Institusie van die Christelike Godsdiens (1559) - Boek 2 Hoofstuk 3 Uit die mens se bedorwe natuur kan niks anders as doemwaardigheid voortkom nie
Institusie van die Christelike Godsdiens (1559) - Boek 2 Hoofstuk 3 Uit die mens se bedorwe natuur kan niks anders as doemwaardigheid voortkom nie
1. Die Hele Mens is Vlees.⤒🔗
Maar die mens kan nie beter in albei dele van sy siel geken word as wanneer hy met die name waarmee hy deur die Skrif geteken word, in die kalklig kom nie. As hy ten volle met die volgende woorde van Christus geteken word, naamlik "wat uit die vlees gebore is, is vlees",1 - en dit kan maklik bewys word -, dan word die mens daarvan oortuig dat hy 'n baie ellendige wese is. Die apostel getuig dat die begeerte van die vlees die dood is; want dit is vyandskap teen God en dit onderwerp hom ook nie aan die wet van God nie en dit kan homself ook nie daaraan onderwerp nie.2 Is die vlees dan so sleg dat dit met sy hele begeerte teen God stry, dat dit nie tot die geregtigheid van God se wet kan instem nie, dat dit ten slotte niks anders as stof vir die dood kan voortbring nie? Gestel nou dat daar in die mens se natuur niks anders as vlees is nie - haal dan iets goeds daaruit as jy kan.
Maar iemand sou die beswaar opper: Die woord vlees het slegs betrekking op die sinnelike en nie op die hoër deel van die siel nie.3 Dit word inderdaad oorvloedig uit die woorde van Christus en die apostel weerspreek. Die Here redeneer dat die mens weergebore moet word, omdat hy vlees is. Hy leer nie dat die mens na die liggaam weergebore word nie. As 'n deel daarvan verbeter word, word hy egter nie ten opsigte van sy siel weergebore nie maar slegs wanneer dit ten volle nuut gemaak word. Die teenstelling in albei die aanhalings hierbo bevestig dit. Want die Gees word op so 'n wyse met die vlees vergelyk dat daaroor geen twyfel gelaat word nie. Alles wat in die mens dus nie geestelik is nie, word volgens die redenasie vleeslik genoem. Ons het egter niks van die Gees nie behalwe deur wedergeboorte. Ons vlees is derhalwe iets wat ons uit die natuur het.
Maar as daar andersins enige twyfel hieroor kan bestaan, ruim Paulus dit vir ons uit die weg. Na 'n beskrywing van die ou mens, waarvan hy sê dat dit deur die begeerte om te dwaal bedorwe is,4 beveel hy ons om weer in die gees van ons verstand nuut te word.5 'n Mens kan sien dat hy ons ongeoorloofde en verkeerde begeertes nie alleen in die sinnelike deel van ons siel stel nie maar juis in ons verstand en dat hy daarom die hernuwing daarvan ook vereis. 'n Rukkie vantevore het hy inderdaad 'n beeld van ons menslike natuur geskilder om aan te toon dat ons in elke opsig daarvan bedorwe en sleg is. Want hy skryf dat al die heidene in die ydelheid van hulle verstand wandel, dat hulle verstand verduister is en dat hulle van die lewe van God vervreem is deur die onkunde wat in hulle is, en deur die blindheid van hulle hart.6 Daarom kan daar geen twyfel daaroor bestaan dat dit ook al die mense pas wat die Here nog nie, na die suiwerheid van sy wysheid en sy geregtigheid hervorm het nie. Dit word nog duideliker wanneer hy dadelik 'n vergelyking byvoeg: hy vermaan die gelowiges dat hulle Christus nie so leer ken het nie.7 Uit hierdie woorde lei ons af dat die genade van Christus die enigste geneesmiddel is waardeur ons van die blindheid en die kwaad wat daaruit ontstaan, verlos kan word.
So het Jesaja immers ook oor die koninkryk van Christus geprofeteer toe by belowe het dat die Here tot ewige lig vir sy kerk sal wees en dat duisternis die aarde intussen sal bedek en 'n donker wolk die volke daarop.8 Aangesien hy getuig dat die lig van God slegs oor die kerk sal opgaan, laat hy inderdaad buite die kerk niks anders as duisternis en blindheid nie.9
Ek sal nie een vir een die getuienisse opnoem wat oral in die Skrif, en in die besonder in die Psalms en die Profete, oor die mens se ydelheid vermeld word nie. Dit wat Dawid skryf, dra groot gewig: As die mens teen sy ydelheid opgeweeg word, sou hy ydeler as sy ydelheid wees.10 Sy verstand is met 'n swaar pyl deurboor, terwyl al die gedagtes wat daaruit voortkom, as dwase, ydele, waansinnige en verwronge gedagtes bespot word.
2. Paulus se Tekening van die Mens se Verdorwenheid.←⤒🔗
Wanneer daar gesê word dat die mens se hart boweal bedrieglik en bedorwe is,11 word sy hart nie minder verdoem nie. Maar omdat ek graag bondig wil wees, sal ek met slegs een verwysing tevrede wees. Tog sal dit soos die helderste spieël wees waarin ons die beeld van ons natuur ten volle kan aanskou.
Wanneer die apostel die verwaandheid van die mensdom wil platslaan, getuig hy soos volg: "Daar is niemand wat regverdig is nie, niemand wat verstandig is nie en niemand wat God soek nie. Hulle het almal afgewyk; saam het hulle ontaard. Daar is niemand wat goed doen nie, daar is selfs nie een nie.12 Hulle keel is 'n oop graf; met hulle tonge pleeg hulle bedrog.13 die gif van adders is onder hulle lippe14 Hulle monde is vol vervloeking en bitterheid.15 hulle voete is hagstig om bloed te vergiet; verwoesting en ellende is op hulle paaie.16 Daar is geen vrees vir God voor hulle oë nie.''17
Met hierdie weerligstrale vertoorn hy hom nie slegs oor sekere mense nie maar oor die hele geslag van die kinders van Adam. Hy verhef sy stem nie slegs teen die bedorwe sedes van een of twee eeue nie, maar hy kla die voortdurende bedorwenheid van die mens se natuur aan.18 Sy doel met daardie aanhaling is nie bloot om die mens te bestraf sodat hy hom kan bekeer nie. Nee, sy doel is eerder om die mens te leer dat almal deur onafwendbare onheil oorval is, waaruit hulle nie kan opstaan nie, tensy hulle deur die barmhartigheid van God uitgered word. Omdat dit nie bewys kon word behalwe as die ondergang en vernietiging van die natuur onomstootlik vasstaan nie, voer hy die getuienis aan waarmee bewys word dat ons natuur meer as bedorwe is.
Dit moet dus vas bly staan dat die mens nie slegs deur die gebrek wat uit sy bedorwe gewoonte ontstaan, sodanig is as wat hy hier beskryf word nie, maar ook deur die bedorwenheid van sy natuur. Want anders sou die volgende redenasie van die apostel geen grond hê nie, naamlik dat die mens geen saligheid het nie behalwe deur die barmhartigheid van die Here omdat die mens in homself verlore en hulpeloos is.19 Hier sal ek my nie daarmee vermoei om die gebruik van sy getuienis goed te keur nie, sodat niemand die indruk mag hê dat dit onpaslik en misbruik is nie. Ek sal daarmee handel asof die getuienis eerste deur Paulus gelewer is en nie asof hy dit uit die profete geput het nie. In die eerste plek ontneem hy die mens geregtigheid, dit is sy ongeskondenheid en reinheid. In die tweede plek neem hy ook sy verstand van hom weg.20 Die mens se afvalligheid van God bewys immers sy gebrek aan verstand, en om Hom te soek is die eerste trap van wysheid. Hierdie gebrek aan verstand moet noodwendig voorkom in mense wat van God afvallig geword het. Hy voeg dan by dat almal afgewyk en verrot geword het; dat daar niemand is wat goed doen nie, dan voeg hy dié oortredings by waarmee hulle elkeen van hulle ledemate besoedel wanneer hulle eenmaal in die boosheid losgelaat is. Ten slotte getuig hy dat hulle sonder die vrees vir God is,21 wat as maatstaf ons skrede moes rig. As dit dan die oorerflike gawes van die mensdom is, word daar tevergeefs in ons natuur na iets goeds gesoek.
