Die Skrif munt in sy ouderdom bo alle geskrifte uit en oortref alle menslike wysheid. Nie omdat die styl daarvan so voortreflik is nie, maar vanweë die inhoud en goddelike karakter daarvan. Die geskiedenis van Moses bevestig die geloofwaardigheid van die Skrif, soos ons sien by die afkondiging van die wet, die wonders wat plaasgevind het asook Moses (en ander profete) se profesieë.

Deur die eeue heen het die Heilige Gees verskillende mense – geskoold en ongeskoold – geïnspireer om, elkeen in sy unieke skryfstyl, die Woord van die Here neer te pen. Teen alle menslike verwagtings in, is die Skrif deur God se voorsienigheid wonderbaarlik bewaar. Dit is eeue lank eenstemmig deur die kerk wêreldwyd aanvaar,  ten spyte van die Satan se pogings om dit te vernietig. Die bloed van die martelare is ‘n verdere bevestiging van die betroubaarheid daarvan.

1984. 14 bladsye.

Institusie van die Christelike Godsdiens (1559) - Boek 1 Hoofstuk 8 Sover die mens se rede dit vereis, is bewyse beskikbaar wat kragtig genoeg is om die geloofwaardigheid van die Skrif te bevestig

1. Die Skrif oortref al die mens se Geestesprodukte🔗

As hierdie sekerheid, wat verhewener en kragtiger as enige oordeel van die mens is, ontbreek, sal die gesag van die Skrif tevergeefs met bewyse versterk of met die instemming van die kerk bevestig of met ander hulpmiddels bekragtig kan word. Want as die fondament daarvoor nie gelê is nie, sal dit altyd twyfelagtig bly. Maar, aan die ander kant, as ons miskien eenmaal die alledaagse gesag daarvan wegneem en dit tóg eerbiedig en die waarde daarvan aangryp, is die dinge wat nie soseer bydra om die sekerheid daarvan in ons hart in te plant en daarop af te stempel nie, tog baie geskikte hulpmiddels. Want dit is wonderlik hoe dit bekragtig word wanneer ons met toegewyde aan dag daaroor nadink hoe die geordende en gerangskikte toedeling van die wysheid van God daarin na vore kom; hoe hemels en sonder aardse reuk die geur is wat die leer oral daarin versprei; hoe pragtig die onderlinge ooreenstemming tussen al die dele daarvan is, en dergelike dinge wat gepas is om aan die Skrif majesteit te verleen.

Ons hart word egter nog kragtiger versterk wanneer ons daaroor nadink dat ons eerder deur die waarde van die onderwerpe daarin as deur die bekoorlikheid van die woorde tot bewondering vir die Skrif meegevoer word. Want die uitnemende voorsienigheid van God het daarvoor gesorg dat die verhewe geheimenisse van die koninkryk van die hemele grotendeels in onaansienlike nederigheid van woorde aan ons oorgelewer is. Sy doel daarmee was om te verhoed dat goddelose mense daarmee die spot sou dryf dat die krag van die welsprekendheid alleen daarin heers as die glans daarvan dit sou opluister. Aangesien die ongekunstelde maar tag nie onafgewerkte eenvoud daarvan ons tot groter eerbied daarvoor opwek as al die welsprekendheid van redenaars, watter oordeel kan ons daaroor vel anders as net dat die Heilige Skrif so 'n kragtige werking van die waarheid het dat dit geen woordkuns nodig het nie?

Gevolglik verklaar die apostel nie sonder rede dat die geloof van die Korinthiërs op die krag van God en nie op die wysheid van die mens gebaseer was nie, omdat sy prediking onder hulle nie met oorredende woorde van mensewysheid nie maar met die betoning en krag van die Gees onder hulle aanneemlik was.1 Want die waarheid word eers teen  alle twyfel beskerm wanneer dit nie op vreemde hulpmiddels steun nie maar alleen genoegsaam is om homself te handhaaf.

Maar dat hierdie krag 'n besondere eienskap van die Skrif is, sal daaruit duidelik word dat geeneen van die mens se boeke, hoe kunstig dit ook al afgerond is, ons enigsins kan ontroer nie. Lees maar Dernosthenes2 of Cicero,3 lees PlatoPlato4 of Aristoteles5 of enige ander skrywer uit die groep. Ek erken dat hulle 'n mens wonderbaarlik sal aantrek, behaag, beïnvloed en meesleur. Maar sodra jy jou daartoe wend om die Heilige Skrif te lees, sal dit jou willens en wetens so lewendig ontroer, jou hart so binnedring en jou binneste so beset dat die krag van redenaars en filosowe in vergelyking met die werking daarvan op jou gevoel byna verdwyn.

Gevolglik kan ons geredelik bemerk dat die Heilige Skrif iets Goddeliks adem wat al die gawes en bekoorlikhede van die mense se inspanning ver te bowe gaan.6

2. Nie die Styl nie maar die Inhoud van die Skrif is Deurslaggewend🔗

Ek erken wel dat sommige profete 'n elegante en goed versorgde, ja, selfs voortreflike styl het, sodat hulle welsprekendheid nie voor profane skrywers hoef te swig nie.7 Maar met sulke voorbeelde wou die Heilige Gees aantoon dat Hy nie 'n gebrek aan welsprekendheid het nie, terwyl Hy elders 'n growwe onafgeronde styl gebruik.

