Institusie van die Christelike Godsdiens (1559) - Boek 1 Hoofstuk 7 Die getuienis waardeur die Skrif bekragtig moet word sodat die gesag daarvan seker kan wees, naamlik deurdie getuienis van die Heilige Gees; voorts is dit n goddelose versinsel dat die geloofwaardigheid van die Skrif van die oordeel van die Kerk afhang
Institusie van die Christelike Godsdiens (1559) - Boek 1 Hoofstuk 7 Die getuienis waardeur die Skrif bekragtig moet word sodat die gesag daarvan seker kan wees, naamlik deurdie getuienis van die Heilige Gees; voorts is dit n goddelose versinsel dat die geloofwaardigheid van die Skrif van die oordeel van die Kerk afhang
1. Die Skrif put Sy Gesag uit God en nie uit die Kerk nie⤒🔗
Maar voordat ek verder gaan, is dit die moeite werd om sekere opmerkings in verband met die gesag van die Skrif1 hier in te voeg om ons gemoedere nie alleen vir die eerbiediging daarvan voor te berei nie maar om ook alle twyfel in verband daarmee uit die weg te ruim. Wanneer dit voorts voor die hand liggend is dat dit die Woord van God is wat aan ons voorgehou word, is daar niemand met so 'n jammerlike vermetelheid dat hy dit sou waag om God sy geloofwaardigheid te ontneem as Hy spreek nie, behalwe as so 'n mens miskien ook van gewone verstand en menslikheid beroof is.
Maar aangesien daar nie meer elke dag godsprake uit die hemel aan ons gegee word nie en net die Skrif beskikbaar is as middel waardeur dit die Here behaag het om sy waarheid ter ewige gedagtenis te heilig, dra dit met reg volle gesag onder gelowiges wanneer hulle vasstel dat dit uit die hemel voortgevloei het net asof die lewende Woord van God self daarin te hoor is. Dit is inderdaad 'n waardige onderwerp wat breedvoeriger behandeling en noukeuriger oorweging verdien. Maar my lesers sal my verskoon as ek eerder in aanmerking neem wat die plan van my voorgenome taak toelaat as wat die omvang van hierdie onderwerp vereis.
'n Uiters gevaarlike dwaling het onder die meeste mense posgevat. Dit is naamlik dat die Skrifvan net soveel belang is as wat met die instemming van die kerk daaraan verleen word, net asof die ewige en onskendbare waarheid van God op die oordeel van mense berus. Want tot groot bespotting van die Heilige Gees vra hulle: Wie sou nou eintlik aan ons die versekering kon gee dat dit uit God voortgekom het? Wat sou ons daarvan kon verseker dat dit ongedeerd en ongeskonde tot in ons era na ons toe gekom het? Wie sou ons daarvan kon oortuig dat ons een boek eerbiedig moet aanvaar maar 'n ander uit die getalIe daarvan moet skrap as die kerk nie 'n vaste reël in verband met al die boeke sou voorskryf nie? Sowel die eerbied wat aan die Skrif verskuldig is as die boeke wat onder die Skrif se inhoud gereken moet word, hang dus volgens hulle van die beslissing van die kerk af.
Terwyl hulle onder die dekmantel van die kerk 'n teuellose tirannie wil invoer, bekommer hierdie onheiliges hulle hoegenaamd nie daaroor dat hulle hulleself en ook ander in hulle ongerymdhede verstrengel nie, so lank as wat hulle die een toegewing uit die eenvoudiges kan pers, naamlik dat die kerk tot alles in staat is. Maar as dit die geval is, wat sal dan van ons arme gewetens word wat na vaste versekering van 'n ewige lewe soek, as al die beloftes wat nog in verband daarmee bestaan, op die oordeel van die mens alleen sou steun? Of sou hulle van hulle vertwyfeling en vrees afsien as hulle so 'n antwoord sou ontvang? Aan die ander kant: aan watter bespotting van goddelose mense word ons geloof nie daardeur blootgestel nie? Hoe verdag word dit nie onder almal as hulle sou glo dat die Skrif geen ander gesag het as een wat van die guns van die mens afgebedel is nie?
