God alleen is regverdig. Hy maak iemand wat deur die werk van die Heilige Gees in Jesus Christus glo, ook regverdig en deelagtig aan Sy geregtigheid. Alle aspekte van ons saligheid is dus onverdiende genade van God. Iemand wat op eiegeregtigheid roem, verduister God se heerlikheid en maak God se beloftes tot niet.

1984. 7 bladsye.

Institusie van die Christelike Godsdiens (1559) - Boek 3 Hoofstuk 13 Twee aspekte waarop in die vrye regverdigmaking gelet moet word

1. Regverdigmaking sien op God se heerlikheid.🔗

En hier moet ons in die geheel besonderlik twee aspekte in aanmerking neem, naamlik dat die Here se heerlikheid ongeskonde en as't ware in onaangetaste staat1 vir Hom moet bly en dat ons gewetens voor sy oordeel kalm rus en aangename gerusstelling moet geniet. Ons sien hoe dikwels en hoe sorgvuldig die Skrif ons aanspoor om belydenis van ons lof aan God alleen te doen wanneer dit om geregtigheid gaan. En die apostel getuig dat dit ook die doel van die Here was toe Hy in Christus geregtigheid aan ons toebeskik het om daarin self sy eie geregtigheid te bewys.2 Hy voeg trouens dadelik daarna by wat die aard van hierdie bewys is, naamlik as erken word dat Hy alleen regverdig is en dat Hy iemand wat uit die geloof in Jesus Christus is, regverdig maak.3

Sien jy dat God se geregtigheid nie voldoende geroem word nie tensy Hy enersyds alleen regverdig geag word en Hy andersyds die genade van sy geregtigheid met mense wat dit nie verdien nie, deel? Om hierdie rede wil Hy dat elke mond gesnoer en die hele wêreld aan Hom onderwerp word.4 So lank die mens immers iets het om tot sy verdediging aan te voer, gaan daar iets van die heerlikheid van God verlore. In Esegiël leer Hy byvoorbeeld hoeveel sy Naam verheerlik word as ons ons ongeregtigheid erken. Hy sê: "Julle sal julle weë en al die oortredings waarmee julle julle verontreinig het, onthou en julle sal in julle eie oë walglik wees vanweë al die kwaad wat julle gedoen het. En julle sal weet dat Ek die Here is wanneer Ek om my Naam ontwil goed aan julle doen en nie volgens julle slegte oortredings nie".5 As dit dan in die ware kennis van God inbegrepe is dat ons verbrysel is omdat ons bewus is van ons eie ongeregtigheid en dat ons daaraan gedagtig is dat Hy aan ons goed doen ofskoon ons dit nie waardig is nie, waarom trag ons dan nog om tot groot nadeel vir onsself selfs die geringste deeltjie van die lof vir sy genadige goedertierenheid van die Here weg te neem? Jeremia poneer dieselfde stelling wanneer hy uitroep: "Laat die wyse nie roem in sy wysheid of die ryke in sy rykdom of die sterke in sy sterkte nie, maar laat hywatwil roem, hom in die Here beroem.''6 Gee hy dan nie hiermee te kenne dat iets van die heerlikheid van God tot niet gaan as die mens in homself roem nie? Paulus pas sekerlik sy woorde by hierdie gebruik aan wanneer hy leer dat al die aspekte van ons saligheid by Christus berus sodat ons in niks anders as in die Here mag roem nie.7 Hy dui daarmee trouens aan dat enigiemand wat reken dat hy selfs die geringste eie bydrae het, teen God opstaan en sy heerlikheid verduister.

