Die Skrif alleen is die maatstaf vir onderwysing in die kerk en hoe mag in die kerk vasgestel word. Kerklike gesag dien tot stigting en is deur die Heilige Gees aan die ampte, nie aan individue nie, verleen, bv. profete en apostels.

Aanvanklik het God sy openbaring deur die wet en profete bekend gemaak. Dit is eger besonderlik openbaar toe die Woord vlees geword het.

Calvyn ontmasker vervolgens ‘n aantal Roomse dwalings, onder andere in verband met bepaling van die leer van die kerk, onfeilbaarheid van die kerk, tradisies in die kerk, belang van die Woord in die kerk en die kinderdoop.

1984. 18 bladsye.

Institusie van die Christelike Godsdiens (1559) - Boek 4 Hoofstuk 8 Kerklike mag sover dit die geloofsleer aangaan. Met watter bandelose teuelloosheid hierdie mag onder die pousdom hanteer is om die suiwerheid van die leer heeltemal te vernietig

1. Die doel van die geestelike mag van die kerk is stigting.🔗

Nou volg die derde aspek, naamlik die kerk se mag wat gedeeltelik in elke biskop afsonderlik en gedeeltelik in konsilies, provinsiaal sowel as algemeen, waargeneem kan word. Ek praat nou slegs van die geestelike mag wat die kerk toekom. Dit bestaan uit of die leer, òf regspraak1 òf uit die maak van wette.2 Hierdie aspek van die leer bestaan uit twee dele, naamlik die gesag om leerstellings oor te dra, en die vertolking daarvan. Voordat ons egter begin om oor elkeen te praat, wil ek godvrugtige lesers graag waarsku om in gedagte te hou dat alles wat oor die mag van die kerk geleer word, op die doel sien waarvoor dit volgens Paulus se getuienis gegee is, naamlik ter stigting en nie ter vernietiging nie.3 Diegene wat dit regmatig aanwend, ag hulleself nie meer as dienaars van Christus en tegelyk ook as dienaars van die (kerk)volk in Christus nie.4 Dit is verder die enigste manier om die kerk op te bou as juis bedienaars hulle beywer om sy gesag vir Christus te bewaar wat andersins nie ongeskonde kan bly as wanneer dit wat Hy van die Vader ontvang het, vir Hom gelaat word nie, naamlik dat Hy die enigste Leermeester van die kerk moet wees. Daar is immers nie van enigiemand anders nie, maar net van Hom geskryf: "Luister na Hom."5

Kerklike mag moet dus nie met kwaadwilligheid bejeën word nie maar dit moet nogtans binne bepaalde perke ingesluit word om te voorkom dat dit na mense se willekeur rond en bont gesleep word. Met die oog hierop sal dit vir ons die grootste voordeel inhou om daarop te let hoe dit deur die profete en die apostels beskryf word. As ons mense immers doodeenvoudig die mag gun wat hulle na eie goeddunke vir hulleself neem, is dit vir almal voor die hand liggend hoe maklik hulle in tirannie sal verval - en dit is iets wat ver van die kerk van Christus af behoort te wees!

2. Die Heilige Gees het alle kerklike gesag nie aan mense nie, maar aan die amp wat hulle opgedra is, verleen.🔗

Ons moet daarom hier in gedagte hou dat al die gesag en aansien wat die Gees in die Skrif aan òf die priesters, òf die profete, òf die apostels, òf aan die opvolgers van die apostels verleen, nie aan die mense self verleen word nie, maar ten volle aan die amp waarin hulle aangestel is, of, om dit korter te stel, aan die Woord, waarvan die bediening aan hulle opgedra is. As ons dit trouens alles ordelik ondersoek, sal ons vind dat hulle geen gesag om te onderwys of te antwoord gehad het anders as in die Naam en die Woord van die Here nie. Wanneer hulle immers tot die amp geroep word, word hulle tegelyk gebied om niks (van hul eie) saam te bring nie maar uit die mond van die Here te praat. En Hy bring hulle self ook nie in die midde van die volk om deur hulle aangehoor te word voordat Hy hulle geleer het wat hulle moet sê nie en hulle mag niks sonder sy Woord sê nie.

Moses wat self die leier van al die profete was, moes bo ander profete gehoor word, maar hy word ook vooraf in sy gebooie onderrig sodat hy hoegenaamd niks kon verkondig as dit nie van die Here gekom het nie.6 Daar word derhalwe gesê dat die volk sy leer omhels het en dat hulle in God en sy dienskneg Moses geglo het.7

Die gesag van die priesters is ook met die swaarste strawwe bekragtig om te verhoed dat dit verag sou word.8 Die Here toon trouens tegelyk aan onder watter voorwaarde hulle aangehoor moes word wanneer Hy sê dat Hy sy verbond met Levi gesluit het sodat die wet van waarheid in sy mond kon wees.9 En 'n bietjie later voeg Hy by: "Die lippe van die priester sal kennis bewaar en hulle sal die wet uit sy mond soek want hy is die engel van die Here se leërskare."10 As 'n priester dus gehoor wil word, moet hy hom as boodskapper van God bewys. Dit beteken dat hy die gebooie wat hy van sy Maker ontvang het, getrou moet oordra. En sover dit hulle aanhoring aangaan, word daar uitdruklik geponeer dat hulle volgens God se wet moet antwoord.11

3. Die gesag van die profete.🔗

By Esegiël word pragtig beskryf wat die aard van die profete se mag oor die algemeen was: "Mensekind," sê die Here, "Ek het jou as wag oor die huis van Israel aangestel; uit my mond moet jy dus die Woord hoor en uit My moet jy dit aan hulle verkondig".12 Iemand wat beveel word om iets uit die mond van die Here aan te hoor, word tog sekerlik verbied om iets van sy eie daarmee saam te verdig, of hoe? Wat is om 'n boodskap van die Here te bring anders as om so te praat dat hy met selfvertroue daarop kan roem dat die woord wat hy gebring het, nie syne is nie, maar die Here s'n? By Jeremia kom dieselfde uitspraak net in ander waarde voor. Hy sê: "Laat 'n profeet wat gedroom het, maar sy droom vertel, maar laat een wat my Woord het, my Woord waaragtig uitspreek".13 Hy sê beslis aan hulle almal 'n wet voor.

