Die natuur is deur God geskep en is nie self skepper nie. Deurdat God hom duidelik in die skepping openbaar, kan die mens hom glad nie verontskuldig op grond van onkunde nie – hy word gedwing om Hom daarin raak te sien. So is God ook sigbaar in die wetenskappe, kunste en die menslike liggaam.

God openbaar hom ook op die wyse waarop menslike gemeenskape funksioneer. Sy voorsienigheid en goedertierenheid is duidelik in die wyse waarop Hy mense bestuur.

Omdat God se wysheid baie meer as die mens s’n is, verstaan die mens nie alles nie. Die mens moet daarom nie bespiegel nie, maar net dit wat God openbaar het, ondersoek om Hom beter te leer ken. Die kennis van God sal die mens se hoop op ‘n toekomstige lewe aanwakker.

Dit is egter uit hoogmoed en ondankbaarheid dat die mens weier om tot kennis van God te kom. Deur die mens se ydelheid, dwaasheid, ongeloof, bygeloof en eiesinnige aanbidding, is hy verblind om God se heerlikheid wat uit die skepping straal, te sien. Die mens is dus sonder verontskuldiging voor God.

Vir ‘n ware geloof en suiwer godsdiens is egter meer as net die algemene openbaring van God in die skepping nodig: die Heilige Gees moet dit deur die Evangelie in die mens werk. Sonder geloof is die mens blind vir die helder lig van God se heerlikheid wat uit die skepping straal.

1984. 19 bladsye.

Institusie van die Christelike Godsdiens (1559) - Boek 1 Hoofstuk 5 Die kennis van God blyk uit die skepping van die wêreld en die voortgesette regering daarvan

1. Die Openbaring van God in die Natuur ontneem die Mens sy Verontskuldiging op grond van Onkunde🔗

Omdat die einddoel van 'n geluksalige lewe in die kennis in verband met God gevestig is,1 het Hy hierby nie alleen die saad van godsdiens, waarvan ons reeds gepraat het, in die verstand van die mens gesaai nie; maar in die hele skepping van die wêreld het Hy Hom ook so geopenbaar en Hy toon Hom elke dag daarin op so 'n wyse dat die mens sy oë nie kan oopmaak sonder om gedwing te word om Hom daarin raak te sien nie. Sy doel daarmee is dat toetrede tot geluksaligheid nie by voorbaat vir enigiemand geslote sou wees nie.

Sy Wese is inderdaad onbegryplik sodat sy Goddelike mag al die sintuie van die mens volkome ontgaan. Maar op elkeen van sy werke het Hy bepaalde tekens van sy heerlikheid ingegrif en dit weliswaar so duidelik en opvallend dat alle verontskuldiging van onkunde daardeur van ongeleerde en onverstandige mense weggeneem is.

Daarom roep die profeet met volle reg uit dat Hy met lig soos met 'n kledingstuk omhul is.2 Dit is net asof hy daarmee gesê het dat God eers in sigbare skoonheid begin verskyn het vanaf die tydstip waarop Hy in die skepping van die wêreld sy kentekens te voorskyn gebring het. So dikwels as wat ons nou ons oë rondom ons laat gaan, verskyn sy skoonheid daarin.

Daar vergelyk dieselfde profeet ook treffend die uitspansel van die hemele met sy koninklike tent; hy sê dat Hy sy solders op die waters gebou het, dat die wolke sy waens is, dat Hy op die vleuels van die winde ry en dat die winde en die bliksemstrale sy vlugvoetige boodskappers is.3 En omdat die heerlikheid van sy mag en wysheid daar bo-oor 'n voller  glans versprei, word die hemel wyd en syd sy paleis genoem. En in die eerste plek, waarheen jy ook al jou oë sou wend, is daar geen deeltjie van die wêreld waarin die flikkering ten minste van enkele vonkies van sy heerlikheid nie waargeneem kan word nie. Inderdaad sou 'n mens hierdie uiters ruim en pragtige kunswerk nie in een oogopslag kon aanskou sonder om van alle kante heeltemal deur die grenslose krag van sy glans oorweldig te word nie.

Daarom noem die skrywer van die brief aan die Hebreërs4 die wêreld op bekoorlike wyse 'n skouspel van onsigbare dinge omdat so 'n harmoniese ordening van die wêreld vir ons soos 'n spieël is waarin ons God, wat andersins onsigbaar is, kan aanskou. Die rede waarom die profeet aan hemelse skepsels spraak toeskrywe wat aan geen volk onbekend is nie, is omdat daarin so 'n duidelike getuienis van die Godheid na vore kom dat selfs die stompsinnigste volk dit nie verby behoort te gaan sonder om daaroor na te dink nie.5

Die apostel maak dit nog duideliker wanneer hy sê dat alles wat die mensdom nodig gehad het om God te ken aan hulle geopenbaar is, omdat elkeen die onsigbare dinge van God wat Hy van die skepping van die wêreld af kon begryp, selfs ook sy ewige krag en Goddelikheid, hierin kan aanskou.6

2. Die Wetenskappe, die Kunste en die Mens se Liggaam Openbaar aan almal God se Wonderlike Wysheid🔗

In die hemel sowel as op die aarde is daar ontelbare bewyse wat van sy wonderlike wysheid getuig. Dit geld nie alleen die sterrekunde, medisyne en die hele natuurwetenskap nie maar ook die bewyse wat voor die ongeletterdste mense opdoem sodat hulle nie hulle oë kan oopmaak sonder om gedwing te word om daarvan getuies te wees nie.7

Die mense wat van die vrye kunste deurdrenk is of selfs net daaraan geproe het, maak weliswaar met die bystand daarvan baie verder vordering daarin om die geheimenisse van die wysheid van God te ondersoek. Tog vorm onkunde in die kunste vir niemand 'n struikelblok om meer as genoeg van sy skeppingswerk in die werke van God raak te sien en daarom in bewondering vir die Skepper daarvan uit te bars nie. Vir die navorsing van die beweging van sterre, vir die bepaling van hulle posisies, die meting van hulle afstande en die aantekening van hulle eienskappe is immers vaardigheid en baie noukeurige toewyding nodig. Soos God se voorsienigheid duideliker uit hierdie navorsing na vore kom, behoort ons siel ook ietwat hoër uit te sryg om sy heerlikheid te aanskou.

Maar selfs nie eens die gewone en ongeletterdste mense wat slegs deur die bystand van hulle oë daarin onderrig is, kan onbekend wees met die uitnemendheid van die kunswerk van God nie. Hy het Homself immers in so 'n onberekenbare en tog in so 'n onderskeie en geordende verskeidenheid van die hemelse leërskare vertoon dat daar duidelik niemand is aan wie die Here sy wysheid nie in oorvloed openbaar nie. Net so is uitmuntende skerpsinnigheid nodig om met dieselfde vindingrykheid as wat Galen8 openbaar, die samestelling, simmetrie, skoonheid en funksie in die bou van die mens se liggaam9 te ondersoek. Tog erken almal dat die mens se liggaam so vindingryk saamgestel is dat die Skepper daarvan tereg as wonderbaar beskou kan word.