2. Die Kerk kan self nie sonder die Skrif bestaan nie←⤒🔗
Maar ons kan sulke knoeiers pragtig met net een enkele woord van die apostel weerspreek. Hy getuig dat die kerk op die fondament van die profete en die apostels steun.2 As die profetiese en apostoliese leer dan die grondslae van die kerk is, dan moet die sekerheid van die leer bestaan het nog voordat die kerk ontstaan het.3 En daar is geen rede waarom hulle die drogrede hoef te gebruik dat, selfs al sou die kerk sy oorsprong daaruit put, daar nogtans twyfel sou bestaan oor wat aan die profete en die apostels toegeskrywe moes word, behalwe as die oordeel van die kerk tussenbeide tree nie.4 Want as die Christelike kerk in die begin op die skrifte van die profete en die prediking van die apostels gegrond is, dan het die goedkeuring van die leer, waar dit ook al te vinde is, sekerlik aan die kerk voorafgegaan. Daarsonder sou die kerk nooit bestaan het nie. Dit is dus 'n hoogs ydele verdigsel dat die bevoegdheid om die Skrif te beoordeel in die hande van die kerk berus sodat die afleiding gemaak sou kon word dat die sekerheid oor die leer van die goeddunke van die kerk afhang.5
Wanneer die kerk die leer aanneem en met sy instemming beseël, maak die kerk dit nie geloofwaardig asof dit eers twyfelagtig en onseker was nie, maar omdat die kerk dit as die waarheid van sy God erken, eerbiedig hy dit sonder aarseling vanweë die plig van sy godsvrug.
Maar hulle vra: "Uit watter bron sal ons dan daarvan oortuig kan word dat die Skrif van God afkomstig is as ons nie ons toevlug tot die beslissing van die kerk neem nie?''6 Dit is net soos wanneer iemand sou vra: "Waaruit sal ons leer dat lig van duisternis verskil of wit van swart of soet van bitter?" Die Skrif dra immers inherent 'n aanvoeling van eie waarheid wat net so duidelik is as wat wit en swart 'n eienskap van kleur en soet en bitter van smaak is.
3. Augustinus se Getuienis Weerspreek nie hierdie Uitgangspunt nie←⤒🔗
Ek weet wel dat die opvatting van Augustinus gewoonlik aangehaal word waar hy verklaar dat hy nie in die evangelie sou geglo het as die kerk se gesag hom nie daartoe beïnvloed het nie.7 Maar ons kan maklik uit die verband aflei hoe verkeerd en lasterlik sy opvatting ter ondersteuning van hierdie gevoel aangehaal word. Hy het met die Manicheërs8 te doen gehad, wat wou hê dat die mense hulle sonder twyfel moes glo, aangesien hulle wel voorgehou het dat hulle die waarheid het, maar dit nie bewys het nie. Maar omdat hulle die evangelie voorgehou het om hulle leermeester Manichaeus geloofwaardig te maak, het Augustinus hulle gevra wat hulle sou doen as hulle op iemand sou afkom wat selfs nie in die evangelie sou glo nie: met watter vorm van oorreding sou hulle hom dan na hulle opvatting kon oorhaal? Daarna voeg hy by: "Ek sou nie in die evangelie geglo het nie," ensovoorts. Hy dui daarmee aan dat hy, toe hy nog nie die geloof geken het nie, op geen ander wyse daartoe beweeg kon word om die evangelie as sekere waarheid van God aan te neem as hy nie deur die gesag van die kerk daarvoor gewen is nie. En wat is nou verbasend daaraan as iemand aan wie Christus nog nie bekend is nie, sy oë op mense vestig?
