Die Roomse Kerk beskuldig die Protestante dat hul goeie werke tot niet maak (omdat niks daarmee verdien kan word nie) en gelowiges so aanspoor om te sondig (omdat hulle onverdiende sondevergiffenis verkondig). Hierdie valse aantygings word in die hoofstuk weerlê.

1984. 7 bladsye.

Institusie van die Christelike Godsdiens (1559) - Boek 3 Hoofstuk 16 ‘n Weerlegging van die valse beskuldigings waarmee die pousgesindes poog om hierdie leer gehaat te maak

1. Die pousgesindes se beskuldigings, naamlik dat die Protestante goeie werke tot niet maak en gelowiges aanpor om te sondig.🔗

Die skaamteloosheid van sommige goddelose mense kan met dit wat tevore gesê is weerlê word. Hulle rig die valse beskuldigings teen ons (ten eerste) dat ons goeie werke tot niet maak en mense van hulle beywering daarvoor weglei wanneer ons sê dat hulle nie uit hulle werke regverdig gemaak word en hulle saligheid verdien nie.1 Ten tweede dat ons te maklik 'n pad na geregtigheid baan wanneer ons leer dat geregtigheid in die vrye vergewing van sondes geleë is en dat ons mense met hierdie verlokking uitlok om te sondig terwyl hulle alreeds vanself meer as te veel daartoe geneig is.2 Ek herhaal: hierdie beskuldiging word genoegsaam deur die voorafgaande uiteensetting weerlê. Ek sal nogtans kortliks op albei antwoord.

Hulle kla dat goeie werke deur die regverdigmaking deur die geloof tot niet gemaak word. Ek laat maar agterweë watter soort ywerige werkers van goeie werke die mense is wat ons so belaster. Laat hulle maar net so ongestraf laster as wat hulle die hele wêreld teuelloos met die onsedelikheid van hulle lewens besmet! Hulle gee voor dat hulle bedroef is wanneer die geloof so voortreflik verhef word maar die goeie werke van hulle troon afgestoot word. Maar wat daarvan as ons kan bewys dat dit deur die geloof eerder vergroot en versterk word? Ons droom immers nie van 'n geloof wat sonder goeie werke is, of van 'n regverdigmaking wat sonder goeie werke kan bestaan nie. Die onderskeid is slegs dat hoewel ons erken dat daar noodwendig 'n samehang tussen geloof en goeie werke is, ons nogtans die regverdigmaking nie in die werke nie maar in die geloof stel.

Dit is maklik om te verduidelik waarom ons dit doen, as ons ons maar net na Christus wend op wie die geloof gerig is en van wie die geloof al sy krag ontvang. Waarom word ons dan deur die geloof geregverdig? Omdat ons Christus se geregtigheid deur die geloof aangryp en deur die geregtigheid alleen met God versoen word. Jy kan hierdie geregtigheid trouens nie aangryp sonder om terselfdertyd ook die heiligmaking aan te gryp nie.3 Want Hy is tot geregtigheid, wysheid, heiligmaking en verlossing 'n ons gegee.4 Christus maak niemand dus regverdig sonder om hom terselfdertyd heilig te maak nie. Hierdie weldade is tewens met 'n ewige en onskeibare band aan mekaar verbind sodat Hy diegene verlos wat Hy met sy wysheid verlig; dat Hy diegene regverdig maak wat Hy verlos; dat Hy diegene wat Hy regverdig maak, ook heilig maak.

Maar omdat die ondersoek hier slegs oor geregtigheid en heiligmaking handel, moet ons ons hierby bepaal. Hoewel ons tussen die twee onderskei, vat Christus tag beide in Hom saam. Wil jy dus geregtigheid in Christus verwerf? Dan moet jy Christus eers besit jy kan Hom egter nie besit sonder om 'n deelgenoot in sy heiligmaking te word nie, want Christus kan nie in stukkies geskeur word nie.5 Aangesien die Here ons dus hierdie weldade laat geniet slegs deur Homself te gee, skenk Hy albei tegelyk aan ons en die een nooit sonder die ander nie. So is dit duidelik hoe waar dit is dat ons nie sonder die werke nie maar ook nie deur ons werke regverdig gemaak word nie. In die deelname in Christus waardeur ons geregverdig word, is die heiligmaking tewens net sowel as die geregtigheid ingesluit.

