Institusie van die Christelike Godsdiens (1559) - Boek 1 Hoofstuk 10 Die Skrif stel die ware God uitsluitlik teenoor al die gode van die heidene om elke vorm van bygeloof reg te stel
Institusie van die Christelike Godsdiens (1559) - Boek 1 Hoofstuk 10 Die Skrif stel die ware God uitsluitlik teenoor al die gode van die heidene om elke vorm van bygeloof reg te stel
1. 'n Inleiding tot die Bespreking van die Wyse waarop God die Heelal Regeer⤒🔗
Ons het vroeër aangedui dat die kennis van God tog vertrouliker en duideliker in sy Woord uiteengesit word, hoewel dit andersins duidelik binne die steierwerk van die wêreld aan alle skepsele voorgelê word.1 Daarom is dit nou die moeite werd om te oorweeg of die Here Hom in die Skrif vir ons weergee soos wat dit tevore geblyk het dat Hy in sy werke omlyn word. Dit is inderdaad 'n uitgebreide onderwerp vir iemand wat deur 'n baie noukeurige behandeling daarvan sy tyd wil verwyl. Sover dit my aangaan, sal ek tevrede wees daarmee om slegs 'n aanduiding daarvan te gee om godvrugtige siele te vermaan sodat hulle kan weet wat hulle in besonder in die Skrif in verband met God moet ondersoek en sodat hulle hulle ondersoek op 'n vaste doelstelling kan rig. Ek raak hier nog nie die besondere verbond aan waarmee God die nageslag van Abraham van die res van die heidene onderskei het nie. Want toe Hy deur aanneming uit genade2 rnense wat tevore sy vyande was, as sy kinders aanvaar het, het Hy Hom toe alreeds as Verlosser geopenbaar. Ons hou ons egter nog besig met die kennis wat op die skepping van die wêreld betrekking het en wat nog nie op Christus as Middelaar oorgaan nie. Hoewel dit dus die moeite sal loon om 'n wyle later enkele aanhalings uit die Nuwe Testament te maak, aangesien die mag van God, die Skepper, en sy voorsienigheid in die onderhouding van die eerste natuur3 daaruit bewys word, wil ek hê dat my lesers oor my huidige doelstelling gewaarsku moet wees, sodat hulle nie miskien die perke wat vir hulle voorgeskryf is, te buite gaan nie.
Kortom: vir die huidige moet dit vir ons genoegsaam wees om te begryp hoe God as Maker van die hemel en die aarde, die heelal wat deur Hom geskep is, regeer. Sy vaderlike goedheid en wil, wat maklik tot milddadigheid geneig is, word trouens oral in die Skrifverkondig. Daarin word ook voorbeelde van sy strengheid gegee wat aandui dat Hy 'n regverdige Wreker van die mens se oortredinge is - in besonder wanneer Hy met sy verdraagsaamheid geen vordering teen halsstarrige mense maak nie.
2. Die Skrif Openbaar dieselfde Deugde van God wat ons in die Hemel en op Aarde sien Skitter←⤒🔗
Op bepaalde plekke in die Skrifword inderdaad duideliker beskrywings aan ons voorgehou waarin sy ware aangesig soos in 'n beeld vir ons gesig voorgehou word. Want toe Moses sy aangesig beskrywe het, wou hy klaarblyklik alles bondig saamvat wat die mens van God mag weet. Hy sê: "Here, Here, barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou, wat die barmhartigheid bewaar vir duisende, wat ongeregtigheid en oortredinge wegneem, by wie die skuldige nie onskuldig sal wees nie, wat die ongeregtigheid van die vaders aan hulle kinders en kleinkinders besoek".4 Ons moet daarop let dat sy ewigheid en sy selfgenoegdheid5 daar verkondig word deur die herhaling van sy heerlike Naam. Daarop word sy deugde vermeld waarin Hy vir ons beskrywe word - nie wie Hy in Homself is nie maar hoe Hy teenoor ons is.6 Die gevolg daarvan is dat ons kennis van Hom eerder op 'n lewende ervaring as op leë en hemelhoë spekulasie berus.
