Kennis van God is meer as om net te weet dat daar wél 'n God bestaan. Dit is om Hom as Skepper en Verlosser te ken soos die Skrif Hom aan ons openbaar. Hierdie hoofstuk behandel eersgenoemde: Hy is die een wat geskep het en Sy skepping onderhou, bestier, bewaar, regeer en beskerm. Daar is niks waarvan Hy nie die oorsaak is nie. Ons moet alle dinge van Hom verwag, van Hom eerbiedig vra en aan Hom die dank bring.

1984. 4 bladsye.

Institusie van die Christelike Godsdiens (1559) - Boek 1 Hoofstuk 2 Die betekenis en doel daarvan om God te ken

1. Kennis van God Spruit uit Godsvrug🔗

Nou verstaan ek onder 'kennis van God' nie alleen iets waardeur ons begrip het daarvan dat daar wél 'n God bestaan nie, maar ook iets waardeur ons kennis het van dit wat vir ons belangrik. nuttig en betaamlik is om tot sy heerlikheid van Hom te weet. Want om eerlik te praat: ons sal nooit die bewering maak dat God geken word waar geen godsdiens1 of godsvrug2 bestaan nie. En hier raak ek nog rue aan daardie soort kennis waarvolgens die mens, wat in homself verlore en vervloek is, God as sy Verlosser en Christus as sy Middelaar aanneem nie. Ek praat hier maar net van die eerste en eenvoudige kennis van God waarheen die ware natuurorde ons sou gevoer het as Adam onbedorwe gebly het.3 In hierdie sondeval van die mensdom ervaar niemand God nou as Vader of as oorsprong van sy saligheid of op enige ander gunstige wyse nie, totdat Christus tussenbeide tree om Hom met ons te versoen. Tog is dit een ding om te voel dat God, ons Skepper, ons met sy mag onderskraag, met sy voorsienigheid regeer, met sy goedertierenheid koester en met elke vorm van seëning agtervolg. Dit is egter iets heeltemal anders om die genade van sy versoening wat in Christus aan ons aangebied is, te omhels. Omdat die Here Hom dus in die eerste plek in die skepping van die wêreld sowel as in die algemene leer van die Skrif eenvoudig as Skepper openbaar en daarop as Verlosser in die gedaante van Christus, kom hieruit 'n tweeledige kennis aangaande Hom na vore. Hiervan moet ons die eerste aspek nou behandel. Die tweede aspek sal daarna op die gepaste plek volg.4

Hoewel ons verstand egter nie in staat is om 'n begrip van God te vorm sonder om Hom in 'n mate te vereer nie, sal dit tog nie genoegsaam wees om bloot die opvatting te huldig dat daar maar net Een is wat deur alle mense geëer en aanbid moet word as ons nie ook daarvan oortuig is dat Hy die bron van alle goed is en dat ons niks elders as net in Hom moet soek nie. My opvatting in verband hiermee is dat Hy nie alleen hierdie wêreld wat Hy eenmaal geskep het, so met sy grenslose mag onderhou, met sy wysheid bestier, met sy goedertierenheid bewaar en in besonder die mensdom met sy geregtigheid en gerig regeer, uit barmhartigheid ophef en met sy bystand beskerm nie, maar ook dat nêrens 'n drupel van wysheid, lig, geregtigheid, mag, regskapenheid of egte waarheid te vinde is wat nie uit Hom ontspring en waarvan Hy nie die oorsaak is nie. Gevolglik moet ons natuurlik al hierdie dinge van Hom verwag en dit van Hom vra en wanneer ons dit ontvang het, moet ons dit met dankbetoon aan Hom toeskrywe. Want hierdie ervaring van die kragte van God is vir ons 'n bekwame leermeester met die oog op ons godsvrug, waaruit godsdiens sy ontstaan het. Onder 'godsvrug' verstaan ek eerbied tesame met die liefde vir God wat die kennis van sy seëninge tot stand bring. Want solank die mens nie voel dat hy alles aan God verskuldig is, dat Hy deur sy vaderlike sorg gekoester word en dat hy die Skepper van alle goeie dinge is, sodat hy niks buite Hom moet soek nie, sal hy hom nooit in vrywillige eerbiedsbetoon aan Hom onderwerp nie. Ja, as die mens nie sy geluksaligheid in Hom stel nie, sal hy homself nooit waaragtig en van harte geheel aan Hom gee nie.