Ek erken wel dat nie al hierdie gebreke in elke mens voorkom nie: tog kan dit nie ontken word dat dié veelkoppige monster in elkeen se hart verskuil is nie. Want wanneer 'n liggaam alreeds die oorsaak en die stof vir sy siekte binne-in hom hou en dit daar vertroetel, en al sou die pyn daarvan nog nie aan jou knaag nie, sal ons tog nie sê dat so 'n liggaam gesond is nie. Net so sal ons ook nie dink dat 'n siel gesond is wanneer dit alreeds met sulke siektes van ondeug bruis nie. Die vergelyking klop egter nie heeltemal nie. Want al sou daar ook watter gebrek in die liggaam aanwesig wees, bly daar tog nog lewenskrag daarin oor, maar as die siel eers in die verderflike maalstroom ondergegaan het, swoeg dit nie alleen as gevolg van sy ondeugde nie, maar dit is dan heeltemal sonder die goeie.
3. Te midde van die Bedorwenheid van die Natuur is daar nog 'n plek vir God se Genade - nie om die Bedorwenheid te suiwer nie maar om dit in bedwang te hou.←⤒🔗
Nou ontstaan daar weer eens bykans dieselfde vraagstuk as die een wat ons tevore opgelos het.22 Want oor al die eeue heen was daar mense wat hulle hulle hele lewe lank onder leiding van die natuur op deug toegele het. Nou hou ek my nie op met die vraag of daar baie misstappe in hulle sedes waargeneem kan word nie. Deur die beoefening van eerbaarheid het hulle tog daarvan bewys gelewer dat daar 'n mate van suiwerheid in hulle natuur was. Hoewel ons breedvoeriger sal verduidelik watter waarde sulke deugde voor die aangesig van God het, wanneer ons die verdienste van ons werke sal behandel,23 moet ons tog nou ook oor hierdie onderwerp praat in soverre as wat dit vir ons huidige verduideliking noodsaaklik is.
Die voorbeelde hierbo wys ons klaarblyklik daarop dat ons nie moet dink dat die mens se natuur ten volle bedorwe is nie. Deur die besieling van die natuur het sommige mense nie alleen in voortreflike dade uitgemunt nie maar hulle ook in hulle hele lewensloop baie eerbaar gedra. Hier behoort dit ons te binne te skiet dat daar te midde van die bedorwenheid van die natuur nog 'n plekkie vir die genade van God is nie om die bedorwenheid te suiwer nie maar om dit in bedwang te hou. Want as die Here elkeen se siel sou toelaat om hom met vrye teuels aan allerlei begeertes te vergryp, sou elkeen in werklikheid baie beslis bewys dat al die kwaad waarkragtens Paulus die hele natuur verdoem, baie waaragtig ook by elkeen pas.24
Hoe dan nou? Of wil jy jouself uitsonder onder die mense wie se voete vinnig is om bloed te vergiet;25 onder hulle wie se hande deur roof en moord bevlek is of onder die wie se keelgate soos geopende grafte, wie se tonge bedrieglik en wie se lippe venynig is?26 Wil jy jou uitsonder onder dié mense wie se werke waardeloos, onregverdig, verrot en dodelik is; van die mense wie se gemoed sonder God is; wie se innerlike net boosheid is; die mense wie se oë op hinderlae ingestel is en hulle gemoedere op belediging? Kortom: sonder jy jouself uit onder die mense wie se ledemate almal op eindelose vergrype ingestel is? As elke siel dus aan sulke gedrogte blootgestel is (soos die apostel kloekmoedig verklaar);27 sien ons sekerlik wat sal gebeur as die Here die mens se lewe sou toelaat om na willekeur te kere te gaan. Geen rasende dier word so halsoorkop meegesleur nie! Geen rivier, hoe vinnig en onstuimig dit ook al is, oorstroom sy walle met so 'n drif nie!
Die Here sorg vir die siekes onder sy uitverkorenes op 'n wyse wat ons netnou sal verduidelik. Die siektes onder ander mense beteuel Hy slegs deur hulle met 'n toom in te span. Dit doen Hy alleen maar sodat hulle nie te baldadig word nie, vir sover Hy voorsien dat dit nodig is om alle dinge te onderhou. Hierdeur word sommige mense uit skaamte en ander uit vrees vir die wet daarvan weerhou om in allerlei afstootlikheid uit te bars al sou hulle dan nog hulle onreinheid grotendeels onversluierd laat. Ander verlang in elk geval daarna omdat hulle reken dat dit tot 'n eerbare lewenswyse bydra. Sommiges styg bo die gewone menselot uit om ander deur hulle verhewenheid aan hulle onderdanig te hou. So beteuel God die bedorwenheid van die natuur deur sy voorsienigheid sodat dit nie tot die daad kan oorgaan nie, maar Hy reinig dit nie inwendig nie.
4. As 'n Mens hom nie beywer om die Heerlikheid van God te Verkondig nie, ontbreek dit hom aan die Belangrikste Aspekte van Regskapenheid.←⤒🔗
Die probleem is egter nog nie opgelos nie. Want ons moet Camillus28 aan Catillna29 gelykstel of in Camillus 'n voorbeeld hê dat die natuur nie heeltemal sonder goedheid is nie, mits dit sorgvuldig beoefen word. Ek erken inderdaad dat die talente wat in Camillus aanwesig was, indrukwekkend en ook gawes van God was en tereg prysenswaardig lyk as dit op sigself getakseer word. Maar hoe kan dit sy natuurlike regskapenheid bewys? Of moet ons na die mens se gemoed terugkeer en soos volg redeneer: As die natuurlike mens in so 'n onkreukbaarheid van sedes kon uitblink, dan het die natuur in elk geval die vermoë om deug te beoefen.30 Maar wat sal ons sê as sy gemoed bedorwe en verwronge is aangesien dit alles behalwe regskapenheid nagejaag het? As jy toegee dat hy 'n natuurlike mens was, is daar geen twyfel dat hy wel so 'n soort mens was nie. Sal jy dan nog in hierdie onderwerp die menslike natuur se vermoë om die goeie te doen by my aanprys as ons vind dat die mens selfs in die beste voorbeeld van suiwerheid nog na bedorwenheid meegesleur word? Soos jy die mens dus nie vanweë sy deug moet aanprys nie, aangesien sy ondeugde onder 'n dekmantel van deug ons mislei, moet jy ook nie aan die mens se wil die verrnoë toeken om dit wat reg is, te begeer so lank as wat dit met sy bedorwenheid verstrengel is nie.
