Christus het waarlik die menslike natuur aangeneem – uit die saad van die mens Dawid, gebore uit ‘n vrou – om sy amp as Middelaar te volbring. Hy was in alles aan sy broers gelyk en was tegelykertyd ware mens én ware God.

Vervolgens weerlê Calvyn dwalings van Marcion, die Manicheërs en die Wederdopers.

1984. 9 bladsye.

Institusie van die Christelike Godsdiens (1559) - Boek 2 Hoofstuk 13 Christus het die ware wese van die mens se vlees aangeneem

1. 'n Ondersoek na die wyse waarop Christus ons vlees aangeneem het en Sy amp as Middelaar volvoer het.🔗

As ek my nie misgis nie, sou dit oorbodig wees om nou weer eens 'n uiteensetting van die Godheid van Christus te gee, omdat dit elders reeds met duidelike en onomstootlike getuienis bewys is.1 Daar bly dus oor dat ons die wyse moet ondersoek waarop Christus ons vlees aangeneem en sy amp as Middelaar volvoer het. Die waaragtigheid van sy menslike natuur is eertyds deur die Manicheërs2 sowel as die Marcioniete3bestry. Laasgenoemdes het 'n skim in die plek van Christus se liggaam versin,4 en eersgenoemdes het hulle verbeel dat Hy hemelse vlees gehad het.5 Baie en kragtige Skrifgetuienis weerstaan hulle egter albei want die seen word nie in hemelse saad of in die skim van 'n mens aan ons belowe nie  maar in die saad van Abraham en Jakob.6 Die ewige troon word ook nie aan 'n mens wat uit die lug gegryp is, belowe nie maar aan die Seun van Dawid en aan die vrug van sy liggaam.7 Toe Hy dus in die vlees geopenbaar is, is Hy die Seun van Dawid en Abraham genoem.8 Die rede hiervoor was nie slegs dat Hy uit die liggaam van 'n maagd gebore is of skoon Hy vooraf in die lug geskep is nie, maar dat Hy volgens Paulus se verklaring na die vlees uit die saad van Dawid ontstaan het.9 So leer dieselfde apostel elders dat Hy uit die jode afkomstig was.10 Omdat die Here self nie met die woord mens tevrede was nie, noem Hy Homself ook Seun van die mens wanneer Hy duideliker daaraan uitdrukking wil gee dat Hy mens is wat waarlik uit die saad van 'n mens gebore is. Aangesien die heilige Gees so dikwels deur soveel middels, met soveel deeglikheid en eenvoud 'n saak wat op sigself nie verborge is nie, weergegee het, wie sou dan kon dink dat daar dan nog mense met so 'n groot verwaandheid sou wees wat nog sou waag om sulke bedrog rond te strooi?

As 'n mens lus het om nog meer getuienisse bymekaar te maak, stel baie ander getuienisse hulle tog nou ter hand. So is byvoorbeeld die uitspraak van Paulus dat God sy Seun gestuur het, gebore uit 'n vrou,11 en ontelbare ander waaruit dit duidelik is dat Hy ook honger en dors gehad het en aan koue en ander swakhede van ons natuur onderhewig was. Uit die menigvuldige getuienisse moet ons in besonder dié kies wat ons daartoe kan lei om ons gemoedere in ware vertroue op Hom op te bou. So word daar byvoorbeeld gesê dat Hy aan die engele selfs nie eens soveel eer bewys het dat Hy hulle natuur aangeneem het nie, maar dat Hy ons natuur aangeneem het om hom wat oor die dood heers, in vlees en bloed deur die dood te vernietig.12 Net so: dat ons deur die weldaad van deelname in Hom as sy broers gereken word.13 Net so: dat Hy aan sy broers gelyk moes word sodat Hy 'n barmhartige en getroue tussenganger kon wees; dat ons nie 'n Hoëpriester het wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie14 en dergelike getuienisse. Dit wat ons 'n rukkie vantevore aangeroer het,15 het dieselfde strekking, naamlik dat vir die  sondes van die wêreld in ons vlees versoening gedoen moes word, soos Paulus duidelik aanvoer.16

