Bron: Die Kerkblad, 2006. 3 bladsye.

Die Puriteine: Van Skeldnaam tot Erenaam

kerk

Sommige Protestante in Engeland het vanaf 1564 in verset gekom teen die Anglikaanse kerk. Hulle wou ’n suiwere kerk (pure church) en ’n suiwere leer en lewe (pure doctrine and life) hê. Hulle denkrigting is aangedui as Puritanisme (van puritas, suiwerheid). Hierdie verskynsel is nie tot die Protestantisme beperk nie. Ons kry die Puritanisme by verskillende godsdienste. Ons vind dit by die Islam en by die Jodedom.

In Engeland en Skotland is die Puriteine in die begin van hulle optrede met veragting bejeën. Hulle word Puritans, Puriteine genoem. Mense met ’n suiwerheidskompleks. Die Puritanisme is in teaters en op straat openlik bespot. Aartsbiskop William Laud, ’n felle bestryder van die Puriteine, het op die preekstoel geklim om naas die Book of Common Prayer ’n sogenaamde Book of Sports waarin sabbatsontheiliging gepropageer word, openlik aan te beveel. Vervolging, gevangenskap was veral in die beginperiode die lot van baie Puriteine. Tog het die woord Puritein later ’n eretitel geword. Vanweë hulle erns met godsdiens, hulle teologie, hulle nougesette lewenswandel en hulle optrede op maatskaplike, sosiale en politieke gebied is die Engelse en Skotse Puriteine in die loop van die geskiedenis met meer eerbied en ontsag behandel.

Puritanisme as Versetsbeweging🔗

By name in Engeland, waar ons die oorsprong van Puritanisme vind, sien ons dat die Puriteine hulle nie kon verenig met die planne van koningin Elisabeth (1558-1603) nie. Sy wou die kerk van die Reformasie “hervorm” in ’n meer episkopale rigting. As hoof van die kerk het Elisabeth diktatoriale gesag oor die kerk uitgeoefen. Die kerkregering is opgedra aan biskoppe en aartsdekens wat deur die hoof van die kerk benoem is. ’n Hele reeks van tradisies uit die Rooms-Katolieke Kerk is behou, wat onder andere tot uitdrukking gekom het in allerlei liturgiese gebruike soos kleding, altaar, kniel by die nagmaal en dergelike. Daarby was die geestelike gehalte van die Anglikaanse kerkleiers ver benede Bybelse norme gewees. Dit alles het by getroue, toegewyde Christene weerstand opgeroep. So het langsamerhand die Puriteinse beweging ontstaan.

Historiese Ooreenkomste🔗

Om na te gaan wat die Puritanisme presies omhels, is dit belangrik om na enkele parallelle in die geskiedenis van die Protestantisme te kyk. Die Puritanisme vertoon merkwaardige ooreenkomste met die Piëtisme in Duitsland en die Nadere Reformasie in Nederland. By vele punte van ooreenkoms is daar ook duidelike verskille. Die Engelse Puritanisme is ’n tipiese verskynsel binne die Anglikaanse wêreld. Hierdie Puritanisme vertoon verskillende fases:

Die eerste fase was liturgies van karakter. Daar het verset gekom teen die wyse van kerkregering en die voorgeskrewe liturgiese veranderinge. Die teoloog wat hier leiding gegee het, was die bekende John Hooper (1500-1555). Hy word beskou as een van die “vaders” van die Puritanisme.

In ’n volgende fase is hulle nie meer tevrede met alleen maar ’n suiwere kultus nie. Hulle besef dat die lewe van die Christene onder die tuig van die Woord van God gebring moet word. Die Puriteine het steeds meer ingesien dat hervorming van die liturgie en kerkregering wel noodsaaklik, maar nie voldoende is nie. Hulle het steeds duideliker ingesien dat vernuwing van die hart noodsaaklik is, want dit alleen sal lei tot hervorming van gesin en kerk. Daar moet selfs ’n suiwering, ’n vernuwing van die volkslewe kom. Teoloë wat hier prominent na vore gekom het, was William Perkins (1558-1602) en Guillelmus Amesius (1576-1633).

Puriteinse dorp

Dan volg ’n derde fase waar die klem val op konsolidasie. Die drie kernpunte van Puritanisme word deur Puriteinse predikers en skrywers van alle kante belig. Hulle herhaal in eindelose variasies dat hulle ywer vir:

  • die praktyk van godsaligheid

  • ’n gesonde teologie en

  • ’n kerklike lewe volgens die Woord van God

Manne wat hier sterk leiding gegee het, was Thomas Cartwright (1535-1603) en John Owen (1616-1683).

Nou is Puritanisme ’n wye begrip. Die bekende Bunyan is ’n Puritein genoem. Spurgeon is onder hierdie groep gerangskik en die bekende dr. Martin Lloyd-Jones is in die vorige eeu die laaste Puriteinse prediker genoem.

Ongetwyfeld mag ons hulle as verteenwoordigend van die beweging van die Puritanisme beskou.