As 'n mens verder Dawid, Jesaja en dergelike skrywers, wie se styl innemend, aangenaam en vloeiend is, of Amos, 'n veeoppasser, Jeremia en Sagaria, wie se growwe styl na die plaas smaak, lees, sal die majesteit van die Gees, waarvan ek melding gemaak het, oral sigbaar wees.

Die Satan boots God in baie dinge na. Ek is egter nie onbekend met die bedrieglike gelykenis wat hy inspan om beter in die hart van eenvoudige mense in te dring nie. Ek weet dat hy die goddelose dwaalleer waarmee hy ellendige mense bedrieg het, so slinks met 'n slordige en bykans barbaarse styl bestrooi het en dat hy dikwels verouderde spreekvorme gebruik het om sy bedrog onder dié masker te verberg.8 Maar almal wat maar net 'n effense aanvoeling daarvoor het, kan sien hoe ydel en verrot sy gekunsteldheid is.

Sover dit die Heilige Skrif aangaan, is dit tóg seker dat dit vol uitsprake is wat nie van menseweë bedink kan word nie, ten spyte daarvan dat voortvarende mense poog om dit in baie opsigte weg te knaag. Ondersoek maar elkeen van die profete: daar sal nie een van hulle aangetref word wat die perke van die mens nie ver verbygesteek het nie, sodat ons van oordeel moet wees dat mense vir wie hulle leer onsmaaklik is, self hoegenaamd geen smaak het nie.

3. Die Skrif Munt in Sy ouderdom uit bo ander geskrifte🔗

Sommige skrywers het hierdie onderwerp uitvoerig behandel.9 Gevolglik sal dit vir die huidige genoegsaam wees om slegs enkele fasette aan te roer wat besonderlik tot die kern van die hele saak bydra. Behalwe die aspekte wat ek alreeds aangeroer het, dra die oudheid van die Skrif self groot gewig.10 Want hoewel Griekse skrywers baie stories in verband met 'n teologie van die Egiptenare vertel, bestaan daar geen bewys van enige godsdiens wat nie veel later as die tyd van Moses is nie.11

Moses dink egter nie 'n nuwe God uit nie, maar hy hou aan ons die oorlewering voor wat die Israeliete oor die verloop van baie jare as't ware uit die hand van hulle vaders in verband met die ewige God verneem het.12 Want wat doen hy anders as om hulle terug te bring na die verbond wat met Abraham gesluit is? As hy egter iets ongehoords sou aangebied het, sou hy geen ingang gevind het nie. Maar die bevryding uit die slawerny waarin hulle gehou is, moet vir hulle almal 'n bekende en deurknede onderwerp gewees het, sodat die vermelding daarvan dadelik almal se belangstelling sou gewek het.

Ja, dit is waarskynlik dat hulle selfs in verband met die vierhonderdtal jare13 onderwys is.

As Moses, wat tog self alle ander skrywers met so 'n groot tydsverloop voorafgaan, die oorlewering van sy leer ver uit die begin opdiep, moet ons daaroor nadink hoeveel die Heilige Skrif bo alle ander geskrifte in die ouderdom daarvan uitstaan.

4. Die Geskiedenis van Moses bevestig die Geloofwaardigheid van die Skrif🔗

Behalwe miskien as ons die Egiptenare sou wil glo, wat hulle oudheid uitbrei tot sesduisend jaar voor die skepping van die wêreld.14 Maar aangesien selfs profane skrywers altyd met hulle gebabbel die spot gedryf het, is daar geen rede waarom ek moeite sou doen om dit te weerlê nie.

Josephus haal gedenkwaardige getuienis uit die oudste skrywer in sy werk teen Apion aan.15 Daaruit kan ons aflei dat die leer wat in die wet oorgelewer is, volgens ooreenstemming onder al die heidene van die vroegste tye af bekend was, hoewel hulle dit self nie gelees of geken het nie. Maar om te verhoed dat daar 'n sweem van verdenking by kwaadwillige mense sou bly en goddeloses nie die geleentheid sou kry om daaroor hare te kloof nie, voorkom God albei gevare met die beste middels. Hoe brandmerk Moses sy eie stam nie wanneer hy vertel van die seën wat Jakob bykans driehonderd jaar tevore onder hemelse inspirasie oor sy nageslag uitgespreek het. Ja, hy brandmerk sy stam in die persoon van Levi met 'n ewige skandvlek. Hy sê: "Simeon en Levi is werktuie van die onreg. Laat my siel nie in hulle vergadering kom nie en my tong nie in hulle verborge handelinge nie".16

Hy kon die skande sekerlik verswyg het, nie soseer om sy vader te spaar nie maar om homself en sy hele huisgesin nie met 'n deel van dieselfde, skandvlek te besoedel nie. Hoe sou iemand onder verdenking kon kom as hy uit eie vrye wil verklaar dat die eerste grondlegger van die gesin waaruit hy gebore sou word, volgens 'n uitspraak van die Heilige Gees verwerplik was? Hy soek nie sy eie belang nie en hy deins nie daarvoor terug om deur sy volksgenote gehaat te word nie, omdat dit vir hulle ongetwyfeld 'n ergernis was.

