Die doop is die sakrament waardeur ons in die volk van God opgeneem word. Die water beeld die afwassing van sondes uit en simboliseer die afsterwe van die ou mens en ‘n nuwe lewe in Christus. Christus het die opdrag om te doop aan ampsdraers gegee. Die handeling kom dus as’t ware uit die hand van God uit en herdoop of evaluasie na aanleiding van diegene wat dit bedien het, is dus nie van pas nie.

Diegene wat gedoop is doen nog sonde, maar die sonde heers nie oor hom nie.

1984. 23 bladsye.

Institusie van die Christelike Godsdiens (1559) - Boek 4 Hoofstuk 15 Die Doop

1. 'n Beskrywing van die doop en die belangrikste doelstelling daarvan.🔗

Die doop is 'n teken van inwyding1 waardeur ons in die gemeenskap van die kerk opgeneem word om as mense wat in Christus ingelyf is, onder God se kinders gereken te word. En dit is met hierdie doel deur God aan ons gegee - en dit is iets wat soos ek geleer het, aan al die sakramente gemeenskaplik is -, in die eerste plek, om ons geloof voor Hom, en ten tweede, om ons belydenis voor die mense te dien.2 Ons sal die rede vir beide hierdie aspekte in volgorde ondersoek.

Die doop bring drie voordele vir ons geloof te weeg en ons moet dit ook deel vir deel behandel. Die eerste daarvan is dat die doop deur die Here aan ons voorgehou word as 'n simbool en bewys van ons reinigmaking, of, om my bedoeling beter uit te druk: soos 'n beseëlde dokument waardeur Hy vir ons bekragtig dat al ons sondes so uitgewis, so geskrap en so vergeet is dat hulle nooit voor sy aangesig sal kom nie, dat hulle nooit weer in herinnering geroep sal word nie en dat hulle ons nooit weer toegereken sal word nie. Want dit is sy bedoeling dat almal wat glo, gedoop moet word tot vergiffenis van sondes.3 Diegene wat derhalwe die opvatting huldig dat die doop niks anders is as 'n teken en merk waarmee ons ons godsdiens voor die mense bely soos soldate die vaandels van hulle generaal voor hulle uitdra as 'n teken van hulle diens (aan hom) nie,4 het geen oorweging geskenk aan dit wat die belangrikste in die doop is nie. Dit is naamlik dat ons dit met hierdie belofte moet aanneem: Dat almal wat glo en gedoop word, salig sal word.5

2. Die doop en sondevergiffenis.🔗

In hierdie betekenis moet ons ook verstaan wat Paulus skryf, naamlik dat die kerk deur Christus as bruidegom geheilig is en in die afwassing met water tot die Woord van die lewe gereinig is.6 En elders: dat ons kragtens sy barmhartigheid deur die afwassing van die wedergeboorte en die hernuwing van die Heilige Gees salig gemaak is.7 En ook wat Petrus skryf, naamlik dat die doop ons salig maak.8 Hy wou immers nie daarmee te kenne gee dat ons afwassing en saligheid deur water voltrek word nie, of dat water op sigself die krag om te reinig, te wederbaar en te hernu het nie, en ook nie dat dit die oorsaak van ons saligheid is nie, maar slegs dat die kennis en die sekerheid van sulke genadegawes in hierdie sakrament ontvang word. Dit word trouens deur sy woorde duidelik genoeg verklaar. Want Paulus verbind die woord van die lewe met die doop met water. Dit is asof hy sê dat die boodskap van ons afwassing en ons heiligmaking deur die evangelie aan ons gebring word, en dat die boodskap hiervan deur die doop beseël word. En Petrus voeg onmiddellik hierna by dat die doop nie die aflegging van die vuilheid van die vlees is nie, maar 'n goeie gewete voor God wat uit die geloof ontstaan.9 Ja, die doop beloof ons geen ander reinigmaking as deur die besprinkeling met die bloed van Christus nie, en dit word deur water uitgebeeld omdat dit daarmee in reinigmaking en afwassing ooreenstem.

Wie sou dan kon sê dat die water van die doop ons reinig terwyl dit beslis getuig dat Christus se bloed ons ware en enigste afwassing is? Ons kan egter nêrens 'n beslister bewys kry om die dwaling van diegene te weerlê wat alles aan die krag van die water toeskryf10 as uit die betekenis juis van die doop self nie. Dit trek ons van sowel die sigbare element wat voor ons oë kom, as van alle ander middels af weg om ons aandag op Christus alleen te vestig.

3. Die doop sien nie slegs op sondes van die verlede nie, maar op alle sondes.🔗

Maar ons moet nie reken dat die doop aan ons gegee word slegs met die oog op die verlede nie, sodat ons vir nuwe sondes waarin ons na die doop verval, ander nuwe hulpmiddels11 ter versoening moet soek in wie weet watter ander sakramente12 nie - net asof die krag van die doop verouder is! As gevolg van hierdie dwaling het dit weliswaar eertyds gebeur dat party mense slegs in die uiterste lewensgevaar en sodoende met hulle laaste asem deur die doop in die kerk ingewy wou word om so vergiffenis van die sondes van hulle hele lewe te verkry. Die biskoppe van ouds vaar so dikwels in hulle geskrifte teen hierdie verkeerde voorsorgmaatreël uit.13

Ons moet egter so daaroor dink: dat op watter tydstip ons ook al gedoop word, ons net eenmaal vir ons hele lewe afgewas en gereinig word. So dikwels as wat ons dus in sonde verval, moet ons die doop in herinnering roep en ons gemoed hiermee bewapen om altyd vas en seker te wees van ons sondevergiffenis.14 Want al sou dit net een keer aan ons bedien wees, en skynbaar verbygegaan het, is dit nogtans nie deur daaropvolgende sondes tot niet gemaak nie. Want die reinheid van Christus is in die doop aan ons gegee, en dit is altyd van krag en word deur geen vlekke onderdruk nie maar dit bedek en was al ons vuilheid af.

Maar ons moet ons nogtans nie na aanleiding hiervan die vryheid veroorloof om in die toekoms te sondig nie - ons word immers beslis nie hierdeur so 'n vermetelheid geleer nie -, maar hierdie leer word slegs aan diegene geleer wat, wanneer hulle gesondig het, onder hulle sondes vermoei en belas is en daaroor sug sodat hulle iets het om hulle op te rig en te vertroos om te voorkom dat hulle weer in verwarring en wanhoop verval. Paulus sê byvoorbeeld dat Christus vir ons Versoener geword het tot vergiffenis van die sondes wat ons tevore gedoen het.15 Hiermee ontken hy nie dat ons altyd voortdurende vergiffenis tot ons dood toe in Hom verkry nie, maar hy gee te kenne dat Hy deur die Vader slegs aan jammerlike sondaars gegee is wat deur die brandyster van hulle gewete gewond is en na Hom as Geneesheer smag. Aan hulle word God se barmhartigheid aangebied. Diegene wat uit hulle sondevergiffenis stof en die vryheid put om te sondig, verwek niks anders as God se toorn en oordeel oor hulleself nie.

4. 'n Weerlegging van die opvatting dat die doop vir voorafgaande, en berou vir daaropvolgende sondes vergiffenis verkry.🔗

Ek weet weliswaar dat mense oor die algemeen aanvaar dat ons na die doop deur die weldaad van berou en van die sleutelmag sondevergiffenis verkry wat in die eerste wedergeboorte slegs deur die doop aan ons verleen word.16 Maar diegene wat hierdie verdigsel uitdink, dwaal daarin dat hulle nie daaroor nadink dat die sleutelmag waarvan hulle praat, so van die doop afhanklik is dat dit nie daarvan geskei behoort te word nie.

"'n Sondaar ontvang sondevergiffenis deur die bediening van die kerk, en dit naamlik nie sonder die verkondiging van die evangelie nie". Maar hoedanig is dit? "Dat ons deur die bloed van Christus van ons sondes gereinig word". Maar wat is die teken en getuienis van hierdie afwassing anders as die doop? Ons sien dus dat hierdie vergewing op die doop sien.

En hierdie dwaling het vir ons die sakrament van boetedoening wat 'n verdigsel is, voortgebring. Ek het wel tevore hieroor gepraat17 maar ek sal die res daarvan op die regte plek behandel.18 Dit is egter geen wonder as mense wat na die grofheid van hulle verstand onbeheersd geheg is aan uiterlike dinge, ook oor hierdie onderwerp hierdie gebrek geopenbaar het sodat hulle, nie met die suiwer instelling van God tevrede nie, nuwe hulpmiddels wat deur hulleself uitgedink is, ingevoer het. Net asof die doop nie self 'n sakrament van berou was nie! En as berou ons hele lewe aan ons opgedra word, hoort die krag van die doop tot dieselfde perke uitgebrei te word. Daarom bestaan daar geen twyfel daaroor dat alle godvrugtiges hulle hele lewe lank moet waag om hulle doop in herinnering te roep so dikwels hulle gewete hulle van hulle gebreke aankla om hulleself so te versterk in die vertroue op die enigste en ewige afwassing wat ons in Christus se bloed het nie.

