Christus is deur God in die wêreld gestuur sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie. Sy gehoorsaamheid het vir ons genade by die Vader verwerf. Sy dood het vir ons sondes versoening gedoen sodat ons deur Sy dood gereinig is. Geen werke van die wet kan ons vrymaak nie, slegs Christus kon die saligheid vir ons verdien.

1984. 9 bladsye.

Institusie van die Christelike Godsdiens (1559) - Boek 2 Hoofstuk 17 Dit is reg en juis om te sê dat Christus die Genade van God en die Saligheid vir ons verdien het

1. 'n Weerlegging van die opvatting dat Christus slegs 'n middel tot maar nie die oorsprong van die lewe is nie.🔗

Hierdie vraagstuk moet ook as 'n byvoegsel afgehandel word, want daar is sekere mense wat verkeerdelik hieroor spitsvondig raak.1 Hoewel hulle erken dat ons ons saligheid deur Christus kry, duld hulle nogtans nie om die woord verdien te hoor nie, omdat hulle meen dat God se genade daardeur verduister word. Hulle opvatting is dat Christus slegs 'n instrument of 'n dienaar is maar nie die oorsprong, die Leier en Vors van die lewe soos Petrus Hom noem nie.2 Ek erken wel dat daar geen plek vir verdienste sou wees as iemand Christus doodeenvoudig en op Homself teenoor die oordeel van God wou stel nie. Daar kan immers geen aansien in 'n mens gevind word wat iets by God kan verdien nie. Inteendeel, soos Augustinus met die grootste waarheid skryf: "Die Verlosser self, die Mens Christus Jesus, is die duidelikste lig van die voorbestemming en genade, want sonder die voorafgaande verdienste van werke of van geloof het die menslike natuur wat in Hom is, dit reggekry om te wees wat Hy was. Laat hulle dan asseblief hierdie vraag beantwoord: Waarom het die Mens wat deur die Woord saam met die Vader ewig is, verdien om in die eenheid van sy Persoon opgeneem te word en die eniggebore Seun van God te wees? Dit moet dus duidelik wees dat die bron van genade juis in ons Hoof is, en daaruit versprei Hy Hom na elkeen se maat oor al sy lede. Van die begin van sy geloof af word elkeen 'n Christen deur dieselfde genade waardeur die Mens (ons Saligmaker) van sy begin af die Christus geword het.3 Elders sê hy: "Daar is nie 'n skitterender voorbeeld van die voorbestemming as juis die Middelaar self nie. Want Hy wat uit die saad van Dawid die Mens regverdig gemaak het om die saad van Dawid die Mens regverdig gemaak het om nooit onregverdig te wees nie, maak self sonder enige verdienste van sy voorgaande wil regverdiges van onregverdiges – die wat lede van hierdie Hoof is", en wat daarop volg.4

Wanneer dit dus om die verdienste van Christus gaan, word die begin van die regverdigmaking nie in die verdienste gestel nie, maar ons kom by die verordening van God wat die eerste oorsaak daarvan is. Hy het immers uit louter welbehae 'n Middelaar bestem om vir ons die saligheid te verkry. So word die verdienste van Christus dus onverstandig teenoor die barmhartigheid van God gestel. Dit is trouens 'n algemene reël dat dinge wat aan mekaar ondergeskik is, nie met mekaar bots nie. Niks staan daarom in die weg daarvan dat die regverdigmaking van mense uit loutere barmhartigheid van God kosteloos kan wees en dat die verdienste van Christus, wat aan God se barmhartigheid ondergeskik is, terselfdertyd tussenbeide tree nie. God se vrye genadebetoning sowel as Christus se gehoorsaamheid word egter elkeen in volgorde paslik teenoor ons werke gestel. Christus het immers geen verdienste anders as uit die welbehae van God gehad nie, maar Hy was bestem om God se toorn deur sy offer te versoen en ons oortredings deur sy gehoorsaamheid uit te wis.

Kortom: omdat die verdienste van Christus van die genade van God alleen (wat ons hierdie middel tot ons saligheid gebied het) afhanklik is, word die verdienste van Christus sowel as die genade van God heeltemal paslik teenoor al die mens se geregtighede gestel.

