Die Woord het só vlees geword dat die Middelaar ware mens sowel as ware God was. Sy Goddelikheid was op só 'n wyse met sy menswees verbind, dat die eie aard van elke natuur volkome was. Tog het uit die twee nature net één Persoon, Christus, tot stand gekom. Vir ons menslike verstand is dit ‘n groot geheimenis.

Vervolgens weerlê Calvyn dwalings van Nestorius, Eutyches, Michèl Servet en die Antitrinitariërs.

1984. 14 bladsye.

Institusie van die Christelike Godsdiens (1559) - Boek 2 Hoofstuk 14 Hoe die twee nature van die Middelaar een Persoon tot stand bring.

1. Die Woord het so vlees geword dat die Middelaar ware mens sowel as ware God was.1🔗

Verder moet ons die feit dat daar gesê word dat die Woord vlees geword het.2 nie so verstaan asof die Woord in vlees verander of met die vlees vermeng is nie. Dit beteken trouens dat die Woord uit die liggaam van die maagd vir Homself 'n tempel uitgekies het om daarin te woon3 en dat Hy wat die Seun van God was, Seun van die mens geword het - nie deur die wese van die een met dié van die ander te vermeng nie maar deur die eenheid van sy Persoon. Want ons verklaar dat sy Goddelikheid op so 'n wyse met sy menswees verbind en verenig is dat die eie aard4 van albei se nature ten volle bly en dat tag uit die twee nature net een Christus tot stand kom.5

As daar nog iets onder die mensdom soortgelyk aan so 'n groot geheimenis te vinde is, lyk dit asof 'n vergelyking met die mens die gepaste is, want ons merk dat hy uit twee substansies bestaan, waarvan die een tag nie so met die ander vermeng is dat dit nie die eie aard van sy eie natuur behou nie. Want siel is nie liggaam nie en liggaam is nie siel nie.6 Daarom sê ons van die siel afsonderlik iets wat hoegenaamd nie op die liggaam betrek kan word nie. Aan die ander kant sê ons weer iets van die liggaam wat glad nie by die siel pas nie, en ook van die volle mens, wat nog afsonderlik van die siel nog van die liggaam verstaan kan word tensy dit dwaas gedoen word. Ten laaste word dit wat eie aan die siel is, op die liggaam oorgedra en dit wat eie aan die liggaam is, op die siel. Tog is iemand wat daaruit bestaan, net een mens en nie meer mense nie. Sulke spreekwyses dui aan dat daar een persoon in die mens is wat uit 'n samevoeging van die twee bestaan, en dat daar twee verskillende nature is wat hierdie een persoon tot stand bring.7

So praat die Skrif ook van Christus. Die Skrif skryf soms dinge aan Hom toe wat afsonderlik op sy menswees toegepas moet word, soms ook weer dinge wat in besonder by sy Goddelikheid pas, en soms dinge wat albei nature saamvat maar nie by elkeen afsonderlik pas nie. En die verbinding tussen die tweevoudige nature wat in Christus aanwesig is, druk die Skrif met soveel eerbied uit dat dit die nature soms met mekaar deel. Dit is 'n stylfiguur wat die skrywers van ouds "mededeling van eienskappe"8 genoem het.

2. Die Wisselwerking tussen Christus se Goddelike en Sy Menslike Natuur.🔗

Hierdie dinge sou nie vas genoeg gewees het as dit nie was dat ons oral baie uitdrukkings in die Skrif teenkom wat bewys dat geeneen hiervan deur die mens uitgedink is nie. Dit wat Christus van Homself gesê het, naamlik: "Ek is voordat Abraham gebore was''9 is heeltemal vreemd aan sy menswees. Dit is nie aan my onbekend met watter bespotting dwaalgeeste hierdie Skrifverwysing misvorm nie wanneer hulle sê dat Christus voor al die tye was omdat Hy in sowel die raadsplan van die Vader as in die verstand van godvrugtiges toe alreeds vooraf as Verlosser bekend was.10 Aangesien Hy egter die dag van sy openbaring openlik van sy ewige Wese onderskei en doelbewus die heerskappy waarin Hy Abraham te bowe gaan, van die verre verlede af vir Homself opeis, eis Hy ongetwyfeld iets vir Homself wat sy Goddelikheid toekom. Die feit dat Paulus verklaar dat Hy die Eersgeborene van die hele skepping is omdat Hy voor alle dinge bestaan het en alle dinge deur Hom ontstaan11, en dat Hy verkondig dat Hy heerlikheid by die Vader gehad het voordat die wêreld geskep is,12 en dat Hy saam met die Vader werk,13 val ook nie binne die mens se bevoegdheid nie. Dit is dus seker dat hierdie en soortgelyke dinge aan sy Goddelikheid toegeskrywe word. Die feit dat Hy 'n dienskneg van die Vader genoem word,14 dat daar vertel word dat Hy in ouderdom en wysheid by God en die mensegegroei het,15 dat Hy  nie sy eie heerlikheid soek nie,16 dat Hy die laaste dag nie weet nie,17 dat Hy nie uit Homself spreek nie, dat Hy nie sy eie wil doen nie,18 dat daar gesê word dat Hy gesien is en dat aan Hom gevat is,19 behoort ten volle slegs aan sy menswees. Want in soverre as wat Hy God is, kan Hy in niks toeneem nie en werk Hy alle dinge ter wille van Homself, en niks is vir Hom verborge nie. Hy doen alle dinge na die goeddunke van sy wil, en Hy is onsienlik en ontasbaar. Tog skryf Hy nie hierdie eienskappe slegs aan sy menslike natuur afsonderlik toe nie, maar Hy neem dit as sy eie aan net asof dit by sy Persoon as Middelaar pas. Die mededeling van eienskappe of besonderhede kom voor wanneer Paulus sê dat God deur sy bloed vir Homself 'n kerk verkry het20 en dat die Here van die heerlikheid gekruisig is.21 Net so wanneer Johannes sê dat die Woord van die lewe getas is.22God het gewis nie bloed nie, Hy kan nie ly nie, en Hy kan nie met hande aangeraak word nie. Omdat Hy wat waarlik God en mens was, naamlik Christus, virons gekruisig is en sy bloed vergiet het" word die dinge wat in sy menslike natuur volbring is, oneintlik maar nie sonder rede nie op sy Goddelikheid oorgedra. 'n Dergelike voorbeeld is wanneer Johannes leer dat God sy lewe vir ons afgelê het.23 Daar word 'n eienskap van sy menswees dus met sy tweede natuur gedeel. Aan die ander kant, toe Christus nog op die aarde gewerk en gesê het dat niemand in die hemel opgevaar het nie behalwe die Seun van die mens, wat in die hemel was,24 was Hy sekerlik na die mens en in die vlees wat Hy aangeneem het, nie in die hemel nie, maar omdat Hy God en mens was en omdat twee nature in Hom verenig was, aan die een natuur toegeken wat aan die ander natuur behoort het.