3. Uit die Mond van Suigelinge en Kinders het Hy Sy Mag Gegrondves🔗

Daarom het sommige filosowe nie sonder verdienste nie die mens eenmaal 'n mikrokosmos10 genoem, omdat hy 'n sonderlinge voorbeeld van die mag, goedertierenheid en wysheid van God is en genoeg  wonders in homself bevat om sy verstand besig te hou mits hy hom maar net nie daarvoor skaam om daaraan aandag te gee nie. Wanneer Paulus ons vermaan dat God ook deur blindes met behulp van hulle tassintuig gevind kan word, voeg hy daarom dadelik daaraan toe dat ons God nie ver moet gaan soek nie, omdat elke mens ongetwyfeld binne-in hom die hemelse genade waardeur hy verkwik word, gevoel.11

As ons dan nie nodig het om buite onsself te gaan om God te vind nie, hoe sal die traagheid van iemand wat beswaard voel om in homself neer te daal om God te vind, dan verontskuldig word? Dit is ook die rede waarom Dawid onmiddellik nadat hy die wonderbare Naam van God en sy skoonheid wat orals skitter, kortliks geroem het, uitroep: "Wat is die mens dat U hom gedenk?"12 En net so: "Uit die mond van kinders en suigelinge het U u mag gegrondves".13 Hy verklaar inderdaad nie alleen dat daar 'n duidelike spieëlbeeld van God se werke in die mensdom te voorskyn tree nie maar ook dat suigelinge, wanneer hulle aan die borste van hulle moeders hang, welsprekend genoeg is om sy heerlikheid te verkondig sodat ander redenaars glad nie nodig is nie. Daarom aarsel hy selfs nie om hulle mond in die stryd in te span nie, net asof hulle deeglik toegerus is om die waansinnigheid van mense wat begeer om ter wille van hulle eie duiwelse hoogmoed God se Naam uit te wis, te weerlê.

Daaruit spruit ook die aanhaling van Paulus uit Aratos14 dat ons God se geslag is,15 omdat Hy ons met soveel uitnemendheid beklee het en getuig het dat Hy vir ons 'n Vader is. Net so het selfs profane digters algemeen gevoel dat Hy Vader van die mensdom is en, asof hulle ervaring hulle hierin voorsê, Hom ook so genoern.16 En inderwaarheid sal niemand God vanself en vrywillig gehoorsaam as hy nie sy vaderlike liefde gesmaak het en gelok word om Hom op sy beurt lief te hê en te dien nie.

4. Die Mens verset hom uit Ondankbaarheid daarteen om uit Sy Eie Liggaam tot die Kennis van God te kom🔗

Maar juis hier word 'n afstootlike ondankbaarheid van die mensdom ontmasker. Terwyl hulle in hulleself 'n hele werkswinkel het, wat in ontelbare werke van God uitmunt, en terselfdertyd ook 'n hele winkel vol van 'n onskatbare oorvloed rykdom, raak hulle van 'n groter hovaardigheid opgeblaas en swel hulle daarvan hoewel hulle juis in lofprysing vir Hom moes uitbars. Hulle ervaar hoe God op wonderbaarlike wyses in hulle werk; deur eie ondervinding word hulle geleer hoe 'n groot verskeidenheid gawes hulle uit sy milddadigheid besit. Hulle word teen wil en dank gedwing om kennis te neem daarvan dat dit bewyse van sy Goddelikheid is, maar nogtans onderdruk hulle dit diep in hulle binneste.

Tog het hulle nie nodig om buite hulleself te gaan nie, solank hulle maar net nie, deur vir hulleself iets aan te matig wat uit die hemele aan hulle gegee is, iets in die grond begrawe wat hulle verstand kan verlig om God duidelik te sien nie. Ja, selfs vandag nog voed die aarde baie uitsonderlike geeste wat nie skroom om elke saad van sy Godheid wat in die menslike natuur geplant is, aan te wend om God se Naam te verduister nie.

Hoe afstootlik - bid ek jou - is hierdie kranksinnigheid nie, dat die mens God honderd maal in eie liggaam en siel aantref en tog juis onder die dekmantel van sy uitnemendheid verklaar dat God nie bestaan nie? Hulle sal nie beweer dat dit toevallig is dat hulle van redelose diere verskil nie. Hulle hou slegs maar die natuur, wat vir hulle skepper van alle dinge is, as voorwendsel voor en neem God geheel en al weg. Hulle sien so 'n uitnemende vaardigheid in elkeen van hulle ledemate van hulle mond en oë tot by hulle kleinste toonnaels. Ook hier stel hulle die natuur in die plek van God.17 Maar sulke bedrywige wendinge, sulke voortreflike vaardighede, sulke seldsame gawes in besonder van die siel, is bewyse van 'n godheid, en dit laat hom nie maklik verberg nie --behalwe as hulle as aanhangers van Epikuros18 soos Siklope19 van hierdie hoogte af met groter brutaliteit God die stryd aansê. Of kom al die skate van hemelse wysheid saam om 'n vyfvoetwurmpie te regeer en sal die hele wêreld hierdie voorreg dan ontbeer?

In die eerste plek: om te bepaal dat daar iets organies in die siel is wat met elke afsonderlike deel daarvan ooreenstem, dra nie alleen niks daartoe by om die heerlikheid van God te verduister nie maar eerder om sy heerlikheid aan die dag te bring. Laat Epikuros gerus antwoord watter samedromming van atome kos en drank verteer en dan 'n gedeelte daarvan in afval en 'n ander deel in bloed verdeel.20 Laat hy antwoord wat die oorsaak daarvan is dat elke afsonderlike ledemaat so ywerig sy taak uitvoer, net asof soveel siele een enkele liggaam volgens 'n gemeenskaplike plan regeer.

5. Die Natuur is 'n Orde van God en nie self skepper nie21🔗

Maar met hierdie varkhok22 het ek nou niks te doen nie. Ek spreek eerder die mense aan wat met voorbarige spitsvondigheid die koue opmerking van Aristoteles23 te geredelik dwars in ons bespreking insleep om enersyds die onsterflikheid van ons siel te vernietig en God andersyds sy prerogatief te ontruk. Want omdat die siel wel organiese aanleg het, verbind hulle dit onder hierdie voorwendsel aan die liggaam dat dit daarsonder nie kan bestaan nie. Sover hulle kan, onderdruk hulle die Naam van God met lofprysinge oor die natuur.24 En tog is dit onmoontlik dat die vermoëns van die siel ingesluit kan wees in die funksies wat die liggaam dien.

Wat het dit met die liggaam te doen dat 'n mens die hemele moet opmeet; die getalle van die sterre moet bereken, die grootte van elkeen moet bepaal; dat 'n mens moet weet watter afstand daar tussen hulle is of met watter snelheid of traagheid hulle hulle bane voltooi, of met hoeveel grade hulle na die een of die ander kant afwyk? Ek erken wél dat sterrekunde 'n mate van nut het.25 Ek dui egter slegs aan dat daar in hierdie verdiepende navorsing van hemelliggame geen organiese simmetrie is nie maar dat die siel ook sy eie funksies het wat van die liggaam geskei is. Ek het maar net een voorbeeld aangehaal waaruit my lesers gemaklik ander kan aflei.

Die vlugheid van die siel waarmee dit hemel en aarde deurskou, is inderdaad veelsydig, daarmee verbind dit die verlede met die toekoms en onthou iets wat dit lank tevore gehoor het; ja, dit kan selfs in sy verbeelding van enigiets 'n beeld skep. Ook die vindingrykheid waarmee dit ongelooflike uitvindings uitdink en moeder van soveel wonderlike kundighede is, munt uit in die mens. Al hierdie eienskappe is besliste aanduidings van goddelikheid in die mens.26 Wat daarvan dat die siel in 'n mens se slaap nie alleen rondfladder en besig bly nie, maai baie nuttige planne maak, oor baie probleme redeneer en selfs die toekoms voorspel? Wat anders kan ons sê as net dat die bewyse van onsterflikheid wat op die mens afgestempel is, nie uitgewis kan word nie? Watter rede sal daar nou nog daarvoor kan wees dat die mens goddelik is en tog nie sy Skepper ken nie?27 Sal ons dan volgens die oordeel wat aan ons gegee is, tussen reg en onreg onderskei sonder dat daar 'n Regter in die hemel is? Sal daar selfs in ons slaap nog reste van verstand agterbly sonder dat God oor die regering van die wêreld waak?

