Bron: Die Kerkblad. 2 bladsye.

Bevindelike Prediking

preekstoel

Wat is bevindelike prediking? Waarin verskil bevindelike prediking van gewone prediking? Is dit 'n bepaalde soort prediking wat onderskei moet word van Skrifprediking, Christologiese prediking, trinitariese prediking, kategismusprediking of dogmatiese prediking?

Tereg kan teen die uitdrukking 'bevindelike prediking' beswaar aangeteken word. Dit is beter om te praat van bevinding in die prediking of die bevindelike element in die prediking. In hierdie betekenis sal die onderwerp behandel word.

Oor 'n bevindelike element in die prediking word verskillend geoordeel. Aan die een kant ontmoet ons kerke wat oordeel dat daar iets aan die prediking haper wanneer dit nie bevindelik is nie. Maar ander kerke het juis ernstige besware teen 'n bevindelike element in die prediking, omdat hulle oordeel dat dit iets toevoeg aan die Woord van God wat verkondig moet word. Die menslike ervaring kry op hierdie wyse ook 'n plek in die verkondiging van die Woord van God. Daarmee word die prediking gedevalueer.

Aktualiteit🔗

Die vraag na bevinding in die prediking is uiters aktueel. Met bevinding bevind ons ons op die vlak van die ervaring. Ervaring is nie dieselfde as bevinding nie, maar bevinding is wel 'n bepaalde soort ervaring. In die hedendaagse problematiek kom ons telkens in aanraking met ervaring. Jy kan nie 'n teologiese boek oopmaak nie of die probleem van ervaring word daarin bespreek.

Die verhouding openbaringservaring is een van die belangrikste onderwerpe in die huidige teologiese diskussie. Hoe is hierdie verhouding? Gaan openbaring aan ervaring vooraf of kom die openbaring op uit die ervaring? Gee elke Bybelskrywer sy Godservaring weer in die boek wat hy geskryf het? Is die Bybel 'n openbaringsboek of 'n ervaringsboek? Bevinding is wel ervaring, maar nie alle ervaring is bevinding nie. Dit bring ons by die vraag wat bevinding presies is.

Wat is Bevinding?   🔗

Laat ons eers probeer vasstel wat met bevinding bedoel word. T. Brienen het in sy bekende boek 'Bevinding. Aard en functie van de geloofsbeleving' (1978) 'n poging onderneem om die begrip 'bevinding' te omskryf. Hy het die verskillende beskouinge oor bevinding van onder andere K. Dijk, C. Graafland, L. Haitjema, K.H. Miskotte, J.G. Woederink, L.H. van der Meiden, A.A. van Ruler en S. van der Linde ondersoek. Die een belig bevinding van die prakties-pastorale kant; die ander skrywer gee 'n historiese uiteensetting oor bevinding, terwyl 'n derde nagaan wat die Bybel ons leer oor bevinding. Nog 'n ander probeer om bevinding sistematies-teologies te verantwoord. Maar by alle verskille word bevinding gesien as die belewing van die geloof. Brienen beskryf bevinding as 'beleving, uiting en ervaring van het geloof'. Bevinding is dus iets wat nou saamhang met geloof.

Bevinding is 'n omskrywing van die belewing van die geloofsgemeenskap met God. Die verhouding met God is 'n geloofsverhouding. Velema noem dit in 'n artikel 'Bevinding in die Bijbel' (1989) 'de ervaringskant van het geloof'. Geloof is nie 'n abstraksie nie. Dit is 'n ervaarde werklikheid. Wanneer daar gepraat word van bevindelike prediking of bevinding in die prediking, dan gaan dit oor prediking waarin die geloofservaring 'n plek kry.

Natuurlik kan die vraag gevra word: bots so 'n prediking nie met 'n prediking waarin die Woord van God sentraal staan nie? Word die mens nie te veel in die middelpunt geplaas nie? Voorstanders van bevinding in die prediking beantwoord hierdie vrae ontkennend, omdat hulle oordeel dat die Bybel vol is van geloofservaring. Lees byvoorbeeld in die boek van die Psalms. Dit is die mees bevindelike Bybelboek. Ons moet wel onderskeid maak tussen bevinding soos dit in die Bybel beskryf word en bevinding wat ons kan lees in óns Belydenisskrifte en die bevinding van die gelowige wat die Bybel lees.

Bybel

Die Heilige Gees werk die geloof in 'n mensehart. Bevinding is 'n begeleidingsverskynsel van die geloof. Bevinding is vrug van die werk van die Heilige Gees. Daarom is die tema 'bevinding in die prediking' ten diepste 'n tema oor die plek van die Heilige Gees in die prediking. Wat ervaar 'n mens wanneer die Heilige Gees in sy hart werk? Wanneer daar 'n bevindelike element in die prediking moet wees, dan kan die vraag gevra word, waar die bevinding sy plek in die verkondiging moet kry. Om hierdie vraag te beantwoord, moet ons eers kyk na twee preekmodelle.

Twee Modelle van Prediking🔗

Wanneer daar 'n bevindelike element in die prediking moet wees, dan is dit nie willekeurig waar die geloofsbevinding in die prediking aan die orde moet kom nie. Om die plek van die bevinding in die prediking te bepaal, moet ons teruggaan in die geskiedenis van die homiletiek.

In die Gereformeerde homiletiese tradisie vanaf die tyd van die Reformasie vind ons duidelik twee modelle van prediking: 'n sogenaamde voorwerplike prediking en 'n onderwerplike prediking, ook genoem 'n objektiewe en 'n subjektiewe prediking. Hierdie twee modelle kan nie in waterdigte kompartemente van mekaar geskei word nie. Ook is hierdie twee modelle nie aan 'n bepaalde historiese tyd gebind nie. Deur die eeue heen is daar 'n groot onderskeid in die prediking en word die aksente verskillend gelê.

Voorwerplike of objektiewe prediking lê die klem baie sterk op die werk van Christus vir ons. Die groot dade van God en die verlossingswerk van Christus staan in die middelpunt. Die openbarings-historiese kry alle aandag. In hierdie tipe preke – dit moet gesê word – beluister ons dikwels voortreflike eksegese. Daar word baie aandag gegee aan die verklaring van die teks.

Onderwerplike of meer subjektiewe verkondiging lê die aksent op die genadewerking van God in die hart. Hierdie tipe prediking vind ons veral in die kringe van die sogenaamde Nadere Reformasie en in die kerke wat uit die Afskeiding van 1834 ontstaan het. Die toeëiening van die heil kry volle aandag. Soos voorwerplike prediking veral op Christus wys, op sy werk vir ons, so word in onderwerplike verkondiging baie aandag gegee aan die werk van Christus in ons. In hierdie tipe prediking kom veral die heilsordelike ter sprake. Daarom is in die tweede tipe van prediking meer aandag vir die werk van die Heilige Gees. Dit wat 'n mens ervaar wanneer die Heilige Gees deur middel van die Woord van God werk in die hart van 'n sondaar. By die ontvouing van die heilsweg in die verkondiging, en dan veral wanneer dit gaan oor die wyse waarop 'n mens tot geloof kom en hoe die geloof funksioneer, kom die bevinding in die preek ter sprake.