3 bladsye.

Die Waarheid Begin met Amen

Amen en Uit🔗

“Die waarheid begin met Amen”: so ʼn opskrif lyk vreemd, ongewoon. In ons gedagtegang staan ‘Amen’ nooit aan die begin, maar altyd aan die einde. Dit begin met die waarheid en daarop volg dan die ‘Amen’. Wie ‘Amen’ sê, beaam iets. ʼn Preek se ruspunt lê in die ‘Amen’ aan die einde. En ʼn gebed word in volle vertroue met ‘Amen’ afgesluit.

Amen en Waarheid🔗

Hoe sou die waarheid dan nou met amen kon begin? Dit is nie alleen strydig met waaraan ons gewoond is nie. Dit lê dieper. Veral in ons tyd. Die woord amen straal sekerheid uit en die moderne mens is nie so gou seker van iets nie. Eintlik ontbreek die woord amen in die 21ste eeuse mens se woordeskat. Met amen maak jy jouself vas. Jou vryheid word ingeperk deur iets waaraan jy jou verbind. En so iets lyk tog skadelik vir die mens as méns? Is waarheid nie iets wat jy moet ervaar, jou op een of ander manier moet raak of aanspreek nie? Is waarheid nie die slotsom van ʼn persoonlike soektog wat jou van hoër gesag losmaak om jou eie waarheid te vind wat by jou pas, en jou ook vrylaat om jouself te wees nie? Op so ʼn waarheid kan ’n mens dan ‘amen’ sê , maar dit is dan ook nie vir ewig nie. So ʼn ‘amen’ is ʼn slotsom wat jy vir jouself maak. Aan die begin is die soeke en aan die einde miskien die vind. As daar dan nog plek vir die woordjie amen in hierdie eeu is, is dit nooit aan die begin nie. Dit lyk onmenslik en nie vry nie.

Die Waarheid van Jesus Christus🔗

Hierdie moderne lewensgevoel, wat eintlik al baie oud is, word vierkantig teengestaan deur die optrede van Jesus Christus. Hy het nie gekom om mense by te staan in hulle soeke na hulle eie waarheid nie. Nee, Hy tree met gesag op en lê die waarheid kant en klaar aan hulle voor. Hy eis dat hulle om hulle lewens ontwil met volle oorgawe hulle daaraan wy, moontlik selfs ʼn marteldood deur hulle vyande in die gesig staar. Hy sê vir die kritiese Jode in Jerusalem: “Ek het aan julle die waarheid vertel wat ek van God gehoor het. Dit het Abraham nie gedoen nie.” (Johannes 8:40) En vir sy dissipels sê Hy onomwonde: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe” (Johannes 14: 6). Daarom kon Hy ook sê: “Wanneer julle by my woord bly, is julle my dissipels: julle sal die waarheid ken en die waarheid sal julle vry maak”. Hier is die waarheid nie die slotsom van ʼn menslike soektog nie, maar die sleutel van bevryding wat aan ons gegee word. Ons kan dit slegs aanvaar en beaam. Ons moet hiermee begin, anders kom ons nêrens nie!

Amen, Amen…🔗

Nou is daar in Jesus se gesprekke iets opvallends, wat baie keer misgelees word. Ook Hy gebruik die woordjie amen. Hy doen dit selfs gereeld. Die besonderse is egter dat Hy nie daarmee eindig nie, maar begin. Ons ken almal die uitsprake waar Jesus ’n wending in die gesprek bring: “Voorwaar, ek sê vir julle…”. Hierdie “voorwaar” is egter ʼn swakker vorm van “Amen, ek sê vir julle…”  Jesus gebruik doelbewus die uitroep ‘Amèn’. Die Jode het, net soos ons, ‘Amèn’ as slotwoord gebruik. So het dit ook in die Ou Testament gebeur. Die Hebreeuse ‘Ameen’ beteken: “Dit is verseker waar!” ‘n Uitroep van bevestiging. Die billikheid van ʼn uitgespreekte vloek word beaam met ‘Ameen’. ʼn Seën word aanvaar deur ‘Ameen’ te sê. So was ‘amen’ nog altyd ʼn antwoord gewees. ʼn Slotwoord. Nooit ʼn begin nie. Waarom sou jy ‘amen’ sê as daar nog niks gesê is wat beaam kan word nie? Binne die spreekwyse van die Joodse volk is dit dan ook vreemd en ongewoon, as Jesus sy sinne begin met ‘Amen.’

ʼn Skokkende Spraakgebruik🔗

Dit is die taak van eksegese (Skrifuitleg) om die effek en funksie van bepaalde woorde in hulle eie tyd te bepaal. Moderne Bybellesers het vertroud geraak met woorde soos “Voorwaar, voorwaar, Ek sê vir julle.”  Dit is nou maar eenmaal die Here Jesus se idioom, die manier waarop Hy praat. Dit hoort by die stem van die Herder. In die eksegese moet ons ons afvra of die idioom wel so vertroud geklink het toe Jesus op aarde was. En dan moet ons sê dat die nuutheid van hierdie manier van praat eerder bevreemding en vrae as vertroudheid opgeroep het. Dit beteken dat Jesus deur sy idioom wou skok. Hoekom? Wat is dan die betekenis van hierdie woordkeuse en styl?