2. "So liefhet God die wêreld gehad dat Hy sy eniggebore Seun gegee het sodat elkeen wat in Hom glo nie verlore sou gaan nie."🔗

Ons kan hierdie onderskeid uit verskeie Skrifverwysings aflei: "So lief het God die wêreld gehad dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sou gaan nie".5 Ons sien hierin hoe die liefde van God die eerste plek inneem, net asof dit die hoogste oorsaak of bron is. Hierop volg die geloof in Christus, net asof dit die tweede en nadere oorsaak is. As iemand hierteen die beswaar sou opper dat Christus dan niks anders as 'n formele oorsaak is nie, sou Hy sy krag meer verskraal as wat die woorde toelaat. Want as ons geregtigheid verkry deur die geloof wat in Hom berus, moet ons die stof vir ons saligheid in Hom soek - iets wat uit verskeie verwysings duldelik bewys word. "Nie dat ons Hom eerste liefgehad het nie, maar Hy het ons eerste liefgehad en sy Seun gestuur as 'n versoening vir ons sondes".6 Met hierdie woorde word duidelik aangetoon dat God, om te verhoed dat enigiets in die weg van sy liefde jeens ons sou staan die middel tot versoening in Christus gestel het. En die woord versoening7 dra groot gewig, want sedert die tyd waarop God ons op 'n onuitspreeklike wyse liefgehad het, was Hy terselfdertyd ook toornig op ons, totdat Hy in Christus versoen is. Die volgende uitsprake het almal hierop betrekking: "Hy is die versoening vir ons sondes''8 Net so: "Dit het God behaag om alles deur Hom met Hom te versoen en deur Hom deur die bloed van sy kruis vrede te maak",9 ensovoorts. Net so: "God was in Christus terwyl Hy die wêreld met Hom versoen het en die mense hulle sondes nie toegereken het nie".10 Net so: "In sy geliefde Seun het Hy ons begenadig".11 Net so: "Om albei in een Mens deur die kruis met God te versoen".12 Ons moet die basis van hierdie geheimenis uit die eerste hoofstuk van die brief aan die Efesiërs haal. Nadat Paulus geleer het dat ons in Christus uitverkies is, voeg hy daar terselfdertyd by dat ons in dieselfde Christus die genade verkry het.13 Hoe het God begin om die mense wat Hy alreeds van voor die grondlegging van die wêreld af liefgehad het, met sy guns te omhels anders as dat Hy sy liefde betoon het toe Hy deur die bloed van Christus versoen is? Omdat God tewens die bron van alle geregtigheid is, moet die mens Hom noodwendig as sy vyand en regter hê so lank as wat hy 'n sondaar is. Daarom is geregtigheid die begin van die liefde, soos dit deur Paulus beskryfword: "Hy het Hom wat geen sonde gedoen het nie, vir ons sonde gemaak, sodat ons in Hom God se geregtigheid kon wees".14 Hy dui immers aan dat ons wat van nature kinders van die toorn15 en deur die sonde van Hom ver vreemd was, deur die offer van Christus vrye geregtigheid verkry het om God te behaag. Verder word daar ook op hierdie onderskeid gedui wanneer Christus se genade aan God se liefde verbind word. Daaruit volg dat Hy aan ons uit sy eie skenk wat Hy verkry het. Andersins sou dit nie pas dat hierdie lofsonder die Vader aan Hom toegeskryfword dat die genade syne is en van Hom af voortkom nie.

3. Deur Sy gehoorsaambeid het Christus waarlik vir ons genade by die Vader verwerf.🔗

Uit baie verwysings in die Skrif kan vas en seker afgelei word dat Christus waarlik deur sy gehoorsaamheid vir ons genade by die Vader verwerf en verdien het. Want ek neem uitdruklik aan dat, as Christus vir ons sondes voldoen het, as Hy die straf wat ons verskuldig was, vir ons betaal het, as Hy deur sy gehoorsaamheid God versoen het - kortom: as Hy, wat self regverdig is, vir ons, wat onregverdig is, gely het, het Hy deur sy geregtigheid die saligheid vir ons verkry. Dit dra net soveel krag as om te verdien. En tog is ons volgens Paulus se getuienis met Hom versoen en het ons deur sy dood die versoening ontvang.16 Tog is daar nie plek vir versoening behalwe waar daar tevore aanstoot was nie. Die betekenis hiervan is dus dat God, vir wie ons as gevolg van ons sondes gehaat was, deur die dood van sy Seun versoen is om ons genadig te wees. Ons moet noukeurig let op die teenstelling wat 'n bietjie later volg: "Soos baie deur die oortreding van een tof sondaars gestel is so word hulle ook deur sy gehoorsaamheid tot regverdiges gestel".17 Die betekenis is immers: soos ons deur Adam se sonde van God vervreem en vir die dood bestem is, word ons net so deur Christus se gehoorsaamheid in sy guns as regverdiges ontvang. Soos uit die verband duidelik is, sluit die toekomende tyd van die werkwoord nie die huidige geregtigheid uit nie. Want vooraf het hy ook reeds gesê dat die genadegawes uit baie oortredings tot regverdigmaking is.18