Daarom kom gewis alles wat die Vader aan Christus geskenk het, ons ook toe omdat Hy die Hoof is waaruit die liggaam ten volle deur die samevoeging van sy lede saamgroei.17 Ja, die stelling dat die Gees sonder maat aan Hom gegee is,18 sodat ons almal van sy volheid kan ontvang,19 sal andersins nie rym nie. Want niks sou ongerymder wees as dat God in sy Wese verryk sou word deur 'n gawe wat van buite afkom nie. Om hierdie rede sê Christus self elders: "Ek heilig Myself vir hulle".20

2. 'n Verdere weerlegging van dwalings in verband met Christus se menslike natuur.🔗

Die Skrifverwysings wat hulle ter bekragtiging van hulle dwaling aanvoer, verdraai hulle met uitermatige dwaasheid. Met hulle onsinnige drogredenasies bereik hulle niks wanneer hulle poog om die getuienis wat ek reeds gedeeltelik van my kant af aangevoer het, te weerlê nie. Marcion verbeel hom dat Christus 'n skim in plaas van 'n werklike liggaam aangeneem het omdat daar iewersgesê word dat Hy in die gelykenis van die mens gemaak en in 'n gestalte soos 'n mens gevind is.21 Maar so gee hy geen oorweging aan dit wat Paulus daar behandel nie. Want hy wil nie leer wat die aard van die liggaam was wat Christus aangeneem het nie, maar dat Hy Hom as 'n verwerpte en veragtelike mens getoon het, hoewel Hy sy Godheid met reg aan die lig kon bring. Want om ons na Christus se voorbeeld tot onderdanigheid aan te spoor, toon hy aan dat Christus dadelik sy heerlikheid kon voorhou om deur die wêreld gesien te word aangesien Hy God was, maar dat Hy tog van sy reg afstand ge doen het en Hom vanself van Homself ontledig het. Hy het dit natuurlik gedoen omdat Hy die beeld van 'n dienskneg aangeneem het, en met die vernedering tevrede het Hy toegelaat dat sy Goddelikheid met 'n bedekking van vlees verberg word.22 Hy leer in elk geval nie hier wat Christus was nie maar hoe Hy Hom gedra het. Ja, uit die hele samehang kan makiik afgelei word dat Christus in die natuur van 'n ware mens ontledig is.23 Want wat bedoel hy daarmee dat Christus in die gestalte soos 'n mens gevind is anders as dat sy Goddelike heerlikheid 'n tyd lank nie geskitter het nie maar dat slegs 'n menslike gestalte in 'n slegte en veragtelike toestand sigbaar was? Ook Petrus se bekende verklaring sou nie stand kon hou nie, naamlik dat Christus wel dood was na die vlees maar lewend gemaak is na die Gees,24 tensy die Seun van God in sy menslike natuur swak was. Paulus verklaar dit nog duideliker wanneer hy sê dat Christus na die swakheid van sy vlees gely het.25Sy verhoging het dieselfde strekking, omdat daar uitdruklik gesê word dat Christus nuwe heerlikheid gekry het nadat Hy Homself ontledig het.26 Dit sou nie gepas het nie behalwe op 'n mens met vlees en siel.

Mani het 'n liggaam van lug gemaak, omdat Christus die tweede Adam van die hemelse hemel genoem word. Maar die apostel stel daar tog nie die hemelse wese van sy liggaam voor nie maar 'n geestelike krag wat van Christus af uitgaan en ons lewend maak. Soos ons gesien het, skei Petrus en Paulus hierdie geestelike krag van sy vlees. Ja, die leer wat in verband met Christus se vlees onder regsinniges van krag is, word eerder deur dié Skryfverwysing bekragtig. Want as Christus nie dieselfde natuur as ons gehad het nie, sou die redenasie wat Paulus met soveel heftigheid aanvoer, sinloos gewees het. Hy sê: "As Christus opgestaan het, salons ook opstaan; as ons nie opstaan nie, het Christus ook nie opgestaan nie".27 Die Manicheërs van die ou tyd of hulle dissipels van vandag28 kan hulle nie hiervan loswoel nie, selfs al sou hulle poog om met enige uitvlugkans daarmee verby te kom. Dat hulle die onsin kwytraak dat Christus die Seun van die mens genome word in soverre as wat Hy aan mense29 belowe is,30 is 'n afstootlike uitvlug. Want dit is duidelik dat 'n ware mens volgens Hebreeuse gebruik seun van die mens genoem word. Christus het ongetwyfeld aan die uitdrukkingswyse van sy taal gehou.