2. Iemand wat op eie geregtigheid roem, ontneem God sy heerlikheid.🔗

Dit is inderdaad ook so. Ons roem nooit waarlik in Hom nie tensy ons die roem in onsself geheel en al laat vaar. Aan die ander kant moet ons dit as die algemene reël beskou dat almal wat op hulleself roem, teen God roem. Paulus is trouens van mening dat die wêreld eers aan God onderwerp word wanneer mense ten volle alle stof tot roem ontneem is.8 Wanneer Jesaja verklaar dat Israel in God regverdig sal wees, voeg hy dadelik ook die lof daarvoor by.9 Dit is asof hy gesê het dat die uitverkorenes deur die Here regverdig gemaak word met hierdie doel dat hulle in Hom en nie in iemand anders sou roem nie. In die voorafgaande vers het hy egter geleer hoe ons in die Here moet roem, naamlik dat ons moet sweer dat ons geregtighede in die Here is en dat Hy ons sterkte is.10 Let daarop dat dit nie maar 'n doodeenvoudige belydenis is wat van ons geëis word nie, maar 'n belydenis wat met 'n eed bekragtig is. Jy moet dus nie dink dat jy dit met 'n geveinsde sort nederigheid kan afhandel nie. Hier moet niemand homself ook daarmee probeer verontskuldig dat hy nooit op homself roem wanneer hy sy eie geregtigheid sonder 'n aanmatigende houding erken nie. So 'n selfwaardering kan nie anders as om selfvertroue te skep nie, en selfvertroue kan nie anders as om eie roem te baar nie.

Ons moet dus onthou om in die loop van ons hele bespreking van geregtigheid ons oë op hierdie doelstelling te hou, naamlik dat die roem op geregtigheid volledig en ongeskonde by die Here moet bly. Want soos die apostel getuig, het Hy sy genade in ons uitgestort om sy geregtigheid te bewys sodat Hy self regverdig is en sodat Hy hom wat uit die geloof in Christus is, regverdig kan maak.11 Nadat hy elders geleer het dat die Here aan ons die saligheid gegee het om die heerlikheid van sy Naam te bewys,12 het hy daarna as't ware by wyse van herhaling bygevoeg: "Uit genade is julle gered, en deur 'n gawe van God, nie deur die werke nie, sodat niemand mag roem nie".13 En wanneer Petrus ons vermaan dat ons tot die hoop op saligheid geroepe is om die deugde te verkondig van Hom wat ons uit die duisternis tot sy wonderbare lig geroep het,14 is sy bedoeling ongetwyfeld dat lotbetuigings alleen aan God so in die ore van die gelowiges moet weerklink dat hulle al die aanmatiging van hulle vlees in diep stilswye sal begrawe.

Samevattend kom dit dus hierop neer: dat die mens vir homself nie 'n krieseltjie geregtigheid sonder heiligskennis kan toe-eien nie omdat net soveel van die heeerlikheid van God se geregtigheid daaruit weggeneem en verwyder word.

3. Geregtigheid is 'n onverdiende gawe van God.🔗

As ons nou vra op watter manier ons gewete voor God gerusgestel kan word, sal ons vind dat daar geen ander metode is as dat onverdiende genade as 'n gawe van God aan ons gegee word nie. Laat Salomo se spreuk ons altyd te binne skiet: "Wie kan sê: 'Ek het my hart gereinig; ek is van my sonde gesuiwer'?"15 Daar is beslis niemand wat nie onder 'n eindelose hoop sondes begrawe word nie. Laat selfs die volmaakste mens sy gewete ondersoek en van sy dade rekenskap gee: wat sal die uitslag dan wees? Sal hy aangenaam onbesorg wees asof al sy sake met God goed ingerig is? Sal hy nie eerder deur verskriklike folteringe verskeur word wanneer hy agterkom dat die rede tot sy verdoemenis in homself aanwesig is as hy volgens sy werke geoordeel moet word nie? As sy gewete op God sien, moet dit noodwendig vaste vrede met sy oordeel hê of deur verskrikkings van die hel beetgepak word. In die bespreking van geregtigheid maak ons dus geen vordering as ons nie 'n geregtigheid stel deur die onwankelbaarheid waarvan ons siele in die oordeel van God onderskraag word nie. Wanneer ons siele iets het waarmee dit enersyds sonder om te bewe voor God se aangesig kan verskyn en andersyds sonder om verslae te wees sy oordeel kan ontvang, dan moet ons weet dat ons uiteindelik 'n ongeveinsde geregtigheid gevind het. Die apostel dring dus nie sonder rede so heftig op hierdie aspek aan nie, en ek wil sy woorde eerder as myne gebruik. Hy sê: "As die belofte van erflating uit die wet is, is die geloof waardeloos en die belofte tot niet gemaak".16 Eers stel hy dat geloof waardeloos en nutteloos is as die belofte van geregtigheid op die verdienstes van ons werke sien of van die gehoorsaamheid aan die wet afhang. Niemand sou trouens ooit onbesorg daarin gerusstelling kon vind nie. Niemand sou immers ooit vas en seker by homself kon bepaal dat hy aan die wet voldoen het nie, net soos niemand gewis ooit deur sy werke genoegsaam kan voldoen nie. En om nou nie bewyse daarvoor ver te soek nie: elkeen kan vir homself daarvan getuig as hy dit maar net reguit in die oë wil kyk. En hieruit blyk in watter diep en duister skuilhoeke huigelary mense se  gemoedere begrawe wanneer hulle so onbesorg toegeeflik is teenoor hulleself dat hulle nie aarsel om hulle vleiery teenoor God se oordeel te stel nie, net asof hulle Hom 'n regstilstand aansê.

