Die beloftes van die Ou en die Nuwe Testament is een dieselfde en het dieselfde fondament, naamlik Christus, maar nogtans is daar verskille:

  1. Die Ou Verbond het die beloftes bedek aan die Israeliete geleer, terwyl dit duideliker in die Nuwe Verbond openbaar word.

  2. In die Ou Testament is beelde en seremonies gebruik, maar in die Nuwe Testament word die waarheid in sy volheid deur die bloed van Christus openbaar.

  3. Die Ou Testament is die bediening van die vloek, maar die Nuwe Testament is die bediening van geregtigheid.

  4. Die Ou Testament is die slaweverbond en die Nuwe Testament die verbond van vryheid.

  5. In die Ou Testament het die Here vir Hom net een verbondsvolk afgesonder; in die Nuwe Testament word alle nasies geroep.

Hierdie verskille is nie ‘n aanduiding van God se veranderlikheid nie, maar wys Sy vrye beskikking oor die tye en maniere waarop Hy openbaar.

1984. 17 bladsye.

Institusie van die Christelike Godsdiens (1559) - Boek 2 Hoofstuk 11 Die Verskil tussen Ou Testament en Nuwe

1. Die Eerste verskil (Afdeling 1-3)🔗

"Hoe dan", sal jy vra, "is daar dan geen verskil tussen die Ou en die Nuwe Testament nie? Wat sal dan van soveel Skrifverwysings word waar hulle as dinge wat heeltemal van mekaar verskil, met mekaar vergelyk word?" Sover dit my aangaan, aanvaar ek met graagte die verskille wat in die Skrif vermeld word, maar só dat dit geen afbreuk doen aan die eenheid wat ons alreeds vasgestel het nie, soos te sien sal wees as ons die onderwerp ordelik behandel.

Sover ek kan sien en onthou, bestaan die onderskeid veral in vier opsigte:1 As iemand 'n vyfde hierby sou wil voeg, verset ek my hoegenaamd nie daarteen nie. Ek verklaar en erken dat ek sal bewys dat al die verskille eerder op die wyse van bediening as op die wese daarvan betrekking het. Om hierdie rede sal die verskille geen struikelblok daarvoor vorm dat die beloftes van die Ou en die Nuwe Testament een en dieselfde bly en dat hulle een en dieselfde fondament, naamlik Christus, het nie.2

Die eerste verskil is dit: Hoewel die Here vroeër ook die verstand van sy volk op die hemelse erfenis wou rig en hulle gemoedere daartoe wou ophef, het Hy dit aan hulle getoon om dit onder hulle aardse weldade te oordink en in 'n sekere sin daaraan te proe om hulle beter in die hoop daarop te sterk. Maar nou dat die genade van die toekomstige lewe duideliker en helderder deur die evangelie geopenbaar is, laat Hy die laer wyse van oefening wat Hy onder die Jode ingespan het, agterweë en rig ons gedagtes lynreg op die oordenking daarvan. Mense wat nie op hierdie raadsplan van God let nie, meen dat die Israeliete van ouds nie hoër gestyg het as tot die seëninge wat vir hulle liggame belowe is nie.3 Hulle hoor dat die land Kanaän so dikwels genoem word as 'n uitnemende en daarom ook die enigste loon vir die onderhouers van die wet van God. Hulle hoor dat die Here die oortreders van dieselfde wet met niks strenger dreig as om hulle van die inbesitneming van die land te verstoot en hulle in vreemde lande te verstrooi nie.4 Hulle sien dat feitlik al die seëninge en vervloekinge wat Moses verkondig, hierop neerkom. Sonder aarseling stel hulle daaruit vas dat die jode nie ter wille van hulleself nie maar ter wille van 'n ander rede van ander volkere afgesonder is, naamlik met die doel dat die Christelike kerk 'n afbeelding sou hê om in die uitwendige gestalte daarvan die bewys van die geestelike dinge waar te neem. Aangesien die Skrif egter soms aantoon dat God self die aardse weldade wat Hy aan die Jode bewys het, verorden het, om hulle so aan die hand te lei na die hoop op die hemelse goed5, sou dit 'n bewys van uitermatige onkundigheid wees - om nie eens van stompsinnigheid te praat nie - om so 'n bedeling nie in ag te neem nie. Die brandpunt van ons geskil met hierdie soort mense is dat hulle leer dat die inbesitneming van die land Kanaän deur die Israeliete as die toppunt en hoogste geluksaligheid beskou is maar dat dit vir ons na die openbaring van Christus die hemelse erfenis uitbeeld.6 Ons opvatting is daarenteen dat hulle in die inbesitneming van die land wat hulle geniet het, die toekomstige erfdeel waarvan hulle geglo het dat dit vir hulle in die hemele voorberei is, as't ware in 'n spieël kon sien.

2. Verskeie Bybelse verwysings dui op die ware vaderland van alle Gelowiges en die Hemelse Jerusalem, hoewel Servet en ander dit tot aardse seëninge wil beperk.🔗

Dit sal beter aan die lig kom uit 'n vergelyking van Paulus in die brief wat hy aan die Galasiërs gerig het. Hy vergelyk die Joodse volk met 'n jong erfgenaam, wat nog nie bekwaam is om homself te regeer nie en die leiding van 'n voog of leermeester aan wie se sorg hy toevertrou is, volg.7 Hoewel hy dit in besonder op hulle seremonies toepas, verhinder dit ons nie om dit ook met groot gepastheid vir hierdie onderwerp te laat geld nie. Vir hulle was dus dieselfde erfdeel bestem as wat vir ons bestem is. Maar vanweë hulle jonkheid was hulle nog nie in staat om dit op te volg en daarmee te handel nie.8

