sy werk was om tente te maak. Daarom gebruik hy in hierdie baie persoonlike brief die beeld van 'n tent.

Die Uiterlike Mens🔗

In hoofstuk 4:16 spreek Paulus van die uiterlike mens. Hiermee bedoel hy nie net die liggaam nie. Die uiterlike mens is die hele mens, maar dan die mens soos jy hom sien. Ons sou met Grosheide kan sê: die na buitegekeerde mens, die “buitekantmens” soos hy hier op aarde lewe. Daardie mens vergaan, takel af, sê Paulus. Dit is die werklikheid van die lewe as gevolg van die sonde. Ons sien dit elke dag. En jy ervaar dit in jou eie lewe, Siekte, ouderdom, verval van kragte. Dit is maar wat vir elkeen van ons voorlê: die uiterlike mens vergaan.

Die Innerlike Mens🔗

Maar Paulus weet daar is by elke gelowige ook die innerlike mens. Hiermee bedoel hy nie die siel in teenstelling tot die liggaam nie. Die innerlike mens is die hele mens, maar dan die mens soos hy deur Jesus Christus van binne nuut gemaak is. Ons sou weer met Grosheide kan sê: die na binnegekeerde mens, die “binnekantmens” soos hy hier as 'n kind van die Here op aarde lewe. Nou is dit die troosryke: al vergaan die buitekantmens, die binnekantmens word vernuwe. Hy groei, daar is ontwikkeling, daar is 'n rypwordingsproses aan die gang. Paulus beskryf hier 'n wonderlike, hartverblydende proses wat in 'n menselewe kan plaasvind. Jy word ouer, jou kragte word minder, siekte sloop jou liggaam, maar tegelykertyd blom jy. Jou geloof groei, jy beleef steeds sterker die heerlike geloofsgemeenskap met Christus. God se genade, sy ontferming en vaderlike sorg gaan jy steeds meer bewustelik in jou lewe geniet. Daarom is jy nie moedeloos nie. Paulus skrywe: daarom gee ons die moed nie op nie.

Aardse Tent🔗

Met 'n nuwe beeld gaan Paulus dit wat hy geskryf het verder verduidelik. Hy vergelyk die uiterlike mens met 'n tent. Die tentmaker weet ons aardse lewe is soos 'n tent. Die tent is by uitnemendheid die beeld van ons wankelrige bestaan. 'n Tent is nie teen storm bestand nie. Hy kan so gemaklik afgebreek word. As jy verder moet trek, dan moet die tent opgebreek word. So is dit ook met ons aardse bestaan. Koning Hiskia het daar reeds oor gekla op sy siekbed: My woning is opgebreek en van my af weggevoer soos 'n herderstent (Jes. 38:12). Ons aardse lewe is 'n tentlewe. En daardie tentwoning word eendag afgebreek. Ons weet dit mos, sê Paulus in 2 Kor. 5:1. Ja, maar ons staan daar nie altyd by stil nie. Tog is dit 'n harde werklikheid.

Die Gebou van God🔗

Paulus is egter nie negatief, nie pessimisties oor die aardse lewe nie. Hy skrywe: al is ons lewe maar net 'n tentlewe, ons het ook 'n gebou van God. Wanneer die tent afgebreek word, dan staan daar 'n gebou vir ons gereed. Paulus praat van 'n gebou van God, letterlik: uit God. Hy noem dit vervolgens 'n ewige huis, 'n stewige gebou wat ewig bly staan. God is die argitek. Met hierdie gebou bedoel Paulus die lewe met Christus, die ewige lewe in gemeenskap met God. Die uiterlike mens mag dan vergaan, die tent mag afgebreek word - hoe pynlik ook al - ons weet God is met sy vernuwingsprogram besig. Die innerlike mens word dag na dag vernuwe en die gebou staan gereed. Die ewige vreugde wag.

Ons Weet🔗

Ons moet nie alleen aandag gee aan die sigbare dinge soos die tent nie. Ons moet let op die onsigbare dinge, die gebou. Die tent is tydelik, die gebou is ewig. Dit is die troos. Paulus weet dit. Twee keer gebruik hy die uitdrukking: ons weet. Die wete staan nie teenoor die geloof nie, maar is juis 'n geloofswete, 'n heerlike geloofskennis. Sterwe is wins. Jy trek as 'n gelowige dan van 'n tent na 'n gebou.