Augustinus leer daar dus nie dat die geloof van godvrugtige mense in die gesag van die kerk gegrond is nie. Hy bedoel ook nie dat die sekerheid van die evangelie daarvan afhanklik is nie, maar doodeenvoudig net dat die ongelowiges geen sekerheid oor die evangelie sou gehad het om na aanleiding daarvan vir Christus 'n aanwins te word as die eenstemmigheid van die kerk hulle nie daartoe sou beïnvloed nie. 'n Rukkie later9 bevestig hy dit baie duidelik wanneer hy sê: "Wanneer ek my geloof aanprys en joue bespotlik maak, wat, meen jy, moet ons in so 'n geval oordeel of doen? Wat kan ons anders doen as om die mense te verlaat wat ons uitnooi om dinge wat seker is, te leer ken en ons daarna beveel om dinge wat onseker is, te glo? Laat ons dan die mense volg wat ons uitnooi om eers te glo in iets wat ons nog nie kan sien nie, sodat ons juis deur ons geloof gesterk, waardig word om te begryp wat ons glo, wanneer nie meer die mens nie maar God self ons verstand innerlik versterk en verlig.''10
Dit is inderdaad Augustinus se woorde. Daaruit kan enigiemand gemaklik aflei dat dit nie die heilige man se bedoeling was om die geloof wat ons in die Skrif het, van die goeddunke of oordeel van die kerk afhanklik te maak nie. Dit was slegs maar sy bedoeling om aan te dui, soos ons ook waaragtig bely, dat mense wat nog nie deur die Gees van God verlig is nie, uit eerbied vir die kerk ontvanklik gemaak word om die geloof in Christus uit die evangelie te leer en dat die gesag van die kerk dus 'n inleiding is om ons vir die geloof in die evangelie voor te berei. Want soos ons sien, is sy bedoeling dat die sekerheid van godvrugtige mense op 'n gans ander fondament steun. Origens ontken ek nie dat hy die Manicheërs dikwels met die eenstemmigheid van die hele kerk konfronteer wanneer hy die Skrif wat hulle verwerp het, wil handhaaf nie. Vandaar dan sy verwyt teen Faustus11 omdat hy hom nie aan die waarheid van die evangelie onderwerp nie, hoewel dit so gegrond, so bestendig, met so 'n groot heerlikheid oral bekend en sedert die tyd van die apostels deur 'n vaste reeks geestelikes aangeprys is.12
Maar sy bedoeling is nêrens om ons te leer dat die gesag wat ons aan die Skrifte toeken, van die voorskrif of beslissing van die mens afhanklik is nie. Hy bring slegs die algemene oordeel van die kerk na vore, omdat dit in die saak die grootste gewig gedra het; daarin was hy ook sy teenstanders se meerdere.
As iemand 'n vollediger bewys hiervan verlang, moet hy sy boekie in verband met die nut van die geloof lees.13 Daarin sal hy vind dat hy so 'n bereidwilligheid om te glo aanbeveel dat dit slegs vir ons 'n toegang kan bied en 'n geskikte begin vir ons ondersoek kan wees, soos hy self sê dat ons tog nie in die opvatting van 'n mens moet berus nie, maar op die vaste en onwrikbare waarheid moet steun.
4. Die Getuienis van die Heilige Gees munt uit bo alle redenasies←⤒🔗
Soos ek so pas gesê het,14 moet ons dus daaraan vashou dat die geloof in die leer nie bevestig word voordat ons vas daarvan oortuig is dat God die oorsprong daarvan is nie.15 Gevolglik word die belangrikste bewys vir die bevestiging van die Skrif oral uit die Persoon van God geput wanneer Hy spreek.
Want die profete en die apostels roem nie op eie skerpsinnigheid of enigiets anders wat aan hulle geloofwaardigheid gun wanneer hulle praat nie. Hulle dring ook nie op beweegredes aan nie maar hulle voer die heilige Naam van God aan, sodat die hele wêreld daardeur tot gehoorsaamheid gedwing kan word.