Dit is verder van so 'n aard dat God niemand toelaat om meer te leer as wat Hy hom beveel het nie. En daarna noem Hy alles kaf wat nie uit Hom alleen ontstaan het nie. Geeneen van die profete het dus hulle mond oopgemaak as die Here hulle nie die waarde in die mond gelê het nie. Daarom kom die volgende uitdrukkings so dikwels by hulle voor: "Die Woord van die Here; die las van die Here; so sê die Here; die mond van die Here het gespreek". En tereg ook so want Jesaja het uitgeroep dat sy lippe onrein was14 en Jeremia het erken dat hy nie geweet het wat om te sê nie omdat hy 'n kind was.15 Wat anders as 'n onrein en dwaas word kon dan van Jesaja se onrein mond en van Jeremia se stom mond kom as hulle hulle eie woorde sou uitgespreek het? Maar hulle het heilige en rein lippe gehad toe hulle instrumente van die Heilige Gees begin word het. Wanneer die profete deur hierdie eerbied daartoe verbind is om niks te leer behalwe wat hulle ontvang het nie, word hulle met uitsonderlike mag en uitnemende titels versier. Want wanneer die Here getuig dat Hy hulle oor volke en koninkryke aangestel het om uit te ruk en uit te roei, om te verwoes en te vernietig, om te bou en te plant,16 voeg Hy die rede daarvoor dadelik by, naamlik omdat Hy sy waarde in hulle mond gelê het.17

4. Die gesag van die apostels.🔗

Maar as jy nou na die apostels kyk, word hulle wel met baie en uitmuntende lofbetuigings geprys, naamlik dat hulle die lig van die wêreld en die sout van die aarde is;18 dat na hulle soos na Christus geluister moet word19 en dat alles wat hulle op die aarde bind of  losmaak, in die hemel gebind en losgemaak sal wees.20 Maar deur hulle benaming toon hulle aan hoeveel mag hulle in hulle amp toegelaat is. As hulle trouens apostels is, word hulle verbied om na willekeur te babbel en gebied om getrou die bevele van Hom deur wie hulle gestuur is, oor te dra. En Christus se woorde waarmee Hy hulle sending omskryf het, is duidelik genoeg toe Hy hulle beveel het om uit te gaan en alles wat Hy hulle geleer het, aan al die volke te leer.21 Ja, om te voorkom dat iemand hierdie wet verwerp, het Hy dit self aanvaar en Homself dit opgelê. Hy sê: "My leer is nie myne nie maar my Vader wat My gestuur het s'n".22 Hy wat altyd die enige en ewige Raadgewer van die Vader was, en wat deur die Vader as Here en Meester van almal aangestel is, skryf deur sy voorbeeld aan alle bedienaars voor watter maatstaf hulle in hulle onderwysing behoort te volg omdat hy nogtans die leeramp verrig. Die mag van die kerk is dus nie eindeloos nie maar dit is aan die Here se Woord ondergeskik en as't ware daarin ingesluit.

5. As die ewige Wysheid van God was Christus ook in voortye die enigste bron van God se openbaring.🔗

En hoewel dit van die begin af in die kerk gegeld het, en vandag nog behoort te geld dat dienaars van God niks moet leer wat hulle nie van Hom geleer het nie, het hulle tog na die verskeidenheid van die tye verskeie  metodes om te leer gehad. Die metode wat nou in swang is, verskil inderdaad ver van die voriges. Ten eerste, as dit waar is wat Christus sê, naamlik dat niemand die Vader gesien het nie behalwe die Seun en dat die Seun dit openbaar aan wie Hy wil,23 moes diegene wat tot die kennis van God wou kom, beslis altyd deur daardie ewige Wysheid gelei word. Hoe sou hulle trouens die geheimenisse van God of met hulle verstand kon begryp het, of kon uitspreek as Hy aan wie die geheimenisse van die Vader alleen bekend was, hulle dit nie geleer het nie? Die heiliges het God derhalwe eertyds slegs leer ken wanneer hulle Hom in die Seun soos in 'n spieël waargeneem het.24 Wanneer ek dit sê, verstaan ek daaronder dat God Hom op geen ander manier aan mense geopenbaar het as deur sy Seun nie - dit is sy enigste Wysheid, Lig en Waarheid. Uit hierdie bron het Adam, Noag, Abraham, Isak, Jakob en die ander heiliges al die kennis van die hemelse leer wat hulle gehad het, geput. Uit dieselfde bron het ook al die profete al die hemelse uitsprake wat hulle aangekondig het, geput.

Hierdie Wysheid het Hom egter nie altyd net op een manier geopenbaar nie. Onder die aartsvaders het Hy verborge openbarings gebruik maar ter bekragtiging daarvan tegelyk tekens van so 'n aard aangewend dat daar hoegenaamd geen twyfel by hulle kon bestaan dat dit God is wat praat nie. Dit wat die aartsvaders ontvang het, het hulle van hand tot hand aan hulle nageslag oorgelewer want God het dit by hulle gelaat op voorwaarde dat hulle dit so moes voortplant. Hulle kinders en kleinkinders het inderdaad geweet dat dit wat hulle gehoor het uit die hemel en nie uit die aarde nie, afkomstig was omdat God dit binne-in hulle aan hulle voorgesê het.

6. God het sy openbaring egter ook deur die wet en die profete bekend gemaak.🔗

Toe dit God egter behaag het om 'n duideliker vorm van sy kerk te verwek, was dit sy wil om sy Woord te laat opskryf en in skrif te verseël25 sodat die priesters daaruit kon ontleen wat hulle aan die volk moes leer en sodat die volle leer wat geleer is, aan hierdie rigsnoer getoets kon word. Wanneer die priesters dus na die afkondiging van die wet gebied word om uit die mond van die Here te leer,26 is die betekenis daarvan dat hulle niks van buite of vreemd aan hierdie soort leer wat God in die wet saamgevat het, moes leer nie. Dit was hulle trouens nie geoorloof om iets daarby te voeg of daarvan weg te neem nie.27

Daarna het die profete gevolg deur wie God nuwe godsprake bekendgestel het wat tot die wet toegevoeg is - nogtans nie so nuut dat dit nie uit die wet voortgevloei en nog op die wet gerig was nie. In soverre dit die leer aangaan was hulle trouens net vertolkers van die wet en hulle het slegs profesieë oor die toekoms by die wet gevoeg. Met uitsondering hiervan het hulle niks anders opgelewer as net 'n suiwer vertolking van die wet nie. Omdat dit die Here egter behaag het dat 'n duideliker en voller (vorm van die) leer moes bestaan om swak gewetes beter te bevredig, het Hy gelas dat die profete ook op skrif gestel en 'n deel van sy Woord moes word. Tegelyk het hierby ook geskiedenisse gekom wat self ook die werk van die profere was, maar saamgestel is op voorsegging van die Heilige Gees. Ek tel die psalms onder die profete omdat die psalms ook deel het in dit wat ons aan hulle toeken.28 So was daardie hele bundel wat uit die wet, die profete, die psalms en die geskiedenisse saamgestel is, vir die (kerk)volk van ouds die Woord van God en aan die rigsnoer hiervan moes die priesters en die leraars tot Christus se koms hulle leer toets. Dit was hulle ook nie geoorloof om of regs of links hiervan af te wyk nie29 omdat hulle hele amp binne hierdie perke ingesluit was dat hulle uit God se mond aan die volk antwoorde moes gee. Dit kan uit 'n treffende verwysing uit Maleagi afgelei word waar Hy gelas dat hulle die wet in gedagte moet hou en daarop moet agslaan totdat die evangelie verkondig word.30 So het Hy hulle trouens van alle vreemde leringe weerhou en hulle nie toegelaat om selfs in die geringste mate van die pad wat Moses getrou vir hulle aangetoon het, af tewyk nie. Dit is ook die rede waarom Dawid so groots die uitnemendheid van die wet verkondig en soveel erename daarvoor opnoem.31 Sy doel is natuurlik dat die Jode niks buiten die wet moes soek nie aangesien die volle volmaaktheid daarin ingesluit is.