Die sekerste en maklikste oplossing vir die vraagstuk is egter dat die gawes van Camillus nie algemene gawes van die natuur is nie maar besondere genadegawes van God wat Hy verskillend en na 'n bepaalde maat aan mense wat gewoon wêrelds is, uitdeel. Daarom deins ons in ons alledaagse spraak nie daarvan terug om te sê dat een mens regskape is en 'n ander 'n bose natuur het nie. Tog laat ons nie na om albei die eienskappe onder die algemene toestand van die mens se bedorwenheid in te sluit nie, maar ons dui aan watter besondere genade31 die Here aan die een betoon het terwyl Hy die ander een dit nie waardig geag het nie. Toe Hy Saul koning wou maak, het Hy van hom bykans 'n nuwe mens gernaak.32 Dit is ook die rede waarom Plato met verwysing na die verhaal van Homeros verklaar dat die kinders van konings met 'n besondere eienskap33 gebore word. Want terwyl God die mensdom ter harte wil neem, rus Hy dié mense wat Hy vir heerskappy bestem, dikwels met 'n heldhaftige geaardheid toe. Uit hierdie werkswinkel kom alles te voorskyn waarop die geskiedenis van magtige leiers roem. Ons moet dieselfde opvatting in verband met gewone mense huldig. Maar as iemand hoër uitstaan, dryf sy ambisie hom altyd verder. Dit is 'n smet waardeur alle deugde vuilgesmeer word, sodat dit alle behae voor die aangesig van God verloor. Daarom moet ons alles wat in wëreldse mense lofwaardig lyk, van nul en gener waarde ag.34 Hierby kom die feit dat die belangrikste aspek van regskapenheid ontbreek waar daar geen ywer is om die heerlikheid van God te verkondig nie. Al die mense wat Hy nie deur sy Gees weergebore laat word nie, is sonder so 'n ywer. Daar word trouens nie verniet in Jesaja gesê dat 'n Gees van vrees vir God op Christus rus nie.35 Daardeur word ons geleer dat almal wat van Christus vervreemd is, sonder vrees vir God is. En dit is die begin van die wysheid.36
Sover dit die deugde aangaan wat ons met hulle ydele voorkoms mislei: sulke deugde sal wel op 'n politieke verhoog en in die alledaagse praatjies van mense geroem word, maar voor die gerig van die hemel sal hulle waardeloos wees om geregtigheid te verdien.
5. Die Mens sondig noodwendig en nie uit dwang nie.37←⤒🔗
Die mens se wil is dus 'n slaaf van die sonde en hy kan homself nie beweeg om die goeie te doen nie, nog minder hom daarop toelê. Sulke gesindhede is immers die beginsel van die bekering tot God, wat in die Skrif geheel en al aan die genade van God toegeskrywe word. So bid Jeremia die Here dat Hy hom moet bekeer as dit sy wil is dat hy bekeer moet wees.38 Wanneer die profeet in dieselfde hoofstuk die geestelike verlossing van die gelowiges beskrywe, sê hy dat hy uit die hand van een wat sterker as hy is, verlos is.39 So dui hy aan met watter nousluitende boeie 'n sondaar vasgebind is so lank as wat hy van God verlate is en onder die juk van die duiwel leef. Sy wil bly nietemin voortbestaan - en ditis met die grootste bereidwilligheid geneig en haastig om te sondig! Want toe die mens homself aan hierdie nood uitgelewer het, is sy wil nie van hom weggeneem nie maar wel die gesondheid van sy wil. Bernardus praat trouens gepas daarvan wanneer hy leer dat ons almal die wil het, maar dat die wil om goed te doen vooruitgang en die wil om kwaad te doen agteruitgang beteken. Daarom is die blote wil 'n eienskap van die mens; sy wil om kwaad te doen is egter 'n eienskap van sy bedorwe natuur en sy wil om goed te doen 'n kenmerk van genade.40
Voorts is dit verbasend dat dit vir enigiemand na 'n onverbiddelike verklaring lyk dat ek sê dat die wil van sy vryheid beroof is en noodwendig deur sy haglike toestand na die kwaad meegesleur of gelei word. Daarin is tog geen wanklank nie, en heiliges het dit ook gebruik. Dit gee daardie mense egter aanstoot wat nie weet hoe om tussen noodwendigheid en dwang te onderskei nie.41 Maar as iemand hulle sou vra of God noodwendig goed is en of die duiwel noodwendig sleg is, wat sou hulle antwoord dan wees? Want God se goedertierenheid is op so 'n wyse met sy Goddelikheid vervleg dat Hy noodwendig God sowel as goed is. Die duiwel is egter deur sy afvalligheid so van deelname aan die goeie vervreem dat hy niks anders as kwaad kan doen nie. As 'n heiligskenner42 hieroor mor dat weinig lof vir sy goedertierenheid aan God verskuldig is omdat hy gedwing word om dit te onderhou, wie sal dan nie 'n antwoord vir hom gereed hê nie, naamlik dat dit nie onder gewelddadige dwang nie maar deur sy eindelose goedertierenheid geskied dat Hy nie verkeerd kan doen nie. As die feit dat God net goed doen, sy wil nie verhinder om vry te wees om goed te doen nie, as die duiwel, wat net kwaad kan doen, tog vrywillig sondig, wie sal dan beweer dat die mens daarom minder vrywillig sondig omdat hy aan die noodwendigheid van die sonde blootgestel is?
Augustinus vermeld hierdie noodwendigheid oral. Selfs toe hy nydig deur Caelestius bespot is, het hy nie geaarsel om dit met die volgende woorde te verdedig nie: "Deur vryheid het die mens 'n sondaar geword, maar nou het sy strafwaardige bedorwenheid, wat die gevolg daarvan was, van sy vryheid noodwendigheid gemaak.43 Elke keer wanneer hy die onderwerp vermeld, aarsel hy nie om van die noodwendige slawerny van die sonde te praat nie".44
Samevattend moet ons dus op hierdie onderskeid let: dat die mens wel vrywillig sondig en nie teen sy sin of onder dwang nie, nadat hy as gevolg van sy afvalligheid bedorwe geword het; dat hy uit 'n geestesgesteldheid wat baie daartoe geneig is, sondig en nie onder gewelddadige dwang nie, onder aandrang van sy eie begeerlikheid en nie as gevolg van dwang van buite hom nie, hy is nogtans as gevolg van die bedorwenheid van sy natuur tot niks anders in staat as om tot die kwaad beweeg en aangedryf te word nie. As dit dan waar is, word dit duidelik bewys dat die mens gewis aan die noodwendigheid om te sondig onderworpe is.