Daar behoort ook geen verskil te wees oor wat ons onder die woorde kinders van Adam moet verstaan nie, maar om nou nie te ver weg te dwaal nie sal 'n aanhaling uit Psalm 8 wat die apostels op Christus toe gepas het, meer as genoeg wees: "Wat is die mens dat U aan hom dink; die mensekind dat U hom besoek?"31 Met hierdie beeld word die ware menswees van Christus uitgedruk. Want hoewel Hy nie regstreeks uit 'n sterflike vader gebore is nie, het sy ontstaan tog uit Adam voortgevloei, anders sou die aanhaling wat ons reeds gebruik het, ook nie stand kon hou nie, naamlik dat Christus vlees en bloed deelagtig geword het om vir Hom kinders te versamel om God te gehoorsaam.32

Volgens hierdie woorde word Christus oop en bloot as deelgenoot met dieselfde natuur as ons voorgestel. Dit is ook in hierdie betekenis dat die apostel sê dat Hy wat heilig maak en hulle wat geheilig word, uit Een is.33 Want uit die verband kan afgelei word dat dit op deelgenootskap in die natuur betrekking het. Hy voeg trouens dadelik by: "Om hierdie rede skaam Hy Hom nie om hulle broeders te noem nie". Want as hy eers sou gesê het dat die gelowiges uit God is, watter rede tot skaamte sou daar nou eintlik in so 'n groot waardigheid gewees het? Maar omdat Christus Hom na sy onmeetlike genade by vuil en onaansienlike mense geskaar het, word daar van Hom gesê dat Hy Hom nie skaam nie. Hulle opper verniet die beswaar dat goddelose mense so broers van Christus sal wees. Ons weet trouens dat die kinders van God nie uit vlees en bloed nie34 maar deur die geloof uit die Gees gebore word. Daarom bring die vlees alleen niebroederlike gemeenskap mee nie. Hoewel die apostel hierdie eer dat hulle saam met Christus uit Een is, slegs aan gelowiges toeken volg daaruit tag nie dat ongelowiges (na die vlees)35 nie uit dieselfde oorsprong gebore word nie. Wanneer ons byvoorbeeld sê dat Christus 'n mens geword het om van ons kinders van God te maak, geld hierdie woorde tog nie vir almal nie. Geloof word immers tussenin gestel, omdat dit ons geestelik in die liggaam van Christus inlyf.

Ook oor die woord Eersgeborene twis hulle op onverstandige wyse. Hulle voer aan dat Christus dadelik van die begin af uit Adam gebore moes word om die Eersgeborene onder sy broers te kon wees.36 Sy eersgeboortereg het daar nie op sy ouderdom betrekking nie maar op sy ere plek en die uitnemendheid van sy krag. Hulle geklets dat Christus die mens, en nie die engele se natuur nie, aangeneem het omdat Hy die mensdom in genade ontvang het,37 is ewe onaanneernlik. Want om die eer te vergroot wat Christus ons waardig geag het, vergelyk die apostel die engele met ons, hoewel hulle in hierdie aspek na ons kom. As ons Moses se getuienis sorgvuldig oorweeg waar hy sê dat saad van die vrou die kop van die slang sal verbrysel.38 sal hulle hele getwis in duie stort. Daar is immers nie slegs van Christus alleen sprake nie maar van die hele mensdom. Omdat ons deur Christus moes oorwin, verklaar God oor die algemeen dat die nageslag van die vrou oor die duiwel sal seëvier. Daaruit volg dat Christus uit die menslike geslag gebore is, omdat God se doel daar is om Eva, wat Hy aanspreek, te bemoedig om nie van wanhoop te beswyk nie.