5. Ten tweede toon die doop aan ons ons afsterwe en die nuwe lewe in Christus.🔗

Die doop lewer egter ook 'n tweede vrug op omdat dit ons afsterwe in Christus en 'n nuwe lewe in Hom aan ons toon. Want ons is, soos die  apostel sê, in sy dood gedoop en met Hom in die dood begrawe sodat  ons in 'n nuwe lewe kan wandel.19 Met hierdie woorde spoor hy ons nie alleen aan om Christus na te boots nie. Dit is trouens asof hy sê dat ons deur die doop vermaan word om volgens die voorbeeld van die dood van Christus ons begeertes af te sterf, en om na die voorbeeld van sy wederopstanding tot geregtigheid opgewek te word. En nie alleen dit nie, maar hy bring 'n aspek wat veel dieper is, te berde, naamlik dat Christus ons deur die doop sy dood deelagtig gemaak het sodat ons daarop ingelyf kan word.20 En soos 'n steggie sy bestaan en voeding kry uit die wortel waarop dit ingeënt is, so ervaar diegene wat die doop met so 'n geloof aanvaar as waarmee hulle hoort, waarlik die werking van Christus se dood in die afsterwe van hulle vlees; en tegelyk ook die krag van sy opstanding in die lewendmaking van die Gees.21 Hieruit put hy stof vir die vermaning dat ons, as ons Christene is, dood moet wees vir die sonde en lewendig vir geregtigheid.22

Hy gebruik dieselfde redenasie ook elders wanneer hy sê dat ons besny is en die ou mens afgelê het nadat ons deur die doop in Christus begrawe is.23 En in hierdie betekenis het hy in die verwysing wat ek  voorheen aangehaal het, die doop die bad van die wedergeboorte en die vernuwing genoem.24 Gevolglik word ons in die doop ten eerste genadige sondevergiffenis en die toerekening van geregtigheid beloof,  en ten tweede, die genade van die Heilige Gees wat ons tot 'n nuwe lewe hervorm.

6. Die derde voordeel wat die doop vir ons inhou.🔗

Ten slotte haal ons geloof ook hierdie voordeel uit die doop dat dit vir ons vir seker getuig dat ons nie alleen in die dood en die lewe van Christus ingelyf is nie, maar dat ons so met Christus verenig is dat ons al sy seëninge deelagtig is. Hy het die doop trouens in sy eie liggaam gewy en geheilig25 om dit gemeenskaplik met ons te besit as 'n uiters vasteband van eenheid en gemeenskap wat Hy waardig geag het om met ons aan te gaan - só dat Paulus daaruit bewys dat ons kinders van God is omdat ons ons in die doop met Christus beklee het.26 So sien ons dat die doop se vervulling in Christus is, en om hierdie rede noem ons Hom die eintlike voorwerp van die doop.

Dit is daarom nie snaaks as vertel word dat die apostels in sy Naam gedoop het27 terwyl hulle nogtans gelas is om ook in die Naam van die Vader en die Heilige Gees te doop nie.28 Al die gawes van God wat in die doop aan ons voorgehou word, kan trouens in Christus alleen aangetref  word. Tog is dit onmoontlik dat iemand wat in Christus doop, nie tegelyk die Naam van die Vader en die Gees aanroep nie. Want ons word deur sy bloed gereinig omdat dit na sy onvergelyklike goedertierenheid die barmhartige Vader se wil was om ons in genade aan te neem, en Hom as Middelaar in ons midde te stel om ons in guns met Hom te versoen. Maar ons verkry die wedergeboorte eers dan deur sy dood en opstanding as ons deur die Gees geheilig is en met 'n nuwe en geestelike natuur deurdring is. En daarom verkry ons - en ons sien dit enigsins onderskei van mekaar -, die oorsaak van sowel ons reiniging as van ons wedergeboorte in die Vader, die stof daarvan in die Seun, en die krag daarvan in die Gees. So het Johannes eerste, en daarna ook die apostels gedoop in die doop van berou tot vergiffenis van sondes.29 Onder die woord berou verstaan hulle so 'n wedergeboorte, en onder sondevergiffenis so 'n afwassing.

7. Johannes het dieselfde doop bedien as die apostels.🔗

Hieruit is dit baie beslis seker dat Johannes se bediening van die doop presies dieselfde was as dié doop wat later aan die apostels opgedra is. Want verskillende hande waardeur die doop bedien word maak dit nie 'n ander doop nie maar dieselfde leer bewys dat dit dieselfde doop is.30 Johannes en die apostels was eendragtig in een leer; hulle het beide gedoop tot berou, beide tot vergiffenis van sondes, en beide in Christus se Naam uit wie berou en sondevergiffenis ontstaan het. Johannes het gesê dat Christus die Lam van God was deur wie die sondes van die wêreld weggeneem sou word.31 Daar hou hy Christus voor as 'n offer wat die Vader welgevallig is, die Versoener van geregtigheid, die Skepper van ons saligheid. Wat kon die apostels dan by hierdie belydenis byvoeg? Daarom moet dit niemand ontstel dat hulle aanvoer dat die skrywers van ouds die een van die ander onderskei nie. Hulle opvatting behoort nie vir ons 'n probleem van soveel belang te wees dat dit die sekerheid van die Skrif sou skud nie. Wie sou trouens eerder aan Chrysostomos gehoor gee wanneer hy verklaar dat sondevergiffenis nie in Johannes se doop ingesluit was nie,32 terwyl Lukas daarenteen verklaar dat Johannes die doop van berou tot vergiffenis van sondes verkondig het?33

Ook moet ons Augustinus se spitsvondighede nie aanvaar wanneer hy sê dat die sondes in Johannes se doop uit verwagting vergewe is, maar dat dit in die doop van Christus in werklikheid vergewe word nie.34 Aangesien die evangelieskrywer trouens duidelik getuig dat Johannes in sy doop sondevergiffenis beloof het, waarom moet ons aan hierdie lof afbreuk doen terwyl ons onder geen dwang is om dit te doen nie? As iemand egter 'n verskil (tussen hierdie twee) uit die Woord van God soek, sal hy daarin niks anders vind nie as dat Johannes gedoop het in Hom wat nog sou kom, maar die apostels in Hom wat Homself reeds geopenbaar het.35

8. 'n Weerlegging van die beswaar dat daar wel 'n verskil tussen die doop van Johannes en dié van die apostels was.🔗

Die feit dat daar na die opstanding van Christus voortrefliker gawes van die Gees uitgestort is, dra niks daartoe by om 'n verskil in hierdie doop te bepaal nie. Want die doop wat die apostels bedien het terwyl Christus nog in die wêreld opgetree het, is Christus se doop genoem, en dit het nogtans nie oorvloediger rykdom van die Gees gehad as die doop van Johannes nie. Ja, selfs nie eens na Christus se hemelvaart word aan die Samaritane meer van die Gees as die gewone maat van vorige gelowiges geskenk nie hoewel hulle in Jesus se Naam gedoop is totdat Petrus en Johannes na hulle gestuur is om hulle die hande op te lê.36 Ek meen dat slegs hierdie een aspek die skrywers van ouds mislei het om te sê dat Johannes se doop slegs 'n voorbereiding vir Christus se doop was, naamlik dat hulle gelees het dat diegene wat eenkeer die doop van Johannes ontvang het, weer deur Paulus gedoop is.37 Maar elders op die regte plek daarvoor sal baie duidelik uiteengesit word hoe hulle aan sinsbedrog ly.38

Wat beteken dit dan wat Johannes gesê het, naamlik dat hy met water gedoop het, maar dat Christus wat sou kom, met die Heilige Gees en met vuur sou doop?39 Dit kan met 'n paar woorde verklaar word. Sy bedoeling was trouens nie om een doop van 'n ander doop te onderskei nie, maar hy het sy persoonlikheid met Christus se Persoon daarin vergelyk dat hy 'n bedienaar van water was, maar Christus die Gewer van die Heilige Gees; en dat Hy hierdie krag met 'n sigbare wonderwerk sou verklaar op die dag waarop Hy die Heilige Gees met vurige tonge aan die apostels sou stuur.40 Waarop kon die apostels meer roem? Waarop kan diegene wat vandag doop, meer roem? Hulle is trouens slegs bedienaars van 'n uiterlike teken, maar Christus is die Skepper van innerlike genade. En dieselfde skrywers van die ou tyd, en onder hulle besonderlik Augustinus,41 leer dit oral. Vir Augustinus is dit die belangrikste steunmiddel teen die Donatiste dat Christus nogtans die enigste Regeerder van die doop is, wie dit ook al sou wees wat die doop bedien.42

9. Die aspekte van afsterwe en afwassing in die doop is reeds onder Israel afgeskadu.🔗

Wat ons oor sowel afsterwe as afwassing gesê het, is reeds onder die Israeliete afgeskadu.43 Daarom sê die apostel dat hulle in die wolk en in die see gedoop is.44 Afsterwe is uitgebeeld toe die Here hulle uit die hand van Farao uit wrede slawerny verlos en 'n pad vir hulle deur die Rooisee gebaan het,45 maar Farao en die Egiptenare wat hulle agtervolg en hulle lewe bedreig het, daarin laat verdrink het.46 Want in die doop beloof Hy ons netso, en deur 'n teken aan ons te gee, bewys Hy dat ons deur sy krag uit die Egiptiese gevangenis, dit is uit die slawerny van die sonde, uitgelei en daarvan verlos is; dat ons Farao, dit is die duiwel, verdrink is, hoewel hy egter nie ophou om ons te beproef en te vermoei nie. Maar soos daardie Egiptenaar nie tot op die bodem van die see gesink het nie, maar op die strand neergevel is, en hy die Israeliete nog met 'n verskriklike gesig verskrik het, maar hulle geen skade kon aandoen nie,47 so bedreig ons vyand ons ook wel; hy wys sy wapens; hy laat hom geld, maar hy kan nie oorwin nie.