3. Skrifverwysings wat Christus se Ware Selfstandigheid weergee en terselfdertyd albei Sy nature saamvat.🔗

Die duidelikste van al die Skrifverwysings wat Christus se selfstandigheld25 weergee en terselfdertyd albei sy nature saamvat, kom byvoorbeeld baie dikwels in die Evangelie van Johannes voor. Want dit wat ons daar kan lees,naamlik dat Hy die mag om sondes te vergewe van die Vader ontvang het,26 om op te wek wie Hy wil, om geregtigheid, heiligheid en saligheid te skenk, dat Hy as Regter oor die lewendes en die dooies aangestel is, sodat Hy geëer moet word soos ook sy Vader geëer is,27 is nie 'n besondere eienskap van sy Goddelikheid of sy menswees nie maar tergelykertyd van albei. Verder word Hy die lig van die wêreld,28 die goeie herder, die enigste deur29 en die ware wynstok genoem.30 Want die Seun van God is met sulke voorregte bedeel toe Hy in die vlees geopenbaar is. Hoewel Hy dit voor die skepping van die wêreld saam met die Vader verkry het, was dit tog nie op dieselfde wyse en in dieselfde opsig nie, en dit was van so 'n aard dat dit nie aan 'n mens wat  'n blote mens was, gegee kon word nie.

In dieselfde betekenis moet ons ook die uitspraak wat by Paulus voorkom, opneem. Hy sê dat Christus die koninkryk aan God die Vader sal terugbesorg wanneer Hy sy oordeel volbring het.31Die koninkryk van die Seun van God, wat geen begin gehad het nie, sal ook geen einde hê nie. Hy is onder die nederigheid van die vlees verborge en het Homself ontledig deur die gestalte van 'n dienskneg aan te neem en die skoonheid van sy majesteit neer te lê. Hy het sy Vader gehoorsaam en so sy onderwerping volbring.32 Uiteindelik is Hy met heerlikheid en eer bekroon33 en tot die hoogste heerskappy verhef sodat elke knie voor sy aangesig moet buig.34 Net so sal Hy die naam self en die kroon van heerlikheid en alles wat Hy van die Vader ontvang het, weer aan die Vader onderwerp, sodat God alles in almal kan wees.35

Met watter doel is die mag en heerskappy dan aan Hom gegee anders as dat die Vader ons deur sy hand regeer? Dit is die betekenis daarvan wanneer gesê word dat Hy aan die regterhand van die Vader sit.36 Dit is inderdaad net tydelik totdat ons die teenwoordigheid van sy Goddelikheid aanskou ten geniet. Hier kan die dwaling van die skrywers van die ou tyd nie verontskuldig word nie. Terwyl hulle geen ag slaan op sy Persoon as Middelaar nie, verduister hulle die egte betekenis van bykans die hele leer wat ons in die Evangelie van Johannes lees, en hulle woel hulleself in baie valstrikke vas.37 Laat die sleutel om dit na regte te verstaan dan vir ons dit wees dat die dinge wat op die amp van die Middelaar betrekking het, nie doodeenvoudig van sy Goddelike of sy menslike natuur gesê word nie. Christus sal dus heers totdat Hy as Regter van die wêreld sal verskyn in soverre as wat Hy ons na die maat van ons swakheid met die Vader verenig. Maar wanneer ons in sy hemelse heerlikheid deel en God sien soos Hy is, sal Hy sy amp as Middelaar volbring en sal Hy ophou om 'n gesant van die Vader te wees. Hy sal dan die heerlikheid aanvaar wat Hy voor die skepping van die wêreld gehad het. Die woord Here pas ook in geen ander opsig in besonder by die Persoon van Christus as in soverre Hy 'n plek tussen God en ons inneem nie.38

Paulus se uitspraak is ook hierop van toepassing. Hy sê. "Daar is een God uit wie alle dinge is, en een Here deur wie alle dinge is".39 Dit is Hy aan wie die heerskappy tydelik deur die Vader toevertrou is, totdat sy Goddelike majesteit van aangesig tot aangesig gesien kan word. Wanneer Hy die heerskappy aan die Vader teruggee, sal dit nie alleen geen afbreuk aan sy majesteit doen nie, maar dit sal nog baie duideliker aan die lig kom. Want God sal dan ophou om Christus se Hoof te wees, omdat die Godheid van Christus self vanself sal skitter, aangesien dit nou nog versluier is.

4. 'n Weerlegging van Nestorius en Eutyches se dwalings.🔗

As ons hierop let, sal dit van groot nut wees om baie probleme op te los mits my lesers dit maar net verstandig toepas. Want dit is wonderlik hoe sulke uitdrukkings onkundiges,40 ja, selfs ook sommige mense wat nie heeltemal ongeleerd is nie,41 kwel wanneer hulle merk dat dit aan Christus toegeskryf word en nogtans nie genoeg by sy Goddelikheid en sy menswees pas nie. Hulle dink trouens nie daaroor na dat sulke verklarings met sy Persoon waarin Hy as God en as mens geopenbaar is, en met sy amp as Middelaar ooreenstem nie. Dit beteken dus om nie te sien hoe pragtig al die afsonderlike fasette daarvan saamhang nie, mits dit maar net 'n nugter vertolker vind om sulke geheimenisse met gepaste eerbied te ondersoek.42

Daar is inderdaad niks wat waansinniges en dwaalgeeste nie deurmekaar kan krap nie. Hulle gryp die eienskappe van sy menswees aan om Christus se Goddelikheid weg te neem en dan weer die eienskappe van sy Goddelikheid om sy menswees te vernietig. Dan weer gryp hulle die eienskappe aan waarvan ons gesê het dat hulle so nou aan albei sy nature verbonde is dat dit nie by een van die twee alleen pas nie, om albei sy nature te vernietig43 Wat is dit anders as om te beweer dat Christus nie 'n mens is nie, omdat Hy God is, dat Hy nie God is nie, omdat Hy mens is en dat Hy nie mens en ook nie God is nie, omdat Hy terselfdertyd mens en God is? Ons stel dit dus onomwonde dat Christus as God en as mens uit twee verenigde maar nie met mekaar vermengde nature bestaan nie en dat ons Here en waaragtige Seun van God is, selfs volgens sy menswees, maar nie omrede sy menswees nie.