7. Die Wysheid van God is egter besonderlik geopenbaar toe die Woord vlees geword het.🔗

Maar toe die Wysheid van God in die vlees geopenbaar is, het Hy met volle mond alles aan ons verkondig wat met die mens se verstand oor die hemelse Vader begryp kan word en oor Hom bedink moet word. Sedert die tyd waarop Christus, die Son van geregtigheid, begin skitter het,32 het ons die volmaakte glans van God se waarheid - net soos die glans gewoonlik in die middag is terwyl die lig tevore effens skemerig was. Die apostel wou inderdaad nie iets alledaags verkondig toe hy geskryf het dat God eertyds op verskillende maniere en wyses deur die profete met die aartsvaders gepraat het maar dat Hy in die jongste tyd deur sy geliefde Seun met ons begin praat het nie.33 Hy gee daarmee trouens te  kenne, of liewer, Hy verklaar daarmee oop en bloot dat God voortaan nie soos tevore af en toe, nou deur sommiges en dan weer deur ander met ons sal praat nie, en dat Hy nie profesieë by die profesieë sal bysit, of openbarings by die openbarings nie, maar dat Hy die leer in alle opsigte so in sy Seun volbring het dat dit as sy laaste en ewige getuienis geag moet word. Daarom word die hele Nuwe Testamentiese tydperk sedert Christus met sy verkondiging van die evangelie tot die oordeelsdag toe, as die laaste uur,34 die laaste tye35 en die laaste dag36 aangedui. Die doel daarvan is natuurlik dat ons met die volmaaktheid van Christus se leer tevrede moet wees en verder geen nuwe leer moet aanleer of vir ons mag versin of ander toelaat om dit vir ons te versin nie.

Die Vader het sy Seun derhalwe nie sonder gronde met 'n besondere voorreg as Leermeester vir ons bestem en gebied dat na Hom en na geen mens nie, geluister moet word. Hy prys sy Leermeesterskap inderdaad in 'n paar woorde by ons aan wanneer Hy sê: "Luister na Hom!"37 In hierdie waarde is egter meer gewig en krag aanwesig as wat algemeen gedink word. Dit is trouens asof Hy ons van alle menslike leringe wegtrek, ons by Hom alleen stel en onsgebied om die volle saligheidsleer by Hom alleen te soek, Hom alleen aan te hang en Hom alleen aan te kleef. Kortom: sy stem alleen te gehoorsaam soos die waarde lui. En wat moet in elk geval van 'n mens verwag of gesoek word wanneer die Woord van die lewe self Hom vriendelik en aap en bloot aan ons getoon het? Ja, dit betaam alle mense om hulle monde te snoer nadat Hy eenmaal gepraat het in wie die hemelse Vader al die skatte van kennis en wysheid wou verberg.38 Hy het weliswaar gepraat soos dit die Wysheid van God wat in geen opsig gebrekkig is nie,39 en die Messias van wie die openbaring van alle dinge verwag is,40 betaam het. Dit beteken dat Hy vir ander wat na Hom sou kom, niks gelaat het om te sê nie.

8. Die Woord alleen is daarom die maatstaf vir onderwysing in die kerk.🔗

Laat dit dus vir ons 'n vaste beginsel wees dat ons geen ander woord as die Woord van God moet beskou of in die kerk daarvoor plek moet inruim as die Woord wat eerste in die wet en die profete en daarna in die skrifte van die apostels saamgevat word nie, verder ook dat daar geen ander metode om na behore te onderwys in die kerk bestaan nie as volgens die voorskrif en die rigsnoer van daardie Woord nie. Hieruit lei ons ook af dat geen ander Woord die apostels toegelaat is as wat die profete eertyds gehad het nie, naamlik om die Skrif van ouds te vertolk en aan te toon dat dit wat daar geleer word, in Christus volbring is; en dat hulle dit nogtans nie sou doen sonder die Here nie, dit is, met die Gees van Christus as hulle Voorganger wat die woorde op een of ander wyse aan hulle voorsê. Toe Hy hulle beveel het om uit te gaan en te leer, het Christus hulle sending trouens met hierdie wet begrens, dat hulle nie dinge moes leer wat hulle self ondeurdag versin het nie, maar alles wat Hy hulle beveel het.41 En niks duideliker kan gesê word as wat Hy self elders sê nie: "Julle moet nie Rabbi genoem word nie, want een is julle Leermeester, naamlik Christus".42 Om dit verder nog dieper in hulle gemoedere in te skerp, herhaal Hy dit tweemaal in dieselfde verwysing.43 En omdat hulle die dinge wat hulle uit die mond van die Meester gehoor en geleer het, vanweë hulle stompsinnigheid nie kon begryp nie, word die Gees van waarheid aan hulle beloof sodat hulle daardeur tot ware kennis van alle dinge gelei kon word.44 Ons moet trouens aandagtig op hierdie beperking let dat Hy aan die Heilige Gees die taak toeken om alles wat Hy tevore met sy mond geleer het, tot hulle beskikking te stel.45

9. Skrifgetuienis dat dit die kerk en niemand geoorloof is om van hierdie maatstaf af te wyk nie.🔗

Daarom laat Petrus wat baie goed deur die Meester geleer is hoeveel hom geoorloof is, homself en ander niks anders toe as om die leer wat deur God oorgelewer is, uit te deel nie. Hy sê: "Laat hom wat praat, woorde van God praat".46 Dit beteken, nie twyfelmoedig soos mense met 'n slegte gewete gewoonlik bewe nie, maar met volle vertroue soos dit 'n dienskneg van God wat met vaste opdragte toegerus is, betaam. Wat beteken dit anders as om al die uitvindings van die mens se verstand, uit watter kop hulle ook al kom, daar uit te weer sodat die suiwer Woord van God in die kerk van gelowiges onderwys en geleer moet word? Wat beteken dit anders as om beslissings, of eerder, versinsels van alle mense van watter stand hulle ook al is, uit die weg te ruim sodat God alleen se besluite vas en seker kan bly? Dit is die geestelike wapens wat deur die krag wat van God kom, vestings verwoes, dit is die wapens waardeur getroue krygers van God raadsplanne en alle hoogheid wat hom teen die kennis van God verhef, verwoes en elke gedagte gevange neem om Christus te gehoorsaam.47

Kyk, dit is die hoogste mag waarmee herders van die kerk, onder watter naam hulle ook al gaan, toegerus behoort te wees, naamlik om met God se Woord alles met selfvertroue aan te durf; om alle mag van die wêreld, alle heerlikheid, wysheid, en hoogheid te dwing om voor die majesteit van die Woord te swig en daaraan gehoorsaam te wees; om deur die mag daarvan oor almal van die hoogste tot die laagste, te heers; om Christus se huis op te bou en die Satan s'n af te breek; om sy skape te laat wei en die wolwe te verdryf; om leersames te onderwys en aan te spoor; om opstandiges en hardnekkiges aan te kla, te berispe en te onderwerp; om vas te maak en los te maak; kortom: om te donder, en, as dit nodig is, te bliksem - maar alles in die Woord van God.