Wanneer hy selfs die goddelose murmerering van sy eie broer Aäron en sy suster Mirjam weergee,17 sou ons dan sê dat hy na sy vleeslike gevoel spreek of dat hy die bevel van die Heilige Gees gehoorsaam? Aangesien hy hierby die hoogste gesag gehad het, waarom het hy dan nie ten minste die hoëpriesterskap vir sy eie seuns nagelaat nie maar die laagste pos vir hulle aangewys? Van die vele aspekte roer ek slegs 'n paar aan, maar juis in die wet kom daar oral bewyse voor wat volle geloofwaardigheid vir die Skrif opeis dat Moses ongetwyfeld soos 'n engel van God uit die hemel voortgekom het.

5. Die Wonderwerke wat by die Afkondiging van die Wet plaasgevind het, is Onweerlegbaar🔗

Maar soveel en sulke uitsonderlike wonderwerke waarvan die Skrif vertel, bekragtig eweneens die wet wat hy neergelê het en die leer wat hy bekend gestel het. Want die feit dat hy in 'n wolk op die berg weggeneem is; dat hy daar tot op die veertigste dag van menslike verkeer  afgesonder is,18 dat sy gesig by die afkondiging van die wet asof met sonstrale geblink het,19 dat bliksemstrale oral geflikker het; dat die geluid van donder en geruis oor die hele lug hoorbaar was; dat 'n basuin sy geskal laat hoor het sonder dat dit deur die mond van 'n mens geblaas is,20 dat die ingang tot die tabernakel vir die volk onsigbaar was omdat dit met 'n wolk versluier is;21 dat sy gesag so wonderbaarlik gehandhaaf is deur die verskriklike uitwissing van Korag, Datan en Abïrarn en hulle hele goddelose groep aanhangers,22 dat 'n stroom water dadelik uit 'n rots gekom het toe hy dit met sy staf geslaan het,23 dat manna op sy gebed uit die hemel gereën het,24 het God hom dan nie deur hierdie tekens uit die hemel as sy ontwyfelbare profeet aanbeveel nie?

As iemand die beswaar sou opper dat ek iets as 'n voldonge feit aanneem wat nie onbetwisbaar is nie, is daar 'n maklike oplossing vir sy haarklowery.25 Aangesien Moses dit alles in 'n vergadering bekend gestel het, watter geleentheid het hy gehad om verdigsels te skep voor mense wat self ooggetuies van die gebeure was? Sou hy dan in hulle midde kon kom, die volk van ongeloof, hardkoppigheid, ondankbaarheid en ander oortredings kon beskuldig en voor hulle oë daarop kon roem dat sy leer deur daardie wonderwerke wat hulle self nooit gesien het nie, bekragtig is?

6. Die Wonderwerke in die Tyd van Moses het die Gesag van die Skrif oor al die Eeue heen bekragtig🔗

Want dit is ook merkwaardig dat hy elke keer wanneer hy van die wonderwerke vertel, terselfdertyd 'n weersinwekkende voorbeeld byvoeg wat die volk kon aanhits om hulle stem daarteen te verhef as die geringste geleentheid daarvoor hom sou voordoen. Daaruit is dit duidelik dat hulle onderskryf het dat hulle daartoe beweeg is omdat hulle meer as genoeg deur hulle eie ervaring daartoe oorreed is.

Maar omdat die gebeure so luisterryk was dat selfs profane skrywers nie kon beweer dat Moses nie wonderwerke gedoen het nie, het die vader van die leuen vir hulle 'n valse aantyging verskaf en sy wonderwerke aan towerkunste toegeskrywe.26 Maar wat 'n vergissing dat hulle hom daarvan beskuldig dat hy 'n towenaar was hoewel hy so 'n groot afkeer van hierdie bygeloof gehad het dat hy beveel dat elkeen wat towenaars of waarsêers maar net raadpleeg, gestenig moes word!27 Daar is sekerlik geen bedrieër wat hom met goëltoertjies besig hou sonder om hom daarop· toe te lê om die gemoed van die gewone mense te oorbluf ter wille daarvan om sy eie roem te soek nie! Maar wat doen Moses? Hy roep uit dat hy en sy broer Aäron niks is nie maar dat hulle slegs doen wat God beveel.28 Hy neem dus elke vorm van valse blaam genoegsaam weg.

As ons dan die gebeure self in oorweging neem: Watter beswering was nou eintlik daartoe in staat om elke dag manna uit die hemel te laat reën en dit genoeg te laat wees om die volk te voed? As iemand meer as sy regmatige maat sou opgaar, sou hy leer dat sy ongelowigheid deur die hand van God gestraf word wanneer dit verrot.29 Voeg hierby dat God sy dienskneg deur baie ernstige versoekinge laat beproef het, sodat die goddelose mense nou niks met hulle rumoer bereik nie. Die hele volk het trouens dikwels met hooghartigheid en moedswilligheid teen hom opgestaan. Soms het hulle gepoog om die heilige dienskneg van God te vernietig deur onderling teen hom saam te sweer. Hoe kon hy dan hulle raserny met towerkunste ontwyk? En die verloop van die gebeure duiduidelik aan dat sy leer oor al die eeue heen so bekragtig is.

