1 bladsye. Vertaal deur Nic Grobler.

Christus se Sentrale Menslike Natuur

Ons het reeds geleer van die ware, volkome, sondelose en swakke menslike natuur van Christus. Daar is teoloë wat hierbenewens van ʼn vyfde kenmerk praat: die sentrale menslike natuur.

Hiermee word niks anders bedoel nie as dat Christus uit die vlees en bloed van Maria gebore is, dat Hy ʼn Jood was uit die geslagslyn van Dawid, die saad van Abraham na die vlees. Só was Hy dan ook ʼn ware seun van Adam, ons eie vlees en bloed.

Hoewel dit vanselfsprekend lyk, is dit in die loop van die kerkgeskiedenis ontken. Sommiges het geleer dat Christus sy menslike natuur saam met Hom uit die hemel gebring het en dat Hy met sy ontvangenis en geboorte bloot soos water deur ʼn kraan deur die skoot van Maria gegaan het. Andersyds het hulle geleer dat sy menslike natuur in haar moederskoot geskep is sonder dat Hy geneties of fisies haar seun was.

Dit is tydens die Reformasie deur sommige Anabaptiste geleer, en meer onlangs deur die neo-ortodokse teoloog,1 Die sienings van Karl Barth én die Anabaptiste was ter verdediging van die sondeloosheid van Christus. Jesus kon alleen sonder enige moontlikheid  dat Hy met menslike verdorwenheid besmet sou wees, gebore word, so het hulle beweer, as sy geboorte nie in die menslike geslagslyn is nie.

Dit is ewewel nie nodig om sulke standpunte te huldig ten einde te kan glo dat Christus volkome sonder sonde was nie. Uit Lukas 1:35 leer ons dat die sondeloosheid van Jesus deur die werk van die Heilige Gees gewaarborg word.

Die siening van die Anabaptiste en van Barth is inderwaarheid ʼn ontkenning dat Christus in alle opsigte soos ons was, uitgesonder die sonde (Heb. 2:14; Heb. 4:15), selfs in sy ontvangenis en sy geboorte. Berkhof het gesê: “As die menslike natuur van Christus nie uit dieselfde geslag as ons kom nie, maar bloot daarmee ooreenstem, bestaan daar nie die verhouding tussen Hom en ons wat nodig is vir sy middelaarskap ons ten goede nie”.2

Om te sê dat Christus nie geneties en organies, deur ware ontvangenis en geboorte, ʼn seun van Abraham is nie, beteken dat Hy van die verbond met Abraham en sy nageslag en van die beloftes van daardie verbond, afgesny is. Dié beloftes hoort dan nie aan Hom nie en kan nie deur Hom vervul word nie. Ook is daar dan nie vir die Nuwe Testamentiese gelowige, wat deur die geloof met Hom een is, eniger moontlike belang by dié beloftes nie. Om Christus van Abraham en Dawid af te sny, is om Hom én ons van die Ou Testament en die beloftes daarvan, af te sny.

Laat ons dan vashou aan die kosbare waarheid dat Christus deur sy vleeswording ʼn ware lid van die menslike geslag is, deur afstamming die ware seun van Maria en deur haar van Abraham en sy nageslag. Ons saligheid en ons plek in die verbond as kinders van Abraham hang daarvan af.

Endnotes🔗

  1. ^ Karl Barth.Karl Barth (1886—1968) was ʼn moderne Switserse teoloog wat in die tydperk wat oor die twee wêreldoorloë gestrek het in Duitsland gewerk het. Sy teologie staan bekend as dialektiese of krisis-teologie. Dit word gekenmerk deur paradokse en ʼn herformulering van byna alle fundamentele Gereformeerde leerstellings. Opvallende aspekte van sy ketterse leer is die gedagte dat God onkenbaar is; die gedagte dat die wyse waarop God Homself openbaar deur “ontmoetings” (Engels: “encounters” – NG) is; en ʼn ontkenning van die historiese egtheid van die Skrif.
  2. ^ Louis Berkhof, Systematic Theology, Deel 3, “The Doctrine of the Person and Work of Christ”, Nuwe uitgawe (Grand Rapids, Mich.: William B. Eerdmans Publishing Company, 1996), p. 334.