In die wolk was 'n teken van reiniging.48 Destyds het die Here hulle met 'n wolk wat oor hulle gehang het, bedek en hulle koelte gegee om te voorkom dat hulle vanweë die ongenadige hitte van die son sou beswyk en wegkwyn. So kom ons in die doop te wete dat ons deur die bloed van Christus bedek en beskerm is om te verhoed dat God se strengheid wat waarlik 'n ondraaglike vlam is, op ons neerkom. Hoewel dit 'n geheimenis is wat destyds duister en net aan 'n paar mense bekend was, en omdat daar nogtans geen ander manier ter verkryging van die saligheid as in hierdie twee genadegawes bestaan nie, wou God die vaders van ouds wat Hy as sy erfgename aangeneem het, nie die teken van beide hierdie genadegawes ontneem nie.

10. 'n Weerlegging van die opvatting dat die doop vrywaring van die oorspronklike sonde en die bedorwenheid van Adam bied.🔗

Nou is dit duidelik hoe vals die opvatting is wat sommige mense al lankal leer49 en waarin ander nou nog volhard, naamlik dat ons deur die doop verlos en gevrywaar word van die oorspronklike sonde en die bedorwenheid wat deur Adam op sy hele nageslag oorgeplant is, en dat ons in dieselfde geregtigheid en reinheid van natuur herstel word as wat Adam sou gehad het as hy in daardie ongebrokenheid waarmee hy in die begin geskep is, sou volhard het. Sulke geleerdes het trouens nog nooit verstaan wat oorspronklike sonde, oorspronklike geregtigheid en die genade van die doop is nie. Vroeër is reeds bespreek dat oorspronklike sonde die verkeerdheid en bedorwenheid van ons natuur is50 wat ons ten eerste skuldig maak aan die toorn van God, en verder ook werke in ons voortbring wat die Skrif werke van die vlees noem.51

Ons moet dus op hierdie twee aspekte onderskeidelik let, naamlik dat ons in alle fasette van ons natuur so gebrekkig en bedorwe is en reeds vanweë so 'n bedorwenheid met reg voor God se aangesig verdoem en veroordeel word omdat niks behalwe geregtigheid, onskuld en reinheid vir Hom welgevallig is nie. En kinders bring hulle eie verdoemenis van moederskoot af met hulle saam, en hoewel hulle nog nie die vrug van hulle ongeregtigheid voortgebring het nie, het hulle nogtans die saad daarvan in hulle opgesluit. Ja, hulle hele natuur is in 'n sekere sin saad van die sonde. Daarom kan dit nie anders as om deur God gehaat en vir Hom afstootlik te wees nie. Die gelowiges word deur die doop verseker dat hierdie verdoemenis van hulle weggeneem en van hulle weggedryf is want, soos gesê is,52 beloof die Here met hierdie teken aan ons dat volle en vaste vergiffenis plaasgevind het van sowel die skuld wat ons toe gereken moes word, as van die straf wat ons vanweë ons skuld opgelê moes word. Hulle neem ook geregtigheid in besit, maar 'n geregtigheid soos die volk van God in hierdie lewe kan verkry, naamlik slegs deur toerekening, want deur sy barmhartigheid beskou die Here hulle as regverdiges en as onskuldiges.

11. Hoewel ons gedoop is, doen ons nog sonde maar die sonde heers nie oor ons nie.🔗

Die tweede aspek is dat hierdie bedorwenheid nooit in ons tot 'n einde kom nie maar altyd nuwe vrugte voortbring, naamlik die werke van die vlees wat ons vroeër beskryf het.53 Dit is soos wanneer 'n oond aangesteek word en voortdurend vlamme en vonke uitblaas, of soos 'n os waterbron gedurig water voortbring. Want slegte begeerte kom duidelik nooit in mense tot 'n einde nie en dit word nooit uitgeblus voordat hulle deur die dood van die liggaam van die dood bevry is en hulle hulle volkome daarvan gestroop het nie. Die doop beloof ons weliswaar dat ons Farao verdrink is54 en die afsterwe van die sonde. Dit is egter nie so dat dit nie meer bestaan nie of geen moeite vir ons veroorsaak nie, maar slegs só dat dit nie kan oorwin nie. Want so lank ons in hierdie gevangenis van ons liggaam opgesluit lewe,55 sal oorblyfsels van die sonde in ons woon. As ons egter in die geloof vashou aan die belofte wat in die doop deur God aan ons gegee is, sal die sonde nie oor ons heers en oor ons regeer nie. Niemand moet homself egter mislei nie, niemand moet homself vlei wanneer hy hoor dat die sonde altyd in ons woon nie. Hierdie stellings word nie gemaak sodat mense wat andersins meer as genoeg geneig is om sonde te doen, onbesorg in hulle sondes verder kan droom nie, maar alleen dat diegene wat deur hulle vlees geprikkel en gepynig word, nie moet begin wankel of moed verloor nie. Hulle moet eerder daaroor nadink dat hulle nog onderweg en op reis is en glo dat hulle baie vordering gemaak het as hulle dag vir dag ervaar dat hulle slegte begeertes 'n klein bietjie minder word totdat hulle die vlak bereik waarna hulle streef, naamlik die laaste sterwe daarvan wat deur die sterwe van hierdie sterflike lewe voltooi sal word.

Intussen moet hulle nie ophou om moedig daarteen te stry, vol moed te wees om daarin te vorder en hulleself aan te spoor tot volle oorwinning daaroor nie. Dit behoort trouens hulle pogings nog meer op te skerp wanneer hulle kan sien dat daar nog baie moeite oorbly nadat hulle hulle lank ingespan het.

Ons moet dit so beskou: ons word gedoop tot die afsterwe van ons vlees. Dit begin reeds van die doop af in ons en ons vorder elke dag daarin. Dit sal egter eers voltooi wees wanneer ons uit hierdie lewe na die Here verhuis.

12. 'Moenie toelaat dat die sonde langer oor julle heers nie'.🔗

Ons sê hier nie iets anders as wat die apostel Paulus in die sewende hoofstuk van sy brief aan die Romeine baie duidelik uiteensit nie.56 Nadat hy trouens oor die onverdiende geregtigheid geredeneer het, omdat sommige goddelose mense daaruit afgelei het dat hulle na willekeur mag leef omdat ons God nie met die verdienste van ons werke behaag nie,57 voeg hy by dat almal wat hulle met die geregtigheid van Christus beklee, tegelyk deur die Gees wederbaar word, en dat ons 'n borg van hierdie wedergeboorte in die doop het.58 Hier spoor hy die gelowiges aan om die sonde nie oor hulle te laat heers nie.59 Omdat hy egter bewus was daarvan dat daar altyd die een of ander swakheid in die gelowiges aanwesig is, en om te voorkom dat hulle as gevolg daarvan moed sou verloor, voeg hy die vertroosting daarby dat hulle nie onder die wet is nie.60

Omdat die indruk egter aan die ander kant kon ontstaan dat Christene verwaand kon word vanweë die feit dat hulle nie onder die juk van die wet is nie, behandel hy die aard van die afskaffing van die wet,61 en tegelyk ook wat die toepassing van die wet is62 - 'n vraagstuk wat hy reeds tweekeer uitgestel het. 63 Samevattend kom dit daarop neer dat ons van die strengheid van die wet vrygemaak is om Christus aan te hang. Verder sê hy dat dit die taak van die wet is om ons bedorwe natuur aan te kla sodat ons ons magteloosheid en ellende kan bely. Omdat hierdie bedorwe natuur nie so maklik in die geval van 'n onheilige mens aan die lig kom wat sonder vrees vir God vrye teuels aan sy slegte begeertes gee nie, hou hy 'n voorbeeld daarvan.in die geval van 'n wedergebore mens voor, dit is in homself. Hy sê derhalwe dat hy gedurig in 'n stryd64 met die oorblyfsels van sy vlees gewikkel is en dat hy deur die ellendige slawerny daaraan gebind, weerhou word om hom ten volle oor te gee om God se wet te gehoorsaam.65 Daarom word hy gedwing om met versugting uit te roep: "Ek, ellendige mens! Wie sal my verlos van hierdie liggaam wat aan die dood blootgestel is?"66

