Hierdie hoofstuk bespreek kerkwette, tradisies en ‘n Christen se gewete.

Met betrekking tot wette, moet die volmaakte lewensreëls uit die Woord gesoek word, omdat God die enigste Wetgewer is. Menslike instellings mag nie Christengewetens bind nie, maar kerklike instellings is wel nodig om orde in die kerk te handhaaf. Ook word gehoorsaamheid aan die owerheid bespreek.

Met betrekking tot tradisies, word Roomse seremonies veroordeel. Omdat Christus reeds gekom het, is seremonies wat hom afskadu nie meer nodig nie. Ook kan seremonies nie versoening, geregtigheid of saligheid verwerf nie. Hierdie menslike tradisies het geen plek in die ware kerk nie.

1984. 37 bladsye.

Institusie van die Christelike Godsdiens (1559) - Boek 4 Hoofstuk 10 Die kerk se bevoegdheid om wette te maak waarin die Pous en sy trawante die wreedste tirannie en slagting onder siele uitgeoefen het

1. Inleiding tot die tweede aspek van kerklike mag.🔗

Nou volg die tweede aspek wat volgens hulle geleë is daarin om wette te maak.1 Uit hierdie bron het ontelbare tradisies van mense ontstaan soveel strikke om arme siele te verwurg! Hulle het trouens nie 'n groter gewetenswroeging as die skrifgeleerdes en Fariseërs gehad om laste op ander se skouers te lê wat hulle self onwillig was om met 'n vinger aan te roer nie.2 Elders het ek geleer watter wrede slagting hulle oor die oorbieg voorskryf.3 In hulle ander wette is daar nie so 'n groot geweld te sien nie maar die wette wat die draaglikste van almal skyn te wees, druk ons gewetens met hulle dwingelandy plat. Ek swyg daaroor dat hulle God se diens self vervals, en God self wat die enigste Wetgewer is, van sy reg beroof.

Die mag wat ons nou moet behandel is of dit die kerk geoorloof is om gewetens deur hulle wette te bind. In hierdie bespreking word die burgerlike regering nie aan die orde gestel nie maar dit gaan hier slegs daaroor dat God na behore volgens die maatstaf wat Hy self voorgeskryf het, gedien moet word, en dat die geestelike vryheid wat na God opsien, vir ons ongeskonde mag bly.

Die gebruik het die oorhand gekry om alle besluite wat sonder God se Woord oor die godsdiens uit mense ontstaan het, menslike tradisies4 te noem. Dit is hierdie tradisies waarteen ons veg, en nie teen die heilige en nuttige instellings van die kerk wat bydra om dissipline of eerbaarheid of vrede te handhaaf nie. En die doel van ons stryd is om die ontsaglike barbaarse oorheersing wat diegene wat as herders van die kerk beskou wil word, maar inderwaarheid die wreedste beuls daarvan is, vir hulleself teen ons siele toe-eien. Hulle beweer trouens dat die wette wat hulle maak, geestelike wette is en dat dit op die siel sien, en hulle verklaar dat hierdie wette noodsaaklik is vir die ewige lewe.5 So word die koninkryk van Christus, soos ek dit onlangs nog aangeroer het, aangeval; so word die vryheid wat deur Christus aan die gewetens van gelowiges gegee is, heeltemal onderdruk en platgeslaan.

Ek verswyg nou met hoe 'n groot goddeloosheid hulle die gehoorsaamheid aan hulle wette bekragtig wanneer hulle leer dat ons juis na aanleiding van die gehoorsaamheid daaraan sondevergiffenis, geregtigheid en saligheid moet soek, en wanneer hulle die hele somtotaal van die godsdiens en godsvrug juis in hierdie gehoorsaamheid stel. Ek maak slegs hierdie een stelling, naamlik dat geen dwang op ons gewete gelë behoort te word in daardie dinge waarin hulle deur Christus vrygemaak is nie, en as hulle nie vrygemaak is nie, dat hulle nie by God rus kan vind nie, soos ons vroeër geleer het.6 Hulle moet een Koning erken, naamlik hulle Verlosser Christus; en deur een wet van vryheid, naamlik deur die heilige Woord van die evangelie, regeer word as hulle die genade wat hulle eenmaal in Christus verkry het, wil behou. Hulle moet deur geen slawerny gebind en deur geen bande verstrengel word nie.

2. Die onmoontlike aard van Roomse bepalings en wette.🔗

Hierdie Solons (wetsgeleerdes)7 verbeel hulle wel dat hulle bepalings wette van vryheid is, 'n aangename juk en 'n ligte las,8 maar wie kan nie sien dat dit louter leuens is nie? Hulle ervaar weliswaar nie self die swaarte van hulle wette nie omdat hulle hulle vrees vir God laat vaar het en sowel hulle eie as God se wette onbesorgd en kragtig verwaarloos. Maar dit is baie ver daarvandaan dat diegene wat nog deur 'n mate van bekommernis oor hulle saligheid geraak word, sou meen dat hulle vry is solank hulle in hierdie nette verstrik is. Ons merk met hoeveel versigtigheid Paulus hom met hierdie onderwerp bemoei het so dat hy nie eens gewaag het om in een saak 'n strik te stel nie.9 Hy het dit om 'n goeie rede gedoen. Hy het beslis gesien hoe 'n groot wond ons gewete toegedien sou word as dwang in hierdie sake op hulle gelê word waarin hulle deur die Here vrygelaat is. Daarenteen kan die bepalings beswaarlik opgenoem word wat hulle met die grootste erns bekragtig het deur die ewige dood daaroor uit te spreek, en wat hulle met die grootste strengheid vereis asof dit vir ons saligheid noodsaaklik is.10 Daaronder is ook uiters baie bepalings wat baie moeilik is om te gehoorsaam, terwyl almal inderdaad onmoontlik is om te gehoorsaam as hulle op een hoop geplaas word - so 'n groot stapel is daar! Hoe sou dit dan moontlik wees dat diegene op wie so 'n groot las moeilikhede rus, nie deur die uiterste angs en vrees vertwyfeld en verbrand word nie? Ek is van voorneme om hier bepalings van hierdie aard te beveg wat gemaak word met die doel om siele innerlik voor God te bind en ontsag in te boesem asof hulle gebooie is oor sake wat vir ons saligheid noodsaaklik is.

3. Vooraf 'n bespreking van gewete.🔗

Hierdie vraagstuk pootjie die meeste mense omdat hulle nie noukeurig genoeg tussen die uiterlike regbank - soos hulle dit noem - en die regbank van die gewete11 onderskeid maak nie. Hierbenewens groei die probleem aan omdat Paulus voorskryf dat ons die (burgerlike) amp moet gehoorsaam - nie alleen uit vrees vir straf nie, maar ook vanweë die gewete.12 Daaruit volg dat ons gewetens ook aan burgerlike wette verbind is. Maar as dit die geval sou wees, sou alles wat ons in voorgaande hoofstukke oor die geestelike regering gesê het13 en nog sal sê, in duie stort.

Om hierdie probleem op te los, is dit eers nodig om te weet wat die gewete is. Ons moet die definisie van die woord inderdaad uit die betekenis daarvan aflei. Wanneer mense byvoorbeeld kennis van dinge deur hulle verstand en begrip verkry, word daar daarom gesê dat hulle iets weet. Daaruit is die woord wetenskap afgelei. Net so wanneer hulle God se oordeel ervaar as 'n getuie wat aan hulle verbind is, en hulle nie toelaat om hulle sondes te verberg nie maar hulle as beskuldigdes voor die Regter se regbank sleep, word so 'n aanvoeling die gewete genoem. Die gewete neem trouens 'n plek midde tussen God en die mens in omdat dit die mens nie toelaat om iets wat hy weet hy binne-in hom het, te onderdruk nie, maar hom vervolg totdat hy sy skuld erken.

Dit is wat Paulus bedoel wanneer hy leer dat hulle gewete saam vir mense getuig wanneer hulle gedagtes hulle in die oordeel van God aankla of verontskuldig.14 Eenvoudige kennis sou as't ware in die mens opgesluit kon bly. Hierdie aanvoeling wat die mens voor God se regbank stel, is as't ware 'n wag wat oor die mens aangestel is om al sy geheime waar te neem en te verken om te voorkom dat iets daarvan in duisternis begrawe bly. Hieruit het die bekende ou spreekwoord ontstaan: "Die gewete is 'n duisend getuies".15 Om dieselfde rede het Petrus ook die antwoord16 van 'n goeie gewete teenoor God as rustigheid van die siel gestel wanneer ons oortuig is van die genade van Christus en ons ons onbevrees voor God aanbied.17 En die skrywer van die brief aan die Hebreërs verklaar dat ons geen bewustheid van die sonde meer het nie18 omdat ons daarvan vrygemaak en dit kwytgeskeld is sodat die sonde ons nie meer aankla nie.

4. 'Die voleinding van die wet is die liefde uit 'n rein gewete en 'n ongeveinsde geloof.'🔗

Soos werke dus op mense sien, so het die gewete betrekking op God sodat 'n goeie gewete niks anders is as innerlike opregtheid van hart nie. In hierdie sin skryf Paulus dat die voltooiing van die wet die liefde is uit 'n suiwer gewete en uit 'n ongeveinsde geloof.19 In dieselfde hoofstuk toon hy selfs aan hoe gewete van kennis verskil wanneer hy sê dat sommiges skipbreuk in die geloof gely het omdat hulle 'n goeie gewete laat vaar het.20 Met hierdie woorde dui hy trouens aan dat 'n goeie gewete 'n lewendige gesindheid is om God te dien en 'n ernstige ywer om godvrugtig en heilig te lewe. Intussen het dit soms ook betrekking  op mense soos wanneer dieselfde Paulus in Lukas getuig dat hy sorg gedra het om met 'n goeie gewete jeens God en die mense te wandel.21

Maar dit is gesê omdat die vrug van 'n goeie gewete tot mense kom en hulle ook bereik. Om egter na behore daarvan te praat: dit sien slegs op God alleen soos ek reeds gesê het.22 Die gevolg hiervan is dat daar gesê word dat die wet die gewete bind terwyl dit doodeenvoudig die mens sonder aansien of inagneming van mense bind. God gebied byvoorbeeld nie alleen dat ons ons gemoed rein en suiwer van alle wellustigheid moet hou nie, maar Hy verbied ook enige vuil woord en uiterlike losbandigheid. Selfs al sou daar nie 'n enkele mens op die wêreld leef nie, word my gewete gedwing om hierdie wet te gehoorsaam. Iemand wat hom sonder selfbeheersing gedra, sondig dus nie soseer omdat hy 'n slegte voorbeeld vir sy broers stel nie, maar omdat hy sy gewete voor God skuldig stel.23

In sake wat vanself middelmatig is,24 is daar 'n ander rede. Ons behoort ons trouens daarvan te weerhou as hulle enige struikelblok veroorsaak, maar ons gewete is daarin vry. Paulus praat byvoorbeeld soos volg van vleis wat aan afgode gewy is: "As iemand beswaar maak, moet dit dan ter wille van die gewete nie aanraak nie, maar ek sê: 'terwille van die gewete - nie jou gewete nie, maar die gewete van die ander een'."25 'n Gelowige sou sondig as hy vooraf gewaarsku is, en nietemin sulke vleis sou eet. Hoewel hy hom nogtans met inagneming van sy broeder daarvan moet weerhou soos hy deur God voorgeskryfword, hou hy nogtans nie op om sy gewetensvryheid te behou nie. So sien ons dat daardie wet die uiterlike werk bind maar die gewete vrylaat.

5. 'n Verklaring van Paulus se stelling dat ons die owerheid gehoorsaam moet wees.🔗

Laat ons nou terugkeer na menslike wette. As hierdie wette gemaak is om vrees by ons in te boesem asof gehoorsaamheid daaraan op sigself noodsaaklik is, verklaar ons dat iets op ons gewetens gelê word wat nie daarop gelê behoort te word nie. Ons gewetens het trouens niks met mense te doen nie maar met God alleen. Dit is waarop daardie algemene (Roomse) onderskeid tussen 'n aardse regbank en die regbank van die gewete betrekking het. Ten spyte daarvan dat die hele wêreld deur die digste wolk van onkunde omgeef is, bly daar nogtans hierdie klein vonkie van lig oor sodat hulle erken dat die gewete van die mens alle menslike oordele te bowe gaan. Hoewel hulle dit kort en klaar bely het, het hulle dit tog later in werklikheid verwerp. Dit was nogtans God se wil dat daar ook destyds bepaalde getuienis van Christelike Vryheid moes bestaan om ons gewetens teen die dwingelandy van mense te vrywaar.

Maar die probleem wat uit Paulus se woorde ontstaan, is daarmee nog nie opgelos nie.26 As ons owerhede immers nie soseer vanweë straf nie,  maar vanweë ons gewete moet gehoorsaam,27 kan die afleiding oënskynlik daaruit gemaak word dat die wette van die owerhede ook oor ons heers. Maar as dit waar is, dan sou dieselfde ook in die geval van kerkwette gesê moet word.