Ons moet trouens die dwaling van Nestorius44 ver van ons verdryf. Terwyl hy die tweevoudige natuur van Christus uitrnekaar wou skeur eerder as om dit te onderskei, het hy 'n dubbele Christus versin. Want ons sien dat die Skrif duidelik sy stem daarteen verhef wanneer Hy wat uit 'n maagd gebore word, die Seun van God genoem45 en dat sy die moeder van ons Here genoem word.46 Ons moet ook waak teen die waansinnigheid van Eutyches47 sodat ons nie beide sy nature vernietig wanneer ons die eenheid van sy Persoon wil aantoon nie. Want ons het alreeds soveel Skrifgetuienisse aangehaal waar sy Goddelikheid van sy mensheid onderskei word. Daar is oral soveel ander getuienisse om sulke twisgierige mense se monde te snoer. Ek sal 'n rukkie later enkeles hiervan aanhaal om Euryches se versinsel nog beter te vernietig.48 Vir die huidige sal slegs een verwysing vir ons genoeg wees. Want Christus sou sy liggaam nie 'n tempel genoem het49 as sy Goddelikheid nie duidelik daarin gewoon het nie. Daarom is Nestorius tereg op die Sinode van Efese50 verdoem en later Eutyches ook by die Sinode van Konstantinopel51en Chalcedon,52 omdat hulle die twee nature van Christus ewe min mog vermeng as wat hulle dit uitmekaar mog skeur.

5. 'n Weerlegging van Servet se dwaling in verband met die Godheid en menswees van Christus.🔗

In ons tyd het daar inderdaad 'n monster verskyn wat nie minder verderflik is nie, naamlik Michèl Servet.53 Hy het 'n versinsel uit die Wese van God, uit sy Gees, uit sy vlees en uit drie elemente wat nie geskep is nie, saamgeflans en in die plek van die Seun van God gestel.54 Eers sê hy wel dat Christus om geen ander rede die Seun van God is nie behalwe in so verre Hy uit die Heilige Gees in die skoot van die maagd voortgebring is nie. Hy span sy skelmstreke in om die onderskeid tussen die twee nature te vernietig sodat Christus iets word wat uit God en mens vermeng is en tog nie as God en mens beskou kan word nie.55 Want in die hele verloop van sy betoog lê hy hom daarop toe om te bewys dat daar slegs skaduagtige gestaltes in God was voordat Christus in die vlees geopenbaar is. Die waarheid of gevolg daarvan kom volgens hom eers aan die lig wanneer die Woord wat vir hierdie eer bestem was, waarlik begin om die Seun van God te wees.56

Sover dit ons aangaan bely ons dat die Middelaar, wat uit 'n maagd gebore is, regtig die Seun van God is.57 Want die mens Christus sou nie 'n spieël van die onskatbare genade van God gewees het as hierdie waardigheid nie aan Hom gegee is om die eniggebore Seun van God te wees en so genoem te word nie. Intussen bly die oordeel van die kerk nogtans onwrikbaar vas staan, naamlik dat Hy as die Seun van God beskou word omdat die Woord voor die tyd uit die Vader gegenereer is en deur 'n wesenlike eenwording58 die mens se natuur aangeneem het. Verder het die skrywers van die ou tyd onder wesenlike eenwording dit bedoel wat een Persoon uit twee nature tot stand gebring het.59 Dit is 'n uitdrukking wat geskep is om Nestorius se kranksinnigheid te weerlê, want Hy het hom verbeel dat die Seun van God so in die vlees ingewoon het dat dieselfde Seun nie ook mens was nie.

Servet beskuldig ons valslik daarvan dat ons 'n tweevoudige Seun van God maak wanneer ons sê dat die ewige Woord alreeds die Seun van God was nog voordat Hy met vlees beklee is.60 Net asof ons iets anders sê as dat Hy in die vlees geopenbaar is. Want as Hy God was voordat Hy mens geword het, beteken dit nie dat Hy daarom begin het om 'n nuwe God te wees nie. Daar is ook geen ongerymdheid daarin dat Hy as Seun van God in die vlees verskyn het nie, omdat Hy tog van sy ewige geboorte af bestem was om die Seun te wees. Die woorde van die engel aan Maria dui dit ook aan: "Die Heilige wat uit jou gebore sal word, sal die Seun van God genoem word",61 net asof hy sê dat die Naam van die Seun, wat onder die wet baie vaag was, beroemd en oral bekend sou word. Paulus se verklaring stem ook hiermee ooreen, naamlik dat ons met vrymoedigheid en vertroue kan uitroep: "Abba, Vader", omdat ons nou deur Christus kinders van God is.62 Is die heilige aartsvaders dan nie ook vroeër as kinders van God beskou nie? Ja, want hulle het op hierdie reg vertrou en God as hulle Vader aangeroep! Maar omdat sy hemelse vaderskap duideliker bekend geword het sedert die tyd waarop die eniggebore Seun van God in die wêreld gebring is, skryf Paulus dit as 'n voorreg aan die ryk van Christus toe. Tog moet ons onwrikbaar daaraan vashou dat God nooit die engeIe of die mense se Vader was nie behalwe vanweë sy eniggebore Seun en dat die mense vir wie God as gevolg van hulle eie ongeregtigheid gehaat het, besonderlik deur sy genadige aanneming sy kinders is, omdat Christus dit van nature is. Servet het geen rede om teen te stribbel dat dit van sy Seunskap afhang, wat God lankal reeds verorden het nie.63 Dit gaan hier immers nie om beelde, soos die versoening in die bloed van offerdiere vertoon is nie. Terwyl hulle egter nie werklik kinders van God kon wees as hulle aanneming nie in Christus as hulle Hoof gegrond was nie, is dit onredelik om iets van die Hoof weg te neem waarin al die lede gedeel het. Ek gaan nog verder: aangesien die Skrif die engele kinders van God noem64 omdat hulle aansien, wat so groot is, nie van die verlossing wat sou kom, afgehang het nie, moet Christus hulle tog in rangorde voorafgaan om hulle met die Vader te versoen.