2. 'n Weerlegging van die pousgesindes se beswaar dat Protestante gelowiges verhinder om goeie werke te verrig as hulle geen verdienste daaruit behaal nie.🔗

Dit is ook die toppunt van valsheid om te beweer dat die gemoedere van mense van die begeerte om goed te doen weggelei word wanneer ons hulle opvatting dat hulle iets daarmee kan verdien, van hulle wegneem. Terloops moet my lesers gewaarsku wees dat hulle dwaas is om uit loon verdienste af te lei. Ek sal dit later duideliker verklaar.6 Hulle dra natuurlik geen kennis van die beginsel dat God net so vrygewig is wanneer Hy ons werke beloon as wat Hy is wanneer Hy aan ons die vermoë skenk om goed te doen nie. Ek verkies egter om dit uit te stel tot op die regte plek.

Vir die huidige sal dit genoeg wees om kortweg aan te toon hoe swak hulle beswaar is, en dit sal ek op twee maniere doen. Want ten eerste raak hulle die pad heeltemal byster wanneer hulle beweer dat 'n mens hom nie daaroor sal bekommer om sy lewe goed in te rig nie tensy die hoop op 'n beloning daarvoor aan hom voorgehou word.7 Want as dit slegs die geval is dat mense hulle oë op 'n beloning vestig wanneer hulle God dien, en hulle hulle werk aan Hom verhuur of verkoop, hou dit weinig voordeel in: God wil immers vrywillig gedien en liefgehê word. Ek sê dat Hy dié dienaar goedkeur wat ten spyte daarvan dat alle hoop om loon daarvoor te ontvang, verydel is, nogtans nie ophou om Hom te dien nie.8

Verder, as mense dan aangepor moet word om goeie werke te doen, kan niemand skerper prikkels daarvoor inspan as dié wat uit die doel van ons  verlossing en roeping spruit nie. Die Woord van die Here wend sulke prikkels aan wanneer dit leer dat dit uitermate goddelose ondankbaarheid is om nie wedersyds liefde te betoon9 teenoor Hom wat ons eerste liefgehad het nie;10 dat ons gewetens deur die bloed van Christus van dooie werke gereinig word om die lewende God te dien;11 dat dit onwaardige heiligskennis is om ons as ons eenmaal gereinig is, weer met nuwe vuilheid te besmet en sy heilige bloed te verontreinig;12 dat ons uit die hand van ons vyande bevry is om Hom sonder vrees in heiligheid en geregtigheid al die dae van ons lewe voor sy aangesig te dien;13 dat ons van die sonde bevry is om geregtigheid met 'n vrye gees te beoefen;14 dat ons ou mens gekruisig is sodat ons in 'n nuwe lewe kan opstaan.15 Net so: as ons saam met Christus gesterwe het, moet ons, soos  dit sy lede betaam, soek na die dinge wat daarbo is, en as vreemdelinge op die wêreld vertoef om na die hemel te streef, waar ons skat is;16 dat die genade van die Here hierin verskyn het dat ons alle goddeloosheid en wêreldse begeertes moet versaak en ingetoë, heilig en vroom in hierdie lewe moet lewe terwyl ons die salige hoop en die verskyning van die heerlikheid van die grote God en ons Saligmaker verwag;17 dat ons daarom nie bestem is om toorn teen onsself gaande te maak nie maar om ons saligheid deur Christus te verkry;18 dat ons tempels van die Heilige Gees is en dat ons die tempels nie mag ontheilig nie;19 dat ons nie duisternis is nie maar lig in die Here en dat ons as kinders van die lig behoort te wandel;20 dat ons nie geroep is tot onreinheid nie maar tot heiligheid; want dit is die wil van God, ons Heiligmaker, dat ons ons van onwettige begeertes moet weerhou;21 dat ons roeping heilig is;22 en dat ons nie daaraan beantwoord nie tensy ons lewe rein is; dat ons hierin van die sonde vrygemaak is om geregtigheid te gehoorsaam.23 Sou ons met 'n lewendiger redenasie as die een van Johannes tot die liefde aangespoor kan word? Hy sê dat ons mekaar moet liefhê soos God ons liefgehad  het24 en dat God se kinders hierin van die kinders van die duiwel verskil soos kinders van die lig van kinders van die duisternis omdat hulle in die liefde bly.25 Is daar 'n kragtiger redenasie as Paulus s'n? Hy verklaar dat as ons Christus aankleef, ons lede van een liggaam is wat mekaar  wedersyds met onderlinge pligte moet help.26 Of kan ons kragtiger tot heiligheid opgeroep word as wanneer ons weer van Johannes verneem dat almal wat hierdie hoop het, hulle heilig27 omdat hulle God heilig is?28 Net so uit Paulus se mond: dat aangesien ons op die belofte van aanneming steun, ons ons van al die onreinheid van ons vlees en gees moet reinig?29 Of as wanneer ons hoor dat Christus Homself as voorbeeld aan ons voorhou om in sy spore te volg?30