Hoewel die verskil tussen die apostels en hulle opvolgers, soos ek gesê het,48 dit is dat hulle seker en egte skrywers van die Heilige Gees was,49 en dat hulle geskrifte daarom as uitsprake van God beskou moet word,  het hulle opvolgers egter geen ander plig as om te leer wat in die heilige Skrifte geopenbaar en verseël is nie. Ons bepaal dus dat dit nie meer vir gelowige bedienaars gelaat is om die een of ander nuwe leerstelling uit te kap nie maar dat hy eenvoudig die leer moet aankleef waaraan God almal sonder uitsondering onderwerp het. Wanneer ek dit sê, wil ek nie slegs aantoon wat vir elke mens afsonderlik geoorloof is nie, maar wat vir die kerk in sy geheel geld. So ver dit mense afsonderlik aangaan: Paulus is beslis deur die Here as apostel vir die Korintiërs bestem en tog verklaar hy dat hy nie oor hulle geloof heers nie.50 Wie sou dan waag om hom 'n heerskappy toe te eien waarvan Paulus getuig dat dit hom nie toekom nie? As hy so 'n losbandigheid In die onderwysing sou erken het dat 'n herder met reg sou kon eis dat hy in alles wat hy ook al leer, geglo moes word, sou hy nooit hierdie dissipline aan dieselfde Korintiërs oorgedra het nie, naamlik dat wanneer twee of drie profete praat, die ander daaroor moet oordeel, maar as iets aan een wat daar sit, geopenbaar is, moet die eerste een swyg.51 So het hy trouens niemand ontsien sonder om sy gesag aan die oordeel van God se Woord te onderwerp nie. Miskien sal iemand sê: "Maar in die geval van die universele kerk is die geval tog anders". My antwoord daarop is dat Paulus elders ook hierdie twyfel uit die weg ruim wanneer hy sê dat die geloof uit die gehoor is, maar die gehoor uit die Woord van God.52 As geloof dan van God se Woord alleen afhang, as dit daarop alleen gerig is en daarin alleen berusting vind, watter plek word dan nou vir 'n woord van die hele wêreld gelaat? Elkeen wat deeglik bewus is van wat geloof is, sal ook nie hier kan weifel nie. Geloof behoort immers deur so 'n bestendigheid ondersteun te word dat dit teen die Satan en al die liste van die hel, en teen die hele wêreld onoorwonne en onverskrokke staande kan bly. Hierdie bestendigheid sal ons nêrens anders as in God se Woord vind nie.

Verder is daar ook 'n algemene rede hiervoor waarop ons hier moet let. Dit is naamlik dat God mense die mag om nuwe leerstellings aan die lig te bring, ontneem met die doel om alleen in die geestelike leer ons Meester te wees aangesien Hy alleen waaragtig is53 en omdat Hy nie kan lieg en bedrieg nie. Hierdie rede het ewe veel betrekking op die hele kerk as op elkeen van die gelowiges.

10. Die Roomse dwaling dat konsilies die geestelike leer van die kerk kan bepaal.🔗

Maar as hierdie mag van die kerk waarvan ons gepraat het, vergelyk sou word met die mag waarmee die geestelike tiranne wat hulleself valslik biskoppe en owerstes van die godsdiens noem, etlike eeue lank reeds onder die volk van God te koop loop, sal die ooreenstemming tussen hulle niks beter wees as tussen Christus en Belial nie.54 Dit is nie hier my voorneme om 'n uiteensetting te gee in watter opsig en op watter onwaardige maniere hulle hulle tirannie beoefen het nie. Ek sal slegs verwys na hulle leer wat hulle eers met hulle geskrifte en daarna met swaard en vuur verdedig.

Hulle aanvaar as 'n uitgemaakte saak dat 'n algemene konsilie die ware beeld van die kerk is en wanneer hulle dit as beginsel aangeneem het, stel hulle tegelyk bo alle twyfel vas dat sulke konsilies direk deur die Heilige Gees regeer word en dat dit daarom nie kan dwaal nie.55 Aangesien hulle inderdaad self die konsilies regeer, of liewer, saamstel, eis hulle in werklikheid vir hulleself alles op wat volgens hulle opvatting aan die konsilies verskuldig is. Hulle wil dus hê dat ons geloof na hulle goeddunke moet staan en val sodat wat hulle ook al na beide  kante besluit, vas en stewig in ons gemoedere moet wees. As hulle miskien iets goedkeur, wil hulle hê dat ons dit ook moet goedkeur sonder om daaroor te twyfel, of as hulle iets verdoem, dat dit ook deur ons as verdoem beskou moet word. Intussen smee hulle leerstellings na willekeur en minag God se Woord, en hulle eis daarna dat dit om hierdie rede geglo moet word. Want hulle beweer dat niemand 'n Christen is nie tensy hy vas en seker met hulle oor al hulle leerstellings, positief, sowel as negatief, saamstem - as dit dan nie met uitdruklike geloof is nie, dan tog met implisiete geloof56 omdat die kerk dan die mag sou hê om nuwe geloofsartikels op te stel.57

11. 'n Weerlegging van die Roomse aanspraak dat Christus sy kerk nooit sal verlaat nie maar dit altyd in waarheid sal lei.🔗

Laat ons eerste hoor met watter bewyse hulle bevestig dat hierdie gesag aan die kerk gegee is. Daarna sal ons sien hoeveel hulle bewerings oor die kerk hulle help. Hulle sê: "Die kerk het pragtige beloftes dat dit nooit deur Christus sy bruidegom verlaat sal word sonder om deur sy Gees in alle waarheid gelei te word nie".58 Maar onder die beloftes wat hulle gewoonlik aanvoer, is daar baie wat nie minder aan elkeen van die gelowiges afsonderlik gegee is as aan die hele kerk nie. Hoewel die Here trouens met die twaalf apostels gepraat het toe Hy gesê het: "Kyk, Ek is met julle tot die voleinding van die tyd";59 en net so: "Ek sal my Vader vra, en Hy sal 'n ander Trooster aan julle gee, naamlik die Gees van waarheid",60 maak Hy die belofte nie slegs aan die twaalf nie, maar ook aan elkeen afsonderlik; ja, ook aan die dissipels wat Hy reeds aangeneem het, of wat daarna na Hom toe sou kom. Wanneer hulle egter sulke beloftes wat vol uitnemende vertroosting is, so vertolk asof dit aan geeneen van die Christene (afsonderlik) gegee is nie maar aan die hele kerk gesamentlik, wat beteken dit dan anders as om alle Christene die vertroue te ontneem wat daaruit tot hulle bemoediging behoort voort te kom? En ek ontken ook nie hier dat die hele gemeenskap van gelowiges met 'n menigvuldige verskeidenheid gawes toegerus is en dat hulle 'n veel oorvloediger en ryker skat van hemelse wysheid het as elkeen afsonderlik nie. Ek wil ook nie graag hê dat dit van alle gelowiges gesamentlik oor die algemeen gesê sou word dat hulle almal eweveel 'n Gees van begrip en leer besit nie.61 Maar ek sê dit omdat ons die teenstanders van Christus nie moet toestaan om die Skrif ter verdediging van hulle slegte saak in 'n betekenis wat daaraan vreemd is, te verdraai nie.