Laat ek dit weer eens kortliks herhaal en dan dieselfde byvoeg in verband met die mensdom. Aangesien die engele sowel as die mens heel van die begin af volgens die bepaling geskep is dat God hulle albei se Vader sou wees as Paulus se opmerking waar is, maar dat Christus hulle Hoof en die Eersgeborene van die hele skepping sou wees om opperheerskappy oor almal te voer,65 lyk dit vir my asof ek na behore daaruit die afleiding kan maak dat Christus voor die skepping van die wêreld ook die Seun van God was.

6. 'n Weerlegging van Servet se opvatting dat Christus sonder die vlees nie "Seun van God" genoem kan word nie.🔗

Maar as sy Seunskap - om dit nou maar so uit te druk - eers begin het op die tydstip waarop Hy in die vlees geopenbaar is, volg daaruit dat Hy ook ten opsigte van sy menslike natuur sy Seun was. Servet en dergelike dwaalgeeste66 se opvatting is dat Christus wat in die vlees verskyn het, die Seun van God is maar dat Hy buite die vlees nie so genoem kon word nie.67 Laat hulle my nou antwoord op my vraag of Hy 'n Seun is volgens albei nature en ten opsigte van elk hiervan.68 Hulle klets wel dat dit so is, maar Paulus leer iets heeltemal anders.

Ons erken wel dat Christus in die vlees van die mens 'n Seun genome word, nie soos die gelowiges slegs deur aanneming en genade nie maar waaragtig en natuurlik en daarom enig om Hom na aanleiding van hierdie kenmerk van alle ander kinders te onderskei. Want God ag ons wat in 'n nuwe lewe weergebore is, waardig om sy kinders genoem te word, maar die naam ware eniggebore Seun ken Hy net aan Christus toe. Maar hoe kan Hy onder so 'n groot aantal broers die enige Seun wees tensy Hy van nature het wat ons as gawe ontvang het? Ons brei hierdie eer uit tot sy volle Persoon as Middelaar, sodat Hy wat uit 'n maagd gebore is en Homself as offerande aan die kruis aan die Vader geoffer het, waaragtig en besonderlik die Seun van God is. Maar dan is Hy tog waaragtig Seun van God ten opsigte van sy Goddelikheid soos Paulus ons leer wanneer hy sê dat Hy afgesonder is vir die evangelie van God  wat Hy tevore belowe het aangaande sy Seun, wat na die vlees uit die saad van Dawid gebore is en in krag as die Seun van God verklaar is.69 Terwyl hy Christus uitdruklik die Seun van Dawid na die vlees noem, waarom sou hy dan daarna sê dat Hy as Seun van God verklaar is, tensy hy te kenne wou gee dat dit van elders as die vlees kom? Want elders sê hy in dieselfde betekenis dat Hy vanweë die swakheid van sy vlees gely het maar dat Hy vanweë die krag van die Gees opgestaan het.70 So maak hy nou 'n onderskeid tussen die twee nature van Christus. Hulle moet gewis toegee dat, soos Hy dit van sy moeder ontvang het om die Seun van Dawid genoem te word, Hy dit ook so van sy Vader ontvang het om die Seun van God te wees en dat dit iets anders as sy menslike natuur is en daarvan verskil. Die Skrif teken Hom met twee name, wanneer dit Hom oral nou Seun van God en dan weer die Seun van die mens noem. Ten opsigte van die tweede benaming kan ons dit nie betwis dat Hy volgens die algemene Hebreeuse taalgebruik Seun van die mens genoem word omdat Hy uit die nageslag van Adam is nie. Aan die ander kant hou ek vol dat Hy vanweë sy Goddelikheid en sy ewige Wese die Seun van God genoem word, want dit is betaamlik dat sy Naam as Seun van God ewe toepaslik op sy Goddelike natuur moet wees as wat sy naam as Seun van die mens op sy menslike natuur van toepassing is.

Kortom: in ons aanhaling verstaan Paulus dat Hy wat na die vlees uit die saad van Dawid gebore is, in krag as Seun van God verklaar is. Dit is nie anders as dit wat hy elders leer nie, naamlik dat Christus, wat na die vlees uit die Jode gekom het, God is wat tot in ewigheid geprys moet word.71 Maar ashy dan in albei aanhalings op die onderskeid wys, met watter reg sal hulle dan beweer dat Hy wat na die vlees die Seun van die mens is, nie ook ten opsigte van sy Goddelike natuur die Seun van God is nie?

7. 'n Weerlegging van die Antitrinitariërs se beroep op Rom. 8:32 en Luk. 1:32, waarvolgens hulle 'n tweevoudige Christus versin.🔗

Hulle dring wel rumoerig daarop aan dat hulle dwaling daardeur verdedig word dat gesê word dat God sy eie Seun nie gespaar het nie72 en dat die engel beveel het dat Hy wat uit 'n maagd gebore is, die Seun van die Allerhoogste genoem moes word.73 Maar om te verhoed dat hulle oor so 'n leë beswaar hooghartig sou wees, moet hulle 'n bietjie saam met ons oorweeg hoe sterk hulle redenasie is.74 Want as ons met reg tot die slotsom geraak dat Hy van sy ontvangenis af begin het om die Seun van God te wees, omdat Hy wat ontvang is, 'n Seun genoem word, sal  daaruit volg dat Hy vanaf sy openbaring in die vlees begin het om die Woord te wees. Johannes leer immers dat hy die Woord van die lewe verkondig wat sy hande getas het.75 Ons lees iets dergeliks by die profeet: "Jy, Betlehem, land van Juda, jy is klein onder die duisende van Juda, uit jou sal daar 'n leier vir My gebore word om oor my volk Israel te heers, en sy uitgange is van die begin af en van ewigheid af".76 As hulle dan so 'n metode van redenering wil volg, hoe sal hulle dan gedwing word om dit uit te lê? Want ek het alreeds getuig dat ons glad nie met Nestorius saamstem wanneer hy 'n tweevoudige Christus versin nie, omdat Christus volgens ons leer ons kragtens broederlike verbondenheid saam met Hom kinders van God gemaak het. Want in die vlees wat Hy van ons aangeneem het, is Hy self die eniggebore Seun van God.