3. Die apostels wat ons vermaan om goeie werke te doen, maak geen melding van verdienste nie.🔗

Hierdie handjievol Skrifverwysings het ek slegs as 'n voorsmakie voorgehou.Want as dit my bedoeling was om elkeen afsonderlik op te volg, sou ek 'n groot boek daaroor moes saamstel. Al die apostels is vol vermanings, aansporings en teregwysings waarmee hulle God se mens tot elke goeie werk onderrig,31 maar hulle doen dit sonder enige vermelding van verdienste. Ja, hulle lei eerder die kragtigste aansporings daaruit af dat ons saligheid slegs deur die barmhartigheid van God sonder enige eie verdienste van ons tot stand kom. Wanneer Paulus byvoorbeeld in 'n hele brief verduidelik het dat ons geen hoop op die lewe het behalwe in die geregtigheid van Christus nie, en hy by sy vermanings kom, smeek hy by die barmhartigheid van God wat Hy ons waardig geag het.32 En die een enkele rede moes sekerlik vir ons genoeg gewees het, naamlik dat God in ons verheerlik moet word.33 Maar as iemand dan nie so hewig deur die heerlikheid van God beïnvloed word nie, is die herinnering aan sy weldade tog meer as voldoende om sulke mense aan te por om goed te doen.34

Maar omdat daardie mense35 miskien 'n slaafse en gedwonge gehoorsaamheid aan die wet op mense (wil) afdwing deur die invoering van verdienstes, vertel hulle die leuen dat ons niks het waarmee ons mense tot goeie werke kan aanspoor nie, omdat ons dan nie dieselfde pad as hulle betree nie. Net asof God genot put uit sulke (slaafse) gehoorsaamheid, terwyl Hy getuig dat Hy 'n blymoedige gewer liefhet en Hy verbied dat iets uit droefheid of nood gegee word.36 En ek sê dit nie omdat ek die soort aansporing wat die Skrif telkemale gebruik om geen manier om ons van alle oorde af aan te por verby te laat gaan, verwerp of verontagsaam nie. Want dit herinner ons aan die loon wat God aan elkeen volgens sy werke sal gee.37 Ek ontken egter dat dit die enigste of selfs die belangrikste van baie middele is. Verder gee ek nie toe dat ons met die middel moet begin nie. Hierbenewens is my opvatting dat dit geen bydrae lewer om mense tot die soort verdienstes wat hulle verkondig, op te wek nie, soos ons later sal sien.38 Ten slotte verklaar ek dat dit ook geen nut het nie tensy die leer voorrang geniet dat ons slegs deur die verdienste van Christus wat ons deur die geloof bekom, regverdig gemaak word sonder enige verdienste van ons werke, want niemand kan bekwaam wees om heiligheid na te jaag tensy hy vooraf hierdie leer ingedrink het nie.

Die profeet dui ook pragtig daarop wanneer hy God soos volg aanspreek: "By U, o Here, is vergewing sodat U gevrees mag word".39 Hy toon trouens aan dat daar geen verering van God bestaan as sy barmhartigheid nie erken word nie aangesien God se heerlikheid alleen hierop gefundeer en gevestig is. Dit verdien besonderlik ons aandag, sodat ons kan weet dat die vertroue op sy barmhartigheid nie alleen die beginsel daarvan is om God na behore te dien nie, maar ook dat die vrees van God wat volgens die pousgesindes se opvatting verdienstelik is,40 daarom nie onder die woord verdienste gereken kan word nie, omdat hierdie vrees op die genadige vergiffenis van sondes gegrond is.