Ons het dieselfde kerk as wat hulle gehad het, maar hulle was nog in hulle kinderjare. Die Here het hulle dus onder hierdie onderwysing gehou om nie die geestelike beloftes so oop en bloot aan hulle te gee nie, maar dit in 'n sekere sin met aardse beloftes af te skadu. Toe Hy Abraham, Isak en Jakob en hulle nageslag dus in die hoop op onsterflikheid aangeneem het, het Hy Kanaän as erfdeel aan hulle belowe. Sy doel daarmee was nie om hulle hoop te beëindig nie maar om hulle deur die aanskouing daarvan in die hoop op die ware erfdeel wat toe nog nie gesien kon word nie, te oefen en te versterk. Om te verhoed dat hulle dwaal, is 'n hoër belofte aan hulle gegee om te getuig dat die land nie die hoogste weldaad van God was nie. So word Abraham nie toegelaat om in die belofte van Kanaän wat hy ontvang het, op sy louere te rus nie. Sy verstand word egter met 'n groter belofte op die Here gerig. Want hy hoor: "Abraham, Ek is jou Beskermer, en jou loon is baie groot".9 Hier sien ons dat die doel van die loon vir Abraham in die Here gestel word, sodat hy nie 'n verganklike en onbestendige loon in die dinge van hierdie wêreld moes soek nie maar dat hy daaroor moes nadink dat dit 'n onverwelklike loon is. Daarop voeg Hy die belofte van Kanaän by om geen ander rede as dat dit 'n bewys van sy Goddelike goedgunstigheid  sou wees nie en 'n voorbeeld van die hemelse erfdeel. Die woorde van die heillges dui ook aan dat dit hulle gevoel was. So styg Dawid van tydelike seëninge na die hoogste en laaste seën op. Hy sê: "My hart en my vlees beswyk van verlange na U. God is my deel tot in ewigheid".10 Net so: "Die Here is die deel van my erfenis en van my beker; dit is U wat my erfdeel vir my bewaar".11 Net so: "Ek het tot U geroep, o Here; ek het gesê: U is my hoop, my deel in die land van die lewendes".12

Mense wat so durf praat, bely inderdaad dat hulle met hulle hoop bo die wêreld en al die teenswoordige goed uitstyg. Tog beskryf die profete hierdie geluksaligheid van die toekoms baie dikwels na aanleiding van 'n voorbeeld wat hulle van die Here ontvang het. So moet die volgende uitsprake verstaan word: "Want die godsaliges sal die land in besit neem, maar die goddelose sal uit die land uitgeroei word",13"Jerusalem sal aan allerlei rykdomme 'n oorvloed hê, en Sion sal van die oorvloed aan alles oorloop".14 Ons sien dat dit alles nie by ons vreemdelingskap op aarde of by die aardse ]erusalem pas nie maar wel by die ware vaderland van die gelowiges en daardie hemelse stad waarin die Here seën en lewe gebied tot in ewigheid.15

3. God het Sy verbond bedek aan die Israeliete geleer en die Genade van die ewige geluksaligheid met aardse seëninge en die erns van die geestelike dood met liggaamlike straf aangetoon.🔗

Dit is die rede waarom ons lees dat die heiliges onder die Ou Testament die sterflike lewe en die seëninge daarvan van groter waarde geskat het as wat ons nou doen. Want hulle het goed geweet dat hulle nie in die lewe soos by die wenpaal van hulle wedloop moes vassteek nie. Omdat hulle egter spore van die genade van God waargeneem het wat die Here daarop afgedruk het om hulle na die geringe maat van hulle swakheid daarin te oefen, is hulle aangenamer beïnvloed as wanneer hulle self daaroor sou nagedink het. Om egter met daadwerklike seëninge van sy goedgesindheid jeens die gelowiges te getuig het die Here hulle geestelike geluksaligheid met sulke voorbeelde en simbole afgeskadu. So het Hy aan die ander kant met liggaamlike strawwe bewys gelewer van sy oordeel oor die wat verwerp is. Namate sy weldade duideliker in die aardse dinge gesien kon word, kon sy strawwe ook duideliker waargeneem word.

Wanneer onkundige mense hierdie analogie en, om dit so te stel, ooreenkoms tussen sy strawwe en sy belonings nie in aanmerking neem nie, verbaas hulle hulle oor so 'n groot veranderlikheid in God as iemand wat eenmaal vinnig was om elke oortreding van die mens met wrede en verskriklike strawwe te wreek, maar sy vroeëre begeerte om wraak te neem laat vaar het en nou sagsinniger en baie selde straf uitoefen. Dit skeel weinig of hulle verbeel hulle daarom dat die Ou en die Nuwe Testament verskillende gode gehad het,16 soos ook met die Manicheërs gebeur het.17 Ons salons egter maklik uit sulke probleme loswoel as ons die beskikking van God waarop ek gewys het, in gedagte hou, naamlik dat Hy ter wille van daardie tyd waarop Hy sy verbond nog bedektelik aan die Israeliete geleer het, die genade van die toekomstige en ewige geluksaligheid met weldade op aarde en die erns van die geestelike dood met liggaamlike strawwe wou aantoon en uitbeeld.

4. Die Tweede onderskeid: 'n verbond wat God eenmaal bekragtig het, is Ewig, maar Christus is die vervulling daarvan.🔗

'n Tweede onderskeid tussen die Ou en Nuwe Testament is geleë in die beelde, omdat die Ou Testament in afwesigheid van die waarheid slegs 'n afbeelding en 'n skadu in die plek van die geheel vertoon het. Die Nuwe Testament openbaar die aanwesigheid van die waarheid en die geheel in sy volheid.18

Hierdie onderskeid word feitlik oral vermeld waar die Nuwe Testament teenoor die Ou Testament gestel word. Tog is daar in die brief aan die Hebreërs 'n breedvoeriger behandeling van die onderwerp as elders.19 Daar voer die apostel 'n betoog teen die mense wat gemeen het dat die to onderhouding van die Mosaiese wet nie afgeskaf kon word sonder om die hele godsdiens in duie te laat stort nie. Om hierdie dwaling te weerlê gebruik hy die profesie in verband met die priesterskap van Christus.20 Aangesien 'n ewige priesterskap aan Hom toegewys word, word die priesterskap gewis en seker tot niet gemaak wanneer elke dag ander opvolgers in die plek van die priesters aangestel word.21 Die instelling van hierdie nuwe priesterskap bewys dat dit kragtiger as die ander is, omdat dit deur 'n eed bekragtig word.22 Daarna voeg hy by dat die oordrag van die priesterskap ook op 'n verandering van die verbond neerkom.23 Hy verklaar met goeie rede dat dit ook noodsaaklik was, omdat die wet so swak was dat dit nie tot volmaaktheid kon lei nie.24 Daarop behandel hy die swakheid van die wet, naamlik dat dit uitwendige geregtigheid van die vlees ingehou het wat die onderhouers daarvan nie in hulle gewetens volmaak kon maak nie, omdat hulle nie in staat was om met die offerande van diere hulle sondes uit te wis en ware heiligheid te bewerk nie. Hy kom dus tot die slotsom dat daarin 'n skadu van die toekomstige dinge was en nie 'n lewendige beeld van die werklikhede nie25 en dat dit daarom geen ander funksie gehad het as om bloot 'n inleiding tot dié beter verwagting te wees wat in die evangelie geopenbaar is nie.

Hier moet ons oplet in watter opsig die verbond van die wet met die verbond van die evangelie en die amp van Christus met dié van Moses vergelyk word. Want as die vergelyking op die wese van die beloftes van toepassing sou wees, sou daar groot tweespalt tussen die twee Testamente ontstaan het. Aangesien die weerlegging hiervan26 ons egter in 'n ander rigting lei, moet ons ons ook daarop toespits om die waarheid te vind.