Bernardus steun Augustinus wanneer hy soos volg skryf: "Onder alle lewende wesens is die mens alleen vry, en tog ly hy 'n sekere geweld deur die tussenkoms van die sonde; dit is egter uit sy wil afkomstig en nie uit sy natuur nie, sodat hy selfs nie eens op dié wyse van sy aangebore vryheid beroof word nie. Want iets wat gewillig is, is ook vry". 'n Entjie verder sê hy: "Op die een of ander mismaakte en wonderlike wyse het die wil homself inderdaad deur die sonde nog slegter laat ontaard en vir homself noodwendigheid geskep, sodat die noodwendigheid die wil nie kan verontskuldig as dit vrywillig is nie, en die wil die noodwendigheid ook nie kan uitsluit as dit tot die sonde verlei is nie. Want so is hierdie noodwendigheid tog in 'n sekere sin vrywillig".45 Daarna sê hy dat ons deur 'n juk gedruk word - en dit nogtans deur geen ander juk as die juk van vrywillige slawerny nie. Hy sê dan dat ons vanweë ons slawerny ellendig, en vanweë ons wil sonder verskoning is. Want hoewel die wil vry was, het hy van homself 'n kneg van die sonde gemaak. Ten slotte sê hy: "So word die siel op 'n wonderbaarlike en bose wyse onder hierdie vrywillige en verkeerdelik vrye noodwendigheid as kneg maar ook as vry beskou: as kneg vanweë die noodwendigheid en as vry vanweë die wil. Dit is te meer wonderbaarlik en ellendig omdat die wil skuldig is omdat dit vry is; en 'n kneg omdat dit skuldig is; en hierdeur is die wil 'n kneg omdat dit vry is".46
Hieruit kan my lesers sekerlik agterkom dat ek nie iets nuuts aanvoer nie. Godvrugtige mense het eertyds daaroor saamgestem en Augustinus het dit aan die lig gebring. Daarna is dit byna 'n duisend jaar lank in die kloosters aanvaar. Aangesien Lombardus egter nie geweet het hoe om tussen noodwendigheid en dwang te onderskei nie, het hy die stof vir 'n verderflike dwaling voorslen.47
6. Dit is God Alleen wat die Goeie Werk van die Vernuwing in ons Begin en ook Voleindig.←⤒🔗
Aan die ander kant is dit die moeite werd om na te dink oor die aard van die hulpmiddel van God se genade waardeur die bedorwenheid van die natuur reggestel en genees word. Want wanneer die Here ons te hulp snel en iets wat ons ontbreek, aan ons skenk; wanneer dit duidelik is wat die geaardheid van sy werk in ons is, sal dit ook onmiddellik duidelik word wat ons eie gebrek in teenstelling daarmee is.
Wanneer die apostel aan die Filippense sê dat hy daarop vertrou dat Hy wat 'n goeie werk in hulle begin het, dit sal voleindig tot op die dag van Jesus Christus,48 laat hy geen twyfel daaroor dat hy met die begin van die goeie werk juls die oorsprong van hulle bekering, wat in die wil is, aandui nie. God begin dus die goeie werk in ons deur die liefde, begeerte en die ywer vir geregtigheid in ons harte op te wek, of, om juister te praat, deur ons harte te buig na, te vorm vir en te rig op geregtigheid. Hy volbring sy goeie werk deur ons krag te gee om te volhard. Om egter te verhoed dat iemand 'n uitvlug sou soek en sê dat die goeie werk deur God begin word omdat die wil, wat op-sigself swak is, deur Hom gehelp word, verklaar die Gees elders wat die wil vermag as dit aan homself oorgelaat word. Hy sê: "Ek sal julle 'n nuwe hart gee; Ek sal 'n nuwe gees in julle binneste stel: en Ek sal die hart van klip uit julle vlees wegneem en aan julle 'n hart van vlees gee; en Ek sal my Gees in julle binneste stel en maak dat julle in my insettinge wandel".49 Wie sal dan nog sê dat die swakheid van die mens se wil deur Sy bystand versterk word om daardeur kragdadig daarna te strewe om die goeie te kies50 ten spyte daarvan dat die mens se wil volkome verander en nuut gemaak moet word?
As daar in 'n klip 'n mate van sagtheid is, sodat dit met bystand sagter gemaak kan word en 'n mate van buigsaamheid toelaat, dan sal ek erken dat die mens se hart tot die gehoorsaamheid van dit wat reg is, gelei kan word, mits die onvolmaaktheid in die mens se hart deur die genade van God weer volmaak word. As die Skrif met die gelykenis wou aandui dat daar nooit iets goeds uit ons harte uitgepers sal word, behalwe as dit heeltemal 'n ander hart word nie, moet ons nooit iets wat God net vir Homself opeis, tussen Hom en ons verdeel nie. As 'n klip dus in vleis verander wanneer God ons tot die ywer vir dit wat reg is, bekeer, sal alles wat aan ons wil eie is, vernietig word. Dit wat dan in die plek daarvan kom, kom volledig van God af.
Ek sê dat die wil vernietig word, nie vir sover dit die wil is nie, omdat in die bekering van die mens dit wat aan sy eerste natuur eie is, ongeskonde bly. Ek sê ook dat dit nuut gemaak word - nie sodat dit sou begin om 'n wil te wees nie maar om.van 'n bose wil in 'n goeie wil te verander. Ek verklaar dat dit volledig deur God gedoen word, omdat ons volgens die getuienis van dieselfde apostel nie bekwaam is om iets uit onsself te bedink nie.51 Daarom leer hy elders dat God'n swak wil nie alleen wil onderskraag of 'n bedorwe wil wil regstel nie, maar dat Hy die wil ook in ons werk.52 Daaruit kan maklik afgelei word wat ek alreeds gesê het, naamlik dat alles wat goed is in ons wil, die werk van genade alleen is. In hierdie betekenis sê hy elders dat dit God is wat alles in almal werk.53 Want hy redeneer nie daar oor die algemene regering van God nie, maar hy loof die enige God vir al die goeie gawes wat die gelowiges het. Deur egter te sê al die goeie gawes maak hy God sekerlik van begin tot end ook die Skepper van die geestelike lewe. Vroeër het hy met ander woorde dieselfde geleer toe hy gesê het dat die gelowiges uit God in Christus is.54 Daar prys hy openlik die nuwe skepping aan waarin alles wat aan die gewone natuur behoort, vernietig word. Want ons moet daarin ook die verskil tussen Adam en Christus verneem wat hy elders duideliker verklaar wanneer hy ons leer dat ons God se maaksel is, geskep in Christus tot goeie werke wat God voorberei het sodat ons daarin kan wandel.55 Hy wil om hierdie rede bewys dat ons saligheid onverdiend is, omdat die begin van alle goed uit die tweede skepping ontstaan, wat ons in Christus verkry. As ons egter uit onsself selfs die geringste verrnoë gehad het, sou ons ook 'n aandeel daarin gehad het om die saligheid te verdien. Maar om ons volkome hulpeloos te maak redeneer hy dat ons geen verdienste het nie, omdat ons in Christus geskep is tot die goeie werke wat God voorberei het. Met hierdie woorde dui hy weer eens aan dat elke aspek van goeie werke heel van die begin af aan God behoort.
Nadat die profeet in die Psalm gesê het dat ons God se maaksel is, voeg hy daarom dadelik die volgende by om geen skeiding te maak nie: "Ons het onsself nie gemaak nie".56 Uit die verband blyk dit dat hy van die wedergeboorte, wat die beginsel van die geestelike lewe is, praat, wanneer onmiddellik daarop volg dat ons sy volk is en die kudde van sy weiding. Ons sien hoedat hy, nie daarmee tevrede om bloot die lof vir ons saligheid aan God te gee nie, ons uitdruklik van alle gemeenskap in sy lof uitsluit. Dit is asof hy sê dat die mens nie 'n greintjie oor het waarop hy kan roem nie, omdat alles van God af kom.