Maar dit daar gelaat; ek erken eenvoudig die toedrag van sake soos dit is, naamlik dat die Here die wat aan Hom behoort, voortdurend bystaan en deur sy Gees regeer. Ek verklaar egter dat dit nie 'n Gees van dwaling, van onkunde, van die leuen of van duisternis is nie, maar die Gees van die gewisse openbaring, wysheid, waarheid en lig van wie hulle sonder bedrog kan leer wat aan hulle gegee is.62 Dit beteken, wat die verwagting van hulle roeping is en wat die rykdom van die heerlikheid van die erfdeel van God onder die heiliges is.63 Maar aangesien die gelowiges, en selfs diegene wat met uitnemender gawes as ander begaafd is, in hierdie vlees die eerste beginsels en slegs 'n voorsmakie van daardie Gees ervaar,64 bly daar vir hulle niks beters oor as om diep bewus te wees van hulle eie swakheid en om hulle sorgvuldig binne die perke van God  se Woord te hou nie. Hulle moet dit doen om te voorkom dat hulle die regte pad heeltemal byster raak as hulle te ver van die egte betekenis daarvan wegdwaal in soverre hulle natuurlik nog sonder daardie Gees is onder wie se onderwysing alleen hulle die ware leer van die valse kan onderskei. Al die gelowiges bely trouens saam met Paulus dat hulle nog nie die wenpaal bereik het nie.65 Gevolglik streef hulle eerder om elke dag daarin te vorder as om te roem dat hulle volmaak is.

12. Verdere weerlegging van Roomse redenasies dat die kerk onfeilbaar is.🔗

Maar hulle sal die beswaar opper dat alles wat ten dele aan elkeen van die gelowiges gegee word, in geheel en ten volle ook die kerk toekom. Hoewel dit 'n sekere skyn van die waarheid het, sê ek dat dit nogtans nie waar is nie. God het inderdaad die gawes van sy Gees na sy maat so onder elkeen van sy ledemate uitgedeel66 dat dit die liggaam in geheel aan niks ontbreek wat daarvoor noodsaaklik is wanneer hierdie gawes gesamentlik verleen word nie. Maar die rykdom van die kerk is altyd van so 'n aard dat dit nog baie tekortskiet in daardie hoogste volmaaktheid waarop ons teenstanders roem. En die kerk word daarom in geen opsig so verlaat dat dit nie altyd nog soveel oor het as wat daarvoor voldoende is nie. Die Here weet immers wat die behoefte daarvan vereis. Maar met die oog daarop om die kerk nederig en beskeie te hou, gee Hy daaraan nie meer as wat Hy weet daarvoor dienstig is nie.

Ek weet watter beswaar hulle gewoonlik ook hierteen opper. Hulle beweer naamlik dat die kerk deur dit met water in die Woord van die lewe te was, gereinig is sodat dit sonder rimpel of vlek is,67 en dat dit daarom elders 'n pilaar en fondament van die waarheid68 genoem word. Maar in die eerste plek word daar geleer wat Christus elke dag in die kerk werk liewer as wat Hy reeds daarin volbring het. As Hy immers dag vir dag al diegene wat aan Hom behoort, heilig, reinig, skoonmaak en die vlekke van hulle afvee, is dit beslis duidelik dat hulle nog met rimpels en vlekke bevlek is en dat daar iets aan hulle heiligmaking ontbreek. Maar hoe sinloos en fabelagtig is hulle bewering dat die kerk inderdaad reeds ten volle en in alle opsigte heilig en onbevlek is hoewel al die lidmate daarvan bevlek en nog heelwat onrein is! Dit is inderdaad ook waar dat die kerk deur Christus geheilig is maar hier is slegs die begin van daardie heiligmaking sigbaar. Die einde en vaste voltooiing daarvan sal eers bestaan wanneer Christus, die Heilige van heiliges,69 dit deur sy heiligheid waarlik en ten volle sal voltooi. Dit is ook waar dat die kerk se vlekke en rimpels uitgewis is, maar sa dat dit nog elke dag uitgewis word totdat Christus met sy koms alles wat nog oor is, heeltemal sal wegneem.

As ons dit immers nie aanvaar nie, moet ons noodwendig saam met die Pelagiane beweer dat die geregtigheid van die gelowiges reeds in hierdie lewe volbring is; en saam met die Kathare en Donatiste dat ons geen swakheid in die kerk duld nie.70

Hulle tweede verwysing het, soos ons elders gesien het,71 heeltemal 'n ander betekenis as wat hulle daaraan heg. Toe Paulus Timoteus trouens onderrig en vir die ware plig van 'n biskop voorberei het, sê hy dat hy dit gedoen het sodat hy bewus mag wees hoe hy in die kerk moes optree. En om hom met groter agting en vlyt daarop toe te lê, voeg hy by dat die kerk 'n pilaar en stut van die waarheid is.72 Wat beteken hierdie woorde anders as dat die waarheid van God in die kerk bewaar word – natuurlik deur die bediening van die Woordverkondiging? So leer hy elders dat Christus apostels, herders en leraars daaraan gegee het73 om te voorkom dat ons verder deur enige windjie van die leer meegesleur of deur mense mislei word,74 maar dat ons almal saam deur die ware kennis van die Seun van God verlig, tot eenheid in die geloof mag kom.75 Dat die waarheid derhalwe nie op die wêreld uitgedoof word nie maar ongedeerd bly voortbestaan, geskied omdat dit in die kerk 'n getroue bewaker het deur wie se werk en diens dit onderskraag word. En as hierdie bewaking in die profetiese en apostoliese bediening geleë is, volg daaruit dat dit ten volle daarvan afhang of die Woord van die Here getrou daarin bewaar word en dit sy suiwerheid behou.

13. 'n Weerlegging van die Roomse standpunt dat die kerk sonder die Woord kan klaarkom omdat dit deur God in die waarheid gelei word.🔗

En dat my lesers beter kan begryp wat die geskilpunt is waarom hierdie vraagstuk besonderlik draai, sal ek in 'n paar woorde verduidelik watter eise ons teenstanders stel en in watter aspek ons hulle teenstaan.

