Die kerklike tug behels vermaning, bestrawwing (sensuur) en afsnyding (ban). Niemand word van die tug vrygestel nie – ook nie ampsdraers nie. Al die lidmate in die gemeente moet in die verband selfbeheersing aan die dag lê.

Vas, openbare gebed en ander geloofsoefeninge het ook ‘n funksie in kerkdissipline.

1984. 29 bladsye.

Institusie van die Christelike Godsdiens (1559) - Boek 4 Hoofstuk 12 Kerklike tug wat veral van toepassing is op sensuur en afsnyding

1. Die verband tussen kerklike dissipline, kerklike jurisdiksie en kerklike mag.🔗

Nou moet ons kerklike dissipline waarvan ons die behandeling tot hier uitgestel het, kortliks behandel om mettertyd tot die res oor te gaan. Kerklike dissipline hang egter grootliks van die sleutelmag1 en die geestelike jurisdiksie af. Om dit beter te verstaan moet ons die kerk in twee belangrike groepe verdeel: die geestelikes en die (kerk)volk. Diegene wat 'n openbare amp in die kerk vervul, noem ek in die gewone betekenis daarvan geestelikes.2 Ons sal eers van die algemene dissipline praat waaraan almal hulle moet onderwerp. Daarna sal ons by die geestelikes kom wat benewens die algemene dissipline ook 'n dissipline van hulle eie het.3

Maar omdat sommige mense dissipline haat en selfs vir die word terugdeins, moet hulle weet dat as geen gemeenskap, ja, as geen huisgesin, hoe klein dit ook al is, sonder dissipline in orde gehou kan word nie, dissipline nog baie meer noodsaaklik is in die kerk omdat die toestand daarvan so ordelik as moontlik behoort te wees. Soos die saligmakende leer van Christus die kerk se siel is, so is dissipline die kerk se senuwees4 waardeur die ledemate van die liggaam elkeen op sy plek onderling met mekaar in samehang is. Wie ook al die dissipline van die kerk wil ophef of die herstel daarvan verhinder, of hulle dit ook al doelbewus of onnadenkend doen, soek daarom beslis die uiterste verstrooiing van die kerk. Wat sou immers gebeur as elkeen maar net doen soos hy lus het? En dit sou gebeur tensy persoonlike vermanings, bestrawwings en ander dergelike hulpmiddels wat die leer ondersteun en dit nie toelaat om oneffektief te wees nie, daarby kom.

Dissipline is dus as't ware 'n toom waardeur diegene wat teen Christus se leer woed, teruggehou en getem kan word. Of dit is soos 'n prikkel om diegene aan te por wat te min gewillig is. Soms is dit selfs soos 'n vader se plak om diegene wat ernstiger afgedwaal het, met sagmoedigheid en die vriendelikheid van Christus se Gees te tug. Aangesien ons dus kan sien dat die begin van 'n verskriklike verwoesting reeds in die kerk dreig, omdat daar geen bekommernis en geen metode is om die (kerk)volk in bedwang te hou nie, skreeu hierdie nood dat 'n geneesmiddel nodig is. Die enigste geneesmiddel is egter sowel dit wat  Christus voorgeskryf het as die een wat altyd onder godvrugtiges gegeld het.

2. Besondere vermaning, bestrawwing en afsnyding.🔗

Die eerste fondament van die tug is dat persoonlike vermanings moet plaasvind. Dit beteken dat iemand as hy nie vrywillig sy plig doen nie, of hom onbehoorlik gedra, of minder eerbaar leef, of iets toelaat wat teregwysing verdien, moet verdra om vermaan te word, en dat elkeen moet trag om sy medebroeder te vermaan wanneer omstandighede dit vereis. Veral herders en ouderlinge moet hierin besonderlik waaksaam wees omdat dit hulle rol is nie alleen om vir die (kerk)volk te preek nie maar ook om hulle van huis tot huis te vermaan en aan te spoor as hulle nie voldoende vordering in die algemene leer maak nie. So leer Paulus wanneer hy vertel dat hy persoonlik en van huis tot huis die leer verkondig het5 en wanneer hy getuig dat hy rein van die bloed van almal is6 omdat hy nie opgehou het om elkeen dag en nag met trane te vermaan nie.7 Die leer verkry trouens eers krag en gesag wanneer 'n dienaar nie soseer aan almal tegelyk verduidelik wat hulle aan Christus verskuldig is nie, maar wanneer hy die reg en rede het dat dit deur diegene tot uitvoering gebring moet word wat weinig gehoorsaamheid aan die leer betoon, of wat hy opmerk, te traag is om dit te doen. As iemand sulke vermanings òf hardnekkig verwerp, òf deur in sy gebreke te volhard, bewys dat hy dit minag, skryf Christus voor dat hy, wanneer hy vir 'n tweede keer vermaan is en getuies saamgegaan het, voor die kerk se hof, dit is die vergadering van ouderlinge,8 gedaag moet word. Daar moet hy baie ernstig vermaan word asof dit op openbare gesag steun dat hy hom aan die kerk moet onderwerp en dit moet gehoorsaam as hy enige eerbied daarvoor het. As hy selfs nie eens so gebreek word nie maar in sy sonde volhard, dan beveel Christus dat hyas 'n veragter van die kerk uit die gemeenskap van die gelowiges geweer moet word.9

3. Verskillende soorte sondes wat hier ter sprake is.🔗

Maar omdat Hy daar slegs van verborge sondes praat, moet ons die volgende verdeling poneer: sommige sondes is persoonlike sondes en ander openbare of duidelik openlike sondes.10 In verband met eersgenoemdes sê Christus vir elkeen persoonlik: "Bestraf hom tussen jou en hom alleen".11 Van openlike sondes sê Paulus aan Timoteus: "Bestraf hom voor almal sodat almal kan vrees".12 Christus het immers vroeër gesê: "As jou broer teen jou sondig".13 Die deeltjie jou kan jy nie anders opneem - tensy jy rusie wil maak -, as met jou medewete nie. Dit beteken dat daar nie méér mense is wat daarvan kennis dra nie. Dat die apostel Timoteus beveel om diegene wat openlik sondig in die openbaar te bestraf, het hy self in die geval van Petrus gevolg. Toe Petrus trouens so gesondig het dat hy 'n openbare ergernis geword het, het hy hom nie in afsondering vermaan nie maar hom ten aanskoue van die kerk te voorskyn gebring.14 Die wettige orde van optrede moet dus wees dat ons in die bestrawwing van verborge sondes volgens die trappe wat deur Christus gestel is, moet voortgaan. In die geval van openlike sondes moet ons dadelik tot die plegtige bestrawwing van die kerk oorgaan as dit inderdaad tot openbare ergernis aanleiding gee.

4. Verdere onderskeid in die hantering van verskillende soorte sondes.🔗

Daar is egter ook 'n tweede onderskeid want sommige van die sondes is vergrype en ander is misdade of oortredings. Om laasgenoemdes reg te stel moet ons nie soseer vermaning of teregwysing toepas nie, maar 'n strenger geneesmiddel. Paulus dui dit byvoorbeeld aan wanneer hy die bloedskande van 'n Korintiër nie alleen met sy woorde teregwys nie maar ook met afsnyding straf sodra hy oor sy sonde ingelig is.15

Nou begin ons dus beter sien hoe die geestelike regspleging van die kerk wat sondes volgens die Woord van die Here straf, sowel die beste hulpmiddel vir gesonde verstand as die beste fondament vir orde en die beste band van eenheid is. Wanneer die kerk dus openlike owerspeliges, hoere, diewe, rowers, oproeriges, mynediges, valse getuies en ander van dieselfde soort, en net so, weerspanniges wat selfs oor ligter sondes vermaan is maar God en sy oordeel bespot, uit sy gemeenskap uitwis, eien die kerk hom niks onredeliks toe nie, maar verrig die regspleging wat deur die Here daaraan verleen is. Om verder te voorkom dat iemand so 'n oordeel van die kerk sou verag, of dit van geringe waarde ag dat hy deur die stemme van die gelowiges veroordeel is, het die Here getuig dat dit niks anders is as die uitvaardiging van sy eie oordeel nie, en dat wat hulle op die aarde verrig het, in die hemel bekragtig word. Hulle het immers die Woord van die Here om verwronge mense te verdoem; maar hulle het ook die Woord waarmee hulle diegene wat berou het, weer in genade kan opneem.16 Ek sê dat diegene wat vertrou dat die kerk sonder hierdie band van dissipline lank staande kan bly, hulle in hulle opvatting misgis - behalwe as ons miskien sonder hierdie hulpmiddel kan klaarkom hoewel die Here voorsien het dat dit vir ons noodsaaklik sal wees. En hoe groot die noodsaaklikheid daarvan is, sal in elk geval beter uit die veelvuldige toepassings daarvan raakgesien kan word.

5. Die doel van bestrawwing en afsnyding.🔗

Daar is drie doelstellings waarop die kerk met sulke teregwysings en die afsnyding mik. Die eerste doelstelling is om te voorkom dat diegene wat 'n skandelike oneervolle lewe lei, nie tot belediging van God onder Christene getel moet word asof sy heilige kerk17 'n sameswering van goddelose misdadigers is nie. Aangesien die kerk immers Christus se liggaam is,18 kan dit nie deur sulke stinkende vrot lidmate besmet word sonder dat 'n mate van skande op die Hoof daarvan terugkom nie. Om dus te voorkom dat daar iets van so 'n aard in die kerk na vore kom dat dit sy heilige Naam met skande kan brandmerk, moet diegene uit sy gesin uitgedryfword na aanleiding van wie se skandelike lewe 'n skandvlek op die Christelike naam kan oorvloei.

En hier moet ons ook met die nagmaal van die Here rekening hou om te voorkom dat dit ontheilig word deur dit sonder onderskeid aan te bied.19 Want dit is heeltemal waar dat iemand aan wie dit opgedra is om dit uit te deel, net so skuldig is aan heiligskennis asof hy die Here se liggaam aan honde prysgegee het as hy bewustelik iemand wat dit nie waardig is nie, daartoe toelaat terwyl hy hom regtens daarvan kon weerhou. Daarom vaar Chrysostomos heftig uit teen priesters wat nie waag om iemand daarvan te weerhou nie omdat hulle die mag van magtige heersers vrees. Hy sê: "Bloed sal van julle hande geëis word.20 As julle 'n mens vrees, sal hy julle bespot; maar as julle God vrees, sal julle ook onder die mense geëerbiedig word. Laat ons nie vir hulle septers, hulle purperklere, en hulle krone terugdeins nie, hier het ons groter mag. Sover dit my aangaan, sal ek my liggaam eerder aan die dood oorgee en ek sal my bloed eerder laat vergiet as om deel te neem aan so 'n  besoedeling".21 Om dus te voorkom dat hierdie uiters heilige geheimenis onteer word, word daar in die uitdeling daarvan die grootste onderskeiding vereis. Dit kan nogtans nie plaasvind sonder regspleging van die kerk nie.