Maar as God se kinders dan in 'n kerker gevange gehou word so lank hulIe lewe, moet hulle noodwendig erg besorg wees wanneer hulle oor hulle gevaar nadink tensy hierdie vrees teengegaan word. Hy het derhalwe hierdie vertroosting daarmee vervleg dat daar geen verdoemenis meer is vir diegene wat in Christus Jesus is nie.67 Hy leer daar dat diegene wat die Here eenmaal in genade aangeneem het, wat Hy in deelname in Christus ingelyf, en deur die doop in die gemeenskap met die kerk opgeneem het, so lank hulle in die geloof in Christus volhard, selfs al sou hulle deur die sonde beleër word en die sonde daarom in hulle ronddra, dat hulle nogtans van die skuld en verdoemenis daarvan bevry is. As dit 'n eenvoudige en opregte vertolking van Paulus is, is daar geen rede waarom die opvatting hoef te bestaan dat ons iets ongewoons leer nie.68

13. Die tweede doelstelling van die doop, naamlik om ons belydenis voor die mense te betuig.🔗

Die doop dien egter ook as ons belydenis voor die mense. Dit is trouens 'n teken waarmee ons in die openbaar bely dat ons onder God se volk gereken wil word.'69 Daarmee betuig ons dat ons in die diens aan die enige God, in die enige godsdiens met alle Christene ooreenstem. Daarmee verklaar ons kortom ons geloof in die openbaar sodat ons harte nie alleen lof aan God uitadem nie, maar sodat ook ons tonge en al ons ledemate met elke moontlike betekenis dit kan laat weerklink. Want soos dit hoort, word alles wat ons het, so op die gehoorsaamheid aan die heerlikheid van God toegespits, en niks behoort daarsonder te wees nie. So word ander mense ook deur ons voorbeeld tot dieselfde ywer aangespoor. Paulus het dit in die oog gehad toe hy die Korintiërs gevra het of hulle in die Naam van Christus gedoop is.70 Daarmee suggereer hy natuurlik dat, omdat hulle in sy Naam gedoop is, hulle hulle aan Hom oorgegee het, in sy Naam gesweer het, en hulle tot getrouheid teenoor Hom voor die mense verbind het, sodat hulle geen ander een as Christus alleen kan bely tensy hulle die belydenis wat hulle in die doop afgelê het, wil versaak nie.

14. Die manier waarop ons die doop moet gebruik en ontvang.🔗

Nadat ons nou vertel het wat ons Here met die instelling van die doop beoog het, is dit voor die handliggend om te oordeel wat die manier is waarop ons dit moet gebruik en moet ontvang. In soverre dit immers aan ons gegee word om ons geloof op te hef, te voed en te versterk, moet ons dit as 't ware uit die hand van die Skepper daarvan neem. Ons moet vas en seker daarvan oortuig wees dat dit Hy self is wat deur 'n teken met ons praat; dat dit Hy self is wat ons reinig, afwas en die herinnering aan ons oortredings tot niet maak; dat dit Hy self is wat ons deelgenote in sy dood maak; dat dit Hy is wat die ryk van die Satan van hom af wegneem; dat dit Hy is wat die krag van ons slegte begeertes kragteloos maak; ja, dat dit Hy is wat met ons ineengroei sodat ons as kinders van God gereken kan word omdat ons met Hom beklee is. Ek herhaal, dat Hy dit net so waaragtig en seker innerlik aan ons siele doen as wat ons beslis sien dat ons liggame uiterlik afgewas, ingedompel en besprinkel word. Want òf dit nou ook al analogie, en òf dit vergelyking is, is dit die sekerste reël van die sakramente dat ons in die liggaamlike dinge die geestelike dinge kan bemerk asof hulle voor ons oë opdoem omdat die Here dit goedgevind het om dit met sulke beelde vir ons uit te beeld. Dit beteken nie dat sulke gawes aan die sakrament verbind en daarby ingesluit is om die krag daarvan aan ons te verleen nie, maar slegs dat die Here met hierdie pand sy wil aan ons betuig, naamlik dat Hy al hierdie dinge aan ons wil skenk. En Hy voed ons nie slegs met die blote aanskouing daarvan nie, maar Hy bring ons tot die werklike saak self en volbring dit wat Hy uitbeeld, onmiddellik kragdadig.71

15. Bekragtiging van hierdie opvatting deur die voorbeelde van Kornelius en Paulus.🔗

Kornelius die hoofman oor honderd lewer bewys hiervan. Hy is tot vergiffenis van sy sondes gedoop nadat die sigbare genadegawes van die Heilige Gees reeds tevore aan hom geskenk is.72 Hy het nie 'n groter vergiffenis uit die doop gesoek nie maar 'n sekerder beproewing van sy geloof; ja, 'n toename in sy vertroue na aanleiding van hierdie borg. Miskien sou iemand hierteen beswaar maak: "Waarom het Ananias vir Paulus gesê om sy sondes deur die doop af te was73 as sondes nie deur die krag van die doop self afgewas word nie?" My antwoord hierop is: daar word gesê dat ons iets ontvang, verkry of bekom in soverre dit met die oog op die ervaring van ons geloof deur die Here ons gegun word, hetsy Hy dit dan vir die eerste keer betuig, hetsy Hy dit reeds betuig het en dit met groter sekerheid versterk. Ananias se bedoeling was dus slegs soos volg: "Paulus, om seker te wees dat jou sondes jou vergewe is, laat jou doop. Want die Here beloof sondevergiffenis in die doop. Ontvang dit en wees gerus!"

My bedoeling is nogtans nie om die krag van die doop te verminder nie die werklikheid en die waarheid moet trouens by hierdie teken kom in soverre God deur uiterlike middels werk. Soos uit alle ander sakramente bekom ons verder uit hierdie sakrament niks behalwe in soverre ons dit met die geloof ontvang nie. As die geloof ontbreek, sal dit getuienis van ons ondankbaarheid wees op grond waarvan ons voor God aangekla sal word omdat ons die belofte wat daar aan ons gee word, nie geglo het nie. In soverre dit 'n teken van ons belydenis is, moet ons daarmee getuig dat ons vertroue in God se barmhartigheid geleë is, en ons reinheid in sondevergiffenis wat deur Jesus Christus vir ons verkry is; dat ons tot die kerk van God toetree om eensgesind in geloof en liefde eendragtig met alle gelowiges saam te leef. Hierdie laaste stelling is wat Paulus bedoel het toe hy gesê het dat ons almal saam in een Gees gedoop is, om een liggaam te wees.74

16. Die aansien van die bedienaar van die doop dra niks daartoe by om te bevestig dat God die Gewer daarvan is nie.🔗

As dit verder waar is wat ons vasgestel het, naamlik dat 'n sakrament nie geëvalueer moet word na aanleiding van die hand van iemand deur wie dit bedien word nie, maar asof dit uit die hand van God kom, uit wie dit ongetwyfeld ontstaan het,75 kan ons daaruit aflei dat niks tot 'n sakrament bygedra of daarvan weggeneem word deur die aansien van die een deur wie se hand dit bedien word nie. En soos dit onder mense niks skeel wie of hoedanig die posbesteller is as 'n brief afgelewer word nie mits die handtekening en die seël daarop voldoende herken kan word, net so behoort dit vir ons voldoende te wees om ons Here se hand en seël in sy sakramente te herken (ongeag) deur watter besteller ook al dit nou eintlik aan ons bedien word.

Die dwaling van die Donatiste word pragtig met hierdie redenasies weerlê omdat hulle die krag en die waarde van 'n sakrament aan die aansien van die bedienaar daarvan gemeet het.76 Ons Wederdopers is vandag netso omdat hulle heftig ontken dat ons behoorlik gedoop is omdat ons deur goddelose afgodedienaars in die ryk van die pous gedoop is. Derhalwe dring hulle waansinnig op herdoop aan.77 Ons sal egter met 'n redenasie wat kragtig genoeg is, teen hulle onsinnighede verskans word as ons daaraan dink dat ons nie in die naam van die een of ander mens nie, maar in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees gedoop is,78 en dat dit daarom nie die doop van 'n mens is nie, maar van God deur wie dit in die laaste instansie bedien is. Hoewel diegene wat ons gedoop het, grootliks onkundiges of veragters van God en die volle godsvrug was, het hulle ons egter nie gedoop om deel te hê aan hulle onkunde of hulle heiligskennis nie maar in die geloof in Jesus Christus omdat hulle nie hul eie naam aangeroep het nie, maar God se Naam, en hulle het ons nie in 'n ander naam gedoop nie. As dit God se doop was, het dit beslis die belofte van sondevergiffenis ingesluit, asook van die afsterwe van die vlees, die geestelike lewendmaking en deelname in Christus.

So was dit vir die Jode geen hindernis dat hulle deur onrein en afvallige priesters besny is nie, en die teken is ook nie daarom tot niet gemaak sodat dit noodwendig herhaal moes word nie, maar dit was vir hulle voldoende om na die egte bron daarvan terug te keer.

Wat betref hulle beswaar dat die doop in 'n vergadering van godvrugtiges bedien behoort te word: iets wat gedeeltelik gebrekkig is, veroorsaak nie dat dit die hele krag van die doop uitblus nie. Wanneer ons trouens leer wat ons behoort te doen om die doop rein te hou en vry van alle besmetting, maak ons God se instelling nie tot niet nie, hoewel afgodedienaars dit vervals. Hoewel die besnydenis eertyds deur baie bygelowe bederf is, het dit egter nie opgehou om as 'n teken van genade beskou te word nie. En toe Josia en Hiskia diegene wat van God afvallig geword het, uit die hele Israel bymekaargemaak het,79 het hulle hulle nie beveel om weer besny te word nie.