Laat ons dus aan die orde stel dat 'n verbond wat God eenmaal bekragtig het, ewig is en nooit sal vergaan nie. Christus maak die vervulling daarvan vas en seker. Terwyl die bekragtiging daarvan dus nog afgewag word, skryf die Here deur Moses aan hulle seremonies voor wat as plegtige tekens ter bevestiging daarvan dien. 'n Geskil het daaroor ontstaan of die serernonies wat in die wet verorden is, voor Christus moes swig. Hoewel die seremonies slegs bykomstighede van die verbond was of in elk geval toevoegsels en aanhangsels of, soos algemeen gesê word, byvoegings, word hulle tog ook die verbond genoem, omdat hulle die instrumente was om die verbond te bedien. So word die ander sakramente gewoonlik ook 'n verbond genoem. Samevattend word die plegtige wyse waarop die verbond met seremonies en offerandes bevestig word, hier dus die Ou Testament genoem. Omdat daarin egter geen vastheid is tensy 'n mens hoër gaan nie, verklaar die apostel dat dit verouder en herroep is om plek te maak vir Christus as Borg en Middelaar van 'n beter verbond27 , (Christus) deur wie die ewige heiligmaking net een maal vir die uitverkorenes verkry is en die oortredings wat nog onder die wet oorgebly het, uitgewis is.

As jy wil, kan jy dit ook soos volg opneem: dat die ou verbond die Testament van die Here was wat in die skaduagtige28 en kragtelose onderhouding van seremonies gehul was; dat dit daarom tydelik was omdat dit as't ware opgeskort was totdat dit deur vaste en wesenlike bevestiging ondersteun sou word; dat dit toe inderdaad uiteindelik nuut en ewig geword het nadat dit deur die bloed van Christus geheilig en bekragtig is. Daarom noem Christus die beker wat Hy in die nagmaal aan sy dissipels reik, die beker van die Nuwe Testament in sy bloed29 om aan te toon dat die verbond van God dan eers waarlik bewaarheid en daardeur nuut en ewig word wanneer dit deur sy bloed beseël word.

5. Die Jode het die wet as leermeester gehad totdat Christus as die son van geregtigheid sou kom.🔗

Hieruit blyk duidelik wat die apostel bedoel het toe hy gesê het dat die Jode deur die onderwysing van die wet tot Christus gelei is nog voordat Hy in die vlees geopenbaar is. Hy erken dat huIle ook kinders en erfgename van God was maar dat hulle weens hulle jonkheid onder die toesig van 'n leermeester gehou moes word.30 Dit was immers nie betaamlik dat daar toe al so 'n groot glans van die openbaring en so 'n groot duidelikheid van die kennis sou wees terwyl die son van geregtigheid nog nie opgekom het nie.31 Die Here het dus die lig van sy Woord op so 'n wyse aan hulle uitgedeel dat hulle Hom nog net van ver af en vaag kon sien. Daarom dui Paulus die geringheid van hulle kennis met die woord kindwees aan, omdat dit die Here se wil was dat hulle deur die elemente van hierdie wêreld en deur uiterlike onderhoudings soos deur'm reël van die onderwerping van kinders geoefen moes word totdat Christus, deur wie die gelowiges se kennis tot wasdom moes kom, met glans sou verskyn.32 Christus het self hierdie onderskeid aangetoon toe Hy gesê het dat die wet en die profete tot by Johannes was en dat die koninkryk van God van die tyd af verkondig word33

Maar wat het die wet en die profete aan die mense van hulle tyd getoon? Hulle het hulle naamlik 'n voorsmaak van die wysheid gegee wat eenmaal duidelik geopenbaar moes word, en hulle het Christus vooraf aan hulle getoon as een wat in die verte glinster. Toe Christus egter met die vinger aangewys kon word, is die koninkryk van God weer oopgesluit. Want in Hom is al die skatte van wysheid en kennis waarmee 'n mens byna tot die voorhowe van die hemel kan deurdring, geopen.34

6. Die profete het weliswaar in die kennis van die openbaring uitgemunt, maar selfs hulle word as kinders gereken.🔗

Die feit dat daar feitlik niemand in die Christelike kerk gevind kan word wat ten opsigte van die uitnemendheid van sy geloof met Abraham vergelyk kan word nie, en dat die profete so in geestelike krag uitgemunt het dat hulle vandag nog die hele wêreld daarmee verlig, is vir ons geen struikelblok nie. Ons ondersoek handel trouens nie hier oor die gawes wat die Here aan 'n klein handjievol mense gegee het nie, maar oor die gewone beskikking daarvan wat Hy in die onderwysing van sy volk gevolg het, soos ons juis by die profete aantref, wat bo ander met sonderlinge kennis toegerus was. Want hulle prediking is vaag; dit handel as't ware oor verafgeleë sake en is in beelde gehul. Hoewel hulle wonderbaarlike kennis hierby bo ander uitgemunt het, word hulle nogtans self as kinders gereken, aangesien hulle genoodsaak was om hulle na die gewone onderwysing van die volk te skik. Ten slotte het daar in die tyd niemand so 'n groot kennis te beurt geval dat dit nie nog na die vaagheid van hulle tyd gesmaak het nie. Daarom sê Christus: "Baie konings en profete het begeer om te sien wat julle sien, en het dit nie gesien nie, en om te hoor wat julle hoor, en het dit nie gehoor nie. julle oë is dus gelukkig omdat hulle sien, en julle ore omdat hulle hoor".35 Dit was in elk geval reg dat die teenwoordigheid van Christus hierdie voorreg sou hê dat die openbaring van die geheimenisse van die hemel duideliker daaruit te voorskyn kon kom. Die verwysing wat ons tevore uit die eerste brief van Petrus aangehaal het, het dieselfde strekking, naamlik dat aan die profete geopenbaar was dat hulle arbeid  besonderlik vir ons tyd voordelig sou wees.36

7. Die Derde verskil: "Daar sal 'n dag kom waarop Ek met die huis van Israel en die huis van Juda 'n nuwe verbond sal maak''🔗

Nou kom ek by die derde verskil. Ons haal dit uit Jeremia, wie se woorde soos volg is: "Kyk, die dae sal kom, sê die Here, waarop Ek met die huis van Israel en die huis van Juda 'n nuwe verbond sal sluit, nie volgens die verbond wat Ek met julle vaders gemaak het toe Ek hulle hand gegryp het om hulle uit Egipteland uit te lei nie, die verbond wat hulle verbreek het, alhoewel Ek Gebieder oor hulle was. Maar dit is die verbond wat Ek met die huis van Israel sal sluit: Ek sal my wet in hulle binneste gee en dit op hulle harte skrywe en Ek sal hulle ongeregtigheid vergewe. En hulle sal nie meer elkeen sy naaste en elkeen sy broer leer nie. Want hulle sal My almal ken, van die kleinste tot die grootste".37

