Christus is deur die God na die Aarde toe gestuur en gesalf as ‘n profeet, priester en koning. As Ewige Koning van ‘n geestelike koninkryk beloof Hy ons nie aardse voordele nie, maar wel alles wat nodig is vir ons ewige saligheid.  As Priester het hy ons met God versoen deur die offer van sy dood.

1984. 10 bladsye.

Institusie van die Christelike Godsdiens (1559) - Boek 2 Hoofstuk 15 Om te weet met watter doel Christus deur die Vader gestuur is en wat Hy aan ons gegee het, moet ons in besonder daarop let dat daar in Hom drie ampte is, naamlik ‘n Profetiese, ‘n Koninklike en ‘n Priesterlike amp

1. Ketters, pousgesindes en die Jode se dwaling oor die roeping van Christus.🔗

Augustinus verklaar tereg dat, hoewel die ketters die Naam van Christus verkondig, hulle tog nie dieselfde fondament met godvrugtiges deel nie maar dat hierdie fondament die eiendom van die kerk bly. As die dinge wat op Christus betrekking het, immers sorgvuldig oorweeg word, is ons bevinding dat Christus slegs in naam maar nie in werklikheid nie, onder hulle is.1 So is dit vandag ook die geval met die pousgesindes.2 Hoewel die Seun van God in hulle monde die naam Verlosser van die  wêreld het, is hulle tog tevrede om sy Naam bloot voor te hou en Hom van sy krag en aansien te stroop. Paulus se opmerking dat hulle nie aan die Hoof vashou nie, pas hulle waarlik!3 Dat die geloof in Christus dus vaste stof tot saligheid en juis in Hom berusting kan vind, moet ons dit as 'n beginsel stel dat die amp wat deur die Vader op Hom gelê is, uit drie dele bestaan, want Hy is as Profeet, Koning en Priester aan ons gegee.4 Dit sou egter weinig voordeel inhou om aan hierdie waarde vas te hou as ons nie ook kennis in verband met die doel en nut daarvan sou opdoen nie. Dit word immers ook onder die pousgesindes verkondig, maar dan is dit koud en sonder groot vrug, omdat hulle nie weet watter lof elkeen hiervan inhou nie. Tevore het ons reeds gesê dat, hoewel God die profete in 'n aaneenlopende reeks die een na die ander gestuur het, Hy sy volk nooit verstoke gelaat het van die nuttige leer wat vir hulle saligheid voldoende sou wees nie.5 Ons het ook gesê dat godvrugtiges se verstand altyd daarvan oortuig was dat hulle eers met die koms van die Messias op die volle lig van kennis hiervan moes hoop. Die gevolg was dat die opvatting in verband hiermee tot selfs die Samaritane bereik het, hoewel die waregodsdiens tog nooit aan hulle bekend was nie. Dit blyk uit die bekende woorde van die (Samaritaanse) vrou: "Wanneer die Messias kom, sal Hy ons alles leer".6 Die Jode het dit tewens nie ondeurdag in hulle gemoedere veronderstel nie, maar soos hulle deur bepaalde profesieë geleer is, so het hulle geglo. Die uitspraak van Jesaja is onder andere baie bekend. Hy sê: "Kyk, Ek het Hom 'n Getuie van die volke gemaak; Ek het Hom as 'n Vors en Gebieder aan die volke gegee".7 Elders het hy Hom alreeds 'n Engel of Vertolker van die groot raadsplan genoem.8 Terwyl die apostel die volmaaktheid van die leer van die evangelie lof toeswaai wanneer hy sê dat God vroeër baiekeer en op baie maniere deur die profete met die vaders gepraat het, voeg hy daarom by dat Hy in hierdie laaste dae deur sy geliefde Seun met ons gepraat het.9 Omdat dit die gewone amp van die profete was om die kerk aan die hoop vas te hou en terselfertyd te versterk totdat die Middelaar sou kom, lees ons dat die gelowiges in die verstrooiing gekla het dat hulle hierdie gewone gawe ontneem is. Hulle sê: "Ons sien nie ons tekens nie, daar is geen profeet meer onder ons nie: daar is niemand wat meer weet nie".10 Aangesien Christus nie meer ver weg was nie, is die tyd van Daniël vasgestel om die gesig en die profesie te beseël,11 nie alleen sodat die profesie waaroor dit daar handel, sy gesag onwrikbaar sou behou nie, maar ook sodat die gelowiges 'n tyd lank sonder die profete geduldig sou wees, omdat die volheid en die einde van al die openbarings naby was.