Maar 'n heel andersoortige besorgdheid beangs en pynig gelowiges wat hulleself opreg ondersoek. Wanneer elkeen vir homself begin bereken met watter groot skuldlas hy nog oorlaai is en hoe ver hy nog weg is daarvan om aan die voorwaarde wat hom opgelê is, te voldoen, sou daar eers vertwyfeling en uiteindelik wanhoop in almal se gemoedere opstoot. Kyk, nou is die geloof platgedruk en uitgeblus, want geloof is nie vertwyfeling, veranderlikheid, om heen en weer te dobber, weifeling, om in spanning gehou te word, te wankel en uiteindelik te wanhoop nie maar om die gemoed met standvastige sekerheid en onwrikbare gerustheid te versterk en iets te hê waarop jy kan steun en waar jy jou voete kan plant.

4. Eiegeregtigheid maak God se beloftes tot niet.🔗

Hy voeg ook 'n tweede aspek by, naamlik dat die belofte tot niet sal gaan en verdwyn. Want as die vervulling daarvan van ons verdienste afhang, wanneer sal dit ooit die stadium bereik dat ons God se milddadigheid kan verdien? Ja, daardie tweede deel volg selfs uit die eerste, want die belofte sal nie vervul word nie behalwe vir diegene wat daarin geglo het. As die geloof dus in duie stort, sal die belofte geen krag oorhê nie. Daarom is die erfenis uit die geloof om in ooreenstemming met die genade te dien om die belofte vas te maak. Want wanneer dit op God se barmhartigheid alleen steun, is dit oorvloedig bekragtig, omdat sy barmhartigheid en sy waarheid met 'n ewigdurende band aan mekaar gebind is. Dit beteken dat God al die beloftes wat Hy uit barmhartigheid belowe, ook getrou gestand doen.

Voordat Dawid byvoorbeeld vra dat God volgens sy Woord aan hom saligheid gee, stel hy eers die basis daarvan in God se barmhartigheid. Hy sê: "Laat u barmhartighede tog na my toe kom en my saligheid volgens wat U aan my toegesê het".17 En dit is ook reg so want God word  nie op 'n ander wyse daartoe gebring om sy beloftes af te lê as suiwer uit barmhartigheid nie. Hierop moet ons hoop dus ten volle gevestig wees en as't ware diep vasgenael wees, en ons moet nie ons oë op ons werke rig om daaruit enige hulp te soek nie.

Moenie dink dat ons hier iets nuuts sê nie, Augustinus het tewens voorgeskryf dat ons dit moet doen. Hy sê: "Christus sal tot in ewigheid in sy diensknegte regeer. God het dit belowe, en God het dit gesê. As dit nie genoeg is nie: God het dit gesweer. Omdat sy belofte dus vas is – nie na ons verdienstes nie maar na sy barmhartigheid - moet niemand vrees om iets te verkondig waaroor daar geen twyfel kan bestaan nie".18

Bernardus sê ook: '''Wie kan salig wees?' vra Christus se dissipels. Christus antwoord: 'By die mense is dit onmoontlik, maar nie by God nie.' Dit is ons hele vertroue, dit is ons enigste troos, dit is die hele basis van ons hoop. Maar terwyl ons nou seker is van die moontlikheid, wat doen ons in verband met sy wil? Wie weet of hy sy haat of sy liefde waardig is?19 Wie het die gevoel van die Here geken of wie was sy raadgewer?20 Hier is dit duidelik dat die geloof ons tegemoet moet kom; hier moet die waarheid ons onderskraag sodat dit wat in die hart van die Vader verborge is, deur sy Gees aan ons geopenbaar kan word en sodat die Gees wat van Hom getuig, ons harte kan oortuig dat ons God se kinders is. Laat Hy ons oortuig deur ons te roep en onverdiend deur die geloof regverdig te maak. In hierdie roeping en regverdigmaking is as't ware 'n middeweg en deurgang wat van die ewige predestinasie na die toekomstige heerlikheid reik".21