Na aanleiding van hierdie woorde neern die apostel die geleentheid te baat om die wet en die evangelie te vergelyk, sodat hy die wet die leer van die letter en die evangelie die leer van die Gees noem.38 Hy sê dat eersgenoemde op tafels van klip afgedruk is, maar dat laasgenoemde in ons harte ingegrif is. Die wet is die verkondiging van die dood, dié evangelie dié van die lewe, die wet dié van die verdoemenis, die evangelie dié van geregtigheid. Die wet gaan tot niet, maar die evangelie bly vir ewig. Aangesien dit die apostel se doel was om die bedoeling van die profeet weer te gee, sou dit genoeg gewees het om net een van hulle se woorde te oorweeg om albei se bedoeling te begryp. Tog is daar 'n mate van verskil tussen hulle. Want die apostel praat met groter afkeer van die wet as die profeet - en dit nie bloot ten opsigte van die wet nie. Daar was immers sekere niksnutte, oordrywers van die wet,39 wat hulle verkeerdelik vir die seremonies beywer en die duidelikheid van die evangelie verduister het. Sy redenasie oor die aard van die wet is dus gerig teen hulle dwaling en dwasè opvatting. Dit sal dus die moeite loon om by Paulus op hierdie besonderheid te let.

Omdat beide Paulus en Jeremia die Ou en die Nuwe Testament bywyse van teenstelling met mekaar vergelyk, is elkeen van hulle slegs op dit wat in die wet daaraan eie is, bedag. Byvoorbeeld: Die wet bevat oral beloftes van God se barmhartigheid, maar omdat dit van elders daarin opgeneem is, word dit nie in aanmerking geneem wanneer daar suiwer net oor die aard van die wet gepraat word nie. Hulle skryf aan die wet slegs toe om te gebied wat reg is, om oortredings te verbied, 'n loon toe te sê aan die wat geregtigheid beoefen, om dié wat dit oortree, met straf te dreig. Intussen verander en verbeter dit nie die boosheid van die  mens se hart wat van nature by alle mense aanwesig is nie.

8. 'n Verklaring van Paulus se vergelyking tussen die Ou en Nuwe Testament🔗

Laat ons nou die apostel se vergelyking stuk vir stuk verduidelik. Die Ou Testament is letterlik, want dit is sonder die kragdadige werking van die Gees afgekondig. Die Nuwe Testament is geestelik, want die Here het dit geestelik in die harte van die mense ingegrif.40 Die tweede teenstelling is daarom bykans 'n verklaring van die eerste.

Die Ou Testament bring die dood mee, omdat dit nie anders kan as om die hele mensdom aan die vloek te onderwerp nie. Die Nuwe Testament is 'n instrument van die lewe, omdat dit die mense wat van die vloek verlos is, met God versoen.41 Die Ou Testament is die bediening van die vloek, omdat dit al die kinders van Adam van ongeregtigheid aankla, maar die Nuwe Testament is die bediening van geregtigheid, omdat dit God se barmhartigheid openbaar, waardeur ons regverdig gemaak word.42

Die laaste teenstelling is van toepassing op die seremoniële wet. Die Ou Testament het immers net 'n beeld van die dinge wat nie aanwesig is nie, en dit moes met die loop van tyd tot niet gaan en verdwyn. Maar omdat die evangelie die werklikheid openbaar, bly dit vir ewig onwrikbaar.43 Jeremia noem die sedewet wel 'n swak en brose verbond, maar om 'n ander rede, naamlik omdat dit as gevolg van die skielike afvalligheid van 'n ondankbare volk verbreek is.44 Omdat so 'n skending egter deur die toedoen van die volk ontstaan het, mag dit eintlik nie aan die verbond toegeskryf word nie. Maar omdat die seremonies weens hulle eie swakheid deur die koms van Christus tot niet gemaak is, was die oorsaak van hulle swakheid45 in hulleself ingesluit.

Voorts moet ons die verskil tussen die letter en die Gees nie so opneem asof die Here sy wet tevergeefs vir die Jode sou gegee het sonder dat een van hulle hom tot Hom bekeer het nie. Maar dit is by wyse van vergelyking gestel om die oorvloed van sy genade aan te prys waarmee dieselfde Wetgewer asof Hy 'n nuwe rol vertolk, die verkondiging van die evangelie geëer het.46 Want as ons nadink oor die menigte mense wat Hy uit alle volkere deur die verkondiging van die evangelie deur sy Gees wederbaar het en in die gemeenskap van sy kerk versamel het, sal ons sê dat daar 'n baie geringe getal, ja, byna geen mense was wat vroeër in Israel die verbond van Here nie met opregte geneigdheid en van harte omhels het nie? Tog was hulle groot in getal as hulle afsonderlik en sonder vergelyking met ander gereken sou word.

9. Die Vierde verskil: Die Ou Testament is die slaweverbond en die Nuwe Testament die verbond van vryheid.🔗

Die vierde verskil kom uit die derde voort. Die Skrif noem die Ou Testament immers die verbond van slawerny omdat dit vrees inboesem. Dit noem egter die Nuwe Testament die verbond van vryheid omdat dit hulle tot vertroue en veiligheid opwek. So sê Paulus in die agtste hoofstuk van sy brief aan die Romeine: "Want julle het nie 'n gees van slawerny ontvang om weer te vrees nie, maar die Gees van aanneming, deur wie ons roep: Abba, Vader!47 Dit wat ons in die brief aan die Hebreërs lees, het dieselfde strekking, naamlik dat die gelowiges nie nou by 'n tasbare berg gekom het en 'n brandende vuur en 'n storm en duisternis en onweer waar niks gehoor of gesien kan word nie behalwe dit wat ons gemoedere met vrees neervel - sodat selfs Moses ook verskrik word wanneer die verskriklike stem weerklink wat almal smeek om nie te hoor nie, maar dat hulle by die berg Sion gekom het en die stad van die lewende God, die hemelse Jerusalem, ensovoorts.48

Die opvatting wat Paulus in ons aanhaling uit die brief aan die Romeine bondig aanroer, verduidelik hy uitvoeriger in sy brief aan die Galasiërs wanneer hy die twee seuns van Abraham soos volg allegoriseer: dat sy diensmaagd, Hagar, 'n voorbeeld is van die berg Sinai waar Israel die wet ontvang het.49 Sara, 'n vry vrou, is die vergestalting van die hemelse Jerusalem, waaruit die evangelie voortgevloei het. Soos die nakomelinge van Hagar in slawerny gebore word en nooit die erfenis verkry nie, so is Sara se nakomelinge vry en is die erfdeel aan hulle verskuldig. Daarom, sê hy, word ons ook deur die wet aan slawerny uitgelewer maar deur die evangelie alleen in vryheid weergebore. Dit kom samevattend hierop neer: Die Ou Testament het hulle gewetens met vrees en bewing vervul; uit die weldaad van die Nuwe Testament het gevolg dat hulle tot blydskap daarvan verlos word. Die Ou Testament het hulle gewetens onder die juk van slawerny vasgebind gehou, maar deur die milddadigheid van die Nuwe Testament word hulle vrygemaak.