Augustinus leer verstandig dat dit 'n voortreflike spieël van die wonderlike en sonderlinge genade van God is dat Christus in soverre Hy mens is, 'n eer gekry het wat Hy nie kon verdien nie.77 Christus was dus van die moederskoot af ook na die vlees met hierdie uitnemendheid versier om die Seun van God te wees. En tog moet ons in die eenheid van sy Persoon nie 'n vermenging versin om iets wat aan sy Godheid eie is, daaruit weg te neem nie.78 Dit is ook nie minder ongerymd dat die ewige Woord van God en Christus, wanneer dié twee nature in een Persoon verenig is, op verskillende maniere die Seun van God genoem word as dat Hy in verskillende opsigte nou die Seun van God en dan weer die Seun van die mens genoem word nie.

Teen 'n ander vorm van Servet se laster het ons ewe veel beswaar. Hy sê dat, voordat Christus in die vlees verskyn het, Hy nêrens die Seun van God genoem word nie behalwe onder 'n gedaante.79 Hy was trouens toe nog nie so duidelik beskryf nie. Ons het tog immers alreeds duidelik bewys dat Hy slegs ewige God was omdat Hy deur die ewige Vader as die Woord gegenereer was en dat hierdie term, naamlik Seun van God, slegs by sy Persoon as Middelaar pas wat Hy op Hom geneem het omdat Hy as God in die vlees geopenbaar is, en dat God die Vader ook nie van  die begin af so genoem sou gewees het as Hy nie toe al 'n wedersydse verhouding met die Seun gehad het deur wie elke geslag en vaderskap in die hemel en op die aarde gereken word nie.80

Daarom is dit voor die hand liggend om hieruit af te lei dat Hy ook onder die wet en die profete die Seun van God was voordat hierdie naam algemeen in die kerk bekend was. As die geskil dan slegs om die word Seun alleen gaan, verklaar Salomo dat sy Seun sowel as Hyself onbegryplik is wanneer hy oor die oneindige hoogheid van God praat. Hy sê: "Noem sy Naam of die Naam van sy Seun - as jy kan".81 Ek weet dat hierdie getuienis vir twisgierige mense nie genoeg gewig sal dra nie,82 en ek steun ook nie baie sterk daarop nie, behalwe dat dit toon dat die mense kwaadwillig redeneer wat beweer dat Christus nie die Seun van God is nie, behalwe in soverre as wat Hy mens geword het. Hierby kom die feit dat al die oudste skrywers uit een mond en eendragtig getuig het dat dit so is, sodat die onbeskaamdheid van die mense wat waag om Irenaeus en Tertullianus teen ons in te bring, terwyl hulle albei erken dat die Seun van God onsienlik was maar later sienlik verskyn het.83 nie minder  belaglik as verfoeilik is nie.

8. 'n Verdere weerlegging van Servet se dwaalleer.🔗

Hoewel Servet 'n verskriklike hoop drogredenasies bymekaar gemaak het, wat sommige lasteraars miskien nie sou onderskryf nie, sou 'n mens tog vind as jy nader daarop aandring, dat almal wat Hom nie as die Seun van God erken nie behalwe in die vlees, dit slegs om dié rede toegee dat Hy in die skoot van die maagd uit die Heilige Gees ontvang is. So het die Manicheërs ook vroeër die onsin kwytgeraak dat die mens 'n siel het wat uit God spruit.84 omdat hulle gelees het dat God die asem van die lewe in Adam ingeblaas het.85 Want hulle byt so vas en raap die woord Seun so op dat hulle geen onderskeid tussen sy twee nature oorlaat nie maar verward babbel dat Christus as mens die Seun van God is, omdat Hy na sy menslike natuur uit God gegenereer is.86 So word die ewige generering van sy Wysheid wat Salomo verkondig.87 vernietig en sy Godheid as Middelaar nie in aanmerking geneem nie, of daar word 'n skim in sy plek as mens gestel.

Dit sou wel nuttig wees om Servet se growwe goëltoertjies waarmee hy homself en sommige ander betower het te weerlê, sodat vroom lesers  deur hierdie voorbeeld vermaan kan wees dat hulle nugter en beskeie moet optree. Tog meen ek dat dit oorbodig sal wees omdat dit alreeds in een van my boeke gedoen is.88 Dit kom samevattend hierop neer dat die Seun van God van die begin af 'n idee was en dat Hy toe alreeds vooraf verordineer is om 'n mens te word wat die wesenlike beeld van God sou wees.89 Hy erken ook geen ander Woord van God behalwe in 'n uiterlike afskynsel nie.

Sy vertolking van hierdie generering is dat die wil om 'n Seun te genereer van die begin af in God ontstaan het en dat Hy sy wil in die daad omgesit het toe Hy die Woord geskep het. Intussen verwar hy die Gees juis met die Woord, omdat God dan sy onsigbare Woord en Gees onder vlees en siel sou verdeel het. Kortom: 'n afbeelding van Christus neem by hom die plek van geboorte in. Hy beweer egter dat Hy wat toe na sy uiterlike 'n skaduagtige Seun was, uiteindelik deur die Woorq gebore is, en aan die Woord ken hy die funksie van saad toe. Daaruit volg dat varke en honde ook kinders van God is want hulle is uit die oorspronklike saad van die Woord van God geskep. Hoewel hy Christus uit drie ongeskape elemente saamflans om uit die Wese van God gebore te wees, skep hy die versinsel dat Hy tog op so 'n wyse die Eersgeborene onder die skepsels is dat klippe volgens hulle aard dieselfde wesenlike godheid het. Maar om te verhoed dat dit sou lyk asof hy Christus sy Godheid ontneem, verklaar hy dat sy vlees wesensgelyk90 is met God en dat die Woord vlees geword het91  deur 'n verandering van sy vlees in God. Terwyl hy nie kan begryp dat Christus God se Seun is nie tensy sy vlees uit die Wese van God voortgekom het en in Godheid verander is, vernietig hy die ewige Wese92 van die Woord en hy beroof ons van die Seun van Dawid, wat as Verlosser aan ons belowe is. Hy herhaal wel baie dikwels dat die Seun deur kennis en voorbestemming uit God gebore is maar dat Hy uiteindelik mens geword het uit die stof wat in die begin in drie elemente by God geskitter het. Daarop het dit in die eerste lig van die wêreld,93 in 'n wolk- en 'n vuurkolom verskyn.94