Die tweede doelstelling is dat die eerbares nie deur voortgesette verkeer met die oneerbares bedorwe word soos gewoonlik gebeur nie. Want terwyl ons nou eenmaal geneig is om afte dwaal, is daar niks makliker as om deur die voorbeeld van oneerbare mense van die regte lewenskoers af verlei te word nie. Die apostel het op hierdie gebruik gedui toe hy die Korintiërs gelas het om 'n owerspelige man uit hulle gemeenskap te verban. Hy sê: "'n Klein bietjie suurdeeg bederf die hele deeg".22 En hy het hierin so 'n groot gevaar bemerk dat hy hulle alle vriendskap (met so 'n man) ontsê het. Hy sê: "As 'n broeder onder julle as 'n hoereerder, òf 'n gierigaard, òf 'n afgodedienaar, òf 'n dronkaard, òf 'n kwaadspreker bekendstaan, laat ek julle nie toe om saam met so 'n mens te eet nie".23

Die derde doelstelling is dat sulke mense juis deur skaamte ontstel moet word en moet begin om oor hulle skande berou te hê, So is dit ook tot hulle voordeel dat hulle goddeloosheid gestraf word sodat diegene wat as gevolg van toeskietlikheid hardnekkiger sal word, die roede kan voel en tot besinning kan kom. Die apostel gee dit te kenne wanneer hy in die volgende trant praat: "As iemand ons leer nie gehoorsaam nie, merk hom dan en moenie met hom meng nie sodat hy skaam kan word".24 Net so wanneer hy elders skryf dat hy 'n Korintiër aan die Satan oorgelewer het sodat sy gees op die dag van die Here gered kan word.25 Dit beteken, in elk geval volgens my vertolking daarvan, dat hy hom aan die tydelike verdoemenis oorgegee het sodat hy in die ewigheid gered kan word. Hy sê daarom dat hy hom aan die Satan oorlewer omdat die duiwel buite die kerk is soos Christus in die kerk is.26 Dat sommige kommentatore dit op 'n sekere teistering van die vlees betrek,27 lyk vir my hoogs onseker.

6. Die manier waarop straf in die kerk hanteer moet word.🔗

Noudat hierdie doelstellings uiteengesit is, bly daar oor dat ons ondersoek moet instel hoe die kerk hierdie deel van die dissipline wat in regspleging geleë is, uitvoer. Ten eerste moet ons die voorgenoemde verdeling van sondes in gedagte hou, naamlik dat sommige sondes openbare sondes is, en ander persoonlike of meer verborge sondes.28 Openbare sondes is sondes wat nie net een of twee mense as getuies het nie maar sondes wat oop en bloot en tot aanstoot van die hele kerk gedoen word. Onder verborge sondes noem ek nie sondes wat heeltemal vir mense verborge is soos die sondes van geveinsdes nie want dit val nie binne die bestek van die kerk se oordeel nie, maar sondes wat tussen die twee lê, naamlik die wat nie sonder getuies is nie maar tog ook nie openbaar is nie. Eersgenoemde groep vereis nie die voorgaande wat Christus vermeld nie,29 maar wanneer daar iets van die aard na vore kom, moet die kerk hierin sy plig doen deur die sondaar op te roep, en hom in ooreenstemming met sy oortreding bestraf. In die geval van die tweede groep word daar eers volgens die voorgaande reël van Christus tot die kerk oorgegaan wanneer 'n sondaar in sy hardnekkigheid volhard.

Wanneer 'n saak dan op 'n ondersoek uitloop, moet ons daarop let dat daar 'n onderskeid tussen misdade en oortredings is. In die geval van ligter sondes moet tug trouens nie so streng toegepas word nie, maar dit is voldoende om iemand met woorde tereg te wys. So 'n teregwysing moet vriendelik en vaderlik wees sonder om 'n sondaar moedeloos of verward te maak, maar dit moet hom tot inkeer bring sodat hy bly moet wees dat hy tereggewys word eerder as om daaroor treurig te wees.

Misdade moet egter met skerper strawwe getug word. Dit is trouens nie voldoende as iemand wat 'n misdaad wat 'n slegte voorbeeld stel, gepleeg en die kerk ernstige leed aangedoen het, slegs met waarde getug word nie. So iemand behoort tydelik van gemeenskap aan die nagmaal weerhou te word totdat hy plegtige versekering van sy inkeer gegee het. Paulus maak trouens teen die Korintiër nie slegs van 'n berisping met woorde gebruik nie, maar hy dryf hom uit die kerk uit en wys die Korintiërs tereg omdat hulle hom so lank verdra het.30 Toe daar nog grondige beheer in die kerk was, het dit eertyds toe dit nog beter was, ook hierdie metode gehandhaaf. As iemand dus 'n misdaad gepleeg het waaruit 'n struikelblok kon ontstaan, is hy gewoonlik ten eerste gelas om hom van deelname aan die nagmaal te weerhou; dat hy hom daarna voor God moet verootmoedig en voor die gemeente getuienis van sy berou moet lewer.

Daar was ook plegtige seremonies wat afvalliges gewoonlik as tekens van berou opgelê is. Wanneer hy op so 'n wyse berou betoon het dat dit die kerk sou bevredig; is hy weer deur handoplegging in genade opgeneem. Hierdie heropneming word baie dikwels deur Cyprianus vrede genoem31 en hy beskryf selfs kortliks die seremonie van sa 'n heropname. Hy sê: "Hulle beoefen berou vir 'n grondige tyd; daarna kom hulle tot skulderkentenis en daarna ontvang hulle die reg tot deelname deur die handoplegging van die biskoppe en die geestelikes".32 Die biskop met die geestelikes het egter so in die versoening voorgegaan dat hy ook terselfdertyd die instemming van die (kerk)volk moes vra soos Cyprianus elders leer.33

7. Niemand is van hierdie tug vrygestel nie.🔗

Niemand is van hierdie tug vrygestel nie - dermate so dat ook keisers en saam met hulle die gewone mense hulle moes onderwerp daaraan om dit te verduur. En tereg, aangesien dit vasgestaan het dat dit van Christus gekom het aan wie dit reg is dat alle septers en krone van konings onderwerp moet wees. Toe Theodosius as gevolg van die slagting wat hy in Tessalonika aangerig het, deur Ambrosius sy reg tot gemeenskap ontneem is, het hy van al die koninklike onderskeidingstekens waarmee hy beklee was, afstand gedoen.34 Hy het in die openbaar in die kerk oor die sonde gehuil wat hy bedrieglik teenoor ander mense begaan het, en met versugtinge en trane het hy om genade gebid.35 Magtige konings moet ook nie oordeel dat dit tot hulle skande is as hulle hulle smekend voor Christus, die Koning van die konings, neerwerp en die oordeel van die kerk behoort hulle ook nie onvergenoegd te laat nie. Aangesien hulle in hulle howe immers byna niks anders as louter vleitaal hoor nie, het hulle meer as net 'n behoefte daaraan om deur die Here deur die mond van sy priesters bestraf te word. Ja, hulle moet wens dat die priesters eerder as die Here hulle moet spaar.

Hier laat ek agterweë deur wie hierdie regpleging beoefen moet word omdat dit alreeds elders gesê is.36 Ek voeg slegs by dat die grondige verloop om iemand uit die kerk te ban, is soos Paulus aandui, naamlik as nie alleen die ouderlinge dit afsonderlik doen nie maar wanneer die kerk daarvan bewus is en dit sy goedkeuring wegdra.37 Dit moet natuurlik op so 'n manier gebeur dat die gemeente nie die verrigtinge beheer nie maar as getuie en bewaker daarop moet let dat niks willekeurig deur 'n paar mense gedoen word nie. Benewens die aanroeping van God se Naam moet die hele verloop van die optrede so ernstig wees dat dit Christus se teenwoordigheid aan die lig bring sodat geen twyfel daaroor kan bestaan dat Hy dit self met sy oordeel beheer nie.

8.38 Die gesindheid waarmee tug beoefen moet word.🔗

Ons behoort egter nie buite rekening te laat dat dit die kerk betaam om 'n strengheid te handhaaf wat van so 'n aard is dat dit nogtans met 'n gesindheid van sagsinnigheid39 hand aan hand gaan nie. Want soos Paulus voorskryf, moet ons altyd versigtig waak dat iemand wat gestraf word, nie deur droefheid verteer word nie.40 So word die geneesmiddel immers sy ondergang. 'n Reël vir matigheid sal egter beter uit die doel (van die straf) geput kan word. Aangesien die doelstelling met afsnyding dit is om 'n sondaar tot berou te bring en slegte voorbeelde uit ons midde weg te ruim om te voorkom dat Christus se Naam beswadder of ander mense uitgelok word om die voorbeeld na te boots, sal ons maklik kan oordeel hoe ver ons strengheid mag gaan en en waar dit tot 'n einde moet kom as ons hierdie dinge in gedagte hou.

Wanneer 'n sondaar dus bewys van sy berou aan die kerk lewer, en hy met hierdie getuienis die struikelblok sover hy by magte is, uitwis, moet ons hom glad nie verder dryf nie. As hy dan verder gedryf word, het ons strengheid reeds sy perke oorskry.

In hierdie opsig kan die onbeheerste strengheid van die mense in die ou tyd glad nie verskoon word nie. Dit het immers heeltemal van die voorskrif van die Here verskil en was op verbasende wyse ook gevaarlik. Want wanneer hulle 'n sondaar plegtige berou en ontsegging van die heilige nagmaal nou vir sewe, dan vir vier, dan weer vir drie jaar lank, en dan sy hele lewe lank opgelê het,41 wat kon nou eintlik daaruit volg anders as groot skynheiligheid of die grootste moedeloosheid? Net so is die feit dat iemand wat vir 'n tweede keer geval het, nie toegelaat is om vir 'n tweede keer berou te toon nie maar tot aan die einde van sy lewe uit die kerk gewerp moes word,42 iets wat nog enige voordeel ingehou het nog redelik is. Elkeen wat gesonde oordeel het en die werklikheid oorweeg. sal hulle verstandigheid hier mis.

Hier keur ek nogtans die algemene gebruik af eerder as om almal te beskuldig wat dit toegepas het omdat dit seker is dat dit sommige (van hulle) ook nie aangestaan het nie, maar hulle het dit nogtans verdra omdat hulle dit nie kon regstel nie. Cyprianus verklaar beslis dat hy nie vanself so onverbiddelik was nie. Hy sê: "Ons verdraagsaamheid, toegeeflikheid en menslikheid is vir almal wat na ons toe kom beskikbaar. My wens is dat hulle almal na die kerk moet terugkeer; my wens is dat ons almal as medekrygers in Christus se kamp en in God die Vader se tuiste ingesluit moet word. Ek vergeef al hulle sondes en sien baie sondes oor; ek beywer myvir en ek streef daarna om ons broederskap bymekaar te hou, en ek ondersoek selfs sondes wat teen God begaan is, nie met volle oordeel nie. Ek sondig amper self deur meer sondes as wat ek behoort, te vergeef. Diegene wat met berou terugkom, omhels ek met geredelike en volle liefde wanneer hulle met nederige en eenvoudige voldoening hulle sonde bely".43 Chrysostomos stel dit harder maar praat nogtans soos volg: "As God so goed is, waarom wil sy priester dan so onverbiddelik lyk?"44 Hierbenewens weet ons ook met watter toeskietlikheid Augustinus die Donatiste behandel het - dermate so dat hy nie geaarsel het om diegene wat uit die skeuring (na die kerk) terugggekeer het, weer in die biskopamp op te neem nie, en dit dadelik nadat hulle tot inkeer gekom het.45 Omdat 'n metode wat hiermee in botsing was, egter die oorhand gekry het, is hulle gedwing om van hulle eie oordeel af te sien en die voorgaande metode te volg.