My antwoord daarop is ten eerste dat ons tussen die genus en sy spesie onderskeid moet maak. Hoewel nie elke (burgerlike) wet afsonderlik ons gewete raak nie, word ons nogtans deur 'n algemene gebod van God daaraan verbind omdat Hy die gesag van owerhede by ons aanprys. Paulus se betoog wentel om hierdie aspek, naamlik dat die owerhede geëer moet word omdat hulle deur God verorden is.28 Intussen leer hy hoegenaamd nie dat die wette wat deur hulle gemaak word, op die innerlike regering van die siel betrekking het nie terwyl hy oral sowel die diens aan God as die geestelike reël om regverdig te leef, bo alle menslike besluite verhef.29

Dit verdien ook dat ons op 'n tweede aspek let wat nogtans van die voorgaande aspekte afhang. Dit is naamlik dat, hoewel dit noodsaaklik is om menslike wette, of hulle ook al deur die (burgerlike) owerheid of deur die kerk gemaak word - en nou praat ek van eerlike regverdige wette -, te gehoorsaam, bind hulle nie op sigself daarom ook ons gewete nie omdat die noodsaaklikheid van gehoorsaamheid daaraan ten volle sien op 'n algemene doelstelling en nie geleë is in die dinge wat verbied word nie. Die wette wat egter enersyds 'n nuwe vorm om God te dien voorskryf en andersyds ook dwang vereis in sake wat vry is, verskil ver van hierdie orde!

6. Roomse dwalings wat instellings maak om Christengewetens te bind.🔗

Voorbeelde van sulke wette is die wat vandag onder die pousdom kerklike insettings heet en as die ware en noodsaaklike diens aan God ingevoer word. Ontelbaar soos hulle is, is hulle eindelose bande om siele te vang en te verstrik. Hoewel ons in die uiteensetting van die wet effens hieraan geraak het,30 sal ek my nou inspan om die hoofpunt hier na die beste van my vermoë ordelik saam te vat, omdat hier 'n geskikter geleentheid vir 'n deeglike behandeling daarvan is. En omdat ons onlangs nog 'n uiteensetting gegee het van die tirannie wat hierdie valse biskoppe hulle toe-eien in hulle teuelloosheid om te leer wat hulle wil, sal ek hierdie onderwerp heeltemal agterweë laat in soverre dit voldoende lyk.31 Ek sal my hier slegs besig hou met 'n uiteensetting van die mag wat hulle na bewering het om wette te maak.

Ons valse biskoppe belas ons gewetens met nuwe wette onder voorwendsel dat hulle geestelike wetgewers is wat deur die Here ingestel is toe die kerkregering aan hulle toevertrou is. Hulle opvattings is gevolglik dat alles wat hulle beveel en voorskryf, noodwendig deur die Christenvolk gehoorsaam moet word; en dat iemand wat dit verbreek, hom aan dubbele ongehoorsaamheid skuldig maak omdat hy teen God en die kerk wederstrewig is.32 As hulle in elk geval ware biskoppe was, sou ek hulle in hierdie opsig 'n mate van gesag verleen het - nie soveel as waarop hulle aanspraak maak nie, maar slegs soveel as wat vereis word om die kerk se beleid na behore te orden. Aangesien hulle nou egter hoegenaamd nie is wat hulle wil hê hulle geag moet word nie, kan hulle selfs nie eens die geringste mag vir hulle toe-eten sonder om hulle perke te oorskry nie.

Maar omdat ons dit ook reeds elders ondersoek het,33 laat ons hulle vir die huidige toegee dat al die mag wat ware biskoppe het, hulle na regte toekom. Dan ontken ek nogtans dat hulle daarom as wetgewers oor gelowiges aangestel is om uit hulleself 'n lewensreël voor te skryf en die (kerk)volk wat aan hulle toevertrou is, tot hulle insettinge aan te dryf. Wanneer ek hierdie bewering maak, verstaan ek daaronder dat dit hulle hoegenaamd nie geoorloof is om self uit hulleself sonder die Woord van God iets uit te dink en te gelas dat die kerk daarin gehoorsaam moet word as iets noodsaakliks nie. Aangesien dit aan die een kant aan die apostels onbekend was en dit aan die ander kant so dikwels deur die Here se mond van dienaars van die kerk weggeneem is, is ek verbaas hoe hulle dit sonder die voorbeeld van die apostels en strydig met die uitdruklike verbod van God durf aanneem, en vandag nog waag om dit te verdedig.

7. Omdat God die enigste Wetgewer is, moet die volmaakte lewensreël uit sy Woord gesoek word.🔗

So ver dit die volmaakte reël vir 'n goeie lewe aangaan, het die Here dit in sy wet so volledig saamgevat dat Hy die mens niks gelaat het om in die geheel hierby te voeg nie.34 En dit het Hy gedoen, ten eerste, sodat Hy as die enigste Meester en Bestierder van die lewe deur ons beskou kan word omdat 'n opregte lewenswyse ten volle daarin geleë is as al ons lewenshandel aan sy wil as norm gemeet word. Ten tweede is sy doel daarmee om te getuig dat Hy niks meer as net gehoorsaamheid van ons  vereis nie. Daarom sê Jakobus: "Hy wat sy broeder oordeel, oordeel die wet; en hy wat die wet oordeel, is nie 'n onderhouer van die wet nie maar 'n regter. Daar is egter net een Wetgewer wat mag het om te red en te verderf".35 Hier hoor ons dat God dit vir Hom alleen neem om ons deur die mag en wette van sy Woord te regeer. Hoewel dit effens onduidelik is, is dit vroeër reeds deur Jesaja gesê: "Die Here is ons Koning; die Here is ons Wetgewer; die Here is ons Regter. Hy sal ons bewaar''.36 In albei aanhalings word in elk geval aangetoon dat die oordeel oor lewe en dood Hom toekom wat gesag het oor die siel. Ja, Jakobus verklaar dit duidelik. Verder kan geen mens dit vir homself toe-eien nie. God moet dus as die enigste Koning van ons siele erken word en Hy alleen het die mag om te bewaar en te verderf - soos Jesaja se bekende woorde lui, naamlik dat Hy ons Koning, Regter, Wetgewer en Bewaarder is.37 Wanneer Petrus herders op hulle plig wys, spoor hy hulle dus aan om die kudde so te laat wei dat hulle geen heerskappy oor die klerus voer nie.38 Met hierdie woord dui hy die erfdeel van God, dit is die volk van gelowiges, aan. As ons na behore in aanmerking neem dat dit 'n sonde is om iets wat God syne alleen gemaak het, op 'n mens oor te dra, sal ons besef dat alle mag afgesny is wat diegene hulle toe-eien wat hulle wil verhef om in die kerk die een of ander gebod sonder die Woord van God te maak.

8. Menslike bepalings soos in die pousdom gemaak, is daarom strydig met God se Woord.🔗

Omdat die saak voorts ten volle daarvan afhang dat dit mense nie geoorloof is om hierdie eer vir hulle te neem as God die enigste Wetgewer is nie, moet ons tegelyk die twee redes waarom die Here dit vir Hom alleen opeis, en wat ons hierbo geponeer het, in gedagte hou. Die eerste rede is dat sy wil vir ons die volmaakte reël van alle geregtigheid en heiligheid moet wees, en dat om Hom te ken die volmaakte kennis van 'n goeie lewe is. Die tweede rede is dat, wanneer na die manier waarop Hy na behore en reg gedien moet word, gevra word, Hy alleen oor ons siele heers, en daarom moet ons Hom gehoorsaam en ons na sy wil skik.

As ons hierdie twee redes in aanmerking neem, sal dit vir ons maklik wees om te beoordeel watter bepalings van mense39 strydig met die Here se Woord is. Sulke bepalings is al dié wat versin word asof dit op die ware diens van God betrekking het en waardeur ons gewetens gebind word om hulle te gehoorsaam asof hulle noodsaaklik is om te onderhou. Ons moet dus onthou dat alle menslike wette op hierdie weegskaal geweeg moet word as ons daarvan 'n seker ondersoek wil hê omdat dit ons nie toelaat om in enige opsig die pad byster te raak nie.

Paulus stry met die eerste rede in sy brief aan die Kolossensers teen die valse profete wat probeer het om kerke met nuwe laste te onderdruk.40 Hy wend die tweede rede meer aan teen die Galasiërs in 'n soortgelyke saak.41 In sy brief aan die Kolossensers betoog hy derhalwe dat ons nie 'n leer om God waarlik te dien van mense moet soek nie omdat die Here ons getrou en volledig geleer het hoe ons God moet dien. En om dit te bewys, sê hy in die eerste hoofstuk dat al die wysheid in die evangelie saamgevat word en daardeur kan 'n mens van God in Christus volmaak gemaak word.42 In die begin van die tweede hoofstuk sê hy dat al die skatte van wysheid en kennis in Christus verborge is.43 Daaruit kom hy later tot die slotsom dat gelowiges moet oppas om nie deur menslike insettinge deur 'n ydel filosofie van Christus se kudde af verlei te word nie.44 Maar aan die einde van die hoofstuk verdoem hy met nog groter selfvertroue alle eiewillige godsdienste - dit is versonne diens wat mense vir hulleself uitdink of van ander oorneem, en al die beginsels wat hulle uit hulleself oor die diens aan God durf leer.45

Hier het ons dit dus nou duidelik dat alle instellings goddeloos is as die versinsel geskep word dat die diens van God geleë is in die onderhouding van sulke instellings. Die passasies waarin hy by die Galasiërs daarop aandring dat hulle nie strikke vir hulle gewetens moet stel nie omdat dit deur God alleen regeer moet word, is duidelik genoeg - veral in die vyfde hoofstuk.46 Dit sou dus voldoende wees dat ek die aandag daarop gevestig het.

9. Roomse seremoniële instellings is goddeloos.🔗

Omdat die hele onderwerp egter aan die hand van voorbeelde beter aan die lig sal kom, is dit die moeite werd om hierdie leer op ons eie tye toe te pas voordat ons verder gaan. Ons verklaar dat die sogenaamde kerklike instellings waarmee die pous en sy trawante die kerk belas, verderflik en goddeloos is. Ons teenstanders verdedig dit egter as heilige en heilsame instellings. Daar is twee groepe hiervan: sommiges handel oor seremonies en ritusse en ander is meer op dissipline gerig. Het ons dus gegronde rede om ons te motiveer om albei te bestry? Beslis gegronder as wat ons wil hê! Ten eerste, verdedig juis die skeppers daarvan nie in duidelike taal dat die einste - om dit so te stel -, diens aan God juis in sulke instellings saamgevat word nie?47 Met watter doel voer hulle seremonies in anders as dat God daardeur gedien moet word? Dit vind nie alleen vanweë die dwaling van 'n onervare menigte mense plaas nie maar met die goedkeuring van diegene wat die leraaramp onder hulle beklee.

Ek raak nou nog nie aan die growwe afstootlikhede waarmee hulle alle godsvrug probeer vertrap het nie maar hulle sou hulle nie verbeel het dat dit so 'n verskriklike oortreding is om selfs in die geringste tradisie te oortree as dit nie was dat hulle die diens aan God aan hulle verdigsels onderwerp het nie. Watter sonde doen ons tog as ons vandag nie kan verdra wat Paulus ons leer ondraaglik is nie, naamlik dat die wettige metode om God te dien aan die oordeel van mense onderwerp word veral wanneer hulle ons voorskryf om God te dien volgens die beginsels van hierdie wêreld waarvan Paulus getuig dat dit teen Christus stry?48 Aan die ander kant is dit ook goed bekend met watter kortaf dwang hulle ons gewetens bind om alles wat hulle ons gelas, te gehoorsaam. Wanneer ons ons stem hierteen verhef, maak ons gemene saak met Paulus omdat hy glad nie toelaat dat gelowige gewetens mense se slawe word nie.49

10. Hierdie Roomse instellings kom neer op veragting van God se gebod.🔗

Verder kom hierby die slegste kenmerk, naamlik dat wanneer mense eenmaal begin het om die godsdiens met sulke leë verdigsels te beperk, 'n verdere vervloekte mismaaktheid daardie verwrongenheid dadelik volg - soos Christus die Fariseërs verwyt het, naamlik dat die gebod van God tot niet gemaak word vanweë die mense se tradisies.50 Ek wil ons huidige wetgewers51 nie met my eie woorde bestry nie. Laat hulle gerus maar die oorwinning behaal as hulle hulle enigsins van hierdie beskuldiging van Christus kan verontskuldig!

Maar hoe sou hulle hulle daarvan kon verontskuldig wanneer dit onder hulle 'n ontsaglike groter sonde is om teen die einde van die jaar die oorbieg te versuim as om die hele jaar lank 'n uiters goddelose lewe te lei? Om op Vrydag jou tong te verontreinig deur net effens aan vleis te proe as om jou hele liggaam elke dag deur hoerery te besoedel? Om jou hand op 'n dag wat aan een of ander heilige mensie gewy is, aan earlike werk te slaan as om met al jou ledemate voortdurend met die slegste misdade besig te wees? Dat 'n offerpriester aan een wettige eggenote verbind word as om hom in duisend owerspelige verhoudings te verstrik? Om 'n pelgrimstog nie soos belowe na te kom nie as om in al jou beloftes te faal? Om niks op uitspattige en ewe oorbodige as nuttelose weelde van tempels te verkwis as om arm mense in hulle uiterste nooddruf nie by te staan nie? Om sonder om dit te eerbiedig by 'n afgod verby te loop as om die hele mensdom beledigend te behandel? Om op vasgestelde rye lang woorde sonder begrip af te rammel as om nog nooit 'n grondige gebed uit die hart te bedink het nie? Wat is dit anders as om God se gebod deur hulle tradisies tot niet te maak?52 Wat is dit anders wanneer hulle gehoorsaamheid aan God se gebooie so kil en oppervlakkig aanprys maar nietemin ywerig en angsvallig aandring op gehoorsaamheid aan hulle eie instellings asof die volle krag van ons geluksaligheid daarin geleë is? Wat is dit anders wanneer hulle 'n oortreding van God se wet met ligte strawwe en voldoenings wreek maar selfs die geringste oortreding van een enkele besluit van hulle met geen straf ligter as tronkstraf, verbanning, verbranding of die swaarddood straf nie?53 Terwyl hulle nie so hardvogtig en ongenaakbaar teenoor veragters van God optree nie, vervolg hulle tot die uiterste toe die wat hulle verag, met 'n onversoenlike haat. En hulle leer al die eenvoudiges wat hulle gevange hou, so dat hulle met groter gelatenheid sou kon aanskou dat God se wet heeltemal vernietig word eerder as dat 'n puntjie van die sogenaamde voorskrifte van die kerk geskend word.