3. 'n Verwerping van die Wederdopers se allegoriese vertolking van die saad waaruit Christus gebore is.🔗

Met allegorieë kompliseer hulle net so dwaas as onbehoorlik die getuienisse waar Christus die saad van Abraham en die vrug van Dawid  se liggaam genoem word.39 Want as die woord saad allegories gestel is, sou Paulus dit gewis nie verswyg het wanneer hy duidelik en sonder figuurlike inhoud verklaar dat nie baie van Abraham se kinders verlossers is nie maar net Een, naamlik Christus.40 Van dieselfde aard is hulle dekmantel dat Hy om geen ander rede die Seun van Dawid genome word as dat Hy belowe en uiteindelik op sy tyd geopenbaar is nie. Want nadat Paulus Hom die Seun van Dawid genoem het, voeg hy dadelik daarna na die vlees by. Hiermee dui hy sekerlik sy natuur aan.41 Wanneer hy byvoorbeeld in die negende hoofstuk verkondig dat Christus God is en lofwaardig, stel hy afsonderlik daarby dat Hy na die vlees uit die jode afkomstig is.42 As Hy dan nie waarlik uit die saad van Dawid gebore is nie, watter betekenis het die woorde dat Hy die vrug van sy liggaam is dan? Wat beteken die volgende belofte dan: "Hy wat op jou  troon sal sit, sal uit jou lendene voortkom''?43

Verder spot hulle wysneusig met die geslagsregister van Christus soos dit deur Matteus meegedeel word. Want hoewel hy die voorouers van Maria nie vermeld nie maar slegs Josef s'n,44 omdat hy egter oor 'n saak wat toe algemeen bekend was, gepraat het, beskou hy dit as genoegsaam om aan te toon dat Josef uit die saad van Dawid ontstaan het, aangesien dit bekend genoeg was dat Maria uit dieselfde huis afkomstig was. Wanneer Lukas leer dat die hele mensdom in die heil deel wat deur Christus gebring is, beklemtoon hy selfs nog meer dat Christus, die Bewerker van ons saligheid, uit Adam, die algemene vader van alle mense, gebore is.45 Ek erken wel dat daar nie uit die geslagsregister op 'n ander wyse afgelei kan word dat Christus die Seun van Dawid is nie behalwe in soverre Hy uit die maagd gebore is. Maar om hulle dwaling, naamlik om te bewys dat Christus sy liggaam uit niks aangeneem het nie, te versluier, het die nuwe Marcioniete die aanmatigende opvatting dat vrouens geen saad het nie.46 So vernietig hulle die natuurelemente. Dit is egter nie 'n teologiese vraagstuk nie, en die onsinnigheid van die redes wat hulle daarvoor aanvoer, is van so 'n aard dat dit sonder moeite weerlê kan word. Omdat dit 'n onderwerp vir die filosofie en die mediese wetenskap is, sal ek dit nie hier aanroer nie. Dit sal genoeg wees om die besware te weerlê wat hulle na aanleiding van die Skrif opper. Hulle sê naamlik dat Aäron en Jojada met vrouens uit die stam van Juda getrou het47 en dat die onderskeid tussen die stamme toe so vernietig sou word as 'n vrou generatiewe saad sou gehad het. Tog is dit bekend genoeg dat afkoms na aanleiding van die saad van die man bepaal word sover dit die burgerlike orde aangaan, maar dat die bevoorregte posisie van die manlike geslag tog nie verhinder dat die saad van 'n vrou tot die voortplanting bydra nie. Hierdie oplossing is ook van toepassing op alle geslagsregisters. Dikwels wanneer die Skrif 'n register van mense weergee, vermeld dit slegs die mans. Moet ons daarom sê dat die vrouens van geen belang is nie? Inteendeel: dit is selfs aan kinders bekend dat die vrouens onder die woord mans ingesluit word. Daarom word daar gesê dat die vrouens vir hulle mans gebaar het, omdat die familienaam altyd by die manlike lede berus. So word dit byvoorbeeld aan die bevoorregte posisie van die manlike geslag toegegee dat kinders na aanleiding van die posisie van hulle vaders van adellike of onadellike afkoms geag word; net so volg die jonggebore kind volgens regsgeleerdes ook sy moederskoot as' sy 'n slavin is.48 Daaruit kan ons aflei dat die vrug uit die saad van die moeder verwek word. Dit is trouens lankal volgens algemene gebruik onder volkere aanvaar dat moeders as voortbringers49 bekend was. Die wet van God stem ook daarmee ooreen, terwyl dit andersins verkeerdelik 'n huwelik van 'n oom met sy niggie sou verbied het omdat daar geen bloedverwantskap sou wees nie. Dit sou egter vir 'n man geoorloof wees om met sy eie suster te trou mits sy maar uit 'n ander vader gebore is. Soos ek erken dat aan vrouens 'n passiewe rol toegeken word, so is my antwoord dat van hulle sonder onderskeid dieselfde gesê word as van mans. Want daar word nie gesê dat Christus deur 'n vrou geword het nie maar uit 'n vrou.50