2. Ontsag en Eerbied Vorm die Grondslag vir die Kennis van God🔗

Gevolglik speel die mense wat hulle ten doel gestel het om by die vraag "Wat is God?" vas te steek, met koue bespiegelings,5 aangesien dit vir  ons van baie groter belang is om te weet wat sy hoedanighede is en wat by sy natuur pas. Want wat baat dit om saam met Epikuros6 'n God te bely wat alle sorge vir die wêreld laat vaar het en net maar in ontspanning behae skep?7 Kortom: wat help dit ons om 'n God te ken met wie ons niks te doen het nie? Ons kennis van God behoort eerder hierdie uitwerking te hê: In die eerste plek om ons vrees en eerbied vir Hom te leer; in die tweede plek om te leer om onder die leiding en onderwysing van  hierdie kennis elke goeie ding van Hom te vra en om die ontvangs daarvan aan Hom toe te skryf. Want hoe kan die gedagte aan God jou verstand binnedring sonder dat jy ook dadelik daaraan dink dat jy volgens die reg van sy skepping aan sy gesag onderworpe en verplig is aangesien jysy skepsel is, dat jy jou lewe aan Horn verskuldig is en dat jy alles wat jy aanpak en alles wat jydoen, aan Hom moet toeskryf? As dit dan wel so is, volg inderdaad daaruit dat jy jou lewe liederlik verwoes as dit nie op gehoorsaamheid aan Hom ingestel word nie, aangesien sywil vir ons die wet van ons lewe moet wees.

Aan die ander kant kan 'n mens Hom nie duidelik raaksien as jy Hom nie as die bron en oorsprong van alle goeie dinge erken nie. Hieruit spruit ook die begeerte om Hom aan te hang en op Hom te vertrou as die boosheid van die mens se verstand hom nie van die ware soeke na Hom weglei nie.

Want ten aanvang skep 'n godvrugtige verstand nie vir hom sommer enige God in sy drome nie, maar hy vestig sy oë slegs op die enige ware God.8 Ook skep so 'n verstand nie vir homself enige verdigsel wat hy goedvind nie, maar is tevrede om Hom te beskou soos Hy Homself openbaar. So 'n verstand waak altyd met die grootste sorgvuldigheid daarteen om nie met vermetele onbesonnenheid sy wil te oorskry en op die verkeerde pad af te dwaal nie. So word God aan die verstand bekend omdat die verstand besef dat Hy alle dinge bestier en ook die vertroue het dat Hy sy Bewaker en Beskermer is. Daarom vertrou hy homself  volkome aan Hom toe. Omdat hy besef dat Hy die oorsprong van alle goeie dinge is, neem hy dadelik sy toevlug tot sy beskerming as iets hom benoud maak of as hyaan iets 'n behoefte het, en dan verwag hy hulp van Hom af.

Omdat sy verstand dan daarvan oortuig is dat Hy goed en barmhartig is, vind dit in vaste vertroue by Hom berusting, en daar bestaan by hom geen twyfel daaroor dat daar in sy goedertierenheid altyd vir al sy kwaad 'n geneesmiddel voorhande sal wees nie. Omdat hy Hom as Here en Vader erken, ag hy Hom ook waardig om sy bevel in alles te gehoorsaam, na sy majesteit op te sien, sy heerlikheid in alles te bevorder en sy gebooie te gehoorsaam. Omdat hy sien dat Hy 'n regverdige regter is wat met strengheid gewapen is om oortredings te bestraf, hou hy sy regterstoel altyd voor oë en uit vrees vir Hom weerhou en beteuel hy homself om sy toorn te verwek.