2. Christus is die Gesalfde van God.🔗

Verder moet ons daarop let dat die erenaam Christus by hierdie drie ampte hoort. Want ons weet dat die profete sowel as priesters en konings onder die wet met heilige olie gesalf is. Daarom is die bekende naam Gesalfde12 ook aan die Middelaar wat aan hulle belowe is, gegee. Hoewel ek erken dat Hy om 'n besondere rede met die oog op sy koningskap die Gesalfde genoem is (soos ek ook elders aangetoon het), het die profetiese en priesterlike salwing tog ook daarin 'n plek,13 en ons moet dit daarom nie verwaarloos nie.

In Jesaja word sy salwing as profeet uitdruklik soos volg vermeld: "Die Gees van die Here is op My. Die Here het my gesalf om 'n blye boodskap vir die sagmoediges te bring, om gebrokenes van hart te genees, om vir gevangenes bevryding uit te roep en om 'u jaar van welbehae af te kondig", ensovoorts.14 Ons sien dat Hy met die Gees gesalf is om 'n Verkondiger en Getuie van die Vader se genade te wees. Dit was egter nie volgens die gewone manier nie, want Hy word van ander leraars wat 'n soortgelyke amp gehad het, onderskei. Hier moet ons weer daarop let dat Hy die salwing nie alleen vir Homself ontvang het om sy leerfunksie te verrig nie maar ook vir sy hele liggaam, sodat die krag van die Gees met die voortdurende verkondiging van die evangelie ooreenstem.

Intussen bly dit onwrikbaar vas dat al die profesieë deur hierdie volmaaktheid van die leer wat Hy gebring het, tot 'n einde gebring is. Die gevolg is dat die mense wat nie met die evangelie tevrede is nie en iets vreemds daarby aanlap, afbreuk doen aan sy gesag. Want die woorde: "Hy is my geliefde Seun, luister na Hom",15 wat uit die hemel gedonder het, het Hom met 'n sonderlinge voorreg bo alle ander leraars verhef. Daarop is hierdie salwing van die Hoof af ook na sy lede uitgebrei, soos Joël verkondig het: "Julle kinders sal profeteer en julle dogters sal gesigte sien" ensovoorts.16 Dit wat Paulus sê, naamlik dat Hy aan ons tot wysheid gegee is,17 en elders dat in Hom al die skatte van kennis en verstand verborge is,18 beteken iets wat effens hiervan verskil. Dit is dat daar buiten Hom niks is wat die moeite werd is om te weet nie en dat almal wat uit die geloof waarneem hoedanig Hy is, die volle onmeetlike omvang van die hemelse seëninge ontvang, het. Daarom skrywe hy elders: "Ek het my voorgeneem om niks kosbaar te weet nie behalwe Jesus Christus en Hom as Gekruisigde".19 Dit is baie waar, omdat dit ons nie geoorloof is om verder te gaan as wat die eenvoud van die evangelie strek nie. Die profetiese waardigheid in Christus dien ook daartoe dat ons moet weet dat die volmaakte wysheid in alle opsigte in die som van die leer wat Hy oorgedra het, ingesluit is.