Uit dieselfde gespuis is daar party wat alle skaamte laat vaar het en met uitermatige voortvarendheid vra of ons dan wil beweer dat Christus uit die maandelikse saad van die maagd gebore is.51 Op my beurt sal ek teenwerp of Hy nie in die bloed van sy moeder ineengegroei het nie iets wat hulle gedwing sal word om te erken. Uit Matteus se woorde word dus gepas tot die slotsom geraak dat Christus uit Maria gegenereer is en uit haar saad verwek is soos wanneer daar gesê word dat Boas uit Ragab gegenereer is, en 'n soortgelyke generering bedoel word.52 Matteus beskrywe die maagd hier trouens nie as 'n soort kanaal waardeur Christus gevloei het nie, maar hy onderskei hierdie wonderbaarlike wyse van generering van die gewone wyse daarin dat Christus deur haar uit die saad van Dawid gebore is.53 Want daar word van Christus gesê dat Hy op dieselfde wyse uit 'n moeder gebore is as wat Isak uit Abraham, Salomo uit Dawid en Josef uit Jakob gebore is. Die evangelis het immers die volgorde van sy woorde so gerangskik, en wanneer hy wil bewys dat Christus uit Dawid ontspring het, is hy met slegs hierdie enkele bewys tevrede, naamlik dat Hy uit Maria gebore is. Daaruit kan die gevolgtrekking gemaak word dat hy uitdruklik aanvaar het dat Maria 'n bloedverwant van Josef was.54

4. Christus was waarlik mens maar tegelyk ook waarlik God.🔗

Die onsinnige bewerings waarmee hulle ons wil beswaar, is vol kinderagtige laster. Hulle meen dat dit 'n skande en belediging vir Christus sou wees as Hy uit mense afkomstig sou wees. Hy sou immers nie van die algemeen geldende voorwaarde vrygeskeld kon word wat die hele nageslag van Adam sonder uitsondering onder die sonde insluit nie. En tog los die vergelyking wat ons by Paulus kan lees, die probleem maklik op. Hy sê: "Soos deur een mens die sonde gekom het, en deur die sonde die dood, so het die genade deur die geregtigheid van een mens oorvloedig geword".55

Daarmee stem 'n tweede vergelyking van hom ooreen: "Die eerste Adam was uit die aarde aards en met 'n siel, maar die tweede mens was uit die hemel hemels".56 Wanneer dieselfde apostel dus elders leer dat Christus in die gelykenis van die sondige vlees gestuur is om die wet te volbring,57 sonder hy Hom uitdruklik van die gewone lot van die mens uit, sodat Hy waaragtig mens kan wees sonder gebrek en bedorwenheid. Hulle raak die kinderagtige onsin kwyt dat as Christus van alle smette vry is en deur die verborge werking van die Gees uit die saad van Maria gebore is, die saad van 'n vrou nie onrein is nie maar slegs dié van 'n man. Want ons maak Christus nie van alle smette vry bloot omdat Hy sonder die tussenkoms van 'n man uit sy moeder gebore is nie maar omdat Hy deur die Gees geheilig is, sodat sy geboorte rein en ongeskonde sou wees soos dit voor Adam se val was.

