Hoewel kennis van God in alle mense se harte ingegraveer is, word dit uit onkunde of kwaadwilligheid onderdruk. Sommiges verval in bygeloof terwyl ander God doelbewus verloën. Eiesinnige godsdiens is eweneens nie die ware godsdiens volgens die wil van God nie, maar huigelary.

1984. 5 bladsye.

Institusie van die Christelike Godsdiens (1559) - Boek 1 Hoofstuk 4 Die kennis van God word deels uit onkunde, deels uit kwaadwilligheid gesmoor of bederwe

1. Die Gevolge van Bygeloof🔗

Hoewel ons ervaring daarvan getuig dat die saad van die godsdiens van Godsweë by alle mense gesaai is, kan daar beswaarlik een uit elke honderd mense gevind word wat dié saad wat hy ontvang het, in sy hart vertroetel, en niemand in wie dit tot volle wasdom kom nie, laat staan nog dat die vrug daarvan op sy tyd verskyn. Terwyl sommige van hulle verder in hulle bygelowe vergaan en ander hulle arglistig inspan om van God afvallig te word, wyk hulle tog almal van die ware kennis van God af. Die gevolg daarvan is dat geen egte godsvrug op die wêreld oorbly nie. Maar sover dit my bewering aangaan dat sommige mense as gevolg van hulle dwaling in bygeloof verval, is my opvatting daarvan nie so dat hulle eenvoud hulle van alle blaam onthef nie, want die blindheid waaronder hulle swoeg, is feitlik altyd met 'n hooghartige ydelheid en weerbarstigheid verstrengel.

En ook ydelheid tesame met hooghartigheid word daarin openbaar dat die mens in sy ellende in sy soeke na God nie bo homself kan uitstyg soos dit hom betaam nie, maar dat hy homself na die maat van sy eie vleeslike stompsinnigheid meet. Omdat hy deeglike ondersoek daarna in die wind slaan, neem hy nuuskierig sy toevlug tot ydele bespiegeling. Gevolglik begryp die mens Hom nie soos wat Hy Homself aan hulle voorhou nie, maar hulle verbeel hulle dat Hy is soos wat hulle Hom in hulle onbesonnenheid versin het. Wanneer hierdie maalstroom voor hulle oopgaan, moet hulle noodwendig altyd blindelings die verderf  instort, waarheen hulle ook al hulle voete beweeg.

Want alles wat hulle later ten opsigte van die godsdiens en gehoorsaamheid aan God aanpak, kan hulle nie as opoffering vir Hom reken nie, omdat hulle nie Hóm nie maar eerder 'n skim en 'n droom van hulle eie hart in sy plek dien. Paulus vermeld hierdie bedorwenheid uitdruklik wanneer hy sê dat hulle dwaas geword het terwyl hulle hulle beywer het om wys te wees.1 Vantevore het hy gesê dat hulle dwaas word in hulle oorlegginge,2 maar om te voorkom dat iemand hulle verontskuldig, het hy daaraan toegevoeg dat hulle met reg blind word omdat hulle nie met soberheid tevrede is nie. Deur hulle meer as wat betaamlik is aan te matig, haal hulle hulle vanself die duisternis op die hals - of, liewer, deur hulle sinlose en verwronge hooghartigheid verblind hulle hulleself. Die gevolg daarvan is dat hulle dwaasheid nie verontskuldig kan word nie, omdat nie alleen 'n ydele nuuskierigheid nie maar ook 'n onbeteuelde sug daarna om ·meer te weet as wat paslik is, tesame met 'n valse selfvertroue die oorsaak daarvan is.

2. Goddelose mense Verloën God Doelbewus🔗

Die feit dat Dawid sê dat goddelose en waansinnige mense in hulle hart gevoel dat God nie bestaan nie,3 word in die eerste plek beperk tot die mense wat hulleself doelbewus verdwaas deur die lig van die natuur te smoor - soos ons 'n rukkie later weer sal sien. So sien ons ook dat groot getalle mense elke herinnering aan God woedend wegkeer nadat hulle in verwaandheid en die gewoonte om te sondig verhard het, terwyl die herinnering aan God tóg deur hulle ervaring van die natuur spontaan binne-in hulle verskaf word. Om hulle waansin nog afstootliker te maak stel Dawid hulle voor as mense wat botweg verklaar dat God nie bestaan  nie. Hoewel hulle Hom nie van sy Wese ontneem nie maar omdat hulle Hom van sy gerig en voorsienigheid beroof, sluit hulle Hom as 'n afsydige God in die hemel toe.4

