Bron: Kerk en Woord, 2003. 2 bladsye.

Hoe kan Jongmense Glo?

Onderstaande artikel is nou van belang omdat die katkisasie weer aan die gang kom. Veral ook vir hulle wat die gewone katkisasie voltooi het en nou in die belydenisklas hulle finaal voorberei vir toegang tot die nagmaals­tafel van die Here. Wat 'n wonderlike gebeurtenis! Maar ook gaan baie daar­aan vooraf. Ds HJ Messelink skryf enkele jare gelede in die Gereformeerde Kerkbode in Nederland oor die groot taak van ouers in hierdie verband. Hierdie artikel is ook ter aanmoediging en versterking van ouers se taak.

As ouers met hul pasgebore baba by die doopvont staan, lê hulle 'n belofte af. Hulle belowe om hul kind in die leer van die kerk te onderrig en te laat onderrig. Met laasgenoemde (laat onderrig) het ons dikwels minder moeite as met eersgenoemde. Veral as ons die "onderrig" lees in die lig van die begin van die formulier, waar staan dat ons nie in die ryk van God kan kom nie tensy ons opnuut gebore word. Dit wil sê dat ons kinders wel verbonds­kinders, maar nog geen wedergebore kinders van God is nie. Miskien het ons te min oog hiervoor. En miskien is dit so dat dit een van die oorsake is van die feit dat ons kinders op later leeftyd die pad byster raak. Hiermee word bedoel: 'n mens mag na jou kinders kyk as kin­ders van God. Verseker.

Maar 'n mens moet ook na hulle kyk as sondige mense wat bekering nodig het. Daarom moet die kinders ook geleer word dat hulle selfstandig moet glo. En by hierdie eie verantwoor­delikheid behoort 'n bewuste bekering en 'n bewuste geloofskeuse. Julle mag aan jul kinders vra dat hulle hulself aan die Here gee. Hier word nou gepraat van die tydperk voor die belydenisafleg­ging. Eintlik is dit al veels te laat as die predikant vir die eerste keer aan die belydeniskatkisante vra: Het jy al 'n bewuste keuse vir die Here gemaak? Wat beteken die Here vir jou persoon­lik? As jongmense op daardie oomblik skrik oor die vraag en begin stotter, beteken dit in feite dat die ouers hul beurt verby laat gaan het. Want hulle moes daardie vraag al gestel het. Dit is deel van die "onderrig" waarvan die doopformulier praat.

Dit is die eerste wat gesê moet word oor "jongmense en geloof". Ons as ouers moet van alle vanselfsprekend­heid ontslae raak. Ons kinders gaan nie outomaties glo nie! Dit is werklik 'n wonder van die Heilige Gees as ons kind op 'n gegewe oomblik sê: Ek gee myself aan die Here en ek wil in die openbaar my geloof bely. Maar daardie wonder wil die Heilige Gees allereers bewerk deur middel van mense, van pa en ma. Daarvan moet ouers bewus wees. Ons moet in die opvoeding gerig wees op bekering. Dit gaan regtig nie vanself goed as hulle maar net gedoop is nie.

Maar Hoe moet dit dan Gedoen word?🔗

  • In die eerste plek: laat ons begin deur realisties na ons kinders te kyk en hulle nie oorskat nie. Ook ons kinders is in sonde ontvang en gebore, en daar moet 'n wonder gebeur as hulle hul hart aan die Here wil gee. Dit vra van ons 'n daaglikse gebed, 'n pleit op die belofte van die Here wat by hulle doop gedoen is.

  • In die tweede plek: ons moet ons kin­ders stimuleer om selfstandig vir die Here te kies. Ons moet al vroeg daarin investeer. Deur hulle self te leer bid as hulle 8 of 9 jaar oud is en op later leeftyd daaroor met hulle te bly praat. Sommige ouers weet nie eens of hul kind van 15/16 jaar saans met die Here praat al dan nie. Ook dat hulle self die Bybel en/of 'n dagboek lees, moet by die opvoeding hoë prioriteit geniet. En stel jou kind dan voor die keuse. As ouers wil julle tog graag hê dat jul seun of dogter vir die Here kies? Waarom sou julle dit dan ook nie aan hulle vra nie?

  • In die derde plek: gun aan jul kinders hul eie ontwikkeling. Dit is belangrik dat ouers aan hul kinders ruimte gee vir hul eie vrae en vertwyfelinge ten aansien van geloof en kerk. Jongmense wys dikwels baie skerp op die swak plekke in die kerklike lewe en hulle mag verwag dat hulle met hul ouers 'n eerlike gesprek daaroor kan voer. Geen skynheiligheid nie, nie die sake mooier laat lyk as wat hulle is nie, want die jongmense deursien dit gou. Hulle mag maar weet dat julle self ook nie vir alles die regte antwoord het nie.

  • In die vierde plek: laat ons as ouers en oueres 'n slag na onsself kyk en nagaan hoeveel werwingskrag daar uitgaan van ons gedrag en van ons gesprekke na die jongeres toe. Kan hulle aan ons merk dat ons entoesiasties is oor die diens aan die Here? Kan ons eerlik en opreg met ons kinders praat oor ons eie geloofslewe? En wel op so 'n manier dat ons die jongeres stimuleer om self na te dink, 'n eie mening te vorm, 'n per­soonlike band met die Here op te bou? Hulle mag aan ons merk dat ons ook nie altyd op die kruin van ons geloof lewe nie en ook sondige mense is. Dit mag ook blyk uit ons gebed aan tafel. Dit is mos nie 'n opsêrympie nie?

  • In die vyfde plek: dit is moeilik om op God te leer vertrou as daar geen vertroue in jul eie gesin heers nie. As ouers en kinders mekaar voortdurend wantrou, leer 'n kind ook nie om hom aan God oor te gee nie. Daarom is die atmosfeer in die huis belangrik vir die keuse wat jongmense in die geloof moet maak. Ouers kan so mooi aan hul kinders laat sien dat 'n mens werklik op God kan vertrou. Ouers mag laat sien dat God hulle Vader in die hemel is en dat Hy dit ook wil wees vir hul kinders. As tuis die geloof maar net in vorm aanwesig is, is die kiem vir kerkverlating geplant! Alle ondersoeke dui daarop. Hiermee kan ons baie doen! Ons kan in elk geval daarvoor sorg dat daar in ons eie gesin 'n atmosfeer van Godsvertroue heers. Ons moet die geloof nie buite die gewone, praktiese lewe hou nie.

  • In die sesde plek: as ouers moet ons steeds onthou dat ons besig is met 'n proses waarvan die einddoel is dat jy jou kinders sal loslaat! Daar kom 'n dag dat ons kinders sonder ons moet klaarkom. Opvoeding is: om bietjie vir bietjie los te laat. Net soos 'n kind wat leer fietsry, telkens 'n bietjie langer los van jou, totdat by jou nie meer nodig het nie. Dit is nie goed as 'n jongmens van oor die twintig nog steeds nie alleen mag "fietsry" nie. Laat jou kind leer uit sy foute. Ook daarvan word hy selfstandig.