Aktualiteit🔗

Daar het in die loop van die geskiedenis ’n stroom van literatuur oor die Puriteine verskyn. In die vorige twee eeue het die gereformeerdes in Nederland min belangstelling vir die Puriteine gehad. Na my wete het slegs een teoloog, prof. J Ridderbos, die vader van H.N. Ridderbos, ’n proefskrif aan die Puriteine gewy. Maar hy het veral gekonsentreer op die Amerikaanse sytak van die Puritanisme. Die laaste tyd het die belangstelling vir die Puriteine toegeneem. Die hernude belangstelling hang saam met die neiging in kultuur, kerk en teologie. Die vraag na ervaring is lewendig.

Die Teologie van die Puritanisme🔗

Die leer van die Puriteine is ’n vrug van ’n suiwer reformatoriese bodem. Hulle teologie is ontwikkel in die na-Reformatoriese tyd. Kenmerkend is wel dat die meeste Puriteinse teoloë in die hantering van hulle teologie gebruik gemaak het van die skolastiek. Dit hoef ons nie te verbaas nie, want al spoedig sien ons binne die Reformasie ’n terugkeer na die skolastiese metode van teologie-beoefening.

Die Puriteine het hoë waardering gehad vir die akademiese wetenskap. Baie Puriteinse teoloë was manne van besondere wetenskaplike gehalte. Byvoorbeeld John Owen (1616-1683), Richard Baxter (1615-1691), Samuel Rutherford (1600-1661). Hulle het ernstig gewaak teen eensydige, verstandelike geleerdheid sonder ware godsvrug. Wetenskap en vroomheid moet saamgaan.

In navolging van die Reformasie was hulle teologie ’n teologie van die Woord. Daarby het hulle besondere aandag gegee aan die verhouding tussen Woord en Gees.

Wel vind ons langsamerhand by die latere Puriteine ’n verskuiwing van die leer na die lewe. Daar word sterk klem gelê op die oefening in die vroomheid. Onder die oorstelpende hoeveelheid literatuur is daar een boekie wat besonder kenmerkend is vir die Puriteinse vroomheid en baie aandag gekry het: The cloud of unknowing. Die onbekende skrywer vertel aan sy lesers dat God nie geken kan word langs die weg van die verstand nie, maar alleen deur ’n hartlike liefde.

Puriteinse Patrone🔗

Die Engelse Puritanisme word in sy algemeenheid gekenmerk deur bepaalde patrone. In die eerste plek was hulle teologie pneumatologies van karakter. Die inwoning van die Heilige Gees was dan ook ’n geliefkoosde onderwerp. Onderwerpe soos die wedergeboorte, die vereniging met Christus, heiligmaking, geloofsekerheid en verseëling met die Heilige Gees is uitvoerig behandel.

In die tweede plek was die kennis van God en die kennis van die mens ’n grondoortuiging by die Puriteine. Die kennis van die mens is breed en diep bestudeer. Die mens moet tot die besef gebring word dat hy buite Christus verlore is. Die wet in sy aanklaende funksie moet die mens bring tot kennis van sy ellende. Hiermee gaan saam die beklemtoning van die noodsaaklikheid van selfondersoek. Die saak van selfondersoek was dan ook een van die kenmerkende trekke van die Puriteine.

In die derde plek het die Puriteine uitvoerig aandag gegee aan gesinsgodsdiens. In die môre en in die aand en byna by elke maaltyd is Skriflees, gebed en sang beoefen. Dit alles was gerig op ’n oefening in vroomheid.

gesinsgodsdiens

In die vierde plek was een van die belangrikste kenmerke van ’n Puriteinse lewenstyl die onderhouding van die Sondag as die dag van die Here.

In die vyfde plek het die Puriteine aandag gegee aan gemeente-opbou. Deur middel van prediking en raadgewing (counseling) het hulle gemeentes toegerus. Vir die Puriteine was die prediking die belangrikste middel om die kerk tot nuwe lewe te bring en die gemeente op te bou in die geloof en toe te rus tot ’n geheiligde lewenstyl.

In verband hiermee het hulle gebruik gemaak van wat genoem is die “Prophesyings”. Hierdie profesieë was gemeentelike byeenkomste waarop ’n aantal predikante ’n preek gelewer het. Daarna het ’n uitgebreide preekbespreking gevolg.

Totius het in sy bekende rede in 1911 ’n sterk pleidooi gevoer om ook in die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika hierdie vorm van geloofs- en gemeente-opbou te gaan beoefen.

Daar is twee gevare wat ons vandag bedreig. Aan die een kant kan die kerk versand in ’n dooie ortodoksie met die klem op die verstand, en aan die ander is daar die invloed van die charismatiese beweging met ’n oormatige klem op die gevoel. Teenoor enersyds ’n koue verstandsgodsdiens en andersyds ’n emosiebelaaide charismatiese invloed kan ons as gereformeerdes net baat vind by grondige bestudering van die leer en die lewe van die Puriteine. By die Puriteine was hoof en hart, verstand en gevoel in ’n heilsame balans.