Laat ons dit kortliks soos volg saamvat: Die Skrif toon aan dat die beloftes van God nie vas en seker kan wees nie tensy dit met die vaste vertroue van die gewete aangegryp word. Die Skrif verklaar dat die beloftes van God tot niet gaan oral waar daar twyfel of onsekerheid is. Aan die ander kant verklaar die Skrif dat dit nie anders kan as om te wankel en onseker te wees as die beloftes van God op ons werke berus nie. Daaruit volg of dat ons geregtigheid noodwendig vir ons verlore moet gaan of dat ons werke nie in aanmerking kom nie maar dat die geloof alleen daarin plek het. Die aard hiervan is sodanig dat dit ons ore oopmaak en ons oë sluit. Dit beteken dat ons gedagtes op sy belofte alleen toegespits moet wees en dat ons dit van alle aansien en verdienste van die mens moet afwend. So sal die bekende voortreflike professie van Sagaria vervul word: "Wanneer die ongeregtighede van die aarde uitgedelg is, sal elkeen sy vriend onder die wynstok en onder sy vyeboom inroep".22 Daarin gee die profeet te kenne dat die gelowiges slegs ware vrede geniet nadat hulle vergiffenis van sondes gekry het. Wanneer die profete oor die ryk van Christus praat moet ons immers daarop let dat hulle van vergelyking gebruik maak om die uiterlike seëninge van God as beelde van geestelike goed voor te stel. Daarom word Christus sowel die Vredevors23 as ons Vrede24 genoem, omdat Hy al die beroeringe van ons gewetens tot rus bring. As ons vra hoe dit gebeur het, moet ons noodwendig by sy offer kom waarmee God versoen is, omdat niemand ooit sal ophou vrees as hy nie aanvaar dat God ons slegs deur sy versoening waardeur Christus sy toorn gedra het, genadig is nie. Kortom: ons moet ons vrede in niks anders as in die verskrikkinge van Christus ons Verlosser soek nie.

5. Regverdigmaking geskied deur die geloof omdat God se liefde deur die Heilige Gees in ons harte uitgestort is.🔗

Maar waarom haal ek getuienis aan wat miskien nog 'n bietjie duister is? Paulus sê oral dat geen vrede of rustige blymoedigheid vir ons gewetens gelaat word as ons nie aanvaar dat ons deur die geloof regverdig gemaak word nie.25 Hy verklaar dadelik uit watter bron die sekerheid spruit, naamlik omdat die liefde van God deur die Heilige Gees in ons harte uitgestort is.26 Dit is asof hy gesê het dat ons siele nie op 'n ander manier tot rus gebring kan word as dat ons daarvan vas oortuig moet wees dat ons God behaag nie. Daaruit ontstaan ook elders sy uitroep in die naam van al die godvrugtiges: "Wie sal ons skei van die liefde van God wat daar in Christus is?"27 Ons sal immers selfs by die geringste briesie beef totdat ons in daardie hawe aanland. In die doodskadu sal ons egter onbesorg wees solank God wys dat Hy ons herder is.28