Ten eerste is dit 'n ernstige sonde dat een mens 'n ander verag, veroordeel en verwerp vanweë sake wat kleinlik en, as ons met God se oordeel tevrede wou wees, (vir almal) vry is. Maar nou word aan die ydel beginsels van hierdie wêreld, soos Paulus dit in sy beskrywing aan die Galasiërs noem,54 asof daarin weinig kwaad steek, meer waarde geheg as aan die hemelse uitsprake van God. En iemand wat skaars van owerspel vrygespreek word, word oor sy kos verdoem; iemand wat toegelaat word om 'n hoer aan te hou, word verbied om 'n vrou te hê! Dit dan is die vrug van die heulery wat uit daardie gehoorsaamheid kom wat soveel van God afwyk as wat dit na mense geneig is!

11. Twee verdere gebreke in Roomse menslike instellings.🔗

Daar is nog twee ander ernstige gebreke wat ons in dieselfde instellings afkeur. Ten eerste skryf hulle meesal nuttelose en soms selfs dwaas insettings voor. Ten tweede word vroom gewetens deur die ontsaglike menigte van hierdie insettings onderdruk omdat hulle na 'n soort Jodedom55 terugkeer en so aan skadu's verknog bly dat hulle nie tot Christus kan kom nie.

Dat ek sê dat dit dwase en nuttelose insettings is, weet ek, sal vir hulle vleeslike verstand ongelooflik lyk omdat hulle soveel genot daaruit put dat hulle meen dat die kerk heeltemal gedeformeer word wanneer dit daaruit weggeneem word. Maar dit is soos Paulus skryf, naamlik dat hulle 'n skyn van wysheid in hulle eiewillige godsdiens en in hulle ootmoed het en daarin dat hulle met hulle strengheid skynbaar by magte is om hulle vlees te tem.56 Dit is beslis 'n baie heilsame vermaning wat ons nooit moet vergeet nie. Hy sê: "Die tradisies van die mens mislei ons onder hulle skyn van wysheid", Waaruit put hulle hierdie bedrog? Natuurlik omdat dit versinsels van mense is! Die menslike vernuf herken daarin iets wat syne is, en wanneer hy dit herken, omhels hy dit met groter graagte as iets wat minder as die beste met sy ydelheid ooreenkom. Omdat dit verder skynbaar geskikte beginsels ter onderwysing van ootmoed is, het hierdie insettings ook die verdere aanbeveling dat hulle die verstand van mense platgedruk op die aarde hou. Omdat hulle ten laaste skynbaar daarop gemik is om die genietinge van die vlees aan bande te lê en dit deur streng weerhouding te onderdruk, lyk dit daarom ook asof dit insettinge is wat met verstandigheid uitgedink is.

Maar wat antwoord Paulus hierop? Ruk hy hierdie maskers af om te voorkom dat eenvoudiges onder 'n valse voorwendsel bedrieg word? Omdat hy egter van mening was dat dit ter weerlegging hiervan voldoende is dat hy gesê het dat dit uitvindings van mense is, gaan hy by  al hierdie dinge verby sonder om dit te weerlê asof hy dit van nul en gener waarde ag nie.57 Ja, omdat hy geweet het dat alle eiewillige diensbetonings in die kerk verdoem is en in die mate waarin dit die mens se vernuf groter genot verskaf, des te meer onder gelowiges onder verdenking is; omdat hy geweet het dat daardie valse indruk van uiterlike ootmoedigheid soveel van ware ootmoed verskil dat dit maklik daarvan onderskei kan word; omdat hy ten slotte geweet het dat daardie onderwysing nie van groter waarde as net oefening van die liggaam geag word nie, was sy bedoeling dat juis dit vir gelowiges as weerlegging van menslike tradisies moes geld ter wille waarvan hierdie tradisies by onkundiges aangeprys word.

12. Roomse seremonies wat volgens hulle groot verborgenhede van God se wil is, is louter bespotting.🔗

So word vandag nie alleen die onkundige (kerk)volk nie maar elkeen wat die meeste met wëreldse wysheid opgeblase is, wonderbaarlik beetgepak deur die aanskouing van hierdie seremonies. Huigelaars en onnosel vroutjies dink inderdaad dat niks aanskouliker en beter as dit uitgedink kan word nie. Maar mense wat dieper daarna ondersoek instel en volgens die maatstaf van godvrugtigheid met groter waarheid oorweeg wat die waarde van soveel en sulke seremonies is, besef in die eerste plek dat dit beuselagtighede is wat geen nut het nie. Ten tweede besef hulle dat dit oëverblindery is omdat hulle die oë van die toeskouers met ydel pronkery bedrieg. Ek praat nou van daardie seremonies waarin daar volgens die meesters van die Roomse pousdom groot geheimenisse verskuil is, maar waarin óns niks anders as louter bespotting ervaar nie. Dit is ook nie snaaks dat die skeppers van daardie seremonies sover gedaal het dat hulle hulleself en ander met hulle ligsinnige onnoselhede bespotlik maak nie omdat hulle die voorbeeld daarvoor gedeeltelik uit die waansinnighede van die heidene geput het en hulle gedeeltelik die ou ritusse van die Mosaïese wet soos ape onbesonne nageboots het terwyl dit net so min op ons betrekking het as die offerdiere en ander dergelike seremonies daarvan. Selfs al sou ons geen ander bewys gehad het daarvoor nie, sal niemand wat by sy volle verstand is, die hoop koester dat uit 'n mengelmoes wat so sleg aanmekaar gelap is, iets goeds kan kom nie. En die werklikheid self bewys tog oop en bloot dat uiters baie seremonies geen ander voordeel inhou as net om die (kerk)volk stom te slaan eerder as om hulle te onderrig nie. So heg hierdie veinsers ook groot waarde aan daardie nuwe kanons wat die dissipline verwoes eerder as handhaaf. As iemand dit egter beter sou ondersoek, sal hy vind dat dit niks anders as 'n skaduagtige en verdwynende skim van dissipline is nie.

13. Die geweldige toename in die aantal tradisies in die Roomse kerk maak dit ondraaglik.🔗

Om nou by die tweede gebrek te kom: wie kan nie sien dat deur die een tradisie op die ander te stapel hulle dermate in getal gegroei het dat die Christelike kerk dit geensins kan dra nie? Die gevolg is dat daar die een of ander vorm van die Jodedom in die seremonies te voorskyn kom en dat sommige insettings vir godvrugtiges ernstige foltering teweegbring. Augustinus het al daaroor gekla dat die gebooie van God in sy tyd verwaarloos is en dat alles so vol verbeeldingrykheid was dat iemand wat in die agt dae na sy doop die grond met sy kaal voet aangeraak het, ernstiger tereggewys is as iemand wat sy verstand in beskonkenheid begrawe het. Hy het daaroor gekla dat die kerk wat God deur sy barmhartigheld vry wou laat wees, so onderdruk word dat die toestand van die Jode draagliker was.58

As hierdie heilige man in ons tyd kon leef, met watter klagtes sou hy dan nie die slawerny wat nou bestaan, betreur het nie? Want die getal daarvan is tienmaal meer en elke bepalinkie daarvan word honderdmaal strenger as destyds afgedwing. So gebeur dit gewoonlik dat wanneer daardie verwronge wetgewers eenmaal die regering oorgeneem het, hulle geen einde aan gebod en verbod maak totdat hulle die uiterste vorm van kleinserigheid bereik nie.

Paulus het dit selfs pragtig met die volgende woorde aangedui: "As julle dan vir die wêreld gesterf het, waarom word julle nog deur die insettinge daarvan gebind asof julle nog daarvoor leef? 'Moenie eet nie, moenie proe nie: moenie aanraak nie'."59 Omdat die woord aptesthal sowel 'eet' as 'aanraak' beteken, word dit hier ongetwyfeld in die eerste betekenis (van eet) opgeneem om te voorkom dat dit 'n oorbodige herhaling sou weergee, Hier beskryf hy dus baie mooi die vordering van die valse profete. Hulle begin met bygeloof omdat hulle mense nie slegs verbied om te eet nie maar ook om net effens daaraan te hap; wanneer hulle dit regkry, stel hulle weldra ook 'n verbod daarop in om daaraan te proe. Nadat dit hulle ook toegegee is, ag hulle dit sonde om selfs met 'n vinger (aan voedsel) te raak!

14. Omdat Christus in die waarheid gekom het, is die seremonies van Israel wat Hom afgeskadu het, nie meer nodig nie.🔗

Vandag bestraf ons met reg hierdie dwingelandy in die instellings van mense waardeur veroorsaak is dat arme gewetens deur ontelbare edikte en die onmatige dwang daarvan wonderbaarlik gefolter word. Oor die reëls wat op die dissipline betrekking het, het ek elders gepraat.60 Wat moet ek van seremonies sê waardeur veroorsaak is dat Christus half begrawe is en ons na die simbole van die Jode teruggekeer het? Augustinus het gesê: "Ons Here Christus het die gemeenskap van sy nuwe (kerk)volk met sakramente wat maar min in getal, maar uitnemend in hulle betekenis en uiters maklik is om te onderhou, verenig".61 Ons kan egter nie genoeg vertel hoeveel die menigte en uiteenlopendheid van die ritusse waarin ons sien dat die kerk vandag verstrik is, van hierdie eenvoud verskil nie. Ek weet met watter listigheid sommige skerpsinnige mense hierdie verwrongenheid verontskuldig. Hulle beweer dat daar ook onder ons baie mense net so ongeleerd is as wat die Israeliete was. Dat om hulle ontwil so 'n onderwysing ingestel is, en hoewel die sterkeres daarsonder kan klaarkom, hulle dit nogtans nie behoort te verag nie aangesien hulle kan sien dat dit vir hulle swak medebroeders voordelig is. My antwoord daarop is dat ons wel deeglik weet wat ons aan ons swak medebroeders verskuldig is.

Aan die ander kant maak ons egter beswaar dat om hulle onder 'n groot hoop seremonies te begrawe, nie die metode is waarop die belange van swakkes ter harte geneem moet word nie. God het nie verniet hierdie verskil tussen ons en sy volk van ouds gestel dat dit sy wil was om hulle soos kinders met tekens en beelde te onderrig, maar ons op 'n eenvoudiger manier en sonder sulke groot uitwendige middels nie. Paulus sê: "Soos 'n kind volgens die bevatlikheid van sy ouderdom deur 'n onderwyser gelei en onder sy wakende oog gehou word, so is die Jode onder die wet gehou".62 Ons is egter soos volwassenes wat vry is van voogdy en versorging en nie die eerste beginsels van kinders benodig nie. Die Here het beslis voorsien wat die aard van gewone mense in sy kerk sou wees en hoe hulle regeer moes word. Hy het nograns volgens die bogenoemde wyse onderskeid tussen ons en die Jode gemaak. Dit is dus 'n dwase metode as ons onkundiges se belange wil bevorder deur die Jodedom wat deur Christus herroep is, weer in te stel. Christus het ook in sy eie woorde op hierdie verskil tussen sy volk van ouds en sy nuwe volk gewys toe Hy aan die Samaritaanse vrou gesê het dat die tyd aangebreek het waarop ware aanbidders God in gees en in waarheid sou aanbid.63 Dit het inderdaad ook altyd gebeur, maar die nuwe aanbidders (van God) verskil hierin van die oues dat die geestelike aanbidding van God onder Moses deur baie seremonies afgeskadu en op een of ander wyse daarmee verwikkeld was maar omdat dit nou uit die weg geruim is, word Hy met groter eenvoud aanbid. Mense wat hierdie verskil verwar, vernietig daarom die orde wat deur Christus ingestel en bekragtig is. "Maar," sal jy vra, "moet ons dan geen seremonies aan ongeleerder mense gee om hulle in hulle onervarenheid tegemoet te kom nie?" Dit sê ek nie: ek voel trouens dat hierdie soort hulpmiddel heeltemal nuttig is vir hulle. Hier dring ek slegs daarop aan dat 'n metode aangewend moet word wat Christus toelig en nie verduister nie.64 God het daarom net 'n paar seremonies aan ons gegee - en hulle is glad nie inspannend nie - om vir ons aan te toon dat Christus naby ons is. Meer seremonies is aan die Jode gegee om as afbeeldings van Christus te dien terwyl hy nog nie daar was nie. Ek sê egter dat Hy afwesig was, nie in krag nie maar by wyse van selfbetoning. Om dus hierdie metode te behou, moet ons noodwendig die geringe getal daarvan, die gemakiikheid om dit te gehoorsaam, die waarde in die beskrywing (van Christus) wat ook in die duidelikheid daarvan geleë is, handhaaf. Van watter belang is dit om te sê dat dit nie gebeur het nie? Almal kan dit tog in werklikheid sien.

