Calvyn begin sy Institusie met die vraag: hoe moet ons teologie beoefen – deur na te dink oor God of deur na te dink oor onsself? Want kennis van God en kennis van die mens hou verband met mekaar.

Ons is dikwels tevrede met onsself, maar as ons eers begin om oor God na te dink, sal dit waarop ons onsself beroem, ons weldra afstoot. Die mens sal nooit sy eie nietigheid besef as hy homself nie met die majesteit van God vergelyk nie.

1984. 5 bladsye.

Institusie van die Christelike Godsdiens (1559) - Boek 1 Hoofstuk 1 Kennis van God en kennis van onsself is verwante sake: Die wyse waarop dit met mekaar saamhang

1. Ons Hulpeloosheid dwing ons tot die Kennis van God🔗

Byna die volle eindtotaal van ons wysheid,1 wat ons 'as die ware en grondige wysheid moet beskou, bestaan uit twee dele: kennis van God en kennis van onsself.2 Hoewel die twee aspekte met baie bande aan mekaar verbind is, is dit tog nie maklik om te onderskei watter een van die twee aan die ander voorafgaan en hom voortbring nie. Want in die eerste plek kan niemand homself aanskou sonder om dadelik sy sintuie tot die aanskouing van God, in wie hy lewe en beweeg,3 te wend nie. Dit is trouens helderklaar dat die gawes waarin ons kragtig is, hoegenaamd nie uit ons self ontstaan het nie. Ja, selfs ons bestaan is niks anders as 'n bestaan in die enige God nie. Verder word ons deur hierdie seëninge wat soos druppels uit die hemel op ons dou, soos van strome af na die bron gelei.

Die grensloosheid van die gawes wat in God is, blyk nog duideliker uit ons eie onbeholpenheid. Veral die jammerlike val waarin die afvalligheid van die eerste mens ons gewerp het, noop ons om weer ons oë na Hom toe op te hef. Aangesien ons uitgeteer en verhonger is, moet ons nie alleen van hierdie bron af vra wat ons ontbreek nie, maar ootmoed4 aanleer wanneer ons deur vrees vir Hom tot inkeer gebring is. Want soos: daar in die mens 'n hele wêreld ellendes aan te tref is, so ontbloot ons skandelike naaktheid sedert die tyd waarop ons van ons Goddelike sieraad ontneem is, ons eindelose stapel skanddade. So moet elkeen ook deur 'n bewustheid van sy eie rampsaligheid gepynig word om ten minste tot 'n mate van kennis van God te kom. So kom ons na aanleiding van die gevoel van ons onkunde, ons ydelheid, ons hulpeloosheid, swakheid, boosheid en bedorwenheid tot die insig dat die ware lig van die wysheid, die onwrikbare krag, die volmaakte oorvloed van alle seëninge en die suiwerheid van die geregtigheid nêrens anders as net in die Here alleen geleë is nie. Deur ons eie kwaad word ons so opgewek om die seëninge van God te oordink. Ons kan egter nie in erns tot Hom nader voordat ons begin om 'n mishae in onsself te hê nie. Want watter mens sou nie graag op sy louere rus nie? Wie rus ook nie op eie louere solank hy aan homself onbekend is nie - dit beteken, solank hy met sy eie gawes tevrede en onbewus van, of ongedagtig aan, sy ellende is?  So word elke mens nie alleen deur die kennis van homself geprikkel om God te soek nie maar ook as't ware aan die hand gelei om Hom te vind.

2. God se Heerlikheid gaan die Mens se Begripsvermoë ver te bowe🔗

Verder staan dit vas dat die mens nooit tot suiwer kennis van homself kom nie, tensy hy eers die aangesig van God aanskou het en uit die aanskoue van God tot 'n ondersoek van homself neerdaal. Want - en dit is die hoogmoed wat in ons almal aangebore is - vir onsself lyk ons altyd regverdig, onberispelik, wys en heilig, behalwe as ons deur duidelike bewyse van ons onregverdigheid, ons afstootlikheid, ons dwaasheid en onreinheid oortuig word. Maar ons word nie hiervan oortuig so lank as ons ons oë net op onsself en nie ook op die Here rig nie. Hy is die enigste maatstaf na aanleiding waarvan ons hierdie oordeel moet meet. Want omdat ons almal van nature tot geveinsdheid geneig is,5 stel enige ydele skyn van geregtigheid, pleks van geregtigheid self ons oorvloedig tevrede. Omdat daar binne-in en rondom ons niks verskyn wat nie met die grootste onwelvoeglikheid besmet is nie, behaag iets wat minder onwelvoeglik is ons asof dit die hoogste reinheid het, solank ons ons verstand binne die perke van die mens se besmetting vaspen. Net so is'n oog wat niks anders as swart raaksien nie, van oordeel dat grys met 'n bietjie wit of selfs met donkerbruin besprinkel, die suiwerste wit is. Ja, ons kan uit die gevoel van ons liggame nog beter onderskei hoe ons in die waardering van ons geestesvermoëns verbyster word. Want as ons in die middag ons oë op die grond rig of enigiets wat rondom ons sigbaar is, aanskou, lyk dit vir ons asof ons met 'n baie sterk en skerp  gesigsvermoë toegerus is; maar wanneer ons in die son inkyk en met oopgesperde oë reguit daarna kyk, word ons gesigsterkte, wat op die grond besonder kragtig was, dadelik deur so 'n groot glans afgestomp en verwar. Die gevolg is dat ons gedwing word om te erken dat ons skerpsinnigheid by die aanskouing van aardse voorwerpe louter stompsinnigheid  is wanneer dit die son aangaan.6

