Bron: Die Kerkblad, 2008. 3 bladsye.

Die Bybel as Leesboek

Die Bybel is ’n Wonderlike Boek🔗

Hierdie boek kan op verskillende maniere gebruik word. Die dominee gebruik sy Bybel om daaruit ’n teks te soek vir sy preek. Die katkisasie-onderwyser het ’n Bybel nodig om daaruit die kinders te leer. Die professor bestudeer die Bybel om sy studente op te lei. Die gelowige kind van die Here besoek Sondae getrou die eredienste. Maar tuis gebruik hy sy Bybel as leesboek. Daar is gelowiges wat probeer om in ’n jaar se tyd die hele Bybel deur te lees. Ons kan dus die Bybel vanuit verskillende perspektiewe benader en gebruik. Om op die regte manier die Bybel as leesboek te gebruik, is dit goed om in ’n voëlvlug oor die Bybel te gaan. Watter soort boek is die Bybel?

Wie is die Leser van die Bybel?🔗

Laat ons eers kyk na die persoon wat die Bybel as leesboek gebruik. Hy is, as dit goed is, ’n gelowige kind van die Here. Daar is drie dinge wat vir hom kenmerkend is. Hy het ’n Koning bo Hom in die hemel. Hy het die Heilige Gees in sy hart. En hy het die Bybel in sy hand. Maar hoe lees hy sy Bybel? Jy kan ook op ’n verkeerde manier die Bybel lees. Jy kan God se Woord lees by eie lig, by die lamp van die verstand. Maar dan bly die Bybel ’n geslote boek. Is die Bybel vir ons ’n boek soos ander boeke, dan verdwaal ons hopeloos by die lees van die Bybel.

Boek of Biblioteek🔗

Een van die belangrikste dinge by die lees van die Bybel, is hoe na die Bybel gekyk word. Beskou ons die Bybel as ’n biblioteek of as ’n boek? Kom ons kyk na die inhoudsopgawe. Die meeste boeke het voorin ’n opgawe van die inhoud. Die Bybel maak geen uitsondering nie. Voor in die 1983-ver­taling van die Bybel lees ons: “Inhoud: Die boeke van die Ou Testament, die Boeke van die Nuwe Testament.” Die geskrifte word as boeke aangedui. In verband hiermee het vir die Bybel in die ou dae die woord Biblia ontstaan. In ou Hollandse Bybels staan: “Biblia. Dat is de ganse heilige Schrifture, vervattende alle de canonieke boeke des ouden en des nieuwen Testaments.” Die woord Biblia dui daarop dat daar ’n hele aantal geskrifte in die Bybel te vinde is.

Die Bybel as Biblioteek🔗

Die Bybel is ’n klein versameling van boeke. Dan is dit mos ’n biblioteek? Daar is 66 geskrifte. In die vorige eeu is die gedagte dat die Bybel ’n biblioteek is, met groot entoesiasme aangegryp. Geleerdes sien die Bybel as ’n bundel geskrifte sonder onderlinge samehang. Elke Bybelskrywer gee sy eie geloofservaring weer. Die geloofservaringe verskil, omdat elke skrywer in ’n bepaalde tyd sy boek geskryf het. Sy kultuursituasie waarin hy geleef het, speel ’n belangrike rol. Daarom is daar soveel teenstrydighede in die Bybel. In verskillende tye word op verskillende maniere oor God gedink. Elke Bybelskrywer vertolk op sy manier, met sy kulturele agtergrond, sy gedagtes oor God. Ons kry op hierdie manier verskillende Godsbeskouinge. Die Bybelskrywers verskil ook onderling van mekaar. Jesaja stem nie ooreen met Amos nie, Paulus verskil van Jakobus. Dit is baie moeilik, ja, eintlik onmoontlik om op hierdie manier die Bybel te lees. ’n Voëlvlug oor die Bybel gee op hierdie manier ’n uiters verwarrende beeld van so ’n biblioteek.

Die Bybel as Boek🔗

Sal ons met vrug die Bybel persoonlik lees, dan moet ons begin met die gelowige erkenning dat die Bybel nie ’n biblioteek is nie, maar ’n boek. Dit is al veelseggend dat die woord Biblia (meervoud) in die loop van die geskiedenis verander is in die woord Bybel (enkelvoud). ’n Boek stry nie met homself nie. So is dit ook met die Bybel. Daar is in die Bybel ’n eenheidsgedagte. Deur middel van hierdie boek leer ons God ken. Hierdie boek is ’n boek van God oor God. God openbaar Homself in die Bybel. Hy deel ons in sy boek mee dat Hy die Outeur van die Bybel is (2 Tim 3:16). Deur middel van die Bybel leer ons God ken as Vader bo ons, as Seun met ons, as Heilige Gees in ons.