Sal ons nog as die uitvinders van soveel kundighede en nuttige voorwerpe beskou word bloot dat God van sy lof beroof kan word, hoewel ons ervaring ons voldoende leer dat ons besittings op verskillende wyses uit 'n ander bron aan ons toegedeel word?28 Maar sommige mense babbel iets in verband met 'n geheime inspirasie wat die heelal laat lewe, dit is nie alleen flou nie, maar heeltemal onheilig.29 Vergilius se beroemde verklaring val in hulle smaak:

Aanvanklik voed 'n siel van binne hemel, aarde en golwende vlaktes,  stralende manesfeer en Titaanse gesternte, die siel, versprei deur al sy lede, dryf die massa voort, en maak hom een met die grote liggaam.
Hierop spruit mens, dier en voëllewe en al die gedrogte wat die see onder marmergladde seevlak voortbring, daaruit voort - die lewenskrag daarvan vuur en die oorsprong hemels.30

Net asof die wêreld, wat as skouspel van die heerlikheid van God geskep is, dan self skepper van homself sou wees! Want elders het dieselfde digter die opvatting waarin Griekse en Latynse skrywers deel, nagevolg.31

Wyses het verklaar dat bye deel het aan die goddelike siel en hemelse teue drink uit die goddelike wil.

Want God - so het hulle beweer - gaan oor alles heen - land en uitgestrekte see en onpeilbare hemel. Hieruit spruit kuddes, vee, mense en gediertes van elke sort en elkeen bekom by geboorte hieruit brose lewe, wanneer alles ontbind, word dit hieraan teruggelewer en hierheen teruggebring. dood het daarin geen plek nie, maar lewendig fladder hulle saam met 'n sterreskaar en gaan die hoogtes van die hemel in.32

Siedaar, die krag van so 'n uitgemergelde bespiegeling oor 'n universele wil wat die wêreld besiel en lewe gee, om godsvrug in die harte van die mens voort te bring en dit te koester! Dit blyk nog duideliker uit die goddelose en onreine hond, Lucretius,33 se woorde wat uit hierdie beginsel afgelei is. Dit beteken inderwaarheid dat hy van God 'n denkbeeldige mag34 maak om die ware God vir wie ons moet vrees en aanbid, ver weg te drywe.

Ek erken weliswaar dat die bewering dat die natuur God is,35 wel met eerbied gemaak kan word mits dit uit 'n vroom gemoed spruit: maar omdat dit 'n growwe, onpaslike bewering is, aangesien die natuur eerder 'n orde is wat deur God voorgeskrywe is, is dit skadelik om in sake van soveel gewig, waaraan buitengewone eerbiedsbetoon verskuldig is, God ordeloos met die laer verloop van sy skepping te verstrengel.36

6. Almal het Dieselfde moontlikheid om God te Soek, mits hulle die Getuienis van die Natuur raaksien🔗

So dikwels as wat ons elkeen sy eie natuur in oënskou neem, moet ons dus daaraan gedagtig wees dat daar net een God is wat die hele natuur op so 'n wyse regeer dat dit sy wil is dat ons onsself moet word. Niks is immers verkeerder as om sulke uitnemende gawes te  geniet wat die Godheid in ons adem, en om die Skepper wat dit uit barmhartigheid aan ons skenk, te minag nie. Met watter duidelike voorbeelde sleur sy mag ons nie mee om Hom te oordink nie! – behalwe miskien as dit ons ontgaan dat dit in sy mag is om hierdie eindelose kolos van hemel en aarde deur sy woord37 te onderhou. Op sy wenk alleen skud Hy die hemel met die gerommel van donderweer. Met sy weerlig verteer hy alles en met sy skigte steek Hy die lug aan die brand. Hy maak die hemel met verskillende soorte storms onstuimig en Hy laat dit oombliklik bedaar wanneer dit Hom behaag. Hy beteuel die see wat met sy hoogte, asof dit in die lug oor ons hang, die wêreld voortdurend met vernietiging bedreig. Soms swiep Hy die see met loeiende onstuimigheid van die winde op tot 'n verskriklike vlak, en dan weer bring Hy die golwe tot bedaring en maak die see kalm.

Hierop het al die lofprysinge op die mag van God wat uit die getuienis van die natuur spruit en oral maar veral in Job en Jesaja voorkom, betrekking. Dit laat ek nou doelbewus agterweë omdat hulle elders 'n meer gepaste plek sal vind wanneer ek die skepping van die heelal uit die Skrif bespreek.38 Hier wou ek slegs aanstip dat vreemdelinge en eie huisgenote dieselfde weg het om God te soek as hulle maar net die buitelyne volg wat van bo en van onder 'n lewende beeld van Hom afskadu.39

Weldra voer sy mag ons juis daartoe om oor sy ewigheid na te dink, omdat die God uit wie alle dinge hulle oorsprong put, noodwendig ewig moet wees en sy begin uit Hom moet hê. As daar voorts na die rede gevra word waarom Hy enersyds beweeg is om eenmaal al hierdie dinge te skep en andersyds beïnvloed word om dit nou nog in stand te hou, sal ons vind dat slegs sy goedertierenheid alleen die oorsaak hiervan is. Ja, selfs as dit die enigste rede sou wees, behoort dit nog meer as voldoende te wees om ons tot liefde vir Hom te lok, omdat daar, soos die profeet ons leer, geen skepsel is op wie sy barmhartigheid nie uitgestort is nie.40

7. Ook in die Regering van die Menslike Gemeenskap kom bewyse van Sy Krag duidelik voor🔗

Ook in die tweede groep van sy werke - dié naamlik wat buite die gewone loop van die natuur voorkom - doen bewyse van sy krag wat net  so duidelik is, hulle voor. Want in die regering van die gemeenskap van die mensdom reël Hy sy voorsienigheid op so 'n wyse dat Hy tog daagliks met openlike tekens sy goedertierenheid aan die godvrugtiges en sy strengheid aan goddelose oortreders toon, ten spyte daarvan dat Hy op ontelbare wyses teenoor alle mense barmhartig en weldadig is. Want daar bestaan geen twyfel daaroor dat Hy Hom op die sonde wreek nie. Net so betoon Hy Hom duidelik as Beskermer, ja, selfs as Wreker van die onskuld, wanneer Hy met sy seën die lewe van goeie mense voorspoedig maak, hulle in hulle nood onderskraag, hulle smarte lenig en hulle vertroos, hulle teenslae verlig en hulle heil in alle dinge ter harte neem.

Ook die feit dat Hy bose sondaars dikwels toelaat om vir 'n rukkie ongestraf van vreugde te jubel maar verdra dat regskape en verdienstelike mense deur baie teenspoed rondgeslinger en selfs deur die bose onreg van goddelose mense oorweldig word, behoort nie die ewige reel van sy geregtigheid te verduister nie. 'n Gedagte wat heeltemal hiervan verskil, behoort eerder in ons verstand op te kom, naamlik dat Hy alle sonde haat. Hy straf immers een oortreding met 'n openlike vertoon van sy toorn, maar daar sal ook 'n tweede oordeel wees waarvoor Hy die sondes wat nog ge straf moet word, uitstel, omdat Hy baie sulke sondes ongestraf verby laat gaan.