As die beswaar geopper word dat die heilige vaders van die Israeliete in dieselfde vryheid en blydskap gedeel het aangesien dit vasstaan dat aan hulle soos aan ons dieselfde Gees van die geloof gegee was, is my antwoord daarop dat nie een van die twee (vryheid of blydskap) uit die wet gekom het nie. Aangesien hulle egter agtergekom het dat hulle deur die wet en hulle toestand van slawerny terneergedruk en deur die onrustigheid van hulle gewetens vermoei word, het hulle hulle toevlug tot die evangelie as hulpmiddel geneem. Daarom was dit die besondere vrug van die Nuwe Testament dat hulle benewens van die algemene wet van die Ou Testament ook van daardie euwels verlos is. Verder sal ons ontken dat so 'n gees van vryheid en onbesorgdheid aan hulle gegee is dat hulle nie die vrees en slawerny wat uit die wet ontstaan het, nog ten dele ervaar het nie. Want hoewel hulle die voorregte wat hulle deur die genade van die evangelie verkry het, geniet het, was hulle tog saam met die gewone mense aan dieselfde bande en die laste van die onderhouding daarvan onderworpe. Hulle is dus gedwing om die seremonies sorgvuldig te onderhou, omdat dit vir hulle tekens was van die onderwy sing van hulle slawerny 50 en soos skuldbriewe51 waardeur hulle bely het dat hulle aan die sonde skuldig is en nie van die verpligting vrygeskeld is nie. Wanneer ons ons oë rig op die algemene beskikking waarmee die Here toe met die Israeliete gehandel het,word daar met reg gesê dat hulle in vergelyking met ons onder die verbond van slawerny en vrees was.

10. Die verskille tussen hierdie vertolking en Augustinus se verklaring daarvan.🔗

Die drie laaste vergelykings wat ons hierbo weergegee het, geld die wet en die evangelie. Daarom word die wet daarin met die woorde "Ou Testament" en die evangelie met die woorde "Nuwe Testament" aangedui. Die eerste vergelyking strek veel breër, want dit sluit ook die beloftes in wat voor die wet gegee is. Die feit dat Augustinus verklaar het dat die beloftes nie onder die woorde "Ou Testament" gereken moet word nie - daaroor het hy 'n baie goeie opvatting gehad.52 Sy bedoeling was niks anders as wat ons leer nie. Hy het sy oë tewens op die uitsprake van Jeremia en Paulus gerig waarin die Ou Testament van die woord van genade en barmhartigheid onderskei word. In dieselfde bespreking voeg hy ook baie verstandig by dat die kinders van die belofte53 van die begin van die wêreld af by die nuwe verbond behoort en dat dié mense deur God weergebore is wat met die geloofwat deur die liefde werk,54 sy gebooie gehoorsaam het. Dit het hulle nie gedoen in die hoop op vleeslike, wêreldse en tydelike goed nie maar in die hoop op die geestelike, die hemelse en die ewige goed, omdat hulle in besonder in die Middelaar geglo het, deur wie hulle nie getwyfel het nie dat die Gees aan hulle beskikbaar gestel word om goed te doen en dat hulle vergewe word so dikwels as wat hulle gesondig het. Want dit is juis wat ek van voorneme was om te verklaar, naamlik dat al die heiliges van wie die Skrif vertel dat hulle in besonder van die begin van die wêreld af deur God tot die ewige saligheid uitverkies is, in dieselfde seën as ons gedeel het.

Die verskil tussen ons verdeling en Augustinus s'n is dus daarin geleë dat ons verdeling tussen die duidelikheid van die evangelie en die duisterder bedeling van die Woord wat daaraan voorafgegaan het, onderskeid maak volgens die bekende uitspraak van Christus dat die wet en die profete tot by Johannes was en dat die koninkryk van God van dié tyd af verkondig word.55 Syne onderskei doodeenvoudig net die swakheid van die wet van die standvastigheid van die evangelie.

Hier moet ons in verband met die heilige aartsvaders ook daarop let dat hulle op so 'n wyse onder die ou verbond gelewe het dat hulle nie bloot daarby berus het nie maar altyd na die nuwe verbond gestrewe het en  daarom die sekere deelname daarin omhels het. Want die apostel verdoem die wat saam met dié van hulle tyd met die skadu's tevrede was, en hulle gedagtes vanweë hulle blindheid en vervloeking nie tot Christus uitgestrek het nie.56 Om maar oor ander dinge te swyg: kan 'n groter blindheid bedink word as om sondeversoening te verwag van 'n dier wat geslag is? Om reiniging van 'n siel in die uitwendige besprinkeling met water te soek? Om God se guns te wil wen met koue seremonies net asof Hy groot behae daarin het? Want al die mense wat sonder om Christus in aanmerking te neem, aan die onderhouding van die wet verknog is, verval in sulke onsinnighede.

11. 'n Vyfde verskil: Die Here het vir Hom tot by die koms van Christus net een verbondsvolk afgesonder.🔗

Die vyfde verskil wat ons kan byvoeg, is daarin geleë dat die Here tot by die koms van Christus een volk afgesonder het om sy genadeverbond in die volk te behou.57 "Toe die Allerhoogste volkere verdeel het, toe Hy die kinders van Adam van mekaar geskei het", sê Moses, "was sy volk die Here se besitting, en Jakob was die maatstaf van sy erfdeel.''58 Elders spreek hy die Israeliete so aan: "Kyk, aan die Here jou God behoort die hemel en die aarde en alles wat daarin is. Tog het Hy net in julle vaders 'n welgevalle gehad en hulle liefgehad om hulle nageslag na hulle, naamlik julle, uit al die volkere uit te verkies".59 Hy het dus daardie volk alleen waardig geag om sy Naam te ken, asof net die volk uit al die mense aan Hom behoort het; Hy het sy verbond in die boesem van die volk geplaas, Hy het die teenwoordigheid van sy mag aan hulle geopenbaar en hulle met alle voorregte vereer.

