Die Woord word deur die Heilige Gees in ons harte gewerk en bekragtig. Diegene wat die Skrif verwerp en ‘n ander weg aandui om na God te kom, beroep hul verkeerdelik op die werk van die Heilige Gees, want die Gees is die outeur van die Skrif: Hy kan nie daarvan verskil nie. Woord en Gees is dus onlosmaaklik aan mekaar verbind; hul doen saam die werk van God.

1984. 5 bladsye.

Institusie van die Christelike Godsdiens (1559) - Boek 1 Hoofstuk 9 Geesdrywers wat die Skrif ter syde stel en hulle toevlug tot openbaring neem, verwoes al die beginsels van Godsvrug

1. Geesdrywers wat die Skrif verwerp, beroep hulle verkeerdelik op die werking van die Heilige Gees🔗

Verder moet mense wat die Skrif verwerp en hulle verbeel dat hulle dan nog die een of ander weg het om na God te kom, beskou word as mense wat nie soseer in dwaling verstrengel is nie, maar eerder as mense wat deur waansin aangedryf word. Want onlangs nog het daar sekere ylhoofdiges te voorskyn gekom wat die leeramp van die gees hoogmoedig voorhou, weier om die Skrif te lees en met die eenvoud van mense wat, soos hulle dit noem, die dooie en dodende letter van die Skrif nog aanhang, die spot dryf.1

Maar ek sou graag van hulle wou weet wat se gees dit nou eintlik is deur wie se inspirasie hulle tot so 'n vlak van verhewenheid gevoer word dat hulle dit durf waag om die leer van die Skrif as kinderagtig en onaansienlik te verag. Want as hulle antwoord dat dit die Gees van Christus is, is hulle agtelosigheid uiters belaglik, aangesien hulle dan na my mening sal toegee dat die apostels van Christus en ook ander gelowiges in die eerste kerk nie deur 'n ander Gees verlig was nie. Tog was daar onder hulle niemand wat geleer het om die Woord van God te verag nie, maar elkeen van hulle was eerder met groter eerbied daarvoor deurdrenk, soos hulle geskrifte ook baie duidelik getuig. En dit is tewens ook so deur die mond van Jesaja verkondig. Want hy sê: "My Gees wat op jou is, en my woorde wat Ek in jou mond gelê het, sal uit jou mond nie wyk nie en ook nie uit die mond van jou saad tot in ewigheid  nie.''2 Daarin bind hy die volk van ouds nie aan 'n uitwendige leer net asof hulle beginners is nie. Hy dui eerder aan dat die ware en volle geluksaligheid van die nuwe kerk onder die ryk van Christus sal wees, sodat die kerk deur die Woord van God sowel as deur sy Gees geregeer sal word.

Daaruit lei ons af dat iets wat die profeet met 'n onskendbare band saamgevoeg het, met skandelike heiligskennis deur daardie deugniete uitmekaar geskeur word.3

Voeg hierby dat Paulus tot in die derde hemel weggeneem is maar nogtans nie opgehou het om in die leer van die wet en die profete vordering te maak nie. En so spoor hy Timotheus, wat 'n besonder uitmuntende leraar was, aan om hom daarop toe te lê om dit te lees.4 Die loflied waarmee hy die Skrif tooi, is ook gedenkwaardig, naamlik dat dit nuttig is vir die onderwysing, vermaning en bestrawwing om die diensknegte van God volmaak te maak.5 Watter duiwelse raserny is dit dan nie om die versinsel te skep dat die Skrif, wat die kinders van God tot aan die einde van hulle doel bring, 'n verganklike en tydelike funksie het nie.6

Verder sou ek graag wil hê dat hulle die vraag moet beantwoord: Duld hulle'n ander gees as dié wat die Here aan sy dissipels belowe het?7 Al sou hulle ook deur die grootste waansin gepla wees, dink ek nie dat hulle deur so 'n groot ylhoofdigheid meegesleur .word dat hulle sou waag om daarop te roem nie.

Maar wat sou dan die aard van die Gees wees wat Hy in sy belofte aan hulle bekend maak? Dit is die Gees wat nie uit Homself gespreek het nie maar wat in hulle hart die dinge wat Hy self deur sy Woord aan hulle geleer het, gewerk en ingeboesem het.8 Dit is dus nie die funksie van die Gees wat aan ons belowe is, om nuwe en ongehoorde openbaringe te versin of om 'n nuwe soort leer te smee om ons van die aanvaarde leer van die evangelie weg te neem nie, maar juis om die leer wat deur die evangelie by ons aangeprys word, in ons hart te beseël.

