2 bladsye.

Efesiers 4:1 - Balans in die Lewe

Ek vermaan julle dan, ek, die gevangene in die Here, om te wandel waardig die roeping waarmee julle geroep is,…

Efésiërs 4:1

balanseer

Efésiërs val in twee dele uiteen. Daarby funksioneer ons teksvers in Paulus se omsendbrief soos ’n waterskeiding. Die eerste drie hoofstukke het die heerlike waarhede van die Christelike geloof ontvou en daarby die leer bespreek. Nou moet ons eers goed oplet hoe Paulus die dogmas verkondig. Hy ontvou die groot heilswaarhede van God in ’n lofprysende gebed. Hy bid – en dank en prys God - en klim tot die hoogtes van lofprysing en aanbidding op. Daarin sê Paulus wie God is, God Drie-enig; hy jubel oor die uitverkiesing; hy sing oor Christus se kruisoffer en juig oor die werk van die Gees; hy jubel oor die dogma van die kerk. Verder prys hy God oor die eenheid van die gelowiges uit verskillende volkere en telkens met die refrein: tot lof van sy heerlikheid. Sy gebed bereik sy klimaks (3:14-21):

Aan Hom die heerlikheid in die gemeente in Christus Jesus deur alle geslagte tot in ewigheid. Amen.

Dan gaan Paulus met ons teksvers oor van die leer na die lewe, van die Dogmatiek na die Etiek, van die indikatief na die imperatief (bevel). Twee woorde in die teks wys besonderlik hoe die Heilige Gees – deur Paulus – die band tussen leer en lewe lê.

Skakel Onmisbaar🔗

Dan is in die Grieks geweldig prakties en sê hoe ons die Bybel moet lees. Dis ’n voegwoord, ’n skakel. Dit bind die leerstellige aan die praktiese deel van Efésiërs –en sê dat ons nie die lewe van die leer mag losmaak nie en belangriker: dat die leer vir die lewe bepalend is. Dit is soos ’n wissel op die treinspoor, want as die trein op ’n verkeerde spoorlyn beland, is dit eintlik op ’n doodloopspoor.

Die Christelike lewe móét dus aan die suiwer Christelike leer gebind wees. Hierby moet ons wys op die verkeerde beskouing dat die leer gewysig moet word om by die lewensoortuiging aan te pas. Paulus dui tog duidelik aan dat die dogmas waaroor hy in sy gebed jubel, die voedingsbron vir die lewe van die gelowige moet wees. Die leer is die hefboom wat die lewe op die regte spoor moet hou. Lees maar Romeine ook – eers die somtotaal van die Christelike leer (Romeine 1-11) en dan volg Romeine 12:1:

Daarom/derhalwe/in verband hiermee vermaan ek julle dat julle julle liggame stel as ’n lewende, heilige en aan God welgevallige offer.

Sou dus die geloof in die Christelike leer nie reg wees nie, dan sal dit met die Christelike lewe ook verkeerd gaan.

Kyk maar na die Doperse beweging in die tyd van die Reformasie. Hulle het die Ou Testament van die Nuwe Testament geskei, hulle het ’n onbybelse skeiding tussen natuur en genade voorgestaan, hulle het hulleself weer laat doop en in ’n gees van revolusie, ontug en losbandigheid verval. Vandag sien ons dat in kerke wat nie meer die leer van die onfeilbare Skrifgesag aanvaar nie, daar heers permissiwiteit, homofiele en lesbiese praktyke, en keur hulle revolusionêre optrede goed.

Weegskaal🔗

Waardig. Hoe moet ons dan die band tussen leer en lewe, tussen Dogmatiek en Etiek, elke dag vashou? Paulus verklank dit in die woordjie waardig – ons moet wandel waardig die roeping waarmee ons geroep is.

Roeping is vir Paulus die verkondigde Evangelie, wat mense roep tot die ewige verlossing, waarin die leer vervat is.

Die Griekse woord waardig is al in Homeros se geskrifte te vind. Dit laat aan ’n weegskaal dink, met die betekenis: om te balanseer. Paulus vermaan dus die Christene in Klein-Asië om gebalanseerde gelowiges te wees. Hulle lewe moet in ooreenstemming met hulle leer wees. Dan neem Paulus in Efésiërs 4 en 5 allerlei alledaagse praktiese dinge soos: eenheid van die geloof, liefde vir mekaar, geen hebsug, vuil woorde, bitterheid, woede, toorn, geskreeu en lastering nie. Gelowiges moet vriendelik en vol ontferming en vergewensgesind teenoor mekaar wees. Ons leer moet dus met ’n godvrugtige lewe versier word – die Christelike lewe is die kosmetiek (mooimaakgoed) van die Christelike leer.

weegskaal

Die Apostel Leer ons dus Hier:🔗

  • Ons moet die Christelike leer ken, ons daarin verdiep, dit gelowig omhels, sodat dit ons tot die lofprysing bring.

  • Ons moet nie eensydig alleen die leer (verstandsoorwegings) of alleen die lewe (of gevoelsbelewings) beklemtoon nie. Dan is ons ongebalanseerd. Dis gevaarlik.

  • Die volgorde van leer en lewe mag ons nooit omkeer asof die lewe die leer kan bepaal.

  • Die skoonheid van die Gereformeerde leer moet ons laat skitter deur ’n God-toegewyde lewe. Dan is ons gebalanseerde Christene.