Nou moet ons ondersoek hoe dit nie alleen volgens 'n waarskynlike opvatting nie maar ook duidelik uit die waarheid blyk dat die Naam van God nie onbesonne en bedrieglik as voorwendsel gebruik word nie. As ons egter die gewete van die mens die heel beste ter harte wil neem om te verhoed dat hy voortdurend deur wispelturige vertwyfeling rondgedryf word of wankel of selfs by die onbeduidendste probleme in vertwyfeling verkeer, moet ons hierdie oortuiging uit iets hoër as die mens se rede of sy oordele of sy raaiskote put, naamlik uit die verborge getuienis van die Gees.16
As ons dan met redenasies te werk sou wil gaan, is dit wel waar dat baie bewyse aangevoer kan word wat gemaklik sou kon bewys dat, as daar dan 'n God in die hemel is, die wet, die profete en die evangelie uit Hom ontstaan het. Ja, al sou geleerdes en mense met die grootste oordeel hulle ook al hierteen verset en al die kragte van hulle verstand in hierdie twis inspan en aan die dag lê, sal dié bekentenis tog van hulle afgedwing word tensy hulle hulle tot 'n verderflike skaamteloosheid verhard, naamlik dat daar duidelike bewyse in die Skrif waarneembaar is waar God spreek sodat daaruit duidelik blyk dat die leer daarvan uit die hemel kom. 'n Bietjie verder sal ons ook sien dat al die boeke van die Heilige Skrif baie ver bo alle boeke, wat die aard daarvan ook al is, uitmunt. Ja, as ons ons met suiwer oë en gesonde verstand daarop toelê, sal die majesteit van God dadelik voor ons opdoem - die majesteit wat die vermetelheid om dit te weerspreek onderwerp en ons dwing om Hom te gehoorsaam.
Tog handel mense verkeerd wanneer hulle huIle inspan om deur redenasie volle geloofwaardigheid aan die Skrif te heg.17 Al sou ek self nie tot groot bekwaamheid en welsprekendheid in staat wees nie, vertrou ek tog dat as ek die stryd sou moes aanknoop met sommige listige veragters van God, wat daarna strewe om in die ondermyning van die Skrif bekwaam en gevat te lyk, dit vir my geen moeite sou wees om hulle rumoerige uitsprake aan bande te lê nie. En as die inspanning om hulle bespotting te weerlê nuttig sou wees, sou ek sonder groot moeite hulle windmakerigheid wat hulle in hoekies fluister, verbrysel.
Maar as iemand nog die heilige Woord van God van die belastering van die mens kan weerhou, sal hy nogtans nie dadelik die sekerheid wat die godsvrug vereis, in hulle harte inprent nie. Omdat die onheiliges meen dat die godsdiens slegs op indrukke steun, begeer hulle en dring daarop aan dat met die rede vir hulle bewys moet word dat Moses en die profete van Godsweë gespreek het om te voorkom dat hulle dwaas of ligsinnig in iets sou glo.18 Maar my antwoord daarop is dat die getuienis van die Gees beter as alle rede is.
Want soos God alleen in sy Woord 'n bekwame Getuie vir Homself is,19 sal die Woord geen geloofwaardigheid in die hart van die mens vind voordat dit deur die innerlike getuienis van die Gees beseël word nie. Gevolglik moet dieselfde Gees wat deur die mond van die profete gespreek het,"20 noodwendig ons hart binnedring om ons te oortuig dat Hy dit wat God gebied het, getrou aan ons oorgedra het.
Hierdie band word voortreflik deur Jesaja uitgedruk in die volgende woorde: "My Gees wat in jou is, en my woorde wat ek jou en jou saad na jou in die mond gelê het, sal tot in ewigheid nie vergaan nie.21 Sommige vroom mense is gegrief daaroor dat daar nie 'n duidelike teenbewys ter hand is wanneer goddelose mense strafloos teen die Woord van God mor nie. Net asof die Gees nie juis dáárom 'n seël en pand genoem word om die geloof van godvrugtiges te versterk" omdat hulle altyd in baie vertwyfelinge ronddobber totdat Hy hulle verstand verlig nie.
5. Die Skrif het Sy Eie Geloofwaardigheid←⤒🔗
Laat dit dus onwrikbaar vas bly staan dat mense vir wie die Heilige Gees in hulle binneste geleer het, volkome in die Skrif berusting vind dat die Skrif op sigself geloofwaardig is22 en dat dit ons nie geoorloof is om dit aan bewysvoering en redenasies te onderwerp nie. Tog verkry dit die sekerheid wat dit onder ons verdien, uit die getuienis van die Gees. Want ten spyte daarvan dat die Skrif vanself deur eie majesteit eerbied vir homself bewerk, beïnvloed dit ons tog eers ernstig wanneer dit deur die Gees in ons hart beseël is.