Maar - om al sy ander weldade weg te laat - omdat dit hier net om een aspek gaan: deur die gemeenskap van sy Woord het Hy hulle aan Hom verbind sodat Hy hulle God genoem is en as hulle God beskou is. Intussen het Hy die ander volkere in 'n waan laat wandel asof hulle niks met Hom te doen gehad het en asof daar geen omgang tussen hulle was nie.60 Ook het Hy nie die enigste middel waarmee Hy hulle verderf kon voorkom, aan hulle voorsien nie, naamlik die verkondiging van sy Woord. So was Israel toe vir die Here 'n kind soos sy oogappel, en die ander volkere was vir Hom soos vreemdelinge. Hy het Israel geken en hulle in vertroue en beskerming opgeneem, die res het Hy aan die duisternis oorgelaat. Die volk is deur God heilig gemaak; die ander volke was onheilig. Israel is deur die teenwoordigheid van God vereer; die ander volkere was van sy nabyheid uitgesluit.

Maar toe die volheid van die tyd gekom het,61 wat bestem was om alles te herstel, en die Versoener van God en die mense geopenbaar is, is die muur wat so lank die barmhartigheid van God tot Israel beperk het, afgebreek,62 en vrede is verkondig vir die wat ver weg was, sowel as vir die wat nou aan Hom verbonde was, om terselfdertyd met God versoen te word en tot een volk te groei.63 Daarom word Griek of Jood64 of besnydenis of onbesnedenheid65 nou nie meer in aanmerking geneern nie, maar Christus is alles in alrnal.66 Aan Hom is die nasies as erfdeel gegee en die eindes van die aarde as besitings,67 sodat Hy sonder onderskeid van die een see tot die ander kan heers en van die riviere tot by die uiteindes van die wêreld.68

12. Die roeping van die heidene toon die uitnemendheid van die Nuwe Testament bo die Oue.🔗

Die roeping van die heidene is dus 'n buitengewone teken waardeur die uitnemendheid van die Nuwe Testament bo die Ou Testament aangedui  word. Dit is tevore wel in baie en duidelike uitsprake van die profete getuig maar op so 'n wyse dat die vervulling daarvan tot by die koninkryk van die Messias opgeskort is. En selfs Christus het by die begin van sy prediking nie dadelik daartoe oorgegaan nie maar dit uitgestel totdat Hy ons verlossing ten volle volbring, die tyd van sy vernedering beëindig, en van sy Vader die Naam ontvang het wat bo elke Naam is, waarvoor elke knie moes buig.69 Daarom sê Hy aan die Kananese vrou dat die tyd nog nie volbring is nie, maar dat Hy slegs na die verlore skape van die huis van Israel gestuur is.70 In hulle eerste sending laat Hy die Apostels ook nie toe om hierdie perk te oorskry nie. Hy sê: "Moenie gaan op die pad na die heidene nie, en moenie ingaan in die stede van die Samaritane nie, maar gaan liewers na die verlore skape van die huis van Israël".71 Hoewel dit egter deur soveel getuienisse bekend gemaak is, het dit nogtans vir die apostels so nuut en ongewoon gelyk toe hulle daarmee moes begin dat hulle daarvan teruggedeins het asof dit 'n wonderteken was. Uiteindelik het hulle dit met bewing aangepak en nie sonder verset nie.72 Dit is nie verbasend nie, want dit het glad nie redelik gelyk dat die Here, wat Israel soveel eeue lank van ander volkere afgesonder het, sy uitverkore volk ter syde gestel het asof Hy plotseling sy besluit verander het nie. Dit is wel deur profesieë voorspel, maar hulle kon nie so aandagtig op die profesieë let sonder dat hulle deur die nuutheid van die saak wat voor hulle oë opgedoem het, beinvloed is nie. Die voorbeelde van die toekomstige roeping van die heidene, wat God lank tevore reeds gegee het, was ook nie kragtig genoeg om hulle te beinvloed nie. Behalwe dat Hy maar net 'n baie geringe getal geroep het, het Hy hulle [uis in die huis van Abraham ingelyf om by sy volk te kom.73 Deur die openlike roeping is die heidene nie alleen op gelyke voet met die Jode gestel nie, maar dit het ook gelyk asof hulle in die plek van die afgestorwe Jode gekom het. Hierbenewens is die vreemdelinge  wat God tevore in die liggaam van sy kerk opgeneem het, nooit met die Jode gelykgestel nie.74 Gevolglik verkondig Paulus nie sonder rede met soveel moeite dat dit 'n geheimenis is wat vir alle rye en geslagte verborge is nie, en hy sê dat dit selfs vir die engele wonderlik is.75

13. God is onveranderlik en Sy raadsplan ewig.🔗

Ek meen dat die hele verskil tussen die Ou en die Nuwe Testament met hierdie vier of vyf dele goed en getrou verduidelik is sover dit aan die eise van 'n eenvoudige onderwysmetode voldoen. Maar omdat sommige mense oor hierdie veranderlikheld in die regering van die kerk, oor die verskillende maniere van onderrig en oor so 'n ommekeer in die rites en seremonies 'n hele mondvol groot onsinnigheid kwytraak, moet ons hulle eers antwoord voordat ons na ander onderwerpe oorgaan. Dit kan egter bondig gedoen word, omdat hulle besware nie op sulke stewige gronde staan dat hulle 'n noukeurige weerlegging nodig het nie.76

Hulle sê: "Dit is onvanpas dat God, wat ewig onveranderlik is, so 'n groot verandering sou duld dat Hy iets wat Hy eenmaal beveel en opgedra het, later sou afkeur". My antwoord daarop is dat ons God nie as 'n veranderlike God moet beoordeel omdat Hy verskillende vorms van onderwysing byverskillende tye aangepas het namate Hy geweet het dat dit vir elke tyd tot voordeel is nie. As 'n boer in die winter ander werk as in die somer aan sy huisgesin opdra, sal ons hom tog nie daarom van  onbestendigheid beskuldig of meen dat hy van die regte boerdery reëls, wat met die ewige natuurorde verbind is, afwyk nie. Net so as 'n vader sy kinders in hulle kinderjare anders opvoed, regeer en behandel as in hulle adolessensie of jongelingsjare, sal ons tog nie daarom sê dat hy ligsinnig is of van sy voorneme afwyk nie. Waarom brandmerk ons God dan met onstandvastigheid omdat Hy die verskil in rye met gepaste tekens wat daarmee ooreenstem, onderskei het? Die laaste vergelyking behoort ons ten volle te bevredig. Paulus, vergelyk die Jode met kinders en die Christene met adolossente. Watter ordeloosheid is daar dan in die bestiering van God dat Hy die Jode onder die eerste beginsels gehou het, omdat dit na die maat van hulle ouderdom by hulle gepas het, maar dat Hy ons met 'n vaster en as't ware kragtiger onderwysing onderrig? God se standvastigheid blyk juis daaruit dat Hy deur die loop van al die eeue dieselfde leer oorgedra het en dat Hy in sy eis van die godsdiens wat Hy van die begin af gebied het, volhard. Dat Hy die uitwendige voorkoms en wyse van sy onderwysing verander het, daarin het Hy nie ge toon dat Hy aan verandering onderhewig is nie, maar Hy het Homself  net na die mens se veranderlike en onbestendige bevatlikheid geskik.