4. Deur verdienste van Christus' beteken dat ons deur Sy bloed gereinig is en dat Sy dood die versoening vir ons sondes is.🔗

Wanneer ons verder sê dat die genade deur die verdienste van Christus vir ons verkry is, verstaan ons hieronder dat ons deur sy bloed gereinig is en dat sy dood die versoening vir ons sondes is.19 Sy bloed reinig ons van die sonde. Dit is die bloed wat tot vergifnis van sondes vergiet word. As die resultaat van sy bloedvergieting, dit is dat die sonde ons nie toegereken word nie, is die gevolgtrekking daaruit dat met hierdie prys aan die oordeel van God voldoen is.20 Johannes die Doper se verklaring het ook die strekking. Hy sê: "Kyk, die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem".21 Want hy stel Christus teenoor al die offers van die wet om te leer dat in Hom dit wat die afbeeldinge aangedui het, vervul is. Ons weet egter ook wat Moses oral sê, naamlik: "Die ongeregtigheid sal versoen, die sondes uitgewis en vergewe word".22 Kortom: ons word in die afbeelding van die ou tyd ten beste geleer wat die krag en werking van Christus se dood is.

Die apostel neem hierdie beginsel met vaardigheid aan en verklaar die onderwerp in sy brief aan die Hebreërs wanneer hy sê dat vergifnis sonder vergieting van sy bloed nie moontlik is nie.23 Daaruit lei hy af dat Christus eenmaal verskyn het om deur sy offer die sonde tot niet te maak. Net so dat Hy geoffer is om die sondes van baie tot niet te maak.24 Hy het reeds vooraf gesê dat Hy eenmaal nie deur die bloed van bokke of van kalwers nie maar deur sy eie bloed in die heiligdom ingegaan het en 'n ewige verlossing gevind het.25

Alreeds wanneer Hy op die volgende trant redeneer: As die bloed van 'n vers na die reinheid van die vlees heilig maak, dat gewetens dan nog baie meer deur die bloed van Christus van hulle dooie werke gereinig word,26 is dit duidelik dat die genade van Christus uitermatig verskraal word tensy ons toegee dat Hy deur sy offerande die krag het om te versoen, om gunstig te stem en te voldoen. So voeg hy 'n bietjie later by: Hy is die Middelaar van die nuwe verbond. Terwyl sy dood tussenbeide tree tot verlossing van die voorafgaande oortredings wat nog onder die wet oorgebly het, is die doel daarvan dat die wat daartoe geroepe is, die belofte van 'n ewige erflating kan ontvang.27 Ons moet die ooreenkoms wat Paulus beskryf, besonderlik oorweeg wanneer hy sê dat Hy vir ons die vloek geword het ensovoorts.28 Dit is immers oorbodig en daarom ook onsinnig om Christus met 'n vloek te belas, tensy sy doel daarmee was om dit wat ander verskuldig was, te betaal en vir hulle geregtigheid te verwerf. Jesaja se getuienis is ook duidelik wanneer Hy sê dat die straf vir ons vrede op Christus gelê is en dat genesing deur sy pyniging ons te beurt geval het.29 Want as Christus nie vir ons sondes voldoening sou gegee het nie, sou daar nie gesê word dat Hy God tevrede gestel het deur die straf op Hom te neem waaraan ons onderworpe was nie. Dit wat daarop volg, stem ook hiermee ooreen, naamlik "Vanweë die oortreding  van my volk het Ek Hom geslaan".30 Hierby kom ook Petrus se vertolking wat geen twyfel hieroor sal laat nie, naamlik dat Hy ons sondes aan die kruishout gedra het.31 Hy bedoel immers dat die las waarvan ons verlig is, op Christus gewerp is.