Hoeveel stof tot nadenke oor sy barmhartigheid stel Hy nie op soortgelyke wyse tot ons beskikking nie wanneer Hy ellendige sondaars baie dikwels met onvermoeide goedertierenheid agtervolg, totdat Hy hulle boosheid verbrokkel deur aan hulle goed te doen en deur hulle met meer as Vaderlike sorg na Hom terug te roep.

8. God Verhef die Nederiges en Verneder die Hooghartiges🔗

Met hierdie doel voor oë vermeld die profeet dat God mense wat in wanhopige omstandighede in ellende verkeer en bykans verlore is, skielik wonderlik en bo hulle verwagting te hulp snel.41 Hy beskerm mense wat in woestyne ronddwaal teen wilde diere en lei hulle terug op hulle pad; aan behoeftiges en hongeriges voorsien hy spyse. Hy bevry gevangenes uit walglike kuile en gevangenisse van yster; Hy bring skipbreukelinge veilig in die hawe in; mense wat alreeds halfdood is, genees Hy van hulle siekte, Hy laat die aarde verskroei van hitte en droogte en Hy maak dit vrugbaar met die verborge benatting van sy genade; Hy hef die veragtelikste mense uit die massa weer op; Hy werp die hooghartiges van die hoë trap van hulle aansien af. Deur dergelike voorbeelde voor te hou lei die profeet af dat soveel gebeurtenisse wat aan die toeval toegeskrywe word, getuienis is van sy hemelse voorsienigheid en in besonder van sy vaderlike goedertierenheid. En hieruit word aan godvrugtige mense stof tot blydskap verleen, maar goddelose afvalliges se monde word daardeur gesnoer.

Maar omdat 'n baie groot deel van hulle met hulle eie dwaling deurtrek is en in so 'n uitnemende skouburg blind bly, roep die profeet uit dat dit 'n taak van seldsame en buitengewone wysheid is om hierdie werke van God verstandig te oorweeg, omdat mense wat andersins na uiters skerpsinnige waarnemers lyk, deur die aanskouing hiervan niks wen nie. En beswaarlik een uit elke honderd mense sien waarlik hóé God se heerlikheid sy glans hierin laat uitstraal.

Sy mag en sy wysheid is nie minder in duisternis gehul nie. Sy mag kom voortreflik na vore wanneer die brutaliteit van goddeloses, wat na die mening van almal onoorwinlik is, in een enkele oomblik aan bande gelê word, hulle hooghartigheid beteuel, hulle kragtigste magte verwoes, hulle spiese en wapens verbrysel,42 hulle kragte verpletter en hulle werktuie verwoes word, en juis as gevolg van hulle lompe grootte stort hulle ineen. Sy mag verskyn ook wanneer hulle vermetelheid, wat hulle ten hemele verhef, tot in die middel van die aarde platgeslaan word; dan weer wanneer nederiges uit die stof opgehef en hopelose mense uit die drek opgetel word,43 wanneer verdruktes en gekweldes van die uiterste benoudheid bevry word; wanneer wanhopiges in goeie hoop herstel word; wanneer weerloses oor gewapendes, 'n klein handjievol oor 'n menigte en swakkes oor sterkes seëvier.

Maar sy wysheid munt duidelik uit wanneer Hy elke saak op die beste tyd daarvoor reël, wanneer Hy al die skerpsinnigheid van die wêreld beskaam; wanneer Hy die wyse mense in hulle eie sluheid vang,44 kortom, daar is niks wat Hy nie op die beste wyse bestuur nie.

9. Omdat ons God se Wese nie kan begryp nie, moet ons Sy Werke Ondersoek om tot Kennis oor Hom te kom🔗

Ons sien dat ons nie 'n lang moeitevolle betoog nodig het om getuienis op te diep wat kan dien om sy Goddelike majesteit toe te lig en te bevestig nie, aangesien dit uit die handjievol voorbeelde wat ons hier aangehaal het, duidelik is dat waarheen 'n mens jou ook al wend, die getuienis so voor die hand liggend en in die oog lopend is dat dit maklik met die oë aangedui en met die vingers aangewys kan word.

Hier moet ons weer daarop let dat ons tot kennis van God uitgenooi word. Dit is egter nie 'n kennis wat met ydele spekulasie tevrede is en slegs maar in ons brein rondsweef nie, maar een wat bestendig en vrugbaar sal wees as ons dit na behore begryp en as dit in ons harte wortelskiet.45 Want die Here openbaar Hom deur sy krag, en omdat ons die werking daarvan binne-in ons ervaar en ons ook sy weldade geniet, moet ons noodwendig deur hierdie kennis met baie groter besieling beïnvloed word as wanneer ons vir ons 'n God sou voorstel van wie ons geen ervaring het nie.

Daaruit lei ons af dat die reguitste pad en ook die mees gepaste volgorde is om God te soek - nie om met vermetele nuuskierigheid deur te dring tot 'n ondersoek van sy Wese, wat ons eerder moet eerbiedig as om dit gewetenloos te deurvors nie, maar om Hom in sy werke te aanskou waarin Hy Hom aan ons vertroud maak as 'n God wat naby ons is en op die een of ander wyse ook met ons omgaan.

Dit is wat die apostel voor oë gehad het toe hy gesê het dat ons Hom nie ver hoef te soek nie, aangesien Hy met duidelik aanwesige krag in elkeen van ons woon.46 Daarom het Dawid eers sy onuitspreeklike grootheid bely en daarna tot 'n vermelding van sy werke oorgegaan en verklaar dat hy van sy grootheid sal vertel.47

Daarom betaam dit ons ook om ons op hierdie soeke na God toe te lê sodat dit ons verstand deur verwondering so in beslag kan neem dat dit ons terselfdertyd heeltemal met 'n kragdadige ervaring van God mag beïnvloed. En soos Augustinus iewers verduidelik: omdat ons onder sy grootheid beswyk, kan ons Hom nie begryp nie en betaam dit ons om ons oë op sywerke te rig om deur sy goedertierenheid verkwik te word.48

10. Die Doel van die Kennis in Verband met God is om ons tot Volle Geluksaligheid te lok🔗

Verder behoort so 'n kennis ons nie alleen tot aanbidding van God op te wek nie, maar dit moet ons ook tot die hoop op 'n toekomstige lewe aanwakker en verhef. Aangesien ons merk dat die voorbeelde wat die Here van sowel sy goedertierenheid as sy strengheid gee, maar nog net begin en halfvolbring is, moet ons daaroor nadink dat Hy sonder twyfel hierin net 'n voorspel tot belangriker dinge gee. Die volle openbaring daarvan word tot 'n ander lewe uitgestel.

Maar aan die ander kant sien ons dat vroom mense deur goddeloses met verdrukking belas, met onreg geslaan, met laster onderdruk en met versmading en beledigings verskeur word, maar dat die bose ongestraf van krag tot krag gaan, voorspoed geniet en waardiglik vrede vind. Gevolglik moet ons tot die slotsom kom dat daar 'n ander lewe sal wees waarin sy straf vir goddeloosheid en sy loon vir regverdigheid weggebêre is. As ons dan nog bowendien opmerk dat gelowiges alte dikwels met die roede van die Here gekasty word, kan ons baie gewis vasstel dat die goddelose mense eenmaal veel minder aan sy gésel sal ontkom.