Voorts hoor ons dat dieselfde deugde hier opgenoem word as dié wat ons in die hemel en op die aarde sien skitter, naamlik sy sagmoedigheid, goedertierenheid, barmhartigheid, geregtigheid, oordeel en waarheid. Want in die Naam God7 word sowel sy deug as sy krag saamgevat. Wanneer die profete sy heilige Naam ten volle wil verduidelik, teken hulle Hom met dieselfde beskrywings. Om egter te voorkom dat ons gedwing word om nog meer voorbeelde aan te haal, moet een psalm vir die huidige vir ons voldoende wees. Daarin word 'n opsomming van al sy deugde met soveel noukeurigheid weergegee dat dit lyk asof niks daaruit weggelaat is nie.8 En tog word daarin niks aan ons voorgehou wat nie ook in sy skepsele gesien kan word nie. Uit eie ervaring kan ons so ook agterkom dat God is soos Hy Homself in sy Woord bekend maak. Wanneer Hy in Ieremia verklaar hoe Hyas God deur ons geken wil word, lê Hy aan ons 'n beskrywing voor wat nie so volledig is nie maar wat tog duidelik op dieselfde neerkom. Hy sê: "Laat hy wat wil roem, hom hierop beroem dat hy weet dat Ek die Here is wat barmhartigheid, oordeel en geregtigheid op die aarde doen".9
Dit is in besonder noodsaaklik dat ons van hierdie drie eienskappe kennis moet neem, naamlik sy barmhartigheid, waarop ons almal se saligheid berus, sy oordeel, wat elke dag teen die bose uitgeoefen word en selfs nog swaarder in die ewige verderf op hulle wag, en sy geregtigheid waardeur gelowiges behoue bly en met goedertierenheid gekoester word. As 'n mens dit begryp, getuig die profesie dat jy rede in oorvloedhet om jou in God te beroem.
Tog word sy waarheid of mag of heiligheid of goedertierenheid10 nie hier buite rekening gelaat nie. Want hoe sou die kennis van sy geregtigheid, sy barmhartigheid en sy gerig waarna hier gevra word, kon bestaan het as dit nie op sy onbuigsame waarheid sou steun nie? En hoe sou die mens kon glo dat die aarde met oordeel en geregtigheid geregeer word as hy nie ook van sy mag kennis dra nie? Waaruit ontstaan sy barmhartigheid anders as uit sy goedheid? Kortom: as al sy weë barmhartigheid, oordeel en geregtigheid is, dan is sy heiligheid ook daarin merkbaar.
Verder is die kennis van God wat in die Skrif aan ons voorgehou word, vir geen ander doel bestem as om op sy skepsels afgestempel te wees en daar te skitter nie. Dit nooi ons naamlik eerstens tot die vrees van God en tweedens ook tot die vertroue in Hom. Die doel daarvan is naamlik dat ons kan leer om Hom in volmaakte lewensonskuld en ongeveinsde gehoorsaamheid te dien en volkome van sy goedheid afhanklik te wees.
3. Die Heidendom kan hulle nie daarmee Verontskuldig dat hulle God nie geken het nie←⤒🔗
Maar ons voorneme is om hier 'n samevatting van die algemene leer te maak. In die eerste plek moet my lesers daarop let dat die Skrif al die gode van die heidene uitdruklik uitsluit en verwerp om ons op die ware God te rig, omdat die godsdiens oor feitlik al die eeue heen vervals is. Dit is wel waar dat die Naam van die enige God oral bekend en geroem was. Want mense wat 'n groot skare gode gedien het, het doodeenvoudig die naam 'god' gebruik wanneer hulle uit 'n opregte natuurlike gevoel gespreek het, net asof hulle met die enige God tevrede was. Dit het Iustinus die Martelaar ook verstandig aangeteken toe hy met dié doel voor oë 'n boek, Die heerskappy van God, saamgestel het. Daarin toon hy aan die hand van menigvuldige getuienisse aan dat die eenheid van God in alle mense se harte ingebeitel was.11
Tertullianus bewys dit ook uit die alledaagse spraak.12 Maar omdat hulle die laaste een deur hulle ydelheid weggerokkel is of in valse versinsels verval het of in hulle verstand so verdwaas geword het, het alles wat hulle van nature in verband met die enige God gevoel het, geen verdere krag gehad behalwe om hulle sonder verontskuldiging te laat nie.13 Want ook die wysste manne onder hulle gee openlik blyke van die ydel dwaling van hulle verstand wanneer hulle begeer dat 'n god hulle moet bystaan, en so roep hulle in hulle gebede gode aan waaroor hulle geen sekerheid het nie. Voeg nog hierby dat hulle nie vry was van die bedrog van die Satan toe hulle 'n veelvuldige natuur van God by hulleself ingebeeld het nie, hoewel hulle gevoelens oor Jupiter, Mercurius, Venus, Minerva14 en ander godeminder dwaas as die van die onbeskaafde massa was.
Ons het alreeds elders gesê15 dat al die uirweë wat die filosowe arglistig uitgedink het, die skuld van hulle afvalligheid nie uitwis sonder dat die waarheid van God deur hulle almal geskend is nie. Wanneer hyal die afgode verdoem het, beveel Habakuk om hierdie rede sy volk om God in sy tempel te soek om te verhoed dat die gelowiges 'n ander god as die Een wat Hom in sy Woord openbaar, sou toelaat.16