17. 'n Weerlegging van die Doperse beswaar dat Protestante lank na hulle doop in die valse geloof volhard het.🔗

Maar nou vra hulle ons watter soort geloof etlike jare lank op ons doop gevolg het om daaruit die afleiding te maak dat ons doop van nul en gener waarde is omdat die doop nie vir ons geheilig word nie behalwe as ons die Woord van die belofte in die geloof ontvang. Ons antwoord soos volg op hierdie aanklag: dat ons wel vanweë blindheid en ongeloof nie aan die belofte wat in die doop aan ons gegee is, gehou het nie, maar dat hierdie belofte altyd vas en seker en waaragtig gebly het omdat dit van God af gekom het. Al sou al die mense leuenagtig en troueloos wees, hou God nogtans nie op om waaragtig te wees nie;80 al sou almal verlore wees, bly Christus nogtans die saligheid. Ons erken dus dat die doop in  daardie tyd ons geen snars gebaat het nie omdat die belofte wat daarin vir ons aangebied is, en waarsonder die doop niks is nie, verwaarloos gelê het. Nou nadat ons ons deur die genade van God begin bekeer het, kla ons ons blindheid en hardvogtigheid van hart aan omdat ons sy groot goedertierenheid so lank met ondankbaarheid bejeën het.

Verder glo ons dat die belofte self nie verdwyn het nie. Ja, ons dink eerder so daaroor: deur die doop beloof God aan ons vergiffenis van sondes, en Hy sal sy belofte ongetwyfeld vir al die gelowiges volbring. Hierdie belofte is in die doop aan ons voorgehou. Ons omhels dit derhalwe deur die geloof. Vanweë ons ongeloof was dit weliswaar lank vir ons begrawe, laat ons dit dus nou weer deur die geloof terugontvang. Wanneer die Here die Jode tot inkeer nooi, gebied Hy hulle daarom nie om hulle vir 'n tweede keer te laat besny nie hoewel hulle, soos ons gesê het,81 deur 'n goddelose en heiligskennige hand besny is en hulle 'n geruime tyd reeds in dieselfde goddeloosheid verstrik was en daarin geleef het, maar Hy dring slegs aan op die bekering van hulle hart. Al sou hulle sy verbond verbreek het, het die teken van die verbond kragtens die instelling van die Here vas en onverbreek gebly. Hulle is dus slegs in die verbond wat God eenmaal met hulle in die besnydenis gesluit het, herstel op voorwaarde dat hulle hulle sou bekeer. Hulle het hierdie besnydenis nogtans deur die hand van priesters wat verbondsverbrekers was, ontvang en dit sover dit in hulle vermoë was, weer eens verontreinig en die gevolg daarvan vernietig.

18. 'n Weerlegging van die opvatting dat Protestante herdoop moet word omdat Paulus dan mense wat reeds deur Johannes gedoop is, herdoop het.🔗

Maar dit lyk vir hulle asof hulle 'n vurige pyl op ons afskiet wanneer hulle aanvoer dat Paulus diegene wat reeds eenmaal met die doop van Johannes gedoop was, weer gedoop het.82 Want as die doop van Johannes volgens ons erkenning een en dieselfde doop as ons s'n is, volg daaruit dat, aangesien hulle tevore verkeerd daarin onderrig is, hulle weer daarin gedoop is toe hulle in die regte geloof onderrig is. Net moet ons (volgens hulle) hierdie doop (van ons) wat sonder die ware leer was, as van nul en gener waarde beskou en ons behoort van nuuts af in die ware godsdiens waardeur ons nou vir die eerste keer deurtrek is, gedoop te word.

Sommige mense huldig die opvatting dat daar 'n sekere slegte nabootser83 van Johannes was wat die mense eerder in 'n ydel bygeloof as in die vroeëre doop gedoop het. Skynbaar maak hulle hierdie afleiding na aanleiding daarvan dat die mense erken dat hulle heeltemal onbekend is met die Heilige Gees. Natuurlik sou Johannes nooit dissipels wat so onkundig was, van hom af uitgestuur het nie. Dit is ook onwaarskynlik dat die Jode, selfs al sou hulle glad nie gedoop gewees het nie, geen kennis van die Heilige Gees gehad het nie, terwyl Hy deur soveel Skrifgetuienis bekendgestel word. Dat hulle dus antwoord dat hulle nie weet of die Heilige Gees bestaan nie, moet ons so verstaan asof hulle gesê het dat hulle nog nie gehoor het of die gawes van die Heilige Gees waaroor Paulus hulle uitgevra het, aan Christus se dissipels gegee is nie. So ver dit my aangaan, gee ek egter toe dat die doop (wat hulle ontvang het) die ware doop van Johannes en een en dieselfde doop as die doop van Christus was. Ek ontken egter dat hulle weer gedoop is.84 Wat beteken die waarde: "Hulle is gedoop in die Naam van Jesus" dan? Party mense vertolk dit so dat hulle slegs in die opregte leer deur Paulus onderrig is.85 Ek sou verkies om dit eenvoudiger te verstaan van die doop van die Heilige Gees, dit is, die sigbare gawes van die Gees wat deur handoplegging aan hulle gegee is. En dit is nie 'n nuwigheid dat dit met die woord doop aangedui word nie. Daar word byvoorbeeld gesê dat die apostels op die pinksterdag nagedink het oor die Here se woorde oor die doop van vuur en van die Gees.86 Petrus vertel dat dieselfde woord in sy gedagtes opgekom het toe hy gesien het dat hierdie genadegawes op Kornelius, sy huisgesin en sy verwant uitgestort is.87

Dit wat later bygevoeg word, is ook nie hiermee strydig nie: "Toe hy sy hande op hulle gelê het, het die Heilige Gees oor hulle neergedaal".88 Lukas vertel hier trouens nie van twee verskillende gebeurtenisse nie, maar hy volg 'n vorm van vertelling wat vir die Hebreërs bekend was. Hulle hou eerste 'n samevatting van 'n gebeurtenis voor, en daarna verklaar hulle dit breedvoeriger.89 En elkeen kan dit uit die samehang van die woorde bemerk. Hy sê immers: "Toe hulle dit hoor, is hulle gedoop in die Naam van Jesus. En toe Paulus sy hande op hulle gelê het, het die Heilige Gees oor hulle gekom". Met die laaste stelling word 'n beskrywing gegee van hoedanig daardie doop was.

Maar as 'n gebrek aan kennis die eerste doop ongeldig maak sodat dit met 'n tweede doop reggestel moet word, moes die apostels eerste van almal weer gedoop word omdat hulle vir 'n volle drie jaar na hulle doop beswaarlik 'n klein deeltjie van die opregter leer gesmaak het. En watter riviere sou onder ons genoeg wees om soveel doopplegtighede te herhaal as wat daar onkundigheid bestaan wat daagliks deur die barmhartigheid van die Here in ons verbeter word?

19. Die doop is egter deur die eeue ontsier deur byvoegsels wat nie in die eenvoudige instelling van Christus te vinde is nie.🔗

As ek my nie misgis nie, behoort die krag, die aansien, gebruik en doel van hierdie sakrament nou duidelik genoeg te wees. Sover dit die uiterlike teken aanbetref: het die instelling van Christus maar soveel krag gehad as wat billik is om die vermetelheid van die mense aan bande te lê! Want asof die doop met water volgens Christus se voorskrif, iets veragteliks was, het die mense 'n seën, of eerder 'n beswering uitgevind om die ware heiliging van die water te verontreinig. Later is 'n kers en salf bygevoeg, en die mense het die uitblasing van die asem (om die duiwel uit te dryf) goedgevind as middel om hulle vir die doop voor te berei.90 Hoewel dit nie vir my onbekend is hoe oud die ontstaan van hierdie hoop bykomstighede is nie, moet ek en alle godvrugtige mense nogtans alles verwerp wat die mense gewaag het om by Christus se instelling te voeg. Toe die Satan egter gesien het dat sy bedrog deur die dwase liggelowigheid van die wêreld byna in die begin van die evangelie sonder moeite aanvaar is, het hy in growwer bespottings daarvan uitgebars. Met onbeteuelde bandeloosheid is na aanleiding hiervan spoeg en dergelike onsinnighede ingevoer om die doop te beledig.91 Uit hierdie ervarings moet ons leer dat niks heiliger, niks beter en niks veiliger is as om met die gesag van Christus alleen tevrede te wees nie.