As ons dus deur die krag daarvan verlig is, glo ons nie meer in ons eie of ander se oordeel dat die Skrif sy oorsprong in God het nie. Bo alle menslike oordeel besluit ons vas en seker asof ons die Godheid van God self daarin aanskou, dat die Skrif deur bemiddeling van mense juis uit die mond van God self na ons gekom het.
Dan soek ons nie na bewyse ofwaarskynlikhede waarop ons ons oordeel kan grond nie, maar ons onderwerp ons eie oordeel en verstand asof dit 'n saak is wat bo die oordeel van toeval geleë is. Sommige mense gryp gewoonlik 'n onbekende saak aan, en wanneer hulle dit ondersoek het, kry hulle 'n afkeer daarin. Ons doen dit egter nie, omdat ons deeglik daarvan bewus is dat ons daarin aan die onaanvegbare waarheid vashou.
En ook nie soos arme drommels wat gewoonlik hulle verstand in gevangenskap aan bygelowe oorgee nie, maar omdat ons ervaar dat die krag van sy Godheid ongerwyfeld daarin lewe en werk, sodat ons daardeur willens en wetens nogtans lewendiger en kragtiger as deur die wil of wetenskap van die mens tot gehoorsaamheid meegesleur en aangevuur word. Gevolglik roep God met volle reg daartoe deur Jesaja uit dat die profete en die hele volk vir Hom 'n getuie is omdat hulle deur godsprake so geleer is en ongetwyfeld vashou daaraan dat God sonder bedrog of dubbelsinnigheid gespreek het.23 Dit is 'n oortuiging wat nie redenasies nodig het nie. Dit is kennis waarby die hoogste rede hom neerlê; 'n kennis waarin die verstand met groter veiligheid en bestendigheid kan berus as in enige redenasie. Kortom, dit is 'n gevoel wat net uit hemelse openbaring kan ontstaan.
Ek praat van iets wat elke gelowige by homself ervaar, behalwe dat my woorde ver te kort skiet om die saak na regte te verduidelik. Ek weerhou my nou van verdere verduideliking, omdat die geleentheid hom weer sal voordoen om die saak elders te behandel.24 Vir die huidige moet ons slegs daarvan kennis neem dat die geloof wat die Gees van God in ons hart verseël, uiteindelik waaragtig is. Ja, 'n ingetoë en ontvanklike leser sal met dié een enkele rede tevrede wees: Jesaja belowe dat al die kinders van die hernieude kerk leerlinge van God sal wees.25 God ag sy uitverkorenes alleen dié sonderlinge voorreg waardig wanneer Hy hulle van die hele mensdom onderskei. Want waar begin die ware leer nou eintlik anders as by die bereidwillige vurigheid om na die stem van God te luister?
En tog eis God deur die mond van Moses dat ons na Hom moet luister, soos geskrywe is: "Moenie in jou hart sê: wie sal opklim in die hemel en wie sal neerdaal in die diepte? Kyk, die woord is in jou mond".26 As dit dan God se wil was dat hierdie skat van kennis vir sy kinders verborge moes wees, dan is dit nie wonderlik en ook nie vreemd dat so 'n groot onkunde en dwaasheid oor die algemeen by mense waargeneem kan word nie. Onder gewone mense reken ek ook die vooraanstaandes totdat hulle ook in die liggaam van die kerk ingelyf is. Voeg daarby dat Jesaja ons daarop wys dat die leer van die profete nie net vir vreemdelinge nie maar ook vir die Jode, wat as sy huisgenote gereken wou word, ongeloofwaardig sou lyk. Hy gee terselfdertyd ook die rede daarvoor aan, naamlik dat die arm van God nie aan almal geopenbaar sal word nie.27
Elke keer as die geringe getalle van die gelowiges ons dus ontstel, moet ons aan die ander kant daaraan gedagtig wees dat niemand die geheimenisse van God kan begryp nie behalwe diegene aan wie dit gegun is.