1 bladsye. Vertaal deur Nic Grobler.

Die Laaste Dae

Die Skrif praat dikwels van die laaste dag of dae en van die laaste tyd (Gen. 49:1; Jes. 2:2; Miga 4:1; Joh. 6:39; Hand. 2:17; 2 Tim. 3:1 Heb. 1:2; Jak. 5:3; 1 Pet. 1:5; 1 Joh. 2:18; Judas 18). Dit praat ook van die einde van die eeue en van die voleinding van die wêreld (Matt. 13:39, 40; 1 Kor. 10:11; 15:24; 1 Pet. 4:7; Openb. 2:26).

Wanneer is hierdie laaste dae — hierdie laaste tyd? Is hulle naby, of vêr in die toekoms? Het hulle vir ons vandag enige betekenis? Wat beteken dit dat die wêreld sal eindig? Hierdie is die vrae wat beantwoord moet word.

Die Skrif is duidelik dat die hele Nuwe Testamentiese tyd die laaste tyd, die einde, is. Ons sien dit in 1 Korinthiërs 10:11 waar Paulus sy leer aan die Korintiese gelowiges en aan ons bekragtig deur te sê dat die einde van die eeue op ons gekom het. Net so sê Hebreërs 9:26 dat Christus in die voleinding van die eeue verskyn om die sonde deur sy offer weg te doen (lees ook Heb. 1:2; 1 Pet. 1:5, 20; 1 Pet. 4:7; 1 Joh. 2:18).

Hoewel dit nie onbybels is om na die tweede koms van Christus as die “einde” (Mark. 13:7) en na die dae wat sy koms onmiddellik voorafgaan (2 Tim. 3:1) as die laaste dae te verwys nie, is dit nie ʼn afsonderlike en aparte tyd nie, maar deel van die Nuwe Testamentiese tyd. Die tyd waarin ons lewe, hierdie “dag”, is die laaste. Daar moet niks anders as die nuwe skepping, die nuwe hemel en die nuwe aarde, nog volg nie.

As vandag reeds die einde van die tye is, is dit vir ons moeilik om te glo, soos sommige wil beweer, dat die wêreld nog duisende jare sal bestaan voordat die Here weer kom. Sal die einde dan langer wees as die begin, langer as die hele voorafgaande geskiedenis? Dit sou inderdaad ʼn vreemde einde wees.

Die Skrif beskou ons dae as die eindtyd en die einde, omdat Christus gou sal kom en omdat dit die tyd is waarin God sy werk sal “volbring” en dit “verkort…in geregtigheid” (Rom. 9:28). Dié twee dinge hou verband. Christus se spoedige koms moet nie soseer gemeet word in getalle van jare nie; maar lê veeleerder dáárin dat God sy werk volbring en Christus sal stuur sodra daardie werk volkome volvoer is.

Die waarheid dat die hele teenswoordige tyd die eindtyd is, is van groot betekenis in die praktyk. Dit beteken dat ons almal in die eindtyd lewe en tot ʼn mate die gebeure van die eindtyd belewe (Matt. 24:34); dat ons almal in afwagting van die einde moet lewe en nie asof die vêr in die toekoms, sonder onmiddellike betekenis vir ons is nie (1 Kor. 10:11); en dat ons hoop moet wees in die dinge wat kom, en nie in die dinge van hierdie wêreld, wat besig is om tot ʼn einde te kom, nie.

Hoe vreeslik, maar tog wonderlik, is dit nie om te weet dat ons in die eindtyd lewe nie. Ons staan as ‘t ware binne sig van die laaste oordeel en die koms van ons Heiland. Predikante ken die vrees van die Here wanneer hulle preek (2 Kor. 5:11). Ons almal lewe soos pelgrims en vreemdelinge, wel wetend dat ons reis byna op ʼn einde is en dat die ewige stad binnekort in sig sal wees. Ons erken dat ons in gevaarlike tye leef. Ons weet dat die einde aanstaande is, maar ons is nie bang nie, want ons sien ons verlossing nader.