Hoeveel beter sou dit dus nie gewees het om die teatrale gepronk te laat vaar wat die oë van die eenvoudiges verblind en hulle gedagtes afstomp, en so dikwels iemand gedoop moet word, hom in die vergadering van die gelowiges voor te stel en terwyl die hele gemeente as getuie toekyk en vir hom bid, hom aan God voor te hou nie? Hoeveel beter is dit nie dat die geloofsbelydenis waarin hy as kategeet onderrig moet word, daar voorgelees word? Dat die beloftes wat in die doop vervat is, daar vertel word? Dat die kategeet daarna in die Naam van die Vader en van die Seun en van die Heilige Gees gedoop word?92 Dat die gemeente daarna met gebede en danksegging weggestuur word? So sou niks agterweë gelaat word wat op die saak betrekking het nie, en dit sou die een seremonie wat uit God as Skepper daarvan ontstaan het, die duidelikste verlig sonder om dit onder enige vreemde vuilheid te begrawe.93

Verder skeel dit weinig of iemand wat gedoop word, heeltemal onder die water ingedompel word, en of dit driekeer of net eenkeer is, en of hy slegs met water besprinkel word. Volgens die verskil in landstreke moet kerke egter hierin vry wees. Die woord doop beteken egter indompel en dit is seker dat die kerk van ouds hierdie manier van indompeling onderhou het.94

20. Wie die sakramente mag bedien.🔗

Dit het ook op die onderwerp betrekking om te weet dat dit verkeerd bedien word as mense in hulle persoonlike hoedanigheid die bediening van die doop hulleself toe-eien. Die bediening van sowel die doop as die nagmaal is trouens deel van die kerklike bedieningsamp. En Christus het die opdrag om te doop trouens nog aan vrouens nog aan mense na willekeur gegee, maar Hy het hierdie opdrag aan diegene wat Hy as apostels aangestel het, gegee.95 En toe Hy sy dissipels beveel het om in die bediening van die nagmaal te doen wat hulle gesien het deur Hom gedoen word, aangesien Hy self die amp van wettige Uitdeler daarvan verrig het,96 was dit ongetwyfeld sy wil dat hulle daarin sy voorbeeld moes naboots. Ek kan dus nie sien hoe die gebruik wat reeds baie eeue lank en daarom amper van die begin van die kerk af posgevat het, naamlik dat leke wel in doodsgevaar die doop mag bedien as 'n bedienaar van die Woord op die tydstip nie aanwesig is nie,97 met 'n grondige redenasie verdedig kan word nie. Selfs nie eens die skrywers van ouds wat hierdie gebruik gehandhaaf of geduld het, is seker of dit regtens kan gebeur nie. Augustinus bring hierdie twyfel trouens duidelik na vore wanneer hy sê: "Ek weet nie of iemand godvrugtig kan sê dat die doop herhaal moet word as 'n leek noodgedwonge die doop bedien het nie. Want as dit nie noodgedwonge geskied nie, is dit misbruik van 'n ander se amp. As nood hom egter daartoe dwing, is dit of geen sonde nie, of dit is vergeeflik".98 Verder is sonder enige uitsondering oor vrouens op die Konsilie van Karthago besluit dat hulle dit volstrek nie op hulle mag neem om te doop nie.99

"Maar nou bestaan die gevaar dat iemand wat siek is, die genade van die wedergeboorte ontneem word as hy sonder om gedoop te word, sou sterf''.100 Hoegenaamd nie! Wanneer God beloof dat Hy vir ons 'n God sal wees en vir ons kinders na ons, verklaar Hy dat Hy ons kinders onder die wat aan Hom behoort, aanneem.101 In hierdie woorde word hulle saligheid saamgevat. En niemand sal waag om so beledigend teenoor God te wees dat hy sou ontken dat God se belofte vanself voldoende is om sy eie vrug te dra nie.102

Min mense het opgemerk hoeveel skade hierdie leerstuk, wat ook sleg verduidelik is, naamlik dat die doop noodsaaklik is vir ons saligheid, teweeggebring het.103 Daarom is mense ook minder waaksaam in verband hiermee, want toe die opvatting veld gewen het dat almal verlore is vir wie dit nie te beurt geval het om met water gedoop te word nie, was ons toestand slegter as die van die Israeliete - asof God se genade nou kariger is as onder die wet! Ons sal dan immers meen dat Christus gekom het, nie om die beloftes te vervul nie, maar om hulle tot niet te maak104 aangesien die belofte wat destyds kragtig genoeg was om vanself binne agt dae saligheid te verleen.105 nou sonder die hulp vanhierdie teken kragteloos sou wees.

21. 'n Bespreking van die opvattings van die kerkvaders dat vrouens nie toegelaat mag word om te doop nie.🔗

Uit Tertullianus se werke kan ons eerste aflei hoedanig die gewoonte voor Augustinus se geboorte was. Tertullianus sê dat vrouens nie toegelaat word om in die kerk te praat nie, ook nie om te onderrig, of te doop of te offer nie om te voorkom dat hulle hulle enige deel van die manlike amp, om nie eens te praat van die priesterlike amp nie, sou toe-eien.106 Ook Epiphanius is 'n oorvloedige getuie hiervan wanneer hy Marcion verwyt omdat hy aan vrouens vergunning gegee het om te doop. Die antwoord van mense wat die teendeel voel, is inderdaad nie aan my onbekend nie, naamlik dat daar 'n groot verskil tussen 'n algemene gebruik en 'n buitengewone hulpmiddel is wat die uiterste nood afdwing. Aangesien hy egter verklaar dat dit 'n bespotting is om aan vrouens vergunning om te doop te gee, en hy geen uitsondering maak nie, is dit duidelik genoeg dat hierdie bedorwe gebruik deur hom verdoem word sodat dit onder geen dekmantel verskoon kan word nie. Ook in sy derde boek waar hy leer dat dit selfs nie eens die heilige moeder van Christus vergun was nie, voeg hy geen uitsondering by nie.107

22. Beantwoording van 'n beswaar op grond van Sippora se optrede.🔗

Die voorbeeld van Sippora word heeltemal onpaslik hier aangehaal.108 Want uit die feit dat die engel van God tevrede was toe sy 'n klip gegryp en haar seun daarmee besny het, word verkeerdelik die afleiding gemaak dat dit 'n daad was wat God se goedkeuring weggedra het. Andersins sou ons moes sê dat die godsdiens wat die heidene van Assirië af oorgebring en daar gevestig het, God ook behaag het.109 Maar ons kan met ander kragtige redes bewys dat die daad wat hierdie dwaas vrou verrig het, onverstandig nagevolg word. As ek sou sê dat dit 'n uitsonderlike daad was wat nie nageboots behoort te word nie, en, veral aangesien nêrens gelees kan word dat 'n spesiale opdrag om die besnydenis eertyds te doen, aan die priesters gegee is nie, dat die rede vir die besnydenis verskil van die rede vir die doop, is dit kragtig genoeg om hierdie opvatting te weerlê, Christus se woorde is trouens duidelik: "Gaan, leer al die nasies en doop".110 Omdat Hy dieselfde mense as verkondigers van die evangelie en as bedienaars van die doop aangestel het, en niemand in die kerk behalwe een wat daartoe geroep is soos Aäron,111 volgens die getuienis van die apostel, homself hierdie eer mag toe-eien nie, maak iemand wat sonder 'n wettige roeping die doop bedien, inbreuk op 'n ander se amp.112 Paulus roep duidelik uit dat alles wat ons met 'n twyfelagtige gewete aanpak, selfs in die geringste dingetjies, soos in kos en drank, sonde is.113 Gevolglik word daar in die geval van doopbediening deur 'n vrou baie swaarder gesondig terwyl die reël wat deur Christus gegee is, openlik daardeur geskend word. Ons weet immers dat dit sonde is om dit wat God saamgevoeg het, uitmekaar te skeur.114

Ek laat dit egter heeltemal daar. Ek wou slegs my lesers se aandag daarop vestig dat Sippora niks minder in gedagte gehad het as om diens aan God te lewer nie. Sy het gesien dat haar seun in doodsgevaar was, sy kreun en sy mor, en sy gooi sy voorhuid met verontwaardiging op die grond; sy skel so op haar man dat sy haar ook vir God vertoorn. Kortom: dit is duidelik dat hierdie hele daad uit die magteloosheid van haar gemoed voortgekom het want sy skreeu teen God en haar man dat sy gedwing word om haar seun se bloed te vergiet. Voeg hierby dat, as sy haar dan nog in alle ander opsigte reg gedra het, dit nogtans onverskoonbare voortvarendheid was dat sy haar seun in die teenwoordigheid van haar eggenoot besny - en hy was nie maar net 'n gewone mens nie, maar Moses, die belangrikste profeet van God en daar het nooit 'n belangriker profeet in Israel opgestaan as hy nie. Dit was haar niks minder geoorloof om dit te doen as wat dit vandag vir vrouens onder toesig van 'n biskop geoorloof is nie.

Die volgende beginsel sal egter hierdie hele geskil sonder enige moeite uit die weg ruim: jong kinders wie dit te beurt val om uit hierdie huidige lewe te verhuis voordat dit hulle gegun is om gedoop te word, word nie uit die koninkryk van die hemele uitgesluit nie.

Tog het ons reeds gesien115 dat God se verbond ernstig veronreg word asof dit op sigself swak sou wees indien ons nie daarby berus nie, aangesien die krag daarvan nog van die doop nog van enige bykomstighede afhanklik is. Daarna kom die sakrament soos 'n seël by, nie om krag aan God se belofte te verleen asof dit op sigself swak is nie, maar slegs om dit vir ons te bekragtig. Daaruit volg dat die kinders van gelowiges nie gedoop word om dan vir die eerste keer kinders van God te word terwyl hulle tevore vreemd aan die kerk was nie, maar eerder om met hierdie plegtige teken in die kerk opgeneem te word omdat hulle reeds vroeër kragtens die weldaad van sy belofte aan die liggaam van Christus behoort het. Ons is daarom van alle gevaar gevrywaar as daar geen agtelosigheid, geen minagting, en geen verwaarlosing daarvan is wanneer ons hierdie teken agterweë laat nie. Dit is dus baie heiliger om hierdie eerbied aan God se instelling te betoon dat ons die sakramente nie elders moet soek as waar die Here hulle geplaas het nie. Wanneer ons hulle nie van die kerk kan bekom nie, is God se genade nie so daaraan vasgeheg dat ons dit nie deur die geloof uit die Woord van die Here kan verkry nie.