Want die volgende verklaring van Augustinus is verstandig wanneer hy sê. "As elke sonde nou openlik gestraf sou word, sou ons kon aflei dat daar geen straf vir die laaste oordeel meer oorbly nie. Maar as God nou aan die ander kant geen sonde openlik sou straf nie, sou mense glo dat sy Goddelike voorsienigheid nie bestaan nie.''49

Ons moet dus erken dat daar in elke werk van God, en in besonder in al sy werke saam, deugde van God afgeëts is soos op 'n tafereel. Deur hierdie deugde word die hele mensdom uitgenooi en gelok om Hom te leer ken en deur hulle kennis tot waaragtige en volle geluksaligheid te kom.

Hoewel sy deugde op die duidelikste in sy werke te voorskyn kom, vorm ons eers 'n begrip van die doel waarop dit gemik is, van die krag daarvan en waarom ons dit moet oordink, wanneer ons in onsself neerdaal en oorweeg op watter wyses die Here sy lewe, sy wysheid en sy krag in ons openbaar en sy geregtigheid, sy goedertierenheid en sy barmhartigheid teenoor ons beoefen. Hoewel Dawid met reg daaroor kla dat ongelowiges sonder wysheid is50 omdat hulle nie die onpeilbare raadsplanne van God in sy regering van die mensdom in oorweging neem nie, is dit tog baie waar wat hy elders sê, naamlik dat die wonderbare wysheid van God hierin meer is as die hare op ons kop.51

Maar omdat hierdie onderwerp hierin later op sy eie plek in behandeling geneem sal word, laat ek dit nou agterweë.52

11. Die Suiwere Waarheid van God word deur die Mens se Ydelheid en Dwaasheid bederf🔗

Maar al sou die Here Homself en sy ewige koninkryk met soveel  helderheid in die spieël van sy werke weergee, is ons stompsinnigheid nogtans so groot en word ons vir sulke duidelike getuienis altyd so afgestomp dat dit sonder resultaat verdamp. Sover dit die skepping van  die wêreld en die uitmuntende ligging daarvan aangaan: wanneer ons ons oë na die hemele ophef of dit oor die verafgeleë streke van die aarde laat dwaal, wie van ons is daar dan wat in die eerste plek aan die Skepper daarvan dink en wat nie eerder in die aanskouing van sy werke vassteek en die Skepper daarvan buite rekening laat nie? Sover dit die gebeurtenisse aangaan wat daagliks afgesien van die natuurlike verloop van sake plaasvind, wie van ons dink dan nie dat die mens deur die blinde wispelturigheid van die noodlot53 rondgerol en meegesleur word eerder as dat hy deur die voorsienigheid van God geregeer word nie?

Maar as ons dan nog soms deur die gang en verloop van hierdie dinge daartoe gedryf word om oor God na te dink - iets wat noodwendig met alle mense gebeur - verval ons nogtans onmiddellik in die dwaasheid of bose versinsels van ons vlees, en deur ons ydelheid bederf ons die suiwere waarheid van God wanneer ons sonder oorleg 'n gevoel van een of ander godheid gevorm het. Ons verskil wel in daardie opsig van mekaar dat elkeen vir homself persoonlik 'n besondere dwaling aanvaar, maar tog is ons in hierdie opsig op 'n haar na gelyk aan mekaar dat die laaste een van ons van die enige ware God na wonderbaarlike beuselagtighede afwyk. Nie alleen gewone en stompsinnige verstande nie maar ook selfs die uitrnuntendste verstande, wat met besondere skerpsinnigheid begaaf is, is in hierdie kwaal verstrik.

Hoe oorvloedig het die hele geslag filosowe hulle stompsinnigheid en dwaasheid nie in hierdie opsig getoon nie? Want om nou maar ander wat baie onnoseler onsin kwytraak, te spaar: Plato, wat die eerbiedwaardigste en nugterste van hulle almal was, verdwyn ook saam met sy ronde sfeer.54 Wat sou dan met die ander filosowe gebeur terwyl hulle leiers, wie se taak dit was om die res voor te lig, so begogeld is en struikel?

Net so, wanneer die bestiering van die mensdom maar te duidelik 'n voorsieningheid bewys sodat dit nie verloën kan word nie, word hieruit egter geen verdere voordeel geput as wanneer die mens sou glo dat alle dinge na willekeur volgens die wens van die noodlot heen en weer geslinger word nie. So groot is ons neiging tot ydelheid en dwaling. Ek praat hier altyd van die uitmuntendste verstande en nie van die gewone verstand van mense wie se waansin tot die toppunt van die ontheiliging van God se waarheid gevorder het nie.

12. Die Natuur Alleen is nie genoegsaam om Ons Kennis van God te gee nie🔗

Hieruit spruit die eindelose stroom dwalings waarmee die hele wêreld gevul en bedek was. Want elkeen se verstand is vir hom soos 'n doolhof,55 sodat dit nie 'n wonder is dat elke volk tot 'n verskeidenheid verdigsels verlei is nie. En nie alleen dit nie, maar ook dat bykans elke mens sy eie gode gehad het. Want namate onbesonnenheid en losbandigheid hulle onkunde en duisternis vergesel het, was daar beswaarlik ooit een te vinde wat nie vir homself 'n afgod of 'n skim in die plek van God gesmee het nie. Soos water wat ryklik uit 'n groot fontein uitborrel, het 'n eindelose skare gode uit die mensdom se verstand voortgevloei, terwyl elkeen deur te teuelloos af te dwaal verkeerdelik die een of die ander versinsel oor God skep. Dit is egter nie nodig om hier 'n lys saam te stel van die bygelowe waarin die wêreld verstrengel was nie, omdat daar geen einde aan sou wees nie. Hoewel daar geen woord van gerep word nie, blyk dit uit soveel bedorwe dade van die mens genoegsaam hoe verskriklik die blindheid van sy verstand is.

Ek laat die growwe ongeletterde massa maar agterweë. Maar hoe 'n skandelike uiteenlopendheid is daar nie onder die filosowe wat gepoog het om met hulle rede en geleerdheid die hemel binne te dring nie?56 Namate elkeen van hulle met 'n groter verstand bedeeld was en deur kuns en wetenskap beskaaf, het dit gelyk asof hy sy opvattings ook met indrukwekkende kleure tint; maar as 'n mens hulle tog van naderby ondersoek, sal jy vind dat hulle soos rookdamp verdwyn.

Vir die Stoïsyne het dit gelyk asof hulle skerpsinnig redeneer toe hulle All gesê het dat verskeie name van God uit alle fasette van die natuur afgelei kan word en dat die een God tog nie daarom verskeur word nie.57 Net asof ons nie alreeds meer as genoeg tot ydelheid geneig is, sonder dat 'n veelvuldige menigte gode ook nog aan ons voorgehou word en ons nog verder en met meer geweld in die dwaling in meesleur nie!

Selfs die mistieke teologie van die Egiptenare dui daarop dat hulle hulle almal naarstiglik daarop toegelê het om nie die indruk te skep dat hulle sonder rede dwaas is nie.58 En met die eerste oogopslag sou iets die eenvoudiges en onversigtiges miskien nog kon mislei asof dit aanneemlik is, maar geen sterfling het al ooit iets uitgedink waardeur die godsdiens nie skandelik bederf is nie.

