Bron: Kerk en Woord, 2004. 4 bladsye.

Die Enigste Ware God is die Drie-Enige God HK Sondag 8, Johannes 3:1-21

Geloof is absoluut noodsaaklik vir die saligheid. Dit is iets moeiliks, want geloof is nie 'n teenprestasie wat God as 'n voor­waarde vir die saligheid eis nie, en terself­dertyd kan mens ook nie daarsonder salig word nie, want daar is geen ander manier as deur te glo dat die mens die saligheid in ontvangs kan neem nie.

Jou geloof bestaan daaruit dat jy God ernstig neem. 'n Mens kan dus ook nie jou geloof losmaak van gehoorsaamheid nie. Ons moet glo dat God is… en ons word deur Hom geroep tot geloofsgehoorsaamheid. Maar dan moet ons weet WIE hierdie God is. Dit is belangrik, want daar is allerhande idees van wie God is. As jy die meeste mense hier in Suid-­Afrika sou vra of hulle glo dat daar 'n God is, sal hulle ja antwoord. Maar vra dan net die volgende vraag… Wat bedoel jy met die antwoord dat daar 'n God is? En jy sal allerlei soorte antwoorde kry.

Daarom is dit belangrik om Sondag 8 van die HK te bely: Om reguit en presies te sê wie die God is in wie ons moet glo om gered te word. Ons bely dat die enig­ste God van Hemel en aarde die Drie-enige God is.

Moderne Konsepte van God🔗

Dit lyk asof die media verskillende kon­septe van God ken. Die eerste konsep is gegrond in die evolusiegedagte. Stadig maar seker het hierdie die aanvaarde manier geword waarop verskeie kulture in ons land oor God dink. Dit is dat namate die mens se wetenskaplike gedagtes oor die ontstaan van alle dinge groei, en soos wat die mens uit die doolhof van kulture na 'n universele beskawing toe beweeg, so kry die Godheid ook 'n al hoe nuwer gedaante.

Dit is dan maar net 'n soort oer-energie wat die oorsprong van alle materie en lewe is wat met die loop van tyd 'n naam gekry het. Die Egiptenare het hom Ra genoem, die Kananiete het hierdie natuurkrag Baäl genoem. Die kinders van Israel het Hom Jahwe genoem. Die Grieke reflekteer misteriegodsdienste met Zeus as hoofgod. Die Indiane van Noord Amerika het Hom die Groot Gees genoem, en onder ons eie Afrika-kulture het Hy bekend gestaan as Modimo, of Fidi Mukullu (Zaire) of Ngai onder die Keniane. Die Hindus praat van die God­delike Bestaanswese in die wette van Manu…

En om hierdie oorspronklike skeppings­energie wat hulle God noem, tevrede te hou, het die verskillende kulture verskil­lende offers, liturgieë, feeste en danse ontwerp.

Vandag word al hierdie godsdiensele­mente saamgeweef om by 'n soort har­monie uit te kom. Dit is die teologie oor die evolusie van die Godheid.

Uit hierdie lyn van denke vloei dan 'n aantal afleidings logies voort. Almal sou dan dieselfde god aanbid, of hulle dit weet of nie. Hierdie god is dan nie die Almagtige Skepper wat Homself uit die hemele in die Bybel geopenbaar het nie, maar Hy is dan die gekombineerde ener­gie wat die mense in die wêreld rondom hulle waarneem en allerlei verskillende name daaraan gee.

Hierdie god is dan ook nie werklik in die sin dat Hy werklik bestaan nie, omdat die wetenskap vandag eintlik al die ver­skynsels kan verklaar wat voorheen net met godsdiens verklaar kon word. Maar hierdie god is alleen werklik insover hy/sy in die gedagtes van die mense lewe, en die mense het allerlei maniere van aanbidding ontwerp waarop hulle hul verstaan van hierdie groot energie aanbid, maniere wat ook ander mense dan moet respekteer.