Dat hulle verklaar dat die kerk nie kan dwaal nie, sien op die volgende en hulle vertolk dit so: Omdat die kerk deur die Gees van God bestier word, kan dit veilig sonder die Woord voortgaan en in watter rigting dit ook al gaan, kan dit nie iets anders voel of praat as die waarheid nie. As die kerk daarom iets sonder of buiten die Woord van God bepaal, moet dit nie anders as 'n besliste Godspraak bejeën word nie. As ons hulle hulle eerste punt sou toegee, naamlik dat die kerk nie kan dwaal in sake wat vir ons saligheid noodsaaklik is nie, heg ons dié betekenis daaraan dat dit die geval is omdat die kerk al sy eie wysheid laat vaar het en toelaat dat hy deur die Heilige Gees deur middel van die Woord van God daarin onderrig word. Die verskil is dus dit dat hulle die gesag van die kerk buite die Woord van God plaas maar dat ons dit met die Woord wil verbind en dat ons nie toelaat dat dit daarvan geskei word nie.76 En wat is snaaks daarin as die bruid en leerling van Christus aan die bruidegom en leermeester onderwerp word om voortdurend en noulettend aan sy mond te kleef? Dit is trouens die basis van 'n goed ingerigte huis dat die vrou die heerskappy van haar man gehoorsaam. Dit is ook die reël van 'n goed geordende skool dat die onderwysing van die leermeester alleen daar gehoor word. Daarom moet die kerk nie eiewys wees nie, en die kerk moet niks uit sy eie bedink nie maar 'n perk aan sy wysheid stel waar Christus opgehou praat het. So sal die kerk 'n wantroue hê in alle uitvindings van eie vernuf. In die sake waarin dit op God se Woord steun, sal dit egter nie vanweë wantroue of twyfel wankel nie, maar met groot sekerheid en vaste bestendigheid daarin berus.

Wanneer die kerk so op die omvangrykheid van die beloftes wat dit het, steun, sal dit altyd rede hê om sy geloof pragtig te onderskraag sodat daarin geen twyfel sal ontstaan dat die Heilige Gees dit altyd bystaan as die beste gids op die regte pad nie. Tegelyk sal dit egter ook in gedagte hou watter voordeel God wil hê dat ons van sy Gees moet ontvang. Hy sê: "Die Gees wat Ek van my Vader aan julle sal stuur, sal julle in alle waarheid lei".77 Maar hoe? "Want," sê Hy, "die Gees sal julle aan alles wat Ek gesê het, herinner".78 Hy verkondig dus dat ons van sy Gees niks meer moet verwag as dat Hy ons verstand moet verlig om die waarheid van sy leer te begryp nie. Daarom het Chrysostomos baie verstandig opgemerk: "Baie roem op die Heilige Gees maar diegene wat hulle eie gedagtes uitspreek, hou Hom valslik as dekmantel voor. Soos Christus getuig het dat Hy nie uit Homself praat nie79 omdat Hy uit die wet en die profete gepraat het,80 so moet ons niks glo wat buiten die evangelie onder die naam van die Gees aan ons opgedring word nie. Want soos Christus die vervulling van die wet en die profete is,81 so is die Gees die vervulling van die evangelie".82 Tot so ver Chrysostomos.

Nou is dit maklik om af te lei hoe verkeerd ons teenstanders optree wanneer hulle met geen ander doel op die Heilige Gees roem as om vreemde leerstellings wat nie by God se Woord tuishoort nie, onder sy Naam by ons aanprys. Die Heilige Gees wil immers self met 'n onverdeelbare band met die Woord van God verenig wees en Christus betuig dit ook van Hom wanneer Hy die Heilige Gees aan sy kerk beloof.

Dit is inderdaad so. Die nugterheid wat die Here eertyds aan sy kerk voorgeskryf het,83 wil Hy voortdurend gehoorsaam hê. Hy het die kerk egter verbied om iets by sy Woord by te voeg of iets daarvan weg te neem.84 Dit is 'n onskendbare besluit van God en die Heilige Gees wat ons teenstanders probeer herroep wanneer hulle hulle verbeel dat die kerk sonder die Woord deur die Gees regeer word.

14. 'n Weerlegging van die Roomse standpunt dat die kerk leemtes in die geskrewe Woord moet aanvul; die plek van tradisie in die kerk.🔗

Hier mor hulle weer eens dat die kerk sekere dinge by die geskrifte van die apostels moes byvoeg of dat die apostels self later mondelings aanvullings moes maak oor dit wat hulle nie so duidelik geleer het nie.85 Hulle voer aan dat Christus vir hulle gesê het: "Ek het baie dinge om vir julle te sê maar julle kan dit nie nou dra nie".86 Hulle beweer dat dit die besluite is wat sonder die Skrif slegs deur gebruik en gewoontes aanvaar is.87

Maar watter verwaandheid is dit! Ek erken dat die dissipels nog ongeleerd en byna onleersaam was toe hulle dit van die Here gehoor het. Maar was hulle deur so 'n traagheid van verstand gekniehalter ook toe hulle die leer op skrif gestel het dat hulle dit nodig gevind het om dit wat hulle vanweë 'n gebrek uit onkunde in hulle geskrifte weggelaat het, later mondelings aan te vul? As hulle inderdaad deur 'n Gees van waarheid gelei is en hulle geskrifte in alle waarheid die lig laat sien het, wat het hulle verhinder om die volmaakte kennis van die leer van die evangelie daarin saam te vat, daarin te beseël en agter te laat?

Maar kom, laat ons hulle toegee wat hulle vra. Laat hulle dan egter slegs die dinge aandui wat ongeskrewe geopenbaar moes word. As hulle sou waag om dit aan te pak, sal ek met hulle volgens Augustinus se woorde handel. Dit is: "Aangesien die Here daaroor geswyg het, wie van ons sou sê: 'Dit is dit of dit is dat'? Of as hy nog sou waag om dit te sê, hoe sou hy dit kon bewys?88

Maar waarom stry ek met hulle oor 'n saak wat heeltemal oorbodig is? Dit is immers selfs aan 'n kind bekend dat daar in die geskrifte van die apostels wat hulle in 'n sekere sin mank en half voorstel, die vrug van daardie openbaring is wat die Here toe aan hulle beloof het.

15. 'n Weerlegging van die Roomse opvatting dat die kerk onfeilbaar is omdat Christus self iemand wat dit weerspreek het, as 'n heiden en tollenaar gebrandmerk het.🔗

"Wat?" vra hulle. "Het Christus self dan nie alles wat die kerk leer en besluit, bo alle verskil gestel toe hy beveel het dat iemand wat dit durf teenspreek, as 'n heiden en tollenaar beskou moet word nie?''89

Ten eerste is daar geen sprake van die leer nie maar gesag word verleen aan die kerklike sensuur om gebreke reg te stel om te voorkom dat mense die kerk se oordeel teenstaan as hulle vermaan of tereggewys word. Dit daar gelaat, maar dit is tog baie snaaks dat daardie skurke geen  skaamte het om daaroor te raas nie. Wat sal hulle nou eintlik bereik anders as dat die kerk se eenstemmigheid nie geminag moet word omdat dit nooit anders as slegs in die waarheid van die Woord van God eenstemmig is nie?

