3 bladsye.

Vir Julle, Julle Kinders en Almal wat daar Ver is: Die Doop ook vir Aangenome Kinders?

doop

Wanneer gelowige ouers ʼn kind van die Here kry, dan volg daar altyd die doop van daardie kind. Ons glo dat ons kinders deur die doop as teken van die verbond ʼn plek kry in die gemeente van Christus. Ons kinders moet op hierdie manier van die kinders van ongelowiges onderskei word (vgl. vraag & antwoord 74 HK). Aan ons kinders word nie minder nie as aan die volwassenes deur die bloed van Christus die verlossing van die sondes beloof. Die Heilige Gees wat die geloof werk, word ook aan ons kinders beloof.

Jy en Jou Nageslag🔗

Die vraag kan natuurlik gestel word of ook kinders, wanneer hulle deur gelowige ouers aangeneem word, óók gedoop moet/mag word. Het die Here nie met Abraham en sy fisiese (bloed) nageslag sy verbond gesluit nie? Indien ʼn aangenome kind ook gedoop word, op grond waarvan sal ons dit doen? Sê die Here nie uitdruklik vir Abram (sic!) dat “die een wat uit sy liggaam sal voortkom” sy erfgenaam sal wees nie (Genesis 15:4)?

Dit sal ons maklik kan laat dink dat die grond vir die doop van ons kinders geleë is in die feit dat ons hulle verwek het. Die Here wys juis vir Abram ʼn heel ander basis vir sy verbond. Dit is nie Abram se bloed nie, maar God se belofte wat gehandhaaf moet word. Die basis van die genadige belofte kom juis mooi na vore uit die feit dat Abram geen nageslag kan verwek nie!! Abram en Sarai word getref met kinderloosheid! Hulle kan geen kinders van hul eie kry nie. Vir Abram en sy nageslag is daar ʼn toekoms met die Here, net omdat hy die Here geglo het (Genesis 15:6). Die grond vir sy geloof, is die belofte van God. Dit is dan ook aan hierdie belofte van genade van die Here, teen alle natuurlike onmag van Abram in, wat ʼn heel besondere teken verbind word.

Onmag🔗

Wanneer Abram en Sarai kinderloos bly, dan bly die Here se belofte steeds staan. Selfs al het Abram en Sarai intussen ʼn eie plan probeer maak om vir die Here uit Abram se krag ʼn kind te kry. Die hele verhaal met Sarai se slavin vorm hiervan ʼn getuienis (Genesis 16). Die Here het haar nie toegelaat om moeder te word nie. Die nageslag wat die Here vir Abram beloof het, is nie ʼn saak van Abram se krag nie. Maar die Here laat sien dat sy beloftes werklik geglo en dat daarop vertrou kan word. Dit gaan nie oor Abram se fisiese nageslag nie, maar oor die Here wat groot in barmhartigheid is.

Na Abram se “eksperiment” met Hagar, verander die Here eers nog Abram se naam. Hy word Abraham. “Kyk, Abraham, dit is Ek wat jou ʼn vader van ʼn menigte van nasies sal maak” (Genesis 17:5). Maar dit is nie net Abram se naam wat verander word nie. Vir Abraham mag daar geen verdere eksperimente met sy voortplantingskrag wees nie. In God se toekoms met Abraham, gaan dit nie oor Abraham se “bloed” nie. Hy moet leer om ʼn wonder van God te verwag.

Waarom Besnydenis?🔗

Die Here wil op ʼn heel besondere manier laat sien dat dit nie vir die Here gaan oor die vrugbaarheid van Abram nie. Daarvoor word ʼn besondere, maar sprekende teken gegee. Die voorste deel van die manlike geslagsorgaan moet af! Weg met die voorhuid (Genesis 17:11)! En dan nie net by Abraham nie, maar ook by almal wat manlik is in sy huis. Daar mag nooit weer die gedagte by hulle opkom dat dit hulle self is wat die geslag van God verseker nie. Dit word ʼn teken van God se verbond. Teken van sy genade. Die Here sal self verseker deur Abraham ʼn nageslag gee; ʼn nageslag wat nie getel kan word nie.

Die besnydenis is daarom sommer ʼn dubbele teken. Eers moet Abraham leer om te vertrou op wat God beloof het Hy self sal doen. Leer leef uit die Here se genade. Hy is immers die Almagtige wat kinders en ʼn nageslag kan gee, waar geen mens meer hoop gehad het nie (Genesis 17:1). En dit is ʼn belofte wat vir altyd bly staan. Daarom noem die Here dit sy “ewige verbond” (Genesis 17:7). Die Here self máák Abraham buitengewoon vrugbaar (Genesis 17:6).

instrumente

“…wat nie van Jou Geslag is nie…”🔗

In die tweede plek is dit ook ʼn teken van Abraham se eie magteloosheid om ʼn nageslag te kry. Elke keer weer wanneer hy en Sara gemeenskap het, moet hulle mekaar herinner dat dit net die Here is wat ʼn nageslag vir Hom kan verseker. Daarvan dra Abraham immers vir hul albei ʼn heel sigbare teken in sy liggaam! Sarai kry daarom ook ʼn naamsverandering, want dit is die Here wat haar moederskoot vrugbaar sal maak (Genesis 17:15-16). Hý sal haar seën. Dit is nie Abraham se werk nie! Saam moet hulle leer om te leef uit wat die Here uit sy almag gee.