14. God het vrye beskikking oor Sy genadegawes.🔗

"Maar", vra hulle, "vanwaar kom dan die veranderlikheid, behalwe dat God dit so gewil het? Hy kon mos net sowel die ewige lewe van die begin af as na die koms van Christus met duidelike waarde sonder omhaal van beelde geopenbaar het; Hy kon hulle met 'n paar duidelike sakramente onderwys het; Hy kon sy Heilige Gees· aan hulle geskenk het; Hy kon sy genade oor die hele wëreld uitgestort het, of hoe?"

Dit is niks anders as om met God daaroor te twis dat Hy die wêreld eers so laat geskep het, aangesien Hy dit tog in die begin kon gedoen het nie, en dat dit sy wil was dat daar afwisseling tussen winter en somer, tussen dag en nag moes wees. Soos alle godvrugtiges behoort te voel, moet ons ook nie twyfel nie dat alles wat deur God gemaak is, wys en regverdig deur Hom gemaak is, selfs al sou ons nie weet waarom dit so gemaak moes word nie. Want ons sou darem te aanmatigend wees om nie aan God toe te gee dat Hy wel redes vir sy raadsplan het wat vir ons verborge is nie.

"Maar dit is tog wonderlik" , sê hulle, "dat Hy nou die diereoffers en die hele instelling van die Levitiese priesteramp verwerp en daarin 'n mishae het, terwyl dit Hom vroeër behaag het."

Net asof daardie uitwendige en verganklike dinge God behaag of Hom op enige wyse beïnvloed! Ons het reeds gesê77 dat Hy nie een van hierdie dinge ter wille van Homself gedoen het nie, maar dat Hy dit alles ter wille van die mens se heil beskik het. As 'n dokter 'n jong man met 'n baie goeie middel van 'n kwaal genees maar later, as die jong man oud geword het, 'n ander soort genesing vir dieselfde kwaal gebruik, sal ons dan daarom sê dat hy die geneesmiddel wat hom vroeër geval het, nou verwerp? Nee, wanneer hy bestendig daarmee volhou, neem hy ook sy ouderdom in ag. So moes Christus in sy afwesigheid met ander tekens afgebeeld word, en daar moes verkondig word dat Hy sal kom, maar nou dat Hy geopenbaar is, is dit gepas dat Hy met ander tekens weergegee word. Wat die roeping van God betref wat in die koms van Christus wyer as tevore onder alle volke versprei is, en dat die genade van sy Gees oorvloediger uitgestort is - wie, vra ek jou, sou ontken dat dit reg is dat die  vrye beskikking oor sy genadegawes in die hande en goeddunke van God is, om die volkere vir wie Hy wil, daarmee te verlig? Om die verkondiging van sy Woord op die plekke waar Hy wil, aan te wakker? Om aan sy leer soveel en sulke groot vordering en voorspoed te verleen as wat Hy wil? Om die kennis van sy Naam uit die wêreld weg te neem in rye waarop Hy dit wil vanweë die wêreld se ondankbaarheid wil doen? Om dit vanweë sy barmhartigheid in ere te herstel wanneer Hy dit weer wil?

Ons sien dus dat hulle aantygings uiters onwaardig is omdat sulke goddelose mense die gemoedere van eenvoudiges hiermee opsweep om die geregtigheid van God of die betroubaarheid van die Skrif in twyfel te trek.

