2 bladsye.

Lukas 1 - Sagaria die Grenswagter

Grenswagter tussen Ou Testament en Nuwe Testament🔗

Ons gebruik die woord grenswagter hier in ʼn oordragtelike sin. Ons noem Sagaría, die ou priester van ʼn dorpie in die Judese heuwels, ʼn ‘grenswagter’ omdat hy op ʼn besondere wyse by ʼn grens staan. En hy wag.

Met die grens bedoel ons die oorgang van die Ou Testamentiese na die Nuwe Testamentiese bedeling. U dink hier miskien aan die skoon bladsy in u Bybel tussen die Ou Testament en die Nuwe Testament, wat die eerste deel van die Godsopenbaring van die volgende deel skei. Heilshistories gesien is dit egter anders, want die eintlike grensoorgang van die Ou Verbond na die Nuwe Verbond lê by die koms van Christus in die vlees. Alles wat voorheen gebeur het, hoort nog by die tyd van verwagting, waarin biddend uitgesien is dat en hoe God sy raad sou vervul. Alles wat daarna kom, staan in die lig van die vervulling van God se adventsbelofte in Christus. Sagaría staan dus ook nog vóór die grens. Hy staan daar vol verwagting. Daarom noem ons hom ʼn grenswagter.

Ons ook?🔗

Dit is nou vir ons Adventstyd. Leef die geloofsverwagting, gewerk deur die Heilige Gees, in ons harte? Ons kan natuurlik nie die situasie van Sagaría sonder meer op ons toepas nie. Ons kan ook nie maak asof die Here Jesus nog moet kom nie. In die aanloop na Kersfees kan ons egter dink oor die vraag of die belofte van heil in ons lewe vervulling kry. Het Christus in ons gestalte gekry? Paulus het geskryf dat dit God behaag het om sy Seun in hom te openbaar (Galasiërs 1:16).

Toe ek nog student was in Apeldoorn het een van die hoogleraars op huisbesoek aan my die vraag gestel of ek dit net soos Paulus kan sê, en wat daarmee bedoel word. Dit was ʼn moeilike vraag. My antwoord was dat Christus deur die geloof vir my siel waarde gekry het. Die heilsfeit van die geboorte van Christus hoef nie in mistieke sin herhaal te word nie. Herhaling van die heilsfeite sal aan die unieke waarde daarvan afbreuk doen. Maar dit moet toegepas word om tot ʼn geloofsverstaan van die heilsfeit te kom. Daarin is groei en voortgang nodig. Wanneer ons tot kennis van Christus kom, vind daar ʼn grensoorgang plaas; van duisternis na lig; van dood na lewe; van die oue na die nuwe.

Hoe gaan ons hierdie Adventstyd in? As grenswagters? Uitsiende na die openbaring van die liefde van God in ons lewe? Uitsiende na verdieping en versterking daarvan in ons lewe?

Verwagting en aanvegting🔗

Sagaría en Elisabet was altwee uit die priesterstam van Levi. Dit word nie in Lukas 1 vermeld net om ons te laat weet dat hulle kerklike papiere in orde was nie. As Godvresende mense het hulle uitgesien na die heil van die Here, beloof in die profetiese Woord wat baie vas is. Ware adventsverwagting is die verwagting wat gewerk word deur die Gees van God, wat gegrond is op die Woord van God en wat beleef word in ʼn biddende uitsien na Hom wat alleen die uitkoms uit alle nood kan gee.

Die naam Sagaría beteken: die HERE onthou. Maar dit kan só aangeveg word. In sy familielewe het Sagaría die groot verdriet van kinderloosheid geken. Hierdie een woord hou ʼn wêreld van gedagtes, vrae, trane, hoop en teleurstelling in. Sou hulle nageslag dan nie by die koms van die Messias teenwoordig wees nie?

Hoe geestelik moeilik word dit as God ons op weë van beproewing lei. Hoe lank moet ʼn mens dan bly hoop? Die gebede vir ʼn kind het moontlik al stil geword; uitgesproke gebede vervaag tot stille versugtinge. Verwagting en aanvegting is soms baie na aan mekaar in die binneste, waar hulle stry om voorrang te kry. Tog maak die HERE die belofte waar: Hy gedenk sy eie Woord.

Die HERE gedenk🔗

Op ʼn goeie dag kry Sagaría hoë besoek in die tempel, by die reukoffer-altaar. Die reukoffer-altaar dui op gebed wat as reukwerk na God opstyg. Vurige kole van die brandoffer-altaar word op die reukoffer-altaar gelê. Hierin is daar diep simboliek. Die ware dankbaarheid (reukoffer) kom op uit ware belewing van die versoening en skuldvergewing (brandoffer). Op hierdie plek gaan die HERE vir Sagaría onderrig. Om te bid, hét sin, Sagaría. Ware gebed, wat pleit op die beloftes van God, wórd deur God verhoor. Nie omdat ons so mooi kan bid nie, maar omdat daar aan die verhoring ʼn offer ten grondslag lê.

Sagaría, ...jou gebed is verhoor”. Ons ken Sagaría se bedeesde reaksie. Daarom moes hy van Godsweë swyg; stil word voor God. Nou het die mens niks meer te sê nie; hy buig onder God. Soms word die diepste dinge in dié stilte geleer. Ook Job moes sy hand op sy mond lê. Maar die Here vergeet Sagaria nie in dié tyd nie, in stilte en vertroue was sy sterkte.

Ja, my siel is stil tot God; van Hom is my heil.Psalm 62

Nou het ons ʼn mooi Adventstyd, want die lofsang, eers in stilheid, breek straks in die openbare aanbidding deur: “Hy het gedink aan sy genade, sy trou aan Israel nooit gekrenk.” Die HERE gedenk! Daarom word dit Kersfees.