7. Die Mens se wil is as "lakei' van die Genade nie 'n Medewerker in Goeie Werke nie.←⤒🔗
Maar miskien sal daar tog mense wees wat toegee dat die wil, deur eie geaardheid van die goeie afkerig, slegs deur die krag van die Here tot inkeer gebring word maar dat dit tog so toegerus is dat dit ook 'n eie funksie in sy optrede het. So leer Augustinus byvoorbeeld dat die genade aan elke goeie werk voorafgaan, terwyl die wil dit soos 'n lakei vergesel en dit nie soos 'n gids vooruitloop nie.57 Hoewel die heilige man dit nie met 'n slegte bedoeling gesê het nie, verdraai Petrus Lombardus dit.58 Sover dit my aangaan, hou ek egter vol dat daar sowel in die woorde van die profeet wat ek aangehaal het, as in ander aanhalings duidelik twee dinge aangedui word, naamlik dat die Here ons bedorwe wil regstel of eerder vernietig en dat Hy 'n goeie wil van Hom af in die plek daarvan stel. Ek laat jou wel toe om die wil 'n lakei van die genade te noem vir sover die genade daaraan voorafgaan, maar omdat die herskepping van die wil God se werk is, word dit verkeerdelik aan die mens toegeskryf dat hy die genade wat voorafgaan, met 'n wil wat daarop volg, gehoorsaam. Daarom het Chrysostomos verkeerdelik geskryf dat die genade sonder die wil en die wil sonder die genade niks kan uitrig nie.59 Net asof die genade nie juis die wil werk nie, soos ons so pas na aanleiding van Paulus gesien het.60
Wanneer Augustinus die mens se wil 'n lakei van die genade noem, was sy doel trouens nie om aan die wiln sekondêre funksie in die verrigting van goeie werk toe te ken nie. Omdat sy doel slegs was om die uiters bose leer van Pelagius te weerlê, wat die eerste oorsaak van die saligheid in die mens se verdienste gestel het, voer hy slegs aan wat vir die saak genoegsaam was, naamlik dat die genade voorkeur het bo alle verdienste. Intussen laat hy die tweede vraag in verband met die voortgesette werking van die genade agterweë; hy behandel dit egter elders voortreflik. Want wanneer hy soms sê dat die Here voor iemand wat onwillig is, kom, sodat hy wel wil, en dat Hy agter iemand aankom wat gewillig is, sodat hy nie tevergeefs wil nie,61 maak hy God ten volle die bron van die goeie werk. Sy opvattings in verband hiermee is so duidelik dat dit nie 'n lang redenasie nodig het nie. Hy sê: "Die mens span hom in om iets in sy wil te vind wat sy eie is en wat nie uit God ontspring nie, en ek weet nie hoe dit gevind kan word nie".62 In die eerste boek teen Pelagius en Caelestius verklaar hy die woorde van Christus: "Elkeen wat dit van my Vader gehoor het, kom na My toe".63 Daarop sê hy: "Die mens se oordeel word so onderskraag dat dit nie alleen weet wat om te doen nie, maar dat dit ook doen wat dit weet. Wanneer God ons dus leer dat dit nie deur die letter van die wet nie maar deur die genade van die Gees is, leer Hy so dat elkeen wat dit wat hy leer ken het, nie soseer met sy verstand sien nie maar dit ook deur sy wil begeer en met sy handeling volbring".64
8. Die Skrif leer dat dit 'n Onverdiende Genade van God is as ons 'n Regskape wil ontvang.←⤒🔗
Aangesien ons nou met die spil van die saak besig is, moet ons die kern van die geding met enkele baie duidelike getuienisse slegs uit die Skrif vir ons lesers bewys en aan hulle voorlê. Om te verhoed dat iemand ons daarvan sou beskuldig dat ons die Skrif kwaadwillig verdraai, moet ons daarna aantoon dat die waarheid waarvan ons verklaar dat dit uit die Skrif geput is, nie deur die getuienis van dié heilige - ek bedoel Augustinus gekortwiek word nie. Want ek reken nie dat dit enige doel dien om al die getuienis wat tot bekragtiging van ons opvatting uit die Skrif aangevoer kan word, een vir een op 'n ry aan te haal nie, mits die weg maar net met die keurigste aanhalings geplavei word om al die ander wat versprei oor die hele Skrif gelees kan word, te begryp. Ek dink ook dat ek nie taktloos sal handel as ek openbaar dat ek heeltemal met hom saamstem nie. Hy is trouens 'n man wat tereg groot gesag en instemming onder gelowiges geniet.
Dit is in elk geval baie duidelik en seker dat die goeie uit geen ander bron as net uit God alleen ontstaan nie. Want ons sal by niemand anders as die uitverkorenes 'n wil vind wat tot die goeie geneig is nie. En tog moet die oorsaak vir hulle uitverkiesing buite die mens gesoek word. Daaruit kan afgelei word dat 'n regskape wil nie 'n besitting van die mens uit homself is nie, maar dat dit voortvloei uit dieselfde welbehae waardeur ons nog voor die skepping van die wêreld uitverkies is.65 Hierby kom 'n tweede soortgelyke rede. Aangesien die hele Skrif uitroep dat dit 'n onverdiende gawe van God is, volg daaruit dat dit louter genade van God is wanneer ons begin om die goeie te wil omdat ons van nature van harte tot die kwaad geneig is. Die Here stel dus die volgende twee aspekte in die bekering van sy volk: dat Hy hulle hart van klip moet wegneem en dat Hy aan hulle 'n hart van vlees moet gee.66 Daarmee getuig Hy openlik dat alles wat uit onsself is, vernietig moet word, sodat ons tot sy geregtigheid bekeer kan word. Alles wat egter in die plek daarvan kom, kom uit Hom. Hy verklaar dit ook by verskeie geleenthede. Want in Jeremia sê Hy: "Ek sal aan hulle een hart gee en een weg om My altyd te vrees al hulle dae".67 'n Bietjie later sê Hy: "Ek sal die vrees vir My Naam in hulle harte gee sodat hulle nie van My sal afwyk nie"68 En weer eens ook by Esegiël: "Ek sal aan hulle een hart gee, en Ek sal 'n nuwe gees in hulle binneste gee. Ek sal die hart van klip uit hulle vlees verwyder en Ek sal aan hulle 'n hart van vlees gee".69 Hy sou nie duideliker alle goed en regskapenheid wat nog in ons wil is, vir Homself kon opeis en van ons kon wegneem, as wanneer Hy getuig dat ons bekering die skepping van 'n nuwe gees en 'n nuwe hart is nie. Want hieruit volg altyd dat daar niks goeds uit ons wil na vore kom voordat dit hervorm is nie. In soverre ons wil nog goed is, ontstaan dit na die hervorming daarvan uit God en nie uit onsself nie.
9. Die Gebede van die Heiliges in die Skrifbewys dat God Goeiewerke in ons Begin en Volbring.←⤒🔗
Ons lees ook dat die gebede van die heiliges so ingerig was. Salomo het byvoorbeeld gesê: "Die Here neig ons hart tot Hom om sy gebooie te onderhou".70 Hy dui hier op die halstarrigheid van ons hart, wat van nature teen die wet van God in verset kom as dit nie gebuig word nie.
Dieselfde inhoud kom ook in 'n Psalm voor: "Neig my hart tot u getuienisse".71 Ons moet immers altyd let op die teenstelling tussen die verkeerde gesindheid van ons harte, waardeur ons tot weerspannigheid gedryf word, en hierdie regstelling waardeur ons tot gehoorsaamheid gedwing word. Toe Dawid gevoel het dat hy 'n tyd lank van die rigtinggewende genade beroof was vra hy God om 'n rein hart in hom te skep en in sy binneste 'n regskape geeste hernuwe.72 Erken hy dan nie daarmee dat sy hart heeltemal vol onreinheld is en dat sy gees deur 'n skewe bedorwenheid verwronge is nie? Wanneer hy die reinheid waarvoor hy bid, 'n skepping van God noem, dui hy dan nie aan dat hy dit ten volle van God ontvang nie? As iemand hierteen die beswaar sou opper dat sy gebed juis 'n teken van sy godvrugtige en heilige gesindheid is, is 'n oplossing van die probleem voor die hand liggend: hoewel Dawid reeds ten dele bekeer was, vergelyk hy tog sy vorige toestand met die droewige val wat hy self ervaar het. Hy neem dus die rol aan van iemand wat van God vervreem is, en bid tereg dat alles wat God deur die wedergeboorte aan sy uitverkorenes gee, ook aan hom gegee moet word. Asof hy dus dood was, wens hy dat hy weer geskep moet word om van die slawerny van die Satan in 'n werktuig van die Heilige Gees verander te word.
