Bron: Kompas. 3 bladsye.

Die Probleem van die Afwesige Vader

Vader word is ’n guns, vader wees is ’n kuns.

Dit is ’n ou waarheid wat vandag nog net so aktueel is. Miskien het vader wees selfs moeiliker geword as voorheen, want ons mans leef in ’n veeleisende samelewing. Baie mans se programme is so vol dat hulle nie genoeg tyd het om hul vader wees te beoefen nie. Ons sit derhalwe met die probleem van ‘die afwesige vader’.

Vooraf net die volgende: Ons praat in hierdie artikel nie van die mans wat vanweë werksomstandighede vir lang periodes nie by hulle gesin kan wees nie. Ongelukkig gebeur dit soms dat ’n man noodgedwonge ’n werk moet aanvaar wat tot gevolg het dat hy weke lank nie by sy gesin kan wees nie. Hierdie situasie plaas dikwels ’n groot las op die vrou wat allerlei verantwoordelikhede alleen moet dra.

In hierdie artikel fokus ons egter op die mans wat wel die voorreg het om elke aand by die huis te kan kom, maar wat dit tog baie moeilik vind om werklik goeie aandag aan hulle gesin te gee en hulle vaderrol te vervul. Daar is baie mans wat wel elke aand by die huis slaap, maar wat tog vir alle praktiese doeleindes ‘afwesige vaders’ is.

Die belangrikste oorsaak vir hierdie probleem is ongetwyfeld die veranderings in die samelewing. As ’n mens die samelewing van vandag vergelyk met die een van honderd jaar gelede, is daar duidelike verskille. ’n Honderd jaar gelede was die samelewing so dat pa’s gewoonlik baie meer tyd met hulle kinders kon deurbring as wat vandag die geval is. Die gesin het byvoorbeeld op ’n plaas gebly, die seuns het saam met pa op die lande gewerk, en die dogters het ma in die kombuis gehelp. Of die pa het miskien ’n ambag beoefen of ’n winkel gehad, en die kinders moes inspring en help. Dikwels het ’n man sy werk rondom of naby die huis gedoen, en die kinders het onder die oog van hulle vaders opgegroei. Daar was baie geleenthede dat die vaders kon deelneem aan die opvoeding van die kinders. Hierdie tipe saamleef van pa’s en kinders sal jy vandag nie maklik meer kry nie. Die meeste mans werk nie meer by die huis nie. Hulle ry die oggend vroeg werk toe en hulle kom eers die middag laat by die huis. Teen daardie tyd is pa moeg, wil hy afskakel en nie deur lastige kinders gepla word nie.

Naweek-Pa’s🔗

Die gevolg is dat die rol van die man by die opvoeding van sy kinders geweldig afgeneem het. Die opvoeding word tot ’n groot mate deur die moeders gedoen. Baie mans is naweek-pa’s: Maandag tot Vrydag het hulle nie tyd om saam met die gesin te spandeer nie – hulle kom eers Saterdag en Sondag by hulle gesin uit, en sommiges word dan nog in beslag geneem deur ander take in ‘kerk en koninkryk’.

Ons moet ook in gedagte hou dat die druk op mans deesdae baie groot is. As jy wil vordering maak by die werk, as jy wil bybly met die ontwikkelings, sal jy kliphard moet werk. As jy verby die 40 is, is jou kanse op die arbeidsmark verby, so sê die algemene volkswysheid. Daar is ’n algemene geloof dat mans suksesvol en dinamies moet wees. Dit veroorsaak dat jong mans hard werk en kursusse volg om hulle posisie te verbeter en veilig te stel. Die gevolg is dat baie jong mans so baie tyd en energie insit by die werk, dat hulle hul gesin verwaarloos. Dit is ironies dat hulle dit dikwels doen met die gedagte “ek doen dit vir my gesin”, terwyl die realiteit is dat die gesin daaronder ly.

Daar kan nog ’n tweede oorsaak vir die probleem van ‘die afwesige vader’ wees, en hierdie oorsaak sit in die man self. Partykeer is ’n man so daarop gerig om ’n sukses van sy werk te maak, dat dit vir hom amper ’n verslawing word. As daar dan ’n geleentheid is om tyd saam met die gesin deur te bring, is hy nie eers lus daarvoor nie en sou hy liewer nog aangaan met sy werk.

Soms kan ’n mens hierdie verskynsel in ’n ander vorm waarneem. Dit gebeur soms dat pa saam met vrou en kinders by die tafel sit, maar dat sy gedagtes nog by die werk is. Soms vat ’n man sy werk ‘huis toe’ en kan hy in sy gedagtes nie loskom daarvan nie. Terwyl ma en kinders oor skool en sport en allerhande dinge gesels, sit pa met wasige oë daarby sonder om werklik sosiaal deel te neem. Hierdie probleem kan die gevolg wees van ’n groot werkslading of van spanninge wat dreig om te veel te word. Maar dit kan ook die gevolg wees van ’n selfgesentreerdheid waarmee daar gebreek moet word.

Verantwoordelikheid🔗

Hoe kan die probleem van ‘die afwesige vader’ bestry word? Ons moet maar begin by die begin, naamlik die verantwoordelikheid wat mans ontvang het as hulle vaders is.