4. 'n Weerlegging van die beskuldiging dat Protestante mense aanpor om te sondig wanneer hulle onverdiende sondevergiffenis verkondig.🔗

Maar verreweg die ongegrondste klag teen ons is dat ons mense uitnooi om te sondig wanneer ons vrye vergiffenis van sondes verdedig, waarin geregtigheid volgens ons verklaring geleë is.41 Want ons sê dat die vrye vergiffenis van sondes soveel waarde het dat dit deur geen eie goeie werk van ons vereffen kan word nie, en daarom kan ons dit ook nooit bekom nie behalwe as dit 'n vrye gawe is. Verder sê ons dat dit wel vir ons 'n vrye gawe is maar nie vir Christus nie, omdat dit Hom so duur te staan gekom het, naamlik deur sy allerheiligste bloed. Hierbenewens was daar geen ander prys wat waardig genoeg was om aan God se oordeel betaal te word nie.42 Wanneer mense dit geleer word, word hulle vermaan dat dit nie anders kan as dat sy allerheiligste bloed so dikwels vergiet word as wat hulle sondig nie. Hierbenewens verklaar ons dat ons onreinheid so groot is dat dit nooit afgewas kan word nie behalwe deur die bron van hierdie allerreinste bloed. Moet mense wat hierdie stellings verneem, dan nie 'n groter afsku in die sonde kry as wanneer verklaar word dat hulle sondes deur die besprenkeling van hulle goeie werke weggevee word nie? En as hulle iets van God begryp, hoe sou hulle dan nie sidder om, wanneer hulle een maal rein gemaak is, weer eens in die modder te rol om die suiwerheid van hierdie bron sover dit binne hulle vermoë is, deurmekaar te krap en weer te bemors nie? "Ek het my voete gewas," sê die gelowige by Salomo, "hoe kan ek dit weer vuil maak?''43

Nou is dit duidelik watter een van die twee, ons of hulle, sondevergiffenis baie goedkoop maak en wie eerder die waardigheid van geregtigheid uitveil. Hulle raak die onsin kwyt dat God deur hulle waardelose voldoenings, dit is deur hulle drek, tevrede gestel word.44 Ons voer aan dat ons sondeskuld te swaar is om deur sulke ligsinnige onsin versoen te word; dat die toorn van God te swaar is om deur sulke nikswerd voldoenings gestil te word en dat dit die voorreg slegs van die bloed van Christus alleen is om dit te doen. Hulle beweer dat as geregtigheid ooit iewers te kort skiet, dit weer deur werke van voldoening herstel en nuut gemaak word.45 Ons reken dat dit te kosbaar is om met enige vergoeding van ons werke gelykgestel te word en dat ons ons toevlug daarom tot God se barmhartigheid alleen moet neem om hierdie geregtigheid te herstel. Verdere aspekte wat op sondevergiffenis betrekking het, moet in die volgende hoofstuk gesoek word.46