15. Die Roomse leer dat hulle seremonies offers ter versoening is om geregtigheid en saligheid te verwerf, is vals.🔗

Hier laat ek maar agterweë met watter verderflike indrukke die verstand van die mense deurtrek word, naamlik dat hulle seremonies offers is om God na behore te dien, om vir sondes versoening te doen en om geregtigheid en saligheid te verkry. Hulle sal ontken dat goeie dinge deur sulke dwalings wat van buite af kom, geskend word aangesien 'n mens ook in hierdie opsig nie minder in werke wat deur God gebied is, kan sondig nie. Ons moet nogtans meer verontwaardig wees daaroor dat aan werke wat ondeurdag na die mens se willekeur versin is, soveel eer toegeken word dat mense glo dat dit die ewige lewe kan verdien. Werke wat deur God gebied is, word immers beloon omdat die Wetgewer self dit met inagneming van die gehoorsaamheid aanneem. Hulle word dus nie beloon omdat hulle waarde van hulle eie of verdienste van hulle eie het nie, maar omdat God ons gehoorsaamheid aan Hom so hoog ag. Ek praat nou van daardie volmaaktheid van goeie werke wat deur God gebied, maar nie deur mense volbring word nie. Die werke van die wet wat ons wel doen, bevind trouens geen guns anders as uit die onverdiende goedertierenheid van God nie omdat ons gehoorsaamheid juis in ons werke swak en gebrekkig is. Maar omdat die bespreking hier nie gaan oor wat die waarde van goeie werke sonder Christus is nie, laat ons die hele vraagstuk daar laat.

Sover dit die huidige redenasie aangaan, herhaal ek weer eens: dat ons werke al die lof wat hulle het, slegs het met inagneming van ons gehoorsaamheid waarop God alleen ag slaan. Die profeet getuig byvoorbeeld: "Ek het julle geen gebod oor offers en offerdiere gegee nie maar slegs dat julle moes luister en my woorde moes gehoorsaam".65 Oor eiewillige werke praat die profeet elders so: "Julle weeg geld af vir wat geen brood is nie".66 Net so: "Hulle dien My tevergeefs met gebooie van mense".67 Gevolglik sal hulle hulle glad nie daarmee kan verontskuldig dat hulle die arme (kerk)volk toelaat om 'n geregtigheid waarmee hulle teen God stry en waarmee hulle hulle voor die hemelse regbank verdedig, in daardie uitwendige onsinnighede soek nie. Is dit nie bowendien 'n gebrek wat bestrawwing verdien dat hulle met hulle onverstaanbare seremonies asof dit klugte en toorbeswerings is, pronk nie? Dit is immers beslis so dat alle seremonies bedorwe en skadelik is tensy mense daardeur na Christus gelei word. Die seremonies wat onder die pousdom in gebruik is, word egter van die leer geskei om mense met tekens sonder enige betekenis, besig te hou. Ten slotte: aangesien 'n (mens se) maag 'n vindingryke kunstenaar is, is dit duidelik dat baie seremonies deur gierige offerpriesters ontwerp is om wippe te stel om geld te maak. Watter oorsprong hulle ook al sou hê: al die seremonies is so vir vuil gewin onteer dat ons 'n goeie deel daarvan moet wegsny as ons wil bewerkstellig dat daar geen onheilige en heiligskennige verkoping in die kerk beoefen word nie.

16. Alle menslike instellings wat nie op die Woord van God rus nie, is ewe verwerplik.🔗

Hoewel dit lyk asof ek 'n leer oor menslike instellings oordra wat nie vir altyd geld nie omdat hierdie redenasie heeltemal by ons eie tyd aangepas is, het ek nogtans niks gesê wat dit nie vir alle tye nuttig sal maak nie. Elke keer wanneer hierdie bygeloof trouens insluip dat mense God met hulle eie versinsels wil dien, ontaard al die wette wat hulle ook al met hierdie doel maak, terstond in die bogenoemde growwe misbruike. God dreig trouens nie net een of twee tye nie, maar alle eeue met hierdie vloek dat Hy diegene deur wie Hy met leerstellings van mense gedien word, met blindheid en verdwasing sal slaan.68 Hierdie verblinding veroorsaak altyd dat diegene wat soveel vermanings van God verag en hulle vrywillig in daardie strikke verstrengel, geen soort dwaasheid kan vermy nie.

Maar as hierdie omstandighede buite rekening gelaat word en jy eenvoudig wil weet wat die menslike tradisies van alle tye is wat deur die kerk verwerp en deur alle godvrugtige mense afgekeur moet word,69 sal die besliste en duidelike beskrywing wat ons hierbo gestel het,70 geld, naamlik dat dit alle wette is wat sonder die Woord van God met hierdie doel gemaak is om òf 'n manier om God te dien aan ons voor te skryf, òf om ons gewetens met eerbied daarvoor te bind asof hulle aan ons voorskrifte oor sake gee wat vir ons saligheid noodsaaklik is. As by een of albei hiervan ook nog ander gebreke voorkom, naamlik dat hulle met hulle menigte die duidelikheid van die evangelie verduister; dat hulle niks opbou nie maar nuttelose en belaglike besighede is eerder as ware oefeninge van godsvrug, dat hulle ingestel is met die oog op vuil en skandalige gewin; dat dit te moeilik is om dit te gehoorsaam; dat hulle met slegte bygelowe besmet is - sal dit alles hulpmiddels wees sodat ons makliker kan begryp hoeveel kwaad daarin is.

17. 'n Weerlegging van die Roomse redenasie dat die kerk nie kan dwaal nie omdat dit deur die Heilige Gees regeer word.🔗

Ek hoor wat hulle ten behoewe van hulle saak antwoord, naamlik dat hulle tradisies nie uit hulle nie maar uit God ontstaan. Hulle verklaar trouens dat die kerk deur die Heilige Gees regeer word sodat dit nie kan dwaal nie en dat die gesag van die kerk by hulle berus.71 Wanneer hulle dit bereik het, kom hulle tegelyk tot die gevolgtrekking dat hulle tradisies openbarings van die Heilige Gees is wat nie geminag kan word sonder dat God goddeloos en minagtend verag word nie. En om te voorkom dat hulle die indruk sou wek dat hulle iets aanroer sonder belangrike gesagsfigure, wil hulle dat die mense moet glo dat 'n goeie deel van hulle insettings uit die apostels ontstaan het. En hulle voer aan dat dit voldoende is om met een voorbeeld te bewys wat die apostels in ander gevalle gedoen het. Toe hulle immers in een kerkvergadering byeengekom het, het hulle volgens besluit van hierdie vergadering aan al die heidene verkondig dat hulle hulle van afgode-offers, bloed en verwurgde offerdiere moes weerhou.72 Ons het reeds elders 'n uiteensetting gegee van hoe valslik hulle mense met die titel kerk bedrieg om hulleself aan mense op te dring.73

So ver dit die huidige saak aangaan: as hulle maskers afgetrek en al hulle rookskerms verwyder word, sal ons sien waaroor ons waarlik besorg moet wees en wat besonderlik vir ons van belang is, naamlik hoedanige kerk Christus wil hê sodat ons ons na aanleiding van sy maatstaf kan vorm en voorberei. Ons sal dan maklik bevind dat dit geen kerk is wat die perke van die Woord van God te buite gaan en losbandig en teuelloos te werk gaan om nuwe wette te maak nie.

Bly die wet wat eenmaal die kerk aangesê is, dan nie altyd bestaan nie. "Wat Ek jou gebied, moet jy sorg dat jy dit doen; jy mag niks byvoeg of daarvan wegneem nie"?74 En elders: "Jy mag niks by die Woord van die Here byvoeg of daarvan wegneem nie sodat Hy jou nie miskien aankla en daar bevind word dat jy 'n leuenaar is nie".75 Aangesien hulle nie kan ontken dat dit vir die kerk gesê is nie, wat verkondig hulle dan anders as dat die kerk weerspannig is terwyl hulle daarop roem dat die kerk nietemin na sulke verbiedinge gewaag het om van sy eie leerstellings by die leer van God te voeg en daarvan weg te neem? Verre sy dit daarvan dat ons met hulle leuens sou saamstem omdat dit die kerk so 'n groot belediging oplê. Maar ons moet besef dat die naam kerk valslik as voorwendsel gebruik word so dikwels as wat dit na willekeur van menslike ondeurdagtheid aangedryf word omdat hierdie willekeurigheid hom nie binne die voorgeskrewe grense van God kan hou sonder om dit voortvarend te oorskry en na sy eie uitvindings af te dwaal nie. Wanneer dit om diens aan die Here en om die voorskrifte vir saligheid handel, is daar in die volgende woorde niks ingewikkelds, niks duisters, en niks dubbelsinnigs nie, naamlik dat die kerk in sy geheel verbied word om iets by die Woord van God by te voeg of daarvan weg te neem. "Maar dit is net in verband met die wet gesê waarop die profete en die hele bediening van die evangelie gevolg het!" Dit erken ek sekerlik en ek voeg tegelykertyd by dat hulle vervullings van die wet is eerder as byvoegings of inkortings daarvan. Maar as die Here nie toelaat dat iets by Moses se bediening gevoeg of daarvan weggeneem word nie al was sy bediening nog deur uiters baie ingewikkeldhede verduister, totdat Hy deur sy diensknegte, die profete, en uiteindelik deur sy geliefde Seun 'n duideliker leer sou bedien, waarom sou ons dan die opvatting huldig dat 'n strenger verbod nie vir ons geld om niks by die wet, by die profete, by die psalms en die evangelie te voeg nie? Die Here wat lank tevore reeds verklaar het dat Hy deur niks soveel vertoorn word as wanneer Hy met uitvindings van mense gedien word nie, het tog nie aan Homself ontrou geword nie. Waaruit ontstaan daardie baie duidelike uitsprake onder die profete wat voortdurend in ons ore behoort te weerklink, soos byvoorbeeld: "Op die dag toe Ek hulle uit Egipte uitgelei het, het Ek niks vir julle vaders gesê in verband met offer en brandoffer nie. Maar Ek het hulIe gebied en gesê: 'Luister, en gehoorsaam my stem; en Ek sal vir julle 'n God wees en julle sal vir My 'n volk wees en in alles sal julle wandel op die pad wat Ek julle beveel het'".76 Net so "Ek het aan julle vaders betuig: 'Luister na my stem'''.77 Daar is ook ander soortgelyke uitsprake maar die volgende een staan bo die ander uit: "Wil die Here brandoffers en slagoffers hê eerder as dat na sy stem geluister moet word? Gehoorsaamheid is immers beter as slagoffers en om te luister is beter as om vet van ramme te offer. Wederstrewigheid is 'n sonde van waarsêery en om nie daarby te berus nie 'n sonde van afgodediens".78 Dit is voor die hand liggend dat al die menslike uitvindings wat in hierdie sin op gesag van die kerk verdedig word, valslik aan die kerk toegeskryf word hoewel dit nie van 'n klag van goddeloosheid verontskuldig kan word nie.

18. Menslike tradisies het nie werklik by die apostels ontstaan nie en het geen plek in die ware kerk nie.🔗

Om hierdie rede vaar ons met vrymoedigheid uit teen daardie tirannie van menslike tradisies wat hooghartig onder die naam van die kerk onder ons ingevoer word. Ons bespot die kerk trouens nie soos ons teenstanders onbillik 'n leuen vertel om haat teen ons aan te blaas nie,79 maar ons gun die kerk die lof dat dit gehoorsaam moet word - en dit erken geen lof groter as dit nie.80 Hulle doen die kerk eerder 'n verskriklike onreg aan wanneer hulle die kerk weerspannig maak teen sy Here deur die versinsel te skep dat die kerk verder gegaan het as wat die Woord van God hom toegelaat het. Laat ek maar swyg daaroor dat dit uitsonderlike verwaandheid met eweveel kwaadwilligheid is om gedurig oor die mag van die kerk te skreeu maar intussen geen ag te slaan op wat die Here die kerk gebied het en watter gehoorsaamheid dit aan die Here se gebod verskuldig is nie. Maar as ons van plan was om in eensgesindheid met die kerk saam te stem soos dit ons betaam, is dit vir ons onderwerp van groter belang om te sien en te onthou wat die Here ons sowel as die kerk gebied, naamlik dat ons Hom eensgesind moet gehoorsaam. Daar bestaan trouens geen twyfel daaroor dat ons ten beste eensgesindheid met die kerk sal hê as ons in alles gehoorsaamheid aan die Here sal bewys nie.

Dit is inderdaad louter bedrog dat hulle die oorsprong van hulle tradisies waarmee die kerk tot dusver onderdruk is, na die apostels terugvoer.81 Die hele leer van die apostels is trouens hierop gerig om nie ons gewetens met nuwe insettinge te belas of die diens aan God met ons uitvindings te besoedel nie. Verder, as daar enige geloofwaardigheid aan die geskiedenisse en ou dokumente geheg kan word, was dit wat hulle aan die apostels heg, nie alleen aan hulle onbekend nie maar hulle het ook nie daarvan gehoor nie.

Hulle moet ook nie klets dat die meeste van die apostels se beslissings wat nie op skrif gestel is nie, deur gebruik en gewoonte aanvaar is nie. Dit is naamlik daardie leerstellinge wat hulle nie kon verstaan toe Christus nog geleef het nie, maar wat hulle na sy hemelvaart deur die openbaring van die Heilige Gees geleer het.82 Ons het die vertolking van daardie Skrifverwysing reeds elders ondersoek.83 Vir die huidige onderwerp is dit voldoende dat hulle hulle inderdaad belaglik maak wanneer hulle hulle verbeel dat sulke ontsaglike verborgenhede wat so 'n lang tyd aan die apostels onbekend was, gedeeltelik instellings van die Jode of die heidene is. Hiervan was die een alreeds baie lank gelede onder die Jode en die ander onder al die heidene algemeen bekend. Gedeeltelik is dit sinnelose gebare en holklinkende seremonietjies wat soutelose offerpriestertjies wat geen swem of letters ken nie,84 uiters plegtig verrig. Ja, dit is seremonies wat kinders en morone so paslik uitbeeld dat dit sou kon lyk asof daar nie geskikter priesters vir sulke heilige handelinge as hulle is nie!