9. Hierdie reël van selfbeheersing geld die kerk sowel as elke lidmaat.🔗

Soos hierdie sagmoedigheid egter in die hele liggaam van die kerk 'n vereiste is, naamlik om dié wat in sonde verval het met sagmoedigheid en nie met die uiterste strengheid te straf nie maar eerder volgens Paulus se voorskrif die liefde teenoor hulle te bekragtig,46 net so behoort elkeen hom persoonlik by hierdie sagsinnigheid en menslike optrede aan te pas. Dit is derhalwe nie ons voorreg om sulke mense wat uit die kerk verdryf is, uit die getal van die uitverkorenes te skrap of hoop vir hulle te laat vaar asof hulle reeds verlore is nie. Dit is wel reg om te oordeel dat hulle vreemdelinge vir die kerk is en daarom ook vir Christus maar dit geld slegs vir die tyd waarin hulle in afskeiding (van die kerk geskei) bly. Maar as hulle selfs dan nog groter hardnekkigheid as sagmoedigheid aan die dag lê, moet ons hulle aan die oordeel van die Here oorlaat en hoop op beter dinge vir hulle in die toekoms as wat ons huidig sien. En ons moet daarom ook nie ophou om vir hulle tot God te bid nie. En om dit kortliks saam te vat: ons moet nie sy persoon wat in die hand en oordeel van God alleen geleë is, aan die dood oorgee nie maar ons moet slegs na aanleiding van die Here se wet oordeel hoedanig elkeen se werke is. Wanneer ons hierdie reël volg, staan ons op God se oordeel eerder as om ons eie oordeel aan te bied. Ons moet ons in die beoordeling (van 'n saak) nie meer vryheid aanmatig nie tensy ons God se mag wil beperk en aan sy barmhartigheid 'n voorwaarde wil stel. Wanneer Hy dit immers goedvind, verander hy die slegste mense in die heel bestes, Hy lyf vreemdelinge in sy kerk in en Hy neem buitestanders daarin op. En die Here doen dit om mense se opvatting as ongegrond te bewys en hulle onbesonnenheid af te stomp. As dit nie in bedwang gehou word nie, waag die mens om hom meer reg om te oordeel toe te eien as wat hom betaam.

10. Hierdie vertolking van die toepassing van kerklike tug strook met Christus se belofte.🔗

Christus beloof dat dit wat die wat aan Hom behoort, op die aarde bind, in die hemel gebonde sal wees.47 Hierin beperk Hy die mag om te bind tot die kerklike sensuur waardeur diegene wat afgesny word, nie in die ewige verderf en verdoemenis gewerp word nie, maar wanneer hulle hoor dat hulle lewenswyse en hulle sedes verdoem word, word hulle ook verseker van hulle ewige verdoemenis indien hulle nie tot inkeer kom nie. Tussen die (Roomse) banvloek en afsnyding is daar weliswaar hierdie verskil dat eersgenoemde alle genade van die mens wegneem en hom aan die ewige dood oorgee en toesê. Laasgenoemde neem eerder wraak teen sedes en straf dit en hoewel dit ook die mens straf, straf dit hom so dat dit hom tot sy saligheid terugroep deur hom vooraf te wys op sy verdoemenis in die toekoms. En as dit bereik word, is versoening en herstel in die gemeenskap vir hom gereed. Die banvloek word uiters selde of hoegenaamd ooit toegepas. Hoewel ons daarom volgens die kerklike dissipline nie op vriendskaplike voet met mense moet ons ons nogtans op elke moontlike manier inspan om hulle weer in die gemeenskap en die eenheid van die kerk op te neem wanneer hulIe hulle tot beter lewe bekeer het. So leer die apostel ook: "Moenie hulle as vyande beskou nie, maar bestraf hulle soos broers".48 As hierdie sagmoedigheid nie sowel persoonlik as gemeenskaplik gehandhaaf  word nie, bestaan die gevaar dat ons weldra van dissipline af in foltering kan verval.49

11. Augustinus se opvatting oor kerklike tug.🔗

In die beheer van (kerklike) dissipline word dit wat Augustinus teen die Donatiste betoog, veral as vereiste gestel, naamlik dat, as mense sien dat sondes nie deeglik genoeg deur die ouderlingevergadering gestraf word nie, hulle nie daarom dadelik van die kerk moet skeur nie. Of as die herders nie in staat is om alles na hulle hartewens te reinig wat straf nodig het nie, dat hulle nie daarom van die amp afstand moet doen of die hele kerk met ongewone strengheid in beroering moet bring nie. Want wat hy skryf is uiters waar, naamlik: "Elkeen verbeter (die sondes) sover hy kan deur berisping; en wat hy nie kan verbeter nie, sluit hy uit met behoud van die band van vrede. En wat hy nie met behoud van die band van vrede kan uitsluit nie, keur hy (met behoud) van sy billikheid af en hy verdra dit met standvastigheid. So iemand is vry en kwytgeskeld van die vloek".50 Elders gee hy die rede daarvoor, naamlik dat die hele godvrugtige rede en die metode van kerklike dissipline altyd op die eenheid van die Gees in die band van vrede51 behoort te let. En die apostel gelas ons om hierdie band te bewaar deur op ons beurt verdraagsaamheid te toon.52 As ons egter nie verdraagsaamheid betoon nie, begin die geneesmiddel van straf om nie alleen oorbodig te wees nie maar ook skadelik en daarom hou dit op om 'n geneesmiddel te wees.53 Hy sê: "Iemand wat sorgvuldig hieroor nadink, verwaarloos nie die strengheid van dissipline in die behoud van die eenheid nie en hy verbreek ook nie die band van gemeenskap deur onbeheers te straf nie".54 Hy erken weliswaar dat herders nie alleen in hierdie opsig daarna behoort te streef dat daar geen sonde in die kerk moet oorbly nie maar dat elkeen hom na die beste van sy vermoë daarvoor moet inspan. Ook verbloem hy nie die feit dat iemand wat nalaat om slegte mense te vermaan, te berispe en te bestraf, selfs al sou hy hulle sonde nie gunstig gesind wees nie, en al sou hy ook nie saam met hulle sonde doen nie, hy nogtans voor die Here skuldig is. Maar as hy so iemand is dat hy 'n sondaar ook van deelname aan die nagmaal kan weghou, en hy dit nie doen nie, sondig hy nie meer vanweë 'n ander se kwaad nie maar vanweë sy eie. Hy bedoel slegs dat so 'n wysheid aan die dag gelê moet word wat die Here ook vereis, naamlik dat die oes nie beskadig moet word wanneer die onkruid uitgetrek word nie.55 Hierna kom hy na aanleiding van Cyprianus tot die gevolgtrekking: "Sover hy kan moet die mens derhalwe met barmhartigheid bestraf; as hy dit egter nie kan doen nie, moet hy dit geduldig verdra en en met liefde daaroor sug en dit betreur".56

12. Veral die Donatiste het hulle eertyds en die Wederdopers tans hulle skuldig gemaak aan miskenning van die afsnyding(ban).🔗

Hy sê dit egter vanweë die Donatiste se eiesinnigheid. Toe hulle bemerk het dat die biskoppe sondes in die kerk weliswaar met woorde berispe maar nie met die ban gestraf het nie - omdat hulle nie gemeen het dat hulle so enige vordering sal maak nie -, het hulle heftig teen die biskoppe uitgevaar asof hulle verraaiers van die tug was en hulle met ongoddelike skeuring van die kudde van Christus afgeskei. Dit doen die Wederdopers ook vandag. Terwyl hulle geen vergadering as Christus s'n erken tensy dit in alle opsigte in die volmaaktheid van die engele uitmunt nie,57 vernietig hulle alle stigting onder dekmantel van hulle ywer.

Augustinus sê: "Sulke mense streef nie uit haat teen die ongeregtigheid van 'n ander nie, maar uit belangstelling vir hulle eie rusies om swak mense wat vasgevang is in die roem op hulle eie naam, of heeltemal (van die kerk af) weg te trek, of beslis daarvan te skei. Hulle is opgeblase van hoogmoed, mal van hardnekkigheid, verraderlik met hulle valse klagtes, oproerig deur onluste, en verskuil hulle onder 'n skadu van onbuigsame strengheid om te voorkom dat dit duidelik mag word dat hulle sonder die lig van die waarheid is. En wat hulle in die Skrifbeveel word om met behoud van opregte liefde en met handhawing van die eenheid van vrede met matiger versorging te doen ter regstelling van hulle broeders se sondes, misbruik hulle vir heiligskennige skeuring en as 'n geleentheid om hulle (van die kerk) afte sny.58 So verander die Satan homself in 'n engel van die lig59 wanneer hy by geleentheid van skynbare grondige strengheid mense tot onbarmhartige wreedheid oorreed en hy geen ander doel het as om die band van vrede en eenheid te bederf en af te breek nie. As hierdie band immers stewig vas onder Christene bly, word al sy mag om skade te berokken, sy strikke en sy lokvalle kragteloos gemaak en sy planne om (die kerk) te verwoes verdamp''.60

13. Selfbeheersing moet egter besonderlik toegepas word wanneer die hele gemeente sondig.🔗

Augustinus beveel besonderlik sterk aan dat streng barmhartigheid vir besielende tug noodsaaklik is as 'n aansteeklikheid om te sondig die gemeente beetgepak het. Hy sê: "Planne tot afskeiding is immers doelloos, en skadelik en heiligskennig want dit word goddeloos en hooghartig. Dit verwar swak goeie mense eerder as om moedige slegtes te verbeter".61 En wat hy daar aan ander voorskryf, het hy self ook getrou gevolg. Want in 'n brief aan Aurelius, die biskop van Karthago, kla hy daaroor dat dronkenskap in Afrika ongestraf hoogty vier terwyl dit so heftig in die Skrif verdoem word. Hy raai Aurelius aan om 'n vergadering van biskoppe byeen te roep en 'n geneesmiddel daarteen in te span.62

Daarna voeg hy by: "Na my mening word sulke sondes nie deur strengheid, deur hardvogtigheid en deur 'n aanmatigende houding uit die weg geruim nie, maar deur onderwys eerder as deur bevel, deur vermaning eerder as deur bevel. So moet ons immers met 'n gemeente van sondaars handel. Strengheid moet wel beoefen word in die geval van weinig mense se sondes".63 En soos hy later verduidelik, verstaan hy daaronder egter nie dat die biskoppe sondes daarom oor die hoof moet sien of moet verswyg omdat hulle openbare sondes nie baie streng kan straf nie.64 Maar sy bedoeling is dat die manier van straf so beheer moet word dat dit vir die liggaam gesondheid eerder as ondergang teweegbring.65 En daarom geraak hy uiteindelik tot die slotsom: "Daarom moet ons ook hierdie voorskrif van die apostel oor die verwydering van slegte mense (uit die kerk) nie verwaarloos wanneer dit sonder die gevaar dat die vrede verbreek kan word, kan gebeur nie. En ons moet dit ook handhaaf om mekaar te verdra en daarna te streef om die eenheid van die Gees in 'n band van vrede te bewaar".66

14. Die plek van vas, openbare biddae, en ander geloofsoefeninge in kerklike dissipline.🔗

Die oorblywende deel van kerklike dissipline wat nie regtig onder die sleutelmag ingesluit word nie, is daarin geleë dat herders die (kerk)volk volgens die nood van die tyd moet aanspoor om te vas, of plegtige te doen, of ander oefeninge tot ootmoed, berou en die geloof te doen. Geen tyd, of manier, of vorm word daarvoor in die Woord van God voorgeskryf nie maar dit word aan die oordeel van die kerk oorgelaat. In soverre die onderhouding van hierdie aspek nuttig is, was dit ook in die kerk van ouds tot by die apostels altyd in gebruik. En selfs nie eens die apostels was die skeppers hiervan nie maar hulle het die voorbeeld daarvoor uit die wet en die profete geput. Ons sien trouens dat die volk byeengeroep is en dat hulle aangesê is om te bid en te vas so dikwels daar die een of ander ernstige gebeurtenis voorgeval het.67 Die apostels het derhalwe iets gevolg wat ook nie vir die volk van God iets vreemds was nie, en hulle het ook voorsien dat dit iets nuttigs is. Dieselfde rede geld ook ander oefeninge waardeur die (kerk)volk tot hulle plig opgewek of in hulle plig en gehoorsaamheid gehou kon word. Oral in die Heilsgeskiedenis kom voorbeelde hiervan voor en dit is onnodig om dit hier byeen te bring.