Dit sou verder te lank neem om te vertel hoe skandelik hy altyd met homself in stryd is. Uit hierdie samevatting sal lesers met gesonde verstand kan aflei dat die hoop op saligheid volkome deur die listige ompaadjies van hierdie onreine hond uitgedoof is. Want as die vlees van Christus sy Goddelikheid was, sou dit opgehou het om 'n tempel te wees. Hy kan ook nie ons Verlosser wees nie, behalwe as Hy, wat uit die saad van Abraham en Dawid voortgebring is, waarlik na die vlees 'n mens geword het. Hy dring ]ohannes se woorde, naamlik dat die Woord vlees geword het,95 verkeerdelik aan ons op, want soos hierdie woorde Nestorius se dwaling weerlê, so help hierdie hersenskim waarvan Euryches die skepper was,96 hom glad nie, aangesien die evangelieverkondigers slegs die doel gehad het om die eenheid van sy Persoon in twee nature te bewys.

Endnotes🔗

  1. ^ Calvyn beweeg hier heeltemal in ooreenstemming met die tradisionele Christologie. Vgl. ook Thomas, Summa Theol. 3.1-7 (Marietti 4:4 e.v.). Calvyn se uiteensetting hier is 'n aanloop tot die weerlegging van Servet se dwaalleer soos vervat in sy De Trin. error. libri septem (1531), Dial. de Trin. libri duo (1532) en Christ. rest. (1553). Vgl. Calvyn, Com. in ev. Joannis 1:1 e.v. (OC 47:1 e.v. en veral 47:13).
  2. ^ Marg. Iohan. 1.b.14.
  3. ^ Vgl. Calvyn, Com. in ev. Iohan. 1:14 (OC 47:14 e.v.).
  4. ^ Proprietas. Vgl. Inst. 1.13.6 (Afr. vert. 1:219-220).
  5. ^ Vgl. Calvyn, Com. in harm. ev. (Matt. 24:36): Scimus enim duas naturas in Christo ita fuisse coniunctas in unam personam, ut sua cuique proptietas maneret: praesertim vero quieuit divinitas, seque minime exseruit, quoties ad implendum mediatoris officium interfuit humanam naturam seorsum operari, quod suum erat (Ons weet trouens dat die twee nature in Christus op so 'n wyse in een Persoon saamgesnoer is dat elkeen se eie aard gebly het: sy Goddelikheid het immers veral tot rus gekom en Homselfweinig aan die lig gebring so dikwels as dit vir sy menslike natuur ter vervulling van sy amp as Middelaar van belang was om afsonderlik te werk, wat ook sy amp was - OC 45:672).
  6. ^ Calvyn word na aanleiding van hierdie uiteensetting dikwels as dualis bestempel, maar vgl. Matt. 10:28; 1 Thess. 5:23; Openb. 6:9 en 20:4.
  7. ^ Vgl. Augustinus, Sermo 186 (MPL 38:999); Ench. 36.11 (MPL 40:250).
  8. ^ Communicatie idiomatum is die onderlinge mededeling van eienskappe van die twee nature van Christus kragtens die eenheid van sy Persoon. Dit kom duidelik hier na vore na aanleiding van Servet se gebruik daarvan by verskeie geleenthede in sy De Trin. error. (1532) 9a, fol. B1; 11a, fol. B3; 38b, fol. E3. Spore van hierdie leer kom reeds voor by Origenes se verdediging teen Celsus, naam lik Contra Celsum 2.9 en 3.28 (MPG 11:810-811; 954-955); Cyrillus Alexandrinus, De incarnatione Unigeniti (MPG 75:1244, 1249). Dit ontwikkel uitdruklik leerstellig vanaf Leo I, Ep. 28.5 (MPL 54:772, passim), Leontius van Bysantium, Contra Nestorianos et Butycbianos (MPG 86:1304) en Johannes Damascenus, De fide ortbodoxa 3.3, e.v. (MPG 94:988-1017). Vgl. Harnack 1:688-689; 2:354; 3:501; RPTK4:254-261; CE 2:261 e.v. Vg!. ook Calvyn se Refutatie error. M. Serveti (OC 8:561)
  9. ^ Marg. Iohan. 8.g.58.
  10. ^ Die verwysing is na Servet se De Trin. error. 3, 68a. fol. i 4. Vgl. ook Calvyn se antwoord op Servet se derde vraag in sy Refutatio error. M. Serveti (OC 8:491).
  11. ^ Marg. Coloss. 1.b.15.
  12. ^ Marg. Ioban. 17.a.5.
  13. ^ Marg. Ioban. 5. c.17.
  14. ^ Marg. Iesa. 42.a.l. & aliis locis. Vgl. ook Jes. 43:10; 52:13; 53:11.
  15. ^ Marg. Luc. 2.g.52
  16. ^ Marg. Ioban. 8.f50.
  17. ^ Marg. Marc. 13.d.32.
  18. ^ Marg. Ioh. 14.b.l0. & 6.d.38.
  19. ^ Marg. Luc. 24.f39.
  20. ^ Marg. Act. 20.f28.
  21. ^ Marg. 1 Cor. 2.b.6 (recte: 1 Kor. 2:8).
  22. ^ Marg. Iohan. 1.a.l.
  23. ^ Marg. 1. Iohan. 3.c.16.
  24. ^ Marg. Ioban. 3.b.13.
  25. ^ Substantia. Vgl. Inst. 1.13.2 e.v. (Afr. vert. 1:213 e.v., n. 12, n. 21 en n. 24).
  26. ^ Marg. Ioahn. (sic!) 1.d.29.
  27. ^ Marg. Ibidem 5.d.21.22.23. Joh. 5:21-23.
  28. ^ Marg. Ibidem. 9.a.5. Joh. 9:5. Vgl. ook Joh. 8:12.
  29. ^ Marg. Ibidem. lo.b.9.11. Joh. 10:9, 11 1559-1560: hostium. Recte. ostium.