Selfs al sou daar geen geskiedenisse bestaan het nie, sou mense met gesonde verstand nog uit die werklikheid kon aflei dat so 'n groot hoop ritusse en instellings nie somaar skielik in die kerk uitgebars het nie maar dat dit geleidelik ingesluip het. Want hoewel baie heilige biskoppe wat die naaste aan die tyd van die apostels was, sekere instellings  geskep het wat op die orde en die dissipline betrekking gehad het, het na hulle die een mens na die ander gekom wat nie versigtig genoeg nie en te nuuskierig en eergierig was. En hoe later elkeen van hulle gekom het, het hulle in dwase naywer met hulle voorgangers gewedywer om nie in die uitvinding van nuwighede vir hulle agteruit te staan nie. En omdat die gevaar bestaan het dat hulle uitvindings binnekort tot niet sou gaan, was hulle baie strenger om dit te vereis omdat hulle daardeur lof by die nageslag gesoek het. Hierdie afguns het 'n groot deel van daardie ritusse vir ons voortgebring en hulle loop nou daarmee as apostoliese instellings te koop. En dit is ook die geskiedenis se getuienis.

19. 'n Voorbeeld van hoe die nagmaal langsamerhand deur menslike instellings ontaard het.🔗

Om te voorkom dat ons te langdradig sou wees deur 'n lys van al hulle instellings saam te flans, sal ons met een voorbeeld vir lief neem. In die tyd van die apostels moes die nagmaal met groot eenvoud bedien word. Hulle naaste opvolgers het iets bygevoeg om die waardigheid van die sakrament te versier - iets wat ons nie hoef af te keur nie. Maar later het daar onverwags onverstandige nabootsers gekom wat spoedig verskeie stukkies aangelap het, en die kleredrag van die priester wat ons by die Mis sien, die versierings van die altaar, hierdie gebare en 'n hele rits nuttelose dinge vir ons saamgeraap en geskraap het. En tog maak hulle beswaar dat die mense destyds oortuig was dat alles wat eendragtig in die kerk plaasgevind het, juis van die apostels afkomstig was. En hulle haal Augustinus as getule daarvoor aan. Ek sal inderdaad nie van elders as uit Augustinus se woorde 'n oplossing aanbied nie. Hy sê: "Al die instellings wat oor die hele wêreld onderhou word, mag ons verstaan, is òf deur die apostels self of deur algemene konsilies waarvan die gesag in die kerk uiters heilsaam is, ingestel. So word die lyding van die Here, sy opstanding, sy hemelvaart en die koms van die Heilige Gees jaarliks met plegtighede gevier en alles soortgelyks wat deur die hele kerk onderhou word waarheen dit ook al strek".85 Aangesien hy net so 'n paar voorbeelde opnoem, wie kan nie sien dat hy instellings wat toe in gebruik was, naamlik eenvoudige instellings wat seldsaam en nugter was waarmee dit voordelig was om orde in die kerk te handhaaf, onder die aandag van skrywers wat geloofwaardigheid en eerbied verdien het, te bring nie? Maar hoeveel verskil dit nie van dit wat die Roomse meesters van ons wil afpers nie, naamlik dat dat daar geen seremonietjie onder hulle is wat nie as apostolies gereken moet word nie?

20. Wywater.🔗

Om nie te langdradig te wees nie, sal ek slegs een voorbeeld aanhaal. As iemand hulle sou vra na aanleiding waarvan hulle wywater het, sal hulle dadelik antwoord: "Van die apostels". Net asof die geskiedenisse nie hierdie uitvinding aan die een of ander Roomse biskop toeskryf nie;86 as hy die apostels geraadpleeg het, sou hy die doop inderdaad nooit met so 'n vreemde en onpaslike teken verontreinig het nie. En tog is dit vir my onwaarskynlik dat die wywater se oorsprong so oud is as wat daar beskryf word. Augustinus sê trouens dat sekere kerke in sy tyd die plegtige nabootsing van Christus in die afwassing van voete vermy het om te voorkom dat dit die indruk sou wek dat die ritus iets met die doop te doen het.87 Daarmee gee hy te kenne dat daar geen soort afwassing was wat enige ooreenstemming met die doop gehad het nie. Hoe dit ook al sy, ek sal glad nie toegee dat dit uit 'n apostoliese gees ontstaan het nie, naamlik dat die doop enigsins herhaal word wanneer dit deur 'n daaglikse teken in herinnering geroep word nie. Ek laat my ook nie daarmee ophou dat dieselfde Augustinus elders ook ander dinge aan die apostels toeskryf nie. Aangesien hy immers net daaroor gis, behoort so 'n belangrike saak nie bloot op grond daarvan beoordeel te word nie.

Ten slotte: selfs al sou ons toegee dat daardie instellings wat hy opnoem uit die tyd van die apostels gekom het, is daar nogtans 'n groot verskil daarin of jy enige godsvrugoefening instel wat gelowiges met 'n vry gewete kan toepas, en waarvan hulle hulle ook kan weerhou as die toepassing daarvan nie vir hulle enige nut het nie, en of jy 'n wet maak om hulle gewetens in slawerny te verstrik. Noudat ons sien dat dit in so 'n groot misbruik verval het, verhinder niks ons inderdaad om dit sonder enige belediging vir die insteller daarvan, wie hy ook al was, te herroep nie want die aanbeveling was nooit dat dit vir altyd moes bly geld nie.

21. Die voorbeeld van die apostels as basis vir die Roomse opvatting gaan nie op nie.🔗

Dat hulle die voorbeeld van die apostels as dekmantel voorhou om hulle van tirannie te verontskuldig, baat hulle nie veel nie. Hulle sê: "Die apostels en die ouderlinge van die eerste kerk het sonder Christus se bevel 'n besluit geneem waarvolgens hulle al die heidene beveel het om hulle te weerhou van afgodeoffers, van iets wat verwurg is en van bloed.88 As dit hulle geoorloof was, waarom is dit hulle opvolgers dan nie eweneens geoorloof om hulle na te boots so dikwels omstandighede dit vereis nie?"89 Het hulle hulle tog maar altyd in ander sake sowel as hierin nageboots! Want ek ontken dat die apostels daar iets nuuts ingestel of besluit het - en dit is maklik om dit met 'n grondige bewys te staaf. Want toe Petrus inderdaad op daardie vergadering verklaar het dat God versoek word as 'n juk op die nekke van die dissipels gelê word,90 werp hy self sy eie opvatting omver as hy later instem dat 'n juk op hulle gelê word. Maar so 'n juk word tog op hulle gelê as die apostels op eie gesag beslis dat die heidene verbied moet word om afgodeoffers, bloed en iets wat verwurg is aan te raak. Dit bly weliswaar nog 'n probleem dat hulle dit skynbaar nietemin verbied. En tog sal die probleem maklik opgelos word as iemand baie noukeurig op die betekenis van die besluit self let. In volgorde van belangrikheid is die eerste en hoofaspek daarvan dat die heidene toegelaat moet word om hulle vryheid te behou, dat hulle nie omgekrap moet word of deur gehoorsaamheid aan hierdie reël ergernis aangedoen moet word nie.91

Tot dusver ondersteun dit ons saak uitstekend. Die beswaar wat egter daarop volg,92 dat dit geen nuwe reël is wat deur die apostels gemaak is nie maar 'n ewige gebod van God oor die liefde wat onskendbaar is, verminder nie 'n enkele punt van daardie vryheid nie. Dit wys die heidene egter slegs op die manier waarop hulle hulle by hulle broeders moet aanpas om te voorkom dat hulle hulle vryheid misbruik tot aanstoot van hulle broeders. Die tweede hoofpunt moet dus wees dat die heidene hulle vryheid sonder benadeling moet gebruik en sonder aanstoot vir hulle broeders. "Maar hulle skryftog iets bepaalds voor." Ja, in soverre dit vir die tyd voordelig was, leer hulle die heidene en wys vir hulle die dinge aan waardeur hulle hulle broeders aanstoot kon gee sodat hulle daarteen kon waak. Rulle voer egter niks nuuts van hulle eie by die ewige wet van God in wat aanstoot aan hulle broers (in elk geval) verbied.

22. Sommige instellings is wel nodig om die swakheid van medebroeders in aanmerking te neem.🔗

Dit is asof getroue herders wat oor kerke regeer wat nog nie goed georden is nie, al hulle lidmate aansê om nie in die openbaar op Vrydag vleis te eet of openlik op vakansiedae te werk of iets dergeliks te doen totdat die swakkes met wie hulle saamleef, sterker geword het nie. As ons bygelowigheid laat vaar, is al hierdie dinge tog op sigself onverskillige sake.93 Wanneer dit egter aanstoot vir ons broeders teweegbring, kan hulle nie sonder sonde gedoen word nie. Die tydsgewrig is egter nou so dat gelowiges dit nie aan swak broeders kan voorhou sonder om hulle gewetens die ernstigste wonde toe te dien nie. Wie behalwe 'n lasteraar sou sê dat daar so 'n nuwe wet deur hulle ingestel word terwyl dit duidelik is dat hulle slegs die struikelblokke teenstaan wat uitdruklik genoeg deur die Here verbied is? Ook in die geval van die apostels kan niks meer gesê word nie omdat hulle deur die oorsaak vir ergernis uit die weg te ruim, geen ander doel gehad het as om aan te dring op God se wet in verband met die vermyding van 'n struikelblok nie. Dit is asof hulle gesê het: "Dit is 'n gebod van die Here dat julle julle swak broeder geen leed mag aandoen nie. Wat ook al aan die afgode geoffer en wat verwurg is, en bloed kan julle nie eet sonder om julle swak broeders aanstootte gee nie. In die Woord van die Here sê ons julle dus aan om dit nie tot 'n struikelblok vit hulle te eet nie".

Paulus is die beste getule daarvan dat dit juis dit is wat die apostels in die oog gehad het. Hy skryf beslis net na aanleiding van die besluit van hulle vergadering soos volg: "Wat betref die eet van offers wat aan die afgode geoffer word, weet ons dat 'n beeld niks is nie. Sommiges eet dit egter met die wete dat dit 'n afgod s'n is as iets wat aan die afgode geoffer is, en aangesien hulle gewete nog swak is, word dit besmet. Pas dan op dat julIe vermoë nie vir swakkes 'n struikelblok word nie".94 Iemand wat hierdie dinge deeglik oorweeg. sal nie bedrieg word deur diegene wat die apostels as dekmantel vir hulle tirannie voorhou asof hulle met hulle besluit begin het om die vryheid van die kerk af te breek nie.

Maar om te voorkom dat hulle ontvlug sonder om met hulle eie erkentenis hierdie oplossing goed te keur, moet hulle my antwoord met watter reg hulle gewaag het om hierdie besluit (van die apostels) af te skaf. Die rede is natuurlik dat daar geen gevaar meer van aanstoot en tweedrag bestaan het wat die apostels wou teengaan nie. Hulle het geweet dat hierdie wet na aanleiding van sy eie doel waardeer moes word. Aangesien die wet dus met die oog op die liefde gemaak is, word daarin slegs dit voorgeskryf wat vir die liefde van belang is. Wanneer hulle erken dat 'n oortreding van hierdie wet niks anders as 'n skending van die liefde is nie, erken hulle dan nie tegelyk dat dit nie die een of ander eiewillige byvoegsel tot God se wet is nie, maar 'n opregte en eenvoudige aanpassing by die tydsgewrig en die sedes waarvoor dit bedoel was nie?

23. Die Roomse tirannie moet afgekeur word omdat dit mense se gewetens folter en God sy heerskappy ontneem.🔗

Maar hulle hou inderdaad vol dat ons sulke wette sonder uitsondering moet gehoorsaam al sou dit vir ons honderdmaal onbillik wees en tot onreg strek. Hulle beweer dat dit hier nie daaroor gaan dat ons met die dwalings daarin moet saamstem nie maar slegs dat ons as ondergeskiktes die harde bevele van ons owerstes moet verdra omdat ons nie die mag het om dit te weier nie. Ook hier kom die Here ons ten beste met die waarheid van sy Woord te hulp en verlos ons van so 'n slawerny tot die vryheid wat Hy deur sy heilige bloed vir ons verkry het.95 Die weldaad hiervan het Hy nie net eenmaal deur syWoord verseël nie. Want dit gaan hier nie bloot soos hulle dit kwaadwillig voorstel, daaroor dat ons een of ander swaar onderdrukking ten opsigte van ons liggame moet verduur nie, maar dat ons gewetens beroof word van hulle vryheid, dit is van die weldaad van die bloed van Christus, en soos slawe gepynig word. Laat ons dit egter ook maar daar laat asof dit weinig met die saak te doen het. Maar van hoe 'n groot belang ag ons dit dat die Here sy heerskappy ontneem word wat Hy met soveel strengheid vir Homself opeis? Dit word Hom egter ontneem so dikwels Hy volgens die wette van menslike uitvindings gedien word aangesien Hy alleen as Wetgewer van sy diens beskou wil word. En om te voorkom dat iemand sou reken dat dit 'n saak van geen belang is nie, moet ons hoor van hoeveel waarde dit deur die Here geag word. Hy sê: "Kyk, omdat hierdie volk my volgens die gebod en leer van mense gevrees het, sal Ek hulle met 'n groot en oorstelpende wonder stom slaan; want die wysheid sal van hulle wyse manne verdwyn en die verstand van hulle oudstes sal van hulle wyk".96 Elders sê Hy: "Hulle dien my tevergeefs deur die leer en gebooie van mense te leer".97