Kortliks moet ons die volgende weet: so dikwels daar 'n geskil oor die godsdiens voorval wat òf deur 'n sinode òf deur die kerk beoordeel en beslis moet word, so dikwels die verkiesing van 'n dienaar onder behandeling is - kortom: so dikwels 'n moelike saak van groot belang hanteer word; en aan die ander kant, wanneer die oordele van die toorn van God aan die lig kom, soos byvoorbeeld pes, oorlog en hongersnood, is dit 'n heilige instelling wat vir alle tye heilsaam is dat herders die (kerk)volk tot algemene vas en buitengewone gebede moet aanspoor. As iemand die getuienis hiervoor wat uit die Ou Testament aangevoer kan word, nie kan aanvaar nie asof dit dinge is wat nie by 'n Christelike kerk pas nie, staan dit vas dat die apostels dit ook so gedoen het. Ek meen dat daar nouliks iemand gevind sal word wat die opvatting oor voorbidding sal bevraagteken. Laat ons dus 'n ietsie oor die vas sê omdat die meeste mense van oordeel is dat dit nie so noodsaaklik is nie omdat hulle nie begryp watter voordeel dit inhou nie. Sommige mense verwerp dit heeltemal as iets wat oorbodig is68 en omdat die gebruik nie so goed bekend is nie, verval dit maklik in bygeloof.

15. Vas het drie doelstellings.🔗

Die heilige en wettige vas het drie doelstellings. Ons pas dit trouens toe om maer te word en ons vlees te onderwerp sodat dit nie uitspattig word nie, òf om beter voorberei te wees vir gebede en heilige oordenking, òf om as getuienis te dien van ons ootmoed voor God wanneer ons ons skuld voor Hom wil bely. Die eerste doelstelling is nie altyd van toepassing op openbare vas nie omdat almal nie dieselfde liggaamlike toestand en ook nie dieselfde gesondheidstoestand het nie. Gevolglik pas persoonlike vas eerder. Almal het egter deel aan die tweede doelstelling. Die hele kerk het trouens net so 'n behoefte aan voorbereiding vir hulle gebede as wat elkeen van die gelowiges dit het. Ten opsigte van die derde doelstelling geld dieselfde. Dit sal trouens soms gebeur dat God 'n volk met oorlog of pes of die een of ander ramp tref. In hierdie algemene straf moet die hele volk homself aankla en sy skuld bely. Maar as die hand van die Here iemand persoonlik slaan, moet hy dit alleen of saam met sy gesin doen. Dit is besonderlik gevestig in die gesindheid van ('n mens se) gemoed. Want wanneer ('n mens se) gemoed bewoë word soos dit moet, kan dit beswaarlik anders as om in uiterlike betuiging uit te bars. En dit gebeur veral as dit tot die algemene stigting bydra dat almal saam deur hulle sonde openlik te bely, God loof vir sy regverdigheid en hulle mekaar wedersyds elkeen deur sy eie voorbeeld aanspoor.

16. Openbare gebed en vas hoort bymekaar.🔗

Hoewel vas, soos ek gesê het,69 'n algemene oefening is, is dit as 'n teken van ootmoed meer gebruiklik in die openbaar as onder mense in hulle persoonlike lewe. Sover dit dus die dissipline wat ons nou behandel aangaan: so dikwels ons God om die een of ander belangrike saak moet aanroep, sou dit nuttig wees om vas saam met gebed te gelas. Wanneer die inwoners van Antiochië byvoorbeeld hulle hande op Paulus en Barnabas (se koppe) lê om hulle bedieningsamp wat van soveel belang was, beter aan God op te dra, verbind hulle vas met gebed.70 So het Paulus en Barnabas daarna wanneer hulle bedienaars oor die kerke aangestel het, gewoonlik gebid en gevas.71 Hierin sien vas nie op iets anders as om die mense vuriger en meer voorbereid vir die gebed te maak nie. Ons ervaar dit beslis ook dat as ons versadig is, ons gedagtes nie so op God gerig is dat ons deur 'n ernstige en brandende begeerte in ons gebed meegesleur word en daarin kan volhard nie. So moet ons ook verstaan wat Lukas van Anna sê, naamlik dat sy die Here gedien het deur vas en smekinge.72 Hy stel die diens aan God trouens nie in vas nie maar hy gee te kenne dat hierdie heilige vrou haar so geoefen het om voortdurend te bid. So was ook Nehemia se vas toe hy met gespanner aandag gebid het dat God sy volk moes bevry.73 Daarom sê Paulus dat gelowiges reg doen as hulle hulle tydelik van die huweliksbed weerhou om vry te wees om met groter vrymoedigheid te bid en te vas. Wanneer hy vas daar as 'n hulpmiddel aan die gebed verbind, wys hy daarop dat dit op sigself van geen waarde is behalwe in soverre dit tot hierdie doel strek nie.74 Wanneer hy dan uiteindelik voorskryf dat eggenote wedersyds aan mekaar welwillendheid moet betoon,75 is dit duidelik dat hy daar nie van daaglikse gebede praat nie, maar van gebede wat ernstiger aandag vereis.

17. Gebed en vas by geleentheid van openbare rampe en teenspoed.🔗

As pes òf hongersnood, òf oorlog begin hoogty vier, òf as die een of ander ramp lyk asof dit 'n landstreek en 'n volk bedreig, is dit aan die ander kant ook herders se plig om die kerk aan te spoor om te vas om smekend die toorn van die Here af te bid. Hy verklaar trouens dat Hy gereed en op een of ander manier bewapen is om wraak te neem wanneer Hy gevaar laat verskyn. Soos aangeklaagdes hulle gewoonlik eertyds dus met 'n lang baard, ongekamde hare en vuil klere smekend neergewerp het om genade van 'n regter te verkry, so betaam dit ons ook om, wanneer ons voor die regterstoel van God aangekla word, sy strengheid met 'n treurige houding af te bid omdat dit enersyds van belang is vir sy heerlikheid en die algemene openbare stigting en omdat dit andersyds juis ook vir ons voordelig en heilsaam is. Dit is weliswaar maklik om uit Joël se woorde die afleiding te maak dat dit gebruiklik was onder die Israeliete. Wanneer hy gelas dat die basuin geblaas, die vergadering byeengeroep, vas aangesê word, en die dinge wat daarop volg,76 praat hy van dinge wat in die daaglikse gebruik aanvaar is. 'n Bietjie vroeër het hy gesê dat ondersoek ingestel is na die sondes van die volk; hy het verklaar die dag van oordeel reeds oor hulle hang en hy het hulle as aangeklaagdes gedaag om hulle saak te verdedig.77 Daarna verhef hy sy stem (en beveel) dat hulle hulle na sak en as, en na gehuil en vas moet haas.78 Dit beteken dat hulle hulle ook met uiterlike getuienis voor die Here moes neerwerp. Sak en as het miskien beter by hulle tydsgewrig gepas; maar die byeenroep, die gehuil, die vas en dergelike dinge het ongetwyfeld net so op ons tyd betrekking so dikwels ons omstandighede dit vereis. Aangesien dit immers 'n heilige oefening is om mense sowel ootmoedig te maak as om hulle ootmoed te bely, waarom sou ons dit dan in 'n soortgelyke noodtoestand minder toepas as die mense van ouds? Ons lees dat nie alleen die Israelitiese kerk wat volgens die Woord van God gevorm en ingerig was, as 'n teken van droefheid gevas het nie,79 maar ook die inwoners van Ninevé wat met uitsondering van een preek van Jona geen onderwysing gehad het nie.80 Wat is dan die rede waarom ons nie dieselfde sou doen nie?

"Maar dit is 'n uiterlike seremonie wat saam met ander seremonies in Christus tot 'n einde gekom het." Ja, dit is ook vandag nog die beste hulpmiddel vir gelowiges soos dit altyd was, en 'n nuttige vermaning om hulleself op te wek om nie vanweë oordrewe onbesorgdheid en traagheid God al hoe meer en meer uit te tart wanneer hulle deur sy géselslae getug word nie. Wanneer Christus sy apostels verontskuldig omdat hulle nie vas nie, sê Hy nie dat vas daarom afgeskaf is nie, maar Hy bestem dit vir rye van teenspoed en verbind dit aan droefheid. Hy sê: "Daar sal 'n tyd kom wanneer die bruidegom van hulle weggeneem sal word".81

18. Wat 'vas' waarlik beteken; die tydperk daarvan, die aard van die kos en spaarsame gebruik daarvan.🔗

Maar om te voorkom dat iemand oor die woord dwaal, moet ons omskryf wat vas beteken. Ons verstaan hieronder trouens nie doodeenvoudig net weerhouding en spaarsaamheid in (die gebruik van) voedsel nie maar iets anders. Godvrugtige mense se lewe behoort trouens met spaarsaamheid en nugterheid getemper te wees sodat hulle hulle hele lewe lank sover moontlik die indruk van vas behoort te gee. Maar daar is hierbenewens ook 'n tydelike vas wanneer ons iets uit ons gewone lewenswyse wegneem en ons ons vir 'n dag, òf vir 'n bepaalde tyd nouer en strenger beheersing in die gebruik van voedsel aansê. Dit is geleë in drie dinge, naamlik in die tydperk, die aard van die voedsel en spaarsaamheid daarin. Onder tydperk bedoel ek dat ons nugter dié handelinge moet voltooi ter wille waarvan die vas ingestel word. As iemand byvoorbeeld vas met die oog op plegtige gebed, moet hy dit benader sonder om te eet. Die aard (van die voedsel) is daarin geleë dat alle lekkernye afwesig moet wees en dat ons met gewone goedkoper kos tevrede moet wees en nie ons lus deur lekkernye moet laat prikkel nie. 'n Maat vir die hoeveelheid bestaan daarin dat ons spaarsamiger en ligter as gewoonlik moet eet slegs na behoefte en nie na willekeur nie.

19. Drie dinge waarteen gewaak moet word.🔗

Maar ons moet inderdaad altyd veral daarteen waak dat daar geen bygelowigheid hier insluip soos tevore tot groot skade vir die kerk gebeur het nie. Dit sou trouens baie beter wees dat daar hoegenaamd geen gebruik van die vas is nie eerder as om dit noukeurig te handhaaf en dit intussen te laat bederf deur valse en skadelike opvattings waarin die wêreld dikwels verval tensy herders dit met die grootste geloof en verstandigheid teengaan. Die eerste hiervan is dat hulle altyd moet aandring op wat Joël leer, naamlik dat hulle hulle harte stukkend moet skeur en nie hulle klere nie.82 Dit beteken dat hulle die (kerk)volk moet vermaan dat God vas op sigself nie van groot waarde ag tensy die innerlike gesindheid van die hart en ware misnoë met die sonde en met homself, ware ootmoed en ware droefheid uit vrees vir God nie aanwesig is nie. Ja, dat vas om geen ander rede voordelig is as omdat dit vir hulle 'n geringer hulpmiddel is nie. God verfoei niks trouens meer as wanneer mense die tekens en uiterlike skyn as onskuld van hulle harte aan Hom voorhou en probeer om Hom daarmee te mislei nie. Jesaja vaar daarom uiters streng teen hierdie geveinsheid uit omdat die Jode gedink het dat hulle God tevrede gestel het wanneer hulle net gevas het hoewel hulle goddeloosheid en onrein gedagtes in hulle hart getroetel het. Hy vra: "Is dit die vas wat die Here verkies het?"83 en wat daarop volg. Geveinsde vas is dus nie alleen 'n nuttelsoe en oorbodige vermoeienis nie maar die grootste gruwel.