Die bose luste van ons hooghartigheid is in elk geval sonderling wanskapig. Die Here stel geen strenger eis aan ons as om sy sabbat met die grootste eerbied te onderhou73 deur van ons werk te rus nie. Maar niks kan met groter moeite van ons verkry word as om die werke wat ons opgedra is, te los74 en die regmatige plek daarvoor aan God se werke af te staan nie. As ons dwaasheid nie vir ons 'n struikelblok was nie, sou Christus vir ons duidelik genoeg getuig het dat sy genadegawes nie moedswillig onderdruk mag word nie. Hy sê: "Ek is die wynstok en julle die lote.75 My Vader is die boer.76 Net soos die loot geen vrug van homself kan dra as dit nie in die wynstok bly nie, so julle ook nie as julle nie in My bly nie,77 want sonder My kan julle niks doen nie".78 As ons dan nie uit onsself vrug kan dra nte, net soos 'n loot nie kan uitspruit as dit van die aarde losgeskeur en sonder water is nie, moet ons nie meer vra watter bekwaamheid ons natuur het om die goeie te doen nie. Sy slotsom is ondubbelsinnig: "Sonder My kan julle niks doen nie". Hy sê nie dat ons te swak is om onsself te help nie, maar Hy maak ons heeltemal tot niet en sluit elke indruk van selfs die geringste vermoë uit. As ons dan in Christus ingelyf is en vrugte dra soos 'n wynstok wat uit die vog van die aarde, uit die dou van die hemel en uit die warmte van die son die krag ontvang om te groei, bemerk ek dat daar vir ons geen aandeel in goeie werke oorbly as ons dit wat aan God behoort, ongeskonde vir Hom laat nie. Die waardelose drogredenasie word verniet voorgehou dat sap en krag om vrugte te dra alreeds in die loot ingesluit is en dat dit daarom nie alles uit die aarde of uit sy penwortel put nie maar dat dit ook 'n eie bydrae lewer.79 Want Christus bedoel daarmee net dat ons waardelose droë hout is wanneer ons van Hom losgernaak is, omdat ons sonder Hom nie die vermoë het om goed te doen nie. So sê Hy ook elders: "Elke boom wat my Vader nie geplant het nie, sal uitgeroei word".80
Daarom skryf die apostel dit in die verwysing wat ons reeds aangehaal het, geheel en al aan Hom toe Hy sê: "Dit is God wat in julle die wil en die uitvoering daarvan werk".81 Die eerste deel van goeie werk is die wil; die tweede deel is 'n kragtige poging om dit tot uitvoer te bring. God is die Bewerker van albei. As ons dus in die wil of in die uitvoering daarvann vir onsself iets aanmatig, steel ons dit van die Here. As ons sou sê dat God ons swak wil te hulp kom, sou daar nog iets vir ons oorgelaatword. Wanneer daar egter gesê word dat Hy ons wil bewerk, word alles wat daarin goed is, reeds buite onsself gestel. Verder word ons wil deur die oorwig van ons vlees so oorbelas dat dit nie te voorskyn kan kom nie. Daarom het hy bygevoeg dat hy met inspanning moes volhard om met die probleme van sy stryd te worstel en dit af te handel. Want dit wat hy elders leer, naamlik dat dit die enige God is wat alles in almal bewerk, sou andersins nie kon bestaan nie.82 Soos ons tevore geleer het, is die hele verloop van die geestelike lewe daarby inbegrepe. Nadat Dawid gebid het dat die weë van God aan hom geopenbaar moet word sodat hy in sy waarheid kon wandel, voeg hy daarom dadelik by: "Verenig my hart tot die vrees van u Naam".83 Met hierdie woorde gee hy te kenne dat selfs opreggesindes aan soveel afleidings blootgestel is, dat hulle maklik kan kwyn en vergaan as die krag om te volhard nie aan hulle gegee word nie. Nadat hy elders gebid het dat sy skrede gerig moet word om die Woord van God te bewaar, vra hy ook dat die krag aan hom gegee moet word om die stryd te stry. Hy sê: "Laat geen ongeregtigheid oor my heers nie".84 God begin en volbring sy goeie werk in ons op so 'n wyse dat dit sy werk is, dat 'n mens se wil 'n liefde vir dit wat regskape is, ontwikkel; dat dit geneig word om hom daarvoor te beywer en dat dit aangepor en voortgestu word in sy poging om dit te verkry, verder: dat sy keuse, sy ywer en sy poging nie moeg word nie maar voortgaan om dit te volvoer; laastens dat die mens standvastig daarmee voortgaan en tot die einde toe daarin volhard.
10.85Die Gedagte dat God net diegene trek wat na Hom getrek wil word, is onbybels.86←⤒🔗
Hy beweeg ons wil - nie soos mense baie eeue lank geleer en geglo het dat ons daarna kan kies om die beweging te gehoorsaam of te dwars boom nie maar kragdadiglik daarop in te gryp. Daarom moet ons Chrysostomos se opvatting wat hy so dikwels herhaal, verwerp. Hy sê: "God trek net iemand wat gewillig is om na Hom getrek te word".87 Daarmee suggereer hy dat die Here slegs sy hand na ons uitstrek en dat Hy dan daarop wag of dit ons behaag om deur Hom gehelp te word. Ons gee toe dat dit die mens se toestand was toe hy nog staande gebly het, dat hy hom na die een of na die ander kant kon wend. Aangesien hy egter met sy voorbeeld aangedui het hoe jammerlik dit met die mens se oordeelsvryheid gesteld is as God nie die wil en die vermoë in ons werk nie, wat sal dan van ons word as sy genade in so 'n geringe maat aan ons geskenk word? Ja, deur ons ondankbaarheid verduister en verkleineer ons sy genade! Want die apostel leer ons nie dat die genade van 'n goeie wil vir ons aangebied word as ons dit wil aanneem nie, maar dat Hy juis die wil in ons bewerk. Dit beteken net dat die Here deur sy Gees ons harte rig, buig en beheer en dat Hy daaroor heers soos oor sy eie besittings. Deur Esegiël belowe Hy trouens nie dat Hy 'n nuwe gees aan sy uitverkorenes sal gee bloot om by magte te wees om volgens voorskrifte te wandel nie, maar sodat hulle werklik daarin kan wandel.88 Ons kan Christus se uitspraak ook nie anders verstaan nie wanneer Hy sê: "Elkeen wat dit van my Vader, gehoor het, kom na My toe".89 Daarmee leer ons naamlik dat die genade van God uit Homself kragdadig werk, soos Augustinus verklaar.90
Die Here ag nie almal sonder onderskeid hierdie genade waardig nie, soos wat, as ek my nie misgis nie, Occam oor die algemeen roem, naamlik dat sy genade vir niemand geweier word wat soveel doen as wat hy kan nie.91 Mense moet wel geleer word dat die goedertierenheid van God sonder uitsondering beskikbaar is vir almal wat daarna soek. Aangesien slegs die mense uiteindelik daarna begin soek aan wie die hemelse genade dit gegun het, moet ons selfs nie eens hierdie deeltjie uit die lof van God wegneem nie. Dit is in elk geval die uitverkorenes se voorreg om deur die Gees van God weergebore te word en onder sy leiding aangedryf en regeer te word. Daarom dryf Augustinus tereg die spot met die mense wat funksies van die wil vir hulleself toe-eien, en hy bestraf ook ander wat reken dat die getuienis van die verkiesing uitn 'genade, wat 'n besondere gawe is, sonder onderskeid aan alle mense gegee word. Hy sê: "Die natuur behoort aan almal maai nie die genade nie". Hy noem die skerpsinnigheid van die mens deurskynend soos glas, omdat dit van blote doelloosheid skitter wanneer iets wat God gee aan wie Hy dit wil gee, algemeen na almal uitgebrei word.92 Elders merk hy op: "Hoe het julle tot God gekom? Deur te glo! Vrees dan dat jy nie weg van die regte pad af verlore gaan wanneer jy jou aanmatig dat jy die regte pad gevind het nie! Jy sê: 'Ek het uit eie goeddunke tot God gekom, ek het deur my eie wil na Hom gekom'. Waarom blaas jy jouself daaroor op? Wil jyweet dat ook dit aan jou gegee is? Luister dan na Hom wanneer Hy roep: 'Niemand kom na Mytoe as my Vader hom nie trek nie'."93 Uit Iohannes se woorde kan daar onteenseglik afgelei word dat die harte van godvrugtige mense so kragdadig van Godsweë geregeer word dat hulle Hom met onversetlike drang volg. Hy sê. "Iemand wat uit God gebore is, kan nie sonde doen nie, want die saad van God bly in hom".94 Want ons bemerk dat 'n beweging tot die halfpadmerk soos die Sofiste versin en wat die mens vrywillig kan gehoorsaam of verwerp, duidelik uitgesluit is wanneer die kragdadige standvastigheid om te volhard vermeld word.