3. Christus se Koningskap is ewig en geestelik.🔗

Nou kom ek by sy Koningskap. Ek sou egter tevergeefs daaroor gepraat het as my lesers nie vooraf gewaarsku sou wees dat hierdie koninkryk van 'n geestelike aard is nie. Daaruit kan immers afgelei word waartoe dit dien, wat dit vir ons bied en die hele krag en ewigheid daarvan. Verder is hierdie ewigheid wat die engel volgens Daniël aan die Persoon van Christus toeken,20 dieselfde as wat die engel volgens Lukas tereg op die saligheid van die volk toepas.21 Maar hierdie ewigheid is ook tweevoudig of moet op twee maniere gestel word: die een is ten volle van toepassing op die liggaam van die kerk en die tweede behoort aan elke lid daarvan. Dit wat in die Psalm gesê word, is van toepassing op eersgenoemde: "Ek het eenmaal by my heiligheid vir Dawid gesweer: Ek sal nie lieg nie, sy saad sal tot in ewigheid bly, sy troon is soos die son voor my aangesig, soos die maan sal hy vir ewig vasstaan, en die Getuie in die hemel is getrou".22 Daar kan geen twyfel daaroor bestaan dat God daar belowe dat Hy deur die hand van sy Seun vir ewig die Regeerder en Verdediger van sy kerk sal wees nie. Die waarheid van hierdie profesie sal nêrens anders as in Christus gevind word nie. Die aansien van die koninkryk het trouens onmiddellik na die dood van Salomo grotendeels in duie gestort en dit is tot oneer van die huis van Dawid aan 'n gewone mens oorgedra.23 Daarna is dit geleidelik verswak totdat dit deur 'n droewige en skandelike ondergang heeltemal vergaan het.24

Jesaja se uitroep beteken dieselfde. Hy sê: "Wie sal van sy generering vertel?''25 Want hy verklaar dat Christus die dood sal oorlewe om Hom met sy lede te verenig. So dikwels as wat ons dus hoor dat Christus met ewige mag bewapen word, moet ons daaraan gedagtig wees dat die voortdurendheid van die kerk deur so 'n bystand onderskraag word sodat die kerk tog te midde van die stormagtige woelinge waardeur dit voortdurend gekwel word, en te midde van ernstige en verskriklike beroeringe wat dit met ontelbare rampe bedreig, ongedeerd bly. Wanneer Dawid byvoorbeeld spot met die vermetelheid van sy vyande wat poog om die juk van God en van Christus te breek,26 en wanneer hy sê dat konings en volkere tevergeefs raas, omdat Hywat in die hemel woon, sterk genoeg is om hulle aanslae te verbrysel,27 verseker hy die godvrugtiges van die voortdurende behoud van die kerk, en hy besiel hulle om goeie hoop te koester wanneer dit gebeur dat die kerk onderdruk word. Wanneer hy elders in die Persoon van God sê: "Sit aan my regterhand totdat ek jou vyande 'n voetbank van jou voete sal maak",28 vermaan hy ons dat, al sou baie en sterk vyande saamsweer om die kerk aan te val, hulle tog nie genoeg krag sal hê om die onveranderlike besluit van God te oorweldig nie, omdat Hy sy Seun daarvolgens as ewige Koning ingestel het. Daaruit volg dat dit onmoontlik kan gebeur dat die duiwel met die hele toerusting van die wêreld die kerk ooit kan vernietig, omdat dit op die ewige troon van Christus gegrondves is.

Sover dit die besondere voordeel daarvan vir elkeen van ons aangaan, behoort dieselfde ewigheid ons op te wek om op die geluksalige onsterflikheid te hoop. Want alles wat uit die aarde en uit die wêreld is, is tydelik - ja, ons sien dat dit verganklik is. Daarom verklaar Christus dat sy koninkryk nie van die wêreld is nie, om ons hoop na die hemele op te hef.29

Kortom: wanneer een van ons hoor dat die Koningskap van Christus geestelik is, moet hy deur die woord opgewek word en deurdring tot die hoop op 'n beter lewe. Wanneer hy hoor dat die kerk nou deur die hand van Christus beskerm word, moet hy die volle vrug van hierdie genade in die tyd wat kom, verwag.