Dit bly volkome vas by ons dat, so dikwels as wat die Skrif ons in verband met die reinheid van Christus vermaan, ons op sy waaragtige menslike natuur gewys word. Dit sou immers oorbodig wees om te sê dat God rein is. Ook die heiligmaking waarvan Johannes 17 praat, sou geen plek in die Goddelike natuur gehad het nie.58 Ons versin inderdaad nie 'n tweeledige saad van Adam nie, hoewel geen besmetting daarvan op Christus gekom het nie, want die voortplanting van die mens is op sigself nie onrein of sondig nie, maar dit is vanweë die mens se val bykomend. Daarom is dit geen wonder as Christus, deur wie die ongeskonde toestand van die mens in ere herstel moes word, van algemene bedorwenheid vrygestel was nie. Ook die onsinnige redenasie wat hulle aan ons opdring, naamlik dat as die Woord van God vlees aangeneem het, Hy dan in die eng kerker van syaardse liggaam ingesluit sou wees, is loutere domastrantheid. Want hoewel die onmeetlike Wese van die Woord met die natuur van die mens in een Persoon verenig is, verbeel ons ons tog nie dat Hy daarin toegesluit was niet Want die Seun van God het op sonderlinge wyse uit die hemel neergedaal sodat Hy die hemel tog nie verlaat het nie: dit was sy wil om wonderbaarlik in die liggaam van die maagd gedra te word, op die aarde te verkeer en aan die kruis te hang, sodat Hy nog steeds soos van die begin af die aarde gevul het.