11. Volharding is nie 'n Beloning nie maar 'n uitsluitlike Gawe van God.←⤒🔗
In verband met volharding sou daar geen twyfel daaroor bestaan het dat ons dit as 'n vrye gawe van God moet beskou nie. Die verderflike dwaling het egter in krag toegeneem, naamlik dat dit volgens die verdienste van die mens aan elkeen uitgedeel word namate hy sy dankbaarheid vir die eerste genade betoon. Die dwaling het daaruit ontstaan dat die mense gedink het dat hulle by magte is om die genade van God wat Hy hulle aanbied, te verwerp of te aanvaar. Sodra ons hierdie opvatting kafdraf, sal die dwaling vanself in duie stort. Die dwaling is egter tweeledig. Want benewens die feit dat hulle leer dat ons dankbaarheid vir die eerste genade en die regmatige aanwending daarvan met daaropvolgende genades beloon word, voeg hulle ook by dat die genade alleen nie in ons werk nie maar dat dit slegs met ons saamwerk.95
In die eerste geval moet ons die volgende opvatting huldig: Van dag tot dag verryk en oorlaai die Here sy diensknegte met nuwe genadegawes omdat die werk wat Hy in hulle begin het, vir Hom aangenaam en welbehaaglik is. In hulle vind Hy iets wat Hy met groter genadegawes kan verryk. Die uitspraak dat aan een wat het, nog gegee sal word,96 het ook hierdie strekking. Net so ook: "Mooi so, goeie slaaf; omdat jy oor weinig getrou was, sal ek jou oor veel aanstel".97
Hier moet ons egter teen twee dinge waak, naamlik om nie die bewering te maak dat die regmatige gebruik van die eerste genade met daaropvolgende genades beloon word nie.98 Dit sou wees asof die mens deur sy eie inspanning die genade van God kragtig sou kon maak. Verder moet ons die beloning nie so hoog ag dat die genade van God sou ophou om onverdiende genade te wees nie. Ek erken dus dat gelowiges moet verwag dat hulle later met groter genadegawes oorlaai sal word namate hulle die genadegawes wat daaraan voorafgaan, beter gebruik. Ek sê egter dat die gebruik daarvan ook van die Here kom en dat die belonging daarvan uit sy vrye welwillendheid spruit. Hulle gebruik die holruggeryde onderskeid tussen werkende en meewerkende genade verkeerd en ongelukkig. Augustinus het dit wel ook gebruik. Hy het dit egter met 'n gepaste omskrywing versag toe hy gesê het dat God meewerkend volbring wat Hy werkend begin, en dat dit een en dieselfde genade is maar dat dit so genoem word na aanleiding van die verskillende maniere waarop dit werk.99 Daaruit volg dat hy nie tussen God en ons skeiding maak net asof daar 'n wedersydse sameloop van God en ons eie werksaamheid sou wees nie, maar dat hy die vermenigvuldiging van die genade aantoon.
Dit wat hy elders sê, het ook dieselfde strekking. Hy sê naamlik dat baie gawes van God aan die goeie wil van die mens voorafgaan maar dat die goeie wil juis een daarvan is. Daaruit volg dat hy niks aan die wil oorlaat wat hy vir homself sou kon aanmatig nie. Dit het Paulus ook uitdruklik verduidelik. Want toe hy gesê het dat dit God is wat die wil en die volvoering in ons werk, het hy dadelik bygevoeg dat God albei die dinge volgens sy goeie wil doen.100 Met hierdie verklaring gee hy te kenne dat dit onverdiende milddadigheid is.
Op die bewering wat hulle gewoonlik maak dat ons inspanning tot 'n daaropvolgende genade meewerk nadat ons plek ingeruim het vir die eerste genade,101 is my antwoord soos volg: As hulle daaronder sou verstaan dat ons, vanaf die stadium waarop ons eens en vir altyd deur die krag van God getem is om sy geregtigheid te gehoorsaam, gewillig voortgaan en geneig is om die werking van sy genade te volg, sou ek my stem nie daarteen verhef nie. Want dit is baie gewis en seker dat daar waar God se genade regeer, so 'n bereidwilligheid is om Hom te gehoorsaam. Waaruit ontstaan dit egter anders as uit die feit dat die Gees van God, wat oral en altyd dieselfde is, die mens se geneigdheid om God te gehoorsaam, wat Hy in die begin geskep het, koester en versterk om standvastig daarin te volhard? Maar as hulle meen dat die mens uit homself die krag kan put om daaruit met die genade van God saam te werk, is hulle besig met 'n uiters verderflike wanvoorstelling.