5. "As ons uit die werke van die wet vrygemaak word, het Christus verniet gesterf."🔗

Die apostels verklaar duidelik dat Hy die prys betaal het om ons van ons doodskuld te verlos. Deur sy genade is ons deur die verlossing wat in Christus is, regverdig gemaak: God het Hom as versoening gestel deur die geloof wat in sy bloed is. Paulus loof God se genade hierin dat Hy die prys vir ons verlossing in Christus se dood gegee het.32 Daarop gelas hy ons dat ons ons toevlug tot sy bloed moet neem om die geregtigheid te verwerf en onbesorg voor die oordeel van God te staan. Petrus se verklaring het dieselfde krag. Hy sê: "Ons is nie met goud en met silwer vrygekoop nie maar deur die kosbare bloed van die onbevlekte Lam."33 Die teenstelling sou immers ook nie rym nie, tensy met hierdie prys vir die sondes voldoen is. Daarom sê Paulus ook dat ons duur gekoop is.34 'n Tweede uitspraak van hom, naamlik: "Daar is een Middelaar wat Homself as losprys35 gegee het", sou ook nie stand kon hou nie, tensy die straf wat ons verdien het, op Hom gewerp was.36 Daarom omskryf dieselfde apostel die verlossing in die bloed van Christus as die vergewing van sondes.37 Dit is net asof hy sê dat ons regverdig gemaak of voor God kwytgeskeld word, omdat sy bloed met voldoening ooreenstem. Daarmee stem 'n tweede verwysing ook ooreen naamlik dat die skuldbrief wat teen ons was, in sy kruis uitgedelg is.38 Want iets wat ons van skuld kwytgeskeld het, dui betaling of vergelding aan. Daar is groot gewigtigheid in die volgende woorde van Paulus: "As ons uit die werke van die wet regverdig gemaak word, dan het Christus verniet gesterf".39

Want hieruit lei ons af dat ons van Christus dit moet soek wat die wet teweeg sou bring as iemand dit sou volbring. Of - en dit is dieselfde – dat ons deur die genade van Christus dit verkry wat God in sy wet aan ons werke belowe het, naamlik: "Hy wat hierdie dinge doen, sal daarin lewe".40 Dit bevestig hy ook baie duidelik in sy rede in Antiochië wanneer hy sê dat ons deur in Christus te glo van al die dinge regverdig gemaak word waardeur ons nie in die wet van Moses regverdig gemaak kon word nie.41 Want as gehoorsaamheid aan die wet op geregtigheid neerkom, wie sou dan sê dat Christus nie vir ons God se guns verdien het toe Hy die las op Hom geneem en ons met Hom versoen het net asof ons die wet onderhou het nie? Dit wat hy later in sy brief aan die Galasiërs leer, is ook hierop gerig. Hy sê daar: "God het sy Seun, wat onder die wet was, gestuur om die wat onder die wet was, te verlos".42 Waarop is hierdie onderworpenheid dan gerig anders as daarop dat Hy die geregtigheid vir ons verwerf het en dit op Hom geneem het om te betaal wat ons nie kon betaal nie? Hieruit spruit die toerekening van geregtigheid sonder die werke waarvan Paulus praat, naamlik dat daar gesê word dat ons die geregtigheid ontvang het wat alleen in Christus gevind is.43 Christus se vlees word gewis ook nie om 'n ander rede ons voedsel genoem as omdat ons daarin die wese van ons lewe vind nie.44 Die krag, kom voorts nie uit 'n ander bron as dat die Seun van God as losprys vir ons geregtigheid gekruisig is nie. Paulus sê byvoorbeeld dat Hy Homself as 'n offerande tot 'n welriekende geur oorgelewer het.45 Elders sê hy: "Hy het gesterwe ter wille van ons sondes, en ter wille van ons regverdigmaking het Hy opgestaan".46 Daaruit kan die afleiding gemaak word dat die saligheid nie alleen deur Christus aan ons gegee is nie maar ook dat die Vader ons nou om sy ontwil goedgesind is. Want daar bestaan geen twyfel daaroor dat in Hom ten volle vervul word wat God deur Jesaja onder 'n beeld verklaar nie, naamlik: "Om My ontwil sal Ek dit doen en om my kneg Dawid ontwil".47 Die heel beste getuie hiervan is die apostel wanneer hy sê: "Julle sondes word julle vergewe om sy Naam onrwil." 48.Want hoewel Christus se Naam nie uitdruklik vermeld word nie, dui Johannes Hom tog, soos sy gewoonte is, onder die voornaamwoord syne49 aan. Die Here verklaar met dieselfde betekenis: "Soos Ek om my Vader ontwil lewe, so sal julle ook om My ontwil lewe".50 Paulus se verklaring stem ook daarmee ooreen wanneer hy sê: "Om Christus ontwil51 is dit aan julle gegee, om Christus ontwil, nie alleen om in Hom te glo nie maar ook om vir Hom te ly".52