7. Moses se Profesieë adem die Openbaring van God🔗

Wie sou beweer dat die feit dat hy die oppergesag aan die stam van Juda in die persoon van aartsvader Jakob toeken,30 nie uit 'n profetiese gees gespruit het nie - veral as ons die gebeure self oorweeg soos dit deur die werklike verloop bevestig is? Gestel nou dat Moses die eerste gesaghebbende bron van die profesie was, dan het daar nogtans sedert die tyd waarop hy dit op skrif gestel het, vierhonderd jaar verloop waarin geen melding van die septer in die stam van Juda gemaak is nie. Na die inhuldiging van Saul31 is die koninklike gesag skynbaar in die stam van Benjamin gevestig. Wanneer Dawid deur Samuel gesalf word,32 wat is dan die rede vir die oordrag daarvan?

Wie sou ooit kon hoop dat 'n koning uit die eenvoudige huis van 'n veewagter sou kom? En wie sou die eer aan die jongste laat toekom het, hoewel daar sewe broers was? Hoe het hy daarop die verwagtinge van 'n koninkryk bereik? Wie sou beweer dat sy salwing deur listigheid of vernuf of wysheid van die mens so bestier is en nie eerder dat dit 'n vervulling van 'n profesie uit die hemel is nie?

Hoewel dit vaag is, is sy voorspelling in verband met die opname van die heidene in die verbond van God van net so 'n aard.33 Hoewel dit eers na bykans tweeduisend jaar in vervulling gegaan het, openbaar dit nie dat hy toe met Goddelike inspirasie gespreek het nie?

Ek laat sy ander profesieë maar agterweë. Dit adem so duidelik die openbaring van God dat mense met gesonde verstand daarvan seker is dat dit God is wat daar spreek. Kortom: sy lied alleen is al 'n helder spieël waarin God duidelik te voorskyn kom.34

8. Dit word ook deur die Geskiedenis van die ander profete bewys🔗

In die ander profete kan dit selfs duideliker waargeneem word. Ek sal slegs maar enkele voorbeelde kies, omdat dit te veel inspanning sou verg om almal te versamel.

Toe die koninkryk van Juda in die tyd van Jesaja vrede geniet het, ja, toe die koninkryk van Juda gedink het dat hy 'n bron van bystand in die Chaldeërs het, het Jesaja alreeds die vernietiging van die stad en die ballingskap van die volk verkondig.35

Hoewel ons toegee dat dit nog nie duidelik genoeg bewys van Goddelike inspirasie gelewer het nie dat hy baie lank tevore dinge verkondig het wat toe ongelooflik gelyk het maar tog uiteindelik bewaarheid is - tog, vanwaar, sal ons sê, het die profesieë wat hy terselfdertyd in verband met hulle bevryding gelewer het, anders as net van God af gekom?

Hy vermeld Kores,36 deur wie die Chaldeërs onderwerp en sy volk in vryheid herstel moes word. Daar het meer as honderd jaar verloop vanaf die stadium dat hy so profeteer het, voordat Kores gebore is. Want laasgenoemde is eers 'n jaar of honderd na sy dood gebore. Niemand kon toe voorspel dat daar 'n Kores sou wees wat met die, Babiloniërs oorlog sou voer en so 'n magtige heerser sou onderwerp en 'n einde aan die ballingskap van die Israeliete sou maak nie.

Dit is 'n eenvoudige vertelling sonder versiering van woorde. Bewys dit nie duidelik dat die dinge waaroor Jesaja praat, ontwyfelbare uitsprake van God en nie veronderstellings van 'n mens is nie?

Wanneer Jeremia verder 'n klein rukkie voordat die volk weggevoer is, die tyd van hulle gevangenskap tot sewentig jaar beperk en hulle terugkeer en bevryding verkondig,37 moet ons dan nie toegee dat sy tong deur die Gees van God beheer is nie? Watter onbeskaamdheid sou dit wees om te ontken dat die gesag van die profete met sulke bewyse bevestig is en dat dit waarop hulle self roem om hulle woorde geloofwaardig te maak, so in vervulling gegaan het? Jesaja sê: "Kyk, die vorige dinge het gekom en nuwe dinge verkondig ek; voordat hulle uitspruit, sal ek julle dit bekend-maak".38

Ek laat agterweë dat Jeremia en Esegiël39 tog op dieselfde tyd geprofeteer het hoewel hulle so ver van mekaar verwyder was. In al hulle woorde stem hulle so volkome met mekaar ooreen asof die een sy woorde vir die ander voorgesê het.

Wat van Daniël?40 Het hy nie oor gebeure wat bykans seshonderd jaar later sou plaasvind, geprofeteer asof hy'n geskiedenis oor gebeurtenisse, wat alombekend is, geskrywe het nie?

As godvrugtige mense hierdie dinge na behore bedink, sal hulle  oorvloedig toegerus wees om die geblaf van goddelose mense  muilband. Want die bewys is so duidelik dat dit nie aan drogredenasies blootgestel is nie.

9. Die Wet van Moses is deur die Voorsienigheid bewaar🔗

Ek weet wel watter lawaai sommige deugniete in hulle hoekies maak met die oog daarop om hulle eie skerpsinnigheid in die bestryding van die waarheid van God te vertoon. Want hulle vra wie ons die versekering gegee het dat Moses en die profete die woorde geskrywe het wat ons onder hulle name lees.41 Ja, hulle waag selfs om die vraag te opper of daar ooit 'n Moses was. Maar as iemand dit in twyfel sou trek of daar ooit 'n Plato of 'n Aristoteles of 'n Cicero was, wie sou dan nie sê dat so 'n dwaasheid nie met klappe en géselslae gestraf moet word nie?