Endnotes🔗

  1. ^ Vgl. Inst. 1.13.7-13 (Afr. vert. 1:220-231).
  2. ^ Oor die Manicheërs kyk Inst. 1.7.3 (Afr. vert. 1:156, 157, n. 9,11,12); 1.13.1 (Afr. vert. 1:211, n. 3).
  3. ^ Oor die Marcioniete kyk Inst. 1.11.16 (Afr. vert. 1:204, n. 88).
  4. ^ Vgl. Augustinus, Serm. 75.7.8; 75.8.9 (MPL 38:477, 478).
  5. ^ Tertullianus, De carne Cbristi 6, 8 (MPL 2:808, 814 e.v.; eeSL 2:883 e.v., 890 e.v.), PseudoTertullianus, Adv. omnes baereses 6 (CSEL 47:223).
  6. ^ Marg. Gen. 17.a.2. 12.d.18 (recte. Gen. 18:18). 26.a.4. Vgl. ook Gen.12:3; 17:7; 22:18.
  7. ^ Marg. Psal. 45.b. 7. Vgl. ook Ps. 132:11.
  8. ^ Marg. Matth. 1.a.1.
  9. ^ Marg. Rom. 1.a.3.
  10. ^ Marg. Ibidem 9.a.5. Rom. 9:5.
  11. ^ Marg. Galat. 4.a.4.
  12. ^ Marg. Heb. 2.d.l6. Vgl. ook Hebr. 2:14.
  13. ^ Marg. Ibidem 1.c.1 1, & d.17 (recte: Hebr. 2:11, 17).
  14. ^ Marg. Ibidem 4.d.15. Hebr. 4:15.
  15. ^ Vgl. Inst. 2.12.3 (Afr. vert. 2:615).
  16. ^ Marg. Rom. 8.a.3.
  17. ^ Marg. Ephes. 4.d.16.
  18. ^ (Joh. 3:34.)
  19. ^ Marg. Iohan. l.b.l6.
  20. ^ Marg.Iohan. 17.c.19.
  21. ^ Marg. Philip. 2. a. 7. Vgl. ook Fil. 2:8.
  22. ^ (Fil. 2:5-7.)
  23. ^ A (1559).: exinanitum fuisse. 1957 Afr. vert.: ontledig 1984: verneder. Fr. (1561): anéanty, en nie humilier nie.
  24. ^ Marg. 1 Pet. 3.d.18.
  25. ^ Marg. 2 Cor. 13. b.4.
  26. ^ Marg. 1 Cor. 15.f47 (recte: Fil. 2:9-11).
  27. ^ Marg. 1 Cor. c.16 Cn samevatting van 1 Kor. 15:12-20).
  28. ^ Calvyn verbind die dwaling LV.m. die menslike natuur van Christus wat deur sy tydgenote gehuldig is, met dié van die Marcioniete en die Manicheërs van ouds. Hierdie dwaling, veral soos deur Menno Simons gehuldig, het soos volg onder Calvyn se aandag gekom. In 1544 het die Anabaptis Menno Simons (CE 6:167; RPTK12:586-594), na wie die Mennoniete genoem Is.johannes a'Lasco (CE 4:380381; RPTK 11:292-296) hieroor aangeval in 'n boekie getitel Een corte ende clare Belijdinghe eude scbriftelijche aenwijsinge. Ten yersten van der menschwerdinghe ons liefe Herren I.C. Ten tweede hoe dat beide de leeraers ende de ghemeinte Cbristi sullen ende moeten geacht zn. Geschreven aen H. Ioh. a. Lasco met tsamen zynen medehulperen binnen Emden a. 1544. Hierop het Johannes a' Lasco geantwoord met sy Defensio uerae semperque inecclesia receptae doctrinae de Christi incarnatione adv. M. Simonis Anabaptistarum doctorem, per 10. a 'Lasco. Bonnae 1545. Hierdie verdediging is in 1545 deur Hardenberg, 'n predikant van Bremen (OC 12:48, n. 1; RPTK7:408-416), na Calvyn gestuur. Hierna het Calvyn by verskeie geleenthede in briewe aan Micron, 'n Hervormer in Nederland (CE 4:678-679; RPTK13:56-57), die vraagstuk toegelig en in besonder in 'n advies Contra Menonem, 1556 (OC 10,1:167 e.v.), waarvan die inhoud grootliks en soms selfs woordeliks met Calvyn se uiteensetting hier ooreenstem.
  29. ^ A: ab hominibus; OS: homintbus (OC 3:452, r. 1); Fr.: Aux hommes (Benoit 2:246).
  30. ^ Vgl. Augustinus, Contra Faustum 2.4; 5.4 (MPL 42:211,222-223); vgl. OC 10,1:168.
  31. ^ (Ps. 8:4, 5; vgl. ook Hebr. 2:6.)
  32. ^ Marg. Heb. 2.d.14.
  33. ^ Marg. Ibidem 2.c.ll. Hebr. 2:11.
  34. ^ (Joh. 1:13.)
  35. ^ Fr. (1560): que les incredules n 'ayent une mesme origine de chair (Benoit 2:247).
  36. ^ Marg. Rom. 8.f29
  37. ^ Marg. Heb. 2.d.16. Vgl. OC 10,1:170, 172.
  38. ^ Marg. Gen. 3.c.15.
  39. ^ Vgl. OC 10,1:169.
  40. ^ Marg. Galat. 3. c.16
  41. ^ Marg. Rom. 1.a.3.
  42. ^ (Rom. 9:5.)
  43. ^ Marg. Psal. 132. c.ll.Vgl. ook 2 Sam. 7:12; Hand. 2:30
  44. ^ (Matt. 1:16). Vgl. OC 10,1:169, 170.
  45. ^ (Luk. 3:38.)
  46. ^ A: ... mulieres contendunt esse. Fr.: Ils disent que lesfemmes sont sans semence (Benoit 2:248). Vgl. oe 10,1:173.
  47. ^ (Eks. 6:23; 2 Kron. 22:11). Vgl. oe 10,1:173.
  48. ^ Justinianus, Corpus iuris civilis. Inst. 1.3.4; Digesta 1.5.5, 2.
  49. ^ Genetrices.
  50. ^ Marg. Galat. 4.a.4.
  51. ^ Vgl. OC 10,1:174.
  52. ^ Marg. Matth. 1.a.5.
  53. ^ Vgl. oe 10,1:170. Vir kanaal vgl. Gregorius van Nazianze, Ep. 101 (MPG 37:177, 178); die 3de Konsilie van Rome (Mansi 3:479-480) en Inst. 2.16.12 (Afr. vert. 2:676, n. 100).
  54. ^ Fr. (+): et par conséquent de la race de David (Benoit 2:249).
  55. ^ Marg. Rom. 5.b.12. Vgl. ook Rom. 5:15, 18.
  56. ^ Marg. 1 Cor. 15.f47.
  57. ^ Marg. Rom. 8.a.3. Vgl. ook Rom. 8:4.
  58. ^ (Joh. 17:19.)