En tog word hy deur die ervaring van sy oordeel nie so verskrik dat hy homself van God wil onttrek, selfs as die moontlikheid van ontvlugting vir hom sou bestaan nie. Hy omhels Hom sowel as Wreker van goddelose mense asook as goedertieren Vader teenoor godvrugtiges, omdat hy besef dat dit nie minder tot sy eer strek dat sowel die straf vir goddelose en bose mense as die loon van die ewige lewe vir regverdiges by Hom geleë is nie. Bowendien weerhou hy hom van die sonde, nie alleen uit vrees vir sy wraak nie maar omdat hy God soos sy eie vader liefhet en eerbiedig en Hom soos sy eie heer hoogag en eerbiedig.9 Selfs al sou daar geen hel bestaan nie, sidder hy nograns alleen daarvoor om Hom aanstoot te gee.

Dit is 'n rein en waaragtige godsdiens, naamlik geloof tesame met die ernstige vrees van God, sodat die vrees ook vrywillige eerbied insluit en wettige aanbidding meebring soos dit in die wet voorgeskrywe word.10 En ons moet met baie groot sorgvuldigheid hierop let dat alle mense sonder onderskeid eerbied vir God het maar dat 'n baie geringe aantal Hom eerbiedig; terwyl daar oral groot vertoon in hulle seremonies is, is opregtheid in hulle harte maar yl versprei.

Endnotes🔗

  1. ^ Religio.
  2. ^ Hoewel pietas nie op die titelblad van die 1559-uitgawe voorkom nie, is die hele Institusie 'n summa pietatis. Vgl. die titelblad van die 1536-uitgawe, waar pietas feitlik aan die heilsleer gelykgestel word (kyk ook Battles 1:39, n.1.).
  3. ^ Si integer stetisset Adam. Hierdie uitdrukking is fundamenteel vir die vraag of Calvyn 'n natuurlike teologie geleer het. Dit raak sy hele uiteensetting van Inst. 1.2-5: vanweë die sonde kan ons God nie meer uit die skepping ken nie, en is die Skrlf die enigste middle waardeur ons die Skepper en sy openbaring in die skepping kan ken. Dit blyk duidelik uit die opskrif van Inst. 1.6: Ut ad Deum creatorem quis perueniat, opus esse Scriptura duce et rnagistra (vgl. ook Battles 1:40, n. 2.).
  4. ^ Die eerste aspek, dit is God die Skepper, word in die res van boek 1 behandel. Die tweede aspek, nl. God die Verlosser, volg in boek 2-4.
  5. ^ Calvyn verwys hier na die Skolastici. Niesel maak, met verwysing na 'n brief van Calvyn aan Bullinger (Ep. 1590 - OC 14:253), die afleiding dat dit ook 'n beswaar is teen Zwingli se opvatting van die voorsienigheid van God (OS 3:35).
  6. ^ Epikuros (*311, t271 v.C.) was 'n bekende Griekse filosoof wat hom van die filosofie van Plato en Aristoteles gedistansieer het en hom by die materialistiese leer van Demokritos aangesluit het. Oor die bestaan van die gode wou hy hom nie uitlaat nie, maar indien hulle wel as hoëre verbindinge van atome sou bestaan, maak hulle geen bemoeienis met die mens nie. Omdat die dood die onherroeplike einde van die mense is, hoef dit nie gevrees te word nie. Die hoogste ideaal in die lewe is die smartloosheid waarin die genot smart sal oortref (REW 6,1:132 e.v.; CE 2:610). Calvyn het Epikuros se werke waarskynlik uit Cicero se De finibus en De natura deorum geken. Lg. werk gee in drie boeke 'n uiteensetting van die Bpikureïese en Stoïsynse teosofie en is 'n poging van Cicero om eklekties die beskouinge oor 'n godheid op die staatsbestel toe te pas. Formeel is die werk in dialoogvorm geskryf.
  7. ^ Vgl. Cicero, De natura deorum 1.2.3; 1.17.45; 1.19.51.
  8. ^ NGB art. 1.
  9. ^ loco patris, loco domini - kleinletters! Dit is 'n verwysing na 'n aardse vader en heer.
  10. ^ Vgl. Melanchthon, Loci communes (CR 21:159-183).