  30. ^ Marg. Ibidem. 15.a.l. Joh. 15:1.
  31. ^ Marg. 1 Cor. 15.c.24.
  32. ^ Marg. Philip. 2. b.8. Vgl. ook Fil. 2:7.
  33. ^ Marg. Heb. 2.a.6 (recte: Hebr. 2:9).
  34. ^ Marg. Phil. 2.b.l0.
  35. ^ Marg. 1 Cor. 15.d.28.
  36. ^ (Mark. 16:19; Rom. 8:34.)
  37. ^ Calvyn verwys hier waarskynlik na die dwalings in verband met die vereniging van die twee nature van die Middelaar in die 5de eeu. Vgl. n. 44 hieronder.
  38. ^ Hierdie uiteensetting is oor die algemeen gerig teen die Antitrinitariërs soos Servet, Gribaldi, Blandrata en I-P Alciati. Vgl.Inst. 1.13.2 (Afr. vert. 1:212, n.5); OC 9:257-420; Fazy, Procès de Vatentin Gentilis et de Nicolas Gallo (1558). Omdat dit egter die aanloop is tot 'n weerlegging van Servet se dwaling, het dit hier klaarblyklik betrekking op sy uiteensetting van die inhoud van die woorde Jahwe, Elohim en Adonai, wat Servet in Paulus se verklaring van 1 Kor. 8:6 saamtrek (Servet, De Trin. error. 1:14b. fol. b 6 - 16 a. fol. b 8).
  39. ^ Marg. 1 Cor. 8.b.6.
  40. ^ Onder onkundiges sluit Calvyn sekere Anabaptiste soos Hermann de Gerbihan Leodiensis e.a. in. Vgl. Ep. 206,211 roe 11:11,25; Herminjard 4:272, n. 7; 5:113, n. 14).
  41. ^ Waarskynlik 'n verwysing na Servet, Blandrata en Gentilis. Vgl. n. 38 hierbo.
  42. ^ Marg. Aug. in Ertchir. ad Laur. cap. 36 Augustinus, Ench. ad Laurent. 34.10 e.v. (MPL 40:249 e.v.).
  43. ^ .Vgl. Servet, De Trin. error. 1, fol. 2b e.v.; 2, fol. 58 a, b.
  44. ^ Nestorlus. 'n Siriese monnik en patriarg van Konstanttnopel sedert 428, was 'n vurige bestryder van die vangwoord Theotokos, di. dat Maria die moeder van God was. Hy het sterk nadruk gelë op die tweeheid van Christus se nature, omdat hy die leer van Apollinaris en die Monofisiete gevrees het. Hy is op die Ekumeniese Konsilies van Efese (431) en van Chalcedon (451) veroordeel. Hy is in 451 in ballingskap oorlede (CE 5:190; Benoit 2:257; RPTK 13:736-749; Mansi 6:529 e.v.).
  45. ^ Marg. Luc. 1.c.32.
  46. ^ Marg. Ibidem d.43. Luk. 1:43.
  47. ^ Calvyn verwys hier na Euryches en die Monofisiete, wat geleer het dat daar na die vereniging van Christus se Goddelike en menslike natuur in die vleeswording van die Woord slegs van één natuur sprake kan wees. Vgl. n. 8. hierbo. Oor die veroordeling van Eutyches deur die eerste Konsilie van Konstantinopel (448) kyk Mansi 6:495-498. 'n Samevatting van Eutyches se leer, naam lik dat Christus voor sy menswording twee nature en daarna slegs één natuur gehad het, kom ook voor in 'n brief van Flavianus aan pous Leo I (Mansi 5:1255-1258). In 449 is hy deur die tweede Sinode van Konstantinopel herstel (Mansi 6:503-508).Die verhoor en finale veroordeling van hierdie verwarde ou kloosterowerste op die Konsilie van Chalcedon (451) is weergegee in Mansi 6:650 e.v., vera16:739 e.v. Oor Euryches kyk CE 2:668; RPTK 5:635-647; Harnack 2:376 e.v., Benoit 2:257, n. 3. Oor die Monofisiete kyk CE 5:69; RPTK 13:372-401; Harnack 2:352 e.v., 400-424. Vgl. Cyrillus Alexandrinus (+ 444),Expositio in Joan. Ev. 5.2 (MPG 73:757 e.v.).
  48. ^ Vgl. Inst. 2.14.6-8 (Afr. vert. 2:642-647).
  49. ^ Marg. Iohan. 2. c.l9.
  50. ^ Dit is die sogenaamde Rowersinode, 431 n.C. (Mansi 4:1211).
  51. ^ 448 n.C. (Mansi 6:495 - 498).
  52. ^ 451 n.C. (Mansi 7:114).
  53. ^ Vgl. o.a. Inst. 2.14.1 (Afr. vert. 2:634, n.t), 2.14.2 (Afr. vert. 2:635, n. 10).
  54. ^ Servet, De Trin. error. (1531), hfst. 1, waar hy 'n uiteensetting gee van die uitdrukkings Jesus Christus, Seun van Goden Christus as God, voordat Hyvan Woord, Geesen vleespraat. Insy Refutatio error. M. Serveti (OC 8:640 e.v.)gee Calvyn 'n duidelike samevatting van Servet se leer. Vgl. ook die uittreksels van stellings in Servet se werke in OC 8:501 e.v. en sy briewe aan Calvyn (OC 8:649 e.v.). Oor die drie elemente van Servet kyk OC 8:504.
  55. ^ Vgl. Servet, De Trin. error. 2:45a, fol. f5 e.v., kyk ook Stelling 9 uit Servet se werke (OC 8:502 e.v.).
  56. ^ Vgl. ibid. 2:47b, fol. f7 en oe 8:504-505.
  57. ^ Calvyn, Refutatio errorum M. Serveti: Resp. ad primam quaest. (OC 8:482).
  58. ^ Unione hypostatica. Vgl. Calvyn, Refutatie error. M. Serveti (OC 8:561), wat feitlik woordeliks hiermee ooreenstem.