6. Lombardus en die Skolastici se opvatting dat Christus geregtigheid vir Homself verdien het, is onbesonne.🔗

Maar om nou te vra of Hy dit vir Homself verdien het, soos Lombardus en die Skolastici doen, is niks minder dwase nuuskierigheid as 'n onbesonne verklaring wanneer hulle so 'n bewering maak nie.53 Want waarom moes die eniggebore Seun van God neerdaal om vir Homself iets nuuts te verwerf? Wanneer God sy raadsplan uiteensit, ruim Hy alle twyfel daaroor uit die weg. Want daar word nie gesê dat die Vader sy Seun se voordeel nie in sy verdienste ter harte geneem het nie, maar dat Hy Hom in die dood oorgegee het en Hom nie gespaar het nie, omdat Hy die wêreld liefgehad het.54

Ons moet ook op die uitsprake van die profete let: "'n Seun is vir ons gebore".55 Net so: "Verbly jou, o dogter van Sion; kyk, jou Koning kom".56 Die bevestiging van sy liefde wat Paulus loof, naamlik dat Christus vir sy vyande die dood ondergaan het, sou andersins ook maar flou gewees het.57 Daaruit kan ons trouens aflei dat Hy Homself nie in ag geneem het nie. Hy bevestig dit ook duidelik wanneer Hy sê: "Ter wille van hulle heilig Ek Myself".58 Want Hy getuig dat Hy wat die voordeel van sy heiligheid op ander oordra, niks vir Homself verwerf nie. Dit verdien sekerlik besonderlik ons aandag dat Christus Homself in 'n sekere sin vergeet het om Homself volkome op ons saligheid toe te lê. Hulle sleep Paulus se getuienis voorbarig hierby in waar hy sê: "Daarom het die Vader Hom verhoog en aan Hom 'n naam gegee",59 ensovoorts. Want met watter verdienstes as mens kon Hy regkry om Regter van die wêreld te wees, die Hoof van die engele, en om die hoogste heerskappy van God te bekom en dat hierdie majesteit in Hom gevestig is? Al die krag van mense en engele kan nie eens 'n duisendste daarvan bereik nie. Maar 'n maklike en volledige oplossing is dat Paulus daar nie oor die oorsaak van Christus se verhoging praat nie maar dat hy slegs op die gevolg wys om vir ons as voorbeeld te dien. Hy bedoel hoegenaamd niks anders as wat elders gesê word nie, naamlik dat Christus moes ly en dat Hy so in die heerlikheid van sy Vader moes ingaan.60