En hierdie verskille wat so verward is, het aan die Epikureërs en ander growwe veragters van godsvrug59 die durf gegee om alle gevoel vir God te verwerp. Want toe hulle sien dat al die verstandigste mense met teenstrydige opvattings met mekaar bots, het hulle nie geaarsel om uit hulle twis en uit elkeen se waardelose en sinnelose leer die afleiding te maak dat die mensdom tevergeefs en dwaas die kwellinge homself op die hals haal wanneer hy 'n God navors wat nie bestaan nie. Hulle het gemeen dat hulle dit ongestraf kan doen, omdat dit vir hulle verkieslik gelyk het om kortweg God volkome te verloën eerder as om onsekere gode te versin en daarop geskille te veroorsaak wat geen einde sou hê nie. Maar hulle redeneer uitermatig onverstandig, of eerder: hulle gooi 'n wolk oor die onkunde van die mensdom om hulle goddeloosheid te bedek. Dit is onbillik om na aanleiding daarvan afbreuk aan God te doen.

Maar aangesien hulle almal erken dat daar niks is waaroor geleerdes sowel as ongeleerdes soveel van mekaar verskil nie,60 kan daaruit afgelei word dat die mens se verstand, wat in sy soeke na God so dwaal, nog meer afgestomp en blind is ten opsigte van die hemelse geheirnenisse.61

Sommige mense swaai Simonides se antwoord lof toe. Toe hy deur die tiran Hiero gevra is wat God is, het hy versoek dat een dag aan hom vergun moes word om daaroor na te dink. Toe die tiran op die volgende dag dieselfde vraag aan hom gestel het, het hy twee dae gevra. En toe hy die getal dae baie dikwels vermenigvuldig het, het hy uiteindelik geantwoord: "Hoe langer ek daaroor nadink, hoe duisterder lyk dit vir my".62 Hy mag sekerlik sy oordeel oor 'n saak wat vir hom duister was, onbeslis gelaat het, maar tog blyk hieruit dat as die mense slegs deur die natuur onderrig is, hy geen sekerheid, geen vastheid en geen onderskeid het om aan vas te hou nie; maar dat hulle slegs aan verwarde beginsels vasklou om 'n onbekende god te aanbid.63

13. Die Gees Verwerp Alle Eiesinnige Aanbidding🔗

Nou moet ons ook begryp dat al die mense wat die suiwere godsdiens vervals, soos noodwendig moet gebeur met almal wat aan hulle eie opvatting uitgelewer is, afwyk van die enige God. Hulle sal wel verkondig dat dit nie hulle doel is nie, maar wat hulle doel is en waarvan hulle hulle wysmaak, het weinig met die saak te doen, omdat die Heilige Gees verklaar dat almal afvalliges is wat volgens die duisternis van hulle verstand duiwels in die plek van God stel.64 Om hierdie rede verklaar Paulus dat die Efesiërs sonder God was totdat hulle uit die evangelie geleer het wat dit beteken om die ware God te dien.65 Ons behoort sy verklaring ook nie tot slegs een volk te beperk nie, want elders verklaar hy dat alle mense oor die algemeen in hulle oorlegginge dwaas geword het nadat die majesteit van die Skepper in die skepping van die wêreld aan hulle geopenbaar is.66 Daarom verdoem die Skrif elke vorm van godheid wat eens onder die heidene geroem is, as valsheid en leuentaal om net vir die ware en enige God plek in te ruim,67 en dit laat geen ander godheid oor nie behalwe God op die berg Sion, waar 'n besondere kennis van God in swang was.68

Onder die heidene het die Samaritane klaarblyklik in die tyd van Christus gewis die naaste aan ware godsvrug gekom. Tog verneem ons uit die mond van Christus dat hulle nie geweet het wat hulle dien nie.69 Daaruit volg dat hulle deur hulle ydele dwaling mislei was. Kortom, hoewel hulle nie almal onder growwe gebreke gebuk gegaan of in openlike afgodediens verval het nie, was daar tog geen suiwer en aanneemlike godsdiens nie, aangesien dit op algemene gevoel gebaseer was.

Want hoewel 'n handjievol nie in die algemene waansin opgegaan het nie, bly die leer van Paulus nogtans onveranderd, naamlik dat die wysheid van God nie deur die owerstes van hierdie wêreld begryp word nie.70 Maar as al die uitnemendste mense dan in die duisternis gedwaal het, wat sal ons dan van die skuim sê? Dit is daarom nie verbasend nie as die Heilige Gees elke vorm van aanbidding wat deur die menslike oordeel uitgedink is, as oneg verwerp, omdat elke opvatting oor die hemelse geheimenisse wat uit die mens voortkom, tog die moeder van die dwaling is, al sou dit nie altyd 'n groot menigte dwalings voortbring nie. En al sou daarby niks slegters kom nie, is dit tog nie 'n ligte oortreding om toevallig 'n onbekende God te aanbid nie. Volgens die woorde van Christus word elkeen wat nie uit die wet geleer is watter God hy moet aanbid nie,aan hierdie oortreding skuldig.71 En die beste wetgewers onder hulle het gewis nie verder gevorder as dat die godsdiens op openbare instelling gevestig moet wees nie. Ja, in Xenophon se werke swaai Sokrates die antwoord van Apollo selfs lof toe, omdat hy daarin voorskryf dat elkeen volgens die gebruik van sy vaders en die gewoonte van sy stad sy gode moes dien.72

Maar vanwaar kry sterflinge die reg om op eie gesag te bepaal wat ver bo die wêreld verhewe is? Of wie sou so in die besluite van sy voorouers of in die bepalings van 'n volk kan berus dat hy sonder twyfel 'n god sou aanvaar wat deur die mens aan hom oorgelewer is? Elkeen sal liewer op sy eie oordeel steun as om hom aan die beslissing van 'n ander te onderwerp.73 Maar aangesien dit 'n te onbestendige en brose band van godsvrug is om in die aanbidding van God die gewoonte van 'n stad of die instemming van die oudheid na te volg, bly daar niks anders oor as dat God self uit die hemel van Homself moet getuig nie.

14. Sonder Geloof is die Mens Blind vir die Helder Lig van God se Heerlikheid wat uit die Skepping Straal🔗

Gevolglik laat soveel lampe wat in die skepping van die wêreld aangesteek is om die heerlikheid van sy Skepper te verklaar, tevergeefs hulle lig vir ons skyn. Hoewel dit ons van alle kante af bestraal, kan dit ons op sigself nie op die regte pad bring nie. Dit verwek wel enkele vonkies, maar dit word uitgedoof nog voordat dit 'n voller glans kan afgee. Daarom het die apostel juis op die plek waar hy die wêreld 'n afbeelding van die onsienlike noem,74 daaraan toegevoeg dat ons deur die geloof begryp dat dit deur die Woord van God toeberei is. So dui hy aan dat die onsienlike Godheid wél met so 'n skouspel weergegee word maar dat  ons oë nie by magte is om dit te aanskou nie tensy die openbaring van God binne-in ons hulle deur die geloof verlig.

En wanneer Paulus ons leer dat dit wat ons aangaande God moet ken, uit die skepping van die wêreld openbaar gemaak word,75 bedoel hy nie so 'n openbaring wat die mens met sy skerpsinnigheid kan begryp nie, maar hy dui eerder aan dat dit nie verder strek as om die mens onverskoonbaar te maak nie.76

Hoewel Paulus ook elders sê dat ons God nie ver moet soek nie, aangesien Hy binne-in ons woon,77 leer hy ons tog op 'n ander plek78 waartoe so 'n nabyheid dien. Hy sê: "In vergange geslagte het die Here die heidene toegelaat om in hulle eie weë te wandel. Tog het Hy Homself nie onbetuig gelaat nie: Hy het sy weldade uit die hemel gestuur, aan hulle reën en vrugbare tye gegee en die hart van die mens met spyse en blydskap gevul". Hoewel die Here dus nie sonder getuienis is wanneer Hy die mens vriendelik deur sy menigvuldige en uiteenlopende milddadigheid lok om Hom te leer ken nie, hou die mens tog nie dáárom op om sy eie weë, dit is die verderflike dwalings, te volg nie.