Die wet van Moses is deur die Voorsienigheid uit die hemel eerder as deur die inspanning van die mens wonderbaarlik bewaar. En hoewel dit as gevolg van die agtelosigheid van die priesters 'n kort tydjie begrawe was, was dit sedert die tyd waarin die vroom koning Josia dit gevind het,42 voortdurend in die loop van al die tyd in die hand van die mens.43 Josia het dit ook nie aan die lig gebring asof dit 'n onbekende en nuwe saak was nie, maar as iets wat altyd bekend was en waarvan die herinnering toe ook nog hoog geroem is. Die oorspronklike boekrol is in die tempel geplaas. Daarna is 'n afskrif in die koninklike argief geplaas.44 Dit het slegs gebeur omdat die priesters opgehou het om die wet volgens plegtige gebruik af te kondig en selfs die volk nagelaat het om dit soos gewoonlik te lees. Wat daarvan dat daar byna nie 'n eeu verbygegaan het waarin die onskendbaarheid daarvan nie bekragtig en hernieu is nie? Of was Moses nie bekend aan die mense wat die psalms van Dawid behandel het nie?

Maar om nou eens en vir altyd oor alles te praat: Dit is gewis en seker dat hulle geskrifte net, om dit so te stel, van hand tot hand na die nageslag gekom het toe dit in 'n aaneenlopende reeks jare van vader tot vader oorgelewer is. Hierdie vaders het enersyds self die profete hoor praat. Andersyds het hulle egter gehoor by diegene wat dit self gehoor het, toe dit nog vars in hulle geheue was, dat hulle so gespreek het.

10. God het die Wet en die Profete eeue lank Wonderbaarlik bewaar🔗

Ook die beswaar wat hulle na aanleiding van die geskiedenis van die Makabeërs45 opper om die geloofwaardigheid van die Skrif af te breek, is van so 'n aard dat niks meer gepas as dit uitgedink kon word om dit juis bevestig nie. Dog moet ons eers die kleure waarin hulle dit hul, uitwis. Daarna salons die wapen wat hulle op ons rig, na hulle toe omkeer.

Hulle sê: "Aangesien Antiochus beveel het dat al die boeke verbrand moes word, waarvandaan kom die eksemplare dan wat ons nou daarvan het?46 Van my kant is my vraag: In watter werkplek kon dit so gou geproduseer word? Want dit staan vas dat dit spoedig na die beëindiging van sy wreedheid te voorskyn gekom het en dat dit deur al die godvrugtiges wat in die leer daarvan onderrig is en dit intiem geken het, sonder twyfel as eg erken is. Ja, hoewel al die goddelose mense die jode se voortvarendheid aangeval het asof hulle 'n sameswering gesmee het, het niemand ooit gewaag om die beswaar teen hulle te opper dat hulle valse boeke in hulle plek gestel het nie. Want wat die aard van die godsdiens van die Jode na hulle mening ook al is, erken hulle nogtans dat Moses die skrywer daarvan is. Wat voer die babbelkouse dan anders as 'n voortvarendheid meer as dié van 'n hond aan wanneer hulle lieg dat die boeke in die plek van die egtes ingeskuif is, hoewel die gerespekteerde oudheid daarvan eenstemming deur almal erken word?

Maar om nou nie meer tevergeefse inspanning daaraan te bestee om sulke afstootlike belastering te weerlê nie, laat ons eerder daaroor nadink hoeveel sorg die Here daaraan gewy het om sy Woord te bewaar, aangesien Hy dit bo die verwagting van alle mense uit die wreedheid van so 'n grimmige tiran soos uit 'n magtige vuur weggeruk het. Daarby het Hy godvresende priesters en andere met so 'n groot standvastigheid toegerus om nie te aarsel om hierdie skat, as die nood dit vereis, selfs met die verlies van hulle lewe vry te koop nie en om dit aan die nageslag oor te dra. Ook het Hy die ywerige soektog daarna van soveel owerstes en hulle trawante verydel.

Wie sou nie die uitsonderlike en wonderbaarlike werk van God hierin erken nie dat die heilige gedenkskrifte, waarvan die goddelose mense vas oortuig was dat dit geheel en al tot niet gegaan het, weldra met volle reg op herstel teruggekeer het - en dit inderdaad met nog groter aansien? Want 'n Griekse vertaling wat dit oor die hele wëreld bekend gestel het, het daarop gevolg.47 En die wonderwerk het nie alleen daarin na vore gekom dat God die tafels van sy verbond uit die bloedige verordeninge van Antiochus gered het nie, maar ook dat hulle te midde van soveel menigvuldige terugslae van die Jode, waardeur hulle dikwels verswak en verniel en uiteindelik byna tot ondergang gedoem was, tog veilig en behoue gebly het. Hebreeus was nie alleen verag nie maar was bykans onbekend. Dit sou trouens heeltemal tot niet gegaan het as dit nie God se wil was dat die godsdiens ter harte geneem moes word nie. Want hoeveel die Jode sedert die tyd waarop hulle uit ballingskap teruggekeer het, van die egte gebruik van hulle moedertaal48 afgewyk het, blyk duidelik uit die profete van daardie era. Dit is ook om dié rede merkwaardig, omdat die oudheid van die wet en die profete duideliker uit so 'n vergelyking afgelei kan word.