Daar bestaan volgens hierdie siening nie meer 'n absolute regte of 'n verkeerde manier om hierdie energie, hierdie god­heid te aanbid nie. Die mense wat in die woestyn leef, kan dit dan anders doen as die mense in die townships… en dit is ook maar reg so, want die mense ervaar god verskillend.

So moet ons dan mekaar se tradisies res­pekteer en ons het nie die reg om mekaar se godsdienste of teologieë te kritiseer nie. Pleks van kritiseer, moet ons eerder konsentreer op die praktyke wat ons met mekaar in gemeen het, dus wat ons aan mekaar verbind; en die verskille moet ons respekteer.

Vra dan nou die gemiddelde Suid-Afri­kaner of hy/sy in God glo, en die meeste van hulle sal ja sê. Maar vra net om bietjie meer detail en jy sal die gemiddelde evolusionêre snert hoor wat ons daagliks in die dagblaaie lees.

Die Drie-Eenheid🔗

Ons bely uit Gods Woord dat Hy een God is, onderskei in drie Persone. Die enige Ware God openbaar Homself aan ons as die Vader, die Seun en die Heilige Gees.

Johannes 3 vertel van Nikodemus wat in die nag na Jesus toe gekom het met 'n groot kompliment. Rabbi, sê hy, ons weet dat u 'n leraar is wat van God kom, want niemand kan hierdie tekens doen tensy God met hom is nie (vs 2).

Dit was baie mooi wat Nikodemus gesê het, en daar is ook geen twyfel dat dit meesterlik beplan was om Jesus op die regte manier te tref nie. Maar Jesus kon nie van sy hemelse sending afgetrek word met so 'n kompliment nie. Jesus het onmiddellik die onafwendbare ver­eistes vir die saligheid aan Nikodemus voorgelê:

Jesus antwoord en sê vir hom: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.Johannes 3:3

En omdat hierdie opmerking vir Niko­demus vreemd geklink het, het Jesus hierop uitgebrei (vs 5):

Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie.

Wat belangrik is, is dat hierdie vers die eerste is van 'n reeks tekste in die Evan­gelie van Johannes waar die drie Persone van die Godheid saam in een sin genoem word: Kyk weer daarna:

  1. "Ek sê vir jou": Hierdie EK is Jesus in Persoon, die Een wat vroeër in die Evangelie beskryf is as die Woord wat van die begin af by God was en wat self God is en wat vlees geword het en onder ons kom woon het, die Enig­geborene van die Vader (Johannes 1:1-14).

  2. Jesus praat van die Gees: En dit is die Heilige Gees deur wie se krag 'n mens wedergebore moet word. Hier noem Hy dus die Persoon van die Heilige Gees.

  3. Jesus sê dat iemand deur die Gees weergebore moet word om in die koninkryk van God te kan ingaan: Daar hoor ons die derde Persoon: God, die een aan wie die koninkryk behoort wat Jesus aankondig. En ons besef dat Jesus van God as sy Vader praat.

Dit is dus die Vader, die Seun en die Heilige Gees. Jesus noem al drie in dieselfde asem wanneer Hy aan Nikode­mus verkondig dat iemand weer (of ook) van bo af gebore moet word.

In die verse wat op vers 5 volg, verdui­delik Jesus ter wille van Nikodemus wat Hy in vers 5 gesê het. Dan ontvou Jesus hoedat die drie Persone van die een God­heid saamwerk om saligheid vir die sondaar te bewerk. Hy verkondig eerste die werk van die Heilige Gees (vs 6-10). Die wedergeboorte is nie 'n saak waar iemand weer in die moederskoot moet teruggaan nie, maar dit is 'n geestelike wonderdaad wat die Heilige Gees in ons werk. In vs 10 sê Jesus Hy verwag dat Nikodemus, die leraar van Israel, hierdie dinge moes geweet het.