  59. ^ Vgl. n. 47 hierbo, ook o.a. Cyrillus Alexandrinus, Apologeticus contra Theodoretum pro XII capitibus (MPG 76:401A); Mansi 7:115; RPTK 4:49 e.v.
  60. ^ Servet, Christ. rest. de Trin. 1:38; Ep. 9 (OC 8:667-669).
  61. ^ (Luk. 1:35.)
  62. ^ Marg. Rom. 8.c.15. Vgl. ook Rom. 8:14,16; Gal. 4:6.
  63. ^ Servet, Christ. rest. de Trin. 1:14.
  64. ^ Marg. Psal. 82.a.6.
  65. ^ Marg. Coloss. 1.b.15​
  66. ^ Calvyn verwys hier na die Antitrinitariërs soos Blandrata, Gentilis en Alciati. Vgl. Inst. 1.13~13 e.v. (Afr. vert. 1:229 e.v.) en aantekeninge in verband daarmee.
  67. ^ Servet, Christ. rest. de Trin. 1:11; vgl. ook die samevatting van Servet se stellings (Excerptae - OC 8:502).
  68. ^ Servet, Ep. secunda (OC 8:651-653).
  69. ^ Marg. Rom. 1.a.1.2.3. Vgl. ook Rom. 1:4.
  70. ^ Marg. 2 Cor. 13.b.4.
  71. ^ Marg. Rom. 9.a.5.
  72. ^ Marg. Rom. 8.f32.
  73. ^ Marg. Luc. 1.d.32.
  74. ^ Die verwysing is na Servet (De Trin. error. 1:9b, 10a, fol. b1 en b2 ), na die Antitrinitariërs (vgl. n.66 hierbo) en waarskynlik na sommige Anabaptiste (vgl. OS 3:468, n.1.)
  75. ^ Marg. 1 Joh. 1.a.l.
  76. ^ Marg. Mich. 5.a.2 (Vg). Vgl. ook Miga 5:1; Matt. 2:6
  77. ^ Augustinus, De civ. Dei 10.29.1 (MPL 41:308; CSEL 40,1:496).
  78. ^ Vgl. Calvyn, Com. in harm. ev. (Luk. 2:40-47), waar hy hierdie gedagte breër uitwerk (OC45:104). Soortgelyke gedagtes kom ook voor by Irenaeus, Contra haereses 3.19.3 (MPG 7,1:941) en Justinus Martyr, Dialogus cum Trypbone Judaeo, 102 (MPG 6:713).
  79. ^ Servet, Ep. 8 (OC 8:664 e.v.).
  80. ^ Marg. Ephes. 3.c.15.
  81. ^ Marg. Provo 3o.a.4.
  82. ^ Calvyn, Refutatio error. M. Serveti (OC 8:535).
  83. ^ Vgl. Servet se antwoord aan Calvyn t.o.v. Tertullianus in oe 8:507-511 en t.o.v. Irenaeus in oe 8:512514. Calvyn se antwoord daarop t.o.v, Tertullianus, OC 8:522 e.v. en t.o.v. Irenaeus in oe 8:530 e.v.; kyk ook oe 8:574-584; OC 9:394-397. Servet en die ander Antitrinitariërs beroep hulle op Irenaeus se uitsprake in Contra baereses 3.16.6,3.21.10 (MPG 7,1:925 e.v., 954 e.v.) en Tertullianus s'n in Adv. Prax. 2,3,15 (MPL 2:179 - 182;196 - 198; CSEL 47:254 e.v.). Vgl. ook Augustinus, De vera religione 16.30 (MPL 34:134 e.v.): Tract. in Joan. Ev. 3.18 (MPL 35:1403); De Trin. 2.9.15 (MPL 42:854 e.v.).
  84. ^ Augustinus, Contra lul. op. impf 2.178 (MPL 45:1218). Vir die uitdrukking Ex traduce Dei vgl. Inst. 1.15.5 (Afr. vert. 1:294-295 en n. 64); 2.1.7 (Afr. vert. 2:359, n. 36).
  85. ^ Marg. Gen. 2.a. 7.
  86. ^ Hierdie en die volgende verwysings na Servet se werk is geneem uit sy Christ. rest.: De Trin. Vgl. OS 3:470, n. 4 e.v., 471, n. 1-6.
  87. ^ Marg. Eccl. 24. b.14. Jesus Sirach 24:12, Vg. Vgl. ook Spr. 8:22 e.v.
  88. ^ Calvyn, Defensio orthodoxae fidei de sacra Trinitate contra prodigiosos errores Michaelis Serve ti Hispani (OC 8:457-644).
  89. ^ Calvyn gee hier die kern van sy polemiek met Servet in verband met sy opvatting oor die voorafbestaan van Christus weer. Servet se opvatting was dat Christus 'n ideële vooratbestaan gehad het.tomdat Hy slegs in die gedagtes van God bestaan het totdat Hy by sy geboorte as mens reële bestaan gekry het. Hy het hierdie opvatting in sy Dial. de Trin. 2:249 weergegee, waar hy leer dat Christus die eerste gedagte van God was: Paulo post Christum fuisse docetprimam Dei cogitationem (OC 8:564). Calvyn se opvatting was dat daar oorvloedige Skrifbewyse is wat die Goddelike Wese van Christus aandui toe Hy nog nie 'n mens was nie (Dico plenam esse scripturam testimoniis quae diuinam Christo essentiam tribuunt, quum nondum homo esset - (OC 8:488). Servet se standpunt is ook deur Bullinger en Oecolampadius (OC 8:744, n. 1), Capito (OC 8:775) en Bucer in 'n brief (aan sy vriend Ambrosius Blaurer - OC 8:779, n. 2) en al die gereformeerde gemeentes in die omgewing en in Switserland (OC 8:793, 808 e.v.) verwerp. Benoit (2:264) se verwysing na OC 4 is verkeerd: dit moet OC 8 wees.
  90. ^ Vgl. Inst. 1.13.5 (Afr. vert. 1:217, n. 28).
  91. ^ (Joh. 1:14.)
  92. ^ Hypostasin. Vgl. Inst. 1.13.5-6 (Afr. vert. 1:216-220).
  93. ^ (Gen. 1:3.)
  94. ^ (Eks. 13:21.)
  95. ^ (Joh. 1:14.)
  96. ^ Vgl. Inst. 2.14.4 (Afr. vert. 2:639*, n. 44, n. 47).