En die oorsaak van die hele kwaad dat die kinders van Israel hulle met baie afgodediens besmet het, word aan hierdie onrein mengsel toegeskryf dat hulle die gebooie van God oortree het en vir hulle nuwe dienste versin het. Daarom vertel die heilige geskiedenis dat die nuwe aankomelinge wat die koning van Babilon gebring het om Samaria te bewoon, deur wilde diere uitmekaargeskeur en opgevreet is omdat  hulle nie die oordele of die insettinge van die God van die gebied geken het nie. Hoewel hulle nie in die seremonies gesondig het nie, sou God hulle ydel gepronk egter nie goedgekeur het nie. Intussen het Hyegter nie daarvan afgesien om Hom te wreek op die skending van sy diens nie omdat die mense versinsels wat vreemd was aan syWoord, ingevoer het. Na aanleiding hiervan word daar later gesê dat hulle deur daardie straf verskrik is en die seremonies wat in die wet voorgeskryf is, aangeneem het. Omdat hulle die ware God egter nog nie suiwer gedien het nie, word daar tweekeer herhaal dat hulle Hom gevrees het en nie gevrees het nie.98 Daaruit lei ons af dat 'n deel van die eerbied wat aan Hom betoon word, daarin geleë is wanneer ons in sy aanbidding eenvoudig volg wat Hy ons gebied sonder om ons eie uitvindings daarmee te vermeng. Daarom word die godvrugtige konings baie dikwels lof toegeswaai omdat hulle volgens al die gebooie opgetree het en nie na regs of na links daarvan afgewyk het nie.99

Ek gaan nog verder: selfs al sou daar in die een of ander eiewillige diens geen openlike goddeloosheid te voorskyn kom nie, word dit nogtans streng deur die Gees verdoem omdat dit van God se gebod afgewyk het. Die voorbeeld van die altaar wat Agas uit Samaria laat aanbring het,100 kon die indruk geskep het dat dit die versiering van die tempel verhoog aangesien sy plan daarmee slegs was om daarop aan God alleen te offer iets wat hy pragtiger op die nuwe altaar as op die oue sou kon doen. Ons bemerk egter hoe die Gees sy verwaandheid vervloek om geen ander rede nie as omdat die uitvindings van mense in die diens aan God onreine bedorwenheid101 is. En hoe duideliker die wil van God aan ons geopenbaar is, des te minder is die voortvarendheid om iets van die aard aan te durf te verontskuldig. En daarom word Manasse se oortreding tereg nog swaarder vanweë die feit dat hy 'n nuwe altaar in Jerusalem opgerig het terwyl God van hierdie stad verklaar het: "Ek sal my Naam daar vestig".102 Want die gesag van God word as't ware opsetlik verwerp.

24. Aanbidding volgens mense se uitvindings is vir God 'n gruwel.🔗

Die meeste mense is verbaas oor die rede waarom die Here so heftig dreig dat Hy 'n volk stom sal slaan as Hy volgens die gebooie van mense deur hulle gedien is103 en Hy verklaar dat Hy tevergeefs volgens die voorskrifte van mense gedien word.104 Maar as hulle sou let op wat dit in die geval van die godsdiens - dit is in die geval van die hemelse wysheid -, beteken om aan God se lippe alleen te hang, sou hulle terselfdertyd kon sien dat daar nie 'n oppervlakkige rede is waarom die Here sulke verwronge dienste wat na die willekeur van die mens se vernuf aan Hom betoon word, so verfoei nie. Want hoewel diegene wat sulke wette in die diens aan God gehoorsaam, in hulle gehoorsaamheid 'n sekere skyn van ootmoed het, is hulle glad nie ootmoedig voor God nie omdat hulle aan Hom dieselfde wette voorskryf as wat hulle onderhou. Dit is trouens die rede waarom Paulus wil hê dat ons so versigtig moet waak dat ons nie deur die tradisies van die mense bedrieg word nie,105 en waarom hy dit 'n eiewillige godsdienst106 noem wat sonder die leer van God deur mense uitgedink is.107 Dit is inderdaad ook so: ons eie wysheid en die van alle mense behoort vir ons stom te word sodat ons Hom alleen wys kan laat wees.

Dit is 'n pad waarop diegene wat dink dat hulle hulle deur insettinkies wat na die goeddunke van mense versin is, vir God aanvaarbaar maak, nie hou nie, en hulle dring 'n gehoorsaamheid waarin hulle hulle plig teenoor Hom versuim en wat hulle aan mense betoon, aan Hom op hoewel dit teen sy sin is. Soos etlike eeue vroeër en ook in ons eie heugenis gebeur het, so gebeur dit vandag nog op plekke waar die heerskappy van die skepsel van meer waarde geag word as dié van sy Skepper;108 waar die godsdiens - as dit verdien om nog godsdiens genoem te word -,deur meer en dwaser bygelowe besoedel is as wat enige heidendom ooit was. Wat sou die mens se sinne trouens anders kon voortbring as alle vleeslike en dwase dinge wat hulle makers waarlik weergee?

25. 'n Weerlegging van die vertolking van sekere Skrifverwysings wat die pousdom ter regverdiging van hulle leer aanhaal.🔗

Die voorstanders van bygelowe gebruik ook die voorwendsel dat Samuel in Rama geoffer het en dat dit God nogtans behaag het hoewel dit strydig met die wet was.109 Die oplossing hiervan is maklik, naamlik dat dit nie 'n tweede altaar was wat hy teenoor die enigste altaar van God gestel het nie, maar omdat daar nog nie 'n plek vir die verbondsark bestem was nie, het hy die dorp waar hy gewoon het, as die geskikste plek vir die (bring van) offers bestem. Dit was beslis nie hierdie heilige profeet se bedoeling om iets nuuts in die godsdiens in te voer nie terwyl God so 'n streng verbod daarop geplaas het dat iets daar bygevoeg of daarvan weggeneem mag word.110 Sover dit die voorbeeld van Manoa aangaan, sê ek dat dit buitengewoon en uitsonderlik was.111 Hy het in sy persoonlike hoedanigheid 'n offer vir God gebring, en dit met God se goedkeuring. Die rede daarvoor is dat hy dit nie vanweë die een of ander ondeurdagte emosie gedoen het nie, maar vanweë 'n hemelse ingewing. Maar Gideon, iemand wat nie slegter as Manoa was nie, dien as uitsonderlike bewys van hoeveel God die dinge verafsku wat sterflike mense uit hulleself uitdink om Hom te dien. Sy (Gideon se) skouerkleed het nie alleen sy eie val en die van sy gesin veroorsaak nie, maar ook die van die hele volk.112 Kortom: elke toevallige uitvinding waarmee die mense God wil dien, is niks anders as besmetting van die ware heiligheid nie.

26. 'n Verklaring van die rede waarom Christus die Jode beveel het om die laste wat die Skrifgeleerdes hulle opgelê het, te verdra.🔗

Hulle vra: "Waarom wou Christus dan hê dat mense die ondraaglike laste wat die skrifgeleerdes en Fariseërs op hulle gelê het, moes dra.113 Ja, waarom wou dieselfde Christus elders gehad het dat hulle teen die suurdeeg van die Fariseërs moes waak114 toe Hy volgens die verklaring van die evangelis Matteus alles van hulle eie leer wat hulle met die suiwerheid van die Woord van God vermeng het, suurdeeg genoem het?"115 Wat duideliker wil ons hê as dat ons beveel word om hulle hele leer te vermy en daarteen te waak? Hieruit word ons nog meer verseker dat die Here ook in die ander verwysing nie wou gehad het dat ons gewetens deur die Fariseërs se eie tradisies gekwel moet word nie. As sy woorde net nie verdraai word nie, lui hulle ook nie so nie. Want toe die Here daar van voorneme was om die sedes van die Fariseërs bitterlik aan te val, het Hy sy toehoorders vooraf eenvoudig geleer dat, hoewel hulle niks in die Fariseërs se lewe kon bemerk wat hulle kon volg nie, hulle nogtans nie moes weier om die dinge te doen wat die Fariseërs mondelings geleer het wanneer hulle op Moses se stoel gesit het, dit is, om die wet uit te lê nie. Christus se bedoeling was dus slegs om te voorkom dat die gewone mense as gevolg van die slegte voorbeeld van hulle leermeesters verlei sou word om die leer te verag.

Maar omdat sommige mense glad nie deur redenasies beïnvloed kan word nie, en hulle altyd na die gesag (van ander) soek, sal ek Augustinus se woorde aanhaal waarin presies dieselfde gesê word. "Die skaapkraai van die Here het gedeeltelik getroue kinders as leiers en gedeeltelik huurlinge. Die leiers wat sy getroue kinders is, is ware herders. Luister daarna dat ook huurlinge nogtans nodig is. Daar is inderdaad baie mense in die kerk wat aardse goedere najaag, maar Christus nogtans verkondig, en deur hulle hoor die mense Christus se stem. En die skape volg nie die huurling nie, maar die herders deur die huurling.116 Luister dan na die huurlinge wat deur die Here self vir julle aangewys is. Hy het gesê: 'Die skrifgeleerdes en die Fariseërs sit op Moses se stoel; doen wat hulle sê, maar moenie doen wat hulle doen nie'.117 Wat het Hy dan anders gesê as 'Luister na die stem van die herder deur die huurlinge? Want deur op die stoel te sit leer hulle die wet van God. So leer God dus deur hulle. Maar as hulle hulle eie leer wil verkondig, moet dan nie na hulle luister nie en moenie dit doen nie'".118 Tot sover Augustinus.

27. Wettige kerkinstellings.🔗

Wanneer die meeste onkundige mense verneem dat ons gewetens goddeloos gebind word deur menslike tradisies en dat God tevergeefs daarmee gedien word, trek hulle tegelyk 'n streep deur al die wette waardeur die kerklike orde in stand gehou word. Ons moet hulle dwaling ook hier paslik teengaan. Dit is in elk geval baie maklik om hier om die bos gelei te word want dit is nie dadelik met die eerste oogopslag duidelik hoe 'n groot verskil daar tussen menslike tradisies en kerkwette bestaan nie. Ek sal egter die hele saak in 'n paar woorde so duidelik maak dat die ooreenkoms niemand sal mislei nie.

Ten eerste moet ons weet dat as ons bemerk dat daar in elke gemeenskap van mense die een of ander burgerlike ordening noodsaaklik is om die algemene vrede te koester en eensgesindheid te handhaaf;119 as daar altyd die een of ander metode in die afhandeling van sake gevolg word wat nie verwerp kan word sonder om die openbare eerbaarheid en tegelyk die beskawing self aan te tas nie, (en dit is nie in belang van die openbare eerbaarheid en daarom ook van beskaafdheid dat dit verwerp word nie); moet ons besonderlik in ons kerke die instellings handhaaf wat sowel ten beste onderhou word as alles goed in die samestelling daarvan georden is, en wat inderdaad sonder eensgesindheid geen kerke hoegenaamd is nie. As ons daarom die welstand van die kerk in ag wil neem, moet ons met alle deeglikheid sorg dat alles daarin betaamlik en ordelik moet geskied soos Paulus ons beveel.120

Aangesien daar egter in mense se gewoontes sulke groot verskille voorkom, so 'n uiteenlopendheid in hulle gesindhede, en sulke groot botsings in hulle oordele en verstand, is geen burgerlike regering bestendig genoeg tensy dit op bepaalde wette gevestig is nie, en geen metode kan gehandhaaf word tensy dit op 'n vaste vorm berus nie. So ver is dit daarvan dat ons die wette sou verdoem wat hiertoe bydra dat ons verklaar dat as hulle uit die kerk weggeruim word, die senuwees daarvan vernietig en die kerk heeltemal mismaak en verstrooi word. En ook kan ons Paulus se eis dat alles betaamlik en ordelik moet geskied, nie nakom tensy die orde en betaamlikheid op sekere instellings wat ons moet byvoeg asof hulle bande is, berus nie. In sulke instellinge moet ons altyd slegs die voorwaarde stel dat ons nie moet glo dat dit vir ons saligheid noodsaaklik is en ons gewetens so deur bygelowige besorgdheid bind nie, of dat dit bydra tot die diens aan God en dat godsvrug so daarin gestel word nie.

28. Die ware toets van kerklike instellings is of dit bydra tot betaamtikheid en orde in die kerk.🔗

Ons het dus die beste en betroubaarste teken om tussen daardie goddelose instellings waardeur die ware godsdiens verduister en ons gewetens vernietig word, soos gesê is, en wettige instellings van die kerk te onderskei.121 Ons moet naamlik onthou dat dit altyd een of tegelyk beide die volgende twee doelstellings in die oog het, naamlik dat alles in die heilige vergadering van die gelowiges betaamlik en met gepaste waardigheid verrig moet word en dat die gemeenskap van mense as't ware deur bande van menslikheid en selfbeheersing in orde gehou moet word. Wanneer ons nou ten eenmale begryp dat 'n wet ingestel word ter wille van openbare eerbaarheid, is die bygelowigheid alreeds uit die weg geruim waarin diegene verval wat die diens aan God na aanleiding van menslike uitvindings meet. Wanneer ons aan die ander kant erken dat 'n wet op gemeenskaplike voordeel gerig is, is daardie valse opvatting van verpligting en noodsaaklikheid ook tot niet gemaak wat groot vrees by ons gewetens inboesem aangesien hulle meen dat hulle tradisies vir ons saligheid noodsaaklik is. Want die vraagstuk gaan hier slegs daaroor dat die liefde onder ons met onderlinge pligsbetoon gevoed moet word. Maar ons moet nog duideliker as tot dusver beskryfwat onder daardie betaamlikheid wat Paulus aanprys, en net so ook onder orde verstaan moet word.122

Die doel van betaamlikheid dan is gedeeltelik dat, wanneer metodes aangewend word om eerbied vir heilige handelinge te bekom, ons deur sulke middels tot godsvrug opgewek moet word; en gedeeltelik dat beskeidenheid en erns wat in alle eerbare handelinge waargeneem behoort te word, veral daar moet skitter.