Endnotes🔗

  1. ^ Fr. 1560: + est la marqué de nostre Chrestienté (Benoit 4:318). Vgl. art. 34 NGB en Heidelbergse Kategismus Sondag 26 . 27.
  2. ^ Vgl. Inst. 4.14.1 hierbo
  3. ^ Vgl. Matt. 28:19; Hand. 2:38 en OC 45:822 e.v.
  4. ^ 'n Toespeling op Zwingli se opvatting oor die betekenis van die woord sakrament in sy De peccato ortginalI declaratio (CRZ 5:392).
  5. ^ Marg. Marc. 16.d 16. Vgl. OC 45:820.
  6. ^ Marg. Ephes. 5.f26. Vgl. ook vers 27 en OC 51:223 - 225.
  7. ^ Marg. Tit. 3.b.5. Vgl. ook OC 52:429 . 431.
  8. ^ Marg. 1. Pet. 3.d.21. Vgl. OC 55:267 . 269.
  9. ^ Ibid. 1 Petrus 3:21
  10. ^ Vgl. Tertullianus, De baptisme 3 . 5 (MPL 1:1309 e.v.; CSEL 20:202 e.v.), Cyrillus van Jerusalem, Catech. 3.5 (MPG 33:431).
  11. ^ Hierdie vraagstuk het dikwels heftige polemiek onder die kerkvaders uitgelok. Een so 'n hulpmiddel om in die plek van die doop vir nuwe sondes vergiffenis te soek, is in boetedoening gestel. Vgl. o.a. Tertullianus, de paenitentia 7.12 (MPL1:1351 e.v., eest 1:334); Origenes, In Lev. hom. 2.4 (MPG 12:416 e.v.), Cyprlanus, De op. etelemos. 2 (MPL4:603 e.v.; CSEL 3,1:374 e.v.; CCSL3A:55 e.v.): De Dominica orat. 32 (CSEL 3,1:290; eest 3A:110); Hieronymus, Ep. 84.6 (MPL 22:748; CSEL 55:128); Decr. Grat. 2.33.3.72 (MPL 187:1548; Priedberg 1:1179).
  12. ^ Vir die uitbreiding van die sakramente vgl. Leo I, Ep. 108.2 (Ad Theodorum) (MPL54:1011 e.v.), Decr. Grat. 2.33.3.49 (De paenit.) (MPL187:1535; Friedberg 1:1170; Denzinger, Ench. 146 (p. 69); Eugenius IV, Bxultate Deo (Cone. Plorent. 1439): Novae legis septem sunt sacramenta, oidelicet, baptismus, confirmatio, eucbaristia, poenitentia, extrema unctio, ordo et matrimonium: Die nuwe wet het sewe sakramente, naamlik die doop, bevestiging, nagmaal.boetedoening, die laaste salwing, ordening en die huwelik. Vgl.verder Denzinger, Ench. 696 - 702 (pp. 254 - 259); die sesde sessie van die Konsilie van Trente (1547), hoofstuk 14 (Deer. de tusuficatione) (Mansi 33:38; Denzinger, Ench. 807, p. 292 e.v.).
  13. ^ Vir besware teen die uitstel van die doop om soveel sondes as moontlik daardeur te vergewe, vgl. o.a. Gregorius van Nazianze, In sanctum baptisma, Oratio40.1 . 11 (MPG 36:359 - 371) Gregorius van Nyssa, Adv. eos qui differunt baptism. orat. (MPG 46:415 . 432).
  14. ^ Vgl. in verband hiermee ook Luther, De capt. Bab. (WA6:528).
  15. ^ Marg. Rom. 3.d.25. Vgl. OC 49:62 . 63.
  16. ^ Vgl. Inst.4.19.17.
  17. ^ Vgl. Inst. 3.4 (Afr. ven. 3:804 e.v.).
  18. ^ Vgl. Inst. 4.19.14 - 17.
  19. ^ Marg. Rom. 6.a.3. Vgl.OC 49:104 . 105.
  20. ^ Vgl. Rom. 6:5. 'n Soongelyke gedagte kom voor by Melanchton, Loci com. (1521) De baptisme (CRM 21:211 e.v.). Vg!. ook Cadier, Institution 4:298, n. 1.
  21. ^ Vgl. Calvyn se kommentaar oor Rom. 6:3, 5 (OC 49:105 . 107).
  22. ^ Vgl. Rom. 6:8, 11 (OC 49:108 . 110)
  23. ^ Marg. Coloss. 2.b.12. Vgl. ook vers 11 en OC 52:105 - 106
  24. ^ Marg. Tit. 3.b.5. Vgl. afdeling 2 hierbo asook OC 52:429 . 431.
  25. ^ Marg. Matth. 3.c.13. Vgl. ook die volgende verse en oe 45:124 e.v.
  26. ^ Marg. Galat. 3. d.27. Vgl. ook vers 26 en OC 50:
  27. ^ Marg. Act. 8.c.16, & 19.a.5. Vgl. OC 48
  28. ^ Marg. Matth. 28.d.19.
  29. ^ Marg.Matth. 3.b.6, c.ll. Luc. 3.d.16; Iohan. 3.c.23, &4.a.l. Act. 2.f.38, &g.41. Vgl. OC 45:115,121· 123; 48:
  30. ^ Bucer handhaaf dieselfde opvatting dat die doop van Johannes en die doop van die apostels identies is. Vgl. sy Bnarr. in Evang. (1536), p. 46.
  31. ^ Marg.Ioban. 1.d.29. Vgl. OC 47:25 . 27.
  32. ^ Marg. Homil. in Matth. 14. Chrysostomos, In Matt. bomil. 10,1 (oor Matt. 3:1 - 17) (MPG57:183192). Vgl. ook Calvynse kommentaar oorhierdie tekste in OC 45:109 e.v.
  33. ^ Marg. Luc. 3.a.3. Vgl. OC 45:112.
  34. ^ Marg. Lib. 5. De Baptis. contra Donatist. cap. 10. Augustinus, De baptisme contra Donat. 5.10.12 (MPL 43:183; CSEL 51:272 e.v.).
  35. ^ Marg. Luc. 3.c.16. Act. 19.a.4. Vgl. OC 48:441
  36. ^ Marg. Act. 8.c.14.17. Vgl. OC 48:181 - 182; 183.
  37. ^ Marg. Act. 19.a.3.5. Vgl. ook verse 4 en 6.
  38. ^ Vgl. afdeling 18 hieronder.
  39. ^ Marg. Matth. 3.c.11. Vgl. ook Luk. 3:16.
  40. ^ Marg. Act. 2.a.3. Vgl. OC 48:25 . 27.
  41. ^ Vgl. Augustinus, Contra lito Petiliani 3.49.59 (MPL 43:378 e.v., CSEL 52:211 e.v.)
  42. ^ Augustinus, Contra ep. Parmen. 2.11.23 (MPL 43:67); Sermo 266.1 (MPL 38:1225); Contra lit. Petiliani 1.6.7 (MPL 43:249; CSEL 52:7).
  43. ^ Vgl. Melanchthon, Loci coma (1521) (Prima eorum aetas: De bapttsmo) (CR 21:212 e.v.) asook Inst. 2.11.1 . 3 (Afr. vert. 2:596 e.v.).
  44. ^ Marg. 1. Cor. 10.a.2. Vgl. OC 49:451 . 453.
  45. ^ Marg. Exod. 14.e.21. & Ff.26.
  46. ^ Vgl. Eks. 14:26 . 28.
  47. ^ Vgl. Eks. 14:30 - 31 asook Origenes, In Ex. homil. 5.4 (MPG 12:329 - 330).
  48. ^ Marg. Num. 9.c.14. Vgl. ook Num. 9:15; Eks. 13:21
  49. ^ Vgl.Alexander Alesius, Summa Theol. 4.20.1.2 en besonderlik 4.8.3.3: In Sacramento bapltsmalt omnis culpa deletur et restituttur homo in prlsltnam tnnocenltam quantum ad antmam . in die sakrament van die doop word al die skuld uitgewis en die mens word sover dit sy siel aangaan, herstel in sy eertydse onskuld. In die bul Exultate Deo van die Konsilie van Florence (1439) (Mansi 31A:I0SS; Denzinger nr. 696, p. 254) word dit selfs nog breër gestel: Huius sacramenti effectus est remtssio omnis culpae originalis et actualis, omnisquoquepoenee quaepro tpsa culpa debetur: die effek van hierdie sakrament is die vergiffenis van al die oorspronklike en werklike skuld asook van al die straf wat juis vir die skuld verskuldig is. Vgl.ook Bonaventura, Sent. 4.4.1.1.1 en Thomas, Summa Tbeol. 3.66 en 3.67 (Mar'ett! 4:408 e.v.), veral n. 1 met verwysing na die besluite van die Konsllie van Trente.