4. Die seëninge wat die Koningskap van Christus vir ons inhou.🔗

Die feit dat ons gesê het dat die krag en nut van die Koningskap van Christus nie anders deur ons begryp kan word as wanneer ons erken dat sy ryk geestelik is nie, blyk wel genoegsaam hieruit dat ons toestand hard en ellendig is terwyl ons ons hele lewe lank onder die kruis moet stry.30 Watter voordeel sou dit dus vir ons inhou dat ons onder die heerskappy van die Koning van die hemele versamel is, as die vrug daarvan nie buite die toestand van ons aardse lewe bestaan nie? Daarom moet ons weet dat al ons geluksaligheid wat in Christus aan ons belowe word, nie in uitwendige voordele bestaan om byvoorbeeld 'n vrolike en rustige lewe te lei, van krag tot krag te gaan in rykdomme, vry van alle skade te wees en oor te loop van die genietinge wat die vlees gewoonlik najaag nie, maar dat dit eie is aan die lewe in die hemel. Soos 'n volk se toestand voorspoedig en gewens is wanneer dit deels 'n oorvloed aan allerlei goed en binnelandse vrede het en deels inkragtige hulpmiddels bestaan waarmee hy hom teen geweld van buite af kan beskerm, so verryk Christus ook die wat aan Hom behoort, met al die dinge wat vir die ewige saligheid van hulle siele nodig is. Hy versterk hulle met krag om onoorwinlik staande te bly teen al die aanslae van hulle geestelike vyande. Daaruit kan ons aflei dat Hy eerder ter wille van ons as ter wille van Homself Koning is, en dit na binne en na buite. Sy doel daarmee is dat ons, vol van die gawes van die Gees waarvan ons van nature verstoke is, sover God weet dat dit tot ons voordeel is, uit die eerstelinge daarvan mag weet dat ons waarlik tot ons volmaakte geluksaligheid met God verenig is. Verder dat ons op die krag van dieselfde Gees moet steun en nie moet twyfel dat ons altyd teen die duiwel, die wêreld en allerhande soorte teenslae sal oorwin nie.

Christus se antwoord aan die Fariseërs het dieselfde strekking, naamlik dat die koninkryk van God binne-in ons is en dat dit nie sigbaar sal kom nie.31 Omdat Hy erken het dat Hy die Koning is onder wie die hoogste seën van God verwag moet word, het hulle Hom waarskynlik spottend gevra om sy kentekens as Koning aan hulle te toon. Maar om te verhoed dat hulle, wat andersins meer as wat billik is na die aarde geneig is, aan hulle pronkery verknog bly, beveel Hy hulle dat hulle in hulle gewete moet ingaan, want die koninkryk van God is geregtigheid, vrede en blydskap in die Heilige Gees.32 Met hierdie woorde word ons kort en klaar geleer watter voordeel die koninkryk van Christus vir ons meebring. Omdat dit nie aards of vleeslik is sodat dit aan bederf onderhewig is nie, maar geestelik, verhef dit ons tot die ewige lewe sodat ons hierdie lewe geduldig onder ellendes, honger, koue, veragting, beledigings en ander ergernisse moet deurloop.Ons moet met hierdie een troos tevrede wees, naamlik dat ons Koning ons nooit in die steek sal laat nie maar ons in al ons behoeftes sal bystaan totdat ons ons stryd volbring het en geroep word om daaroor te seëvier. Want die wyse van sy regering is van so 'n aard dat Hy alles wat Hy van die Vader ontvang het, met ons deel. Omdat Hy ons met sy mag bewapen en uitrus, omdat Hy ons met eer en hoogheid versier en met middele verryk, het ons oorvloedige stof om te roem, en die vertroue word ook aan ons voorsien om onbevrees teen die duiwel, teen die sonde en die dood te stry.

Kortom: om met sy geregtigheid beklee te wees en al die beledigings van die wêreld moedig te oorwin, moet ons op ons beurt tot sy  heerlikheid vrugte dra soos Hy ons milddadig met sy gawes vervul.