2. Die Heilige Gees se Ewige Onveranderlikheid is op die Skrif afgedruk🔗

Daaruit lei ons geredelik af dat ons ons ywerig daarop moet toelê om die Skrif te lees en aan te hoor as ons enige voordeel en vrug uit die Gees van God wil bekom. So prys Petrus ook die vlyt van die mense aan wat vir die leer van die profete9 geywer het, hoewel die indruk tog kon bestaan dat Hy van sy posisie afstand gedoen het toe die lig van die evangelie aangebreek het.

Daarteenoor sê hy dat as 'n gees die wysheid van die Woord van God verbygaan en 'n vreemde leer aan ons opdring, so 'n gees tereg van ydelheid en leuentaal verdink moet word.

Waarom dan? Natuurlik omdat die Satan hom in 'n engel van die lig verander het!10 Watter gesag sal die Gees dan onder ons hê as Hy nie aan 'n baie sekere teken onderskei kan word nie? Die Gees is inderdaad ook deur die Woord van die Here vir ons baie duidelik afgeteken, behalwe dat hierdie armsalige mense vrywillig tot hulle eie verderf 'n dwaling aanhang wanneer hulle 'n gees soek wat eerder uit hulleself as uit die Here is.

Hulle voer as rede aan dat dit onwaardig is dat die Gees van God aan die Skrif onderworpe is, terwyl alle dinge aan die Gees onderworpe moet wees.11 Net asof dit vir die Heilige Gees 'n skande sou wees dat Hy oral gelyk en dieselfde is, dat Hy in alles met Homself ooreenstem en nooit met Hom selfverskil nie. As die Gees inderdaad na die maatstaf van die mens of van engele of van enigiets anders gemeet sou word, dan sou ons moes oordeel dat Hy verneder en, as jy wil, verslaaf word. Maar wanneer  Hy met Homself vergelyk word, wanneer Hy op sy eie in oorweging  geneem word, wie sal dan sê dat 'n onreg Hom aangedoen word? En tog word Hy so aan ondersoek onderwerp! Dit erken ek, maar dit is 'n ondersoek waardeur Hy sy majesteit onder ons wil bekragtig. Dit  behoort vir ons genoeg te wees sodra Hy Hom aan ons bekend maak.12 Maar om te verhoed dat die Gees van die Satan ongemerk in sy Naam by ons insluip, wil Hy deur ons geken word in die beeld waarin Hy Homself in die Skrif afgedruk het.13

Hy is die bron van die Skrifte: daarvan kan Hy nie verskil of andersoortig wees nie. Soos Hy Hom dus eenmaal daarin geopenbaar het, so moet Hy tot in ewigheid bly. Dit strek Hom nie tot oneer nie, behalwe as ons dit as iets eervols sou beskou as Hy van Homself sou afwyk en ontaard.

3. Woord en Gees is onlosmaaklik aan mekaar verbonde🔗

Maar wat hulle sinspeling betref dat ons 'n dodende letter handhaaf,14 word hulle gestraf vir hulle veragting van die Skrif. Want dit is duidelik genoeg dat Paulus daar teen die valse apostels te velde trek wat die wet sonder Christus aanprys en die volk van die seën van die nuwe verbond  weglei.15 Daarvolgens sluit die Here die verbond dat Hy sy wet in die ingewande van gelowiges sal ingraveer en dit op hulle harte sal skrywe.16Die wet van die Here is dan 'n dooie letter, en dit dood die wat dit lees wanneer dit van die genade van Christus losgeskeur word en sonder om die hart te raak, slegs in hulle are weerklank vind. Maar as die wet kragdadiglik deur die Gees in ons harte afgedruk word en as dit Christus openbaar,17 is dit die woord van die lewe,18 wat siele bekeer en aan geringes wysheid verskaf, ensovoorts.19 Ja, die apostel noem sy prediking in dieselfde aanhaling ook die bediening van die Gees.20 Daarmee dui hy natuurlik aan dat die Heilige Gees so verkleef is aan sy waarheid wat Hy in die Skrif tot uitdrukking gebring het, dat Hy eers sy krag in dié stadium na vore bring en bewys wanneer daar eerbied en aansien vir die Woord bestaan.

Wat ons so pas gesê het,21 is ook nie in stryd hiermee nie, naamlik dat ons nie groot sekerheid oor die Woord het nie tensy dit deur die getuienis van die Gees bekragtig word. Want die Here het met 'n wedersydse band die sekerheid van sy Woord en sy Gees aan mekaar verbind. Sy doel daarmee was dat 'n onwrikbare eerbied vir die Woord ons harte mag beset wanneer die Gees, wat ons die aangesig van God daarin laat sien, ons bestraal; en sodat ons op ons beurt sonder enige vrees vir wanvoorstelling die Gees mag omhels wanneer ons Hom in sy beeltenis, dit is in sy Woord, herken.