  50. ^ Vgl. Inst. 2.1.8 (Afr. vert. 2:360 . 362)
  51. ^ Marg. Galat. 5.c.19. Vgl. ook die daaropvolgende verse en OC 50:253 - 254.
  52. ^ Vg1. Afdeling 1 hierbo.
  53. ^ Vgl. Gal. 5:19 - 21; Inst. 2.1.8; 3.3.10 - 13 (Afr. ven. 2:360 e.v.; 3:780 - 785).
  54. ^ Vgl. Eks. 14:28.
  55. ^ Vgl. Inst. 3.6.5; 3.9.4 (Afr. ven. 3:881; 916).
  56. ^ Vgl. Inst. 2.2.27; 3.3.11; 3.11.11 (Afr. vert. 2:403; 3:782; 944). Kyk ook Calvyn se kommentaar oor Rom. 7:7 . 25 (OC 49:123 - 136).
  57. ^ Vgl. Rom. 6:1, 15.
  58. ^ Vgl. Rom. 6:3 e.v.
  59. ^ Vgl. Rom. 6:12
  60. ^ Marg. Rom. 6.b.14. Vgl. OC 49:112 - 113.
  61. ^ Vgl. Rom. 7:1 - 6
  62. ^ Kyk Rom. 7:7 - 13.
  63. ^ Vgl. Rom. 2:12 - 24 en Rom. 7:7. 13.
  64. ^ Vgl. Rom. 7:23 asook Augustinus, Serm. 151.5.5: Ons moet gedurig teen ons vleeslike begeertes veg want dit kan nie ophou solank ons leef nle, Dit kan wel daagliks minder word, maar dit kan nooit beëindig word Die (MPL38:817).
  65. ^ Vgl. Rom. 7:18 . 23.
  66. ^ Marg. Rom. 7.d.24.
  67. ^ Marg. Rom. 8.a.1.
  68. ^ Vgl. Augustinus, Serm. 152.3 (MPL 38:820·821) en die Confession de Foy (1559) art. 7 (OC9:743).
  69. ^ n Soortgelyke opvatting kom voor in Luther se Eyn Sermon von dem beyligen bocbunrdigen Sacrament der Tauffe 1 (WA 2:727).
  70. ^ Marg. 1. Cor. 1.b. 13. Vgl. OC 49:316 - 317.
  71. ^ In die nagmaal geld dieselfde. Vgl. Inst. 4.17.3 hieronder.
  72. ^ Marg. Act. 10.g.48. Vgl. OC 48:252.
  73. ^ Marg. Act. 9.c.17. Vgl. OC 48:257.
  74. ^ Marg. 1. Cor. 12.b.13. Vgl. 0C 49:501 - 502.
  75. ^ Vgl. afdeling 7 hierbo.
  76. ^ Vir die Donatiste vgl. Augustinus, Enar. in Ps. 10:5 (MPL36:134; CCSL 38:77 e.v.): Ep. 89.5 (MPL 33:311; CSEL 34,2:422).
  77. ^ Vgl. ook Luther, Widerdie bimmliscben Propbeten. von den Biidern und Sakrament (1525) (WA18:165 e.v.), Von der Widertaufe an zwei Pfarberrn (1528) (WA 26:161); Zwinglï, De baptisme (CR Zwingli 4:278 e.v.) en Pannier, Instuution 3.236 (n. b, p. 323).
  78. ^ Marg. Matth. 28. d.19.
  79. ^ Vgl. 2 Kon. 22, 23.
  80. ^ Marg. Rom. 3.a.3.Vgl. ook die daaropvolgende verse en OC 49:47 e.v.
  81. ^ Vgl. afdeling 16 hierbo
  82. ^ Marg. Act. 19.a.3.5. Vgl. ook verse 2, 4, 6 . 7 en OC 48:440 . 443.
  83. ^ kalClJtTlMv.
  84. ^ Vgl. Calvyn se redenasie in verband hiermee in sy kommentaar oor Hand. 19:1 - 7.
  85. ^ Vgl. Zwingli, Von dem Touff (CRZ 4:282) en sy De vera et falsa religione (CRZ 3:770 e.v.). Bullinger het 'n soortgelyke opvatting in sy kommentaar oor hierdie Skrifverwysing, In act. apost. H 1b - 3a.
  86. ^ Marg. Act. 1.a.5. Vgl. ook Hand. 2:3 - 4.
  87. ^ Marg. Act. 11.b.16.
  88. ^ Vgl. Hand. 19:6.
  89. ^ Calvyn huldig hierdie standpunt by verskeie geleenthede in sy eksegese van die Skrif.
  90. ^ Vgl. die bul van Martinus V Intercunetos(1418) (Mansi 27:1212; Denzinger, Ench. nr. 665, p. 249); Decr. Grat. 3.4.53,61,70 e.v. (MPL 187:1810; 1819; 1821 e.v., Friedberg 1:1382; 1383; 1385 e.v.).
  91. ^ Vgl. die Decr. Grat. 3.4.68 (MPL 187:1821; Friedberg 1:1384).
  92. ^ Vgl. Matt. 28:19.
  93. ^ 'n Voorbeeld van die eenvoud van die doopseremonie in Genéve is opgeneem in La Forme des prières et chants ecclësiastiques (1542) (OC 6:185 . 192).
  94. ^ Hierdie gebruik het tot in die dertiende eeu nog gegeId maar is vervang met besprinkeling (adspersio) of uitgieting of bevogtiging (infusio) as water nie maklik beskikbaar was nie. Vgl. CE 2:464 e.v.
  95. ^ Vgl. Matt. 28:19.
  96. ^ Vgl. Luk. 22:19 en OC 45:710.
  97. ^ Vgl. o.a. Tertulltanus, De baptisme 17 (MPL 1:1326 e.v.) en die Deer. Graf. 3.4.21 (MPL 187:1800; Friedberg 1:1368)
  98. ^ Marg. Lib. contra epist. Parm. 2. cap. 13. Augustinus, Contra ep. Parm. 2.13.29 (MPL 43:71; CSEL 51:80 e.v.).
  99. ^ Marg. Cap. 100. Vgl. die Decr. Grat. 3.4.20 (MPL 187:1800; Friedberg 1:1367); Statuta eccl. antiqua cap. 99,100 (Mansi 3:959).
  100. ^ Vgl. in verband hiermee Cyrillus van Jerusalem, Catbecb. 3.10 (MPG 33:439); Chrysostomos, Ep. ad Pbilipp. hom. 3.4 (MPG 62:203 e.v.), Ambrosius, De Abraham 2.11.79 (MPL 14:494); Augustinus,  Ep. classis3 (Ad Hieronymum) 166.7.21 (MPL33:730); Serm. 294.2.2 (MPL38:1336). Kykook die polemiek tussen Zwingli en Hubmaier (1525) in verband met die afsterwe van kinders wat nie gedoop is nie in Zwingli se Antwort über Balthasar Hubmaiers Taujbüchlein in sy versamelde werke 4:624.
  101. ^ Vgl. Gen. 17:7 (OC 23:237 e.v.).
  102. ^ Vir Calvyn se standpunt t.O.V. kinders wat sonder die doop sterf, vgl. ook sy preek oor Daniel 9 Serm. sur le 9. chap. de Daniel (OC 41:578) en sy brief aan 'n vader wie se kindjie sonder om gedoop te word, gesterf het Ep. 2007 (OC 15:227 - 228).
  103. ^ Vgl. Inst. 4.16.6, 7, 17, 19, 26, 31 hieronder. Verder ook die Con! Augustana (1530) art. 9, 13 (Schaff, Creeds 3:13, 15) wat wel die doop as noodsaaklike voorvereiste vir die verkryging van saligheid gestel het.
  104. ^ Vgl. Matt. 5:17 en OC 45:171 - 172.
  105. ^ Vgl. Gen. 17:7, 12 en OC 23:241 - 242.
  106. ^ Vgl. Tertullianus, De baptismo 17 (MPL 1:1328 e.v.).
  107. ^ Marg. Lib. contra baer. 1. Epiphanius, Panarlus siue arcula adv. octaginta baer. 4.2.4; 3.79.4 (MPG 41:699 e.v.; 42:745 e.v.). Vgl. ook Eugenius se bul Exultate Deo (1439) (Mansi 31:1055) asook die gnesio-Lutheraan Westphal se opvatting in verband hiermee in Loci proeetpui de vi, usu, et dignitate baptismi (1556), Straatsburg, p. 242.
  108. ^ Marg. Exod. 4.f25. Dit is Westphal se redenasie in die vermelde werk.
  109. ^ Vgl. 2 Kon. 17:32 - 33
  110. ^ Marg. Matt. 28. d.19.
  111. ^ Marg. Hebr. 5.a.4. Vgl. OC 55:58 . 60.
  112. ^ Vgl. 1 Petr. 4:15.
  113. ^ Marg. Rom. 14.d.23. Vgl.OC 49:268 - 269.
  114. ^ Vgl. Matt. 19:6 en Mark. 10:9.
  115. ^ Vgl. afdeling 20 hierbo.