En deur wie het God die leer van ons saligheid, wat in die wet en die profete vervat is, vir ons bewaar sodat Christus op sy tyd geopenbaar kon word? Deur Christus se gevaarlikste vyande, naamlik die Jode. Augustinus noem hulle derhalwe met reg die bewaarders van die boeke van die Christelike kerk, omdat hulle aan ons die leesstof verskaf het waarvoor hulle self geen nut het nie.49

11. Die Skrif roem nie op die praal van Sy Styl of op die afkoms van die skrywers daarvan nie maar op die Waarheid van Sy Leer🔗

As ons verder by die Nuwe Testament kom: Op watter stewige steunpilare rus die waarheid daarvan niet Die drie evangeliste gee die geskiedenis in 'n nederige en ingetoë styl weer. Vir baie hooghartiges is die eenvoud daarvan afstootlik.50 Die rede daarvoor is dat hulle nie op die belangrikste punte van die leer let nie, omdat daaruit maklik die afleiding gemaak kan word dat die evangeliste ver bo die bevatlikheid van die mens die verborgenhede van die hemele bespreek. As hulle maar net 'n druppeltjie aangebore skaamte het, sal hulle beskaam word wanneer hulle die eerste hoofstuk van Lukas lees.

Maar die preke van Christus waarvan die hoofpunte kortliks deur die drie evangeliste saamgevat word, ontneem hulle geskrifte gemaklik elke vorm van minagting. Johannes dreun uit die hoogte, en die wat hy nie tot geloofsgehoorsaamheid kan dwing nie, se hardkoppigheid vel hy kragtiger as enige weerligstraal neer. Laat al die wysneusige kritici na vore kom vir wie dit die grootste genot is om die eerbied vir die Skrif uit hulle eie hart en uit die van ander uit te dryf. Laat hulle die evangelie van Johannes lees. Willens en wetens sal hulle daar duisend uitsprake aantref om hulle onnoselheid tot besinning te bring, ja, om 'n verskriklike brandyster op hulle gewete in te brand om hulle gespot aan bande te lê. Paulus en Petrus se boeke het dieselfde strekking.51 Hoewel die merendeel mense hulle blind staar teen hulle geskrifte, hou die hemelse majesteit daarvan almal tog daaraan gebonde en as't ware gevange.

Maar een aspek verhef hulle leer meer as genoeg bo die wêreld, naamlik dat Mattheus tevore aan die winsbejag van sy tafel geheg was en Petrus en Johannes hulle met hulle skuitjies besig gehou het. Hulle was almal growwe ongeletterdes wat niks in die skool van mense geleer het om aan ander oor te dra nie.

Paulus het inderdaad nie alleen van 'n uitdruklike vyand nie maar ook 'n wrede en bloeddorstige vervolger in 'n nuwe mens verander. Met sy skielike en onverwagte verandering het hy aangetoon dat hy deur 'n bevel uit die hemel aangedryf is om die leer wat hy tevore bestry het, te verdedig.52

Laat die honde dan nou beweer dat die Heilige Gees nie op die apostels neergedaal het nie, of laat hulle ten minste die geloofwaardigheid van die geskiedenis wegneem.53 Die werklikheid skreeu dit tog duidelik uit dat hulle deur sy Gees geleer is, en hoewel hulle tevore onder die volk verag was, het hulle skielik begin om wonderbaarlik oor die verborgenhede van die hemele te praat.

12. Die Skrif is eeue lank konsekwent eenstemmig deur die Kerk in Gehoorsaamheid aanvaar🔗

Voeg nou hierby dat daar ook nog ander uitstekende redes is waarom die eenstemmigheid van die kerk nie sonder gewig is nie. Want dit moet nie van weinig belang geag word dat die gesindheid in soveel eeue sedert die Skrif bekend gestel is, konsekwent eenstemmig was om dit te gehoorsaam nie.

En hoewel die Satan en die hele wêreld gepoog het om dit op wonderbaarlike wyses te onderdruk of te vernietig of volkome te verduister of uit die gedagte van die mens uit te wis, het dit tog altyd soos 'n palmboom bo die aanslae uitgestyg en onoorwinlik gebly.54 Want daar was oor die algemeen nog nie 'n sofis of 'n redenaar met 'n uitmuntende verstand wat nie sy kragte teen die Skrif ingespan het nie. Tog het hulle almal niks bereik nie. Al die magte van die wêreld het hulIe met wapens uitgerus om dit te vernietig, en al hulle pogings het in rook opgegaan.

Hoe sou dit ooit weerstand kon bied toe dit hewig van alle kante aangeval is, as dit net op die bystand van die mens moes steun? Ja, daardeur word eerder bewys dat dit uit God ontspring het omdat dit, ten spyte van al die teenstand en die ywer van die mens, nogtans uit eie krag alles te bowe gekom het. Hierby kom ook die feit dat nie slegs een stad en nie slegs een volk saamgestem het om dit te aanvaar en te omhels nie, maar dat die Skrif ook sy gesag verkry het so wyd en breed as wat die wêreld strek, deur 'n heilige eenstemmigheid van verskeie volkere wat andersins niks gemeen het nie.