Want aangesien niks minder by God pas as om die bestiering van die wêreld te verwerp en aan die lot oor te laat en blind te wees vir die oortredinge van die mensdom sodat hulle ongestraf hulle luste kan laat botvier nie, beweer elkeen wat sy vrees vir die hemelse gerig laat vaar het en hom sorgeloos aan homself oorgee, dat God nie bestaan nie. Daarin is God se gegronde wraak om hulle hart in vet te hul sodat die goddelose sy oë sluit en siende blind bly.5 En Dawid is elders die beste uitlêer van sy eie stelling waar hy sê dat die vrees van God nie voor die oë van die goddelose is nie,6 en net so: dat hulle hulleself hooghartig oor hulle wandade toejuig omdat hulle hulleself dan sou oortuig dat God dit nie aanskou nie!7

Hoewel hulle dus gedwing word om God te erken, beroof hulle Hom tog van sy heerlikheid deur sy mag van Hom weg te neem. Want soos God volgens die getuienis van Paulus8 Homself nooit kan verloën nie omdat Hy altyd bly soos Hy is, so word tereg verklaar dat hulle God verloën deur van Hom 'n dooie en sinlose afgod te maak. Hierby moet opgemerk word dat, ten spyte daarvan dat hulle met hulle eie gevoel worstel en die begeerte koester nie alleen om God daaruit te verdryf nie maar ook om Hom in die hemel tot niet te maak, hulle dwaasheid tog nooit tot die punt aangroei dat God hulle nie ook soms weer voor sy regterstoel daag nie. Maar omdat geen vrees hulle daarvan weerhou om met geweld teen God aan te storm nie, is dit seker dat 'n stompsinnige vergeetagtigheid van God in hulle heers so lank as wat hulle blinde drifte hulle so meesleur.

3. Eiesinnige Godsdiens is sonder die Waarheid🔗

So word die ydele verdediging waarmee baie mense gewoonlik hulle bygeloof bedek, vernietig want hulle is die opvatting toegedaan dat enige vorm van godsdiensoefening, hoe verkeerd dit ook al mag wees, genoeg is. Maar hulle besef nie dat die ware godsdiens na die wil van God, soos na 'n ewige maatstaf, gevorm behoort te word nie. Verder weet hulle nie dat God altyd bly soos Hy is en dat Hy nie 'n beeldjie of 'n skim is om na elkeen se willekeur verander te word nie. En dit is duidelik te sien hoe die bygeloof met valse klatergoud die spot met God dryf, terwyl dit poog om Hom te behaag. Want terwyl dit oor die algemeen juis dié dinge alleen aangryp waarvan God getuig het dat dit Hom nie ter harte gaan nie, minag en verwerp dit selfs ongeveins alles wat Hy gebied en waarvan Hy ons leer dat dit Hom behaag. Almal wat dus valse aanbidding van God aanmoedig, aanbid en vereer hulle eie kranksinnigheid, omdat hulle hoegenaamd nie sou waag om so met God te spot as dit nie was dat hulle vooraf 'n god wat met die dwaasheid van hulle beuselagtighede ooreenstern, versin het nie.9 Daarom verklaar die apostel dat hierdie ydele en verkeerde opvatting in verband met die goddelike mag onkunde van God is. Hy sê naamlik: "Toe julle God nie geken het nie, het julle die wat van nature nie gode was nie, gedien".10 En elders leer hy dat die Efesiërs sonder God was toe hulle van die ware kennis van die een God afgedwaal het.11Dit skeel ook weinig, ten minste in dié opsig of 'n mens een god of baie versin, omdat 'n mens dan altyd van die ware God afwyk en afvallig raak. As jy Hom verlaat, bly daar vir jou niks anders oor as 'n verfoeilike afgod nie. Daar bly vir ons dus net die opvatting oor om saam met Lactantius te verklaar dat geen godsdiens eg is as dit nie met die waarheid gepaard gaan nie.12

4. Van Nature is daar 'n Gevoel van die Godheid in die Hart van die Mensdom Ingegraveer🔗

Hierby kom hulle tweede sonde, naamlik dat hulle nooit op God ag slaan behalwe as hulle daartoe gedwing word nie. Origens nader hulle nooit tot Hom nie totdat hulle teen hulle sin na Hom gesleep word. Selfs dán is hulle nie deur die een of ander vrywillige vrees wat uit eerbied vir God se majesteit spruit, deurdrenk nie maar slegs met 'n slaafse gedwonge vrees wat die gerig van God van hulle afdwing. En omdat hulle dit nie kan ontsnap nie, deins hulle daarvoor terug, maar tog so dat hulle dit nog verafsku. Daarom stem Statius se opmerking dat vrees eerste gode op die wêreld geskep het, heel paslik met die goddeloosheid, en daarmee alleen, ooreen.13

Die mense wat in hulle gemoed teenoor die geregtigheid van God vreemd staan, koester die vurige begeerte dat sy regterstoel vernietig mag word, omdat hulle weet dat dit opgerig is om oortredinge teen Hom te wreek. Met hierdie gesindheid stry hulle teen die Here wat nie sonder gerig kan wees nie. Wanneer hulle egter besef dat sy onvermydelike mag oor hulle dreig omdat hulle nie by magte is om dit te vernietig of te ontwyk nie, deins hulle skrikbevange daarvan terug.