15. Die Mens is Sonder Verontskuldiging🔗

En hoewel dit ons aan die natuurlike vermoë ontbreek om tot die suiwere en heldere kennis van God op te styg, is elke vorm van ontvlugting ons ontneem, omdat die sondige gebrek van ons onverstandigheid binne-in ons is. Want ons kan ons onkunde nie so versluier sonder dat ons gewete ons altyd van traagheid en ondankbaarheid oortuig nie. Net asof dit as 'n geldige verdediging aangebied kan word indien die mens die voorwendsel gebruik dat hy nie ore gehad het om die waarheid te hoor nie, terwyl stomme skepsels meer as welwillende stemme het om dit te verkondig; indien hy die skuld daarvoor op sy oë lê dat hy iets nie kon sien nie wat skepsels sonder oë vir hom aanwys, indien hy die swakheid van sy verstand as verontskuldiging aanvoer wanneer alle skepsele sonder verstand dit vir hom leer.

Daarom word ons met reg volkome van alle verontskuldiging uitgesluit omdat ons weifelend swerf en afdwaal hoewel alles vir ons die regte weg aandui. Want hoewel dit aan 'n gebrek van die mensdom te wyte is dat hulle die saak van die kennis van God wat deur die wonderbaarlike werking van die natuur oor hulle verstand gestrooi is, dadelik vernietig sodat dit nie tot goeie en egte vrug kom nie, is dit tog baie waar dat ons nie deur die blote en eenvoudige getuienis wat sy skepsels skitterend tot eer van God aflê, genoegsaam geleer word nie.

Want sodra ons na aanleiding van ons verkenning van die wêreld net effens aan sy Godheid geproe het, laat ons die ware God agterweë en stel drome en hersenskimme in sy plek en ons dra die lof vir sy geregtigheid, wysheid, goedertierenheid en mag juis uit die bron daarvan op iets anders oor. Voorts verduister ons sy werke of verwring dit so deur dit verkeerd te waardeer dat ons sy heerlikheid van sy werke en die verskuldigde lofbetoon van die Skepper wegneem.