Hoewel so 'n eenstemmigheid van sulke uiteenlopende gemoedere en van mense wat andersins in alle opsigte van mekaar verskil ons ten sterkste behoort te beïnvloed, aangesien dit duidelik is dat dit net deur krag uit die hemel bewerk is, neem die eenstemmigheid geweldig in gewig toe wanneer ons ons oë vestig op die godsvrug van die mense wat so tot eenstemmigheid gekom het - hoewel dit nie van almal is nie maar wel van diegene deur wie dit God se wil was dat sy kerk, soos deur ligte, sy lig moes laat skyn.

13. Die Dood van martelare is nie genoegsame bewys vir die Gesag van die Skrif nie: deur die geloof alleen weet ons dat die Skrif die Woord van God is🔗

Met hoeveel sekerheid betaam dit ons dan nie om die leer te onderskryf wanneer ons sien dat dit deur die bloed van soveel heiliges bekragtig en betuig is nie? Toe hulle dit nou eenmaal aangeneem het, het hulle nie geaarsel om die dood onversaag en onverskrokke ter wille daarvan met blymoedigheid tegemoet te gaan nie. Hoe sou ons dit dan nie met vaste en onverskrokke oortuiging aanvaar nie terwyl dit met so 'n waarborg aan ons oorgelewer is?

Dit is dus geen onbeduidende bevestiging van die Skrif dat dit deur die bloed van soveel getuies verseël is nie - veral nie as ons daaroor nadink dat hulle die dood tegemoet gegaan het om getuienis van hulle geloof af te lê, en dit nie uit 'n fanatiese gebrek aan selfbeheersing, soos sommige dwaalgeeste die gewoonte het om te doen nie,55 maar uit 'n vaste en bestendige maar tog sobere ywer vir God.

Daar is nog baie ander kragtige redes waardeur die aansien en majesteit van die Skrif nie alleen vir godvrugtige harte bevestig word nie maar ook voortreflik teen die listige planne van valse aanklaersbeskerm word. Dit is egter op sigself nie kragtig genoeg om 'n onwrikbare geloofwaardigheid daarvoor te verkry nie, totdat ons hemelse Vader die eerbied daarvoor bo alle twis verhef wanneer Hy sy Goddelike krag daarin openbaar.

Daarom sal die Skrif eers dán waarlik genoeg wees vir die saligmakende kennis van God wanneer die sekerheid daarvan op die innerlike oortuiging van die heilige Gees gevestig is. Daar is trouens ook getuienis van mense wat tot bekragtiging van die Skrif kan dien. Die getuienis sal dus nie sinneloos wees nie, mits dit as ondergeskikte hulpmiddels vir ons swakheid op die bogenoemde beginsel as die belangrikste en gewigtigste volg.

Maar mense handel dwaas as hulle meen dat dit vir ongelowiges bewys moet word dat die Skrif die Woord van God is. Dit is iets wat nie sonder die geloof te wete gekom kan word nie. Augustinus het dus gelyk wanneer hy leer dat godsvrug en gemoedsvrede vooraf moet gaan, sodat die mens iets van sulke belangrike dinge kan begryp. Augustinus het dus gelyk wanneer hy leer dat godsvrug en gemoedsvrede vooraf moet gaan, sodat die mens iets van sulke belangrike dinge kan begryp.56