5. Die betekenis van Christus se salwing as Koning.🔗

Daarom word sy salwing tot Koning nie aan ons voorgehou as iets wat uit olie of welriekende salf saamgestel is nie, maar Hy word die Gesalfde van God genoem, omdat die Gees van wysheid, verstand, raad, sterkte en godvresendheid op Hom gerus het.33 Dit is olie van vreugde waarmee die psalmdigter verkondig dat Hy oor sy deelgenote gesalf is.34 Want as Hy nie so 'n uitnemendheid besit het nie, sou ons almal hulpeloos en honger gewees het. Want, soos gesê is,35 het Hy nie vir Homself ryk geword nie maar om sy oorvloed oor hongeriges en dorstiges uit te stort. Die Skrif sê byvoorbeeld dat die Vader die Gees sonder maat aan sy Seun gegee het.36 So druk dit ook die rede uit, naamlik dat ons almal uit sy volheid ontvang het en genade op genade.37 Uit hierdie bron stroom die milddadigheld wat Paulus vermeld, waardeur sy genade op verskillende maniere volgens die maat van die gawe van Christus aan gelowiges uitgedeel word.38 Hiermee word meer as genoeg bevestig wat ek gesê het, naamlik dat die koninkryk van Christus nie in aardse genietinge of in praal geleë is nie maar in die Gees. Om dus daarin te deel moet ons die wêreld versaak. 'n Sigbare teken van hierdie heilige salwing is in die doop van Christus aan ons getoon toe die Gees in die gedaante van 'n duif op Hom tot rus gekom het.39

Daar is niks nuuts daarin nie, en dit behoort ook nie ongerymd te lyk dat die Gees en sy gawes met die woord salwing aangedui word nie,40 want ons word nie uit 'n ander bron lewend gemaak nie. Omdat die Gees in besonder op die lewe in die hemel gerig is, is daar nie 'n druppeltjie krag in ons wat die Heilige Gees nie in ons indrup nie. Hy het sy setel in Christus gekies sodat die rykdomme van die hemel waaraan ons so arm is, uit die bron oorvloedig na ons kon afvloei. Omdat die gelowiges deur die sterkte van hulle Koning onoorwinlik bly en sy geestelike rykdomme in oorvloed in hulle is, word hulle met reg Christene41 genoem.

Paulus se uitspraak doen verder geen afbreuk aan hierdie ewigheid van sy koninkryk waarvan ons gepraat het nie.42 Hy sê: "Dan sal Hy sy koninkryk aan God die Vader oorgee".43 Net so: "Die Seun self sal aan Hom onderwerp word, sodat God alles in almal kan wees".44 Hy bedoel daarmee net dat daar in die volmaakte heerlikheid nie so 'n bediening van sy koninkryk sal wees as wat daar nou is nie. Want die Vader het al die mag aan sy Seun gegee om ons deur sy hand te regeer, te koester, te onderhou, om ons te beskerm en ons te help. So lank as wat ons dus van God uitwoon, tree Christus vir ons as Middelaar in om ons geleidelik tot 'n vaste vereniging met God te bring. En omdat Hy aan die regterhand van die Vader sit, het dit dieselfde betekenis asof Hy die Vader se verteenwoordiger genoem word, omdat die volle mag oor die heerskappy by Hom geleë is. Dit is immers God se wil om deur die Middelaarskap -om dit nou maar so uit te druk - in sy Persoon die kerk te regeer en te beskerm.