Ten opsigte van orde is die eerste punt dit dat die wat regeer, kennis moet dra van die reël en wet om goed te regeer; en dat die gewone mense wat regeer word, gewoond gemaak moet word aan die gehoorsaamheid teenoor God en opregte dissipline. Ten tweede moet die vrede en rus in aanmerking geneem word nadat die toestand in die kerk goed georden is.

29. Skrifvoorbeelde van ware betaamlikheid en orde teenoor valse Roomse opvattings in verband daarmee.🔗

Ons sal iets waarin daar niks anders as ydel plesier is, dus nie betaamlikheid noem nie.123 'n Voorbeeld hiervan sien ons in die skouspelagtige uitrusting wat die pousdom in hulle godsdiens gebruik. Daarin kom niks anders as 'n masker van nuttelose prag en praal sonder vrug voor nie. Maar 'n seremonie sal vir ons betaamlik wees as dit so geskik sal wees vir die eerbied vir heilige verborgenhede dat dit kan dien as oefening vir ons godsvrug, of een wat ten minste bydra tot versiering wat ooreenstem met die handeling. En juis dit moet nie vrugteloos wees nie maar van so 'n aard dat dit gelowiges vermaan met hoeveel beskeidenheid, Godvresenheid en gehoorsaamheid hulle heilige dinge behoort te hanteer. Om oefeninge van godsvrug te wees, moet seremonies ons voorts lynreg na Christus lei.

Net so sal ons orde nie in so 'n onsinnige pronkery stel wat niks behalwe 'n glinstering het wat verdamp nie, maar in so 'n reëling wat alle verwarring, barbaarsheid, weerspannigheid, alle oproerigheid en tweedrag uit die weg kan ruim. Voorbeelde van die eerste groep (dit is betaamlikheid) kom voor by Paulus, naamlik dat onheilige fuifpartye nie met die heilige nagmaal van die Here verwar moet word nie;124dat vrouens nie in die openbaar moet verskyn sonder hoofbedekking nie.125 Ons kom ook baie ander in ons daaglikse gebruike teë, byvoorbeeld dat ons met geboë knieë en ontblote hoof bid; dat ons die Here se sakramente nie slordig nie maar met 'n sekere waardigheid bedien; dat ons 'n sekere eerbied aan die dag lê wanneer ons dooies begrawe, en ander wat dieselfde strekking het.126

Onder die tweede groep (dit is orde) is daar byvoorbeeld tye wat vir openbare gebede, preke en heilige handelinge bestem is; rustigheid en stilte tydens preke: die samesang van liedere; vasgestelde dae om die nagmaal van die Here te vier; dat Paulus vrouens verbied om in die kerk te leer;127 en dergelike reëlings as daar is. Daaronder val veral die instellings wat die dissipline handhaaf soos kategese, kerklike sensuur, uitbanning, vas en ander wat in dieselfde kategorie gestel kan word. So kan ons alle kerklike instellings128 wat ons as heilig en heilsaam aanvaar, in twee hoofgroepe verdeel: die een is gerig op ritusse en seremonies, en die ander op dissipline en vrede.

30. Daar is egter ook perke op die maak van kerklike instellings.🔗

Maar omdat die gevaar hier bestaan dat valse biskoppe uit die een groep 'n voorwendsel kan haal om hulle goddelose en tirannieke wette te verontskuldig, en dat sekere alte puntenerige mense wat oor die euwels hierbo gewaarsku is, weer uit die ander groep geen plek hoegenaamd laat vir heilige wette nie,129 moet ek hier getuig dat ek uiteindelik slegs daardie menslike instellings goedkeur wat sowel op God se gesag gegrond as aan die Skrif ontleen is en wat daarom Goddelik is. Kom ons neem byvoorbeeld die buig van ons knieë wanneer plegtige gebede gedoen word. Nou is die vraag of dit 'n menslike tradisie is wat enigeen kan weier of versuim. Ek sê dat dit net sowel 'n menslike tradisie is as wat dit tegelyk van God kom. Dit kom van God in soverre dit deel is van daardie betaamlikheid wat die apostel by ons aanprys dat ons daarvoor sorg moet dra en dit moet onderhou.130 Dit kom egter ook van mense af in soverre dit besonderlik aantoon wat die apostel oor die algemeen aangedui eerder as uitdruklik gestel het.

Uit hierdie enkele voorbeeld kan ons aflei wat ons gevoel oor die hele kategorie moet wees. Dit is naamlik dat die Here sowel die somtotaal van ware geregtigheid as alle aspekte van diens aan sy Goddelike mag, en alles wat vir ons saligheid nodig was, so getrou in sy heilige uitsprake saamgevat het en so duidelik uiteengesit het, dat ons hierin na die Meester alleen moet luister. Omdat dit egter nie sy wil was om in die uiterlike dissipline en seremonies uitdruklik voor te skryf wat ons moet volg nie, omdat Hy voorsien het dat dit van die tydsgewrig afhang en Hy geoordeel het dat een vorm daarvan nie by alle tye pas nie, behoort ons hier ons toevlug te neem tot daardie algemene reëls wat Hy ons gegee het sodat alles wat die nood van die kerk vereis met die oog op die orde en betaamlikheid voorgeskryf moet word, aan hierdie reëls getoets moet word.

Ten slotte, omdat Hy niks uitdruklik hieroor geleer het nie, en omdat dit nie vir ons saligheid noodsaaklik is nie, en dit ooreenkomstig die gewoontes van elke volk en tyd verskillend aangepas moet word, sal dit paslik wees om enersyds gebruiklike instellings te verander en te herroep en andersyds nuwes in te stel na gelang die voordeel van die kerk dit vereis.131 Ek erken weliswaar dat ons nie ondeurdag of onverwags en ook nie om oppervlakkige redes ons daartoe moet wend om dit te vernuwe nie. Maar die liefde sal die beste oordeel oor wat skadelik en wat stigtelik is en as ons toelaat dat liefde dit regeer, sal alles wel wees.

31. Christene moet instellings wat uit hierdie gesindheid tot stand kom, eerbiedig gehoorsaam.🔗

Nou is dit inderdaad Christene se plig om instellings wat ooreenkomstig hierdie reël ingestel is, wel met 'n vry gewete en sonder bygeloof, maar tog met 'n godvrugtige en inskiklike gesindheid tot gehoorsaamheid te onderhou, dit nie te verag en dit nie in onverskillige agtelosigheid verby te gaan nie. Verre sy dit daarvan dat hulle dit deur hooghartigheid en teenstribbeling openlik moet skend.

Nou sal jy vra: "Watter soort vryheid sal ons gewete in sa 'n groot gehoorsaamheid en versigtigheid hê?" Ja, dit sal inderdaad duidelik blyk wanneer ons daaroor nadink dat die bepalings waaraan ons verbind is, nie onwrikbaar en ewig is nie maar dat dit uiterlike beginsels vir die mens se swakheid is en hoewel ons nie aan almal 'n behoefte het nie, pas ons tog almal toe omdat ons wedersyds die een teenoor die ander verplig is om die liefde onderling te koester. Ons kan dit raaksien in die voorbeelde wat ek vroeër aangehaal het.132 Hoe dan nou? Is daar dan eerbied in 'n vrou se kopdoek sodat dit haar nie geoorloof is om kaalkop uit tegaan nie? Is die beslissing dat sy (in die gemeente) moet stilbly so heilig dat dit nie sonder die grootste sonde verbreek kan word nie? Of is daar in die buig van jou knieë en in die begrawe van 'n lyk die een of ander geheimenis wat nie agterweë gelaat kan word sonder om te sondig nie? Nee, glad nie! Want as 'n vrou haar met soveel spoed moet haas om haar naaste te help dat dit haar nie toelaat om haar kop te bedek nie, begin sy geen sonde as sy kaalkop aangehardloop kom nie. Daar is ook 'n tyd wanneer dit vir haar net so gepas is om te praat as om elders stil te bly. Niks verbied iemand om te staan en bid as hy deur siekte verhinder is om sy knieë te buig nie. Verder is dit beter om 'n dooie betyds te begrawe wanneer 'n doodskleed ontbreek en die mense wat hom sou begelei, nie daar is nie, as om te wag en hom nie te begrawe nie totdat hy begin verrot.

Maar daar is nietemin in die geval van die bogenoemde dinge die gewoonte van 'n gebied, sy bepalings en ook sy beskawing en reëls van beskeidenheid wat ons sal voorsê wat om te doen en wat om te ontwyk. Wanneer iemand uit onverstandigheid of vergeetagtigheid die een of ander fout hierin begaan, pleeg hy nog geen sonde nie; maar as hy dit uit minagting doen, moet sy weerspannigheid afgekeur word. Net so is dit van geen belang watter dae daar geld, en watter tye, watter strukture daar is en watter psalms op watter dag gesing word nie. Daar moet in elk geval sekere dae wees asook vasgestelde ure, en 'n plek wat geskik is om almal te huisves as mense enigsins besorg is om die vrede te bewaar.

Verwarring oor hierdie dinge sou immers die saad tot sulke groot rusies word as dit elkeen vry sou staan om na willekeur veranderings aan te bring in dit wat die algemene toestand aangaan. Want as sulke sake as't ware in hulle midde gelaat en aan elkeen se willekeur oorgelaat word, sal dit nooit gebeur dat dieselfde reëling almal aanstaan nie. Maar as iemand mor en wyser wil wees as wat hom betaam, moet hy maar self sien hoe hy sy eiesinnigheid vir die Here aanneemlik sal maak. Die verklaring van Paulus behoort ons nogtans tevrede te stel, naamlik dat ons nie die gewoonte het om twisgierig te wees nie en ook nie die kerke van God nie.133

32. Dwaling, bygeloof en dwang moet nietemin uit kerklike instellings geweer word.🔗

Verder moet ons ons met die grootste noulettendheid daarop toelê dat geen dwaling mag insluip wat hierdie suiwer gebruik kan besmet of kan verduister nie. En dit sal ons wel bereik as elke instelling duidelike voordeel inhou en as hulle met die grootste spaarsaamheid toegelaat word, en veral as die leer van 'n getroue herder daarby kom om die weg na verkeerde opvattings af te sny. Hierdie kennis veroorsaak egter dat elkeen sy vryheid in al hierdie sake sal behou, en dat elkeen nietemin vanself 'n sekere dwang op sy vryheid sal lê in soverre daardie betaamlikheid134 waarvan ons gepraat het, of oorwegings van die liefde dit vereis.135 Verder veroorsaak dit dat ons ons in die onderhouding van hierdie dinge met geen bygelowigheid moet besig hou nie: nie te stroef van ander moet vereis dat hulle dit moet onderhou nie, nie moet reken dat diens aan God beter is deur 'n menigte seremonies nie, en dat die een kerk nie 'n ander kerk moet verag vanweë die verskil in uiterlike dissipline nie.

Ten laaste, dat ons nie vir ons hierin 'n ewige wet moet vasstel nie maar die nut en doel van hierdie instellings ten volle op die stigting van die kerk moet rig. En as die kerk dit vereis, moet ons nie alleen verdra dat 'n verandering in die instellings aangebring word nie, maar ook dat iets van die instellings wat tevore onder ons in gebruik was, sonder enige aanstoot tot niet gemaak word. Die huidige tyd dien as duidelike bewys daarvoor dat oorweging van die tydsgewrig veroorsaak dat sekere ritusse wat andersins nie goddeloos of onbetaamlik is nie, soos dit onder omstandighede gepas is, afgeskaf moet word. Die blindheid en onkunde van voorgaande tye was egter baie groot en kerke was tevore met so 'n bedorwe opvatting en so 'n hardnekkige ywer aan seremonies verknog dat hulle amper nie voldoende van hierdie skrikwekkende bygelowe gesuiwer kan word sonder dat met baie seremonies weggedoen moet word wat miskien eertyds om 'n goeie rede ingestel en nie op sigself merkbaar goddeloos is nie.