As die Here ’n huwelik seën met kinders, het man en vrou saam ’n opvoedingstaak. Die formulier vir die bevestiging van die huwelik omskryf die tweede doel van die huwelik só: dat man en vrou “… hulle kinders, indien die Here hulle daarmee wil seën, in die ware kennis en vrees van God opvoed tot sy eer en tot hulle saligheid”. Die opdrag is ’n gesamentlike opdrag.

Natuurlik is daar aksentverskille. Die moeder is veral betrokke by die versorging en vertroosting van die kinders in hul jongste jare. In Psalm 131:2 verwys Dawid na die rus wat ’n gespeende kind by sy moeder ervaar en hoe ’n kind se siel by sy moeder tot bedaring kom. Die vader kan ook sy kinders troos en hom oor hulle ontferm (Psalm 103:13), maar sy rol is tog veral dié van gesinshoof. Hy oefen vaderlike gesag uit deur middel van tug, en hy dra die godsdienstige en kulturele erfenis aan sy kinders oor. Psalm 78 praat van die vaders wat aan hulle kinders “vertel die roemryke dade van die Here en sy mag en sy wonders wat Hy gedoen het” (78:3). Die doel daarvan is dat die kinders “hulle vertroue op God kan stel en die dade van God nie vergeet nie, maar sy gebooie kan bewaar” (78:7).

Vaders is ook belangrik as voorbeelde. Deur die onderrig maar ook deur die praktiese lewe wat ’n pa voor sy kinders se oë uitleef, dra hy ’n lewensbeskouing aan sy kinders oor.

Baie van hierdie aspekte kan ook deur die moeder oorgedra word, en sy kan ook net soos die moeder van Lemuël haar kinders onderrig (Spreuke 31). Maar die Here het tog in sy wysheid bepaal dat die man en die vrou saam die kinders sal opvoed. Beide die man en die vrou se spesifieke gawes en geaardhede is belangrik in die proses van kinders vorm en grootmaak. Daarom is dit belangrik dat die man ook sy kant bring by die opvoeding van die kinders.

Selfondersoek🔗

’n Volgende aspek wat ons wil noem is dat ’n man soms homself moet ondersoek en, as dit nodig is, bereid moet wees om met verkeerde gewoontes en houdings te breek. Ons het hierbo verwys na die probleem dat ’n mens aan jou werk verslaaf kan wees. Soms moet ’n mens jou gewete ondersoek en vra of daar nie dalk ’n mate van selfsugtigheid ’n rol speel nie.

’n Mens se werk kan jou afgod word. Dit kan wees dat die status wat jou werk aan jou gee, of die suksesse wat jy in besigheid behaal, so belangrik vir jou word dat jy daaraan verslaaf raak; dat dit die belangrikste doel in jou lewe word om daardie status te behou of dalk te verhoog. Intussen ly die gesin skade.

Ek onthou hoedat ek eens, as ’n student, met eerbied en verwondering gelees het van die wonderlike prediking en pastorale bewoënheid van ’n bekende predikant. Die man was geliefd tot ver buite die grense van sy eie gemeente. Dit was eers later dat ek ontdek het dat hy sy familie opgeoffer het op die altaar van … sy roeping? Of was dit ego-bevrediging?

Daar is egter ook baie mans wat probeer om alle verantwoordelikhede wat vir hulle gegee word, na te kom. Die omstandighede by die werk kan so wees, dat daar net eenvoudig ’n enorme werksdruk is.

Dan kan daar nog take in die kerk wees wat baie energie vra. Miskien is jy ampsdraer of lid van ’n kommissie. Dit kan baie moeilik raak om die balans tussen al die verantwoordelikhede te handhaaf en om dan ook nog genoeg aandag aan jou gesin te gee. Neem bv. die mediese dokter wat beplan het om ’n Sondagaand by sy gesin te wees, maar dan word hy deur iemand gebel met ’n dringende versoek om hulp. Of neem die broeder ouderling wat ’n slag lekker met vrou en kinders wil kuier, maar dan bel die predikant en vra of hy nie asseblief gou-gou by suster X ’n draai wil maak nie. Wat moet hy doen? Wat ook al sy keuse is, hy sal een van twee partye moet teleurstel, of sy gesin, of die persoon wat hulp gevra het.

’n Mens kan nie alles in die lewe doen nie. Ons werk almal met dieselfde 168 uur per week en ons moet die beskikbare tyd verdeel tussen die verantwoordelikhede wat die Here vir ons gegee het. Niemand kan sy lewe so beplan dat alle verantwoordelikhede mooi netjies die aandag kry wat hulle benodig nie. Daarvoor is daar te veel onaangename verrassings in die lewe. Maar dit is wel belangrik om partykeer te gaan sit en evalueer. Het ek as vader gereeld ’n aand beskikbaar wat ek met my vrou en kinders kan deurbring? Kom ek daarby uit om met my kinders te praat oor allerhande sake van die lewe? Kan ek darem op ’n redelik gereelde basis by die huis leiding gee in die godsdiensoefening? As die antwoord op hierdie vrae negatief is, is dit dalk tyd om ’n verandering of twee aan te bring.

Waar ons kan en waar die omstandighede dit toelaat, moet elke man wat ’n gesin ontvang het hom beywer om vir sy vrou en kinders daar te wees.

Die kerk en die nasie word deur aanwesige vaders gebou!