Om dus te verhoed dat die indruk oral sou ontstaan dat hulle Hom minag, beoefen hulle enige soort godsdiens omdat sy majesteit vir hulle 'n kwelling is. Tog hou hulle intussen nie op om hulle met elke soort vergryp te besoedel en die een oortreding op die ander te begaan totdat hulle die heilige wet van die Here ten volle geskend en al sy geregtigheid verwoes het nie. In elk geval word hulle nie deur hulle geveinsde vrees vir God daarvan weerhou om heerlike behae uit hulle sondes te skep, hulleself te vlei en liewer aan die onbeheerstheid van hulle vlees vrye teuels te gee as om dit met die teuels van die Heilige Gees te bedwing nie.

Maar omdat dit maar 'n ydele en valse skadu van die godsdiens is - selfs beswaarlik waardig om 'n skadu daarvan genoem te word - kan hieruit gemaklik afgelei word hoeveel die godsvrug, wat alleen in die hart van gelowiges gewek word en waaruit per slot van rekening die godsdiens spruit, van hierdie verwarde godskennis verskil.

En tog wil hierdie huigelaars dit met kronkelpaadjies bereik om die indruk te wek dat hulle naby die God is van wie hulle afwegvlug. Want terwyl daar 'n onafgebroke neiging tot gehoorsaamheid in hulle hele lewe moes wees, kom hulle in amper al hulle werke onbesorg in opstand teen Hom en strek hulle belangstelling net daartoe om Hom met slegs enkele offertjies tevrede te stel. Terwyl hulle Hom met die heiligheid van hulle lewe en die integriteit van hulle hart moes dien, bedink hulle onbenullige beuselagtighede en waardelose eerbetoon om sy guns daarmee te wen. Nee, veel eerder versink hulle met groter teuelloosheid in hulle gemors omdat hulle die vertroue koester dat hulle hulle plig teenoor Hom met belaglike versoeningsdade kan nakom. Terwyl hulle verder hulle vertroue op Hom moes vestig, steun hulle op hulleself of op sy skepsels terwyl hulle Hom agterweë laat. Eindelik verstrengel hulle hulle in so 'n groot massa dwalings dat 'n duisternis van boosheid die vonkies wat opflikker om die heerlikheid van God waar te neem, versmoor en uiteindelik uitdoof. Tog bly daar by hulle die saad agter wat glad nie van die wortel losgeskeur kan word nie, naamlik dat daar tog 'n godheid bestaan, maar dit is so bedorwe dat dit uit homself niks anders as die slegste vrugte kan voortbring nie.

Hieruit kan my huidige opvatting met groter sekerheid afgelei word, naamlik dat daar van nature 'n gevoel van die godheid in die harte van die mensdom ingegraveer is omdat dwang juis op verwerpte mense 'n erkenning daarvan uit hulle uitpers. In tye van rus dryf hulle lustig die spot met God, ja, hulle is bytend luidrugtig om God se mag te verkleineer. Maar as die een of ander wanhoop hulle oorval, dryf dit hulle daartoe om Hom te soek. Dan sê hulle wanhoop skietgebede aan hulle voor, waaruit dan duidelik word dat hulle nie volkome sonder kennis van God was nie maar dat die kennis wat gouer te voorskyn moes getree het, deur hulle onversetlikheid onderdruk is.

Endnotes🔗

  1. ^ Rom. 1:22.
  2. ^ (Rom. 1:21).
  3. ^ Ps. 13:1 Vg. (Afr.: Ps. 14:1; ook Ps. 53:2).
  4. ^ Vgl. Inst. 1.2.2.
  5. ^ (Matt, 13:14-15; Jes. 6:9-10; Ps. 17:10).
  6. ^ Ps. 36:2.
  7. ^ Ps. 10:12 (10:3, 4, 11, 13).
  8. ^ 2 Tim. 2:13.
  9. ^ Inst. 1.11-13; 4.8.3, 4, 8, 9, 11, 13; 4.9.8; 4.10.8, 16-18.
  10. ^ Gal. 4:8.
  11. ^ Ef. 2:12 Vg.
  12. ^ Die verwerping van menslike vindingrykheid in die godsdiens word konsekwent deur Calvyn beide teen die heidendom en die Rooms- Katolisisme gehandhaaf. Calvyn haal nie regstreeks uit Lactantius aan nie maar gee 'n algemene samevatting van sy konsepsie in bogenoemde weer (Lactantius, Div. Inst. 1 (MPL 6:111 e.v.; ·CSEL 19,1:1 e.v.).
  13. ^ Statius, Thebaidos3.659 e.v.; vgl. in die besonder 3.661: primus in orbe deosfecit timor.