Endnotes🔗

  1. ^ Uit die woorde Regu/a oulgaris est, quae sub-a/tema sunt, nonpugnare (Dit is 'n algemene reël dat dinge wat aan mekaar ondergeskik is, nie met mekaar bots nie . vgl. later in hierdie onderafdeling) en ook uit die inhoud van Calvyn se Responsie ad aliquot Laelü Socini ... quaestiones (1555 . OC 10,1:160-165) kan afgelei word dat Calvyn hier teen Laelius Socinus polemiseer. Hierdie woorde vorm trouens die inleiding tot sy Responsio, en die res van Calvyn se uiteensetting hier stem selfs woordeliks met sy Responsio ooreen. Socinus se vrae aan Calvyn bestaan nie meer nie. Vir Socinus, vgl. Vita (Afr. vert. 1:36, n, 158, 1:48, n. 209).
  2. ^ Marg. Act. 3.c.11 (recte. Hand. 3:15).
  3. ^ Marg. Lib. primo de praed. San. cap. 15. Augustinus, De praed. sanct. 15.30 (MPL 44:981-982).
  4. ^ Marg. De bono perseoer. cap. ultimo.Augustinus, De dono perseuerantiae 24.67 (MPL 45:1034
  5. ^ Marg. Ioban. 3.b.16.
  6. ^ Marg. Iohan. 4.b.10 (recte. 1 Joh. 4:10).
  7. ^ nomen placationis.
  8. ^ Marg. 1. Iohan. 2.a.2.
  9. ^ Marg. Colos. 1.c.20. Vgl. ook Kol. 1:19.
  10. ^ Marg. 2. Cor. 5.d.19.
  11. ^ Marg. Ephes. 1.b.6. Verkeerdelik na die volgende marginale aantekening geplaas.
  12. ^ Marg. Ephes. 2.d.16.
  13. ^ (Ef. 1:4, 5.)
  14. ^ Marg. 2 Cor. 5.d.21.
  15. ^ (Ef. 2:3.)
  16. ^ Marg. Rom. 5.b.11. Vgl. ook Rom. 5:10.
  17. ^ Marg. Rom. 5.d.19.
  18. ^ Fr.: + Rom. 5:16 (Benoit 2:306).
  19. ^ Marg. Iohan. l.c.5 (recte: 1 Joh.I:7).
  20. ^ Marg. Luc. 22.b.20. Vgl. ook 1Joh. 1:7.
  21. ^ Marg. Iohan. 1.d.29.
  22. ^ (Vgl. o.a. Eks. 34:7; Lev. 16:34.)
  23. ^ Marg. Hebr. 9.f22.
  24. ^ (Hebr. 9:26, 28.)
  25. ^ Marg. Ibidem. c.12. Hebr. 9:12.
  26. ^ Marg. Ibidem, b, 13. Hebr. 9:13. Vgl. ook Hebr. 9:14.
  27. ^ Marg. Ibidem, d.15. Hebr. 9:15.
  28. ^ Marg. Galat. 3.b.13.
  29. ^ Marg. Iesa. .53.b.5.
  30. ^ (Jes. 53:8.)
  31. ^ Marg. 1 Pet. 2.d.24.
  32. ^ Marg. Rom. 3.c.24. Vgl. ook Rom. 3:25.
  33. ^ Marg. 1 Pet. 1.d.18. Vgl. ook 1 Pet. 1:19.
  34. ^ Marg. 1. Cor. 6.d.20.
  35. ^ (1 Tim. 2:5-6.)
  36. ^ (1 Tim. 2:5 e.v.)
  37. ^ Marg. Coloss. 1.b.14.
  38. ^ Marg. Coloss. 2. c.14.
  39. ^ Marg. Galat. 2.d.21.
  40. ^ Marg. Levit. 18.a.5.
  41. ^ Marg. Act. 13.f.38. Vgl. ook Hand. 13:39.
  42. ^ Marg. Galat. 4. a. 4. Vgl. ook Gal. 4:5.
  43. ^ Marg. Rom. 4. Vgl. veral Rom. 4:22-25.
  44. ^ Marg. Iohan. 6.155.
  45. ^ Marg. Ephes. 5.a.2.
  46. ^ Marg. Rom. 4.d.25.
  47. ^ Marg. Iesa. 37.g.35.
  48. ^ Marg. 1. Iohan. 2.b.12
  49. ^ a()'~o~.
  50. ^ Marg. Iohan. 6.f.57.
  51. ^ 6ntp Xp"cTtoO.
  52. ^ Marg. Phil. 1.d.29.
  53. ^ Marg. Lib. 3. Sent. dist. 18. Lombardus, Sent. 3.18.1 (MPL 192:792 e.v.): vgl. ook Thomas, Summa Theol. 3.49.6 ("om verhef te word"); 3.59.3 (oordeelsmag) (Marietti 4:312; 362). Augustinus, Traet. in Joan. Ev. 104.3 (MPL 35:1903).
  54. ^ Marg. Rom. 8.f.32. Vgl. ook Rom. 8:35, 37; Joh. 3:16.
  55. ^ Marg. Iesa. 9.b.6. Vgl. ook Jes. 9:5.
  56. ^ Marg. Zach. 9.b.6 (recte: Sag. 9:9)
  57. ^ Marg. Rom. 5. b.l0.
  58. ^ Marg. Iohan. 17.c.19.
  59. ^ Marg. Philip. 2.b.9. Vgl. Lombardus, Sent. 18.3 (MPL 192:793).
  60. ^ Marg. Luc. 24.d.26.