12. Die pousgesindes vertolk Paulus se woorde in 1 Kor. 15:10 verkeerd.←⤒🔗
Uit onkunde verdraai hulle hier die apostel se stelling: "Ek het meer as hulle almal gewerk; nogtans nie ek nie, maar die genade van God wat met my is".102 Want hulle neem dit so op dat dit na 'n ietwat aanmatigende stelling kon lyk dat hy homself bo almal verhef, maar dat hy dit wel regstel wanneer hy die genade van God daarvoor loof. Hulle beweer dan dat hy dit egter so doen dat hy homself 'n medewerker van God se genade noem. Dit is verbasend dat soveel mense wat andersins nie sleg is nie, in hierdie doringdraad vasgeloop het. Want die apostel skryf nie dat die genade van die Here met hom saamgewerk het om sodoende van homself 'n deelgenoot in sy werk te maak nie. Met sy regstelling skryf hy eerder al die lof vir die werk aan die genade alleen toe wanneer hy sê: "Dit is nié ek wat gewerk het nie, maar die genade van God wat my daarin bygestaan het".103 Die dubbelsinnigheid van sy woorde het hulle egter om die bos gelei, maar die verkeerde vertaling daarvan nog meer, omdat die funksie van die Griekse lidwoord buite rekening gelaat is.104 Want as 'n mens dit woordeliks vertaal, sê hy nie dat die genade sy medewerker was nie maar dat die genade wat by hom was, die bewerker van al die dinge was. Al sou dit bondig wees, leer Augustinus ons dit ook duidelik. Hy sê: "Die goeie wil van die mens gaan baie gawes van God vooraf maar nie alle gawes nie. Die goeie wil wat daaraan voorafgaan, is egter self ook een van die goeie gawes", Daarop volg sy rede hiervoor: "Want daar is geskrywe: 'sy barmhartigheid het voor my uitgegaan'105 en 'sy barmhartigheid sal my volg';106 dit gaan vooraf aan iemand wat dit nie wil nie, sodat hy dit wil; en dit volg op iemand wat dit wil, sodat hy dit nie vrugteloos wil nie".107 Bernardus stem met hom saam wanneer hy die kerk voorstel asof dit sê: "Trek my selfs teen my sin na U toe, sodat U my gewillig kan maak; trek my in my traagheid na U toe, sodat U my kan laat hardloop!''108
13. Ook Augustinus het geleer dat die Genade nie maar net aan die mens aangebied word nie, maar dat dit juis die Genade is wat die Keuse en die Wil in ons Hart skep.←⤒🔗
Laat ons nou na Augustinus se eie woorde luister wanneer hy hieroor praat, sodat die Pelagiane van ons tyd, dit is die Sofiste van die Sorbonne, ons nie miskien soos gebruiklik daarvan beskuldig dat al die mense van ouds teen ons is nie.109 Daarin boots hulle maar net hulle vader, Pelagius, na, deur wie Augustinus ook eenmaal in dieselfde arena ingesleep is. In sy boek aan Valentinus Oor bestraunoing en genade behandel hy die onderwerp baie breedvoerig.110 Ek sal dit bondig maar tog in sy eie woorde weergee. Hy sê dat die genade om in die goeie te bly staan aan Adam gegee is om dit te doen as hy wou, maar dat dit aan ons gegee word sodat ons wil en sodat ons deur ons wil ons begeerte kan oorwin. Adam het dus die vermoë gehad om staande te bly as hy wou, maar nie die wil om staande te bly nie. Aan ons word egter die wil en die vermoë gegee. Adam se eerste vryheid was die vermoë om nie te sondig nie, ons vryheid is baie groter, naamlik die vermoë dat ons nie kan sondig nie.111 Om egter te verhoed dat die opvatting sou ontstaan dat hy oor die toekomstige volmaaktheid na die geluksaligheid praat – soos Lombardus dit verkeerdelik verdraai -, ruim hy hierdie probleem 'n bietjie later uit die weg. Hy sê: "Want die wil van die heiliges word so deur die Heilige Gees aangesteek dat hulle dit daarom kan omdat hulle dit wil; en dat hulle dit daarom wil omdat God dit in hulle werk dat hulle dit so wil. Want as elkeen se wil in so 'n groot swakheid waarin God se krag nogtans volbring moet word om hulle hoogmoed te onderdruk,112 aan homself oorgelaat sou word om met die bystand van God die vermoë daartoe te hê as hy wil en nie sodat God in hom kan werk om dit te wil nie, sou elkeen se wil as gevolg van sy swakheid voor soveel versoekinge geswig het, en daarom sou hulle nie die vermoë gehad het om te volhard nie. Die swakheid van die mens se wil is dus onderskraag sodat dit onafwykbaar en onafskeibaar deur die genade van God aangedryf word en daarom nie sou beswyk nie al sou dit ook swak wees". Daarop behandel hy baie uitvoerig die wyse waarop ons harte noodwendig die drang wat God gewerk het, volg. Hy sê wel dat die Here mense deur hulIe wil trek, maar dit is 'n wil wat Hy self werk.113
Nou het ons uit Augustinus se eie mond die getuienis wat ons veral wou kry, naamlik dat die genade nie maar net deur die Here aangebied word sodat elkeen dit na willekeur kan aanvaar of verwerp nie, maar dat dit juis die genade is wat die keuse en die wil in ons harte skep. Gevolglik is elke goeie werk wat daarna volg, die vrug en werking van die genade, en dit het geen ander wil om dit te gehoorsaam as die wil wat hy self gemaak het nie. Want dit is ook sy woorde op 'n ander plek, naamlik dat niks anders as die genade elke goeie werk in ons teweegbring nie.114
14. Die mens se wil verkry nie deur sy Vryheid Genade nie maar deur Genade sy Vryheid.←⤒🔗
Elders sê hy dat die genade nie die wil tot niet maak nie maar dat dit 'n slegte wil in 'n goeie verander en dit onderskraag wanneer dit 'n goeie wil is.115 Hiermee dui hy slegs aan dat die mens nie so na God getrek word dat hy sonder ontroering van sy hart, as't ware deur 'n impuls van buite af aangedryfword nie. Hy dui tewens aan dat ons harte van binne af so ontroer word dat ons Hom van harte gehoorsaam. Hy skryf in hierdie trant aan Bonifacius dat dit besonderlik en onverdiend aan die uitverkorenes gegee word, en sê: "Ons weet dat die genade van God nie aan alle mense gegee word nie en dat dit aan die mense aan wie dit gegee word, nie uit verdienste van hulle werke of uit verdienste van hulle wil nie maar uit onverdiende genade gegee word. Ons weet ook dat dit volgens die regverdige oordeel van God nie aan die mense gegee word aan wie dit nie gegee word nie".116
In dieselfde brief bestry hy moedig die opvatting dat daaropvolgende genade vir die verdienstes van die mens betoon word, omdat hulle hulle dan waardig sou betoon deur nie die eerste genade te verwerp nie.117 Want hy wil hê dat Pelagius moet erken dat ons in elke werk genade nodig het en dat ons werke nie vergeld word nie sodat dit waarlik genade kan wees. Die onderwerp kan egter nie bondiger saamgevat word as wat hy dit in die agtste hoofstuk van sy boek aan Valentinus Oor bestrawwing en genade doen nie. Daar leer hyons in die eerste plek dat die mens se wil nie deur sy vryheid die genade verkry nie maar deur die genade sy vryheid; dat dit deur dieselfde genade gevorm word om te bly voortbestaan wanneer die genade 'n stempel van vreugde daarop afgedruk het; dat dit verder deur onoorwinlike krag versterk word; dat dit nooit sal beswyk as die genade daaroor heers nie maar dat dit dadelik in duie sou stort as die genade dit sou verlaat. Dat dit uit onverdiende barmhartigheid van die Here tot die goeie verander word, en wanneer dit verander is, daarin volhard. Dat die bestiering van die mens se wil na die goeie en sy bestendigheid na die bestiering alleen van die wil van God, en van geen verdienstes van die mens nie, afhang.118
Oordeelsvryheid - as ons dit so mag noem - van so 'n aard word dus vir die mens gelaat, soos hy elders beskrywe. Hy sê dat dit van so 'n aard is dat dit hom slegs deur die genade tot God kan bekeer en in God staande kan bly en dat dit van sy genade al die krag ontvang wat dit het.119