"Ons moet na die kerk luister," sê hulle.90 Wie ontken dit? Maar net wanneer dit uit die Woord van die Here oordeel! As hulle iets meer eis, moet hulle weet dat hierdie woorde van Christus hulle geen steun bied nie. Ek moet ook nie as te strydlustug beskou word omdat ek so heftig hierop aandring nie, naamlik dat dit die kerk nie geoorloof is om enige nuwe leer tot stand te bring nie. Dit beteken dat dit nie geoorloof is om meer te leer en iets as 'n Godspraak te onderrig wat die Here nie in sy Woord geopenbaar het nie. Mense met gesonde verstand kan immers sien hoeveel gevaar daarin is as soveel reg eenmaal aan mense verleen is. Hulle kan ook sien hoe 'n groot venster vir die bespotting en gekyf van goddelose mense oopgemaak word as ons sou beweer dat iets wat na die goeddunke van die mens ontstaan het, onder Christene as 'n Goddelike uitspraak beskou moet word. Hierbenewens het Christus uit oorweging vir sy eie tyd gepraat toe Hy die naam kerk aan die Joodse raad gegee het sodat sy dissipels later kon leer om heilige kerkvergaderings te eerbiedig.91 Die gevolg daarvan sou wees dat elke stad en elke dorp ewe vry sou wees om leerstellings te smee.

16. Die voorbeeld van die kinderdoop is ongegrond.🔗

Die voorbeelde wat hulle gebruik, baat hulle niks nie. Hulle beweer dat die kinderdoop nie soseer uit 'n uitdruklike Skrifopdrag ontstaan het as uit 'n besluit van die kerk nie.92 Maar dit sou 'n uiters jammerlike toevlug wees as ons ter verdediging van die kinderdoop gedwing sou word om ons toevlug tot die blote gesag van die kerk te neem! Dit sal inderdaad elders duidelik word dat dit heeltemal anders is.93 Net so is hulle  beswaar dat die uitspraak op die sinode van Nicea dat die Seun eenswesens met die Vader is, nêrens in die Skrifte te lees is nle.94 Daarin doen hulle die kerkvaders 'n ernstige onreg aan asof hulle Arius onbesonne veroordeel het omdat hy nie by hulle woorde wou sweer nie hoewel hy die hele leerstelling bely het wat in die geskrifte van die profete en apostels opgesluit is. Ek erken dat die woord (eenswesens) nie in die Skrif voorkom nie95 maar aangesien daarin so dikwels verklaar word dat daar net één God is, en verder aangesien Christus so dikwels waaragtige en ewige God genoem word, één met die Vader, wat doen die Niseense vaders dan anders wanneer hulle verklaar dat Hulle één wese het, as om die natuurlike betekenis van die Skrifeenvoudig weer te gee? En Theodoritus vertel dat Konstantyn die volgende voorwoord in hulle vergadering gebruik het: "In verskille oor Goddelike sake het ons die leer van die Heilige Gees wat aan ons voorgeskryf is; die boeke van die evangelie en die apostels met die profesieë van die profete wys vir ons volledig die betekenis van die Goddelike mag aan.96 Laat ons dus tweedrag laat vaar en verklarings van ons vrae uit die die woorde van die Heilige Gees put".97 Daar was toe nie een wat hierdie heilige vermanings teengestaan het nie. Niemand het die uitvlug gebruik dat die kerk iets van sy eie kon byvoeg nie, en dat die Gees nie alles aan die apostels geopenbaar het, of ten minste dat dit nie alles by die nageslag uitgekom het, of iets dergeliks nie. As ons teenstanders se opvatting waar is, het  Konstantyn verkeerd opgetree toe hy die mag van die kerk af weggeneem het. Verder, omdat geeneen van die biskoppe opgestaan het om hierdie mag vir die kerk op te eis nie, was hulle stilswye nie sonder verraad nie want hulle was dan verraaiers van die reg van die kerk! Aangesien Theodoritus egter verhaal dat hulle die keiser se uitspraak geredelik aanvaar het,98 is dit duidelik dat hierdie nuwe leerstelling toe nog heeltemal onbekend was!