Oor lang tydperke van baie eeue het God hierdie boek deur middel van mense saamgestel (Heb 1:1; 2 Pet 1:20-21). Op baie maniere, in verskillende tye, deur uiteenlopende persone is hierdie boek saamgestel. Ons staan hier voor die wonder van die Bybel. Ondanks so ’n groot verskeidenheid vertoon hierdie boek ’n wonderlike eenheid. Die boek is opgedeel in twee Testamente. Hulle vorm ’n besondere samehang en eenheid. Die Nuwe Testament is in die Ou Testament verborge, en die Ou Testament kom in die Nuwe Testament tot volle openbaring.

Hoe Lees ons die Bybel?🔗

Ons kan ons Bybel lees soos die Skrifgeleerdes in Matthéüs 2. Hulle ken hulle Bybel. Hulle kan die vraag van die wyse manne met ’n teks uit die profeet Miga beantwoord (Matt 2:5). Maar die Woord bring hulle nie in beweging nie. Hulle stel nie belang in die inhoud van die teks nie. Hulle lees van die Bybel is sonder enige waarde. Die profeet Daniël wys vir ons hoe ons die Bybel moet lees. Sy Bybel was die profeet Jeremia. Daarin het hy gelees dat die Here Jerusalem weer gaan herbou. Daardie Bybelgedeelte het Daniël diep geruk. Wat doen hy? Hy buig sy knieë en roep met gebed en smeking die Here aan (Dan 9:3-19). Die lees van die Bybel van God bring hom tot gemeenskap met die God van die Bybel.

Daar is Verskillende Maniere om die Bybel te Lees🔗

In sy boek Knowing God skryf J.I. Packer dat jy die Bybel op twee maniere kan lees. Jy kan die Bybel lees as ’n toeskouer. Jy kyk maar net wat gaan aan. Jy laat die gebeurtenisse by jou verbygaan. Jy is nie innerlik betrokke nie. Maar jy kan die Bybel ook lees as ’n reisiger. Jy is op pad. Die Woord van God is ’n lig op jou pad en ’n lamp vir jou voet.

Die Vraag van Filippus🔗

In Handelinge 8 ontmoet ons ’n Bybelleser. Hy is op reis met ’n boekrol waarop die profesie van Jesaja geskryf is. Filippus vra vir daardie man: “Verstaan u wat u lees?” (Hand 8:30). Baie gelowige Bybellesers worstel ook met hierdie vraag. Hulle lees getrou hulle Bybel, maar baie dinge bly onduidelik. Die Bybelleser in Handelinge 8 besef dat hy iemand nodig het wat vir hom die geskrif uitlê. Ons het by die lees van die Bybel ook ’n Uitlegger nodig. Hy is beskikbaar. Die Heilige Gees is die Uitlegger by uitnemendheid (Joh 14:26; 16:13). Ons mag by die lees van die Bybel bid om die hulp van die Heilige Gees.

Die Opdrag van Jesus🔗

Ons Heiland het vir die Jode gesê: “Ondersoek die Skrif. Dit is juis die Skrif wat oor My getuig” (Joh 5:39). Die lees van die Bybel moet ons by Christus bring. Hy is mos die sentrum van die Bybel. Maar hoe kom ons by Hom uit? Hoe ervaar ons deur middel van die Bybel die gemeenskap met ons Verlosser? In die Bybel word die pad vir ons duidelik gewys. Daar is twee belangrike vereistes waaraan ons lees van die Bybel moet voldoen.

Gebed🔗

Om met vrug die Bybel as leesboek te gebruik, is die gebed absoluut noodsaaklik. Dit behoort ’n gebed te wees om die verligting van die Heilige Gees. Ons mag vra: “Here, open my oë, dat ek kan sien die wonders uit u wet” (Ps 119:18). Vir so ’n gebed is volgens die woorde van Jesus stilte en afsondering nodig (Matt 6:6).

Meditasie🔗

Saam met gebed is meditasie ook van die uiterste belang. Die agter­grond van die woord “mediteer” is die Ou-Testamentiese “oorpeins” of “oordenk” (Jos 1:8; Ps 1:2). In dieselfde boek wys J.L. Packer op ’n oefening wat by die lees van die Bybel van die allergrootste belang is, maar wat helaas verlore gegaan het: die oordenking van wat ons gelees het. Die digter van Psalm 1 beoefen daardie praktyk. Packer wys op meditasie. Hy noem dit ’n “aktiwiteit van heilige gedagtes, bewustelik gevorm in die teenwoordigheid van God, onder sy alsiende oog”.

Dit is ’n terrein waarop die Heilige Gees op ’n besondere manier werksaam is. Wat ons gelees het, is werd om ons biddend daaroor te besin, sodat ons God meer leer ken en liefhê en dien. Ons vaders het dit vroeër genoem “indagtigmakende genade”.

Wanneer ons op hierdie wyse die Bybel as ons leesboek gebruik, sal ons deur die werking van die Heilige Gees die onnaspeurlike rykdom van Christus dieper en ryker verstaan (Ef.3:8).