Bron: Die Kerkblad. 1 bladsye.

Waarom so 'n Klaende, Sugtende, Somber Lewe?

Moet daar nie baie meer van die feestelike van die genadelewe gesien kan word nie? Christene behoort tog borrelende en blymoe­dige sonskynmense te wees! Dit moet 'n lus en diepe vreugde wees om die Here te dien. Om kerk toe te gaan, die katkisasie voorbereid by te woon, en so meer, mag nie as 'n swaar plig beskou word nie. Die bekeerde lewe is immers 'n vreugdelewe! Die groot pretbeder­wer is die duiwel. Hy doen afbreuk aan alles wat goed, skoon en heilig is. Hy verlustig hom in die walglike, om uit bose moedswil die Goddelike en hemelse te besmeer en te bederf.

Hy doen hom voor as 'n engel van die lig. Hy drapeer die sonde in die gewaad van satyn. Hy wil ons met blinkende skyn verblind. Hy probeer hard om ons te breinspoel met 'n helse verdwasing in 'n verstikkende klimaat van vloek, skuld, ellende en dood. Gelukkig het God reeds sedert die groot draaipunt, naamlik die sondeval, 'n weerhoudende werking laat uitgaan sodat alles nie in abso­lute chaos uit mekaar sou breek en die hel ongetemd sou losbars nie. Hierdie intoming van die kwaad maak bv. kultuur en beskawing, 'n mate van publieke ordentlikheid en skaamtegevoel nog moontlik, soos die son soms mooi blomme in 'n onwelriekende moeras laat ontluik.

Die ware Christelike blydskap word egter in die dal van veroot­moediging uit trane van berou gebore. Jesus Christus is die bron van lig en lewe, van vreugde en saligheid. Deur die krag van sy opstanding wek Hy ons op tot nuwe lewe en Hy laat oor die dofheid van ons dode- en graflewe die lewens- en ligstrale van sy opstandingsdag glinster. As die lig van sy genade oor ons opgaan, kom ook die ware weeklag oor ons sonde. Ons behoort dan steeds meer met die sonde op 'n voet van onversoenlike vyandskap te lewe. 'n Breuk moet al meer aan die lig kom tussen ons vroeëre onbekeerde en ons latere bekeerde lewe. Uit vrye welbehae druk God se hand ons neer in die dieptes van self-mishae; Hy bring ons tot die besef van ons sonde en ellende én tot die jubelende blydskap oor ons verlos­sing. Hierdie droefheid, die heilige ontevredenheid met onsself ken die onbekeerde mens nie.

Hy voel ook dikwels nie so lekker nie, by hom is dit glad nie een-en-al lughartigheid nie. Dit is egter nie droefheid omdat hy God deur sy sonde vertoorn het nie. Dit is eerder spyt dat hy sy vingers in die proses verbrand het, as ware berou, soos by o.a. Farao, Saul, Agab en Judas Iskariot.

Die ware heldhaftigheid van die geloof maak dat jy so vér moontlik uit die buurt van die so uiters lewensgevaarlike sonde wil wegbly. Ons hoef immers nie meer rond te dool in die troostelose, vreugdelose grafkamers van ons donker wan­hoopsbestaan vanweë ons sondes nie. Ons vestig die oog op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof. Ons neem die Heilige Skrif ter hand en vind dat in daardie bladsye die hart van God vir ons altyd oop is, die God van alle genade. By ons sonnige lewe, vervul met 'n salige lag (Psalm 126, Fillipense 4:4), is daar deur die sonde wat ons nog so maklik ver­strik (Hebreërs 12:1), somberheid en droefenis wat eers in die heerlikheid by God finaal sal wyk (Openbaring 21:4). Omdat in Christus die pad na God se versoende vaderhart ontsluit is, is die diepste toon van die lewe van daaglikse bekering 'n geheiligde blydskap in God. Terwyl die slaafse vrees weggeneem is, is dit nie 'n onbeheersde, uitbundige blydskap wat die siel oorstroom nie, maar waaragtige lewensvreugde in gemeenskap met die Here en in die liefdesband met die wat saam met ons op pad is.

Ons moet ons elke dag bekeer van ons terneergedrukte bestaan, ons ernstige gemis aan die ware blyd­skap, sodat dit steeds van ons sal geld:

Hul sal hul in u diens waaraan hulle toegewy is, die ganse dag verheug, omdat hul in U bly is. (Psalm 89:6)