Dit is ook die geval wanneer ons oor ons geestelike seëninge nadink. Want so lank as wat ons ons oë nie buite die wêreld vestig nie maar doodtevrede is met ons eie geregtigheid, wysheid en krag, vlei ons onsself met die grootste behaaglikheid, en dit lyk amper vir ons asof ons halfgode is. Maar as ons eenmaal begin om oor God na te dink, sy hoedanighede op te weeg en hoe volkome volmaak sy geregtigheid, sy wysheid en sy krag is (en na hierdie maatstaf moet ons onsself vorm), sal dit wat ons tevore onder 'n valse skyn van geregtigheid behaag het, ons weldra as die grootste ongeregtigheid afstoot. Dan sal iets wat ons onder die benaming 'wysheid' wonderbaarlik geïmponeer het, ons as die uiterste dwaasheid walg. Iets wat op 'n valse skyn van krag geroem het, sal dan as die jammerlikste rnagteloosheid aan die kaak gestel word. So is iets wat vir ons na die hoogste volmaaktheid lyk, glad nie teen die suiwerheid van God opgewasse nie.

3. Alles Sidder voor die Heerlikheid van God🔗

Hieruit ontstaan die verskrikking en bewing 7waarmee die heiliges geslaan en getref is wanneer hulle die teenwoordigheid van God ervaar het, soos die Skrif trouens oral vertel. Ons bemerk immers dat mense wat in die afwesigheid van God rustig vas bly staan, so geskok en verwar word wanneer Hy sy heerlikheid aan hulle openbaar dat hulle van doodsvrees inmekaar stort, ja, selfs daardeur oorweldig word en bykans tot niet gaan. Daarom moet ons die afleiding maak dat die mens nooit genoegsaam deur die kennis van sy eie nietigheid beïndruk of aangedaan word voordat hy homself nie met die majesteit van God vergelyk het nie.

Ons het trouens talryke voorbeelde van so 'n vrees, sowel in Rigters as in die profete,8 in so 'n mate dat die volgende 'n algemeen gebruiklike uitdrukking onder die volk van God was: "Ons sal sterwe omdat die Here aan ons verskyn het!" Daarom put die geskiedenis van Job altyd die sterkste bewyse om die mens deur die bewussyn van sy dwaasheid, magteloosheid en onreinheid neer te werp juis uit 'n beskrywing van die wysheid, krag en reinheid van God. Dit is ook nie sonder rede nie. Want ons merk hoe Abraham duideliker erken dat hy grond en stof is sodra hy nader gekom het daaraan om die Here se heerlikheid te aanskou,9 en hoe Elia sy aankoms nie kon afwag sonder om sy gesig te bedek nie,10 so vreeslik is dit om Hom te aanskou. Wat moet die mens, wat self verrotting11 en 'n wurm12  is, dan doen wanneer selfs die gérubs uit dieselfde vrees hulle aangesig moet bedek?13 Dit is natuurlik wat die profeet Jesaja bedoel wanneer hy sê: "Die son sal rooi word van skaamte, en die maan sal skaam wees; want die Here van die leërskare sal regeer.''14 Dit beteken: wanneer Hy sy glans verhef en nader bring, sal selfs die helderste voorwerp voor die glans in duisternis gehul word.15 Hoewel die kennis van God en die kennis van onsself wedersyds aan mekaar verbonde is, vereis die juiste volgorde van ons onderwysing tog dat ons eersgenoemde eers bespreek en dat ons dan daarna na die behandeling van laasgenoemde oorgaan.

Endnotes🔗

  1. ^ Vgl. die 1536-uitgawe: Die eindtotaal van die leer (doctrina); hier: sacra doctrina teenoor sapientia nostra (1559).
  2. ^ Hierdie gedagte van die samehang van selfkennisen Godskennis is nïe oorspronklik in Calvyn nie maar het 'n lang geskiedenis (Clernens Alexandrinus, Paedagogus 3.1; Bohatec, 241: Bartles 1:36, n. 2). Hierdie intieme samehang .van Godskenpis .en selfkennis word in die Franse uitgawe van 1560 nog sterker gestel, nl. dat ons deur God'te ken ook onsself ken: C'est qu 'encognoissant Dieu, chacun de nous aussi secognoisse (Benoit 1:50). 
  3. ^ (Hand. 17:28).
  4. ^ Humilitas ('ootmoed', soms met 'nederigheid' vertaal) is 'n kardinale begrip by Calvyn.
  5. ^ Daar is by Calvyn 'n noue verband tussen ootmoed en selfkennis (Battles 1:37, n. 4). Let op Calvyn se gebruik van die woord natura voor en na die sondeval. Natura word in albei gevalIe gebruik. Vgl. Inst. 2.1.11, waar die twee betekenisse in die volgende sin langs mekaar staan: Dicimus ergo naturali hominem citiositate corruptum, sed quae a natura non fluxerit. A natura fluxisse negamus...
  6. ^ Plato, Politeia 7.514A e.v.
  7. ^ Cicero, De nat. deorum 2.2.5 (LCL, 126 e.v.). Vgl. Inst. 1.2.2; 1.3.2.
  8. ^ Rigt. 13:22; Jes. 6:5; Eseg. 1:28; 2:1 e.v.; 3:14 (Job 9:4).
  9. ^ Gen. 18:27.
  10. ^ 1 Kon. 19:13.
  11. ^ (Job 13:28).
  12. ^ (Job 7:5).
  13. ^ (Jes. 6:2).
  14. ^ Jes. 24:23 Vg. Die substantiewe in Calvyn se teks staan soos hier, in ooreenstemming met die Vg. Dit verskil wel van die Afr.
  15. ^ Jes. 2:10,19.