So verklaar Paulus dit ook in die eerste hoofstuk van sy brief aan die  Efesiërs dat Hy aan die regterhand van die Vader geplaas is om die Hoof van die kerk te wees, wat sy liggaam is.45 Dit wat hy elders leer, het nie 'n ander strekking nie. Hy sê naamlik dat aan Hom 'n naam gegee is wat bo elke naam is, sodat elke knie in die naam van Jesus sou buig en elke tong tot eer van God die Vader sou bely.46 Want met daardie woorde prys hy die orde in die koninkryk van Christus wat ons huidige swakheid nodig het, aan. Paulus lei dus tereg af dat God deur Homself dan die enigste Hoof van die kerk sal wees omdat die aandeel van Christus in die verdediging van die kerk dan volbring sal wees. Om dieselfde rede noem die Skrif Hom oral "Here", omdat die Vader Hom volgens hierdie wet oor ons gestel het dat Hy sy heerskappy deur Hom kan uitoefen. Want al sou daar baie heerskappye op die wêreld geroem word, het ons maar één God, die Vader, uit wie alle dinge is en ons in Hom; en één Here, Christus, deur wie alle dinge is en ons deur Hom, sê Paulus.47 Daaruit kan met reg afgelei word dat Hy dieselfde God is wat deur die mond van Jesaja verklaar het dat Hy die Koning en Wetgewer van die kerk is.48 Want hoewel Hy die mag wat Hy het, oral 'n weldaad en gawe van die Vader noem, gee Hy tog net te kenne dat Hy van Godsweë regeer. Hy het trouens die Persoon van Middelaar aangeneem, sodat Hy tot ons kon nader toe Hy uit die skoot van die Vader en met sy onbegryplike heerlikheid neergedaal het. Daarom is dit des te meer reg dat ons almal bereid moet wees om Hom eensgesind te gehoorsaam en met die grootste bereidwilligheid ons aan sy wil te onderwerp. Want soos Hy sy ampte van Koning en Herder jeens die godvrugtiges verbind wat hulle spontaan en gewillig aan Hom onderwerp, so hoor ons aan die ander kant dat Hy 'n ystersepter dra om al die weerspanniges soos erdekruike stukkend te breek en te verbrysel.49 Ons hoor ook dat Hy 'n Regter van die volke sal wees om die aarde met lyke te bedek en die owerheid wat Hom teenstaan, neer te slaan.50 Daarvan kan ons vandag enkele voorbeelde sien. Die volle bewys daarvan sal egter in die laaste oordeel na vore kom, wat eintlik as die laaste werk van sy Koningskap beskou kan word.

6. Die Doel van Christus se Priesterskap is om as Middelaar ons met God te versoen.51🔗

Nou moet ons in verband met sy amp as Priester kortliks weet dat die doel en nut daarvan is dat Hy as Middelaar rein en onbevlek moet wees om ons deur sy heiligheid met God te versoen. Omdat sy regverdige vloek egter die toegang tot God beset en Hy volgens sy amp as Regter op ons vertoorn is, is dit noodsaaklik dat 'n soenoffer tussenbeide tree, sodat 'n priester die toorn van God self tot rus kan bring en sy guns vir ons kan verkry. Christus moes daarom met 'n offer tussenbeide kom om hierdie taak te volbring. Want dit was onder die priesterlike wet ook nie geoorloof om die heiligdom sonder bloed te betree nie, sodat die gelowiges kon weet dat, hoewel daar 'n priester tussenin gestel is om God se toorn af te wend, God tog nie versoen kon word nie, behalwe as versoening vir hulle sondes gedoen is.52 Daarom bespreek die apostel die onderwerp breedvoerig in die brief aan die Hebreërs van die sewende hoofstuk tot byna aan die einde van die tiende.

Dit kom kortliks hierop neer dat die eer van die priesterskap slegs Christus toekom, omdat Hy deur die offer van sy dood ons skuld uitgewis het en vir ons sondes voldoening bewerk het. Uit die plegtige eed van God, wat sonder berou afgelê is, word ons trouens geleer van hoe 'n groot belang die onderwerp is. Hy sê: "U is priester vir ewig volgens die orde van Melgisédek".53 Want Hy wou ongetwyfeld die Hoof bekragtig in wie Hy geweet het dat ons saligheid in besonder geleë is. Want soos ons gesê het, gaan die toegang tot God nie deur ons of ons gebede oop nie, tensy 'n priester ons van smette reinig, ons heilig maak  en sy genade vir ons verkry waarvan die onreinheid van ons oortredinge en ons sondes ons weerhou. Ons sien dus dat ons by die dood van Christus moet begin, sodat die krag en nut van sy priesterskap ons kan bereik.