Endnotes🔗

  1. ^ Vgl. Eck, Ench., 5 C8b; Coehlaeus, Philip. 3.15; 10. Faber, Cur noluerit 14.
  2. ^ Vgl. Eck, Ench., 5; Erasmus, De lib. arb. (OOE 9:1223 e.v.), Coehlaeus, Philip. 3.21.
  3. ^ Soos in sy polemiek teen Osiander (Inst. 3.9.6 Afr. vert. 3:918) stel Calvyn dit hier ook dat regverdigmaking wel van heiligmaking onderskei maar nie daarvan geskei kan word nie. Vgl. ook Inst. 3.20.45 (Afr. vert. 3:1146).
  4. ^ Marg. 1. Cor. 1.d.30. Vgl. OC 49:330 - 332.
  5. ^ Vgl. 1 Kor. 1:13; OC 49:316 - 317.
  6. ^ Vgl. Inst. 3.18 (Afr.vert. 3:1144); en Erasmus, De lib. arb. (OaE 9:1223); De Castro, Adversus Haer. 12, 1543, fo.150.
  7. ^ Vgl. 10. Faber, De fide et operibus 23, 25 (Opera 1550:3) fo.103b e.v.
  8. ^ Vgl. Calvyn se preek oor Job 4:6 - 11 (OC 33:186, 187).
  9. ^ A: redamre (recte: redamare).
  10. ^ Vgl. 1 Joh. 4:10, 19.
  11. ^ Marg. Hebr. 9.d.14. Vgl. OC 55:111 e.v.
  12. ^ Vgl. Hebr. 10:29 (OC 55:136)
  13. ^ Marg. Luc. l.g. 74. Vgl. ook Luk. 1:75 - 80; OC 45:49 - 53.
  14. ^ Marg. Rom. 6.c.18. Kyk ook OC 49:115 - 116.
  15. ^ Ibidem a.6. (Rom. 6:6). Vgl. ook Rom. 6:4; oe 49:105 - 108.
  16. ^ Marg. colos. 3.a.l. Vgl. ook Kol. 3:2 - 3 en Matt. 6:19 - 21; OC 45:204 - 205; OC 52:117 - 119
  17. ^ Marg. Tit. 2.c.ll. Vgl. ook Til. 2:12 - 13; oe 52:422 - 424.
  18. ^ Marg. 1. Thess. 5.b.9. Kyk ook OC 52:170.
  19. ^ Marg. 1. Cor. 3.c.16,. 2. Cor. d.16 (recte: 2. Kor. 6:16). Verkeerdelik geplaas na & 5.b.8 hieronder; Ephes. 2.d.21. Vgl. ook Ef. 2:22; OC 49:358; OC 50:63 - 64,81 - 82; OC 51:176.
  20. ^ Marg. & 5.b.8(Tes.5:8); 1539-1554: + Marg. 1. Thes. 5.a.4 geplaas na 1 Thess. 4. hieronder. Vgl. ook 1 Tes. 5:5 e.v.; OC 51:217; OC 52:168-169 e.v.
  21. ^ Marg. 1. Thess. 4.b. 7 & a.3. Kyk ook OC 52:161, 162
  22. ^ Marg. 2. Timo. 1.c.9, Vgl. OC 52:352 - 353.
  23. ^ Marg. Rom. 6.C.18.
  24. ^ 1539-1554: + Marg. 1. Ioannis 4.a. 7. Vgl. ook 1 Joh. 4:11; Joh. 13.34.
  25. ^ Marg. 1. Johan. 13.a.l0 (recte:: 1 Joh. 3:10); Johan. 2.b.l1.
  26. ^ Marg. 1. Cor. 6.d.17, & 12.b.12; 1539-1554: + Marg. Roma. 12.a.4. Vgl. ook Rom. 12:5 - 8; 1 Kor. 6:15; 12:12 - 27; OC 49:399 - 505; OC 49:237 -238.
  27. ^ Marg. 1. Johan. 3.a.3.
  28. ^ Vgl. 1 Pet. 1:16.
  29. ^ Marg. 2. Cor. 7.a.l. Vgl. ook OC 50:83 - 84.
  30. ^ 1536: + Marg. Ioan. 15.b.10. Vgl. ook 1 Pet. 2:21; Joh. 13:15 en OC 47:342 e.v.
  31. ^ Vgl. 2 Tim. 3:16 - 17; OC 52:382 - 384.
  32. ^ Marg. Rom. 12.a.l. Vgl. OC 49:232 - 235.
  33. ^ Marg. Matth. 5.b.16. vgl. OC 45:169 - 170.
  34. ^ Marg. Chrysost. homil. in Gene. (1539-1554: + 26). Vgl. Chrysostomos, In Gen. hom. 26.5,6 (MPG 53:235 - 239).
  35. ^ Vgl. Inst. 3.16.2 (Afr. vert. 3:1015) hierbo.
  36. ^ Marg. 2. Cor. 9.b. 7. Kyk ook OC 50:108.
  37. ^ Vgl. Matt. 16:27; Rom. 2:6 e.v.; 1 Kor. 3:8,14 - 15; 2 Kor. 5:10 e.v. Vgl. ook OC 45:482 - 483; OC 49:34; OC 49:351 - 352, 356; OC 50:65 e.v.
  38. ^ Vgl. Inst. 3.18.3 (Afr. vert. 3:1046).
  39. ^ Marg. Psal. 130.a.4. Vgl. ook OC 31:754 - 755.
  40. ^ Vgl. Latomus, De fideet operibus 1550, fo. 141ab.
  41. ^ Vgl. Erasmus, De lib. arb. (OOE 9:1223); Cochlaeus, Philip. 3.21) fo.K tb - 2a.
  42. ^ Vgl. Calvyn se Serm. sur le livre de Daniel OC 41:622 - 623.
  43. ^ Marg. Cant. 5.a.3.
  44. ^ Vgl. Bonaventura, In sent. 4.15.4.350 e.v., Thomas, Summa Theol. 3. suppl. 12 - 15 (Marietti 4:680 .693).
  45. ^ Vgl. Thomas, Summa Theol. 3. suppl. 15.1 (Marietti 4:691).
  46. ^ Die 1559-uitgawe het hier verkeerdelik ex capite proximo - uit die volgende hoofstuk, die 1539uitgawe, het "uit die vyfde hoofstuk" ; die 1543-1554-uitgawe het "negende". Die korrekte verwysing is Inst. 3.3.19; 3.4.25, 27, 30 (Afr. vert. 3:793; 836, 839, 844). Vgl. Benoit 3:279.