Endnotes🔗

  1. ^ Vgl. Inst. 4.11.1.
  2. ^ Vgl. Inst.4.10.
  3. ^ Marg.2. Cor. 10.b.8, & 13.c.10. Vgl. OC 50:117 - 119; 153 -154.
  4. ^ Vgl. 1 Kor. 4:1 (OC 49:362).
  5. ^ Marg. Matth. 17.a.5. Vgl. OC 45:488.
  6. ^ Marg. Exod. 3.a.4. Vgl. ook vers 5.
  7. ^ Marg. Ibidem, 14.g.31. Eks. 14:31.
  8. ^ Marg. Deut. 17.b.9. Vgl. ook Deut. 17:10 - 13.
  9. ^ Marg. Malach. 2.a.4, & b.6.
  10. ^ Vgl. Mal. 2:7.
  11. ^ Marg. Deut. 17.b.l0. Vgl. ook Deut. 17:11.
  12. ^ Marg. Ezech. 3.d.17. Vgl. OC 40:89 - 91.
  13. ^ Marg. Iere. 23.f28. Vgl. ook ealvyn se Praelect. in Ier. 23:28 (OC 38:442 - 444).
  14. ^ Marg. Iesa. 6.b.5. Vgl. OC 36:130 - 132.
  15. ^ Marg. Iere. 1.b.6. Vgl. OC 37:476 - 477.
  16. ^ Marg. Ibidem, b.l0. Jer. 1:10. Vgl. OC 37:479 e.v.
  17. ^ Vgl. Jer. 1:9.
  18. ^ Marg. Matth. 5.b.13. Vgl. ook vers 14 en OC 45:167 - 169.
  19. ^ Marg. Luc. 10.c.16. Vgl. OC 45:313 - 314.
  20. ^ Marg.Iohan. 20.c.23. Vgl.OC 47:440 - 442. Vgl. ook Matt. 16:19; 18:18 (OC 45:474 - 477; 515.516).
  21. ^ Marg. Matth. 28.c.19. Vgl. ook vers 20 en OC 45:821 ·826.
  22. ^ Marg. Iohan. 7.c.l6. Vgl. OC 47:169 . 170.
  23. ^ Marg. Matth. 11.d.27. Vgl. OC 45:319 . 320.
  24. ^ Vgl. 2 Kor. 3:18 (OC 50:46 . 47).
  25. ^ Vgl. Inst. 1.6.2 (Afr. ven. 1:150 e.v.).
  26. ^ Marg. Mala eh. 2.b.7.
  27. ^ Vgl. Deut. 4:2; 13:1 . 3.
  28. ^ Calvyn veronderstel altyd dat Dawid die skrywer van die Psalms was en ook dat hy 'n profeet was.
  29. ^ Vgl. Deut. 5:29, 32.
  30. ^ Marg. Malac. 4.a.4.
  31. ^ Vgl. Ps. 19:8 - 15 (OC 31:198 e.v.).
  32. ^ Vgl. Inst. 2.11.4 - 6, 11, 14 (Afr. vert. 2:600 - 603, 608 e.v., 611 e.v.),
  33. ^ Marg. Hebr. 1.a.2. Vgl. ook Hebr. 1:1 en OC 50:9 - 11.
  34. ^ Vgl. 1 Joh. 2:18 (OC 55:320 . 322).
  35. ^ Vgl 1 Tim. 4:1 en 1 Pet. 1:20 (OC 52:292 . 293; 55:226).
  36. ^ Vgl. Hand. 2:17; 2 Tim. 3:11 en 2 Pet. 3:3 (OC 48:31 - 32; 52:379· 380; 55:472 . 473).
  37. ^ Marg.Matth. 17.a.5.
  38. ^ Marg. Coloss. 2.a.3 (OC 52:100).
  39. ^ Vgl. Joh. 19:23 (OC 47:415 . 416).
  40. ^ Marg. Ioban. 4.d.25 (OC 47:90 . 91).
  41. ^ Marg. Matt. 28.d20. Vgl. ook vers 19.
  42. ^ Marg. Matth. 23.a.8. Vgl. ook vers 10.
  43. ^ Matt. 23:7 . 10.
  44. ^ Vgl. Joh. 16:13 (OC 47:361 - 363).
  45. ^ Marg. Iohan. l4.d.26, & l6.b.13 (OC 47:334 . 335).
  46. ^ Marg. 1 Pet. 4.c.11 (OC 55:276 . 278).
  47. ^ Marg.2. Cor. l0.a.4. Vgl. ook vers 5 en OC 50:114 - 115.
  48. ^ Vgl. Inst. 4.3.5 . 8.
  49. ^ Calvyn gebruik die uitdrukking certi et autoentiet Spiritus sancti amanuenses. Die woord amanuensis kom oorspronklik van a manu (servus) wat sekretaris of klerk beteken. Natuurlik bring hierdie woord Calvyn se Skritbeskouing en sy opvatting oor die Skrifgesag aan die orde hoewel dit duidelik is dat sy uiteensetting hier gemik is op die onderwysing van die Skrif. Hy gee egter nërens 'n uitvoerige behandeling van hierdie onderwerpe nie en poog trouens ook nie om kwantitatief die inhoud van die Skrif te verdeel in gedeeltes waar die menslike aspekte daarvan sterker is, en gedeeltes waar die Goddelike Woord weer kragtiger is nie. Artikels 2 en verder van die NGB het ongetwyfeld by Calvyn gaan kers opsteek.
  50. ^ Marg. 2. Cor. 1.d.24.
  51. ^ Marg. 1. Cor. 14.f29. Vgl. ook vers 30 en OC 49:529.
  52. ^ Marg. Rom. 10.c.17. Vgl. OC 49:206 - 207.
  53. ^ Vgl. Rom. 3:4.
  54. ^ Vgl. 2 Kor. 6:15.
  55. ^ Vgl. Eck, Ench. c. 1 a5b asook Inst. 4.9.1.
  56. ^ Vgl. Cochlaeus, De autoritate eccl. 1524, 1.6 fo. D1a.
  57. ^ Vgl. Cliehtoveus, Antilutberus 1.J5 fo. 29b.
  58. ^ Vgl.Joh. 16:13.
  59. ^ Marg. Matt. 28.d.20.
  60. ^ Marg. Ioban. 14.b.16. Vgl. ook vers 17 en OC 47:329. Kyk ook Clichtoveus, De conc. generalium indeviabilitate 1.10 fo. 22b; 1.14 fo. 31a asook Eek, Eneb. 1 (Batties 1978:9).
  61. ^ Vgl. Jes. 11:2 (OC 36:235 . 237).
  62. ^ Marg. 1. Cor. 2. c.12. Vgl. OC 49:342.
  63. ^ Marg. Ephes. l.d.18. Vgl. OC 51:156.
  64. ^ Vgl. Rom. 8:23.
  65. ^ Marg. Philip. 3.c.12. Vgl. OC 52:51.
  66. ^ Vgl. Ef. 4:7.
  67. ^ Marg. Epbes.5.f.25. Vgl.ook verse 26en 27;OC 51:222 - 225 en Eck, Ench. c. 1A4b (Battles 1978:7).
  68. ^ Marg. 1. Tim. 3.d.15. Vgl. OC 52:287 - 289 en Eck, Ench. c. 1 A5b (Battles 1978:9).
  69. ^ Vgl. Hebr. 9 en 10.
  70. ^ Vgl.Augustinus, Contra ep. Parm. 3.17 (MPL43:95 e.v.; CSEL51:121); Ep. 176 (Ad Innocentium) 2 (MPL 33:763; CSEL 44:665).
  71. ^ Vgl. Inst. 4.1.10; 4.2.1.
  72. ^ Vgl. 1 Tim 3:15.
  73. ^ Vgl. Ef. 4:11.
  74. ^ Vgl. Ef. 4:14.
  75. ^ Vgl. Ef. 4:13.
  76. ^ Cochlaeus, De authoritate eccl. (1524) 1.5 fo. C1b; 1.6 fo. C3b; De Castro, Adv. baereses (1543) 1 fo. 8B . l0G; Eck Encb. 1 A5b.
  77. ^ Marg. Ioban. 16.a.7, & b.13. Vgl. OC 47:358; 361 . 363.
  78. ^ Vgl. Joh. 14:26.
  79. ^ Vgl. Joh. 12:49.
  80. ^ Marg. Ioban. 12.8.50 & 14.b.10. Vgl. OC 47:304; 326.
  81. ^ Marg. Rom. 10.a.4. Vgl. OC 47:196.
  82. ^ Marg. Serm. de sancto & adorando sptritu. Vgl. Pseudo-Chrysotomos, Sermo de sancto Spiritu 10 (MPG 52:824).
  83. ^ Vgl. 1 Petr. 1:13; 4:7; 5:8.
  84. ^ Vgl. Deut. 4:2; Openb. 22:18 . 19.
  85. ^ Cochlaeus, De authoritate eccl. 1.4 fo. B4a.
  86. ^ Marg. Iohan. 16.b.12. Vgl. OC 47:364 . 365.
  87. ^ Cochlaeus, De authoritate eccl. 1.8 fo. E2a; Eck, Ench. 1 A5b; 4 C5a
  88. ^ Marg. Homil. in Ioban. 96:Augustinus, In Ioan. tract. 96.2 (MPL 35:1874).
  89. ^ Marg. Matt. 18.c.17.Vg1. ook Clichtoveus, Antilutberus 1.11 fo, 22a; 23a; Cochlaeus, De authoritate eccl. 1.3 fo. B4a; 1.5 fo. C2b; Eck, Ench. 2 B1b; 13 E7b.
  90. ^ Vgl. Eck, Ench. (1533) 2 7ab.
  91. ^ Vgl. Matt. 5:22.
  92. ^ Vgl. Eck, Ench. 3 e4b.
  93. ^ Vgl. Inst. 4.16.
  94. ^ Vgl. Cochlaeus, De authoritate eccl. 1.4 B4a; Eck, Ench. 4 C4b.
  95. ^ Vgl. Inst. 1.13.5 (Afr. vert. 1:217, n. 28, 29).
  96. ^ Vgl. Inst. 2.5.19 (Afr. vert. 2:465 . 466)
  97. ^ Marg. Lib. 1. cap. 5. bist. eccles. Vgl. Theodoritus, Hist. eccl. 1.7; Cassiodorus, Hist. tripart. 2.5 (MPL 69:925). Kyk ook Inst. 1.13.3 (Afr. vert. 1:214 - 215).
  98. ^ VgI. Theodoritus, a.w. 1.7.