Hieruit volg dat Hy vir ewig ons Voorbidder is, deur wie se voorspraak ons God se guns verkry. Daaruit spruit nie alleen vertroue om te bid nie maar ook rustigheid vir die gewete van godvrugtiges wanneer hulle onbesorg op die vaderlike goedheid van God steun en vas en seker daarvan oortuig is dat alles wat deur die Middelaar geheilig is, Hom behaag. Aangesien God onder die wet gebied het dat offerdiere as offers vir Hom gebring moes word, was daar 'n ander en nuwe rede daarvoor in Christus, naamlik dat Hy terselfdertyd die offer en Priester moes wees. Want daar kon geen ander geskikte voldoening vir die sondes gevind word nie, en niemand was so 'n groot eer waardig dat hy sy eniggebore Seun vir God sou offer nie. Christus dra die Persoon van 'n priester nie alleen om die Vader volgens die ewige versoeningswet vir ons gunstig en genadig te maak nie maar ook om ons tot die gemeenskap van so 'n groot eer op te neem.54 Ons wat in onsself onrein is, is tewens nogtans priesters in Hom, en ons offer onsself en alles wat aan ons behoort, aan God en tree met vrymoedigheid tot die hemelse heiligdom toe,sodat die offers van gebede en lof wat uit ons kom, aangenaam is en 'n goeie reuk voor die aangesig van God het.

Hiertoe strek die woorde van Christus: "Ek heilig Myself vir hulle",55 want ons wat andersins voor God stink, behaag Hom asof ons rein en onbesmet, ja, selfs heilig is in soverre ons deur sy heiligheid oorgiet is en Hy ons saam met Hom aan die Vader toegesê het. Die salwing van die heiligdom waarvan in Daniël melding gemaak word,56 het dieselfde strekking. Want ons moet let op die teenstelling tussen hierdie salwing en die skaduagtige salwing wat toe in gebruik was; dit is net asof die engel gesê het dat die priesterskap duidelik sal wees in die Persoon van Christus wanneer die skadu's verdryf is. Daarom is die versinsel van mense wat nie met die priesterskap van Christus tevrede is nie maar waag om hulleself aan ons op te dring om Christus te slag, des te verfoeiliker. Dit word elke dag onder die pousgesindes gedoen, waar die Mis as die offerande van Christus beskou word.57
 