Om dit nog duideliker te laat sien dat dit nie oor Abraham se “bloed” gaan nie, maar oor Christus se bloed, sluit die Here ook nog hulle in wat nie van die “bloed” van Abraham is nie. Óók hulle “wat nie van sy geslag is nie”, moet besny word (Genesis 17:12). In die huis van Abraham was daar ook plek vir sy slawe en hul kinders. Die wat in sy huis gebore is en wat met sy geld gekoop is, moes “sekerlik besny word” (Genesis 17:13). Sekerlik. Laat daaroor geen twyfel bestaan nie! Juis op hierdie manier moes die Here se verbond sigbaar word aan die liggaam van die mans in Abraham se huis. Waar daar geen bloed van Abraham is nie, geld steeds die belofte aan Abraham! In God se genade gaan dit immers nie oor ons “biologiese vermoëns” nie, maar die vermoë van die bloed van Christus!

Abraham se Slawe, God se Kinders🔗

Uit die Skrif is dit duidelik dat dit nie hier gaan oor die besnydenis van gelowige slawe of hulle kinders nie. Dit gaan hier oor God wat in liefde Abraham se slawe tot kinders van die Here maak!! Daaroor gaan dit wanneer ons nadink oor die doop van aangenome kinders deur gelowige ouers – oor God wat groot van barmhartigheid is. Dit is die blydskap wat ouers mag hê wanneer hulle jong kinders wettig aanneem.

Die Here God wat vir ewig wil laat sien dat Hy magtelose mense wil inskakel om instrumente te wees in sy almagtige krag. Daar waar in geloof geleef word uit die genade van die Here, laat Hy ook sy genade wyd uitstraal. Die lig van sy liefde (verbondsliefde!) val dan ook oor hulle wat deel vorm van die verantwoordelikheid van die gelowiges.

Ons sou wel kon vra of sake in die tyd na Christus se koms en veral met die uitstorting van die Gees van Christus nie verander het nie. Het die Here se werkmetode nie verander nie? Word die geloof in hierdie tydperk na Christus se hemelvaart nie meer verindividualiseer nie? As ons gewillig gaan luister wat die Woord van die Here hieroor sê, dan sien ons juis op watter mooi manier die werkmetode van die Here in die Ou Testament deurloop na die Nuwe Testament.

Op ʼn besonder mooi manier kom dit na vore in die belofte van die profeet Joël oor die uitstorting van die Heilige Gees. Die Here beloof dat Hy sy Gees sal uitstort “op alle vlees” (Joël 2:28). Eers word die seuns en dogters van die gelowiges genoem. Hulle sal profeteer. Die Here giet sy Gees uit in oorvloed op sy hele gemeente. Nie een sal uitgesluit wees nie. Oor jonk en oud. Seuns en dogters. Soos wat ’n vol emmer omgekeer word in ’n stortvloed van oorvloed, kom die Gees op sy kerk. Nie meer drupsgewys soos ’n kraan wat drup nie. Jonk en oud praat nou oor die Here en met Hom in gebed.

Maar dit bly nie by hulle nie. Ons seuns en dogters sal profeteer, maar ook “die diensknegte en diensmaagde” (Joël 2:29). Die slawe en slavinne deel in hierdie genadebewys van die Here. Hierdie genade van die Here word finaal op Pinksterdag uitgebrei tot al die nasies. Uit die mond van Petrus hoor ons op Pinksterdag dat hierdie belofte (van Joël) die gelowiges toekom, en hulle kinders en almal wat nie deel van Israel is nie, maar die Here nog na Hom sal roep. Die uitstorting van die Gees is die vervulling van die beloftes van die verbond wat die Here met Israel gesluit het. Dit is nou die grond vir die oproep aan hulle wat bymekaar is op pinksterdag om hulle te bekeer en gelowig hulle hoop op Christus te stel.

kinder en volwasse hand🔗

Onderskei van die Ongelowiges🔗

Wettig aangenome kinders is nou die kind van die nuwe ouers. Hierdie kinders moet duidelik onderskei word van die kinders van ongelowiges. Hierdie kinders is nou kind en verantwoordelikheid van gelowige ouers. In die gemeente is daar vir hulle ʼn plek in die gemeente van Christus. Hulle wat van nature (net soos ons almal!) ver weg van God was, word deur die Here se voorsienigheid naby aan Hom gebring.

Ook naby aan elkeen wat deel is van die gemeente van Christus. Deur die doop kry hierdie kinders ʼn plek in die gemeente van Christus. Saam mag ons nou ons gawes in diens stel van die Here wat met sy genade in aangenome kinders se lewe ʼn pad wil gaan. Ons gaan aan elkeen van die lidmate van die gemeente ons liefde nie alleen met die woord nie, maar ook met die daad bewys.

Aanneming tot Kinders🔗

Van die volk Israel word gesê dat aan hulle behoort die aanneming tot kinders van God (Romeine 9:5). Dit dui hulle besondere posisie aan – anders as al die ander volke maar tegelyk dui dit ook die besondere manier aan waarop hulle kinders van God geword het. ʼn Manier waarin dit nie afhang van die een wat wil of die een wat loop nie, maar van God wat barmhartig is (Romeine 9:16). Hierdie aanneming tot kinders wil sê dat nie hulle kinders van God is wat “kinders van die vlees is nie, maar die kinders van die belofte word gereken as nageslag” (Romeine 9:8). Dit gaan oor ons Here wat uitkies en roep. Só is Hy barmhartig oor wie Hy wil.

Vir ons bly daar maar een taak. Ons moet kom tot lof oor die diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God. Sy weë is ondeurgrondelik en ons kan dit nie naspeur nie. Wie het die gedagte van die Here geken en wie het vir Hom raad gegee? Wie van ons het ooit iets aan Hom gegee, sodat dit aan ons vergoed moet word? Uit Hom, deur Hom en tot Hom is alle dinge. Die heerlikheid is syne tot in ewigheid (Romeine 11:33-36)!