Want hierdie wonderbare werk van die Heilige Gees is reeds voluit in die Ou Testament geleer, byvoorbeeld in Esegiël 11 waar die HERE belowe om sy volk 'n nuwe hart en 'n nuwe gees te gee: Hy sal die hart van klip verwyder en hulle 'n hart van vlees gee sodat hulle in sy verordeninge kan wandel (vs 19 en ook 36:25).

Sondaars word so ingrypend verander dat hul verandering neerkom op 'n her­geboorte, 'n nuwe lewensbegin. En dit is die werk van die Heilige Gees (vgl. DL hfst. 3 en 4:11-12).

Dit was hierdie materie wat vir Niko­demus en sy kollega-leraars in Jerusalem platgeslaan het: Hoe kan hierdie dinge gebeur? vra hy.

Dan antwoord Jesus weer vanaf vers 11: Ek sê vir jou, ons spreek wat ons weet en ons getuig van wat ons gesien het, en julle neem ons getuienis nie aan nie.

Let op die meervoud – ONS spreek wat ONS weet, ens.

Na wie verwys Jesus dan as Hy van ONS getuienis praat? Hy verduidelik dit in vs 13: Niemand het opgevaar in die hemel nie, behalwe Hy wat uit die hemel neergedaal het, naamlik die Seun van die mens wat in die hemel is.

En hoe het dit gebeur? Vs 16 -17 sê presies hoe dit gebeur het. So lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.

Johannes 3:17 Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word.

Hierdie eniggebore Seun is Jesus self wat presies akkuraat van die dinge kom getuig wat Hy in die hemele gesien het. Dit is die rede waarom Hy in vs 11 in die meervoud praat van ONS getuienis.

So getuig Jesus in hierdie hele hoofstuk hoedat die enige ware God, Vader, en Seun en Heilige Gees, in die verlossing van sondaarmense werksaam is.

Wedergeboorte🔗

Maar voordat ons die Joodse geleerdes van hardhorendheid beskuldig, moet ons onsself afvra of ons enigsins wyser as hulle is op hierdie punt. Jesus leer in Johannes 3 ook vir ons geestelike dinge. Hoe belangrik dit ook vir ons en ons kinders en vir alle mense van alle eeue is om wedergebore te wees. Natuurlik moet ons mooi kyk. Wedergeboorte staan hier nie as 'n bevel nie. Dit staan in die passiewe taalkunde. Dit is iets wat God met ons, aan ons, in ons doen.

Jesus leer ons die geloofsweg binne die koninkryk van God. En dit is belangrik, want Nikodemus en ons almal moet weet wat dit alles gaan neem om ons verlos te kry. Die Seun van die mens sal opgelig word op 'n houtpaal, net soos Moses die koperslang in die woestyn opgelig het as 'n voorteken.

Nikodemus wat 'n verfynde wetgeleerde was, kon hierdie beeld goed begryp. Die volk is destyds met 'n plaag van giftige slange getref wat God gestuur het. En die koperslang is in die woestyn op 'n paal opgelig as 'n teken en daad waardeur die Israeliete genesing ontvang het as hulle gelowig daarna kyk.

Nou trek Jesus die sluier voor Niko­demus se oë weg… daardie teken het hierdie Drie-enige God eeue tevore met beplande bedoeling uit die hemel aan die Israeliete gegee; en hier is Jesus nou om daardie verlossingsplan uit te voer. Net so sal Jesus ook opgelig, gekruisig word, sodat elke sondaar wat na Hom opkyk en in Hom glo, van sy sondes verlos kan word.

So is die Vader, die Seun en die Heilige Gees in een goddelike werking verweef in die saligmaking. Dit vereis en sluit in dat mens wedergebore moet wees. Dus: as 'n mens die Heilige Gees as Persoon uitskakel, kan jy nie die koninkryk bin­negaan nie.