Endnotes🔗

  1. ^ Vgl. Inst. 2.11.11 (Afr, vert. 2:608).
  2. ^ Vgl. Inst. 2.10.1, 2 (Afr. vert. 2:570, 571).
  3. ^ Vgl. Inst. 2.10.1 (Afr. vert. 2:570. n. 2 en 3), waar Servet en die Wederdopers se standpunte reeds ter sprake was.
  4. ^ (Lev. 26:33; Deut. 28:36.)
  5. ^ Calvyn, Sermon sur le Deut. 28:9-14 (OC 28:381). 'n Soortgelyke siening kom voor by Bueer: Metapbrases ep. Pauli (1536), 189: Ad hunc (Christum) omnis legis institutio, et ceremoniarum disciplina paedagogia quaedamfuit; per hunc omnia erant illis perfictenda (Die hele onderwysing van die wet en die skoling van die seremonies was in 'n sekere sin 'n opleiding na Christus; deur Hom moes hulle dit alles volvoer).
  6. ^ In sy behandeling van die regverdigmaking verklaar Servet: omnes leges repromissienes sunt in nobis, qui Christo credidimus, impletae. Loquor secundum spiritum, nam iuxta literam nacti sunt illi suas promission es, et terram Chanaan adepti, et lacte et melle saciati (''al die beloftes van die wet is in ons wat in Christus glo, vervul. Die jode het immers volgens die letter al hulle eie beloftes verkry en Kanaän in besit geneem en hulle is met melk en heuning versadig"). Servet, De just. regni Christi (1532) 1 D1b - 2a.
  7. ^ Marg. Galat. 4.a.l. Vgl. ook Gal. 4:2-3.
  8. ^ Vgl. Inst. 1.11.3 (Afr. vert. 1:188, n. 16); 2.9.3 (Afr. vert. 2:566).
  9. ^ Marg. Gene. 15.a.l.
  10. ^ Marg. Psal. 73.d.26, & 84.a.3.
  11. ^ Marg. Psal. 16.a.5.
  12. ^ Marg.Psal. 142.b.6.
  13. ^ Marg. Iob. 18.d.17. Vgl. ook Jesus Sirach 41:9, Vg.; Spr. 2:21-22; Ps. 37:9).
  14. ^ Marg. Apud Iesaiam multis locis. (Jes. 60:4 e.v., 62).
  15. ^ Marg. Psal. 133.3.
  16. ^ Servet, De TrIn. error. 3. D8a - b.
  17. ^ Vgl. Augustinus, De mortbus eccl. cath. 1.10.16 (MPL 32:1317).
  18. ^ Vgl. Bueer, Enar. in Ev. (1536), 120; Metaph. ep. Pauli(1536), 26,159 en 189. Vgl. ook Luther se preke oor Gen. 3:15 (WA 24:98) en Rom. 13:11 (WA 10,1B:4).
  19. ^ Vgl. Inst. 2.9.4 (Afr. vert. 2:567). Calvyn, Com. in ep. ad. Heb. 7-10 (Oe 55:83-140).
  20. ^ Marg. Psal. 110. b. 4. Heb. 7.b.11c. 19 & 9.c.9 & l0.a.1
  21. ^ (Hebr. 7:23.)
  22. ^ (Hebr. 7:21.)
  23. ^ (Hebr. 8:6-13). Inst. 2.8.21; 2.10.1 (Afr. vert. 2:521; 570); 3.14.6; 3.17.6; 3.21.1, 5, 7; 4.14.6.
  24. ^ (Hebr. 7:19.)
  25. ^ (Hebr. 10:1.)
  26. ^ Status quaestionis (stand van die ondersoek).
  27. ^ (Hebr. 7:22.)
  28. ^ Umbratili. Vgl. Inst.1.5.5 (Mr. vert. 1:137, n. 34); 2.7.1; 2.9.3,4 (Mr. vert. 2:476, 566, 567); 3.20.18.
  29. ^ Marg. Matt. 26.c.28. Vgl. ook Luk. 22:20.
  30. ^ Marg. Galat. 3.d.24, & 4.a.l. Vgl. ook Gal. 4:2.
  31. ^ Inst. 2.10.17 (Afr. vert. 2:589, n. 123). Vgl. Mal. 4:2.
  32. ^ (Vgl. Gal. 4:3-5; Ef. 4:13.)
  33. ^ Marg. Matth. 11.b.13. Vgl. ook Luk. 16:16.
  34. ^ Marg. Coloss. 2.b.9 (recte. Kol. 2:3).
  35. ^ Marg. Matt. 13.b.17. Luc. 10.c.24.
  36. ^ Marg. 1 Pet. l.b. 12. Vgl. Inst. 2.9.1 (Afr. vert. 2:563).
  37. ^ Marg. Ierem. 31.f31.Vgl. ook Jer. 31:32-34; Melanchthon, Loci com. (1535 - CR 21:453 e.v.).
  38. ^ Marg. 2 Cor. 3.b.6. Hoewel Calvyn soos Luther die onderskeid tussen wet en evangelie beklemtoon, versag hy tog weer, anders as Luther, die onderskeid. 'n Skematiese voorstelling van Luther se onderskeid tussen wet en evangelie kom voor in WA48:277. Hiervolgens lë die verskille op formele, werkings- en doelwitvlakke (forma, effectu et obiectis).
  39. ^ Legis. Vgl. ook Calvyn, Com. in Pauli 2 ep. ad Cor. 3:6 (2 Kor. 3:6 - OC 50:39); Melanchthon, Loci com. (1535, CR 21:456 - De spiritu et littera).
  40. ^ (2 Kor. 3:3 en 6.)
  41. ^ (2 Kor. 3:6.)
  42. ^ (2 Kor. 3:9.)
  43. ^ (2 Kor. 3:10-11.)
  44. ^ (Jer. 31:32.)
  45. ^ Fr.: ... la cause de leur abrogation (Benoit 2:224).
  46. ^ Luther lig sy siening van die verskil tussen letter en Gees nader toe in 'n byskrif by sy preek oor 2 Kor. 3:4-11 op 27 Augustus 1531 (WA 48:339). Vir die preek vgl. WA34,2:162-165.
  47. ^ Marg. Rom 8.c.l5. Vgl. Melanchthon, loc. cit. (CR 21:456) en Luther se Romeinekommentaar (WA 57:188-189).
  48. ^ Marg. Heb. 12.e.18. Vgl. ook Hebr. 12:19-22.
  49. ^ Marg. Galat. 4.c.22. Vgl. ook Gal. .4:23-31.
  50. ^ (Gal. 4:1-3.)
  51. ^ (Kol. 2:14). Vgl. vir chirograpba Inst. 2.7.17 (Afr. vert. 2:496, n. 90).
  52. ^ Marg. Lib. 3. ad. Bonif. cap. 4. Augustinus, Contra duas ep. Pelag. ad Bonifac. 3.4.6 e.v. (MPL 44:591 e.v.; CSEL 60:492 e.v.).
  53. ^ (Rom. 9:8.)
  54. ^ (Gal. 5:6.)
  55. ^ Marg. Mat. 11.b.13. Vgl. ook Luk. 16:16.
  56. ^ (Vgl. 2 Kor. 3:14-16.)
  57. ^ Melancththon, Loci com. (1535 - eR 21:454).
  58. ^ Marg. Deut. 32.b.8. Vgl. ook Deut. 32:9.
  59. ^ Marg.ibid. 10.c.14. Deut. 10:14. Vgl. ook Deut. 10:15.
  60. ^ Marg. Act. 14.c.16.
  61. ^ Marg. Galat. 4.a. 4.
  62. ^ Marg. Ephes. 2. c.14.
  63. ^ (Ef.2:15-17.)
  64. ^ (Gal. 3:28; Kol. 3:11; Rom. 10:12.)
  65. ^ Marg. Galat. 6.d.15,
  66. ^ (Kol. 3:11.)
  67. ^ Marg. Psal. 2.c.8
  68. ^ Marg. Psal. 72.b.8, & alibi. Vgl. ook Sago 9:10; Rom. 10:18.
  69. ^ Marg. Philip. 2. b.9. Vgl. ook Fil. 2:10.
  70. ^ Marg. Matt. 15.c.24.
  71. ^ Marg. Matth. 10.a.5. Vgl. ook Matt. 10:6.
  72. ^ (Hand. 10:9 e.v.)
  73. ^ (Vgl. o.a. Gen. 17:12b-13; Matt. 1:5).
  74. ^ Paulus bespreek die posisie van die jode breedvoerig in Rom. 9-11. Vgl. Calvyn, Com. in ep. Pauli ad Rom. 9-11 (OC 49:168 e.v.; vgl. Parker (1981),191 e.v.).
  75. ^ Marg. colos. 1.d.26. Vgl. ook Ef. 3:9; 1 Pet. 1:12.
  76. ^ Calvyn verwys hier waarskynlik na die Libertyne en nie na die Ariabaptiste soos Niesel (OC 3:435, n.2) se opvatting is nie. Vgl. Calvyn, Contre les Libertins (OC 7:153 e.v.).
  77. ^ Vgl. Inst. 2.11.5, 13 (Afr. vert. 2:601,610).