'n Tweede euwel wat hieraan grens en waarteen ons met die grootste sorg moet waak, is dat vas nie as 'n verdienstelike werk of as 'n sort diens aan God beskou moet word nie. Aangesien dit immers op sigself 'n middelmatige saak is en van geen belang anders as vir die doelstellings waarop dit gerig behoort te wees nie, is dit die verderflikste bygelowigheid om dit te verwar met die werke wat deur God gebied is, en wat op sigself noodsaaklik is en nie in 'n ander opsig nie. Eertyds was die waansinnigheid van die Manicheërs van so 'n aard. Wanneer Augustinus hulle weerlê, leer hy duidelik genoeg dat die waarde van vas slegs na aanleiding van die doelstellings wat ek genoem het, geskat moet word en dat God dit nie goedkeur tensy dit daarop gerig is nie.84

Die derde dwaling is weliswaar nie so goddeloos nie, maar nogtans gevaarlik. Dit is naamlik wanneer mense dit as een van die vernaamste pligte so eiesinnig en onverbiddelik vereis en met sulke onbeheerste loftitels verhef dat hulle reken dat hulle iets uitsonderliks gedoen het wanneer hulle gevas het. In hierdie opsig durf ek die leraars van ouds nie heeltemal verskoon nie omdat hulle sekere sade van bygeloof gesaai het en die geleentheid vir die tirannie wat later ontstaan het, gebied het. Ons kom soms gesonde en verstandige opvattings oor vas teen maar dan kom daar ook dikwels uitspattige lofbetuigings vir vas voor wat vas tot een van die vernaamste deugde verhef.

20. Uit dwalings oor vas het die Roomse veertigdaagse vas ontstaan.🔗

En destyds het die bygelowige handhawing van die veertigdaagse vas oral posgevat omdat die gewone mense van mening was dat hulle daarin uitsonderlike gehoorsaamheid aan God betoon en herders dit opgehemel het as heilige nabootsing van Christus.85 Dit is egter duidelik dat Christus nie gevas het om aan ander 'n voorbeeld voor te skryf nie, maar om te bewys dat die verkondiging van die evangelie deur dit so te begin, geen menslike leer is nie maar dat dit in werklikheid uit die hemel gekom het.86 En tog is dit verbasend dat so 'n growwe sinsbedrog by mense met skerpsinnige oordeel kon insluip hoewel dit deur soveel en sulke duidelike bewyse weerlê word.

Christus het trouens nie baie dikwels gevas nie - iets wat moes gebeur as ons teenstanders 'n wet vir die vas daaruit wil leer -, maar slegs eenkeer toe Hy hom gereed gemaak het om die evangelie te verkondig. Hy het ook nie soos mense gevas, soos Hy moes vas as Hy mense wou aanpor om Hom na te boots nie, maar Hy het eerder 'n voorbeeld gelewer om almal mee te sleur in bewondering vir Hom as om hulle op te wek tot ywer om Hom daarin na te volg. Verder is die rede vir sy vas dieselfde as die rede waarom Moses gevas het toe hy die wet uit die hand van die Here ontvang het.87 Aangesien daardie wonderwerk immers in die geval van Moses geopenbaar is om die gesag van die wet te bekragtig, moes die geleentheid daarvoor nie in die geval van Christus verbygaan om te voorkom dat dit sou lyk asof die evangelie vir die wet agteruitstaan nie. En tog het dit sedert daardie tyd nooit in iemand se gedagtes opgekom om onder dekmantel van nabootsing van Moses so 'n vorm van vas op die Israeliete te lê nie. En geeneen van die heilige profete en die kerkvaders het dit nagevolg nie hoewel hulle nogtans besiel en ywerig genoeg was vir alle godvrugtige oefeninge.

Dat ons van Elia lees dat hy veertig dae sonder kos en drank geleef het,88 het geen ander strekking gehad nie as dat die volk moes erken dat hy as hersteller van die wet opgewek is omdat byna die hele Israel oor die algemeen daarvan afgewyk het. Dit was dus louter naywer en vol bygeloof dat hulle die vas van Christus met die woord en die skelmstreek van nabootsing opgetooi het.

Daar was nogtans destyds 'n verbasende uiteenlopendheid in die manier van vas soos Cassiodorus na aanleiding van Socrates in die negende boek van sy (kerk)geskiedenis vertel. Hy sê: "Die Romeine het slegs drie weke gevas - en dit was aaneenlopend met uitsondering van Saterdag en Sondag. Die Illiriërs en die Grieke het ses, en ander sewe weke gehad, maar dit was onderbroke. Hulle het nie minder in die keuse van voedsel verskil nie; sommiges het slegs brood en water geëet, ander het groente bygesit; sommige het nie teruggedeins om vis en voëls te eet nie en ander het geen onderskeid in die voedsel (wat hulle geëet het) gemaak nie."89 Augustinus maak ook melding van hierdie verskil in sy laaste brief aan Januarius.90

21. Van Hieronymus se tyd af het daar egter erger misbruike ingesluip.🔗

Daarna het daar slegter tye gevolg en sowel die onkunde en ongeletterdheid van die biskoppe as die begeerte tot oorheersing en 'n tirannieke onbuigsaamheid het by die voorbarige ywer van die gewone mense gekom. Goddelose wette is gemaak en dit het die gewetens (van die 5 mense) met verderflike bande verstrengel. Die eet van vleis is verbied asof dit 'n mens sou besmet.91 Die een heiligskennige opvatting na die ander is bygevoeg totdat die bodem van alle dwalings bereik is. En om geen verwrongenheid weg te laat nie, het hulle met God die spot begin dryf deur weerhouding as 'n uiters onverstandige dekmantel voor te hou. Aanprysing van die vas word immers in die mees gesogte lekkernye gesoek; dan is geen lekkernye meer voldoende nie - nog nooit was daar 'n groter hoeveelheid, verskeidenheid en aangenamer voedselsoorte nie. Hulle meen dat hulle God na behore dien in sulke groot en sulke voortreflike voorbereiding van eetmale. Ek swyg maar daaroor dat diegene wat as die heiligste mense beskou wil word, hulleself nooit skandeliker oorvreet nie.

Kortom: die hoogste diens aan God is vir hulle daarin geleë om jou van vleis te onthou, en met uitsondering daarvan 'n oorvloed van elke soort lekkerny te hê! Aan die ander kant is dit die grootste goddeloosheid, en iets waarvoor 'n mens nouliks met die dood moet boet, as hy aan 'n stukkie spek of stinkende vleis saam met sy brood as voedsel proe! Hieronymus vertel dat daar reeds in sy tyd sekere mense was wat met sulke onsinnighede die spot met God gedryf het. Om nie olie te eet nie, het hulle die mees gesogte lekkernye van oral na hulle laat aandra. Ja, om hulle natuur geweld aan te doen, het hulle hulle weerhou daarvan om water te drink maar tog gesorg dat die soetste en kosbaarste drankies vir hulle gemaak word en dit het hulle nie uit 'n beker gedrink nie maar uit 'n skulp.92

Hierdie sonde wat destyds net onder 'n paar mense bestaan het, kom vandag algemeen onder al die rykes voor, naamlik dat hulle slegs met hierdie doel voor oë vas om deftiger en keuriger te eet. Maar ek wil nie baie woorde mors op 'n onderwerp wat nie so twyfelagtig is nie. Ek sê slegs dat die pousgesindes sowel in die vas as in alle ander aspekte van die dissipline niks opregs, niks goeds georden en ingerig het om hulle enige geleentheid te bied om hooghartig te wees asof daar iets lofwaardigs by hulle oorgebly het nie.

22. Die tweede deel van kerklike dissipline: ampsbekleërs.🔗

Nou volg die tweede deel van (kerklike) dissipline wat besonderlik op die geestelikheid betrekking het. Dit word saamgevat in kanons wat die biskoppe van ouds hulleself en hulle orde opgelê het. Sulke kanons is byvoorbeeld dat dit geen ampsdraer geoorloof is om te jag, of te dobbel òf hom te ooreet nie; dat dit geen ampsdraer veroorloof is om woeker- of koophandel te bedryf nie, dat hy by geen losbandige dansery aanwesig mag wees nie en ander dergelike voorbeelde.93 Daarby is ook strawwe gevoeg waardeur die gesag van die kanons bekragtig is sodat niemand dit ongestraf kon verbreek nie.94 Met die oog hierop is aan elke biskop beheer oor sy geestelikes gegee om hulle volgens hierdie kanons te regeer en aan hulle plig te hou.95 Met die oog hierop is jaarlikse inspeksies en sinodes ingestel om iemand te vermaan as hy sy plig miskien verwaarloos het en, as iemand daarteen gesondig het, hom na die aard van sy oortreding te straf.96 Die biskoppe het self ook jaarliks hulle eie provinsiale sinodes gehad - in die ou tyd was daar selfs twee waardeur geoordeel is of hulle iets buiten hulle plig gedoen het.97 As 'n biskop trouens baie hardvogtig of gewelddadig teenoor sy ampsdraers opgetree het, kon 'n beroep op die sinodes gedoen word, selfs al was daar net een ampsdraer wat daaroor gekla het.98

Die straf was uiters streng, naamlik dat iemand wat gesondig het, uit sy amp ontslaan en 'n tydperk gemeenskap (met die kerk) ontneem is.99 Omdat dit egter 'n aaneenlopende orde was, het hulle die sinode gewoonlik nooit verdaag sonder om 'n plek en tyd vir die volgende sinode aan te kondig nie.100 Want om 'n algemene sinode byeen te roep was die voorreg van die keiser alleen soos al die sinode-aankondigings van ouds getuig.101 So lank hierdie strengheid van krag was, het ampsdraers nie met hulle woorde meer van die kerkvolk vereis as wat hulle self met hulle voorbeeld en werk gelewer het nie. Ja, hulle was selfs baie strenger teenoor hulleself as teenoor die kerkvolk. En dit hoort in elk geval so dat die kerkvolk met mensliker en, om dit so te stel, losser tug regeer moet word maar dat die ampsdraers onderling skerper sensuur moet beoefen en hulleself baie minder as ander oor die hoof moet sien.

Dit is nie nodig dat ons hoef te vertel hoe dit alles tot niet gegaan het nie aangesien ons ons vandag niks kan voorstel wat meer teuelloos en losbandig is as hierdie orde nie. Dit het trouens in so 'n losbandigheid uitgebars dat die hele wêreld sy stem daarteen verhef. Maar om te voorkom dat die indruk sou ontstaan dat die ou tyd heeltemal onder hulle begrawe is, erken ek, bedrieg hulle die oë van eenvoudiges met sekere skadu's daarvan, maar dit kom net so min naby aan die gewoontes van ouds as wat die na-apery van 'n aap aan iets kom wat mense met redelikheid en beplanning doen. By Xenophon kom daar 'n verwysing voor wat die moeite werd is om aan te haal. Wanneer hy leer hoe skandelik die Perse van die instellings van hulle voorvaders afgewyk het, en hoe hulle van 'n gestrenge lewenswyse in verwyfdheid en weelde verval het, vertel hy dat hulle die ou gebruike nogtans sorgvuldig gehandhaaf het om hierdie skande te verdoesel. Want toe nugterheid en selfbeheersing in die tyd van Cyrus so kragtig was dat 'n mens nie nodig gehad het om sy neus te snuit nie en dit selfs as 'n skande beskou is, het die bygeloof onder hulle nageslag voortgeduur dat niemand sy neus mag snuit nie, maar dat dit hulle geoorloof is om die stinkende vog wat hulle uit hulle kele opgetrek het, op te slurp en binne-in rond te rol tot dit verrot is. Volgens 'n ou voorskrif was dit hulle ook nie geoorloof om bekers na die tafel te bring nie maar hulle het verdra dat iemand die wyn so opslurp dat hy dronk van die tafel af weggedra moes word. Daar was 'n voorskrif dat hulle net eenmaal per dag mag eet; hulle goeie opvolgers het dit egter nie herroep nie, maar bepaal dat hulle hulle roes van die middag af tot middernag moes uitrek. Daar was 'n gewoonte wat lank onder hulle geduur het, naamlik dat iemand 'n dagreis moes voltooi sonder om te eet omdat die wet dit beveel het. Maar om uitputting te voorkom, was dit 'n vry algemene gebruik om 'n dagreis tot twee ure te beperk!102

So dikwels die pousgesindes hulle reëls as dekmantel voorhou om te bewys dat hulle na die heilige kerkvaders aard, sal die voorgaande voorbeeld hulle belaglike nabootsing voldoende aan die kaak stel sodat geen skilder dit lewendiger kan uitdruk nie.