Net so moet ons ook kyk na en glo in die gekruisigde Seun van die mens vir die vergewing van sondes. As mens die Seun uitskakel, is daar geen vergewing van sondes nie. En derdens sluit die weg van die verlossing in dat ons die werk van die Vader erken as die Een wat deur die Seun tot ons gekom het, wat sy Seun na ons toe gestuur het om die ewige lewe te beërwe. Skakel die Vader uit en daar is geen toegang na die koninkryk van God nie. Vader, Seun en Heilige Gees – elkeen het sy eie besondere unieke werking en aandeel in ons saligheid. Ontken net en jy het die hele saligheid vanself verloor. Dit is die las wat Jesus op Nikodemus, die leermeester van Israel, geplaas het.

Nou kan jy ook die fout maak wat ons vandag nog by die Mormone kry, om te argumenteer dat ons dus met drie per­sone te doen het sodat dit nie noodwendig beteken dat hierdie drie die EEN God is nie. Mens kan hulle as drie afsonderlike WESENS sien wat nou saamwerk met mekaar.

Maar daar is verskeie skrifgedeeltes wat geen ruimte daaraan gee nie. Byvoor­beeld: "Laat ons mense maak na ons beeld en ons gelykenis." Of ook Jesus se lering: "Ek en die Vader is Een." Of Johannes se waarskuwing: "Wie nie die Seun het nie, het ook nie die Vader nie."

Die Seun was by die Vader in die heer­likheid van die hemel van ewigheid af, nie as 'n vreemdeling vir die Vader nie, of selfs maar net 'n vriend nie, maar Hy was in die boesem van die Vader (Johannes 1:18). Hy het sy Vader aan ons kom ver­klaar. Die eniggeborene van die Vader. Die Vader verklaar dit ook: Dit is my geliefde Seun in wie Ek 'n welbehae het.

Unieke Drie-Eenheid🔗

Dit is hierdie eenheid van die Vader en die Seun wat die evangelie van verlos­sing so groot maak, want dink dan net vir een oomblik hoe lief die Vader ons werklik het as Hy verklaar dat Hy ons so lief gehad het dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. Dat hierdie Seun uit die boesem van die Vader ontruk is na die smarte en angste van die hel, van bange Godverlatenheid, vertel ons van die liefde wat God het vir die wat Hy tot die ewige lewe uitverkies het. En die leer van die Drie-eenheid maak aan ons hierdie identiteit van die God van die Bybel, die enige ware God, die lewende God, bekend.

Ons het dus nie gemeenskap met 'n veraf onbetrokke godheid soos die Allah van die Moslems wat geen liefde ken nie. Ons het ook nie saam met alle mense gemeenskap aan die een of ander groot onbekende energiebron, elkeen op sy eie manier, eie name, eie rituele nie.

So 'n god is nie werklik nie en het geen liefde nie. Ons samelewing het 'n gewel­dige probleem met egte liefde, om jouself te ontledig tot die voordeel van iemand anders. Ons samelewing vlug dan na allerlei alternatiewe soos aborsie, gena­dedood, dronkenskap, dwelmmisbruik, meditasie en allerlei brood en spele om onsself gelukkig en voorspoedig te hou. Maar die volmaakte liefde van die Drie-enige God en sy verlossing vir sondaars is totaal anders. Dit is nie selfliefde nie, maar selfontlediging wat vrug is van die wedergeboorte.

Waar gaan die samelewing leer wat liefde, geregtigheid, genade, heiligheid en godsdiens werklik is? Dit is slegs moontlik by hulle wat die identiteit van God ken. Van hulle wat sy egte verge­wende liefde, plaasvervangende strafbe­taling, gesmaak het.

Alleen hulle wat gesien en ondervind het hoedat God sy liefde vir ons onwaardige sondaars betoon het, dat die Drie-enige God Homself vir ons ontboesem het, dat sy Seun Homself vir ons onthalwe ontle­dig het. Dat sy Gees in ons kom woning maak het, en ons opnuut lewend gemaak het, nuwe harte gegee het. Ja sodat ons weer beeld en gelykenis van hierdie ware God kan wees; gelowiges wat God se liefde uitdra in die wêreld… getuies, mense wat die God van hemel en aarde ken, die Vader, die Seun en die Heilige Gees.