Endnotes🔗

  1. ^ Marg. Ench. ad Laurent. cap. 5. Augustinus, Ench. ad Laurent. 1.5 (MPL 40:233).
  2. ^ Vgl. Thomas, Summa Theo/. 3.22.1 (Marietti 4:155): Christus, ... habet perfectionem omnium gratiarum. Et ideo, quanturn ad alios pertinet, alius est legislator, et alius sacerdos et alius rex: sed haec omnia concurrunt in Christo ... (Christus is volmaak in alle gawes, en daarom is Hy, in soverre dit andere aangaan, Wetgewer, Priester en Koning, maar dit alles kom in Christus byeen). Thomas behandel hierna slegs Christus se priesterskap. Die Roomse opvatting dat die Protestante Christus slegs as Verlosser, Helper en Vertrooster beskou (Marietti, ibid., 154), is kennelik verkeerd.
  3. ^ Marg. Coloss. 2.d.19.
  4. ^ NGB art. 21 (Bakhuizen van den Brink, 97). Heidelbergse Kategismus, Sondag 12 (ibid., 163). Die verdeling van Christus se ampswerk in 'n profetiese, koninklike en priesterlike hoedanigheid kom vanaf 1539 in die Inst. voor. Benoit meen dat Calvyn hierdie gedagte waarskynlik by Bucer oorgeneem en daarop uitgebrei het (vgl. Bucer, Enar. in ev., 1536, p. 607: Rex regum Christus est, summus sacerdos, et propbètarum caput. Christus is die Koning van die konings, die Hoëpriester en Hoof van die profete - Benoit, Inst. 2:267, n. 8).
  5. ^ Vgl. Inst. 2.6.2-4 (Afr. vert. 2:469-475).
  6. ^ Marg. Iohan. 4.d.25.
  7. ^ Marg. Iesa. 55. b.4.
  8. ^ Marg. Iesa. 9.b.6 (Vg.; recte. Jes. 9:5) Vgl. ook Jes. 28:29; Jee. 32:19).
  9. ^ Marg. Hebr. 1.a.1.
  10. ^ Marg. Psal. 74.b.9.
  11. ^ Marg. Dan. 9.f24
  12. ^ Messias.
  13. ^ Vgl. Inst. 2.6.3 (Afr. vert. 2:472).
  14. ^ Marg. Iesa. 51.a.1 (recte: Jes. 61:1-2; vgl. Luk. 4:18-19).
  15. ^ Marg. Matth. 3.d.17. Vgl. ook Matt. 17:5.
  16. ^ Marg. Ioel. 2.g.28.
  17. ^ Marg. 1. Cor. 1.d.30.
  18. ^ Marg. Coloss. 2.a.3.
  19. ^ Marg. 1. Cor. 2.a.2.
  20. ^ Marg. Dani. 2.g.44.
  21. ^ Marg. Luc. 1.d.33.
  22. ^ Marg. Psal. 89. e.36.37.38.
  23. ^ (1 Kon. 12.)
  24. ^ (Vgl. o.a. 2 Kon. 24:10 e.v.)
  25. ^ Marg. Iesa. 53.c.8. (Vg.)
  26. ^ Marg. Psal. 2.d.34 (recte: Ps. 2:3,4).
  27. ^ (Ps. 2:2, 4, 9.)
  28. ^ Marg. Psal. 110.a.1.
  29. ^ Marg. Iohan. 18.f36.
  30. ^ Vgl. o.a. Inst. 3.8; Com. in harm. ev. (Matt. 25:34 - OC 45:686-687).
  31. ^ Marg. Luc. 17.e.21.
  32. ^ Marg. Rom. 14.c.l7.
  33. ^ Marg. Iesa. 11.a.2.
  34. ^ Marg. Psal. 45.b.8.
  35. ^ Vgl. Inst. 2.15.2.(Afr. vert. 2:649).
  36. ^ Marg. Iohan. 3.d.34.
  37. ^ Marg. Iohan. 1.b.16.
  38. ^ Marg. Ephes. 4.b. 7.
  39. ^ Marg. Iohan. 1.c.32. Luc. 3.e.22.
  40. ^ (1 Joh. 2:20, 27.)
  41. ^ Dit is gesalfdes. Vgl. Calvyn, Catechismus (1538 - OC 5:338).
  42. ^ Vgl. Inst. 2.15.3 (Afr. vert. 2:651).
  43. ^ Marg. 1. Cor. 15. c.24.
  44. ^ Marg. Ibidem. d.28. 1 Kor. 15:28.
  45. ^ (Ef. 1:20-23.)
  46. ^ Marg. Philip. 2. b.9. Vgl. ook Fil. 2:10.
  47. ^ Marg. 1. Cor. 8.b.9 (recte: 1 Kor. 8:5-6).
  48. ^ Marg. Iesa. 33.d.22.
  49. ^ Marg. Psal. 2.c.9.
  50. ^ Marg. Psal. 110. b.6.
  51. ^ Vgl. J.B. Torrance, The vicarious humanity and Priesthood of Christ in the theology of John Calvin (Calvinus Ecclesiae doctor, s.j., 69-84).
  52. ^ (Lev. 16.)
  53. ^ Marg. Psal.110.b.4 Vgl. ook Hebr. 5:6; 7:15-17, 21
  54. ^ Marg. Apoc. 1.b.6
  55. ^ Marg. Iohan. 17.c.19.
  56. ^ Marg. Dan. 9.f24.
  57. ^ Vgl. o.a. Thomas, Summa Theol. 3.73-83 (Marietti 4:475-585).