Al die mense wat dus babbel dat ons deur die geloof regverdig gemaak word omdat ons wederbaar is en deur 'n geestelike lewe te voer, regverdig is,29 het nog nooit die aangenaamheid van God se genade gesmaak, sodat hulle daaraan sou dink dat God hulle gunstig gesind sal wees nie. Hieruit volg ook dat hulle net so min daarvan kennis dra om 'n behoorlike gebed te doen as die Turke en ander onheilige volke. Want soos Paulus getuig, kan geloof nie opreg wees tensy dit die soetste Naam van Vader aan ons voorsê en in ons mond lê nie - ja, tensy dit ons mond oopmaak om met vrymoedigheid uit te roep: "Abba, Vader!"30 Elders druk hy dit nog duideliker uit wanneer hy sê dat ons in Christus die vrymoedigheid en 'n toegang in vertroue deur die geloof in Hom het.31 Dit gebeur sekerlik nie deur die gawe van wedergeboorte nie, want aangesien dit altyd na die vlees onvolmaak is, sluit dit ook veelvuldige stof tot twyfel in. Daarom moet ons tot die volgende geneesmiddel kom: dat  gelowiges moet aanvaar dat hulle die erfdeel van die koninkryk van die hemel om geen ander reg moet verwag nie as dat hulle in die liggaam van Christus ingelyf is en onverdiend as regverdiges gereken word. Want vir sover dit die regverdigmaking aangaan, is geloof bloot 'n passiewe saak, wat niks van ons eie bydra om God se genade te bewerk nie maar wat van Christus ontvang wat ons ontbreek.

Endnotes🔗

  1. ^ sarta tecta.
  2. ^ Marg. Rom. 3.d.25. Vgl. OC 49:62 - 63.
  3. ^ Vgl. Rom. 3:26 (OC 49:63 - 64).
  4. ^ Vgl. Rom. 3:19 (OC 49:55 - 56).
  5. ^ Marg. Ezec. 20.g.42 (recte 1553: Esec. 20.g.43). Vgl. ook vers 44 en OC 40:512 - 516.
  6. ^ Marg.Iere. 9.f23. Vg.Jer. 9:22 e.v. Vgl. ook vers 24; Calvyn, Praelect. in Ier. 9:23 - 24 (OC 38:49 - 53).
  7. ^ Marg. 1. Cor. 1.c.10. Vgl. ook vers 31 en oe 49:330 - 332
  8. ^ Marg. Rom. 2.c.l9 (recte: Rom. 3:19). Vgl. ook Rom. 3:20 en OC 49:55 - 57.
  9. ^ Marg. Iesa. 45.c.25. Vgl. ook OC 36:151 - 152.
  10. ^ Vgl. Jes. 45:24 (OC 36:150 - 151).
  11. ^ Marg. Rom. 3.d.26.
  12. ^ Marg. Ephes. 1.b.6. Vgl. ook vers 5 en OC 51:148 - 149.
  13. ^ Marg. Ephes. 2.b.8. Vgl. ook vers 9 en OC 51:165 - 166.
  14. ^ Marg. 1. Pet. 2.b.9. Vgl. OC 55:240 . 241.
  15. ^ Marg. Prov. 20.b.9 (Spr. 20:9).
  16. ^ Marg. Rom. 4.c.14. Vgl. OC 49:77 - 78.
  17. ^ Marg. Psal. 119, 76. Vgl. ook vers 77 en OC 32:247 - 248.
  18. ^ Marg. In Psal. 88, Tract. priore. Augustinus, Enar. in Ps. 88 reest 39:1220 - 1244).
  19. ^ Marg. Eccles. 9.a.1 (Pred. 9:1).
  20. ^ Marg. 1. Cor. 2.d.16 Vgl. OC 49:346.
  21. ^ Marg. Serm. 5. in dedicat. templi. Bernardus, Sermo in dedicatione ecclesiae 5.6 e.v. (MPL 183:533 e.v.). Hierdie kantverwysing staan in A voor dié van n. 19 hierbo.
  22. ^ Marg. Zach. 3.d.9. Vgl. ook vers 10.
  23. ^ Marg. Iesa. 9.b.6. Vgl. ook vers 5 en OC 36:193 - 198.
  24. ^ Marg. Ephes. 2.c.14. Vgl. OC 51:170 - 171.
  25. ^ Marg. Rom. 5.a.l. Vgl. OC 49:88 . 89
  26. ^ Marg. Ibidem. 5. Rom. 5:5. Vgl. OC 49:91 . 92.
  27. ^ Vgl. Rom. 8:34 . 39 (OC 49:164 . 168).
  28. ^ Marg. Psal. 23.a.4. Vgl. ook OC 31:239 . 240.
  29. ^ Vir Osiander se leer en Calvyn se bestryding daarvan, vgl. Inst. 3.11.8, 9 (Afr. vert. 3:937, 939).
  30. ^ Marg. Galat. 4.a.6. Vgl. OC 50:227 . 229.
  31. ^ Vgl. Ef. 3:12 (oc 51:183 - 184).