So is dit inderdaad. God het nie sy Woord aan die mens geopenbaar om dit bloot vir 'n kortstondige tydjie aan hom te vertoon en dan met die koms van sy Gees dadelik weer weg te neem nie, maar Hy het dieselfde Gees deur wie se krag Hy sy Woord laat bedien het, gestuur om sy werk deur die kragtige bevestiging van die Woord te volbring.

So het Christus twee dissipels se verstand geopen22 - nie om die Skrif te verwerp en op hulle eie wys te wees nie maar om die Skrifte te verstaan. Wanneer Paulus op dieselfde wyse die Thessalonicense vermaan om nie die Gees uit te blus nie,23 sleur hy hulle nie mee die hoogte in na sinnelose spekulasie sonder die Woord nie, maar hy voeg onmiddellik by dat hulle die profesieë nie moet verag nie. Daarmee word sonder twyfel te kenne gegee dat die lig van die Gees gedemp word sodra die profesieë verag word.

Wat is die opgeblase geesdrywers24 antwoord hierop terwyl hulle dit as die enigste uitnemende verligting beskou wanneer hulle onbesorg die Woord van God laat vaar, dit teen sy bevel vaarwel toeroep, en alles wat hulle in hulle gesnork waargeneem het, met net soveel selfvertroue as onbesonnenheid aangryp? 'n Soberheid wat ver hiervan verskil, betaam die kinders van God sekerlik. Want wanneer hulle bemerk dat hulle sonder die Gees van God van alle lig van die waarheid verstoke is, dan is hulle ook terdeë daarvan bewus dat die Woord die instrument is waardeur die Here die verligting van sy Gees aan gelowiges voorsien. Want hulle ken nie 'n ander Gees as die een wat in die apostels gewoon  en gespreek het nie. Deur sy uitsprake word hulle voortdurend teruggeroep om na die Woord te luister.

Endnotes🔗

  1. ^ Calvyn verwys hier na die Libertyne, wie se geskrifte verlore gegaan het. Hyweerlê hulle standpunt in Contre la secte pbantastique et furleuse des Libertins qui se namment spirituelz, 1545 (OC 7:145-248), veral in hfst. 9 tot 11 (OC 7:173-181). Daar moet duidelik tussen politieke en geestelike Libertyne onderskei word. Calvyn hou hom deurgaans besig met laasgenoemde, wat ons ook geesdrywers of vrydenkers kan noem. Vgl. ook CE 4:434; Balke. 18-20.
  2. ^ Jes. 59:21.
  3. ^ Die onverbreekbare samehang van Woord en Gees is deur Calvyn baie sterk beklemtoon.
  4. ^ 1 Tim. 4:13.
  5. ^ 2 Tim. 3:16 (3:17).
  6. ^ Vgl. ook Calvyn, Adversus Libertinos hfst. 9 (Tract. omnes 3:510 e.v.).
  7. ^ Vgl. Adversus Libertinos, hfst. 10: Variis modis Libertinos abuti uerbo Spiritus, quod semper in ore babent (Tract. omnes 3:512).
  8. ^ Joh. 16:13.
  9. ^ 2 Petr. 1:19.
  10. ^ (2 Kor. 11:14).
  11. ^ Kyk ook Adversus Libertinos hfst. 11: De primo articulo doctrinae Liberunorum (Tract. omnes 3:513 e.v.).
  12. ^ Vgl. vir die argumentasie o.a. 1 Kor. 2:10-15.
  13. ^ Adversus Libertinos, hfst. 9: Adbaereamus, inquam, puro et simpliet verbo Dei, in quo plenissimam voluntatis suae declarationem protulit: ac rogemus, ut per Spirüum suum ... uelit eam animis nostris infigerè (Tra ct. omnes 3:511-512).
  14. ^ Ibid., hfst. 9: Scripturam in naturali sensu suo acceptam, literam mortuam esse, atque occidere (Tra ct. omnes 3:511).
  15. ^ 2 Kor. 3:6.
  16. ^ (Jer. 31:33). 
  17. ^ Calvyn, Comm. in Ev. loannis 5:39: Quomodo enim sine Christo vitam lex conferet, qui solus eam vivificat? Caeterum docemur hoc loco, ex scripturis petendam esse Christi notitiam ... Primo igitur tenendum est, non aliunde quam ex scripturis Christum rite cognosci. Quod si ita est, sequitur hoc animo legendas esse scripturas ut illic inveniamus Christum (OC 47:125).
  18. ^ (Fil. 2:16).
  19. ^ (Ps. 19:8,9).
  20. ^ 2 Kor. 3:8.
  21. ^ Vgl. Inst. 1.7.4-5.
  22. ^ Luk. 24:27 (24:45).
  23. ^ 1 Thess. 5:19,20
  24. ^ Tumidi istise (U:V80UO'La.OTa.t»).