23. 'n Weerlegging van die Roomse leer in verband met selibaat.🔗

Oor een saak is hulle meer as onbuigsaam en onverbiddelik, naamlik dat hulle priesters nie toelaat om in die huwelik te tree nie.103 Dit is van geen belang om hier te sê met hoeveel vryheid hoerery ongestraf onder hulle hoogty vier nie. In hulle steun op hulle stinkende selibaat het hulle vir alle sondes ongevoellig geword. Hierdie verbod bewys in elk geval duidelik hoe verpestelik al hulle tradisies is - in so 'n mate so dat dit die kerk nie alleen van opregte en bekwame herders beroof het nie, maar ook 'n skrikwekkende hoop misdade ingevoer het en baie siele in 'n kolk van wanhoop gedompel het. Dat die huwelik vir priesters verbied is, het beslis vanweë goddelose tirannie plaasgevind, nie alleen strydig met God se Woord nie, maar ook strydig met alle billikheid.

Ten eerste was dit mense nie geoorloof om iets wat die Here vry gelaat het, sonder rede te verbied nie. Verder is dit so duidelik dat God uitdruklik in sy Woord daarteen voorsorg getref het dat hierdie Vryheid nie verbreek word nie, dat dit nie 'n 'n lang bewys nodig het nie. Ek laat dit maar daar dat Paulus op verskeie plekke wil hê dat 'n biskop 'n man van net een vrou moet wees.104 Maar kan iets heftiger gesê word as wanneer hy na aanleiding van die Heilige Gees verklaar dat daar in die laaste tye goddelose mense sal wees wat die huwelik verbied? Hy noem hulle nie alleen verleiers nie maar ook duiwels.105 Dit is 'n voorspelling; dit is 'n heilige uitspraak van die Heilige Gees waarmee Hy die kerk van die begin af teen gevare wou verskans, naamlik dat 'n verbod teen die huwelik 'n leerstelling van die duiwels is.

Hulle reken inderdaad dat hulle pragtig ontsnap het wanneer hulle hierdie opvatting verdraai na Montanus, die Tatiane, die Enkratiete en ander ketters van ouds. Hulle sê: "Hulle alleen het die huwelik verdoem; ons verdoem die huwelik glad nie, maar hou slegs die kerklike stand daarvan terug omdat dit na ons mening nie genoeg by hulle pas nie."106 Net asof die bogenoemde voorspelling wat oor die voorgaande ketters voltrek is, nie ook op hulle van toepassing is nie, of net asof ons verdien om na daardie kinderagtige redenasietjie dat hulle verklaar dat hulle die huwelik nie verbied nie omdat hulle dit nie vir alle mense verbied nie, te luister! Dit is trouens net asof 'n tiran aanvoer dat 'n wet nie onbillik is nie omdat slegs 'n deel van sy stad deur die onbillikheid daarvan onderdruk word!

24. Hulle redenasie dat priesters van gewone mense onderskei behoort te word, het geen grond in die Woord van God nie.🔗

Hulle opper die beswaar dat een of ander teken 'n priester van gewone mense behoort te onderskei. Net asof die Here nie ook voorsien het in watter versierings priesters behoort uit te staan nie. So beskuldig hulle die apostel daarvan dat hy hulle orde versteur het en hulle kerklike sieraad (met dié van gewone mense) vermeng het. Toe hy 'n volmaakte beeld van 'n goeie biskop geteken het, het hy gewaag om onder die ander gawes wat hy in so 'n biskop vereis, ook die huwelik te stel! Ek weet hoe hulle dit vertolk,107 naamlik dat niemand gekies moet word wat 'n tweede vrou gehad het nie.108 Ek gee ook toe dat dit geen nuwe uitleg is nie.109 Maar dit is uit die verband duidelik dat dit vals is omdat hy dadelik daarna beskryf hoedanig die vrouens van biskoppe en diakens moet wees.110 Onder die deugde van 'n biskop noem Paulus ook die huwelik. Hulle leer dat dit 'n ondraaglike sonde in die kerklike orde is! En, mag dit God behaag, hulle is nog nie met hierdie algemene belastering tevrede nie maar in hulle kanons noem hulle dit onreinheid en besmetting van die vlees!111

Laat elkeen maar nadink uit watter smidswinkel hierdie leer gekom het. Christus ag die huwelik soveel eer waardig dat Hy wil hê dat dit die beeld van sy heilige verbintenis met die kerk moet wees.112 Kan iets voortrefliker as dit gesê word om die aansien van die huwelik lof toe te swaai? Met watter onbeskaamdheid sal hulle die huwelik dan onrein of besmet noem as die gelykenis van Christus se geestelike genade daarin skitter?

25. Hulle redenasie dat die Levitiese priesters van 'n vrou moes wegbly voordat hulle offer, en dat dit ook Roomse priesters geld, hou nie steek nie.🔗

Hoewel hulle verbod inderdaad so duidelik met God se Woord bots, vind hulle nogtans in die Skrif iets om hierdie verbod te verdedig! "So dikwels as wat die Levitiese priesters hulle diensbeurt waargeneem het, moes hulle hulle van hulle vrouens afsonder om offers rein en onbevlek te hanteer.113 Aangesien ons heilige seremonies baie heerliker is en daagliks verrig moet word, sou dit dus 'n baie groot oneer wees dat dit deur getroudes gedoen word."114 Net asof dienaars van die evangelie inderdaad een en dieselfde as Levitiese priesters is! Die Levitiese priesters het Christus trouens as voorbeelde weergegee wat as Middelaar van God en die mense115 ons deur sy volmaakste reinheid met die Vader sou versoen. Aangesien hulle as sondaars inderdaad nie in alle opsigte 'n beeld van sy heiligheid kon toon nie, is hulle gelas om hulle buitengewoon te reinig wanneer hulle die heiligdom nader om nogtans met sekere buitelyne sy heiligheid af te skadu. Die rede daarvoor was natuurlik dat hulle Christus eintlik uitgebeeld het omdat hulle as 'r ware as vredemakers by die tabernakel, die beeld van die hemelse regbank, verskyn het om die volk met God te versoen. Omdat kerklike priesters nie vandag hierdie funksie vervul nie, word hulle verniet met die Levitiese priesters vergelyk. Daarom verkondig die apostel onbesorg en sonder uitsondering dat die huwelik onder alle mense eerbaar is, maar dat die oordeel van God op hoere en owerspeliges wag.116 En die apostels het ook met hul eie voorbeeld bewys dat die huwelik die heiligheid van geen amp, hoe uitnemend dit ook al is, onwaardig is nie. Paulus getuig immers dat hulle nie slegs vrouens gehad het nie, maar dat hulle hulle ook met hulle saamgeneem het.117

26. Daar was geen selibaat in die kerk van ouds nie.🔗

Verder was dit verbasende skaamteloosheid dat hulle met hierdie sieraad van kuisheid tot die grootste skande vir die kerk van ouds as iets noodsaakliks gesmous het! Hoewel die kerk 'n oorvloed uitnemende kennis van God gehad het, het dit nogtans nog meer in heiligheid uitgeblink. As hulle immers niks vir die apostels omgee nie - en hulle het die gewoonte om hulle soms sterk te minag -, wat, vra ek jou, sal hulle dan met al die kerkvaders van ouds doen? Hulle het die huwelik beslis nie alleen onder die biskoporde verdra nie, maar dit ook goedgekeur!118 Natuurlik het hulle 'n verfoeilike ontheiliging van die godsdiens(seremonies) vertroetel omdat die geheimenisse van die Here só nie na behore onder hulle gedien is nie. Op die sinode van Nicéa was daar wel 'n agitasie om die selibaat aan te sê aangesien daar nooit 'n tekort aan bygelowige mensies is wat altyd iets nuuts uitdink om vir hulleself bewondering te bewerk nie! Maar wat was die besluit? Hulle het naamlik oorgegaan tot die aanbeveling van Paphnutius wat verklaar het dat dit kuisheid is om met jou eie vrou saam te leef.119 Die heilige huwelik het dus ook onder hulle bly voortbestaan en dit was vir hulle òf geen skande nie òf hulle het nie geglo dat dit hulle bediening met enige smet bevlek nie.

27. Die geleidelike oorgang tot selibaat na die sinode van Nicéa.🔗

Daarna het daar tye gevolg waarin 'n uitermatig bygelowige bewondering vir selibaat veld gewen het. Hierop het daar skielik en mateloos lofliedere vir maagdelikheid ontstaan sodat die mense oor die algemeen geglo het dat daar nouliks enige ander deug is wat daarmee vergelyk kan word. En hoewel die huwelik nog nie tot onreinheid verdoem is nie, is die aansien daarvan tog so verminder en die heiligheid daarvan so verduister dat iemand wat hom nie daarvan weerhou het nie, die indruk gewek het dat hy nie moedig genoeg na volmaaktheid streef nie. Na aanleiding hiervan het daardie reëls ontstaan waarvolgens vir die eerste keer die verbod daarop geplaas is dat mense wat tot die priesterorde toetree, nie 'n huwelik mag sluit nie.120 Daarna is ook 'n verbod ingestel dat niemand in die priesterorde opgeneem mag word tensy hy ongetroud is nie,121 of slegs diegene wat hulle huweliksbed met hulle vrouens opgesê het.122 Ek erken dat dit in die ou tyd met groot toejuiging ontvang is omdat dit gelyk het asof hulle agting vir die priesteramp verkry het.123 Maar as my teenstanders die ou tyd teen my opper,124 antwoord ek in die eerste plek dat hierdie vryheid dat biskoppe getroudes kon wees, sowel onder die apostels as vir etlike eeue daarna bestaan het.125 Dit was sonder probleme 'n gebruik onder die apostels en ander herders van die hoogste gesag wat in hulle plek gekom het. Die voorbeeld van die ouer kerk behoort tereg vir ons soveel (meer) waarde te hê dat ons iets nie as ongeoorloof of as 'n skande vir ons moet beskou as dit destyds met lofbetuiging aanvaar en gebruiklik was nie. Verder sê ek dat daardie tyd wat vanweë 'n oordrewe geneigdheid tot maagdelikheid uiters onbillik teenoor die huwelik begin wees het, nie so die voorwaarde van selibaat op priesters gelê het asof dit iets is wat op sigself noodsaaklik is nie, maar omdat die tyd ongetroudes bo getroudes verkies het. Ten slotte sê ek dat die tyd nie sulke eise gestel het dat dit mense wat onbekwaam was om dit te handhaaf, met dwang en geweld gedwing het om hulle van die huwelik te weerhou nie. Want hoewel hulle hoere met die strengste strawwe gestraf het,126 het hulle ten opsigte van mense wat 'n huwelik gesluit het, slegs hierdie bepaling gemaak: dat hulle van hulle amp moes afstand doen!127