Endnotes🔗

  1. ^ Vgl. Inst. 4.8.1 asook NGB art. 30.
  2. ^ Marg. Mat. 23.a.4. Vgl. ook Luk. 11:46 en OC 45:623.
  3. ^ Vgl. Inst. 3.4.17 e.v. (Afr. ven. 3:826 - 827).
  4. ^ Vir tradisie in die Roomse kerk vgl. Pighius, Controu. 12, p. 175 e.v.; Bellarminus, De centrov. 1.1.4, p. 159 e.v.
  5. ^ Vgl. o.a. Clichtoveus, Antiiutberus (1525) 1.10 fo. 22.a; Compendium veritatum 6. Kyk ook Inst. 4.9.14.
  6. ^ Vgl. Inst. 3.19.7 . 9 (Afr. vert. 3:1064 e.v.).
  7. ^ Fr, 1560: Ces lëgislateurs (Benoit 4:186).
  8. ^ Vgl. Matt. 11:30 (OC 45:321 ,322); Clichtoveus, Antilutherus (1525) 1.15 fo. 31ab.
  9. ^ Marg. 1. Cor. 7f35. Vgl. OC 49:423 . 424.
  10. ^ Vgl. Eck, Ench. 13 E7a e.v.
  11. ^ Fr. 1560: entre le siège iudicial de Dieu, qui est spirituel, et la iustice terrestre des hommes (Benoit 4:187). Thomas van Aquino gebruik die uitdrukking regbank van die geuiete baie dikwels, o.a. in sy Summa Theol. 2,2.89.7.3; 3.22.1.2 (Marietti 3:465, n. 15; Suppl. 715, 716). Vg!. ook Inst. 3.19.15 (Afr.vert. 3:1074 - 1075). Vir Calvyn se bespreking van geuiete kyk Inst. 3.19.1,4,14 - 16; 4.10.4 - 5 (Afr. vert. 3:1059 e.v.; 1062 - 1063; 1073 e.v.).
  12. ^ Marg. Rom. 13.a.1. Vgl. ook die daaropvolgende verse, OC 49:248 e.v. asook De Castro, Adv. haer. 5 fo. 99F.
  13. ^ Die Latynse teks het proximo capite - die-volgende hoofstuk. Dit is onveranderd van die 1543 1555 - uitgawes oorgeneem waar die hoofstuk oor Christelike vryheid die hoofstuk oor menslike tradisies voorafgegaan het. Vir die geestelike regering. vgl. Inst. 3.19 (Afr, vert. 3:1059 e.v.).
  14. ^ Marg. Rom. 2.c.15. Vgl. ook die daaropvolgende verse en OC 49:38 ·39.
  15. ^ Vgl. Quintilianus, Inst. orat. 5.11.41 (LCL2:294). Kyk ook Inst. 3.19.15 (Afr. vert. 3:1074 e.v.).
  16. ^ Dit is die vertaling van die Grieks van beide die OAV en die NAV. Die Fr. 1560 het egter met la response de bonne conscience (Benoit 4:188). In sy kommentaar oor 1 Pet. 3:21 waar die woord voorkom, vertaal Calvyn dit met examen en hy verduideIik dit aan die hand van die woord interrogatio: 'ondervraging, of ondersoek' moet hier verstaan word in die sin van antwoord of getuienis (OC 55:269).
  17. ^ Marg. 1. Pet. 3.d.21.
  18. ^ Marg. Hebr. 10.a.2. Vgl. OC 55:121
  19. ^ Marg. 1. Tim. l.a.5. Vgl. OC 52:253 . 254.
  20. ^ Vgl. 1. Tim. 1:19 (OC 52:263 . 264).
  21. ^ Marg. Act 24. d.16. Vgl. OC 48:523 . 524.
  22. ^ Vgl. die inleidende sin van hierdie afdeling.
  23. ^ Vgl. Calvyn se bespreking van die sewende gebod Inst. 2.8.41 e.v. (Afr. ven. 2:542 e.v.).
  24. ^ Vgl. Inst. 2.2.5; 3.19.7 (Afr. ven. 2:374 e.v., n. 35; 3:1064 e.v.).
  25. ^ Marg. 1. Cor. 10.f28. Vgl. ook 1 Kor. 10.29 en OC 49:469 . 470.
  26. ^ Calvyn verwys na Rom. 13:1 wat hy in die begin van afdeling 3 hierbo aangeroer het.
  27. ^ Vgl. Rom. 13:5
  28. ^ Marg. Rom. 13.a.1.
  29. ^ Vgl. afdeling 8 hieronder.
  30. ^ Vgl. Inst. 2.7.5,2.8.5 (Mr. vert. 2:481 e.v.; 503 e.v.).
  31. ^ Vgl. Inst. 4.8.1.
  32. ^ Vgl. Eck, Ench. 13, E7a e.v.
  33. ^ Vgl. Inst. 4.5.5 . 11.
  34. ^ Vgl. Inst. 2.7.1 e.v., 4.9.14 (Afr. vert. 2:476 e.v.).
  35. ^ Marg. Iacob. 4.c.12. Kyk ook vers 11 en OC 55:420.
  36. ^ Marg. Iesa. 33.d.22. Vgl. OC 36:576.
  37. ^ Ibidem.
  38. ^ Marg. 1. Pet. 5.a.2. Vgl. ook vers 3 en OC 55:285 - 286.
  39. ^ Vgl. afdeling 6 hierbo asook Cliehtoveus, Antilutberus (1525) 1.13; 1.29 fo. 21b - 22b; 60b - 62b; Eck, Ench. (1535) 12 fo. 406 e.v.
  40. ^ Marg. Coloss. 2.b.8. Vgl. OC 52:102 - 104.
  41. ^ Vgl. Gal. 5:1 - 12 (OC 50:243 - 250; 655 . 696).
  42. ^ Vgl. Kol. 1:28.
  43. ^ Vgl. Kol. 2:3.
  44. ^ Vgl. Kol. 2:8.
  45. ^ Vgl. Kol 2:16 . 23.
  46. ^ Marg. Galat. 5.a.1. Vgl. ook vers 2 - 12.
  47. ^ Vgl. Cliehtoveus, Antitutberus 1.29 fo, 53b e.v., Eck, Ench. 13 fo, E7a e.v.
  48. ^ Marg. Coloss. 2.d.20.
  49. ^ Marg. Galat. 5.a.1.
  50. ^ Vgl. Matt. 15:3 en OC 45:448 . 449.
  51. ^ Kyk Jak. 5:12 (OC 55:429 . 430).
  52. ^ Marg. Matth. 15.a.3.
  53. ^ Dieselfde strawwe word ook in die Voorwoord aan Koning Frans vermeld; vgl. Afr. vert. 1:89 e.v.
  54. ^ Marg. Galat. 4.b.9. Vgl. OC 50:229 - 230.
  55. ^ Vgl. Inst. 2.8.33 e.v.; 4.19.26 (Afr. vert. 2:534 e.v.).
  56. ^ Marg. Colos. 2.d23.
  57. ^ Vgl. Kol. 2:22.
  58. ^ Marg. Ad Ianuar. epist. 119. Augustinus, Ep. 55.19.35 (MPL 33:321; 290 e.v., CSEL 34,2:209 e.v.
  59. ^ Marg. colos. 2.d.20. Vg1. ook vers 21.
  60. ^ Vgl. Inst. 4.12.22 - 27.
  61. ^ Marg. Epist. 118. ad Ianuar.Augustinus, Ep. 54.1.1 (MPL 33:200; CSEL 34,2:159 e.v.).
  62. ^ Marg. Galat. 4.a.l. Vgl. ook verse 2 - 3 en OC 50:223 - 226.
  63. ^ Marg. Iohan. 4.c.23. Vgl. OC 47:88 . 90.
  64. ^ Vgl. Inst. 1.9.3; 4.14.20 (Afr. vert. 1:178 e.v.).
  65. ^ Marg. Iere. 7.e.22 Kykook vers 23 en OC 37:691e.v.
  66. ^ Marg. Iesa. 55.a.2. Vgl. oe 37:283e.v.
  67. ^ Marg. Matth. 15.a.9. Vgl. OC 45:450 e.v.
  68. ^ Marg. Iesa. 29.a.13. Vgl. OC 36:493 . 494.
  69. ^ Vgl. Calvyn se kommentaar oor Hand. 8:21 (OC 48:185· 186) asook sy De necessitate reform eccl., passim (OC 6:453 . 530).
  70. ^ Vgl. Inst. 4.10.1
  71. ^ Vgl. Eck, Ench. 13, fo. E7a.
  72. ^ Marg. Act. 15.d.20 &f.29 (Hand. 15:20, 29). Vgl. oe 48:358 . 359; 362 - 364) asook Clichtoveus, Antilutberus (1525) 1.10, fa. 22b; Cochlaeus, De autb. eccl. 1.3, B3b; Eck, Encb. 3, A8b.
  73. ^ Inst. 4.2.4.
  74. ^ Marg. Deut. 12.d.32.
  75. ^ Marg. Prov. 30.b.6 (Spr. 30:6).
  76. ^ Marg. Iere. 7. e.22. Vgl. ook vers 23.
  77. ^ Marg. Idem 11.a. 7 (Jer. 11:7). Vgl. OC 38:104 e.v.
  78. ^ Marg. 1. Sam. 15.c.22. Vgl. ook vers 23 en OC 30:117 e.v.
  79. ^ Vgl. Eck, Ench. 13, fo. E7a.
  80. ^ Vgl. Inst. 4.1.3 . 6 asook Calvyn se antwoordaan Sadoletus(OC 5:412).
  81. ^ Vgl. Clichtoveus, Antilutberus 1.4, fo. 9B.
  82. ^ Vgl. Joh. 16:12 - 13; Cliehtoveus, Antilutberus 1.6, fo. 5; 1.10, fo. 9; 12.
  83. ^ Vgl. Inst. 4.8.8, 13, 14.
  84. ^ Hierdie uitdrukking het waarskynlik syontstaan aan 'n vertaling van Plato, Leges 3.689 (LCL 1:210)te danke en kom ook voor by William, monnik van Malmesbury, Gesta rerum Anglorum 3.245 (MPL 179:1228 . 1230).
  85. ^ Marg. Epist. 118. Augustinus, Ep. 54.1.1 (MPL 33:200; CSEL 34,2:159 e.v.).
  86. ^ Volgens Platyna, De vita Christi ac omnium pontif.3.1,fo. 21,was dit Alexander1(109· 116).Vgl. die Decr. Grat. 3.3.20 (MPL 187:1739; Friedberg 1:1358).
  87. ^ Marg. Epist. 118 ad Ianuar. Augustinus, Ep. ad Ianuarlum 55.18.33 (MPL 33:320; CSEL 34,2:207 e.v.).
  88. ^ Marg. Act. 15.d.20 (Hand. 15:20).
  89. ^ Vgl. Inst.4.10.17.
  90. ^ Vgl. Hand. 15:10 (OC 48:347 . 351).
  91. ^ Vgl. Hand. 15:19,24. 28.
  92. ^ Vgl. Hand. 15:20, 29.
  93. ^ Vgl. n. 24 hierbo.
  94. ^ Marg. 1. Cor. 8.a.l. Kyk ook verse 4, 7, en 9. Vgl. OC 49:428 . 429.
  95. ^ Vgl. 1 Kor. 7:23.
  96. ^ Marg. Iesa. 29.d.13. Kyk ook vers 14.
  97. ^ Marg. Matth. 15.a.9.
  98. ^ Marg.2. Re. 17.d.24.f.32. Kyk ook 2 Kon. 17:25,33,41.
  99. ^ Marg.2. Reg. 22.a.l, &alibi. Vgl. ook 2. Kon. 22:2; 1 Kon. 15:11; 22:43; 2 Kon. 12:2; 14:3; 15:3; 15:34; 18:3.
  100. ^ Marg.2. Re. 16.b.10 (2 Kon. 16:10)
  101. ^ Vgl. 2 Kon. 16:10 . 18 en Inst. 1.5.13 (Afr. vert. 1:145 . 147).
  102. ^ Marg. 2. Reg. 21.a.3. Kyk ook vers 4.
  103. ^ Kyk Jes. 29:13 - 14.
  104. ^ Vgl. Matt. 15:9.
  105. ^ Marg. Colos. 2.a.4. Kyk ook die daaropvolgende verse en vgl. oe 52:100 . 101.
  106. ^ 9€A09pYPIC€f.av.
  107. ^ VgI. Kol. 2:22 - 23.
  108. ^ Vgl. Rom. 1:25.
  109. ^ Marg. 1. Sam. 7.d.l7.
  110. ^ Vgl. Deut. 4:2.
  111. ^ Marg. Iudic. 13.d.19 (Rigters 13:19).
  112. ^ Marg.Iudic. 8.f.27 (Rigters. 8:27).
  113. ^ Vgl. Clichtoveus, Antilutberus 1.11, fo. 22b.
  114. ^ Marg. Matth. 23.a.3, & 16.a.6. Vgl. OC 45:472 e.v.
  115. ^ Vgl. Matt. 16:12 (OC 45:469).
  116. ^ Vgl. Joh. 10:11 - 13.
  117. ^ Vgl. Matt. 23:2 - 3.
  118. ^ Marg. Aug. in Ioban. tract. 46. Augustinus, In Iob. tract. 46.5,6 (MPL 35:1730).
  119. ^ Vgl. Inst. 4.20.2.
  120. ^ Marg. 1. Co. 14.g.40 (1 Kor. 14:40). Vgl. OC 49:535 - 536.
  121. ^ Vgl. Inst. 4.20.2.
  122. ^ Vgl. 1 Kor. 14:40.
  123. ^ In die res van hierdie afdeling behandel ealvyn die eenvoud en waardigheid wat in 'n erediens behoort te geld.
  124. ^ Marg. 1. Cor. 11.d.21. Vgl. ook verse 20 en 22 en OC 49:482- 483.
  125. ^ Marg. 1 Cor. 11.a.5.
  126. ^ Vgl. Inst. 3.20.16 (Afr.vert. 3:1102 e.v.) asook Calvyn se preek oor Jakob en Esau OC 59:140 e.v.
  127. ^ Marg. 1. Cor. 14.8.34. Vgl. OC 49:532 - 533.
  128. ^ VgI. Inst. 4.10.8.
  129. ^ VgI. Inst. 4.10.27.
  130. ^ Marg. 1. Cor. 14.g. 40.
  131. ^ Dit is opmerklik dat ealvyn reeds in die voorwoord tot sy Kategismus van 1538 die paslikheid van verandering in kerklike instellings na gelang omstandighede dit vereis, bepleit het. Hy sê. 'Dit sou trouens uiters onwaardig wees dat ons in die dinge waarin God ons die vryheid gelaat het sodat ons 'n groter geleentheid ter stigting kan hë, 'n slaafse eenvormigheid met die stigtlng van die verlede moet soek' - OC5:322.
  132. ^ Vgl. Inst. 4.10.29 hierbo.
  133. ^ Marg. 1. Cor. 11.c.16.
  134. ^ Vgl. afdelings 23 en 29 hierbo.
  135. ^ Die stigting; opbou van die kerk is een van die belangrikste boustene van Calvynse kerkbegrip. Die individu se vryheid in die kerk word slegs deur gewoonte, die liefde en betaamlikheid bepaal.