Endnotes🔗

  1. ^ 1 Kor. 2:4 (2:5).
  2. ^ Dernosthenes was 'n beroemde Griekse redenaar "vat van 384 tot 322 V.C. lewe (REW5,1:169-188; OCD, 268 e.v.).
  3. ^ Cicero was 'n Romeinse redenaar wat van 106 tot 43 V.C. lew (REW 7A,1:827-1274; Suppl. Bd. 7:1085-1089; OCD, 191).
  4. ^ (*429, +347 v.C.) was 'n beroemde Griekse wysgeer wat vir sy ideëleer bekend was (REW 20,2:2342; OÇO, 698-700).
  5. ^ Hy was 'n bekende na-Platoniese Griekse filosoof wat van 384 tot 322 v.C. lewe. Hy het 'n diepgaande invloed op die Christendom en veral op die Middeleeuse Rooms Katolieke teologie uitgeoefen (REW 2,1:1012 e.v.; Suppl. Bd. 7:1057 e.v.; OCO, 9497). Calvyn is deur al vier bogenoemde skrywers in Retoriek en Filosofie beïnvloed (vgl. o.a. ook Bohatec, 257).
  6. ^ Hierdie verwysing na die uitnemendheid en oortuigingskrag bo die werke van die klassieke skrywers is iets wat Calvyn baie duidelik self ervaar het. Le Fèvre het 'n soortgelyke ervaring gehad, waarvan hy melding maak in sy Psalterium quincuplex (1509): "'n Lig het rny oë bestraal, wat so helder soos donker skaduwees in vergelyking met die studie van goddelike dinge gelyk het" (Sitaat by J. Pannier, Institution 1:310, noot b, by p.69; Battles 1:82-83, n. 1).
  7. ^ Augustinus, De doctrina christiana 4.6.9-7.21 '(MPL 34:92-98); Lactantius, Div. Inst. 1 en 4 (MPL 6:111-252 en 6:448-544); Bullinger, De scripturae authoritate: Verbum Dei sive scripturam canonicam .... scriptores item canonicos omnium gentium classicos autbores longe antecellere (opskrif hoofstuk 11).
  8. ^ Justinus Martyr, Apologia prima 17-26. Hy meen dat duiwels dele uit die Bybel oorgeneem het en dit in die heidene se boeke laat insluip het en dat Plato groot gedeeltes van sy werk uit Moses oorgeneem het (MPG 6:354-370).
  9. ^ Vgl. Bullinger, op. cit., hfst. 11. Lactantius, Augustinus, Cochlaeus, e.a. behandel ook hierdie tema.
  10. ^ Sa ook Bullinger, op. cit., hfst. 11, praefatio.
  11. ^ Augustinus, De civitate Dei 18.37 (MPL 41:596; eSEL 40,2:326-327; eest 48:632-633); De doctrina Christiana 4.6 (MPL 34:92-93); Lactantius, Div. Inst. 4.5 (MPL 6:458 e.v., CSEL 19,2:285). Verskeie ander skrywers, soos Tatianus, Clernens Alexandrinus, Teophilus van Antiochië en Eusebius behandel dieselfde tema (Battles 1:84, n. 4).
  12. ^ Bullinger, loc. cit.
  13. ^ 'n Verwysing na die slawerny van Israel in Egipte.
  14. ^ Augustinus, De civ. Dei 18.40 (MPL 41:599; CSEL 40,2:330-331).
  15. ^ Flavius Josephus, Contra Apionem 1.22.165 (LCL, 228-229); 2.34.257 (LCL, 396-397); 2.39.280 (LCL,404-405). Josephus was 'n Joodse geskiedskrywer. Sy twee boeke Contra Apionem hande1oor die oudheid van die Jode, en hy probeer bewys dat die wet van Moses vroeër as die wette van die heidene is (CSEL 37:36, 132, 137 e.v.).
  16. ^ Gen. 49:5,9 (49:5-6). Die uitdrukking vasa iniquitatis en ook die eerste sinsnede van vers 6 kom letterlik met die Vulgaat ooreen.
  17. ^ Num. 12:1.
  18. ^ Ex. 24:18.
  19. ^ Ex. 34:29.
  20. ^ Ex. 19:16.
  21. ^ Ex. 40:34 (40:35).
  22. ^ Num. 16:24.
  23. ^ Num. 20:10 (20:11; Ex. 17:6; 1 Kor. 10:4).
  24. ^ Num. 11:9 (Ex. 16:13: 1 Kor. 10:3).
  25. ^ Vgl. Ep. 444 (OC 11:491); De Scandalis (OC 8:30) asook Herminjard 8:230.
  26. ^ Ex. 7:11 (9:11).
  27. ^ Lev. 20:6.
  28. ^ Ex. 16:7.
  29. ^ (Ex. 16:16-20).
  30. ^ Gen. 49:10.
  31. ^ 1 Sam. 11:15.
  32. ^ 1 Sam. 16:13.
  33. ^ (Gen. 49:10).
  34. ^ Deut. 32.
  35. ^ (Jes. 39:6-7).
  36. ^ Jes. 45:1.
  37. ^ Jer. 25:11,12.
  38. ^ Jes. 42:9.
  39. ^ (Vg!. o.a. Eseg. 12).
  40. ^ (Daniël 9).
  41. ^ Dit is waarskynlik weer 'n verwysing na die groep vrydenkers in Parys (vgl. p. 159, n. 19;p. 167, n. 25).
  42. ^ (2 Kon. 22:8).
  43. ^ Justinianus, Corpus iuris civilis digesta 1.2.2.
  44. ^ (Deut. 17:18,19).
  45. ^ Mak. 1:59 (1:46 e.v. Vg.).
  46. ^ Antiochus IV (Epiphanes) van Sirië het gedurende sy regeringstyd (175-164 v.C.) die Jode polities sowel as godsdienstig onderdruk. Sy tirannie het gelei tot die Makabeër opstand, wat in 165 v.c. begin het (REW 1,2:2470-2476).
  47. ^ Die Septuagint, voltooi teen 150 v.C..
  48. ^ Lingua patriae (vaderlandstaal).
  49. ^ Augustinus, Enarratio in Psalmos 56:9: Librarii nostri facti sunt (MPL 36:366; CCSL39:700).
  50. ^ Vgl. Ep. 444 (OC 11:491) en De Scandalis (OC 8:14, 44-45; OS 2:170, 201).
  51. ^ Vgl. Inst. 1.7.5 en 1.8.1.
  52. ^ (Gal. 1:11 e.v.).
  53. ^ Ep. 444 (OC 11:491).
  54. ^ Bullinger, De scripturae autboritate, 9: Dominus permittit ecclesiam suam oariis exerceri persequutionibus, in quibus tamen non sinit ulla tyrannide ueritatem scripturae labefactari.
  55. ^ Die Anabaptiste (vgl. Vita, p. 10, n. 56; p. 27, n. 121).
  56. ^ De utilitate credendi ad Honoratum 18.36 (MPL 42:92; CSEL 25:47).