28. Samevatting en leiding oor die wyse waarop gelowiges hierdie valse leer moet teenstaan.🔗

So dikwels die verdedigers van hierdie nuwe dwingelandy dus die voorwendsel van oudheid voorhou om hulle selibaat te verdedig, so dikwels moet ons aan hulle die voorwaarde stel dat hulle die kuisheid van ouds weer onder hulle priesters moet herstel en dat hulle die owerspeliges en die hoere uit hulle geledere moet verwyder. Verder moet ons eis dat hulle nie diegene wat hulle nie duld 'n eerbare en kuis huwelikslewe te voer nie, moet toelaat om ongestraf in elke sort wellustigheid in te storm nie. Verder moet hulle daardie dissipline wat in onbruik geraak het, weer instel om alle losbandigheid te bedwing; hulle moet die kerk verlos van so 'n flagrante skande waardeur dit lankal misvorm is. Wanneer hulle hieraan toegee, moet hulle weer eens vermaan word dat hulle nie met die saak as iets noodsaaklik moet smous nie omdat dit op sigself vry is en van die voordeel van die kerk afhang. Ek maak hierdie stellings egter nie omdat ek meen dat daardie reëls wat die band van selibaat op die kerklike stand gelê het, hoegenaamd onvoorwaardelik geen plek gegun moet word nie, maar sodat verstandiger mense kan verstaan met watter astrantheid ons teenstanders die heilige huwelik onder priesters beswadder deur die oudheid aan ons voor te hou.

Sover dit die kerkvaders wie se geskrifte nog bestaan, aangaan: met uitsondering van Hieronymus128 het hulle ook nie met so 'n groot kwaadwilligheid afbreuk gedoen aan die eerbaarheid van die huwelik wanneer hulle volgens hulle eie oordeel daaroor gepraat het nie. Laat ons met slegs die een lofbetuiging van Chrysostomos vir lief neem en aangesien hy besonderlik 'n bewonderaar van maagdelikheid was, kan dit tog nie lyk asof hy oorvloediger as die ander kerkvaders in sy lofbetuiging vir die huwelik was nie. Hy praat egter soos volg: "Die eerste trap van kuisheid is opregte maagdelikheid; die tweede is 'n getroue huwelik. Die kuis liefde van 'n huwelik is derhalwe 'n tweede soort maagdelikheid".129