Endnotes🔗

  1. ^ (Joh. 17:3); vgl. Augustinus, Confessiones 10.20.29: Cum enim te, deum meum, quaero, vitam beatam quaere. Quaerarn, te, ut villat anima mea (MPL 32:791).
  2. ^ Ps. 104:2.
  3. ^ (Ps. 104:3,4).
  4. ^ Hebr. 11:3.
  5. ^ Ps. 19:1 (19:2-4).
  6. ^ Rom. 1:19 (1:20).
  7. ^ Vgl. Cicero, De nat. deorum, 2.2.4; Calvyn, Commentarii in Psalmos (1557) 19:4: Hic declarat quomodo coeli apud omnespopu/os sine discrimine promiscue concionentur: quia ubique terrarum intelligant homines eoelos ad celebrandam Dei gloriam proposttos esse testes (OC 31: 196) .
  8. ^ Claudium Galenos (Galen) van Pergamus (*ca. 131, t 200) was 'n bekende Griekse mediese wetenskaplike en filosoof. Marginaal word daar na sy werk verwys as Libris de usu partium libri XVII, (REW 7, 1:578 e.v.).
  9. ^ (Ps. 139:15); Inst. 1.15.3; vgl. Lactantius se beskrywingvan die wonderbare samestelling van die mens se liggaam in Div. Inst. 6: De vero cultu (MPL 6:633 e.v., CSEL 19, 2:478 e.v.) en Cicero, De nat. deorum 2.56.140 - 2.60.152.
  10. ^ Vgl. Aristoteles, Fisika, waar hy die mikrokosmos en makrokosmos met mekaar in verband bring.
  11. ^ 11 Hand. 17:27 (17:28).
  12. ^ Ps. 8:5.
  13. ^ (Ps. 8:3).
  14. ^ Aratos van Soloi in Cilicia (*315, + 240 v.C.) was 'n Griekse digter en astronoom wat ongeveer in 270 V.C. bekendheid verwerf het (REW 2,1:391-399). Hy het sy gedig Phaenomena in 275 v.C. geskryfwaaruit Paulus in Hand. 17:28 aanhaa1. Hierdie gedig is deur Cicero in Latyn vertaal (vgl. De nat. deorum 2.41.104 e.v. vir 'n verwysing na die vertaling).
  15. ^ Hand. 17:28.
  16. ^ Cicero, De nat. deorum 2.2.4.
  17. ^ Vgl. Cicero, De nat. deorum 2.2.4 waar hy die woorde van die Romeinse digter Ennius aanhaal: Aspice hoc sublime candens, quem invocant omnes Iovem, .... patrem divumque hominumque. Vgl. ook Lactantius, Div. Inst. 3.28.4: naturam esse dixerunt rerum omnium matrem (CSEL 19, 1:264; MPL 6:437).
  18. ^ Kyk Inst. 1.2.2, p. 118, n. 6.
  19. ^ Volgens die Griekse mitologie was die Siklope wanstaltige eenoogreuse. Volgens een bepaalde tradisie is die Siklope deur Zeus bevry en het hulle aan hom wapens verskaf in sy stryd teen die Titane. Volgens Homeriese tradisie het hulle in grotte naby die bergspitse gewoon en was so oormoedig dat hulle geen gode gevrees het nie (Vgl. vir die verskillende tradisies oor die Siklope REW 11,2:2328-2347).
  20. ^ Vgl. Cicero, Tusc. Disp. 1.23.56 - 1.27.66.
  21. ^ Onderafdeling 7 was in die oorspronklike 6 en is later van 5 tot 8 in die eerste uitgawe verkeerd genommer.
  22. ^ vgl. Horatius, Epistolae 1.4.15: Epicuri de grege porcum.
  23. ^  In De anima 2.1 poneer Aristoteles die stelling dat die siel nie van die liggaam geskei kan word nie.
  24. ^ Die verwysing is waarskynlik na die De immortalitate animae (1516) van Pomponatius (eintlik Pietro Pomponazzi, *1462, + 1524). Hy was 'n Italiaanse filosoof wat in die genoemde werk die stelling neerlê dat die onsterflikheid van die siel filosofies onverdedigbaar is en alleen deur openbaring verkry kan word. Hy grond sy argument op sekere uitgangspunte van Aristoteles. Vgl n. 23 hierbo (Battles 1:56-57, n. 17; OS 3:48, n.7; ML 13:225).
  25. ^ Pomponatius, De immortalitate animae 14. Vgl. in verband hiermee Calvyn se geskrif oor die Astrologie: Advertissement contre 1' Astrologie qu 'on appelle iudiciaire, 1549 (OC 7:513-542); Lat. titel: Admonitio adversus Astrologiam iudiciariam (OC 7: prol. XXXVIII).
  26. ^ Niesel dui aan dat Calvyn hier swaar steun op Cicero se argumente in die Tusc. Disp. 1.24.56 - 1.27.66, waar Cicero op dieselfde wyse uit die goddelike krag van die siel, geheue, denke, uitvindings, kennis van die sterre en die skepping van baie kunste aflei dat die siel self ook goddelik en ewig is (OS 3:49, n. 2).
  27. ^ Vgl. Pomponazzi, De immort animae hfst. 14
  28. ^ Kyk Cicero, De nat. deorum 2.7.18,19.
  29. ^ Calvyn verwys hier na die geestelike Libertyne of vrydenkers. In sy werk Contre la secte phantastique et furieuse des Libertins qui se nomment spiritueiz (1545) vermeld hy spesifiek die name van Cop, Quintin, Bertrand, Claude Perçeval asook Antoine Pocque (OC 7:153-160).
  30. ^ Marg. Aeneid 6. Vergilius, Aeneis 6.724-730. Vir 'n Afrikaanse vertaling van die werk kyk Blanckenberg, Vergilius: van wapens en 'n man, 189.
  31. ^ Plato, Timaeus; Artstoteles, De Anima 1; Metaftsika 1.
  32. ^ Marg. Georg. 4 Vergilius, Georgica 4.220 e.v.; vgl. Blanckenberg, Vergilius: landelike poësie, 148.
  33. ^ Vgl. Lucretius, De rerum natura 1.629: rerum natura creatrix; Lactantius, Div. Inst. 6.10C; 7.3B (MPL 6:667; 6:743; CSEL 19,2:515, 590).
  34. ^ Umbratile numen. Kyk Parker se kostelike uiteensetting van Calvyn se gebruik van umbra, ens. en dan veral i.v.m.die verhouding van OT en NT (Parker, 'The Shadowand the sketch,' in Calvinus Reformator, 142-148).
  35. ^ Zwingli, De providentia, hfst. 3 (Opera, Zürich, 1828,4:87,90). Die moderne uitgawe van die werke van Zwingli bevat dit me meer nie.
  36. ^ Lactantius, Div. Inst. 3.28.5: quodsi deum naturam vacant, quae peruersitas est naturam potius quam deum nominarei ... non est deus natura, sed dei opus (MPL 6:437; CSEL 19,1:264).
  37. ^ (Ps. 33:6).
  38. ^ Vgl. Inst. 1.14.1-2, 20-22.
  39. ^ Adumbrant (vgl. n. 34 hierbo).
  40. ^ Ps. 145:9.
  41. ^ Ps. 107.
  42. ^ (Ps. 46:10)
  43. ^ Ps. 113:7 (113:8).
  44. ^ 1 Kor. 3:19.
  45. ^ Let op die onderskeid tussen cerebrum (brein) en cor (hart) en hoe Calvyn die ware kennis van God aan die hart verbind.
  46. ^ Hand. 17:27.
  47. ^ Ps. 145 (145:4,5).
  48. ^ Marg. August. in Psal. 144 Augustinus, Enarratio in Psalmos 144:6. Calvyn se verbasende geheue word hierdeur duidelik geïllustreer. Augustinus se woorde is: tanquam deficientes in ejus magnitudine, ut reficiamur ejus bonitate, ad opera respiciamus (MPL 37:1872; CCSL40:2091). Calvyn se waarde is: illum non possumus capere, velut sub eius magnitudine deficientes, ad opera respicere con venit
  49. ^ Marg. Lib. 1. De civitate Dei, capite 8. Augustinus, De civitate Dei 1.8 (MPL 41 :20) .
  50. ^ Ps. 92:7.
  51. ^ Ps. 40:13.
  52. ^ Inst. 1.16. 6-9.
  53. ^ Caeca fortunae temeritate. Vgl. ook Inst. 1.16.28.; 1.17.1.; Lactantius, Div. Inst. 3.28 en veral sy formulerings in 3.29: Fortuna ergo per se nihil est (MPL 6:440; CSEL 19, 1:267)  en: Stultitia igitur et error et caecitas et, ut Cicero ait, ignoratio rerum atque causarum Naturae ac Fortunae nomina induxit (MPL 6:443; CSEL 19, 1:271); Augustinus, De civitate Dei 5.9.11 (MPL41:447-450) en Augustinus, Retractationes1.1.2 (MPL32-585)Die vergoddellikte Fortuna van die klassieke oudheid was gedurende die Renaissancenog steeds 'n geliefkoosde onderwerp vir bespreking.
  54. ^ Vgl. Cicero, De nat. deorum 1.10.24: Plato, Timaeus 33B; Melanchthon, Loci Communes 1: Ut autem descriptionem aliquam Dei teneamus, conferam duas. Alteram mutilam Platonis, alteram integram, quae in Ecclesia tradita est et ex baptismi verbis discitur (CR 21:610). Hy gaan daarna voort om Plato se siening dat God 'n mens aeterna en die oorsaak van alle goed in die natuur is, met die Christelike opvatting in verband met God te vergelyk.
  55. ^ Calvyn gebruik graag die beeld van die doolhof om die beperktheid en die verwardheid van die menslike verstand in Goddelike sake aan te dui: vgl. Inst. 1.6.3; 1.13.21; 3.2.2-3; 3.6.2; 3.8.1; 3.21.1; 3.25.11; 4.7.22.
  56. ^ Kyk Cicero, De nat. deorum 1.6.14: Qui deos esse dixerunt tanta sunt in varietate ac dissensione, ut eorum molestum sit enumerare sententias; vgl. ook ibid., 1.1.2: deque bis summa philosophorum dissensione certatur.
  57. ^ Cicero, De Nat. deorum 1.14.36 - 1.15.41; veral1.15.40; Seneca, De Beneficiis4.7: Quid enim aliud est natura quam deus et divina ratio toti mundo partibusque eius inserta? Vgl. ook Diogenes Laertius, Vitae 1.147, waar hy oor Zeus handel.
  58. ^ Plutarchos, De Iside et Ostiride 11 (Moralia V, LCL, 28-29); Eusebius, De praeparatione evangelica 3.4 (MPG 21:171 e.v.): Augustinus, De civitate Dei 8.23-8.27 (MPL 41:247 e.v.; CSEL40,1:392;40,1:406).
  59. ^ Cicero, De nat. deorum 1.1.2; 1.23.63; 1.30.85; 1.42.117; 1.43.121. Calvyn sinspeel hier waarskynlik ook op die ateïsme van sy tydgenoot Rabelais (Bohatec, Budé und Calvin, 226 e.v.).
  60. ^ Cicero, De nat. deorum 1.2.5.
  61. ^ Calvyn maak gebruik van occulta (verborgenhede), mysteria (geheimenisse), abscondita (verborgene) en arcana (raalselagtige).
  62. ^ Cicero, De nat. deorum 1.22.60.
  63. ^ (Hand. 17:23). Die laaste sin gee Calvyn se opvatting in verband met natuurlike teologie weer; vgl. ook Inst. 1.5.14.
  64. ^ (1 Kor. 10:20).
  65. ^ Ef. 2:12 (2:13).
  66. ^ Rom. 1:21.
  67. ^ Hab. 2:18.
  68. ^ (Hab. 2:20).
  69. ^ Joh. 4:22.
  70. ^ 1 Kor. 2:8.
  71. ^ Joh. 4:22.
  72. ^ Xenophon, Memorabilia 4.3.16.
  73. ^ Cicero haal Cotta aan wat sê dat dit vir hom voldoende is om te aanvaar dat die gode bestaan, bloot omdat dit 'n beskouing is wat deur sy voorvaders oorgelewer is: Mihi enim unum sat erat, ita nobis maiores nostros tradidisse (De nat. deorum 3.4.9). Lactantius haal op sy beurt hierdie gedeelte uit Cicero aan in Div. Inst. 2.7 (MPL 6:285; CSEL 19,1:123).
  74. ^ Hebr. 11:3.
  75. ^ Rom. 1:19.
  76. ^ (Rom. 1:20).
  77. ^ Hand. 17:27.
  78. ^ Hand. 14:16 (14:17; 14:15-16 Vg.).