Gesaghebbend, maar Nie Enig Nie🔗

As Jesus begin met die slotwoord “Amen”, kombineer Hy dit meestal met die woorde: “Ek sê vir julle”. Dit is ʼn gewaagde uitspraak. Die Jode was gewoond om hulle te beroep op die vaders of die rabbyne. Wie waag dit om op eie gesag te praat? Jesus doen dit: Hy het nie die gesag van mense nodig nie. Sy eie gesag is genoeg. “Ek sê vir julle!”

Tog praat Jesus nie net op eie verantwoordelikheid nie. Dit kan ’n mens aanvoel wanneer Hy die “Ek sê vir julle”, laat voorafgaan deur ‘Amen’ of die dubbele ‘Amen, amen’ (soos in die boek Johannes). Hy beaam iemand of iets. Hy bring nie net ʼn eie standpunt na vore nie. Hy onthul en bevestig die waarheid wat Hy eers beaam.

Dit klink so vreemd: daar is niemand wat iets sê nie en tog roep Jesus ‘Amen…!’ Miskien is dit een van die redes waarom onder die volk gefluister is dat Hy dalk van sy kop af is.

Ons moet probeer omons in die situasie in te leef. Kyk hoe geheimsinnig is ons Heiland wanneer Hy begin om te leer! Aan die begin van sy sinne staan ʼn raaisel. Ons hoor Hom ‘Amen, amen’ roep. Ons kyk om ons heen, maar sien niemand anders as Jesus nie. Met wie praat hy? Verstaan of sien ons iets nie? Is daar ʼn ongesiene teenwoordigheid waarop Jesus reageer?

Dit bly by vrae: hierdie ‘Amen’ is vir ons ʼn raaisel. ʼn Misterie wat aandag trek. Hy daag ons uit: wil jy regtig verstaan en weet? Luister dan verder! Miskien kom ons dan agter hoe dit in hierdie wêreld moontlik is dat die waarheid met ‘Amen’ kan begin.

Die wat vir Jesus bly luister word stadig maar seker bewus van die antwoord op hierdie raaisel. Baie keer sê Jesus dat Hy aan ons bekend maak wat Hy van die Vader gehoor het. Hy het dit nie self uitgedink nie, maar kom om dit deur te gee en bekend te maak. Jesus sê ook meer as een keer dat hy ʼn oop verbinding met die Vader het. Dit het al by die doop geblyk: “En daar kom ʼn stem uit die hemele wat sê: Dit is my geliefde Seun in wie Ek ʼn welbehae het.” (Matteus 3:17)

Soms hoor ons dat Jesus verder gaan as die woord amen. Dan is Hy hardop in gesprek met sy Vader. “Ja Vader, Ek loof U, Here van die hemel en die aarde, dat U hierdie dinge verberg het vir wyse en verstandige mense en dit aan kindertjies geopenbaar het. Ja, Vader, want so was dit u welbehae. Alles is aan My oorgegee deur my Vader, en niemand ken die Seun nie, behalwe die Vader; ook ken niemand die Vader nie, behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun dit wil openbaar.” (Matteus 11: 25–27) Hier hoor ons die oop verbinding tussen die sender in die hemel en die uitsending op aarde.

Werklik Waar!🔗

Die ‘Amen, amen’ aan die begin is as’t ware die openingsmelodie vir die aardse uitsending van ʼn boodskap wat in die hemel gehoor word. In die ‘amen’ lê die geheim weggesteek wat Jesus eenkeer so verwoord het: “Ek en die Vader is een.” (Johannes 10:30) Die Vader praat ongehoord en ongesien. Jesus beaam dit en gee dit deur. In die hemel word die werklikheid gesien en Jesus bevestig dit en vertel dit. Die ‘amen’ aan die begin van Jesus se woorde is die eggo op die werklikheid wat reeds in die hemel is.

Die waarheid begin met ‘Amen’. Amen is nie die slotsom van ons menslike speurtog nie. Dit gaan voor ons uit en bly ons voor. Jesus volg dit met sy ‘Amen’. En sy ‘Amen’ is die vaandel waaronder ons ons mag skaar. Ons leer om daarop ‘amen’ te sê. Soos Jesus se ‘Amen’ aan die begin ʼn eggo op die majesteitlike werklikheid van God is, so is ons ‘amen’ aan die einde ʼn eggo op die evangelie van die werklikheid. Ons kan met ons ‘amen’ alleen maar die openbaring van Jesus navolg. Die Vader het alles in die hemel al gesien en gehoor, die Seun het dit alles al geweet. Hy het ons daarin voorgegaan. Hy weet waarvan Hy praat! Daarom begin sy woord met ‘Amen’.

Daarvoor mag ons lewenslank dankbaar wees: daar is ʼn bodem waarin ons swerwende siele mag anker!