Endnotes🔗

  1. ^ Vgl. Inst. 4.11.1, 5 . 6.
  2. ^ Vgl. Inst. 4.4.9.
  3. ^ Vgl. Afdeling 22 hieronder.
  4. ^ Hierteenoor beskryf Calvyn in navolging van Cicero en Plato elders die wette van die staat as die staatsenuwees of stele van die staat (Inst. 4.20.14).
  5. ^ Marg. Act. 20.d20. & e.26 (Hand. 20:20,26). Vgl. OC 48:461 - 462.
  6. ^ Hand. 20:26. Vgl OC 48:466 - 467.
  7. ^ Vgl. Hand. 20:31.
  8. ^ Vgl. Inst. 4.11.6.
  9. ^ Marg. Matt. 18.b.15, & c.l7. Vgl. ook Matt. 18:16 en OC 45:511 e.v.
  10. ^ Vgl. afdeling 6 hieronder.
  11. ^ Marg. Matt. 18. b.15.
  12. ^ Marg. 1. Tim. 5.d.20. Vgl. OC 52:317 . 318.
  13. ^ Vgl. Matt. 18:15.
  14. ^ Marg. Galat. 2.c.14. Vgl. OC 50:192 . 193.
  15. ^ Marg. 1. Cor. 5.b.4. Vgl. OC 49:379 . 380.
  16. ^ Marg. Matt. 16.c.19, & 18.c.18, Iohan. 20.e.23. Vgl. OC 45:474 e.v.; SIS e.v.; 47:440 - 441.
  17. ^ Marg. Epbes. 5.f:25. Vgl. ook vers 26 en OC 51:222 . 223.
  18. ^ Marg. Colos. 1.d24. Vgl.OC 52:93 - 95
  19. ^ Hierdie en die volgende sinne laat die gedagtes onwillekeurig teruggryp na 1538 toe Calvyn en Farel juis omdat hulle geweier het om die nagmaal 'sonder onderskeld' te bedien uit Genève verban is . dit ten spyte daarvan dat uitdrukHk in die Ordonnances Ecclésiastiques wat op 16 Januarie 1537aan die Raad voorgelë is, bepaHngs in verband met nagmaalsgebruik en tug voorkom (OC 10,1:7·9): In 'n brief aan die hertog van Somerset beklemtoon Calvyn ook die 'biskoppe' se plig om toe te sien dat die Here se nagmaal nie besoedeJ mag word deur mense daartoe te laat wat dit nte waardig is nie (Brief 1085, OC 13:89).
  20. ^ Marg. Ezech. 3.d.18, &33.c.10. Vgl. ook Eseg. 33:8.
  21. ^ Marg. Homil. in Matth. 3. Chrysostomos, Homil. in Matt. 83.6 (MPG 58:744 - 746).
  22. ^ Marg. 1. Cor. 5.b.6. Vgl. OC 49:381 - 382.
  23. ^ Marg. 1. Cor. 5.d.11. Vgl. OC 49:385 . 386.
  24. ^ Marg. 2. Thes. 3.d.14. Vgl. OC 52:215 . 216.
  25. ^ Marg. 1. Cor. 5.b.5.
  26. ^ Marg. August. De verb. Apost. Serm. 68. Augustinus, Serm. 294.3.3 (MPL 38:1337). Vgl. ook. serm. 161.3.3 (MPL 38:879).
  27. ^ Vgl. Chrysostomos, Com. in Cor. 5.5, hom.. 15.2, 3 (MPG 61:123 - 124)
  28. ^ Vgl. afdeling 3 hierbo.
  29. ^ Vgl. Matt, 18:15 - 17.
  30. ^ Marg. 1. Cor. 5.b.5. Vgl. ook verse 4 en 6. 7.
  31. ^ Marg. Epist. 2. lib. 1. Cyprianus, Ep. 57 (MPL 4:257 . 258); CSEL 3,2:650 e.v.).
  32. ^ Marg. Epist. 14. lib. 3., &eiusdem lib. epist. 26. Cyprianus, Ep. 14.4; 16.2; 17.2 (CSEL 3,2:512; 518; 522).
  33. ^ Vgl. Cyprianus, Ep. 14.4 (CSEL 3,2:512).
  34. ^ Marg. Ambr. lib. epis: 3. Ambrosius, Ep. 51.13 (MPL 16:1163).
  35. ^ Marg. In orat. babita In funere Theodosil. Ambrosius, De obitu Theodosii oratio 28, 34 (MPL 16:1394: 1396). Kyk ook Inst. 4.11.3 - 4.
  36. ^ Vgl. Inst. 4.11.6.
  37. ^ Vgl. Calvyn se kommentaar oor 1 Kor. 5:4 (OC 379 - 380)
  38. ^ Foutiewelik in A aangedui as 545.
  39. ^ Vgl. Gal. 6:1.
  40. ^ Marg.2. Cor. 2.b. 7. Vgl. OC 50:29.
  41. ^ Vgl. die konsilie van Ancyra (314), kanon 4 - 9,16,20,23 - 25 (Mansi 2:515 - 522) en die konsilie van Nicea (325), kanon 11,12 (Mansi 2:674).
  42. ^ Vgl. Tertullianus, De pudicitia 20 (MPL 2:1075); Origenes, Libellus de oratione 28.9 e.v. (MPG 11:527 e.v.).
  43. ^ Marg.Ad Cornelium epist. 3. lib. 1. Cyprianus, Ep. 59 (MPL Ep. 55 3:851; CSEL 3,2:686).
  44. ^ Vgl. Chrysostomos;In hom. non anatbematizandis vivis atque defunctis (MPG 48:943 e.v.),
  45. ^ Augustinus, Ep. 61.2; 128.2; 185.6.23; 185.10.44 (MPL 33:228; 489; 803; 812; CSEL 34,2:223; 44:31; 57:21 e.v.; 38 e.v.)
  46. ^ Vgl. 2 Kor. 2:8.
  47. ^ Marg. Mat. 18. c.18.
  48. ^ Marg. 2. Thes. 3.d.15. Vgl. OC 52:216.
  49. ^ Vgl. in verband hiermee Luther se Ein Sermon von dem Bann (1520) (WA 6:66): ...wilcber verban net unrt, muss entsetzt seyn des gemeynen sacramentis und wandelI unter den menscben, aber tst nit darumb verworffen von ybrer lieb, furbitt und guten wercken.
  50. ^ Marg. Lib. 2. contra Parmen. cap. 1. Augustinus, Contra ep. Parmeniani2.1.3 (MPL 43:51; CSEL 51:46).
  51. ^ Vgl. Ef. 4:3.
  52. ^ Vgl. Ef. 4:2.
  53. ^ Marg. Lib. 3. cap. 1. Augustinus, Contra ep. Parm. 3.1.1 (MPL 43:81; CSEL 51:98).
  54. ^ Marg. Cap. 2. Augustinus, Ibid 3.2.15 (MPL 43:94; CSEL 51:119 e.v.).
  55. ^ Marg. Cap. 1. Matt. 13.d29. Augustinus, Ibid 3.1.2, 3 (MPL 43:85; CSEL 51:99 e.v., 102 e.v.),
  56. ^ Vgl. Cyprianus, Ep. 59.16 (CSEL 3,2:686).
  57. ^ Vgl. Inst. 4.1.13.
  58. ^ Augustinus, Contra ep. parm. 3.1.1 (MPL 43:81 e.v.; CSEL 51:98 e.v.).
  59. ^ Marg. 2. Cor. 11.d.14. Vgl. OC 50:129.
  60. ^ Marg. Cap. 1. Augustinus, Contra ep. Parm. 3.1.3 (MPL 43:85 e.v.; CSEL 51:102).
  61. ^ Vgl. Augustinus, ibid. 3.2.14 (MPL 43:93; CSEL 51:117 e.v.).
  62. ^ Marg. Epist. 64. Augustinus, Ep. ad Aurelium 22.1.4 (MPL 33:92; eSEL 34,1:57).
  63. ^ Augustinus, ibid. 1.5 (MPL 33:93; CSEL 34,1:58)
  64. ^ Augustinus, Contra ep. Parm. 3.2.15 (MPL 43:94; CSEL 51:118 e.v.).
  65. ^ Ibid.
  66. ^ Marg. Cap. 2. lib. 3. Contra Parm., 1. Cor. 5.c. 7; Ephes. 4.a.2. Augustinus, ibid. 3.2.16 (MPL 43:95; CSEL 51:120). Vgl. ook 1 Kor. 5:3 - 6 en Ef. 4:3.
  67. ^ Vgl. Joël 2:15 en Hand. 13:2 . 3.
  68. ^ Dit was o.a. Zwingli se opvatting in sy De vera etfalsa religione (1525) (opgeneem in die Corpus Reformatorum-reeks van sy werke 3:89 e.v.; 1:8 . 136). Luther poneer by geleentheid dieselfde standpunt, o.a. in sy Tiscbrede nr. 1299 (WA Ttscbreden 2:33).
  69. ^ Vgl. Inst. 4.12.15.
  70. ^ Marg. Act. 13.a.3. Vgl. OC 48:281 . 282.
  71. ^ Marg. Ibidem 14.d23 (Hand. 14:23). Vgl. OC 48:332 . 334.
  72. ^ Marg. Luc. 2.e.37. Vgl. OC 45:95.
  73. ^ Marg. Nehe. l.b.4 (Nehemia 1:4).
  74. ^ Marg. 1. Cor. 7.a.5. Vgl. OC 49:403 - 405
  75. ^ Marg. Ibidem a.3 (l Kor. 7:3).
  76. ^ Marg. Ioel. 2.d.15. Vgl. ook Joël 2:16.
  77. ^ Vgl.Joël 2:l.
  78. ^ Kyk Joël 2:12.
  79. ^ Marg. 1. Sam. 7.b.6 & 31.d.13; 2. Reg. 1.b.12 (1 Sam. 7:6; 31:13; 2 Kon. 1:12).
  80. ^ Marg. Ionae 3.b.5.
  81. ^ Marg. Matth. 9. b.15. Luc. 5.g.34. Vgl. OC 45:253.
  82. ^ Marg. Ioel. 2.c.13.
  83. ^ Marg. Iesa. 58.b.5. Vgl. ook vers 6 en OC 37:327 e.v.
  84. ^ Marg. Lib. 2. De morib. Manicb. cap. 13: & lib. 30 contra Faustum. Augustinus, De moribus Manicb. 2.13.27 - 28 (MPL 32:1356 e.v.), Contra Faustum Manicb. 30.5 (MPL 42:493 e.v.).
  85. ^ Vgl. Augustinus, Serm. 205 - 211 (MPL 38:1039 - 1058); Ep. 55.15.28 (MPL 33:217 e.v.; CSEL 34,2:200 e.v.), Hieronymus, Comm. in Esaiam propbetam 16 (Jes. 58:3 -MPL 24:564; CCSL 73A:660 86 e.v.), Adversus Jovinianum 2.17 (MPL 23:324). Vgl. ook Cadier. Instuution 4:233, n. 4.
  86. ^ Marg. Mat. 4.a. 2.
  87. ^ Marg. Exo. 24.d.18. & 34.d.28
  88. ^ Marg. 1. Reg. 19,b.8 ( l Kon. 19:8).
  89. ^ Vgl. socrates, Hist. eccl. 5.22 (MPG 67:635); Cassiodorus, Hist. Tripart. 9.38 (MPL 69:1155).
  90. ^ Augustinus, Ep. 54.2.2 . 4, 5 (MPL 33:290 e.v.; CSEL 34,2:160 e.v.).
  91. ^ Vgl. Hieronymus, Adv. Jov. 2.5 . 17 (MPL 23:303 . 326).
  92. ^ Marg. Ad Nepotianum. Hieronymus, Ep. 52, 12 (CSEL 54:435); Augustinus, Serm. 210.8, 9 (MPL 38:1052 e.v.).
  93. ^ Vgl. Th. Balsamon, Comm. in canones Apost. 14 - 43 (in MPG 137:125 - 127 opgegee as 42 - 44); Pseudo-Isidorus, Collect. (MPL 84:205); die Decr. Grat. 1.23.3 (MPL 187:131; Friedberg 1:80).
  94. ^ Th. Balsamon, Comm. in canones Apost. 24 (MPG 137:85 e.v., 125 e.v.).
  95. ^ Pseudo-Isidorus, Collect. 55, 59 (MPL 84:204).
  96. ^ Pseudo-Isidorus, Collect. 33 (MPL 84:203)
  97. ^ Th. Balsamon, Comm. in canones Apost. 37 (38) MPG 137:113 - 118).
  98. ^ Vgl. die konsilie van Antlcchië (341) canon. 6 (Mansi 2:1311); Pseudo-Isidorus, Collect. (MPL 84:202 . 203; 205).
  99. ^ Vgl. die konsilie van Antlochië (341) canon 15 (Mansi 2:1314).
  100. ^ Vgl. die tweed konsilie van Toledo (531) canon 5 (Mansi 8:787) en die derde konsilie van Toledo (589) canon. 18 (Mansi 9:997 e.v.).
  101. ^ Vgl.Inst. 4.7.8; Eusebius, De vita Constant. 3.6 (MPG 20:1059); sokrates, Hist. eccl. 1.8 (MPG 67:59 e.v.): Leo I, Ep. 44.3 (MPL 54:829).
  102. ^ Marg. Lib. 8. Paed. Cyrl. Xenophon, Cyropaedia 8.8.8 (LCL 2:442)
  103. ^ Vgl. Inst. 4.4.10; 4.9.14; 4.13.3, 8pdie konsilie van Elvira (305) canon 33 (Mansi 2:11); die konsilievan Ancyra (314) canon 10 (Mansi 2:518); die Decr. Grat. 1.28.8 (MPL 187:156 e.v., Friedberg 1:102); die konsilie van Neo-Caesarea (314) canon 1 (Mansi 2:540); Decr. Grat. 1.28.9 (MPL 187:159; Friedberg 1:103); Siricius, Ep. et decreta 1.7.8 (Ad Himerium episc. Tarrae.) (385) (MPL13:1138e.v.); Deer. Grat. 1.82.3 -4 (MPL187:397; Friedberg 1:291); Denzinger, Ench. nr. 89 (p. 44· 45); die tweede konsilievanKarthago (390) canon 2 (Mansi 3;693); Decr. Grat. 1.31.3; 84.3(MPL 187:170; 403; Friedberg 1:112; 295); Pseudo-Isidorus, Collect. 14.2 (MPL84:185; die vyfde konsilie van Karthago (401) canon. 3 (Mansi 3:969); Pseudo-Isidorus, Colteet. (MPL 84:209); Decr. Grat. 1.32.13; 1.84.4 (MPL 187:182; 404; Friedberg 1:120 e.v., 296); Innocentius I, Ep. et decreta 2.9 (Ad  tctricium Rotomagensem 404) (MPL 20:475 - 477); Decr. Grat. 1.31.4, 5 (MPL 187:170, 171; Friedberg 1:112); Leo I, Ep. 14.3, 4 (Ad Anastasium 446) MPL 54:672); Deer. Graf. 1.32.1 (MPL 187:175; Fnedberg 1:116); Leo I, Ep. 167.3 (Ad Rusticum 458) (MPL 54:1204); Deer. Graf. 1.31.10 (MPL 187:179; Friedberg 1:1:113); die eerste Lateraanse konsilie (1123) canon 3 (Mansi 21:282; 286; Denzinger, En eh. nr. 360, p. 176).
  104. ^ Marg. 1. Tim. 3.a.2, Tit. 1.b.6. Vgl. OC 52:281 - 283; 409 . 410.
  105. ^ Marg. 1. Tim. 4.a.3. Vgl. ook vers 1 en OC 52:294 - 296.
  106. ^ Vgl. Clichtoveus, Antilutberus 1.21fa. 39A·46Aen De Castro,Adv. omnes baer. 9, 14fa. 165,208A.
  107. ^ Vgl. 1 Tim. 3:2 en Titus 1:6.
  108. ^ Vgl. die Decr. Grat. 1.26 (MPL 187:149 e.v.; Friedberg 1:95 e.v.).
  109. ^ Vgl. Augustinus, De bono conjugali 18.21 (MPL 40:387 - 388).
  110. ^ Vgl. 1. Tim. 3:11.
  111. ^ Marg. Sirittus ad Episcopos Hispaniarum. Siricius, Ep. 1.7 (Ad Himerium- MPL13:1138e.v.); Decr. Grat. 1.82.3, 4 (MPL 187:397; Friedberg 1:291 e.v.).
  112. ^ Vgl. Ef. 5:23 - 24, 32.
  113. ^ Vgl. 1 Sam. 21:5 e.v.
  114. ^ Vgl. die Decr. Grat. 1.31.4 (MPL 187:170; Friedberg 1:112); Innocentius I, Ep. et deereta 6.9 (MPL 20:474 e.w),
  115. ^ Vgl. 1 Tim. 2:S
  116. ^ Marg. Heb. 13.a.4. Vgl. OC 55:
  117. ^ Marg. 1. Cor. 9.a.5. Vgl. OC 49:
  118. ^ Vgl. Tertullianus, De exbort. castit. 7 (MPL2:970 e.v.), De monogamia 8 (MPL2:989) asook die conc. Gangrense(324) canon 4 (Mansi2:1102); Cassiodorus, Hist. trip. 2.14 (MPL69:933); die Decr. Grat. 1.27.1,8, 9 (Friedberg 1:98, 100, 103).
  119. ^ Marg.Hist. tripart. lib. 2. cap. 14.Cassiodorus, Hist. trip.11.14 (MPL69:933) vertel dat Paphnutius die voorstel van selibaat by die eerste konsilie van Nicea (325) teengestaan het. Hy het aangevoer dat 'n wettige huwelik 'n eerbare instelling is en dat die voorgestelde reël daarom nadelig sou wees. Vgl. ook Sozomenus, Hist. eccl. 1.23 (MPG 67:926).
  120. ^ Vgl. die Decr. Grat. 1.28.9 (MPL 187:159; 162; Friedberg 1:103); die konsilie van Neo-Caesarea (315) canon 1 (Mansi 2:540); die konsilie van Ancyra (314) canon 10 (Mansi 2:518); en die eerste Lateraanse konsilie (1123) canon 3 (Mansi 21:282).
  121. ^ Vgl. die Decr. Grat. 1.28.1 (MPL 187:155;·Friedberg 1:100); Gregorius, Reg. 1. ep. 42 (MPL 75:81); Decr. Grat. 1.28.2 (MPL 187:155; Friedberg 1:101); die tweede Lateraanse konsilie (1139) canon 6(Mansi 21:527); Decr. Grat. 1.28.3 (MPL 187:156; Friedberg 1:101); die vierde konsilie van Toledo(633) canon 27 (Mansi 10:627); Decr. Grat. 1.28.6 (MPL 187:158; Friedberg 1:102); Conc. Arelat. 2 (452) canon 2 (Mansi 7:879); Decr. Grat. 1.28.7 (MPL 187:158; Friedberg 1:102); Conc. Arelat. canon 43 (Mansi 7:883).
  122. ^ Vgl. die Decr. Grat. 1.31.10 (MPL 187:172; Friedberg 1:113); Humbertus, Contra Nicetam (MPL 143:996 . 997).
  123. ^ Vgl. die Conc. Neoeaesar. (314) canon 10 (Mans i 2:518).
  124. ^ Vgl. De Castro, Adv. baer. 13, fo. 194E.
  125. ^ Kyk 1 Tim. 3:2. VgI. ook die Canones Apost. 5.6 (MPG 137:43); Deer. Grat. 1.28.14 (MPL 187:162; Friedberg 1:105); die Conc. Gangrense (324) canon 4 (Mansi 2:1102); Decr. Grat. 1.28.15 (MPL 187:162; Friedberg 1:105) en Tertulllanus, De exbort. cast. 7 (MPL 2:970 e.v.
  126. ^ Vgl. die Decr. Grat. 1.81.12 (Friedberg 1:284); Canones Apost. 24 (MPG 137:85),
  127. ^ Vgl. die Decr. Grat. 1.27.1 (Friedberg 1:98); die Conc. Ancyr. (314) canon. 10 (Mansi 2:518)
  128. ^ Vgl. Hieronymus, Adv. Iovianian. 1.47 e.v. (MPL 23:211 e.v.; 288 e.v.).
  129. ^ Marg. Hom. de inuentione crucis. Hierdie werk is die die MPG weggelaat maar kom wel voor Erasmus se uitgawe van Chrysostomos se werke van 1530 2:130 e.v.